19 Mei 2002

Pinksterfees

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Numeri 11:24-30.

Ander tekste: Psalm 104; 1 Korintiërs 12:4-13; Johannes 20:19-23.

INLEIDING

God gee sy Gees God gee Homself ... soos n wind waai, so werk die Gees. Ons weet nie waarvandaan Hy kom

en waarheen Hy gaan nie. Wat ons mag weet, is dat God bitter naby aan ons gekom het Hy kan immers nie nader

nie. Hy is in ons. Hy vat ons aan die hand en lei ons na Golgota en die leë graf en laat ons Jesus in die geloof

omhels ... Laat ons God, die lewende God, omhels. Die Heilige Gees sal ook daarvoor sorg dat ons bly glo.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Votum

O Here, ons God!

U weet wie ons is wat hier voor U

byeengekom het:

mense met goeie gewetens

en met skuldgevoelens;

tevredenes en ontevredenes;

dié wat sekerheid het en ander wat twyfel;

Christene uit oortuiging

en Christene uit gewoonte.

Daar is van ons wat glo,

wat halfpad glo,

en wat glad nie glo nie.

U weet ook waar ons vandaan kom:

uit hegte familie- en vriendekringe,

en uit die diepste ervarings

van eensaamheid.

Party van ons kom uit gemaklike welvaartstoestande,

en ander uit situasies

van wanhoop en geweld;

uit gesinne wat op geoliede wiele loop,

en dié wat gebuk gaan

onder hewige stres en trauma;

ons kom uit die binnekring én die periferie

van die Christelike gemeenskap,

maar nou staan ons almal saam hier voor U

met al ons verskille,

maar ook in ons eendersheid:

as mense

wie se verhouding met U en met mekaar skeef loop,

wat almal eendag moet sterf;

wat almal verlore is sonder u genade,

maar ook mense aan wie U u genade

onverdienstelik skenk

in u Seun, Jesus Christus.

Ons is hier saam om U te loof

en om te luister na wat U vir ons sê.

Ons bid dat dit in hierdie uur van samesyn

sal gebeur.

Ons vra dit in die Naam

van ons Here, Jesus Christus.

Amen.

(Karl Barth 1886-1959, uit Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, Lux Verbi.BM)

Seëngroet

Die Here wat aldus die psalmdigter (Ps 104) ry op die vleuels van die wind, wat die winde sy boodskappers maak,

die weerligte sy dienaars, wat die aarde stewig gevestig het sodat dit nooit sal wankel nie, groet julle: Vrede vir julle!

(Joh 20).

Gemeentesang

Die psalmdigter sê verder: "Ek wil my in die Here verbly ... ek wil tot eer van die Here sing so lank lewe, ek wil die

lof van my God besing so lank ek daar is" (Ps 104:33-34). Kom ons gee in ons saamwees vanoggend daaraan

uitdrukking.

Lied 453 en 450 (nuwe liedboek).

Geloofsbelydenis

Terwyl ons nou God as Vader, Seun en Gees besing het, laat ons ons geloof in Hom bely:

Liturg: Ons glo in God

Gemeente: wat die wêreld gemaak het, wat dit liefhet en daaroor glimlag

wat alle mense verskillend gemaak het, wat vra dat ons mekaar sal respekteer, wat ons vertrou,

terwyl Hy weet hoe broos, hoe onbetroubaar ons is.

Liturg: Ons glo in Jesus Christus

Dames: wat sonder groot opspraak onder ons verskyn het,

Mans: wat ter wille van ons uitgestoot en verwerp is,

Dames: wat stil en ongemerk onder ons opgegroei het,

Mans: wat ons roep om alles prys te gee en Hom te volg,

Dames: wat sonder naam of status onder ons beweeg het,

wat vriende gemaak het met hulle wat naamloos is,

Mans: wat hulle vergewe wat verwerp moes word,

Dames: wat hulle genees vir wie die wêreld tot n einde gekom het,

Mans: wat die waarheid in ons taal kom vertel het,

Liturg: wat ons nou, net soos destyds, roep tot die lewe die lewe wat, gemeet aan

die standaard van die wêreld, absurd is.

