22 FEBRUARIE 2004

Sondag van VERHEERLIKING feesdiens

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Eksodus 34: 29-35

Ander tekste: Psalm 99; 2 Korintiërs 3:124:2; Lukas 9:28-43

Inleiding

Sondag van die verheerliking is die afsluiting van Kersfees-/Epifanietyd en tegelyk ook die oorgang na Lydenstyd. Op hierdie Sondag word daar gefokus op Jesus se verheerliking op die berg een van die geleenthede in sy lewe waar die heerlikheid van God sigbaar geword het en wat aanleiding gegee het tot die belydenis dat Jesus Christus die Seun van God is. Die verhaal van die verheerliking word in die evangelielesing vir hierdie Sondag (Luk. 9:28-43) weergegee. Dit is belangrik om dit saam met die fokusteks in die liturgie te gebruik. Die fokusteks (Eks. 34:29-35) bied n interessante verbintenis met die oog op nadenke oor die verheerliking/heerlikheid van Jesus, naamlik die teenwoordigheid van Moses in albei gedeeltes en die straal van sy gesig, soos dié van Jesus, nadat hy in die intieme teenwoordigheid van God was. Die teks uit die Nuwe-Testamentiese briewe (2 Kor. 3:12-4: 2) sluit hierby aan deur die ervaring van Moses in verband te bring met die vroeë Christene se ervaring in hulle omgang met God en sy Woord. Die psalm (Ps. 99) gee n beskrywing van die heiligheid van die Here wat as koning regeer. Die liturgiese kleur vir die Sondag is wit en die binneruim van die kerk kan ryklik versier word om uitdrukking te gee aan die glansryke gebeure op die berg. Die voorgestelde liturgie vir hierdie feesdag is gebaseer op die Lima-liturgie van die Wêreldraad van Kerke se Faith & Order-kommissie.

Indien die responsoriese gedeeltes in die liturgie om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in n gemeente is, kan n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

n Lied waarin die heerlikheid van Jesus besing word, soos Lied 152, 153, 159/NSG 343, 168 /NSG 160, 171, 175, 176 of 177/NSG 165. Een van die volgende Taizé-liedere kan ook oorweeg word: Lied 224, 225, 226 of 227.

Aanvangswoord

2 Korintiërs 3:18 of Psalm 99:1-5 kan as aanvangswoord gebruik word.

Seëngroet

Voorganger: In die Naam van die verheerlikte Here: genade en vrede vir julle almal.

Gemeente: En ook vir jou.

Skuldbelydenis

Die gemeente bely hulle skuld saam hardop soos volg:

Genadige God,

ons bely dat ons in gedagtes, woorde en dade

teen U gesondig het;

deur dit wat ons gedoen het

en dit wat ons nagelaat het om te doen.

Ons het U nie liefgehad met ons hele hart,

en ons naaste nie liefgehad soos onsself nie.

Wees ons genadig, ter wille van u Seun, Jesus Christus.

Vergewe ons, vernuwe ons en lei ons

sodat ons vreugde kan vind in u wil

en kan wandel op u weg,

tot eer van u heilige Naam.

Amen.

(Alternatiewelik doen die voorganger die skuldbelydenis namens die gemeente en die gemeente bevestig dit met die "Amen".)

Verootmoediging

Die gemeente sing een van die Kyries in die nuwe Liedboek, byvoorbeeld Lied 242, 247 of 248.

Vryspraak

Voorganger: Die Almagtige God

het sy Seun, Jesus Christus, gegee om vir ons te sterf

en Hy vergewe ons sonde op grond van die verdienste van Christus.

Daarom verkondig ek aan julle

volkome vergifnis van julle sonde,

in die Naam van die Vader,

en van die Seun

en van die Heilige Gees.

Gemeente: Amen.

Kyrie-litanie

Voorganger: Sodat ons in staat kan wees om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe en sodat om saam kan bely dat daar net één liggaam en één Gees is, net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal laat ons tot die Here bid.

Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

Voorganger: Sodat ons saam een liggaam kan wees in gemeenskap met die liggaam van Christus wanneer ons die een brood breek en uit die een beker drink laat ons die Here bid:

Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

Voorganger: Sodat ons wat almal deur Christus met God versoen is, verenig kan wees in die

bediening van die versoening wat aan ons toevertrou is laat ons tot die Here bid:

Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

Aanbidding en lof

Gepaste lofliedere kan nou gesing word, byvoorbeeld Lied 367,199, 201, 215 /NSG 130, 216 /NSG 156.

Kindertyd

Verduidelik vir die kinders dat Sondag van die Verheerliking omtrent halfpad tussen Kersfees en Paasfees gevier word. "By Kersfees (toe Jesus gebore is) en by Paasfees (toe Jesus opgestaan het uit die dood) was daar verskillende dinge wat vir mense gewys het dat Jesus méér as n gewone mens was en dat Hy spesiaal van God af gekom het. Maar tussen Kersfees en Paasfees het Jesus as mens hier op aarde gelewe en die grootste deel van sy lewe was swaarkry. Dit kon maak dat mense vergeet het dat Jesus n spesiale mens was wat van God af gekom het. Daarom het God n paar keer in Jesus se lewe vir mense so ietsie gewys van wie Jesus regtig was. Een só eer was toe Jesus en drie van sy dissipels op n hoë berg was." Vertel kortliks wat daar met Jesus op die berg gebeur het en verduidelik dat die verhaal ook vir ons help om te onthou dat Hy nie sommer n gewone mens was nie, maar dat Hy die Seun van God is.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing uit die Ou Testament

Eksodus 34:29-35

Skriflesing uit die Psalm

Indien Psalm 99 nie as aanvangswoord/votum gebruik is nie, kan dit hier voorgelees word. Alternatiewelik kan Psalm 99:1-4 in die Liedboek deur die gemeente of n koor gesing word.

Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe

2 Korintiërs 3:12-4: 2

Sang

Een van die Hallelujas uit die Liedboek/Sionsgesange kan deur die gemeente of n koor gesing word, byvoorbeeld Lied 189, 206, 204, 218 of 228; NSG 19, 21, 118 of 327.

Skriflesing uit die Evangelie

Lukas 9:28-43

Prediking

Stille nadenke

Geloofsbelydenis

Die gedeelte uit die geloofsbelydenis van Nicéa wat oor Christus handel, word deur die voorganger voorgehou, terwyl die gemeente na elke frase reageer met: " God het gesê: Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Ons sal na Hom luister."

Voorbidding

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalsgebed

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die brood,

die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.

Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die wyn,

die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.

Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger: Soos die koring wat oor die velde gestrooi was

en die druiwe wat oor die heuwels versprei was,

op hierdie tafel saamgebring is in brood en wyn,

mag u ganse kerk net so van die uithoeke van die aarde af

saamgebring word in u koninkryk.

Gemeente: Maranata! Kom, Here Jesus!

Voorganger: Mag die Here met julle wees!

Gemeente: En ook met jou!

Voorganger: Hef op julle harte.

Gemeente: Ons hef dit op tot die Here.

Voorganger: Kom ons bring dank aan die Here ons God.

Gemeente: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Voorganger: Here, ons God, dit kom U toe dat ons dank en eer aan U bring

oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.

Deur u lewende Woord het U alle dinge geskape en verklaar dat dit goed is.

U het die mense na u beeld gemaak, om te deel in u lewe en u heerlikheid te weerspieël.

In die volheid van die tyd het U Christus vir ons gegee as die weg, die waarheid en die lewe.

Hy is deur die Heilige Gees aangewys as u dienaar om die evangelie aan armes te verkondig.

By die laaste maaltyd het Hy die nagmaal ingestel,

sodat ons sy dood en opstanding kan gedenk

en sy teenwoordigheid in die brood en die wyn kan ontvang.

