7 Julie 2002

Sesde Sondag in Koninkrykstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Genesis 24:34-38, 42-49, 58-67.

Ander tekste: Psalm 45:10-17; Romeine 7:15-25; Matteus 11:16-19, 25-30.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Introïtuslied

Psalm 100:1, 3/NSG 22.

Votum

Lees Psalm 100:3-5.

Drumpelgebed

In die Naam van Jesus Christus aanbid ons U: Here ons God. Ons kom dien U met blydskap en is vol vreugde

omdat ons aan U behoort. Dankie dat U ons in u oneindige liefde hier ontvang. Neem ons lofgesange, bedes en

woorde aan tot die verheerliking van u Naam. Gee dat ons in hierdie diens U sal sien en hoor. Amen.

Seëngroet

Gebruik die standaardvoorstel vir Koninkrykstyd of, as alternatief, na aanleiding van Paulus se seëngroet in

Romeine 1:

"Aan elkeen vanoggend in hierdie kerkgebou vir wie God liefhet en vir wie Hy geroep het om aan Hom te behoort:

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus."

Aanbidding en lof

Gesang 5:1, 3/NSG 10:1, 3.

Psalm 48:1, 4, 5.

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Gebedsvoorstel

Here, ons God en hemelse Vader. Geseënd is u Naam!

U is die God van Abraham, Isak en Jakob. Die God van Israel, die God van ons voorvaders en vandag ook ons God.

Hoe heerlik is u Naam en hoe trou aan u beloftes is U. Ons roep U aan in die Naam van u Seun, Jesus Christus,

die Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het. Maak nou u beloftes en trou aan elkeen van ons waar

deur die woorde wat ons nou gaan lees uit die verhaal van Isak en Rebekka se ontmoeting. Laat u Woord vandag

ons hart aanspreek en wees onder ons teenwoordig in die verkondiging en aanhoor daarvan. Laat ons hoor wat ons

nog nie gehoor het nie; laat ons hoor wat ons vergeet het; roep ons na U toe en versterk ons geloof sodat ons aan

U alleen gehoorsaam sal wees; gee dat u Woord nie tevergeefs sal wees nie. Amen.

Skriflesing

Genesis 24:34-66.

Kindertyd

(Agv die landswye skoolvakansie word geen Kindertyd voorgestel nie.)

Prediking

Voorbidding

Geloofsbelydenis

UITSENDING

Volg die basisvoorstel.

Sang

Gesang 201.

Voorlesing van die wet

Matteus 5:43-48.

Slotsang

Gesang 223/NSG 190.

Seën

Tema

Sy hele lewe lank leer Abraham wat dit beteken om uit die geloof te leef.

Teks en konteks

Soos die vorige hoofstukke en dié wat daarop volg, is Genesis 24 n interessante en lewendige verhaal uit die lewe

van die patriarge Abraham, Isak en Jakob. Die verhaal hoe Isak sy vrou Rebekka gekry het, verskil egter op twee

punte van die vorige verhale oor Abraham en die latere wedervaringe van Jakob: Eerstens, Genesis 24 vertoon n

gebrek aan spanningslyn. Abraham se slaaf (wat eintlik sy voorman, vertroueling of bestuurder was) vertrek om vir

Isak n vrou te kry. In sy soektog kry hy egter nie, soos ons sou verwag, met struikelblokke te doen nie. Van die

begin tot die einde loop alles in die verhaal net reg. Die slaaf/bestuurder kom net op die regte tyd by die put aan

Rebekka kom toe ook net toevallig daar aan. Sy is in alle opsigte n ideale vrou vir Isak n maagd, baie mooi,

vriendelik, bekwaam. Haar familie stribbel glad nie teë toe om haar hand gevra word nie selfs toe dit blyk dat die

slaaf/bestuurder haar nie lank tyd gee om n besluit te neem nie. Alles in die verhaal verloop buitengewoon

voorspoedig. Daar is geen uitdagings vir die geloof soos waarmee Abraham voorheen gekonfronteer is nie. Anders

as die vorige hoofstukke, handel dié hoofstuk nie oor iemand wie se geloof uiteindelik, ná groot uitdagings, triomfeer

nie. n Mens kan nie oor Genesis 24 preek soos oor die vorige hoofstukke nie. Die hooffigure (Abraham en sy

slaaf/bestuurder) ondervind min teenspoed of teenkanting. Genesis 24 stel nie die groot vrae van die geloof aan die

orde nie soos wel gebeur in Genesis 22 (Hoe gaan God voorsien? Wanneer gaan Hy voorsien? Gaan Hy

voorsien?) of in Genesis 18 (Kan die drie besoekers se ongelooflike boodskap geglo word?) of in Genesis 17, 15

of 12 (Wanneer gaan God se beloftes iets meer konkreet as woorde word?)