Liturg: Ons glo in die Heilige Gees

Gemeente: deur wie God ons laat sug en vernuwe,

Dames: wat die bron van krag is,

Mans: wat ons lei in die waarheid,

Liturg: wat altyd daar is, troostend teenwoordig.

Almal: Ons glo dat die dwaasheid van God wyser is as die wysheid van die wêreld.

Ons verbly ons daarin dat God dit so gemaak het.

Amen.

Gemeentesang (sonder aankondiging)

Lied 163 (nuwe liedboek).

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Ewige heilige God,

ons kom na U toe.

Ons wil U hoor en ons wil antwoord.

Ons wil U vertrou en U liefhê.

In u hande lê ons nou ons sorge, twyfel en ons vrese ... ontvang ons soos ons is.

Wees by ons sodat ons by U kan wees dag ná dag.

Lei ons dat ons U kan vind en u barmhartigheid.

Aan U wil ons behoort,

U wil ons dank,

U wil ons loof,

Here, ons God.

Amen.

Skriflesing

Numeri 11:24-30.

Boodskap

Gemeentesang

Lied 434 (nuwe liedboek).

DIENS VAN DIE TAFEL

Die gereedmaak van die tafel, nagmaalepiklese, instellingswoorde, uitdeling en kommunie word hier gedoen. Lied

303 kan gesing word tydens kommunie.

Dankoffer

UITSENDING

Lees

1 Korintiërs 12:4-13.

Gemeentesang

Lied 437 (nuwe liedboek).

Seën

Die Here is voor jou om die weg gelyk te maak.

Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.

Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.

Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val.

Die Here is binne jou om jou te inspireer.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bo jou om jou te seën.

So seën die drie-enige Vader, Seun en Heilige Gees julle van nou af tot in ewigheid.

Amen.

Teks en konteks

Die keuse om hierdie teksgedeelte te plaas binne die liturgiese raamwerk van Pinkster is om onmiddellik n Nuwe-

Testamentiese teologiese betekenis aan die gedeelte te gee n betekenis wat die teks nie oorspronklik sou gehad

het nie.

PREEKSTUDIE - NUMERI 11:24-26

Die breër Ou-Testamentiese konteks van die teks (Num 10-36) is die voortsetting van die verhalende gedeelte van

God, wat so al trekkende met sy volk hulle geloofsidentiteit vorm.

Hier, in Numeri 10, word die drade van die verhaal weer opgeneem waar hulle van Sinai, deur die woestyn, na die

beloofde land trek. Die groot verhaal begin eintlik by

Eksodus 1-14: Die verhaal van verlossing uit Egipte tot by die Rooisee

Eksodus 15-19: Die verhaal van voorsiening in die woestyn tot by Sinai.

Nou volg n onderbreking van die verhaal met Eksodus 20 tot Numeri 10, wat n eenheid vorm as die sluiting en

bepalings van die verbond (tien gebooie, boek van verbond, priesterlike wette insluitend die bekende

heiligheidswette van Lev 17-26):

Numeri 10-36: Die volk trek weer verder van Sinai tot by die beloofde land.

Nadat die Here die verbond met sy volk gesluit het, hulle lewe rondom bepalings wat moet verseker dat hulle totale

lewe rondom Hom sentreer georden het, leer die Here hulle (in die woestyn, dmv seën/verlossing en

oordeel/toorn) hoe om in die geskiedenis sy heerskappy te erken en te vertrou in voorbereiding vir die lewe in

die beloofde land. Bogenoemde is die teologiese sleutel tot die woestynverhale.

