Ander
tekste: Psalm 121; 2 Timoteus 3:14-4:5 Lukas
18:1-8 [Lutherse tekste]
In Genesis
32:22-31 lees ons die geheimsinnige verhaal van Jakob se worsteling met ‘n man
by die Jabbok-rivier. Dit is belangrik om hierdie gedeelte binne die konteks
van die breër Jakob-vertelling in Genesis te plaas. Reeds van vroeg af blyk dit dat Jakob sy naam gestand doen. Hy is van jongs af ‘n geslepe opportunis.
Soos Anton van Niekerk dit stel: Van
die eerste Israeliet kan nie gesê word dat hy ‘n Israeliet sonder bedrog was
nie. Van der Merwe (in Woord teen die Lig)
stel dit ook duidelik dat die Jakob-verhaal vir geen sepie hoef terug te staan
nie. Indien dié verhaal verfilm sou
word, sal Jakob egter nie die goeie ou wees nie, maar die geslepe
swendelaar. Ons kan maar net dink aan
die episode waar hy die moeë Esau se eersgeboortereg met ‘n pot lensiesop
verkry het. Of hoe hy bo Esau die seën
van sy vader Isak verkry deur met ‘n bokvel oor sy arms hom as die harige Esau
voor te doen. Nadat hy hieroor uit
vrees weggevlug het en by sy oom Laban beland, blyk dit dat sy oom self nie
iemand is wat agter in die ry gestaan het toe slinksheid uitgedeel is nie. Jakob moes toe veertien jaar in plaas van
sewe jaar vir sy geliefde Ragel werk.
Jakob laat hom egter nie van stryk bring nie en reël sake so dat sy
rykdom vermeerder. Hierna verlaat hy
Laban sonder sy toestemming.
In Genesis
32 lees ons van Jakob se terugkeer na sy land toe. Die terugkeer behels egter
‘n weerontmoeting met sy broer Esau.
Dit is iets wat Jakob – sekerlik met goeie rede – vrees. Jakob stuur boodskappers vooruit en hulle
keer terug met die boodskap dat Jakob met 400 man op pad is na hom toe. Met die hoor van hierdie nuus het Jakob bang
geword. Hy het tot God gebid. Hierdie
gebed is die langste gebed in die boek Genesis. Soos min ander gedeeltes
weerspieël dit iets van Jakob se karakter. Daar is ‘n spreuk wat lui: Soos jy
bid, so leef jy. Jakob bewys dit
deurdat sy gebed ook van die opportunisme getuig wat sy lewe kenmerk. Dit
spreek nie van ‘n gebroke hart en ‘n verslae gees nie. Nee, die Here word
daarop gewys dat Hy die een was wat vir hom gesê het om na sy land terug te
keer. Die Here het tog immers beloof
dat dit met Hom sal goed gaan.
Uit die
hele vertelling in Genesis 32 is dit duidelik dat dinge opbou na ‘n
spanningspunt. Vir Jakob het die oomblik van waarheid aangebreek. Dit lyk asof sy verlede en skuld hom
ingehaal het. Nadat hy sy planne vir
oulaas gemaak het om Esau se guns te verkry, en sy vrouens, kinders, slavinne
en besittings deur die rivier gevat het, het hy alleen in die nag by die
Jabbok-drif agtergebly. Dit is hier in
die nag – dit is figuurlik gesproke ook nag in Jakob se lewe – dat hy met die
geheimsinnige teenstander geworstel het.
Met die
lees van ons fokusteks uit Genesis 32 beur die vraag na vore met wie Jakob nou
eintlik worstel. Wat is die identiteit
van die een wat in die teks bloot ‘n ‘man’ genoem word? Is dit een of ander riviergod (Westerman,
Van Selms), of ‘n verskyningsvorm van
Esau, of dalk Jakob se skaduself?
Meeste eksegete meen dat die duiding van die man as Jahwe die gevolg van
‘n lang tradisiegeskiedenis is. Tog blyk
dit dat die verhaal nie te veel wil openbaar nie. As ons die teks in sy huidige vorm neem is dit duidelik dat Jakob
meen dat hy met niemand minder as die Here self geworstel het nie.
