21 Julie 2002

Agste Sondag in Koninkrykstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Genesis 28:10-19a.

Ander tekste: Psalm 139; Matteus 13:24-30, 36-43; Romeine 8:12-25.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Introïtuslied

Psalm 100:1-3/NSG 22.

Votum

Dien die Here met vreugde.

Sing vol blydskap en opgewondenheid.

Jubel dit uit dat die Here die enigste God is.

Die Here het ons gemaak.

Elkeen van ons behoort aan Hom. Ons is Syne

en ons leef elke dag uit sy hand.

Drumpelgebed

Ons almagtige God en hemelse Vader, dankie dat ons in die Naam van Jesus Christus vandag hier voor U

bymekaar mag kom. Soos U ons elkeen afgesonder het om aan U te behoort, wil ons ook nou ons tyd,

teenwoordigheid en persoon aan U kom wy. Neem ons gebede en sang aan tot die roem van u Naam. Amen.

Seëngroet

Na aanleiding van vandag se gedeelte uit Romeine 8:

Aan elkeen van U wat deur God as sy kind aangeneem is, wat van verganklikheid bevry is, wat gered en wie se

hoop gevestig is op die heerlikheid van God waarop ons met volharding wag: Genade en vrede vir U van God ons

Vader en Jesus Christus ons Here deur die werking van die Heilige Gees.

Lof en aanbidding

Gesang 5:1, 3/NSG 10; Gesang 59:1-3/NSG 34.

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Na aanleiding van Psalm 139:

Ons almagtige God en hemelse Vader, in die Naam van Hom wat die lig vir die wêreld is en wat die duisternis oorwin

het, geseënd is u Naam. U ken ons deur en deur, beter as wat ons onsself ken. U sien wat in ons lewe aangaan,

wat ons doen en wat met ons gebeur. Die misterie van elkeen van ons se lewe is vir U bekend, want U het ons

gemaak.

Deurgrond en deurskou ons lewe nou deur die verkondiging van u Woord sodat ons opnuut ons lewe sal plaas op

die pad wat U vir ons bestem het. Wees U nou by ons teenwoordig deur die werking van u Heilige Gees. Amen.

Skriflesing

Genesis 28:10-19.

Prediking

Voorbidding

Offergawe

UITSENDING

Lees

Matteus 7:7-12.

Bulletin

Sang

SOM 27:2-7.

Seën

Teks en konteks

Gunkel het reeds opgemerk dat hierdie episode van Jakob se droom, saam met sy stryd by die Jabbok, die basiese

struktuur van die Jakobverhale vorm. Die belangrikheid van die gebeure by Bet-El lê nie daarin dat hier van Jakob

se verkiesing as aartsvader vertel word nie hierdie keuse van God het immers reeds met sy geboorte geval maar

hier word die (onbegryplike) keuse van God weer, deur Homself, bevestig.

Alhoewel daar aansienlike verskille by eksegete bestaan ten opsigte van die doel en die plek van hierdie perikoop

binne die Jakobsiklus, sou ek graag hier vir Hamilton wil aanhaal wat, veral in soverre dit die prediking aangaan, n

baie bruikbare fokus voorstel: "Jakob follows the direction he does ostensibly to find a wife. But first he finds God.

The immediate purpose of his mission is for a while subordinated to another purpose of that mission. Jacobs

expectations of encountering Yahweh somewhere between Beer-sheba and Haran were about as great as Sauls

expectations of meeting Christ somewhere between Jerusalem and Damascus" (my kursivering OM).

Dis belangrik om daarop te let dat dit hier nie alleen gaan om die ontmoeting per se nie, maar ook (ingesluit hierby)

om die onverwagsheid of die toevalligheid van die ontmoeting. n Mens kan met instemming Van Niekerk (in

aansluiting by Brueggemann) se raak formulering (Woord teen die Lig) aanhaal: "Die verteller wil met dit alles bloot

sê dat hierdie ontmoetingsgebeure afspeel tussen plekke waar niks verwag word nie. So word n non-place

verander tot n crucial place. En deur hierdie ontmoeting word hierdie non-person verander tot a crucial person for

the promise."

