Ander tekste : Ps
114; Rom 14:1-12; Matt 18:21-35
a) Die teks is baie
kompleks. Dit is waarskynlik ’n
samevoeging van ten minste drie bronne wat uiteraard ook die verskillende
perspektiewe van die bronne reflekteer.
Coenie Burger het in sy boekie oor Eksodus (Vergesel van die Almagtige) hieroor uitgebrei (p43-44). Wat van belang is, is dat daar ’n
klaarblyklik kombinasie van ’n menslike en goddelike perspektief in Eks 14
aangetref word. Die redakteur van die
boek wou hierdie verhale doelbewus kombineer en handhaaf daarom beide
perspektiewe.
b) Die verhaal vorm deel van ’n
groter geheel wat strek van Eks 12:1-15:21.
Dit is ook baie moeilik om die betrokke perikoop (14:19-31) los van die
groter eenheid (13:17-14:31) te lees.
Wanneer ons slegs die kleiner perikoop lees, word ’n hele klomp
noodsaaklike perspektiewe ingeboet. Die
verhaal is ook omring deur liturgiese materiaal (Eks 12 en 15). Natuurlik is daar ook liturgiese aspekte in
hierdie weergawe van die gebeure. Die
bedoeling van die redakteur was waarskynlik om die paasfees en die deurtog deur
die Rietsee in een gebeurtenis met twee fases te kombineer (Fretheim). Daardeur wou hy sê: bevryding kan eers bely word wanneer dit
gerealiseer is.
c)
Volgens Von Rad is die Eksodusverhaal eintlik belangriker as die
skeppingsverhaal. Dit is immers in die
Eksodusgebeure waar die identiteit van die volk van God lê. Dit is egter ook waar dat die Skeppings- en
Eksodustradisies soms gekombineer word (sien Ps 136). Zimmerli het o.a. in verskeie publikasies aangetoon dat die
Eksodustradisie telkens weer geïnterpreteer is om die volk in verskillende
omstandighede aan te spreek en te motiveer (Sien bv. Miga 6:1-8). Die belangrikheid van hierdie tradisie, as
geboorte-uur van die volk en as konstante motivering vir ’n lewe in diens van
God, kan nie oorbeklemtoon word nie.
Natuurlik word die Eksodustradisie altyd binne die konteks van God se
vrye verbondsgenade geplaas. In Deut
7:6-11 word uitdruklik gesê dat die uittog uit Egipte gegrond is in die
verbondsbeloftes van God.
d) Daar is ’n bepaalde beweging
in die teks. Die Egiptenaars beweeg van
absolute aktiwiteit (14:5-10) tot die totale passiwiteit van die dood (14:30). Die Israeliete se absolute angs oor die
bedreiging deur die Egiptenaars (14:10-12) word vervang met rustigheid, geloof
en aanbidding (14:31).
e) Op verskeie plekke in die
gedeelte word die bedoeling van die bevryding, beskerming en leiding van die Here
beklemtoon. Die Here wil graag bevestig
dat Hy die Here is (14:4,18).
Een van die belangrikste sake wat deur die betrokke gedeelte na die
oppervlak geroep word, is die verhouding tussen God se bonatuurlike dade en die
gewone gang van die gebeurtenisse elke dag.
Daar is ’n baie sterk neiging onder mense om, weens die ‘skaarsheid van
die openbaring’ (1 Sam 3), die bonatuurlike te probeer ervaar. Lidmate (en soms ook predikante) lê soveel
klem op drome of gesigte of stemme wat hulself of ander mense ervaar het, dat
’n mens soms die indruk kry dat God nie meer in die normale gang van sake
aanwesig is nie. Die normale gang van
sake word verby gekyk sonder om die hand van God daarin raak te sien. Wat mense in krisisse verlang, is dat God
tekens sal gee, bonatuurlike wonders sal doen of met ’n helder stem sal
praat. Die angsroep van baie mense in
die huidige tyd is: waar is God wanneer
ek benoud en bang is?
Ons weet dat daar nie ’n onfeilbare manier is om in krisissituasies altyd
te weet wat God se wil en bedoeling is nie.
Die redakteur van Eksodus help ons om in die gewone gang van sake die
hand van God raak te sien. Volgens
Fretheim is skepping en verlossing in hierdie gedeelte baie naby aan
mekaar. Dit is by die see en deur die
wind dat die magte van die chaos besweer word.