Die woestynverhale voor Sinai en ná Sinai het nogal dieselfde kenmerke. Die volk kla (murmureer, in die OAV) en

met Moses as middelman voorsien die Here op verskeie maniere vergelyk byvoorbeeld die parallelle honger- en

dorsverhale (Num 11/Eks 16 en Num 20/Eks 17). In die gedeelte ná Sinai is dit opvallend dat daar meer

huishoudelike probleme is (by name leierskapskwessies, bv ouderlinge/profesie, die opstand van Miriam en Aäron,

tweespalt tussen verspieders, die rebellie van Korag, Datan en Abiram) as in die tydperk voor Sinai.

In die manier waarop die huishoudelike probleme opgelos word, word sekere groot waarhede en waardes neergelê.

Ons preekperikoop is so n gedeelte oor leierskap, die Gees en gesag in die gemeenskap van God se kinders.

Die preekteks is n onderdeel van n groter verhaal wat bekend geword het as Kibrot-Taäwa (die grafte van gulsiges,

of dalk vrekte van die vrate). Dit is n klastorie, met die tipiese patroon van

die volk kla (11:4-9, want hulle is keelvol vir manna en het n groot vleislus).

Moses se reaksie in gesprek met God (11:1014, waarin Moses kwaad word, wil bedank as leier en lus raak

vir doodgaan).

die Here se antwoord aan Moses (11:1523, met die groot vraag van die Here: "Dink jy Ek het nie die mag

nie?").

Moses se gehoorsame optrede by die volk ná die ontmoeting met die Here (11:24-30, met die verskil in

beoordeling by Moses en Josua).

die Here se optrede en afloop van die verhaal (11:31-35, waarin Hy voorsien en oordeel).

Daar is onder meer twee maniere waarop dié gedeelte gepreek kan word.

Die een moontlikheid is om dit vanuit die Ou-Testamentiese verhaal as n openbaring aangaande die werking van

die Gees van God te beskou. Die ander moontlikheid is die bekende preek van prof Verhoef (Die ou-ou tyding, F C

Fensham (samesteller), pp 11-17) wat dit heilshistories benader deur die teks in verband met Joël 2 en Handelinge

2 te bring onder die titel Die Pinksterwerklikheid.

Preekvoorstel

Voorstel na aanleiding van prof Verhoef

Tekste: Numeri 11:29/Joël 2:28-29/Handelinge 2:16-18.

Alhoewel dié drie teksgedeeltes ongeveer 15 eeue uitmekaar lê, gaan dit om dieselfde blye boodskap van die

uitstorting van die Heilige Gees. Die eerste teks is die versugting dat die Gees op almal sal kom; die tweede teks

neem die versugting op as n profesie dat dit sal gebeur, en die derde vertel dat dit n werklikheid geword het. In die

Ou Testament was die volheid van die Gees net die voorreg van enkele leiers (bv Josef, Besaleël, Bileam, Otniël,

Gideon en Jefta). Moses wens dat almal dié volheid sal beleef; Joël verkondig dit as God se Woord dat dit eendag

gaan gebeur, en Lukas vertel dat dit op Pinksterdag n werklikheid geword het. Dit is n sinvolle, heilshistoriese

patroon. Dit openbaar God se heilsplan en die voortgang van sy werking.

Die volheid van die Gees het, merkwaardig, in al drie die gevalle ook die fisieke nood van mense as konteks. Die

uitstorting van die Gees het nie net iets te sê vir die sielenood van mense nie. Die uitstorting van die Gees hang ten

nouste saam met ons alledaagse lewensprobleme.

In Numeri gaan dit om die mense se behoefte aan kos en die klagte dat hulle naas manna ook vleis wil hê. Dit gaan

ook om Moses se moedeloosheid met sy taak. As die Gees in sy volheid op almal was, sou dié probleme goed

aangespreek kon word. Die murmurering en die uiteindelike oordeel sou afgeweer gewees het. (Dink hieroor na!

SJH.)

In Joël gaan dit om droogtes en sprinkaanplae waarop die Here reageer deur te belowe dat sy Gees op almal

uitgestort sal word (saam met berou en bekering) en dat n geseënde tyd sal volg.

