Ander tekste: Ps 149; Rom
13:8-14; Matt 18:15-20
Die volgende algemene opmerking oor die teks is belangrik:
a) Die gedeelte dien as ’n
inleiding tot die gebeure van die tiende plaag. Dit kan ook nie geskei word van die instelling van die fees van
die ongesuurde brode en die wyding van die eersgeborene nie (Eks 13). Dwarsdeur die geskiedenis van Israel het
veral die paasfees en die fees van die ongesuurde brode baie naby aan mekaar
gefunksioneer (Lev 23:5-10; Deut 16 en Esra 6:19-22). In die gedagtewêreld van die redaktor hoort hierdie aspekte
bymekaar. Dit bevestig ook die gedagte
dat Eksodus bepaalde liturgiese oogmerke gehad het. Fretheim merk tereg op dat liturgie hier aan ’n gebeurtenis
voorafgaan. Hoewel dit redaksioneel
voor die gebeure van die bevryding uit Egipte geplaas word, vorm dit eintlik
deel van die gebeurtenis. ’n Mens kan
sê dat die gebeure liturgies afgeskop word!
b) Die hoofstuk word omraam met die
uitdrukking in 12:3 en 47: ‘die hele gemeente’. Die Hebreeuse begrip wat hier gebruik word, is 'n premonargiese
tegniese term vir die volk van God as 'n korporatiewe politieke eenheid, 'n
soort volksvergadering. Die feeste van
Israel was dus nie 'n individualistiese aangeleentheid nie, maar het almal
betrek.
c) Ook die gesinsaspek is uiters
belangrik met die instelling van die Paasfees (Fensham). ’n Gesin (bet ’avot) het bestaan uit ’n man, sy
vrou of vroue, ongetroude dogters, getroude seuns en hulle vroue en ongetroude
kinders. Josephus berig dat ’n minimum
van 10 persone in die periode van die tweede tempel nodig was vir hierdie fees.
Die feit dat hierdie maaltyd in een huis geëet moes word, dui op die gesinsolidariteit
wat tot ’n stam- en volksolidariteit uitgebou is (Fensham). Hierdie gesamentlike ete het gedien as die
versterking van familiesolidariteit en buurskap, terwyl die gemeenskap met God
bevestig en versterk is. Ook die
weergawe van die betrokke feeste in Deut 16:1-12 beklemtoon hierdie
gesinsbetrokkenheid by die paasfees, die fees van die ongesuurde brood en die
eerstelinge. Uiteraard het die viering
van die feeste vrae by die kinders opgeroep wat die kategetiese aspek van die
viering van God se bevryding opnuut aan die orde gestel het (12:24-27;
13:8,14). Dit beklemtoon die
‘remarkably inclusive aspect of Israel’s worship’ (Fretheim).
d) Die hoofstuk konsentreer op
verskillende aspekte van die Eksodus-gebeure.
Volgens Sarna konsentreer sommige op die laaste voorbereidings vir die
uittog. Ander, so sê hy, benadruk die
impak van die gebeure in ‘shaping the future course of Israel’s life as a
people.’ Die teks dien as ’n herdenking
van Israel se begin as volk wat deur die Here bevry is. In hierdie gedeelte
word die naderende uittog gesien as die aanbreek van ’n nuwe lewensorde wat
gedomineer sal word deur die bewustheid van God se aktiewe teenwoordigheid in
die geskiedenis van Israel. Daarom word
die godsdienstige kalender so aangepas dat dit die begin van die jaar
word. Die paasfees is die belangrikste
maand want dit is in hierdie maand dat die Israeliete die verlossing herdenk en
geaktualiseer het.
e) Die aanduiding ‘in Egipte’
(12:1) is ’n uitsondering op die reël in Eksodus. Al die ander gebooie is in die woestyn gegee, maar die instelling
van die paasfees gryp vooruit op die gebeure wat dit moet herdenk.
f) Geleerdes is dit eens dat die
bloed geen magiese krag het nie. Dit
beskik nie in sigself oor bepaalde karaktertrekke wat ’n mens van die bose
beskerm nie. Wat belangrik is, is die
belofte wat met die bloed gepaard gaan (12:13).
g) Fisiese gebrek aan die offer
(12:5) was ’n belediging vir die ontvanger.
Daarom moes die skaap of bok sonder liggaamsgebrek wees.
