Ander tekste: Ps 19; Fil 3:6-16; Matt 21:33-43
Prediking oor die hele perikoop sal uiteraard nie aan elke gebod aandag
kan gee nie. Daarom sal daar aan breër
lyne in die teks aandag gegee moet word.
a)
Die fokusteks van hierdie week kombineer die Dekaloog doelbewus met die
reaksie van die volk.
Dit is baie interessant om op te merk dat die redakteur van die
Eksodusboek die Dekaloog doelbewus binne die konteks van ’n teofanie gaan
plaas. Eks 20:18-20 vertoon heelwat
karaktertrekke van die normale teofanieë.
’n Ander voorbeeld waar aspekte van die Dekaloog in die konteks van ’n
teofanie voorkom, is Ps 50. Eks
20:18-21 is ’n teofanie wat vrees tot gevolg het en die middelaarsrol van Moses
in Eksodus nogeens na vore bring.
Hierdie teofanie dien as die sluithakies van die sentrale narratief wat
in Eks 19:1-15 begin het. Daarom sê Durham tereg dat die belangrikheid van die
teks veral in die plasing daarvan lê.
Dit is ’n integrale deel van die Sinai narratief en ’n essensiële deel
van Jahwe se selfverklaring aan sy volk.
b) Spesiale status is volgens die
Misjna Tamid (4:3; 5:1) aan die Dekaloog verleen by alle daaglikse
oggenderedienste tydens die Tweede Joodse Statebond. Die sogenaamde Shema (Deut 6:4,5) het naas die Dekaloog in
hierdie byeenkomste gefunksioneer. Teen
ongeveer 150 vC het die Shema, volgens ’n liturgiese papirus uit daardie tyd,
direk op die Dekaloog gevolg (Nash papirus - Hebreeuse Papirus van Egipte). Later, volgens Rabbynse bronne, is die
liturgiese gebruik van die Dekaloog gestaak omdat die sektariese gedagte
ontstaan het dat slegs die Dekaloog, nie die res van die Verbondsboek nie, by
Sinai gegee is. Volgens Fretheim is Israel se aanbidding die primêre Sitz im Leben vir die gebooie van
Israel. Natuurlik is dit ook daarbuite
gebruik (Sien ook 24:12 vir die kategetiese gebruik daarvan). Ook die profete haal dit aan (Jer 7:9 en Hos
4:1,2).
c) Volgens die Joodse geleerde, Sarna, het die tradisionele Joodse
eksegese in die 13e eeu dertien gebooie in hierdie sogenaamde tien woorde van
God geïdentifiseer. In ’n Rabbynse
legende word gesê dat God aan alle volke die Dekaloog gegee is, maar dat hulle
dit verwerp het. Dat dit in die woestyn
en nie in nasionale grense nie, gegee is, bevestig volgens hierdie tradisie die
universaliteit daarvan. Volgens die
legende is dit ook gelyktydig in alle tale vertaal.
d) Die eerste vyf gebooie van die
Dekaloog word gekenmerk deur die vyfvoudige gebruik van die uitdrukking: ‘die
Here jou God.’ In die laaste vyf gebooie word geen verwysing na die Here gemaak
nie. Volgens Sarna is die eerste deel
van die Dekaloog uniek aan Israel, terwyl die tweede deel universeel in die Ou
Nabye Ooste aangetref word. Slegs in
Israel word die tweede aspek van die Dekaloog egter as vrug van God se opdrag
en bevryding gesien.
e) Dit is belangrik om die breër
konteks van die Dekaloog ook in ag te neem.
Coenie Burger (Vergesel van die
Almagtige, 56), toon aan dat Eks 19-24 die verhaal van die Here se
verbondsluiting met die volk bevat - die dieper en vollediger verbintenis
waarin die volk met die Here gaan staan.
In die woestyn moes die volk nie net hulself beter leer ken nie, maar
het hulle die Here ook beter leer ken.
Dit is wat hier gebeur. Eks 19
is die aankondiging van en voorbereidings vir die verbondsluiting. Eks 20 gee die hoofstipulasies van die
verbond deur. Eks 21-23 brei uit op
hierdie stipulasies en gee selfs meer as die Dekaloog deur. In Eks 24 word die beseëlingseremonie
beskryf.
f) Durham het in sy kommentaar ’n
volledige uiteensetting gegee van die verskillende aspekte van die teks. Dit kan daarin nagegaan word. Sy kommentaar hanteer die volgende aspekte:
Die verband tussen die teks en die ONO wetsvorme;
Die ‘oorspronklike’ vorm van die gebooie en die sogenaamde ‘uitegbreide’
vorm daarvan soos dit nou is;
Die verband tussen die teks en die ander OT verbonds of wetsvorme – veral
die Bondsboek (Eks 20:22-:33);
Die rangskikking van die gebooie in ’n groter narratiewe konteks;
Die ouderdom van die gebooie.
