Ander tekste: Ps 106:1-8, 19-23; Fil 4:1-9; Matt 22:1-14
a) Die
perikoop kan in twee gedeeltes verdeel word, naamlik Eks 32:1-6 en
32:7-14. Die eerste gedeelte handel oor
die afgodery van die volk. Eks 32:7-14
oor die Here en Moses se reaksie op hierdie sonde. Heelwat debat is oor verskeie aspekte van hierdie twee gedeeltes
gevoer. Een daarvan gaan oor die aard
en identiteit van die kalf wat aanbid is. Middeleeuse Joodse kommetators ontken
dat dit die bedoeling van die volk was om die kalf te aanbid. Hulle sê dat die volk tog nie so dom kon
wees nie. Hulle het eerder gedink dat die beeld ’n ‘potent symbol that acquired
numinous quality, and that they could invoke the Deity through it’ (Sarna).
Ander geleerdes meen dat die volk die kalf ook as ’n simbool van die
boodskapper van God gesien wat voor hulle moes uittrek. Dit is immers uit Eksodus duidelik dat ’n
boodskapper ‘voor hulle’ uitgetrek het (Eks 14:19; 23:23; 32:34). Nog ander is van mening dat die kalf
waarskynlik net gesien is as ’n voetstuk vir die onsigbare God, maar dit het
die aandag na homself getrek. Die konteks van Eks 32-34 dui egter aan dat, wat
die bedoeling van Israel ookal was, dit vir God afgodery was. Die teenwoordigheid van bulle in die
aanbidding deur ander volke, maak Israel se oortreding juis erger. Die karakter
van die lewende God is hierdeur aangetas, naamlik dat Hy nie ’n natuurgod is
nie, maar lewend, sprekend en handelend is.
b) Eks
32:1-34:35 en staan tussen die opdrag om die tabernakel te bou (Eks 25-31) en
die uitvoering daarvan (Eks 35-40).
Fretheim sien hierdie gedeelte as ’n ‘blast of cold air’, na die gebeure
van Eks 25-31: ‘It is Gen 3 all over again.
The garden scene becomes a tangled mess. Harmony turns to dissonance, rest to disturbance, preparedness to
confusion, and the future with God becomes a highly uncertain matter. The reason is stated clearly: The people of
Israel have taken the future into their own hands and compromised their loyalty
to Yahweh through the construction of an idol.’ Die doel van die Eksodusgebeure, naamlik dat die mense Jahwe moet
dien, het ’n rampspoedige draai geneem.
Dié daad is ’n fundamenteel dislojale daad teenoor God wat hulle verlos
en in ’n bepaalde verhouding met hulle getree het. Die plasing van die verhaal laat die indruk dat die afvalligheid
van die mense met die bou van die heiligdom inmeng. Die werk kon slegs begin met na versoening bewerk is.
c) Die
optrede van die volk binne hierdie konteks kontrasteer volgens Fretheim die bou
van die tabernakel, wat pas aangekondig is, op kernpunte. Daarom is hierdie verhaal so ironies. ’n Paar gedagtes van Fretheim is
verhelderend. In hierdie verhaal neem
die volk die inisiatief, nie die Here nie.
Verder word die onsigbare God ’n blote beeld in wie se teenwoordigheid
’n mens sommer maklik kan kom. Die
persoonlike, handelende God word verruil vir ’n onpersoonlike voorwerp wat nie
kan praat of handel nie.
a) Die
optrede van leiers in geloofsgemeenskappe is een van die sake wat aan die orde
gestel word deur ’n gedeelte soos hierdie.