Die verhaal van die instelling van die Paasfees (en die ander feeste in
Eks 12 en 13) konfronteer ons met ’n paar belangrike vrae: ’n Paar kan genoem word.
a) In watter mate hou die
passiwiteit in die kerk en eredienste verband met mense se belewing van die
viering van verlossing? Natuurlik is
daar baie ander oorsake vir passiwiteit, maar dit is belangrik dat ons hieroor
sal nadink omdat Israel se feeste bedoel was om meer te wees as die blote
deelname aan rituele. Volgens Lester
Meyer en Walter Brueggemann is die Eksodusverhaal die hoogtepunt van ’n lang
tradisie waarin die reddende werk van Jahwe in die konteks van aanbidding
herhaal is en die doel gehad het om die aanbidders se geloof te versterk. As
hulle die lam geslag het, op elke deurkosyn met 'n hisoptakkie bloed gesmeer
het en die heel nag wakker gebly het, het elke kind, elke grootmens weer alles
beleef wat gebeur het toe God hulle bevry het - toe God elke huis verbygegaan
het. Die gedeeltes wat handel oor die viering van Israel se bevryding is nie
bedoel om te beskryf hoe die geslag in die uittog uit Egipte gedeel het en
gevier het nie. Die bedoeling is eerder
om elke Israeliet in daardie bevryding te betrek: ‘These acts of commemoration make the exodus an ever-present
event for every generation’ (Meyer). In
’n ou Joodse geskrif word gesê: in elke
geslag is die mens verplig om homself te sien - asof hulle self uit Egipte
getrek het.
Die belang van die viering van paasfees in die geskiedenis van Israel
word duidelik geïllustreer deur die talle kere dat dit heringestel is nadat dit
in onbruik verval het, onder andere in Sinai (Num 9), by intog in die beloofde
land (Jos 5:11), deur Hiskia (2 Kron 30), deur Josia (2 Kon 23) en Esra 6 (na
ballingskap). Die rede was baie
duidelik: As dit nie vir die Here was nie, was hulle nooit sy volk nie, maar
steeds 'n klomp slawe. Israel moes
verstaan dat alles wat hulle doen, is en het, die produk van God se bevryding
is. Paasfees het hulle opnuut hierin
laat deel.
Die Christelike paasfees en erediens vier ook God verlossingswerk. Ons paaslam is ook geslag (1 Kor 5:7,8; 1
Pet 1:18,19). Sonder die verlossing in
Christus sou ons nog slawe van onsself wees, gevange in ons sonde. Dit is ook wat nagmaal ook vier. Daarom is nagmaal telkens 'n kursus in ‘back
to the basics’, terug na die wortels van ons bestaan as kerk en Christene,
terug na Christus, die Bevryder by uitnemendheid. Uiteraard dien die Christelike paasfees, met die simbole van
brood en wyn, ook as viering van die verlossing. Die vraag is of dit nog so aktueel deur lidmate beleef word dat
hulle as’t ware hulle eie geskiedenis vier!
Herdenk ons die verlossing op só ’n manier dat elkeen die ervaring het
dat hy of sy daaraan deel het?
b) In die gedeelte onder
bespreking is die woord van God die storie van die gebeurtenis. Die storie interpreteer die rituele
handeling. Sonder die storie sou die
gebeurtenis hoogstens bygeloof wees.
Die storie gee aan die simbole en rituele inhoud. Maar die rituele en simbole is uiteraard ook
deel van die storie. Die pasga word die
sakramentele voertuig vir die reële belewing van die bevryding. Die pasga, so sê Fretheim, ‘is an entering
into the reality of that event in such a way as to be reconstituted as the
people of God thereby.’ Die verhouding
tussen woord en sakrament word natuurlik ook hierdeur aan die orde gestel,
aangesien die paasfees en nagmaal in die kerklike tradisie so naby aan mekaar
lê.
Augustinus het beklemtoon dat die Here aan ons sy hoorbare en sigbare
woord gegee het. Die sigbare woord is
daar ter wille van ons vergeetagtigheid.
Calvyn beklemtoon die onselfstandigheid van die sakrament ten opsigte
van die Woord, maar hou vol dat die sakrament gelykwaardig aan die Woord is,
omdat dit die draer van dieselfde heil is.
Miskien lê die probleem daarin dat baie lidmate nie die ervaring het dat
hulle deel in die verlossingsgebeure nie, lê dit by ons siening van die
verhouding tussen woord en sakrament.
Ons reaksie teen ’n Roomse sakramentalisme moet ons nie daarvan weerhou
om die sakramente as modi van God se lewende spreke te sien nie. Deur te verwys na die sakrament as ’n ‘blote
teken’, tas natuurlik die hart van die spreke van God deur die sakrament
aan. Soos in die Woord, kom God ook
deur die sakrament aan die woord, want ons brood, wyn en water het ’n
‘storie’. Daarom moet ons die moed hê
om die toeseggingskarakter van die doop en nagmaal onverswak te handhaaf. Ons weet immers almal dat die doop en
nagmaal nie mense red nie. Dit beteken
egter nie dat die nagmaal en doop nie inderdaad die redding aan die mens toesê
en skenk nie. As die Woord aan die
sakrament sy inhoud gee, is die sakrament ook op sy unieke manier ‘evangelie’.
c) Die verhaal spreek ernstige
kritiek uit teen die verinnerliking en individualisering van ons geestelike
lewe en ervaring en beklemtoon dat dit nie op die vrye keuse van die mens berus
of hy by die gemeenskap van die gelowige tuiskom of nie. Ten diepste is die erediens en ander
Christelike feeste ’n gemeenskaplike viering van die gemeenskaplike verlossing. Buite die gemeenskap van die gelowiges
verloor Christene hulle ‘storie’, wat grootliks die rede is waarom daar so baie
identiteitlose ‘kerklose Christene’ rondloop.
