Ander tekste: Psalm 15; Lukas
10:38-42; Kolossense 1:15-29
Die keuse
van die teks deur die leesrooster is nie bevredigend nie, aangesien die
perikoop tot by 18:15 strek. Die tekskeuse
van hierdie preekstudie volg dus die perikoopindeling wat die meeste
kommentatore volg, naamlik 18:1-15.
Volgens Brueggemann vorm hierdie perikoop deel van 16:1-18:15 met drie
spesifieke gedeeltes: 16:1-16; 17:1-27
en 18:1-15. Op verskillende maniere
‘all three texts revolve around this issue of faith in a God whose promise
tarries too long.’
’n
Preekstudie oor hierdie perikoop kom ook Woord teen die Lig II/3 voor. Die teksprobleme word daarin uitvoerig
bespreek.
18:1-2:
Hierdie verse dui ’n paar belangrike sake aan. Die plek, tyd en besoekers word vermeld. Daar is drie mans,
klaarblyklik die manier waarop God homself aan Abraham en Sara bekend
maak. Dit is in die middel van die dag.
Volgens Kidner staan die verhaal in teenstelling met die gebeure hierna (Gen
19), waar alles in die nag gebeur. Die
Godsverskyning staan teenoor die donker elemente van verwarring en
vernietiging. Die plek is Mamre, wat
later ’n welbekende heiligdom sou raak, is die plek waar God verskyn.
Die meeste
geleerdes hanteer die probleem dat die Here in die ‘vorm’ van drie besoekers
aan Abraham en Sara verskyn as heel natuurlik.
Die verhaal wissel tussen die Here wat verskyn en die mans wat namens
die Here ’n belofte aan Abraham maak.
Later (v. 13) is dit weer die Here wat aan die woord is. Gunkel het gesê dat goddelike gebeure altyd
verrassend is. Walter Lüthi sê dat dit
nie ter sake is of die mans geëet, gedrink of gekuier het nie. Dis ook nie ter sake of die verteller
konstant wissel tussen God en die mense nie.
Waaroor dit gaan, is dat Gód aan hulle verskyn het. En dan vra Lüthi: Kan dit anders as geheimenisvol wees? Verder word God se vryheid om homself te openbaar soos Hy wil, in
Genesis 19 afgewissel met twee besoekers in plaas van drie.
’n Gedagte
wat deurgaans afgewys word, is dat hier geen verwysing na die Drie-eenheid
ingelees kan word soos die vroeë kerk gedoen het nie.
18:3-8: Die
gasvryheid van Abraham is klaarblyklik ook die motief wat in Hebreërs 13:2 ’n
rol speel. Na my mening behoort ’n mens
nie te veel te maak van hierdie motief in die prediking nie (sien Burger se
perspektief in Woord teen die Lig II/3).
Von Rad en Aalders verwys beide na die ou verhaal wat in die Griekse
mitologie bestaan het toe drie gode (Zeus, Poseidon en Hermes) die kinderlose
Hyrieus in Boeotia besoek het. Na sy
gasvrye optrede teenoor die gode is ’n wens aan hom gegee. So is die seun, Orion, aan hom en sy vrou
gegee. Of die Griekse verhaal ingespeel
het in hierdie verhaal, is nie regtig ter sake nie. Die punt is dat Israel hierdeur bely het dat húlle Here aan hulle
verskyn het en die nageslag gewaarborg het.
’n Uiters belangrike verskil is dat die kind nie gegee is op grond van
’n wens nie, maar uit vrye guns beloof word.
Brueggemann
wys daarop dat daar ’n duidelike versnelling van gebeure in die verhaal
is. Die stadige tempo wat deur die
middaghitte veronderstel word, die skielike verskyning van die drie man en die
aanbod van Abraham dat hulle daar kan oorbly, word vinniger met Abraham se haas
om vir die mense gereed te maak. Dit is
’n aanduiding daarvan (‘hint’) dat iets buitengewoon kan gebeur.
18:9-10: Dit
is nie sonder rede nie dat God op hierdie manier besoek aflê by Abraham en
Sarah. Die geboorte van hulle kind word aangekondig. God bevestig deur hierdie belofte dat hy nie van sy verbond
vergeet het nie. Dat dit God is wat
deur die een besoeker praat, word bevestig in die skielike vraag waar Sara
is. Dat hulle haar naam geweet het, is
aanduiding hiervan (Aalders; Von Rad).
18:11-12: Die
beklemtoning dat Abarham en Sara al baie oud was, vind weerklank in Sara se
gelag oor hierdie uitspraak van die besoeker.
Haar gelag is te verstane (Von Rad), aangesien dit vroeër moontlik was
om ’n kind te hê, maar nie nou meer nie.