Daarom prys ons u Naam saam met die hemelwesens,

saam met die profete en apostels,

saam met alles wat asem het.

Gemeente: Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

Hosanna vir die Seun van Dawid!

Prys Hom wat in die Naam van die Here kom!

Hosanna in die hoogste hemel!

Voorganger: Here God, Skepper van die hemel en die aarde,

U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.

Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom

sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.

Gemeente: Kom, Skepper-Gees!

Voorganger: Mag die Skepper-Gees die woorde van u geliefde Seun n werklikheid laat word.

Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem,

en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:

"Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis."

Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê:

"Hierdie is die nuwe verbond in my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis."

Gemeente: Ons verkondig u dood, Here Jesus!

Ons vier u opstanding uit die dood!

Ons wag op u koms in heerlikheid!

Voorganger: Here ons God,

ons roep vandag in herinnering die lewe van u Seun Jesus Christus,

die Woord wat mens geword het en onder ons kom woon het,

van wie U gesê het: "Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom."

Laat die heerlikheid wat van Hom uitstraal,

ook in ons harte n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God.

Gemeente: Maranata! Kom, Here Jesus!

Voorganger: Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees

sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,

n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.

Gemeente: Kom, Skepper-Gees!

Voorganger: Deur Christus, saam met Christus, in Christus,

behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,

in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.

Gemeente: Amen.

Voorganger: As gedoopte kinders van God bid ons nou saam:

Gemeente: Die "Ons Vader"-gebed (kan ook in die vorm van Lied 266 of NSG 325 gesing word)

Vredesgroet

Die gemeentelede kan mekaar met n handdruk of omhelsing groet met die woorde:

"Mag die vrede van die Here met jou wees."

Die instellingswoorde van die nagmaal, uitgespreek deur die voorganger, word gevolg deur die Agnus Dei (as alternatief kan Lied 379 gesing word):

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Wees ons genadig.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Ontferm U oor ons.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Here, gee ons u vrede.

 

Uitdeling en gebruik van die brood en die wyn

Lofprysing

Psalm 103: 8-13 kan deur die voorganger of n gemeentelid voorgelees word.

Dankgebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Lied 195:2, 197, 470 of 472 (of een van die ander liedere hierbo genoem)

Seën (n.a.v. 2 Kor. 4:6)

Mag God wat gesê het: Laat daar lig skyn uit die duisternis,"

ook in julle harte n lig laat skyn om julle te verlig met die kennis van die heerlikheid van God,

wat van Jesus Christus uitstraal.

Amen (deur die gemeente gesing in een van die weergawes in die Liedboek, Lied 312-316).

As alternatief vir die seën kan NSG 355 of 356 gesing word.

PREEKSTUDIE EKSODUS 34:29-35

Teks

Die perikoop wat vir die Leesrooster geselekteer is, vorm deel van Hoofstuk 34, waar Jahwe `n tweede keer die Tien Gebooie en ander wette vir Moses op die berg Sinai gee. Na die uittogverhaal uit Egipte (Eks. 1-15) en Israel se aanpassing by die woestynlewe (Eks. 16-18) word die verbond by Sinai gesluit en ontvang Moses die eerste verordeninge oor dit wat God van Israel verwag. Voordat die dekaloog en die verordeninge aan Israel bekend gemaak kan word, dwaal die volk egter reeds op een van die kardinale beginsels; die tweede gebod, dat Jahwe onvoorstelbaar is. `n Goue kalf word gemaak, waarskynlik nie om God self uit te beeld nie, maar om soos ander volke, die rytuig van die godheid daar te stel.