In die
verhaal lees ons nie veel oor die besonderhede van die worsteling nie. Ons
weet wel dat dit heel nag geduur het, aangesien die vreemdeling met
dagbreek wou gaan. Die verhaal laat
heelwat vrae: Hoekom moet die man
gaan? Is dit oor die vrees dat sy
identiteit ontbloot sal word? Indien
Jakob inderdaad met God geworstel het, wil ons vra: Watter tipe God is dit
hierdie wat nie vir Jakob in die worsteling kan oorwin nie? As lesers voel ons dat ons met Brueggemann
wil saamstem: ‘This is no ordinary man.
And certainly no ordinary God!
Clearly, this is no ordinary story.’ (267).
Na die
worsteling vind daar ‘n belangrike gesprek tussen Jakob en sy nagtelike
teenstander plaas. Jakob wil die man
nie laat gaan voordat hy hom seën nie.
Dit wil lyk asof Jakob die een is met die mag in sy hande. Hy wil sy posisie gebruik om iets uit sy
teenstander te kry. Dit vreemdeling gee
egter nie ag op Jakob se versoek nie. Dit is asof hy die onderwerp behendig
verander en so weer die mag verkry. Nou moet Jakob antwoord. Nadat hy noem dat hy Jakob is, vind daar
iets belangrik plaas. Jakob kry nie
bloot ‘n seëning uit sy teenstander nie. Nee, hy kry ‘n nuwe naam – ‘n nuwe
identiteit. Jakob (hakskeen/ gryper/
bedrieër) word Israel (stryd voer met God). Wat ook al die presiese etimologie,
een ding is duidelik – ‘n onuitwisbare verandering het ingetree. Iets nuuts het tot stand gekom. Die aartsskelm word ‘n aartsvader (Bohren).
Na die
ontvangs van die nuwe naam, vra Jakob met onverwagse voorbarigheid na die naam
van sy teenstander. Hy wil ‘n
ontsluiting van die identiteit van sy teenstander hê. Jakob kry dit nie (die weiering om die naam bekend te maak
herinner ons aan Exodus 33). So bly God
se verborgenheid behoue.
Brueggemann
se kommentaar op die vertelling raak die hart van die saak: ‘Israel is not formed by success or shrewdness
or land, but by an assault from God’ (269).
In die
worsteling met God, word Jakob op die
heupsenuwee geslaan. Jakob stap
nie seëvierend en ongeskonde weg na die stryd nie. Hy loop mank aan sy heup.
Terrien wys daarop dat die woord wat vir heup (Terrien praat van thigh)
gebruik word ‘n eufemisme is vir die setel van voortplanting en dat die heup of
dy-senuwee ‘n belangrike rol in sekere offer-rituele gespeel het. Dit wys op die dubbelsinnigheid van die seën.
Dit behels nie net ‘n herbevestiging van
die belofte aan ‘n nageslag nie,
‘but also carries a mysterious
impediment and the curse of perennial pain’ (89).
Hierdie
‘vreemde’ kant van die Jakob verhaal, dien vir ons as herinnering teen ‘n
onkritiese teologie van God as vriend. Natuurlik is God ons vriend, maar ‘God
die vriend’ is nooit ver weg van ‘God die vyand’ nie (Terrien, 93). God laat hom nie deur ons vasvat in ons
skemas en konsepte nie. Hy is die ‘elusive Presence.’ Hy is die Gans Andere.
Willimon sluit aan by hierdie aksent wanneer hy, in
‘n preek met die titel ‘The Dark Adversary’ (op die internet onder www.chapel.duke.edu beskikbaar) sê: ‘The story of Jakob’s match with the
stranger by the river asserts that this God is big, dark, real. Not a kind old
gentlemen in the sky, but an assaulting adversary at night … God will not let
us be. God wrestles with Jacob to give him that blessing and to lock him into
his purpose. So too, God in Christ wrestles with us to rule over our lives, to
pull us into the good purpose that he is working out on this earth’.
