Ander tekste: Ps 105; Fil
1:21-30; Matt 20:1-16
Die toonaard of tendens van hierdie teksdeel word op ’n manier uitgespel
in die werkwoord van die eerste sin daarvan.
Die hebreeuse begrippe kehtib en qere, word met “ mor”, “ verset”, en “
kla” vertaal en kom in variante vorme 7
maal in die teksdeel voor. Deur en deur
is dit ’n vertelling oor mense se verset en kla en God se ongelooflike reaksie
daarop. Die inhoud van die klag en die
rede tot verset van die volk, is klaarblyklik dat Moses en Aäron as
verteenwoordigers van Jahwe hulle mislei en benadeel het, deur hulle uit Egipte
weg te lei op weg na die beloofde land.
In 'n situasie van skaarsste en swaarkry word die lof en blydskap oor
die aanvanklike verlossing uit die oorspronklike ellende en verdrukking in Egipte
al gou vergeet en is die grondliggende ingesteldheid een van protes en
klagte. Egipte se toestand word selfs
in positiewe terme van vleispotte en oorgenoeg kos onthou. Daarenteen word die woestyn beleef as die
plek van skaarsste en sekere dood as gevolg van verhongering.
Opmerklik in vers 4 is dat Jahwe self reageer sonder dat Moses en Aäron vir Hom kan meedeel wat die klag is. Dis duidelik dat Jahwe sensitief is wat vir die omstandighede, gemoed en gesindheid van sy volk wat Hy uit Egipte bevry het. Ten spyte van hierdie direkte en sensitiewe waarneming van Jahwe is dit egter ook opmerklik dat die teks in vers 4 en vers 11 net vermeld dat Jahwe met Moses praat. Die Here praat nie met die volk nie, maar met Moses oor sy ervaring van die volk se gesindheid en woorde en sy reaksie daarop. Die teks se struktuur word dan ook saamgestel deur hierdie onderlinge gespreksmededelings. Eers is die volk aan die woord met hulle klag, toe praat die Here met Moses oor wat Hy hoor, daarna is dit Moses en Aäron wat eers met die volk praat en toe Moses wat vir Aäron 'n opdrag gee om aan die volk oor te dra en dan praat die Here weer met Moses oor wat gaan gebeur en laastens verduidelik Moses vir die volk wat plaasgevind het. Tussenin is daar net die kort agtergrond beriggies in verse 10 en 12b tot 14 om die afloop van die gesprek weer te gee.
Dit wil voorkom asof hierdie teksdeel daarop sinspeel dat Israel se besef
en begrip van wie die Here God is, ten nouste saamhang met sy konkrete
voorsiening vir hulle. Op 'n manier kan
dit gelees word as 'n toetssaak na beide kante toe. Knap na die bitter water (15:22-26) episode waar die volk kon
agterkom dat Jahwe ernstig is met hulle, kom die vleis en brood kwessie op die
tafel. Die woestyn begin die volk druk
en die volk se klagte stel Jahwe voor die opsie om daarop te reageer. Breedweg beoordeel, kan 'n mens sê dat die
volk hulle toets druip, veral as die versekering van vers 26 onthou word,
terwyl Jahwe sy toets met vlieënde vaandels slaag. Sy reaksie is immers heeltemal nie wat 'n mens gedink het Hy sou
kon doen nie, naamlik om die volk streng tereg te wys en selfs 'n paar “
oorkonkels” te gee om hulle te laat
besef met Wie hulle nou eintlik op weg is.
Na my mening is 'n baie belangrike aspek van hierdie teks die mededeling
in vers 7. In 'n sin kan dit as die
spilpunt van die hele berig gelees word.
Hier blyk dit duidelik dat die volk se verset en gemor oor die toestand
waarin hulle hul bevind, die leierskap van Moses, die moeilike omstandighede in
die woestyn en die uittog as geheel, vertolk en aangebied word as in wese 'n
direkte protes en verset teen Jahwe self.
Jahwe is die een wat hierdie pad met hulle begin loop het en dit nog
steeds loop. Daarom is daar 'n aspek
van die uittog wat hulle onbehaaglik vind en waarteen hulle in opstand kom, is
dit eintlik in wese 'n protesaksie teen Jahwe self. Om oor die leiers en kos te kla is eintlik om Jahwe aan te kla as
'n swak voorsiener en misleier.