God besluit om sy volk te vernietig (32:10) en weier selfs om met hulle voort te trek (hfst. 33). Moses tree as plaasbekledende middelaar op, pleit by God om nie sy volk te verlaat nie en weier om te trek as God nie saamgaan nie. In plaas daarvan dat Moses van hierdie toornige God weg vlug, dring hy op n sigbare ontmoeting aan. Na die ontmoeting word die Tien Gebooie weer opgeskryf. Dié keer met kultiese bepalinge daarby. As die tweede optekening van die dekaloog op twee plat klippe (34:1) geskryf word, dui dit op God se genadige toeskietlikheid. Die afgedwaalde volk word nie aan (self)vernietiging oorgelaat nie. Hulle kry n tweede kans om God se wet/woord/wil te ontvang. `n Fisieke teken word vir hulle gegee om hulle te oortuig dat Moses `n outentieke middelaar tussen hulle en God is; sy gesig blink.

Die perikoop lê klem op die eksotiese aard van Moses se rol as tussenganger. `n Mens kan nie ligtelik (roetinematig) tussen God se heerlikheid en kommunikasie met Israel beweeg nie. Omdat Moses se gesig blink (Heb. qaran; 29), is dit nodig dat Moses `n doek (Heb. masweh; 33) gebruik. Hoekom was dit nodig? Moontlik om die Israeliete te beskerm; moontlik om die gloed van God van alledaagse kontak te beskerm, sodat dit nie goedkoop/geprofaniseer word nie.

Die woord qaran (blink) kom nêrens elders in die Ou Testament voor nie. Dit is `n denominatiewe werkwoord, afgelei van qeren (horing). Hieronymus het na aanleiding van laasgenoemde betekenis moontlikheid, in die Vulgaat vertaal dat Moses se gesigvel horings gekry het. Propp beweer dat die uitdrukking eerder dui op `n vervorming/mismaking van die gesigvel. Dit beteken dat Moses se vel as gevolg van die langdurige blootstelling aan die straling/heerlikheid van Jahwe leeragtig of horingagtig geword het. Miskien wil dié vreemde woord suggereer dat `n ligskag feitlik soos `n horing van Moses se gesig geskyn het.

Dit is beter om hierdie vreemde vertelling eerder in verband met die res van Eksodus te verstaan. Jahwe se heerlikheid word aan Israel bekend gestel as suiwer, verblindende lig. Hierdie perikoop (34:29-35) is ook `n voorspel van die ondeurdringbare heerlikheid van God wat in hoofstukke 36-40 in die tabernakel `n tuiste gevind het. Die heerlikheid van God woon nou nie meer op die berg nie, maar in `n mobiele heiligdom. Moses is die menslike agent wat dit moontlik maak dat God se heerlikheid midde-in Israel `n tuiste vind.

Konteks

Die goeie nuus van die teks is dat ten spyte van hardnekkige weerstand, die heerlikheid van God nie van Israel weerhou is nie. Deur Moses wat met die twee plat klippe en `n skynende gesig van die berg kom, sê God vir Israel dat sy teenwoordigheid, krag en leiding, nie vir hulle verlore is nie. Hierdie is `n relevante teks vir die 21ste eeu. Mense lei in ons tyd so `n profane lewe, dat daar selde `n straal van heerlikheid of krag buite onsself, of `n opening na hoop, sigbaar is.

In die RCL word Eksodus 34 saam met `n teks gekies wat oor Jesus se verheerliking (Luk. 9:28-36) handel, asook Paulus se preek oor Moses se veranderde voorkoms (2 Kor. 3:7-4:2). Soos Moses die middelaar was deur wie God se heerlikheid aarde toe kom, is Jesus die Tussenganger wat God se skoonheid/luisterrykheid na die dissipels bring. Paulus neem in 2 Korintiërs 3:7-18, die verhaal oor Moses op, om `n punt oor die prioriteit van Jesus te maak. Hy kontrasteer die glans wat van Moses se gesig geskyn het, met die groter heerlikheid wat in Jesus sigbaar geword het. Hy polemiseer ook met die Jode (2 Kor. 3:14) en die ongelowiges (2 Kor. 4:3), wat nie kan insien dat die sluier tussen die mens en God deur Christus weggeneem is, vir wie in Hom glo nie (3:14). Hy is dankbaar dat die heerlikheid van God reeds in Moses se tyd op aarde beskikbaar was, maar vir hom setel dié heerlikheid nie in Moses se gesig nie, maar in Jesus sn.