a) Die bevryding uit Egipte dien as begronding vir die
daaropvolgende gebooie. Die hele
verhouding tussen die indikatief en imperatief word hier aan die orde
gestel. Ongelukkig is die skeeftrekking
van hierdie verhouding die oorsaak van baie probleme in die lewe van
gelowiges. Dit is uit die Skrif baie
duidelik dat die een nie sonder die ander sin maak nie. Dit is ook gevaarlik om van ’n sogenaamde
‘balans’ tussen die indikatief en imperatief te praat, aangesien ’n polêre
denkskema aan die grond van so ’n opvatting lê. Hiervolgens moet ons dan praat van God se genade EN die mens se
verantwoordelikheid. Die een hang dan
later van die ander af. As ons … sal
God. As God… moet ons. Wanneer ’n mens so oor die verhouding tussen
indikatief en imperatief begin dink, is die gevaar van die skeeftrekking tussen
regverdiging en heiliging ook lewensgroot.
Daarom is dit belangrik om ’n paar belangrike sake te onthou. Eerstens rus die imperatief in die indikatief. Hierdie indikatief is gewoonlik die dade van
God in die verlede wat uitgeloop het op die kruis en opstanding van
Christus. In die Nuwe Testament word
die sakramente van doop en nagmaal, omdat dit as draers van die evangelie
gesien word, ook as indikatiewe beskou.
Die nagmaal moet immer lei tot ’n lewe van liefde. Die doop moet lei tot ’n opstandingslewe.
Beker, in sy werk oor Paulus, dui ook aan dat die eskatologie as indikatief in
die Nuwe Testament funksioneer. Die
verwagting dat Jesus weer sal kom, vul mense met ywer en liefde (1 Tess
5:1-11). Dit is slegs indien die
toesegging van God se genade ernstig geneem word, dat die imperatief nie as ’n
wet gesien word nie, maar as ’n dankbare reaksie wat veroorsaak word deur die
indikatief. Bram van de Beek het dit
goed uitgedruk toe hy gesê het: as jy
van ’n slang bevry is, sal jy dit nie weer omhels nie! Tweedens moet daar gewaak word teen die
indikatief sonder die imperatief. Wie
slegs die toesegging van God se genade verkondig, sonder om die verbintenis wat
daarmee saamgaan te beklemtoon, verval maklik in ’n eensydige, universalistiese
teologie. Derdens moet daar ook gewaak
word teen die verkondiging van die imperatief sonder die indikatief. Wie dit só doen, moet weet dat hy of sy nie
meer met die evangelie besig is nie, maar met wettisisme wat uit enige ander
boek verkondig kan word. ’n Mens het
nie die Bybel nodig om ’n moralistiese boodskap oor te dra nie. Wie met die Woord van God verkondig,
handhaaf die eenheid van die indikatief en imperatief. Prediking van die Dekaloog beklemtoon
dit. Die bevryding is God se vrye daad
van genade. Nie eers die gebooie en dan
die bevryding word verkondig nie. Maar
daar word daar verkondig dat daar ook nie vry geleef word sonder om God se wil
te doen nie. Dit was Calvyn wat gesê
het dat ’n mens nie op grond van jou dade gered word nie … maar ook nie
daarsonder nie! Verbintenis aan
bevrydende God is wesenlik deel van die verbond.
b) Hierdie teks hou natuurlik
baie in vir die debat oor Christelike spiritualiteit. In ’n bekende werk oor Christelike spiritualiteit sê Sandra
Schneiders: ‘It was historical events, the exodus of the Hebrews from Egypt
under the leadership of Moses and the covenant they made with Yahweh on Mount
Sinai that gave rise to and defined Jewish religious experience. Likewise, it was an event, the ressurrection
of Jesus of Nazareth, that inaugurated and shaped Christian spirituality.’ Die Eksodus- en Christusgebeure is die
agtergrondmusiek in die hele Bybel wanneer die verhouding tussen God en sy
mense, sy mense en die nasies, natuur, vreemdelinge en hulle volksgenote aan
die orde gestel word. So kom die Eksodusgebeure ter sprake by kinderopvoeding (Deut 6:20-22), hulle omgang met vreemdelinge,
weduwees, wese en die waarheid (Lev 19), die lofsang oor sy liefde in die
tempel (Ps 136:10-16), wanneer hulle nadink oor sy trou, ten spyte van hulle
sonde (Ps 106:7-8,43-46), hoe hulle sy eiendom geword het (Ps 114:1,2), wanneer
God hulle tot orde roep (Miga 6:3,4,8) en van plan verander wanneer Hy hulle
wil straf (Hos 11:1,8-9). Dit gaan in die Dekaloog nie om individualistiese sake nie, al word
die individu aangespreek. Dit gaan in
die Dekaloog oor die welsyn van die gemeenskap, beskerming teen gedrag wat oor
die potensiaal beskik om die gemeenskap en gemeenskapsbande te vernietig. Natuurlik veronderstel die negatiewe bevele
ook ’n positiewe keersy. Om geen vals
getuienis te lewer nie, veronderstel opbouende woorde ten opsigte van jou
naaste. Om nie dood te maak nie,
veronderstel die behoud en beskerming van alle lewe. Die weerhouding daarvan om die Naam van die Here te misbruik
veronderstel lof aan God, die heiliging van sy Naam. Dit gaan hier oor die persoonlike aanspraak van God op mense se
lewens op grond van die bevryding.