Min vertalings gee hierdie "toeval" met ander woorde, die feit dat nie Jakob hierdie plek gekies het nie weer. Die

plek was nie Jakob se keuse nie; dit was die plek wat deur die einde van die daglig gebring is.

Ander Bybelverhale vertel ook van reisigers wat deur die koms van die nag oorval is (vgl bv Rig 19), maar dan het

hulle gewoonlik verblyf gevind by mense wat in die omgewing gewoon het. Dat Jakob onder die oop hemel moes

slaap, kan n aanduiding wees van sy afstand van mense, sy vervreemding, of dit kan bloot iets van die

voorsienigheid bevestig. Die drievoudige herhaling van "die plek" in vers 11 (en die herhaling daarvan in vv 16, 17

en 19) is n aanduiding van die belangrikheid van hierdie oënskynlik toevallige rusplek. (Die ou Afrikaanse vertaling

gee terloops die sterk aksent op die plek baie duidelik weer.)

Wenham wys daarop dat dieselfde frase wat hier vertaal word met "hy het daar n klip vir n kopkussing gebruik" ook

in ander gedeeltes in die Bybel voorkom (1 Sam 26:11-12; 1 Kon 19:6 waar dit met "by sy koppenent" vertaal

word). Hy voer dan aan dat die bedoeling van die klippe ter beskerming is (en nie vir gemak nie). Dit maak beslis

sin, veral as n mens Jakob se posisie, sy gevoel van uitgelewer wees, in ag neem.

Ook ten opsigte van die engele wat teen die leer/stel trappe op- en afgaan, het Wenham n interessante voorstel.

Anders as die meeste ander kommentatore wat die engele bloot sien as n soort verbinding tussen hemel en aarde,

wys hy daarop dat die engele in die Bybel gesien is as die beskermers van die nasies. Hy sluit dan by Rashi aan

wat beweer dat die engele wat opstyg dié engele is wat verantwoordelik is vir Jakob se vaderland, en die engele

PREEKSTUDIE - GENESIS 28:10-19a

wat neerdaal die beskermers is van die vreemde land waarheen hy op pad is. So gesien is die engele dus die

versekering van God se beskerming in die vreemde.

Uiteindelik is al hierdie visuele elemente die droom, die engele en die leer tekens of voortekens wat die spreke

van God inlui. Hierdie sigbare dinge is niks anders nie as die houers waarin of die instrumente waardeur die skat

van die belofte gegee is (Brueggemann).

Oor die vertaling van vers 13 is daar steeds n redelike verskil in opinie by die uitleggers. Alhoewel die moderne

neiging ongetwyfeld in die rigting gaan wat die nuwe Afrikaanse vertaling (NAV) ook gekies het, is daar steeds

kommentatore (bv Wenham) wat kies vir n vertaling wat lees dat die Here aan die bopunt van die leer bly staan het.

Ek meen dat n mens met goeie eksegetiese en teologiese gronde kan aanvaar dat die NAV die beste keuse hier

weergee: "Toe kom staan die Here by Jakob en sê "

Dis juis iets van hierdie onverwagsheid, die verrassende van die Here se dade en die ontmoeting met Jakob wat

die hele verhaal kenmerk. "The element in the narrative that surprises Jacob and seems incredible to us is not the

religious phenomenon of appearance. It is the wonder, mystery, and shock that this God should be present in such

a decisive way to this exiled one. The miracle is the way that this sovereign God binds himself to this treacherous

fugitive" (Brueggemann).

Daar is verskeie preke beskikbaar oor hierdie perikoop, maar niks waarop ek my hande kon lê, het heeltemal n

nuwe invalshoek nie. Die meeste preke volg min of meer die narratiewe gang van die verhaal. Eerder as om

voorbeelde hiervan te gee, gee ek n paar aanhalings wat die prediker moontlik kan help om nuwe verbande te lê.