Hoe preek `n mens nou oor so `n verskynsel soos Moses se gesig wat blink? Die vertrekpunt behoort te wees dat God se teenwoordigheid Israel van ander volke onderskei het. God se teenwoordigheid bring luister in die skepping.

Preekvoorstel

As dit waar is dat `n mens se gesig blink nadat jy met God gepraat het, hoekom is daar niemand in die kerk wie se gesig blink nie? Is dit omdat ons nie goed genoeg, heilig genoeg, of ernstig genoeg is, om die Here se teenwoordigheid op te soek nie? Ons praat tog met God saam hier in die erediens en ook elkeen in ons binnekamer. Maar moet `n mens se gesig skyn? Is dit `n ideaal wat ons moet najaag? Daar is kerke wat buitengewone verskynsels (sg. "signs and wonders") die toetssteen maak van die egtheid van die geloof. Gelowiges wat nie van wonderwerke of spesiale gawes van die Heilige Gees kan getuig nie, word beskou as geestelik minderwaardig. Daar is mense wat vertel van strooi-goud wat uit hulle hare val en op hulle vel verskyn. `n Ander genesingsbediening beweer dat mense se tandvulsels tydens eredienste verander in goud.

God se heerlikheid word nie aan ons uiterlike (soms aangeplakte) glans gemeet nie. `n Mens kan opregte vrae stel oor sulke uiterlike bewyse van God se werking. Dit is nie sonder rede geskryf dat Moses, toe hy na 40 dae se vas van Sinaiberg met die twee plat klippe teruggekeer het, "hy nie daarvan bewus was dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie" (29). Is dit nie juis die teken van egte heiligheid nie? Dat jy jou nie self probeer heilig of indrukwekkend voorstel nie. Dat dit onbewustelik gebeur, soos die weldoeners van gevangenes, armes, dorstiges en siekes wat eendag sal vra: Wanneer het ons vir U in die gevangenis, of hospitaal besoek of klere of water gegee?

Daarmee sê ons nie dat die gelowiges nie uitkenbaar anders is nie. Sonder `n egte glans verloor die kerk haar identiteit. Sonder die Heilige se skoonheid waaraan gelowiges in die wêreld deel kry, word die mens se bestaan tot `n robotagtige verslawing van tegnologie afgekam, en `n selfdienende misbruik van die aarde. As Moses van die berg afkom met die twee plat klippe, herleef die hoop dat hierdie volk wel God se wil ernstig gaan neem en met God se gebooie `n nuwe begin sal maak. Hulle gaan nie bly sit by die skande van die goue kalf en die brokstukke van die verpletterde Tien Gebooie nie. Na Moses se terugkeer roep hy (Eks. 35) die gemeente van Israel bymekaar en gee opdrag dat die tent van ontmoeting, die tabernakel, gemaak moet word. Later is die tabernakel die middelpunt waaromheen die twaalf stamme hul woontente opslaan, want die tabernakel is die plek waar die magtige teenwoordigheid van God in die vorm van `n wolk verskyn.

Dít is God se droom vir sy kerk. Die gemeente is die plek waar die werklikheid van die nuwe skepping beleef word. Van hieruit, van die dienswerk van die gemeente, word God se betrokkenheid, sy genade, sigbaar. Mans, vroue en kinders gaan na elke sektor van die openbare lewe; om dit vir Christus op te eis, om oneerlikheid en boosheid in die skynende lig van die evangelie bloot te lê. Is ons gemeente `n lighuis van die heerlikheid wat van Bo kom? Is jy `n teken, `n voorsmaak van God se reddende genade vir die hele omgewing?