Die tweede verskil hang hiermee saam. Genesis 24 handel oor hoe daar vir Isak n vrou gekry is. (Nie oor hoe Isak

n vrou gekry het nie. Isak neem nie deel aan die soektog nie.) Vir 64 van die 67 verse van hierdie hoofstuk is Isak

afwesig. Dit is die prediker se tweede probleem. Isak kan nie soos Abraham as voorbeeld gebruik word nie. Hy is

onsigbaar, n afwesige held.

Die oplossing wat ek hier onder voorstel, is dat juis hierdie afwesigheid en passiwiteit van Isak getematiseer word.

Dit wil sê, die verhaal word só gelees dat Isak se passiwiteit nie toevallig is nie. Die Bybel wil juis n punt maak: Selfs

ten spyte van Isak se passiwiteit, bly God getrou aan sy beloftes. Selfs in die enkele verse waarin Isak verskyn, is

sy profiel nie dié van iemand wat dinge laat gebeur nie, maar van iemand met wie dinge gebeur. Myns insiens moet

dié punt sterk gemaak word en daarna moet die boodskap gebring word: God se belofte aan Abraham dat uit hom

PREEKSTUDIE - GENESIS 24

n nageslag sal kom, word voltrek, nie as gevolg van die feit dat Isak in geloof handel nie, maar juis ten spyte van

Isak. Dié oplossing is nie onproblematies nie, maar het, na my mening, die voordeel dat dit in lyn is met die tema

wat vanaf Genesis 12 loop dat God sy belofte aan Abraham waar sal maak, kom wat wil.

Preekvoorstel

"Abraham was al baie oud, en die Here het hom in alles geseën" (Gen 24:1). Inderdaad. Die voor die hand liggende

is die Here se seën in besittings "kleinvee en grootvee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies" (v

34). Maar die rykste seën is natuurlik Isak. Sy naam beteken nie verniet "glimlag" nie. Saam met hom het die lag

na Abraham en Sara se lewe teruggekeer. Nie alleen verskaf hy hulle op hulle oudag eindelose plesier nie, maar

hy is die lewende bewys dat God sy beloftes hou. Eers vyf en twintig jaar ná Abraham op God se roepstem uit sy

geboorteland Haran weggetrek het, het die Here se belofte in vervulling gegaan. Sara het, soos vers 36 sê, "op n

gevorderde leeftyd vir Abraham n seun in die wêreld gebring". Isak is n tasbare bewys dat God wel uit hom n

nageslag sal voortbring en dat God uit hierdie nageslag al volke van die aarde (Gen 12:4) sal seën.

Saam met hierdie seën word Abraham op nog n manier geseën: Hy leer wat dit beteken om uit die geloof te lewe.

Geloof in God se beloftes. Die eerste les leer Abraham in Genesis 12 waar ons die eerste keer van hom hoor

toe God hom roep om sy land, sy familie en sy mense te groet en te trek na n land wat hy nog nooit vantevore

gesien het nie en waarvan hy niks weet nie. Al waarborg wat hy het dat dit met hom goed sal gaan in dié land, is

die Here se belofte.

In die volgende vyf en twintig jaar leer Abraham die les van geloof. In dié kwarteeu is daar geen teken van n kind

vir Sara nie en dus geen teken van n nageslag nie. Al waaraan Abraham kan vashou, is die woord van God se

belofte. Gelukkig vergeet die Here nie van Abraham nie. By twee geleenthede verskyn die Here aan Abraham n

mens sou kon sê om hom te herinner dat Hy nie van sy belofte aan Abraham vergeet het nie. In Genesis 15 sluit

die Here n verbond met Abraham volgens n gebruik van daardie tyd. Om n verbond te sluit loop albei partye

tussen twee rye halwe dierekarkasse deur. n Brandende fakkel verteenwoordig God (soos later by die uittog uit

Egipte). Abraham raak intussen aan die slaap. Dis amper asof die Here vir ons wil sê: Abraham se ondertekening

van die verbond (n ander woord vir "kontrak") is van minder belang. Die verbond tussen God en mens word

uiteindelik deur een handtekening in stand gehou: die Here sn. n Mens sou kon sê in Genesis 12 sluit God n

mondelinge kontrak met Abraham en sy nageslag. In Genesis 15 gee die Here vir Abraham n geskrewe bevestiging

van dié mondelinge kontrak. Dit is al makliker om daarop eerder as op n mondelinge belofte jou hoop te bou maar

natuurlik, dit is maar nog net n belofte.

n Tyd daarna gee die Here weer aan Abraham n bevestiging van sy verbond. Eintlik n lang tyd daarna Abraham

is nou al nege en negentig jaar oud. Vier en twintig jaar het al verloop sedert God die eerste maal sy belofte aan