Jakob
vernoem die plek egter nie na die donkerte of na worsteling nie, maar noem dit
Pniel – ek het God gesien. Die plek word dus vernoem na die ontmoeting met
God. Frederick Buechner se fiktiewe
beskrywing van die gebeurtenis by die Jabbok, kan ons help om iets hiervan te
verstaan:
‘I remember
as blessing the one glimpse I had of his face. It was more terrible than the
face of the dark, of pain, or of terror. It was the face of light. No words can
tell of it. Silence cannot tell of it’.
Na hierdie
worsteling, volg Jakob se ontmoeting met sy broer Esau. Onverwags lees ons in Genesis 32 vers 4:
“Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se
nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil”.
Versoening vind plaas. Op pad na
sy broer moet Jakob egter eers sy verwondende (en seënende) God ontmoet (Van
der Merwe). In ‘n preek vir konfirmante
oor die gedeelte sê Bonhoeffer dat God in Jesus vir ons ‘n broer geword het, sodat
ons Hom in elke broer kan herken. Na
die ontmoeting met God is ons egter nie sonder ‘die tekens van die nag’ nie.
Dit herinner aan 2 Korintiërs 4:10:
“Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam met ons in ons liggaam, sodat
ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons lewe”.
Die teks
leen hom uitstekend tot doop-prediking. In die doop gaan dit immers oor die
herinnering aan en viering van ons nuwe identiteit in Christus. As gevolg van Christus se worsteling as
vleesgeworde Woord, kan ons nuutheid toe-eien. Ons het ‘n nuwe naam, ‘n nuwe
identiteit. Ons is nie meer slawe van die sonde nie, maar kinders van God.
Die verhaal
van Jakob is ‘n verhaal waarin baie mense iets van hulle eie lewensverhaal in
herken. Die Duitse teoloog Jürgen
Moltmann skryf byvoorbeeld iewers ‘n meditasie oor die tyd wat hy as
krygsgevangene (1945-1948) deurgebring het.
Hy noem dit ‘Wrestling with God’ en gebruik die storie van Jakob se
worsteling as storie waarin hy sy eie verhaal terugvind. Saam met ander was hy na die oorlog
vasgevang in die verskrikkinge van die oorlog.
Daar is met God geworstel oor oorlewing en om die donkerte van
sinloosheid en skuld te oorleef. Die
tyd het hulle mank gelaat, maar nie sonder seën nie: ‘In the labour camps, the night of cold despair fell on us, and
in that night we were visited, each in his own way by tormenting, gnawing
thoughts. But when we emerged we saw
‘that the sun had risen’. As a
lasting reminder, as it were, each had
somewhere or other “his lame hip”
– the scars of that time in body
and soul’ (Source of Life, 2). Moltmann
vertel dat hy te midde van die verlies aan hoop en pynigende herinneringe God
se seënende teenwoordigheid beleef het.
Soos hy dit stel: ‘I never
“decided for Christ” as is often demanded of us, but I am sure that then and
there, in the dark pit of my soul, he found me. Christ’s God-forsakenness
showed me where God is, where he had been with me in my life, and where he
would be in the future … We expierenced
with pain his hiddenness and remoteness, and we sensed that he looked upon us
with ‘shining eyes’, and felt the warmth of his great love’ (5, 9). Moltmann eindig die kort meditasie treffend
met ‘n aanhaling uit Psalm 30:
“Ek was in
die rou, maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek en vir my
feesklere aangetrek.
Daarom sal
ek sing tot u eer” (verse 12 en 13).
In ons
Skrifgedeelte lees ons ook van ‘n naamsverandering. Jakob word Israel. Hoe
gebeur dit?
Dit gebeur
dat Jakob te midde van ‘n krisisuur in sy lewe met ‘n man by die Jabbokdrif
worstel. Jakob beleef dat hy met God
self geworstel het. Dié worsteling
bring verandering. In die Jakob-verhaal
leer ons Jakob ken as ‘n aartsskelm en
opportunis (hier kan die prediker iets van die Jakob-verhaal herroep wat op sy
geslepe karakter dui). Tog kry hierdie
bedrieër Jakob die naam Israel – die naam wat die volk van God dra.