Deur die gebruik van twee of meer bronne wys die skrywer vir ons
enersyds die menslike verloop van sake. Andersyds word die gebeure vanuit ’n
goddelike hoek vertel (Burger). Ons het hier te doen met ’n redaktor wat twee stories
met mekaar vermeng het (Childs). Dis
soos twee koerantberigte wat dieselfde saak gesien het en daaroor berig. Een beskryf wat gebeur het en die ander
interpreteer die storie. Een sien ’n
wolk bo die volk. Hy sien ’n man wat
die volk lei. Hy sien ’n wind wat waai
en die see terugstoot sodat Israel deur dit trek. Hy sien ’n leer wat probleme met hulle strydwaens ontwikkel omdat
die wiele uitval. Hy sien hoe die hele
leër in ’n tragedie verdrink omdat die wind ophou waai het. Die ander interpreteer die gebeure in die
lig van die geloof. Die wolkkolom is ’n
engel (14:19,20). Dit is die Here wat
die wind gestuur het (14:21), die verwarring onder die Egiptiese leer gesaai
het (14:24), die leër se wiele laat uitval het (14:25) en die oorlog gewen het
(14:25,27).
Realisme en geloofsrealisme hou beide met die
realiteit rekening. Eersgenoemde sien
die feite en interpreteer sy of haar omstandighede in die lig van die
feite. Geloofsrealisme sien die feite,
maar dra die bril van die geloof. Nie
die feite nie, maar God het die laaste sê.
In die troebel van die hede, waar die ankers van ons hoop moeilik
vatplek kry in die modderige slyk van ons bestaan (Noordmans), staan God. Om sonder geloof te lewe, is om soos in die
mis te bestuur. Geloof se antwoord op
die vraag ‘Hoe het dit gebeur?’ is: GOD!
Wie God vertrou, moet ook leer om God se hand
in die gebeure van elke dag raak te sien.
God werk veral deur natuurlike middele.
God verkies om reën te stuur deur weerpatrone, sy evangelie deur gebroke
mense te versprei en mense te voed deur gewone brood. Thomas Merton het gesê:
‘Moenie wag vir die skouspelagtige wonder om jou te verras nie. Maak liewer jou oë oop en sien God se
wonderwerke raak in die skynbaar alledaagse dinge.’ Mense glo nie noodwendig deur skouspelagtighede nie. Die wet en die profete behoort genoeg te
wees. So sê Abraham ook vir die ryk man
wat glo dat die opstanding uit die dood sy broers tot bekering sal bring (Luk
16:19-31).
Daar kan begin word met JP Versteeg se pragtige verhaal van twee vroue
wat saam gereis het en toe probleme met die motor ervaar het. Hulle het vorentoe in die pad gekyk om hulp
te kry. Niks. Agter hulle was daar ook geen hulp op pad nie. Een vrou het toe gesê dat sy so graag sou
wou hê dat daar ’n engel uit die hemel sou kom en hulle kom help. Die volgende oomblik het hulle ’n stem
gehoor wat sê: ‘Ek sal julle help.’ Toe
hulle opkyk, het daar iemand aan ’n telefoonlyn gewerk en het hulle
gehelp. Ja, sê Versteeg, ons kyk
vorentoe en agtertoe, maar sien niks.
Soms moet ons maar ’n slag opkyk.
Die Israeliete word in hierdie gedeelte ook opgeroep om op te kyk. Die oormag
van die farao en hulle absolute hopelose omstandighede word sterk beklemtoon
(14:6,9-12). Hulle is vasgekeer. Aan die een kant die see en die ander kant
die farao en sy mag. Tog word hulle
deur Moses gemaan tot absolute passiwiteit en vertroue (14:13,14). Twee maal beklemtoon Moses dat die Here vir
hulle sal veg. Hy sê dit omdat die Here
natuurlik nog die hele tyd by hulle is (Eks 13:21,22;14:8). Selfs in hierdie bedreiging is die Engel
van die Here steeds soos ’n buffer tussen die Israeliete en die Egiptenaars
(14:19,20). Die woord van die Here,
naamlik dat hy sy mag sal laat geld teenoor Farao (14:4,8), word deur hierdie
versekering van Moses herbevestig.