In Handelinge gaan dit om Pinkster wat die oesfees was. Mense bring hulle graan en diere na Jerusalem as n

offer aan die Here binne die konteks van n fees van voorsiening in mense se basiese behoeftes. Pinkster is nie

sonder die dimensie van voorsiening aan mense se behoeftes en die kerk se taak om n getuie te wees in dié

verband nie. Dit is belangrik dat ons oor die Gees van God nie net geestelik (spiritueel) sal dink nie, maar dit ook

sal interpreteer as God se toerusting aan sy kerk binne die konteks van mense se nood.

Vanuit die werklikheid van Pinkster leef ons vandag met n omgekeerde patroon. Pinksterdag is n werklikheid.

Moses se versugting is verhoor en Joël se profesie is vervul. Die Gees is op almal uitgestort. Die Heilige Gees het

gekom. Op die vraag waarom ons nie die volheid beleef nie, blyk waarom die ander twee begrippe ook behoue moet

bly. Ons leef nog nie in die volle voltooiing nie en daarom het ons net "die eerstelinge van die Gees" en "sug ons

saam met die skepping op die volle openbaarmaking" (Rom 8:23-24). Die Pinksterboodskap is dus ook nog n

belofte van wat kom, waarop ons hoop. In die nood van vandag en in die bewustheid van ons tekortkominge word

dit uiteindelik ook ons versugting en verlange dat die Gees in groter mate ons deel mag wees. Ons verlang daarna

om met geestelik krag en sy teenwoordigheid gevul te word. Ons begeer dat Hy ons in die volle nood van ons en

ons wêreld in sy waarheid sal lei.

Voorstel 2

Die mense is keelvol vir manna. Moses is keelvol vir die mense en sy werk. En die Here gryp in Hy gee sy Gees

en dan verskil Moses en Josua daaroor. Hoe klink dit vir jou?

Dit is nogal merkwaardig dat daar byna altyd n verskil tussen gelowiges ontstaan wanneer die Heilige Gees ter

sprake kom. Doop, genesing en ander geestesgawes se funksionering en plek in die kerk, gebed (bv geestelike

oorlogsvoering), die ampte in die kerk, eenheid in die kerk, God se krag en menslike verantwoordelikheid laat die

geeste uiteengaan. Dit lyk asof daar altyd onbegrip, of ten minste beperkte begrip is, waar dit die Gees van God

aangaan.

Ook op Pinksterdag het die skare gereken dat dit dronkenskap kan wees.

In Numeri 11 is dit nie anders nie. Moses en Josua verskil in hulle reaksie op die Gees se uitstorting op ander leiers

as net Moses en dié wat daarvoor geoormerk is. Die agtergrond hiervan is die ou vraag: Wie tree op (mag optree?)

en het die gesag om "in die Gees" iets te doen? Hoe weet ons dat dit "van die Here" is? Wat kan die kerk toelaat?

Is dit nie dalk mense wat manipuleer en wat met bymotiewe die Gees opeis nie? Kan ons dit toelaat?

Kom ons kyk na die aanloop van hierdie gebeure en probeer verstaan waarom Moses en Josua verskil.

Uit die breër konteks weet ons dat die Here besig is om groot lesse vir sy kinders die gemeenskap van die

gelowiges te leer. (Gebruik die gegewens by 1 hier bo.) In dié gedeelte leer Hy die kerk en veral die leiers iets

omtrent die werking van die Gees.

Die verhaal sê vir ons dat dit gaan om:

die behoeftes van mense: Die Here hoor mense se behoeftes en reageer daarop. Hy voldoen uiteindelik

aan hulle vleisversoek hoewel nie sonder meer nie. Die Here spreek ook sy oordeel uit oor die donker

kant van hulle motiewe.

die probleem van leierskap: Moses is moedeloos as leier soos geestelike leiers maklik kan raak. Dit is

nogal insiggewend om sy ingesteldheid en klagtes mooi te ontleed (maar die preek gaan nie daaroor nie).