Abraham gemaak het. In Genesis 17 lees ons hoe God die besnydenis ingestel het. Dit was bedoel as n fisieke

teken van die verbond. Nog n bevestiging dat die Here sy belofte onthou. Maar natuurlik, dit was weer net nog n

belofte. Nog geen teken van die vervulling nie.

n Tyd later ons weet nie hoeveel later nie, maar ons lees daarvan in die volgende hoofstuk, Genesis 18 bevestig

die Here weer sy belofte aan Abraham. Dié keer is dit drie boodskappers van die Here een van hulle dalk die Here

self. Weer eens word die belofte van God herhaal: Abraham en Sara sal n kind hê en n nageslag waaruit die res

van die aarde geseën sal word.

En dan uiteindelik, kort ná Abraham se honderdste verjaarsdag lees ons die woorde waarvoor Abraham en Sara

so lank gewag het in Genesis 21:1: "Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het. Hy het sy belofte aan haar

nagekom. Sy het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom n seun in die wêreld gebring."

Uiteindelik is daar vir Abraham en Sara n kind. Maar dit beteken nie dat Abraham nie steeds deur geloof alleen

moes leer leef nie. Net in die volgende hoofstuk 21 leer Abraham op die berg Moria weer dieselfde les: Vertrou op

die Here, Hy sal voorsien. Toe daar skynbaar geen ander uitweg is as om Isak te offer nie, voorsien God n offerdier.

Maar soos baie gelowiges al herhaaldelik ondervind het die feit dat die Here een of meer maal in jou nood

voorsien het, beteken nie dat jy nooit weer gaan twyfel of Hy regtig sal voorsien nie. Dit gebeur ook met Abraham.

In sy geseënde oudag bekruip die twyfel Abraham weer.

Ons lees in Genesis 24:1: "Abraham was al baie oud en die Here het hom in alles geseën." Die seën is voor die

hand liggend: besittings, n erfgenaam, hoë ouderdom. Maar die eintlike belofte is nog uitstaande. Die belofte van

n nageslag is nog net dít n belofte, n moontlikheid van n nageslag. Ten spyte van die Here se wonderbaarlike

voorsiening tot op hede, ten spyte daarvan dat die Here uiteindelik wel n kind voorsien het, is die nageslag waaruit

die aarde geseën sou word, nog nie daar nie.

Want sien Isak is nog nie getroud nie. Isak is al mooi groot, maar daar is nog geen voornemende bruid in sig nie.

En of so lyk dit as dit van Isak self afhang, sal hy nie maklik tot trou kom nie.

Ek dink nie ons is onregverdig teenoor Isak nie, maar die indruk wat n mens uit die Bybel kry, is dat Isak nie n man

van aksie was nie. Die Bybel en veral die later herinnering deur die volk van Israel gee n ereplek aan Isak wanneer

dit na God verwys as die "God van Abraham, Isak en Jakob" maar te oordeel na die Bybelse feite was Isak

gelukkig om in dié geselskap genoem te word. Nêrens word daar iets in Isak se lewe genoem wat sou maak dat n

mens hom n geloofsheld sou noem nie. Ons weet van geen gebeurtenis wat naastenby so traumaties soos

Abraham se roeping was nie. Geen noue ontmoetings met God soos Abraham ervaar het met die besoek van die

drie manne aan hom nie. Geen dramatiese gebeure soos die offerande op die Moriaberg nie. Geen boodskap deur

n droom soos Isak se seun Jakob ontvang het nie. Niks wat eens naby kan vergelyk met Jakob se worsteling met

die onbekende Man by die Jabbokrivier tot dagbreek nie. Geen ontroerende versoening met Ismael soos tussen

Jakob en Esau nie. In vergelyking met die ander twee patriarge, Abraham en Jakob, is Isak se lewe arm aan groot

gebeurtenisse.

Geen ander gebeure wys die verskil tussen Isak en Abraham en Isak en Jakob se lewens so duidelik soos die verhaal

hoe Isak sy vrou gekry het nie. In later jare sou sy seun Jakob ook sy vrou by dieselfde mense, Laban se

familie, kry. Jakob gaan self na Laban se wêreld en daar moet hy sewe jaar werk voor hy Lea kry (vir wie hy nie

wou gehad het nie), en toe nóg sewe jaar voor hy sy Ragel kon kry.