Hieroor het Coenie Burger (Vergesel
van die Almagtige, 74, 77-79) ’n paar belangrike opmerkings gemaak. ’n Kort aanhaling uit sy boek werp lig op
hierdie rol van leiers: ‘Daar is min
Bybelboeke waarin die deurslaggewende rol van menslike leierskap of bemiddeling
in die lewe van die geloofsgemeenskap so duidelik beklemtoon word as juis in
Eksodus. ’n Mens voel om te sidder as
jy hierdie verhaal lees – die res van hoofstuk 32 saam met hoofstukke 33 en 34
– en sien in watter mate die lot van die volk in Moses se hande was…Die groot
behoefte hier in die middel van die woestyn was aan dié van rigting en
sekerheid en troos – iets wat gewone mense in die loop van die gewone lewe
gewoonlik soek in die oë, in die stem en in die gesigsuitdrukkings van hulle
leiers … Dit is ontstellend om te sien hoe geredelik Aäron saamspeel in hierdie
ongelukkige geskiedenis… Aäron se waarneming was dat iets gedoen moes word om
die volk tegemoet te kom, om die Here se teenwoordigheid meer toeganklik, meer
geloofwaardig te maak in die nuwe opset waarin hulle hul bevind het…Maar
uiteindelik is dit onverdedigbaar en fataal vir die lewe van die
geloofsgemeenskap … terwyl Aäron aan die Here dink, is die meerderheid van die
volk se gedagtes ver van die Here af.’
Hierdie opmerkings van Coenie Burger laat ’n
mens onwillekeurig vra in watter mate die leierskap van die geloofsgemeenskappe
in ons land soms, met die mooiste pastorale bedoelings, toelaat dat lede van
hierdie geloofsgemeenskappe selfgemaakte gode aanbid, in plaas van die ware
God. Die geskiedenis van ons land bevat
genoegsame getuienis hiervan. Dink aan
die hartseer verhaal van apartheid, wat o.a. die skynbaar ‘suiwer’ motief gehad
het om die armblanke-vraagstuk op te los.
Die teologiese ondersteuning van apartheid deur kerkleiers het egter die
gevolg gehad dat ’n ideologie van apartheid onder lidmate ontstaan het waarmee
ons geslag moeilik afgereken sal kry.
Ons moet onsself die vraag afvra in watter mate ons, ‘om lidmate saam te
neem’, ‘om lidmate nie te verloor langs die pad nie’, nie dalk veroorsaak dat
hulle die spoor byster raak nie. Die
vergoddeliking van predikante en die kerk het gelukkig darem ook deur hierdie
episodes ’n knou gekry. Die probleem
waar die boodskapper van die Here met die Here self vereenselwig is, duur egter
nog steeds voort. Daarop moet alle
Christelike leiers steeds bedag wees.
Soms word die lof van die boodskapper besing en aan die boodskapper
toegedig wat net deur die Here gedoen kan word. Dit is ’n ernstige vorm van afgodery.
c)
Geleerdes is dit eens dat dit in Eks 32:1-6 gaan oor die oortreding van
die tweede gebod. In die eerste gebod
word ons gewaarsku om nie ander dinge in die plek van God te plaas nie. Calvyn het gesê dat ons hart soos ’n
fabriek is waar daar telkens nuwe afgode vervaardig word. In die tweede gebod word ons gewaarsku om
nie van God ’n afgod te maak nie. ’n
Mens kan dink dat jy met God besig is en dan al die tyd met 'n afgod besig
wees. Wie van God die God van 'n volk
maak, het 'n stamgod. Wie van God die
God van sy voorspoed maak, het 'n voorspoedgod. Wie van God die een maak wat moet spring as hy vra, het 'n slaaf
vir ’n god. Dit is presies die poging
van Aäron om van die aanbidding van die bulkalf ’n fees vir die Here te maak
(32:5), wat dit ’n oortreding van die tweede gebod maak. Die Bevryder word die beeld wat húlle van
Hom maak. Durham sê tereg dat ons nie
hier te doen het net met ’n verruiling van God vir ander gode nie, maar die
gieting van God in ’n beeld waarvan hulle bepaal hoe Hy moet wees (Sien ook Ps
106:19,20). Terwyl Moses besig is om te hoor hoe God gedien moet word, is die
volk besig om Hom op hulle manier te dien.
Ons kan egter op geen manier die eerste en
tweede gebod van mekaar skei nie. Om ander gode te dien is uiteraard ook reeds
’n oortreding van die tweede gebod.