Enkele prikkelende aanhalings

"n Balling, maar nie n balling sonder hoop nie. Op weg na vele eensaamhede, maar nie alleen nie. Jakob het n

droom en ver van die huis sal hy daarvan kan lewe" (Nico ter Linden).

"When Jacob dreamed, he transcended himself and became sublimated. His dreams transformed him taught him

that life is a ladder and that ladders lead up and down. Nobody ever remains in one place, no suffering lasts

indefinitely, every error may be corrected, perhaps erased" (Elie Wiesel).

"As ons die aartsvaderlike geskiedenis lees, sou ons met reg kon sê dat dit maar soos n gewone geskiedenis lees.

Want wat n aaneenskakeling van menslike swakhede en sonde! Van die één kant beskou is dit inderdaad so. Maar

daar loop n draad deur. Dit is die draad wat God daarin weef. Hierdie oënskynlik so eenvoudige geskiedenis is in

waarheid n stryd om die beloftes van God " (Noordmans).

"Jacob is as shocked to discover the reality of the divine presence with him as his father was when he discovered

that Jacob had been in front of him. Isaac might have said: Surely Jacob was in this spot, and I, I did not know it.

Jacob, once the source of shock and surprise, is now the object of shock and surprise" (Hamilton).

"Presence perceived in an epiphanic visitation, a theophany, or the invaded solitude of a prophetic vision was swiftlived,

yet the acceptance of the promise it carried transformed those who received and obeyed the command.

Faded presence became a memory and a hope, but it burnt into an alloy of inward certitude, which was emunah,

faith. When God no longer overwhelmed the senses of perception and concealed himself behind the adversity of

historical existence, those who accepted the promise were still aware of Gods nearness in the very veil of his

seeming absence. For them, the center of life was a Deus absconditus atque preasens" (S Terrien).

"He is one of those who has had the wilderness for a pillow, and called a star his brother. Alone. But loneliness can

be a communion" (Dag Hammersköld).

Preekvoorstel

Soms is daar iets aan die eerste paragraaf in n boek wat n mens innooi in n nuwe wêreld, wat dit vir jou amper

onvoorstelbaar maak om die boek neer te sit voordat jy dit klaar gelees het. Só n eerste paragraaf is dié van n boek

met die titel I heard the owl call my name. Vry vertaal, lees dit min of meer só:

"Die dokter het vir die biskop gesê: So u sien, my heer, die jong priester het minder as drie jaar om nog te lewe en

hy weet dit nie. Sal u dit vir hom sê en wat sal u met hom doen?

"Die biskop het vir die dokter gesê: Ja, ek sal vir hom sê, maar nog nie nou al nie. As ek dit nou vir hom sê, sal hy

te hard probeer. Hoe lank sal hy nog aktief kan wees?

"Minder as twee jaar, as hy gelukkig is.

"So n kort tyd om so baie te leer? Dit laat my geen keuse nie. Ek sal hom na die moeilikste gemeente toe moet

stuur ..."

Iets hierin staan net mooi dwars op die manier hoe ons gewoonlik dink. As iemand die nuus van n naderende dood

sou kry, sou ons alles in ons vermoë wou doen om dit vir die persoon so gerieflik en gemaklik moontlik te maak.

Maar die lewe werk soms anders. En veral God werk nie soos ons sou voorspel of wens nie.

Dít het Jakob beter as enigiemand anders geweet.

Dit is belangrik om ons net eers weer te vergewis van die konteks waarin hierdie verhaal van Jakob se droom vertel

word. Hier word vertel dat Jakob aan die vlug is. Weg van sy broer wie se eersgeboortereg hy eers met n slinkse

plan bekom het en wie se seën hy daarna by hom gesteel het. In die vorige hoofstuk word vertel hoe Esau te kenne

gegee het dat hy net wag vir sy pa om te sterf voordat hy sy broer Jakob sal vermoor.