Net so word daar in die Nuwe Testament op grond van die Christusgebeure
’n bepaalde spiritualiteit geskets wat by bevryde mense pas. Rom 12 skets hierdie spiritualiteit. Die ontferming van God dien as basis vir ’n
lewe wat soos ’n offer vir God en jou medemens verbrand word. God as bevryder is die basis van ’n bevryde
lewe, maar ook van ’n bevrydende lewe in diens van jou medemens wie se welsyn
bedreig kan word of reeds bedreig word.
Uiteraard word die onskeibaarheid van ons verhouding met God en ons medemens
ook hierdeur aangeraak. Geen mens kan
sê hy/sy het God lief, maar nie ook lief wees vir ander nie (1 Joh 4).
Lojaliteit teenoor God het implikasies vir lojaliteit en sorg teenoor
ander. Eintlik gaan dit hier om die
diepste en belangrikste van alle gebooie, naamlik liefde. Daar kan egter baie geteoretiseer word oor
wat liefde is. Ten diepste word liefde
sigbaar in ons daaglikse omgang met ons medemens. Die wet van die liefde word in die Dekaloog geradikaliseer in die
verskillende lewenskontekste van ons verhouding met God, geld, gesag,
besittings, verhoudings, waarheid, lewe …Die verlossing laat ons telkens nuwe
moontlikhede raaksien om God te dien.
“To be gracious as Yahweh has been gracious means that the people of God
must always be on the lookout for ever new ways to conform their lives to that
of God Homself” (Fretheim). Daarom is
die optrede van bevryde mense teenoor God en sy skepping rondom hulle nie in
die Dekaloog volledig vervat nie. In sy
kommentaar op Eksodus sê Fretheim: ‘If
the decalogue is understood as Israel’s bill of rights, the way for ammendments is open.’ Die Dekaloog plaas alle ‘issues’ op die
tafel wat God en sy skepping bedreig.
Die regte van die natuur, vroue, slagoffers van persoonlike en
strukturele geweld, aborsie, die onreg van rassisme én regstellende aksie,
belastingontduiking, bedrog, materialisme, lotery en dobbelary is die moderne
vorme van die gebooie. Die Heidelbergse
Kategismus se behandeling van die wet van God kan as deel van die voorbereiding
vir hierdie preek deurgelees word. Ook
die Belharbelydenis gee belangrike perspektiewe oor die eietydse betekenis van
die Dekaloog deur.
Inleidend kan verwys word na ervarings wat baie mense uit hulle kinderdae
kan onthou. In ons ouerhuis was daar ’n
geweldige respek vir die Bybel as boek.
Ons is nie toegelaat om enigiets op die Bybel neer te sit nie (veral nie
’n asbakkie nie!), omdat dit die Woord van God is. Ook die kerkgebou is gesien as die huis van God en daar dra jy
bepaalde klere, sit jy stil en praat jy (as dit moet!) baie sag. Hierdie soort vroomheid is natuurlik nie net
negatief nie. Ons voorouers het ontsag
vir God gehad. In ’n sekere sin mis ons
deesdae so ’n bietjie van hierdie vroomheid.
In ’n tweede gedeelte sou verwys kon word na die reaksie van die volk op
die woorde van God in die Dekaloog. Die
teofanie by Sinai vul die mense met soveel angs dat Moses vir hulle moet
intree. Moses sê dan dat hulle nie bang
hoef te wees nie, maar dat God wil hê dat hulle ontsag vir Hom moet hê. Wat is ontsag vir God? Wat is dit om Hom te vrees? Is dit om so bang te wees vir Hom dat jy sy
Woord respekteer en ver van Hom af moet bly?
Is dit om niks op ’n Bybel neer te sit, reg aan te trek kerk toe of stil
te sit in die kerk? Klaarblyklik is ontsag
vir Hom baie meer as dit.
Die prediker kan dan aandui dat ontsag vir God word in Eks 19-24 as ’n
intieme verhouding met God uitgebeeld word.