Hoe anders is die verhaal van Isak nie! n Hele ry interessante karakters Abraham se kneg (dalk dieselfde Eliëser

wat hy lank gelede as seun wou aanneem), Rebekka, Laban en Abraham self verskyn in Genesis 24. Maar die

persoon om wie dit eintlik gaan Isak is afwesig. Anders as sy seun Jakob, doen hy niks om vir hom n vrou te

gaan kry nie. In die hele Genesis 24 verskyn Isak lank glad nie eens op die toneel nie en wanneer hy uiteindelik

aan die einde van die hoofstuk verskyn, is hy n hoogs passiewe karakter. Hy sê niks en doen min. Ons hoor net

eers in vers 63 dat hy "teen die aand se kant in die veld gaan stap" het. Die NIV sê: "He went out to the field one

evening to meditate." En nadat hy Rebekka as sy vrou geneem het dít het hy darem self gedoen lees ons ten

slotte: "So is Isak vertroos na sy ma se dood" (v 67).

Ek dink nie ons is onregverdig teenoor Isak nie as ons sê dat hy nie n man van aksie was nie. n Dromer miskien,

n man van meditasie maar nie n man van aksie nie. n Sensitiewe siel afhanklik van sy ma, en ná haar dood

van sy ywerige vrou Rebekka.

n Mens kan Abraham se ongeduld verstaan. Gaan Isak dan nooit tot trou kom nie? Gaan daar nooit n nageslag vir

Abraham wees nie? Gaan Isak, ná die lang pad wat Abraham moes loop van Haran tot Kanaän, van Mamre se

mirtebome tot by Moria, alles tot niet maak deur sy onbetrokkenheid? Dalk sy ongeloof?

Dit mag tog nie gebeur nie! Daarom dat Abraham, al was hy al baie oud (Gen 24:1), toe maar self die saak probeer

beredder. Hy stuur sy kneg (dalk dieselfde Eliëser van Gen 15) om vir Isak n vrou te kry. Abraham doen alles wat

hy kan om die onderneming se sukses te verseker die slaaf/bestuurder (kan ons hom maar Eliëser noem?) moet

n eed sweer dat hy n bruid vir Isak by Abraham se familie sou gaan kry, maar dat hy nie vir Isak daarheen sou laat

gaan nie (Gen 24:2-6). Uiteindelik vertrek Eliëser uitgerus met tien kamele en baie geskenke.

Maar al die moeite was toe nooit eens nodig nie. Want die slaaf/bestuurder se missie verloop toe meer as

voorspoedig. In die vreemde land kom hy by n fontein aan en wie daag net mooi op daardie oomblik daar op?

Niemand anders nie as Rebekka, die dogter van Betuel, Abraham se broerskind (v 15). En sy is regtig alles waarop

Isak sou kon wens. n Ongeskonde maagd, baie mooi, vriendelik en tegemoetkomend (v 16). Toe die

slaaf/bestuurder water vra, bied sy gulhartig aan: "Drink gerus, Meneer!" En so fluks en flink soos min sy skep

sommer genoeg water vir die tien kamele ook. By haar huisgesin aangekom, loop alles voor die wind. Haar broer

maak geen beswaar nie en laat haar selfs gaan toe die slaaf/bestuurder sê hy kan nie nog tien dae vir n antwoord

wag nie (v 56). O ja, en toe Rebekka self gevra word wat sy dink van die voorstel om met Isak te trou, is haar

antwoord sonder enige maars of voorwaardes eenvoudig: "Ja!" (v 58). Hierdie blymoedigheid van haar word

selfs nie eens gedemp toe sy Isak self sien nie. Om die waarheid te sê, nog voordat hy iets kan sê, spring sy van

die kameel af en vra oor Isak: "Wie is die man wat daar oorkant in die veld na ons toe afkom?" (v 65). Dit was

heeltemal uit pas met die kulturele voorskrifte van haar tyd, wat vereis het dat die aanstaande bruid haar bruidegom

met neergeslane oë tegemoet moes gaan en nie mag gepraat het voordat sy aangespreek is nie.

Op groter sukses kon Abraham nie gehoop het nie. En dit alles sonder dat Isak n woord gespreek of n vinger

verroer het. Al wat hy uiteindelik moes doen, was om Rebekka as sy vrou te ontvang (v 67).

Waaraan is die byna bonatuurlike gladde verloop van Abraham se slaaf/bestuurder se missie te danke?

Dit gebeur wel omdat Abraham sy slaaf/bestuurder in geloof wegstuur. Dit gebeur omdat sy slaaf/bestuurder sy

soektog in geloof en gebed aanpak en deurvoer

Maar die belangrikste rede is dat God aan sy beloftes getrou bly. Selfs al is ons ontrou. Selfs al is daar nie

geloofshelde soos Abraham op die toneel nie. Bybelse geloof is om aan God vas te hou. Maar Bybelse geloof is

meer as dit: Dit is om te ontdek dat terwyl ek aan God vasgehou het en wanneer my hande soms moeg geword

of ek laat los het het God my vasgehou.