Die sterkte van die emosies wat hier ter sprake is, moet n mens nie onderskat nie. Toe Esau terugkeer van die veld

af waar hy n bokkie wou gaan skiet en hy ontdek dat Jakob reeds die seën ontvang het, lees ons dat hy met n

harde en bitter geskree by sy pa gepleit het. Ander vertalings praat van n buitengewone of n verskriklike kreet. En

n mens kan dit verstaan. Dit was immers sy toekoms, sy lewe wat gesteel is, wat onherroeplik in die hande van

iemand anders beland het. Die enigste seën wat sy pa nog vir hom kon spaar, klink meer na n straf: "Jou woonplek

sal ver van die aarde se rykdom af wees. Jy sal van oorlog leef en jy sal jou broer dien " (Gen 27: 38-40).

In hierdie omstandighede het Jakob eintlik geen ander keuse nie as om te sorg dat hy wegkom. En wat hy agterlaat,

is in sekere sin ook sy eie toekoms. Hy verlaat sy ouers, sy familie, sy land en daarmee saam, ook soos dit destyds

geglo is, sy God. "Die God met wie se seën en regte hy handel gedryf het" (Noordmans).

Hy los agter hom n aaneenskakeling van intriges, van verraad, van gesinsonmin ... So kan n mens voortgaan. Hy

sou sekerlik ook met reg moes wonder of hy in hierdie omstandighede enigsins kon reken op die eersgeboortereg

wat hy met n slinkse streek van sy broer afgerokkel het of op die seën wat hy met blatante opportunisme van hom

gesteel het.

Want wat sou God hom nog gun ná dit alles? Geen mens kan immers dink om op so n manier met God se gunste

om te gaan nie. Geen mens kan dink dat hy of sy die toekoms, die hoop en die lewe met n soort trick kan verower

nie.

So gaan Jakob die onbekende tegemoet. As n vlugteling, n vreemdeling en n balling, verdryf van sy grond, gesin

en sy God deur sy eie toedoen. Wie sou in hierdie omstandighede by hom staan? Op wie se beskerming sou hy

kon staatmaak in n vreemde land en n vyandige wêreld?

Reeds sy eerste nag weg van die huis is n nag onder die oop hemel. Vers 11 sê dat hy n klip as n kopkussing

gebruik het, maar op grond van die Hebreeuse teks is dit meer waarskynlik dat hier bedoel word dat hy n klip by

sy kop neergesit het as n soort beskerming. Dit is n verdere versterking van die algehele indruk wat die verteller

skep dat Jakob volkome aan homself oorgelaat was, dat hy as vlugteling op niemand se beskerming kon staatmaak

nie.

Met die klip by sy kop raak hy aan die slaap. En hy droom. Dis belangrik om in gedagte te hou dat drome in die

Bybelse tyd nie gesien is as die werking van n mens se onderbewuste nie, maar dat drome beskou is as die manier

waarop God self of deur sy engele n boodskap aan iemand wou tuisbring.

In sy droom sien Jakob n leer wat van die aarde tot in die hemel reik en die engele van God wat op- en afklim teen

die leer. En God self? Wat doen Hy? Dit moet seker een van die wonderlikste verse in die hele Bybel wees, want

ons lees: Toe kom staan die Here by Jakob

God bly nie, soos die ou vertaling dit stel, aan die bopunt van die leer staan en praat op n afstand met Jakob nie.

God kom staan by Jakob. En God sê: "Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek

sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee ... Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan

" Met ander woorde: Jakob, jy het nie meer klippe by jou kop nodig om jou te beskerm nie. Die Een wat jou

beskerm, is die Rots van Israel.

Dit is absoluut merkwaardig dat Jakob baie later in sy lewe, toe die dag kom dat hy sy eie seun Josef moes seën,

presies hierdie woorde gekies het: "Dié wat met pyl en boog skiet, val hom aan maar hulle boog misluk elke keer

want die Rots van Israel beskerm hom " (Gen 49:24).