Die doel van God se selfverklaring in Eks 19-24 is dat die volk sal
ontdek wie hulle is en watter implikasies dit vir hulle lewe het. ’n Paar gedagtes kan dalk rigting gee vir
die prediking:
a) Ontsag vir God word gekweek
wanneer ’n mens sy liefde leer verstaan.
Die Here se selfverklaring in die Dekaloog benadruk dat Hy die Bevryder
uit slawerny is. Oor die belangrikheid
van hierdie motief in die Ou Testament kan die prediker behoorlik uitbrei.
Luther het gesê dat ’n mens bo aan elke gebod eers die woorde moet lees: ek is die Here jou God wat jou bevry het!
Dit is die basis, die motivering, die wegspringblokke vir ’n lewe in diens van
God en die medemens. Wie dit nie
verstaan nie, leef met vrees vir God, omdat liefde ’n wet word wat nagekom moet
word. Wanneer het ons dan genoeg gedoen
om bevry te word? Natuurlik behoort die
prediker die Christusgebeure as basis vir die Christen se vryheid en liefde
hier te beklemtoon. Die Dekaloog is nie
soos tien honde wat knor as jy wil beweeg nie. Dat die Heidelbergse Kategismus
die Dekaloog onder die afdeling van dankbaarheid behandel, beklemtoon die
funksie daarvan in ons lewe.
b) Ontsag vir God is nie in die
eerste plek ’n gesindheid of houding nie.
Ontsag vir God is ’n leefwyse.
’n Mens kan God respekteer, sonder om Hom lief te hê. ’n Mens kan sy Woord respekteer deur niks
daarop neer te sit nie, sonder om te doen wat Hy daarin vra. Ontsag vir God beteken om as bevryde mens te
lewe volgens die wil van God. Hierdie
wil van God sluit ons verhouding met Hom, ons medemens, die natuur, ons
besittings en onsself in. ’n Verwysing
na die teofanie van Ps 50 en die byhaal van die voorskrifte van die Dekaloog in
daardie konteks, beklemtoon dat ontsag vir God se Woord baie meer is as kennis
daarvan. Die prediker kan die ‘issues’
van die dag hier op die tafel sit.
Miskien kan die prediker hier ’n koerant gebruik om Dekaloog in die
hedendaagse sake te ‘vertaal’, of ’n ‘eie’ Eks 20 skryf. God vra van sy kinders ’n verbintenis om van
die wêreld ’n plek te maak waar sy bevryding sigbaar sal wees. God vra van bevryde mense om deur hulle
liefdevolle optrede bevrydend op te tree waar die sonde nuwe slaweboeie in
gemeenskappe tot gevolg het.
Die prediker sou kon afsluit met die aangrypende verhaal in Piet Naudé de
boek (Stories vir elke dag), Petrov, die ‘getroue kerkganger’. Daarin word vertel van ’n brandarm
houtkapper, 'n godvresende mens, wat skielik minder in die kerk gesien is. Later het die gemeenskap begin skinder omdat
hy selfs op ’n Sondagoggend met sy kat in die bos ingegaan en die aand
daarsonder teruggekom het. Hulle het
geglo dat hy met Satansdinge besig was.
Na ’n waarskuwingsbrief van die predikant, is Petrov onder sensuur
geplaas en later afgesny uit die gemeente.
Na sy dood het dit geblyk dat hy melaatse mense in die bos versorg het,
sy kat vir hulle geneem het om te streel en ’n skuiling vir hulle gebou
het. Hy was bang dat hy die dorpsmense
sou aansteek en het daarom nie meer in die kerk gekom nie. In die brief wat deur die prokureur na sy
dood aan die predikant oorhandig is, sê hy dan: ‘Ek vra om vergifnis vir my
gedrag. Ek vra julle om tog asseblief
na my dood voort te gaan om die melaatses te versorg en my katte kos te
gee.’ Dít is ontsag vir God! (Sien ook
die verhaal wat Coenie Burger van Peer Gynt vertel en wat as teenpool van
bogenoemde verhaal kan dien, Vergesel van die Almagtige, 59). Watter waarde het
jou liefde vir God, jou godsdiens, as jy nie kans sien om die voorwerp van dié
liefde, jou naaste, in jou arms vas te druk nie? (Antoine de Saint-Exupéry).
Literatuur
Coenie Burger, Vergesel van die Almagtige. Lux Verbi; B S Childs, Exodus (OTL); J I Durham, Exodus (WBC); F C Fensham, Exodus (POT); T E Fretheim, Exodus (Interpretation); L Meyer, The message of Exodus (Augsburg); P Naudé, Stories vir die lewe. Lux Verbi; N H Sarna, Exodus (The JTS Torah Commentary).