Mense kies ander gode omdat dit vir hulle funksioneel is of ‘werk’. Die enigste God is ook die ware God, en
andersom. Wie God se Naam ernstig neem,
naamlik dat Hy Homself telkens sal openbaar soos Hý dit wil, sal Hom ook só
dien. Afgodery
tas die verhouding aan waarin God met sy mense getree het. Die gode kan dit nie doen nie (Ps 115 en Jer
10:1-7). Calvyn het gesê dat ons God
nie na sy wese ken nie, maar hoe Hy teenoor ons is. Dit word deur afgodery aangetas.
Ander gode voel nie, dink nie, praat nie, maar God voel, dink en praat. Daarom kan Paulus waarsku teen gierigheid as
afgodery omdat God die een is wat aan mense ’n nuwe lewe geskenk het (1 Tim
6:6-19).
c) Die
beklemtoning dat afgodery vir die Here ’n aantasting van sy liefde is, behoort
ook ’n positiewe invloed op ons verhouding met God te hê. In Matt 5-7 word die Bergrede van Jesus
aangetref. Een van die saligsprekinge
benadruk die ‘reinheid’ van hart. Later
in die Bergrede (Matt 6:19-34) word hierdie ‘rein hart’ nader omskryf as ’n
eenduidige visie op die koninkryk van God.
’n Rein hart is die teenpool van ’n verdeelde hart, van dubbelvisie, van
God én Mammon, my ryk én God se ryk.
Kierkegaard het ’n boek geskryf met die titel: Purity of heart is to will one thing. Dit is die teenkant van afgodery: om die ware God alléén te
dien. Dit beteken om nie toe te laat
dat Mammon God se plek neem nie. Dit
beteken ook om God nie te giet is die vorm van ’n Voorsiener van Mammon, jou
eintlike God nie. Dit beteken dat ons
daarteen moet waak dat ons volk, kultuur, taal of afkoms nie die plek van God
sal neem nie. Dit beteken ook dat ons
daarteen sal waak om nie van God die kampvegter vir jou belange te maak
nie. Om ’n rein hart te hê, is om jou
onverdeelde aandag te fokus op God alleen.
d) In
Eks 32:7-14 neem Moses vier sake op op grond waarvan die Here sy volk genadig
moet wees, naamlik sy moeite wat Hy reeds gehad het om hulle te bevry (32:11),
die gevolge wat dit vir die integriteit van die Here by die Egiptenaars sal hê
(32:12), die nood van die volk weens die ramp (32:13) en die beloftes van die
Here aan die aartsvaders (32:13).
Hierdie vier ‘argumente’ oortuig die Here om af te sien van sy plan om
hulle te vernietig. Dit is belangrik om
daarop te let dat hierdie daad steeds sy vrye en genadige keuse was. Dit gaan nie hier om ’n argument wat Moses
wen nie, maar om God wat steeds sy verhouding met Moses ernstig neem. Die veranderlikheid van God is ’n aspek
waaroor ons nie baie praat nie. Ons
handhaaf eerder die standpunt dat God onveranderlik is. God is natuurlik onveranderlik in sy trou en
liefde. Dáárom verander Hy van
plan. Sy liefde brand te sterk vir
sondaars (Hos 11:8,9). Die volgende
aanhaling uit die kommentaar van Fretheim is verhelderend: ‘The God of Israel
is revealed as one who is open to change.
God will move from decisions mad, from courses charted, in view of the
ongoing interaction with those affected.
God treats the relationship with the people with an integrity that is
responsive to what they do and say.
Hence human prayer is honored by God as a contribution to a conversation
that has the capacity to change future directions for God, people and world …
This means that there is genuine openness to the future on God’s part,
fundamentally in order that God’s salvific will for all might be realized as
fully as possible. It is this openness
to change that reveals what it is about God that is unchangeable: God’s steadfastness has to do with God’s
love; God’s faithfulness has to do with
God’s promises; God’s will is for the salvation of all. God will always act, even make changes, in
order to be true to these unchangeable ways and to accomplish these
unchangeable goals.’