God se verlossing is vir die hele gemeenskap van gelowiges bewerk. Die gemeenskap van gelowiges is daar om
hierdie ‘storie’ lewend te hou en individue se verbintenis aan hierdie ‘storie’
te bevorder. Is die verinnerliking en
individualisering van ons geloofsbelewing nie dalk een van die oorsake waarom
ons sukkel met lidmate wat die ware aard en identiteit van die kerk nie
verstaan nie? Is die gebrek aan die
identifisering van die kerk se verlossingsverhaal deur lidmate en hulle
oormatige verbondenheid aan ander stories (bv beklemtoning van natuurlike
volksidentiteit) nie dalk die rede waarom kerkvereniging so ’n moeilike saak
geword het nie?
d) Hiermee hang die pedagogiese
aspekte van die fees saam. Dit staan
vas dat kinders nie by paasfees en die ander feeste uitgesluit is nie. Inteendeel.
Hierdie feeste het juis die geleentheid gebied om die kinders in die
“storie” van die verlossing te onderrig.
Selfs die onderrig in die wet van die Here het die bedoeling gehad dat
kinders sou vra: Hoekom moet ons
hierdie dinge nakom en vier (Deut 6:2-25).
Hierdeur is die kinders onderrig in hulle herkoms as volk van God! Watter moontlikhede bied hierdie gedeelte
nie om die verbondsonderrig van ouers opnuut te onderstreep nie.
’n Preek sou kon begin met die vraag hoeveel ouers aan hulle kinders ’n
sinvolle antwoord kon gee op die eenvoudige vraag: hoekom moet ons kerk toe
gaan? Hoewel dit ’n eenvoudige vraag
is, ontbloot die eerste antwoord wat in ons hart opkom dikwels ons diepste
motiewe. In ons dag ervaar ons dat die
kerk vir baie mense slegs belangrik is wanneer daar iets ‘gekry’ word. Die kinders moet kerk toe gaan as dit kategese
is, omdat hulle dalk ’n punt vir kerkbywoning kan kry. Die dominee wat preek bepaal baie dikwels of
mense kerk toe gaan, omdat ons niks ‘kry’ uit die ander dominee se preke nie. Wanneer die nuwe baba gedoop moet word, sorg
’n mens darem dat die predikant jou so ’n paar weke voor die doop in die kerk
sien. Die prediker sou nog heelwat
voorbeelde kon opstapel wat aandui dat die kerk en sy byeenkomste dikwels net
nog ’n gebruiksartikel in die samelewing geword het. Voorbeelde sou ook genoem kon word van verbondsverval,
byvoorbeeld ouers se onbetrokkenheid by die godsdienstige begeleiding van hulle
kinders.
In ’n tweede gedeelte kan genoem word dat die kinders in Israel ook gevra
het hoekom daar soveel feeste en eredienste gehou moes word. Die Israeliete kon behoorlik ‘kerk
hou’. Byna een derde van die
Eksodusboek is 'n erediens. Feitlik die
hele boek Levitikus gaan oor offers en godsdienstige feesdae. Die boek Deuteronomium is een lang preek vir
die gemeente van Israel. Eks 12 en 13
beklemtoon dat paasfees, fees van ongesuurde brood, fees van eersgeborenes
dikwels gevier moes word (12:14,17,24,25; 13:9,10). Geen wonder nie dat kinders gevra het wat dit alles beteken nie
(14:26; 13:14).
Op hierdie vraag het die ouers die geleentheid benut om hulle kinders
hulle ware identiteit te leer. Die
kinders moes ontdek dat hulle eredienste nie blote rituele nie, maar deel van
hulle lewensverhaal is. Hulle
persoonlike lewensverhaal is onherroeplik verander deur die verhaal dat God
hulle uit genade bevry het (12:11-13, 17, 26; 13:14-16). Oor hulle lewe is daar geskryf: Die Here se eiendom! Elke keer as ons ’n bokkie slag en die bloed
aan die deurkosyne smeer, val ons in by die skare broers en susters wat deel is
van die mense wat deur God bevry is.