Jakob voel
dat hy hom vasgeloop het in sy lewe. Hy
vrees die ontmoeting met Esau.
Onverwags ontmoet hy nie eerste vir Esau nie, maar vir God. Hierdie ontmoeting bring verandering. Dit is nie noodwendig Jakob se situasie wat
verander nie. Nee, dit is Jakob self
wat verander.
Almal van
ons ken van tyd tot tyd die vasgelooptheid wat Jakob by die Jabbok voor die
worsteling beleef het. In sulke tye is
daar uitsigloosheid en wanhoop. Ons
werksituasie bring spanning en ons weet nie hoe verder nie. Of ons kry nie die negatiewe patrone in ons
verhoudings verbreek nie. Te midde van
sulke ervarings is daar die sterk behoefte aan iets nuut – om nuut te kan begin
of ‘n woord te hoor wat dit weer vir ons moontlik maak om hoop te kan hê.
In sulke
situasies is ons meestal skepties oor vernuwing. Ons teks sê egter dat nuutheid en verander moontlik is. Jakob word Israel. Dwarsdeur die Bybel sien ons sulke verandering. Petrus, die een wat Jesus verloën, word die
begeesterde prediker op Pinksterdag.
Saulus, die vervolger, word Paulus die kragtige getuie.
Ons teks sê
egter nie net dat verandering en nuutheid moontlik is nie. Die nuutheid en verandering in Genesis 32
kom deur worsteling. Hiervan kan baie
van ons van getuig. Ons beleef dat ons
situasie hopeloos is. Daar word tot God
geroep. Ons kla teenoor Hom. Ons vloek dalk selfs moontlik teenoor
Hom. God word aangekla omdat hy nie
ingegryp in ons situasie nie. Daar
word met God geworstel.
Onverwags
kom daar in die proses insig en uitsig. Daar kom vreemde hoop en
geborgenheid. Te midde van die
worsteling lyk die nuutheid nie moontlik nie, maar op ‘n vreemde en verrassende manier breek dit ons
lewens binne.
Jakob word
Israel na die worsteling. Die
worsteling laat Jakob egter nie seëvierend in glorie nie. Hy word
mank gelaat. Nuutheid is
inderdaad moontlik en dit kom deur worsteling.
Die worsteling laat ook sy merktekens.
Die merktekens dien dikwels vir ons egter as herinnering aan hoe die
nuutheid en hoop verwerf is. Die
merktekens herinner ons dat nuutheid in ons lewens nie bloot kom deur ons eie
inspanning nie, maar vanuit ons verhouding met God. Hierdie God is nie iemand wat ons kan beheer of mak maak nie. Hy is die Heilige Een wat ons oorrompel. Om deur hierdie God oorrompel te word is ons
diepste hoop. Ons merktekens (wat
verskil van persoon tot persoon) herinner ons aan wie God is en wat hy in ons
lewens doen.
As
gelowiges kan ons weet dat hierdie merktekens nie ten diepste tekens van
wanhoop of vasgelooptheid is nie, omdat God ook geworstel het met die nag. Aan die kruis sien ons hoe Christus
merktekens ontvang, sodat ons merktekens hoopvolle tekens van oorwinning en
vernuwing kan wees. Dit is Christus se
worsteling wat die vernuwing bring en ons worstelinge is opgeneem in hierdie
worsteling van Christus. Dáárom bring
ons worstelinge vernuwing.
In Genesis
32 lees ons dat Jakob ‘n nuwe identiteit kry deur worsteling. Voordat situasies verander, verander mense
egter eers. Ons is meestal skepties oor
sulke veranderings. Tog is dit juis wat Christus se worsteling aan die kruis
kom moontlik maak het. Ons kan dalk
nie maklik verander nie, maar ons kan verander
word. Ons kan verander word
deurdat God ons ontmoet en ons omvorm.