’n Preek oor hierdie gedeelte sou kon begin met
’n verwysing na die sogenaamde vier grade van liefde waarvan Bernardus van
Clairvaux praat. Hy sê dat ’n mens eers
net jouself liefhet. Later kom jy agter
dat jy iets meer nodig het. Die gevolg
hiervan is die tweede graad van liefde: die liefde vir God. Maar hierdie liefde is ook maar swakkerig,
omdat dit God liefhet vir die voordeel wat ’n mens daaruit kan behaal. Die derde graad van liefde is wanneer ’n mens
God liefhet net omdat Hy God is. Die
vierde graad van liefde is wanneer ’n mens se wil en God se wil as’t ware
versmelt. Dan wil jy niks anders as wat
God wil nie. Hierdie vierde graad van
liefde, so sê Bernardus, is nie die deel van die mens hier en nou nie. Dit gebeur net so nou en dan, ’n vlietende
oomblik.
Die neiging van die mensdom is om telkens terug
te val na die eerste en tweede graad van liefde, waarin net ons eie voordeel
belangrik is. Die verhaal van Eks 32 is
die droewige verhaal van mense wat verveeld geraak het met die gedagte dat God
op sy manier aanbid moet word. Na die
verbondsluiting en tussen die voorskrifte vir die bou van die tabernakel en die
uitvoering hiervan, staan die verhaal van verbondsbreuk. Die skaduwee van ons ongehoorsaamheid val
gedurig oor die trou van God! Die
aanhaling van Fretheim waarin hy hierdie gebeure met die sondeval vergelyk, kan
gebruik word.
In ’n volgende gedeelte van die preek kan die
vraag na die aard van hulle sonde gevra word.
Hier kan verwys word na die teorieë waarin die aanbidding van die kalf
in perspektief geplaas word. Daar sal
dan gewys moet word op die oortreding van die tweede gebod en wat dit alles
behels. Die onmoontlikheid om die
eerste en tweede gebod van mekaar te skei moet ook uitgelig word. Die gevaar daarvan om God in ons belang in
te span en die gevolglike verskraling van die wese van God tot ’n godjie wat
ons pas, tas die liefdevolle verhouding waartoe God Hom met ons verbind het, aan. Dit is ’n klap in die gesig van God, wat
heeltemal anders is as ons stom afgode voor wie ons buig omdat hulle ons
pas. Miskien kan die rol van die kerk
en leiers wat dit soms willens en wetens toelaat dat mense in hierdie afgodery
verval, op hierdie punt belig word. ’n
Skuldbelydenis deur die prediker oor die weë waarop hy of sy die gemeente in sy
bediening toegelaat het om te gaan, kan dalk ook gepas wees!
Dat hierdie optrede die dood verdien, kan in
die volgende argument aan die hand van die verhaal aangetoon word. God se eer, sy ‘vertoning’ voor die nasies,
sy verbondstrou en die ‘eer’ van God se volk word deur hierdie soort optrede
aangetas. Die prediker kan hier
uitvoerig aantoon hoe die eer van God en die beeld van die Christendom deur die
eeue skade gely het weens die kerk se gejaag na afgode soos rykdom en
besittings, die kerk se ondersteuning van ideologieë en onreg en die
vergoddeliking van sy boodskappers.
God sou ons kon vernietig, want Hy is God, maar
Hy doen dit nie, want Hy is God. Moses
se rol as leier en bemiddelaar in hierdie krisis laat die lig val op die
vryheid van God om af te sien van sy voorneme om die mens te vernietig. Die verhouding tussen God se besluit en
Moses se voorbidding kan aan die hand van die aanhaling van Fretheim
verduidelik word. Hierdie siening van
God se onvoorwaardelike genade, gee aan mense hoop in hulle gebroke toestand
van sonde. Ook die kerk kry hierdeur
hoop. Ook ’n ander Middelaar het God se
Weerligafleier geword, toe Hy aan die kruis die toorn van God gedra het. In Moses se geval het God afgesien van sy
plan om hulle te straf. In die geval
van Christus het God inderdaad gestraf!
Juis daarom is afgodery so erg vir Christene!
Literatuur
Coenie Burger, Vergesel van die Almagtige. Lux Verbi; B S Childs, Exodus (OTL); J I Durham, Exodus (WBC); T E Fretheim, Exodus (Interpretation); L Meyer, The message of Exodus (Augsburg); N H Sarna, Exodus (The JTS Torah Commentary).