Dikwels hoor mens die oortuiging dat mense nie regtig kan verander nie. Dat mense wat skeefgegroei en verword het, maar altyd so sal bly. Die spreekwoord lui: `n Jakkals verander van hare maar nie van snare nie. Die bedoeling is nie om maar net iets leliks van jakkalse te sê nie, maar om uit ervaring van eeue en geslagte te getuig van mense se onwil en onmag, om regtig anders te word as wat hulle is. Jy kan `n klompie wilde hare verloor, ja, en straks deur opvoeding en beskawing leer om jou beste voetjie voor te sit, maar om werklik diep-in, van die grond van jou bestaan uit anders en nuut te word, dit kan nie.

Die getuienis van die kerk is egter anders: God se heerlikheid daal neer en maak alles nuut. Ons getuienis stem hier ooreen met wat in sinagoges gepreek word; sake verander wanneer God se woord tussen ons neerdaal. Die vlam van Israel se onheilige selfliefde en onblusbare begeerte teen God en sy gebod verander in Moses se tyd, toe God se heerlikheid saam met die wette van die berg afkom en hulle totale lewe restoureer. Daar is eers `n verskrikking toe die heerlikheid van Moses se gesig gekaats het, maar namate hulle na die wet van die luisterryke God luister, is daar `n heerlike verandering in hul private en openbare lewe. Die kerk se getuienis gaan verder as die Joodse sinagoge. In Jesus sien ons die Vader, en deur die Heilige Gees word ons verander. Word ons bevry van `n benepe selfsug tot `n ruimheid van hart, wat skaars is in ons wêreld.

Het God se heerlikheid jou al verander? Is u `n voorbeeld van die kunstenaarswerk van die Gees wat stuk vir stuk die beeld van Jesus in u lewe uitbeitel? In gesprek met `n katkisant vertel hy hoe `n spreker hulle by die skool uitgenooi het om te dink aan iemand wat voorbeeldig is, wat hulle aan Jesus laat dink. `n Maat sê na die tyd vir hom: "Ek het aan jou gedink." Herinner ons ander aan Jesus?

Is u n voorbeeld? `n Teken van God se heerlikheid? Ons hoef dit nie te wees deur soos `n seer vinger uit te staan met vreemde kleredrag of hiperkritiese houding nie.

Is u betrokke by mense? Dis waaroor dit in die kerk gaan: God wat so lief is vir mense dat Hy neerdaal en in ons kom woon. Weerspieël jy iets van die liefde? Ons leef in `n gejaagde wêreld met vol dagboeke en verantwoordelikhede. Heg jy genoeg waarde aan jou maat dat wanneer hy/sy ontsteld is of emosioneel voel, jy tyd maak om te luister? Nie met die een oog in die koerant of op die televisie of rekenaar nie, maar met volle aandag luister. En al verstaan jy nie heeltemal die redes vir die trane of emosie nie, doen jy moeite om so iemand vas te hou? Met jou nabyheid en liggaamshitte te help verstaan; jou gevoelens maak saak vir my en vir God.

Het God se teenwoordigheid, sy heerlikheid, jou al verander? Dit gebeur nie eensklaps nie. Dis `n lewensproses. Maar as jy leef van die Woord en luister na die Gees, kom daar `n andersheid wat vir alle oë sigbaar is. Paulus preek op `n stadium vir die Korintiërs oor hierdie teks en sê: Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Kor. 3:18).

"Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe." Dit hoef nie n kunsmatige ligglans te wees soos wat buisligte maak nie. Ook nie `n sterk ligstraal soos `n soeklig sn nie. Dit mag ook nie jou eie lig wees waarmee jy aandag op jouself probeer vestig nie. Dis tog God se lig wat aan ons toevertrou word sodat ons met die heerlikheid van God kan gloei, wat ons uitkenbaar anders maak as die wêreld rondom ons.

Bibliografie

Brueggeman, W 1994. The Book of Exodus (N1B1); Cole, A 1977. Exodus: An introduction and Commentary; Fensham, FC 1970. Exodus. POT; Noth, M 1966. Exodus, a commentary; Propp, WH 1987. The skin of Moses face-transfigured or disfigured? Catholic Theological Quaterly 49.