Wanneer ons eredienste, Christelike feesdae, nagmaal, doop, SKJA en
basaar hou, is dit nie omdat dit ’n plig is nie, maar omdat ons bevry is! Ons doen dit nie omdat dit maar nou een maal
so is dat dit ’n tradisie van ons Christelike ouerhuis of deel van ons kultuur
is nie, maar omdat ons daartoe vrygemaak is.
Ons ‘storie’ maak ons dankbaar en feesgierig! Ons storie het ons identiteit en bestemming onherroeplik
verander. Ons is saam met ’n klomp
ander mense deel van God se bevrydes.
Ons is op pad na die beloofde land.
Ons soek mekaar op en deel ons belewing van die storie van bevryding met
hulle. Ons verryk mekaar en bring hulle
wat die storie nog nie gehoor het nie, om ons saam. Hierdie storie is vir alle mense! Die prediker sou hier sy eie kreatiwiteit kon aanwend om die
verhaal van die bevryding opnuut oor te dra.
Simbole en rituele van die Christelike bevryding sou hier gebruik kon
word om die ‘storie’ opnuut oor te dra.
Die genadekarakter van die bevryding moet uiteraard beklemtoon
word. In die rabbynse eksegese is dit
nie altyd die geval nie. Bagja ben
Asher gee die volgende kommentaar op die woorde: ‘waar ek die bloed sien, sal
ek die huis oorslaan’: ‘The blood does not thwart the plague nor does its absence
occasion it. Scripture teaches us that
the one who had perfect faith and confidence in God, and was not perturbed by
Pharaoh’s terror and evil decree but publicly sacraficed what to Egypt was an
abomination, and who daubed the blood of the paschal offering on the doorposts
and lintels – such a one was a righteous person, having confidence in God, and
was worthy of divine protection from the plague and the destroyer.’
Dit is nie die geloof of vertroue van die mens wat God oortuig het om sy
mense te bevry nie. Die bevryding uit
Egipte, die bevryding deur die bloed van Christus, die Lam van God, het nie in
die hart van enige mens opgekom nie.
Dit is ’n daad van God se vrye keuse!
Uit hele Eksodusverhaal is dit meer as duidelik. ’n Verwysing na John
Westerhof se boek, Will our Chrildren
have faith?, is op hierdie stadium amper logies. Hy vra die vraag of ons kinders geloof sal behou, of daar iemand
sal wees om dit aan hulle oor te dra.
Walter Brueggemann het hierdie vraag omgekeer: Will our faith have
children? Sal ons geloof 'n
nageslag hê? Sal daar 'n nageslag wees, wat dit wat ons glo, verder sal
dra? Of gaan ons geloof in onbruik
raak?
Uiteraard sal ons die vraag na die hoe
van hierdie oordrag moet beklemtoon.
Hoe gaan ons daarin slaag om draers van die heil te wees sodat ons
‘storie’ ook ons kinders se ‘storie’ op so ’n manier gaan beïnvloed dat hulle
as bevrydes wil gaan leef? Natuurlik
sal dit nodig wees dat ons opnuut sal moet leer dat die Christelike lewe sy
lanseerbasis in die viering van die verlossing het. Natuurlik sal ons moet verstaan dat ons lewe ’n boek moet wees
waarin ons kinders sal kan lees dat ons opgewonde is oor die bevryding. Natuurlik sal ons bevry moet word van ons
wettisistiese opvoedingstyl. Elke
prediker sal sy eie verbeelding moet gebruik en kan dalk in ’n
preekvoorbereidingsgroep met gemeentelede saamdink oor wat gedoen kan
word. Daar kan projekte in die gemeente
begin word om ons geloof te ‘bemark’.
Die Ortodokse Jode het vandag nog op hulle deurkosyne ’n plek waar ’n
klein boekrolletjie geberg word met die Shema daarin. Miskien kan ons maar ’n slag by hulle gaan leer.
Ek glo egter dat die toeseggingskarakter van die Woord en sakrament hier
ernstig beklemtoon moet word. Dink vir
’n oomblik na oor die woorde in die nagmaalsformulier wat sê: ‘Die nagmaal is ’n waarborg. So seker as vir elkeen hierdie brood voor sy
oë gebreek word en hierdie beker aan hom gegee word ons dit met die mond eet en
drink, so seker het ons deel aan Christus … Die sekerheid wat hierdie waarborg
ons gee, is nie gegrond in ons gevoelens of stemminge nie, maar op die tekens
uit die hand van die Here; dit is op die Here self gevestig’ …
Dit is vir JOU!
Literatuur
Coenie Burger, Vergesel van die Almagtige. Lux Verbi; B S Childs, Exodus (OTL); J I Durham, Exodus (WBC); F C Fensham, Exodus (POT); T E Fretheim, Exodus (Interpretation); L Meyer, The message of Exodus (Augsburg); N H Sarna, Exodus (The JTS Torah Commentary).