Die Here is simpatiek en stort sy Gees uit op sewentig ander. God werk deur meer mense as net die

dominee.

die vraag: Dink jy Ek het nie die mag nie? Dit is van die Here se kant n sleutelvraag in alle krisisse. Dit is

uiteindelik ook die onderliggende vraag aan die uitstorting en werking van sy Gees. Hierdie vraag maak

moontlikhede oop. Dit gee hoop en verwagting. Dit laat ons die openbaring van die Here sien soos Hy

self dan sê: Ons sal self sien hoe Hy sy Woord in vervulling laat gaan.

Die verrassende van dít wat volg, is nie soseer die sewentig wat wel die Gees van God ontvang en profeteer nie,

maar Eldad en Medad wat nie by die tent teenwoordig was nie en tog ook die Gees ontvang en in die kamp, by

die gewone mense, optree as profete. Dit is asof die Here sy Gees uitstort op die samekoms in die tent, maar dat

spatsels daarvan ook op dié twee manne in die kamp val. Wat om met hierdie onverwagse verrassing te maak, hoe

om dit te interpreteer en te hanteer is die kwessie waaroor Moses en Josua verskil en waarom die punt van die

boodskap draai.

Hier is twee groot manne met twee verskillende perspektiewe oor die werking van die Gees.

Let daarop dat Josua se geloofwaardigheid uitgespel word. Hy is die seun van Nun, van jongs af Moses se assistent

en (weet ons) uiteindelik een van die dapper en gelowige verspieders en waardige opvolger van Moses. Hy en

daarmee verteenwoordig hy n bekende (en legitieme) reaksie staan negatief teenoor Eldad en Medad se optrede.

Dié soort spontane, onverwagse optredes kan nie geduld word nie. God se Gees werk op n geordende en

gestruktureerde manier.

Moses, wat in die verhaal as die ideaal funksioneer, het n ander perspektief. Hy reken nie dat sulke spontane en

verrassende optredes bedreigend is nie, maar eerder belofte inhou. Hy wens selfs dat daar meer daarvan kan wees.

Hy is eintlik sy tyd ver vooruit in sy begeerte dat die Gees van God ge-demo-kratiseer word dat elkeen van die

volk vervul sal word met God se Gees en as profeet optree.

Dit is die twee kante van die saak.

Vir ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges is die spanning tussen hierdie twee standpunte nie opgelos nie.

God se Gees is aan die kerk gegee om die kerk in alle waarheid te lei. Dit beteken dat die geskiedenis van die kerk,

die strukture, ampte, werkwyses, liedere, tradisies, style en gebruike onder sy leiding tot stand gekom het. Die Gees

van God is daarin te vind en werk ook daardeur. Saam met Josua kan daar ook dankbaarheid en waardering wees.

Die gevaar is egter dat die verrassende, die spontane en onbeheerbare en soms onbestuurbare slegs as n

bedreiging gesien word en nie as die werking van die Gees nie. Moses help ons om van God se Skepper-Gees, sy

kreatiewe Gees, ook verassings te verwag en dit te herken en te erken.

As Nuwe-Testamentiese gelowiges

wat ook Petrus en Paulus se probleme met dwaalleraars onthou;

wat die ná-Pinkster-geskiedenis van die kerk en van gemeentes ken;

wat al die wonder van nuwe inisiatiewe, die entoesiasme van onverwagse wendings en gebeure beleef het,

en

wat al die meesleuring, maar ook dwaasheid en ontnugtering, van sommige bewegings gesien het,

het ons die Gees nodig om die Gees te erken. Om die waarde van dit wat ons in ons gemeentes het te besef en te

koester, maar om ook oop te bly vir nuwe, kreatiewe moontlikhede waarop die Here ons kan neem. (Predikers moet

hier self moed en wysheid aan die dag lê om in die lig van die situasie in hulle gemeente toepassings te vind.)

Laat ons onthou dat dit lyk asof die Here juis iets doen wanneer ons keelvol geword het.