Dat die Here vir die volk sou veg, beklemtoon
ook die absolute genadekarakter van hierdie versekering. Anders as die sogenaamde heilige oorlog in
die hedendaagse Moslemstate, waarin mense die oorlog namens Islam maak,
beklemtoon De Vaux dat Israel se heilige oorlog sonder die volk se medewerking
plaasvind (Sien ook Rig 7:2-3 waar Gideon sy manskappe moes verminder sodat die
volk nie kon spog oor die oorwinning wat die Here vir hulle gegee het nie). Wanneer God red, doen Hy dit uit genade
alleen.
In ’n volgende gedeelte kan beklemtoon word dat geloof in God se genade nie so eenvoudig is as wat
dit mag lyk nie. Dis maklik om vir
iemand te sê: vertrou net die Here! Hy
sal sorg! Krisisse respekteer nie
geloofsuitsprake nie. Om God raak te
sien en sy stem te hoor wanneer jy bang is, is nie so eenvoudig nie. Die
bekende verhaaltjie kan vertel word van die
seuntjie wat na kerk deur sy ma gevra is waaroor die predikant gepreek
het. Volgens die seuntjie het Israel
met lorries uit Egipte gevlug en die farao en sy soldate het hulle met tenks
agternagesit. By die Rietsee het die
geniekorps van die Israeliete vinnig ’n noodbrug ontwerp. Nadat hulle die rivier op dié manier
oorgesteek het, het hulle die brug opgeblaas toe die Egiptenaars in die middel
daarvan was. Die ma vra toe of die
predikant regtig dit gesê het. Die
seuntjie antwoord toe: ‘nee ma, maar as ek vir ma moet vertel wat hy gesê het,
sal ma my nooit glo nie’ ’n Mens
kan probeer om jou vir ’n oomblik in te dink in die vlugtende Israelietse se
skoene. Die predikant sê dan in hierdie
omstandighede vir hulle: vertrou net die Here.
Dis nie so maklik nie. Ons moet
tog iets aan die situasie kan doen!
Nee, geloof beteken om soos ’n held met die louter onmoontlike om te
gaan (Luther). Dis is om soos ’n
bergklimmer jou geheel en al aan die genade van die tou wat jou van een krans
na ’n ander moet dra, oor te laat.
Hoe is dit moontlik? Dit is slegs
moontlik omdat God ook in die gewone gang van elke dag betrokke is. Miskien kan die prediker hier uitbrei op die
probleme wat ons ondervind om God se hand
in die normale gang van sake raak te sien.
Die gebruik van verkillende bronne deur die redaktor kan help om aan te
dui hoe God deur die natuurlike dinge soos die wind en probleme met die
strydwaens sy goddelike krag ten toon gestel het. Piet Naudé (Stories vir die lewe, p 136) se verhaal van Vader
Mario wat in ’n vloed hulp geweier het omdat hy op die Here vertrou en toe tog
verdrink het, kan vertel word as illustrasie dat die Here deur natuurlike dinge
werk. Ek haal slegs die slotparagraaf
van hierdie verhaal aan: ‘Toe Vader Mario by die hemel aankom, is die eerste
ding wat hy doen, om by God te gaan kla:
Here, ek het u Woord geglo. Ek
het volkome op U vertrou! Hoekom het U
niks gedoen om my te red nie? Hoekom sê
jy só?, kom God se teenvraag. Ek het
dan drie keer ’n boot gestuur.’
Wie God se hand in die daaglikse gebeure
raaksien, aanbid Hom (14:31). Die preek
kan afgesluit word met ’n loflied op God se liefde: Hy het die Rietsee in twee
gekloof Aan sy liefde is daar geen einde nie. 14 en Israel daar deur
laat trek, Aan sy liefde is daar geen einde nie. 15 maar die farao
met sy leërmag in die Rietsee gestort. Aan sy liefde is daar geen einde nie (Ps
136:13-15).
Literatuur
Coenie Burger, Vergesel van die Almagtige. Lux Verbi; J I Durham, Exodus (WBC); T E Fretheim, Exodus (Interpretation); L Meyer, The message of Exodus (Augsburg); P Naudé, Stories vir die lewe. Lux Verbi; N H Sarna, Exodus (The JTS Torah Commentary).