Fred
Craddock, ‘n Amerikaanse professor in homilitiek (preekkunde), vertel iewers
van ‘n insident wat ‘n groot indruk op hom gelaat het. Dit is ‘n storie oor nuwe identiteit. Hy en sy vrou was op vakansie iewers in ‘n
dorpie in Tenesssee. Hulle het by ‘n tafel in ‘n restaurant gaan sit. ‘n Ou man
het na hulle aangestap gekom en gevra hoe dit met hulle gaan en of hulle op
vakansie is. Hy vra ook na hulle beroep. Professor Craddock wou graag verder met sy
vrou gesels en antwoord die man: “Ek is
‘n professor in homiletiek”. Hy het gemeen dat dit die man sou afskud.
“O, so jy
is ‘n man wat weet van preek”, kom dit toe onverwags, “Laat ek vir jou ‘n
preekstorie vertel”. Professor Craddock
moes sekerlik in sy lewe al na baie preekstories luister en het nie kans gesien
vir nog een nie, maar voordat hy iets kon sê trek die ou man ‘n stoel nader en
begin vertel:
“Ek was ‘n
buite-egtelike kind. Ek het nooit geweet wie my vader is nie en dit was vir my
baie swaar. As ek in die straat gestap
het in ons klein dorpie, het ek beleef dat mense na my staar en in hulle
gedagtes die verskriklike vraag vra: ‘Ek wonder wie se kind is dit?’. Ek het baie tyd alleen spandeer en nie baie
vriende gehad nie.
Een dag het
daar ‘n nuwe prediker na die dorpie gekom. Almal het gepraat oor hoe goed hy
preek. Ek het nie eintlik kerk toe gegaan nie, maar een Sondag het ek tog
gegaan om na hom te luister. Hy was inderdaad ‘n goeie prediker. Ek het weer gaan luister. Ek het altyd laat ingekom en vroeg geloop
sodat ek met niemand hoef te praat nie.
Een Sondag is ek egter so deur die boodskap meegevoer dat ek vergeet het
om vroeër uit te stap en is tussen die mense vasgevang op pad uit na die uitspreek
van die seën. Skielik het ek ‘n swaar
hand op my skouer gevoel: “Wat is jou naam, seun? Wie se kind is jy?”.
Met die
hoor van dié vraag het daar ‘n siddering deur my gegaan. Al weer hierdie vraag oor wie ek is. Maar voor ek iets kon sê, sê die prediker:
‘Ek weet wie jy is.
Jy is ‘n seun van God!”.
Nadat die
ou man dit vertel het, sê hy: “U weet, professor, daardie woorde het my lewe verander”. Die ou man het toe uit gestap en later noem
die kelnerin dat die man met wie hulle gepraat
het al vir twee termyne goewerneur van Tenessee is.
In Romeine
8 vers 15-17 lees ons dat ons in Christus en deur die Gees nie meer slawe van
die sonde is nie, maar kinders van God
en erfgename. Dit is ons nuwe
identiteit. Die nuwe identiteit is vir ons deur Christus se
worsteling aan die kruis verwerf. As
volgelinge van Jesus het ons deel aan sy lyding (hierdie identiteit laat sy
merk, vergelyk 2 Kor 4:10), maar dit
laat ons ook deel in die heerlikheid van Christus. Hierin lê ons diepste
geborgenheid en vreugde. Daarom kan ons
ook soos die digter van Psalm 30 uitroep:
Ek was in
die rou, maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek en vir my
feesklere aangetrek.
Daarom sal
ek sing tot u eer (verse 12 en 13).
Bibliografie
Kommentare:
Brueggemann,
W (Interpretation); Van Selms (POT); Westermann, C (Text and Interpretation).
Aanvullend:
Bohren, R, Trost: Predigten, 76-82; Bonhoeffer, D, Gesammelte Schriften IV, 44-50; Buechner, F, The Magnificent Defeat; Burger, C W, Müller, B A, Smit, D J (reds), Woord teen die Lig 11/3, 225-234; Miskotte, K H, Preken en meditaties (verzameld werken 3), 256-258; Moltmann, J, The Source of Life; Terrien, S, The Elusive Presence, 85-95 ; Wiesel, E, Messengers of God, p118-148; Van Niekerk, A; Van wanhoop tot vreugde, 56-63; Wolf, H W, … wie eine Fackel, 26-33.