Wanneer hierdie aspek besef word, is die geduld en verdraagsaamheid van Jahwe ten opsigte van hierdie blatante ondankbaarheid en negatiwiteit baie opvallend. Wanneer die atmosfeer dan na hierdie arrogansie van die volk in vers 10 geteken word dat hulle na die woestyn gekyk het en die magtige (ook geweldige) teenwoordigheid van Jahwe sien, verwag mens half met opgehoue asem dat Jahwe kras op die mosie van wantroue en verset gaan reageer. Daarom is dit so verrassend en oorbluffend dat in vers 12 Jahwe letterlik sê dat Hy sien en weet die volk is in opstand teen Hom en die pad waarop Hy hulle lei, maar dat Hy hulle nie daaroor verkwalik nie, maar hulle eerder gaan tegemoetkom en vir hulle gaan sorg op 'n manier wat hulle nooit sou kon dink nie. Hy gaan vir hulle “oorgenoeg kos” (sinspeling op die volk se selektiewe geheue oor Egipte) gee sodat hulle kan weet en glo Hy is die Here hulle God. Die Here het vir sy volk vleis (kwartels) en brood (manna) in oorvloed en deurlopend voorsien sodat hulle sy sorg en begrip daagliks kon ondervind en hopelik kan besef dat Hy werklik die Here is wat sy onderneming gestand doen en wat hulle nie in die nood sal laat vasval nie.
Elkeen van die volgende punte kan breedvoerig in eie idioom en met
voorbeelde uitgebrei en toegepas word.
·
Mense reageer gewoonlik tweeledig, negatief op die
dikwels moeilike situasie en toestande waarbinne hulle bevind. Soms uiterlik en luidrugtig gee hulle hul
ervaring van en siening op hulle omstandighede weer. (Kla, mor, protesteer, ens.)
Baie maal reageer hulle egter ook innerlik en stilswyend op hulle
situasie (wonder, verwens, krop op en kners op tande, ens.)
·
Die punt is, uiterlik of innerlik maak nie soveel
saak nie. negatiewe reaksie, hoorbaar
of in stilte, kom feitlik altyd op uit die hart van die sak, naamlik ons mense
se siening van die Here se vermoë, beheer en hantering van ons lewens,
omstandighede en sy koninkryk in hierdie wêreld.
·
In hierdie teksberig het Israel hoorbaar gekla oor
die moeilike toestande wat hulle ondervind het. Tog wys vers 7 uit wat eintlik die ding is waaroor dit gaan. Hulle klagte was 'n mosie van wantroue en
dus 'n belediging van die integriteit van Jahwe self. Al skrum hulle met Moses en Aäron, hulle onbehae en trappery is
op Jahwe gerig. Hulle kom Hom by.
·
Wat die teks oor mense sê, is nie vreemd of nuut
nie. Ons ken dit, want ons is ook so,
veral deesdae in die nuwe en uitdagende omstandighede waarin God met ons as
koninkryksmense op weg is in hierdie land.
Alteveel is ons geneig tot die negatiewe, klaende en verwytende
ingesteldheid ten opsigte van alles wat rondom ons aan die gebeur is.
·
Wat die teks oor die Here leer, is opwindend en
verblydend. Twee goed staan voorop.
·
Die Here is sensitief vir die reaksies van sy
mense. Hy voel dadelik aan waaroor dit
gaan wanneer sy volk begin kla en kreun.
·
Hy ignoreer en negeer nie sy mense se negatiewe
reaksies nie. Hy bestraf dit nie eers
nie. Hy tree verrassend positief
op. Hy gee brood en vleis in oorvloed.
Met so 'n God kan 'n mens alleen en in groepsverband regtig aanhou om 'n pad te loop. Tog is dit vorentoe net baie beter om in moeilike omstandighede sy sensitiwiteit en betroubaarheid ernstig te neem en veel minder negatief te reageer en liewer te weet Hy is in beheer, selfs al lyk dit nie vir ons swak ogies so nie.