Dan word Jakob wakker en sê: "Die Here is op hierdie plek en ek het dit nie geweet nie." Hy neem die einste klip

wat hom nie kon beskerm nie en maak dit tot n gedenksteen van God se beskerming. En hy noem die plek: Bet-

El. Oftewel: die huis van God, die woonplek van God.

Dit is een van die wonderlikste Bybelse paradokse hierdie: Jakob moes van die huis af vlug om tuis te kom. Weg

van God het hy ontdek wie God is.

Soms is God juis daar waar ons nie gedink het Hy is nie. Wanneer ons dink dat Hy ver is, juis dan is Hy soms so

ontsettend naby.

Jakob ontdek die geheim van Israel, die geheim van God se volk: Wanneer alle weë op aarde doodloop, is dit soms

juis die tyd dat God n weg na die hemel toe oopmaak.

Of anders gestel: Die paaie wat op aarde na niks lei nie, is soms juis die pad wat die God van die hemel en die

aarde kies om ons na Hom toe te lei.

Baie van ons weet dit uit eie ervaring. Soms moet n mens eers in die dal van doodskaduwee ingaan om die lig van

die lewe raak te sien. Is daar nie iets ongeloofliks waar aan dít wat die biskop vir die dokter gesê het nie? Leer n

mens nie die meeste op dié plekke waar jy nie wil wees nie? Leer jy nie die meeste oor die lewe in die aangesig

van die dood nie?

n Mens kan jou hele lewe daarop toelê om God beter te leer ken. Jy kan elke boek waarin iets oor God geskryf is

van nader bestudeer. Jy kan in die erediens of êrens in n katedraal onder die bekoring van sy mistieke teenwoordigheid

kom. Maar jy kan in een nag, in een ervaring van duisternis the dark night of the soul in die ervaring van

totaal uitgelewer wees soms meer van die teenwoordigheid van God leer as in al die oomblikke van sy lieflike

aanraking.

Soms wanneer n mens dink dat dit nog net die klippe is wat jou kan beskerm, juis dan gaan jou oë oop vir die Rots

van Israel.

Om volkome in God geborge te wees, is soms presies die keerpunt van die ervaring wat ons beskryf as die volkome

afwesigheid van God.

Maar in hierdie paradoks is ook veel meer opgesluit as n ontdekking van Jakob. Hierin lê die geheim van die

evangelie van Jesus Christus: die kruisevangelie, of anders gestel: die blye boodskap van die kruis. Hierin lê die

geheim van die lewe: die boodskap dat ons die lewe nie verkry deur eie inspanning nie, maar as n geskenk van

die God wat in Jesus Christus by ons kom staan het en let wel, nie in n droom soos met Jakob nie, maar te midde

van die nagmerries van hierdie lewe.

Dis dieselfde Jesus wat gesê het: "Wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en

die evangelie verloor, sal dit behou" (Mark 8:35). Daarom kan hulle wat soms voel asof hulle niks het nie, die

verrassende ontdekking maak dat hulle eintlik reeds alles het. En om dieselfde rede kan ook hulle wat soms meen

dat hulle alles het eendag die verskriklike ontdekking maak dat hulle eintlik niks het nie.

Dís die geheim van die koninkryk van God. Hierdie God, die God van Jakob en van Jesus Christus, is die beskikker

van ons deel en lot in voor- en teëspoed. Dis vir Hom wat ons kan sê: U is ons Vader en ons God net U is waarlik

goed! (Ges 34:5).

Hy is ons God, die God wie se regte en seëninge geen mens kan koop of steel nie. Want, soos die psalmdigter en

Jakob, kan ons ook weet: "Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap" (Ps 127:2; vgl Noordmans).

Bibliografie

Brueggemann. Genesis (Interpretation). Noordmans. Verzamelde Werken 7 & 8. Van Niekerk. Woord teen die Lig

II/3: Riglyne vir prediking oor die Genesisverhale.