Die verteller se klem is nie om dowe neute nie. Deurgaans beklemtoon die aartsvaderverhale
dat die belofte God se beloftes bly en nie gebou word op menslike moontlikhede
of potensiaal nie. Onvrugbaarheid is
daarom ook een van die belangrike temas in hierdie verhale. Die skrywer benadruk hierdeur dat die
beloftes van God geskenk word. Wat van
die mens gevra word, is om hierdie beloftes te glo, daarin te rus. Abraham en Sara vertoon die voortdurende
geneigdheid om God nie regtig te vertrou nie.
In Genesis 12:10-10 neem Abraham reg in eie hande deur te lieg oor sy
vrou. In Genesis 16 (nadat God in Gen
15 nogeens sy beloftes deur die verbond bevestig het) besluit Abraham weer om
reg in eie hande te neem: ‘The story is constructed to present the tension between
this inscrutable speech of God (that comes as promise) and the resistance and
mockery of Abraham and Sarah who doubt the word and cannot believe the promise.
Israel stands before God's word of promise but characteristically finds that
word beyond reason and belief. Abraham, and especially Sarah, are not offered
here as models of faith but as models of disbelief’ (Brueggemann).
18:13-15: Dit
is die hoogtepunt van die verhaal.
Teenoor die ongeloof van Sara (en Abraham) staan die kernvraag van die
geloof: ‘Is iets te buitengewoon vir
die Here?’ Von Rad noem dit die klimaks
van die verhaal. Dit is ’n oop vraag en
word ook nie beantwoord nie – behalwe met Sara se leuen dat sy nie gelag het
nie. Treffend wys Brueggemann daarop
dat God se beloftes nie afgehang het van hulle geloof nie: ‘The resolve of God
to open a future by a new heir does not depend on the readiness of Abraham and
Sarah to accept it. God keeps his own counsel and will work his own will. It
will happen, if not in a context of ready faith (which is here denied), then in
a context of fearful, resistant laughter. The narrative ends. Sarah and Abraham
still doubt. But the word has been uttered. Sarah and Abraham and the listening
community can never again live pre-promise. All their lives are now impacted by
this promissory word which will find its own fulfillment.’
Selfs hulle
ongeloof kan God se vaste voorneme om vir Hom ’n volk te vergader, nie ongedaan
maak nie. Selfs die onvrugbare ouderdom van twee mense kan God se plan nie
stuit nie. Die belofte van God berus in sy trou en is daarom altyd ’n geskenk
van God.
1. Wat is die verhouding tussen God se beloftes
en die mens se geloof? Ek dink dat dit
een van die kernsake is wat in hierdie verhaal aan die orde kom. Hang God se beloftes af van ons geloof? Hang die vervulling daarvan af van ons
geloof?
In sekere
teologiese kringe word hierdie gedagte baie sterk aangetref. Die korrelasie tussen geloof en genade word
verruil vir ’n polêre spanning tussen geloof en genade. Binne gereformeerde kringe word die
korrelasiegedagte baie sterk beklemtoon.
Die reformatoriese aanduiding van die Woord as promissio het die ganse denkraamwerk van die Reformasie
bepaal. Deur die Woord promissio te noem, is daar nie alleen
iets oor die Woord gesê nie, maar ook oor die aard van die geloof. Daar kan ook gesê word dat die aard van die
Woord die aard van die geloof beslissend bepaal het. Die Reformasie het nooit die noodsaaklikheid en werklikheid van
die geloof met betrekking tot die ontvangs van die heil bevraagteken nie. Dit was die funksie of aard van die geloof
wat bepalend was. Die toets of die aard
van die Woord verstaan is, het in die aard
of funksie van die geloof gelê. Binne die reformatoriese denkraamwerk
(korrelasiedenke) het die Woord die heil geskenk
en is dit deur die geloof ontvang
(reseptiwiteit teenoor kreatiwiteit).
Die Woord as belofte impliseer dat Woord (objek) en geloof (subjek) nie
met mekaar konkurreer nie.
Die
belydenis van die Bybel en die Reformasie dat die mens deur geloof alleen gered word, staan in noue verband met die
belydenis van die heilskarakter van die Woord.
Die aksentuering van die Woord as heilsmiddel het tot gevolg dat die sola fide nooit 'n meritoriale karakter
kan hê nie. Die heilskarakter van die
Woord beklemtoon die vryspraak deur God ondanks die goddeloosheid van die
mens. Teenoor die suigkrag van die
sinergisme, het die Reformasie voortdurend daarop gewys dat geloof alleen in
wese beteken: God alleen, die Heilige
Gees alleen (Noordmans).
Dat die
geloof nooit 'n meritoriale karakter gehad het nie, was die gevolg van die
beskouing van die Reformasie dat die Woord die heil onvoorwaardelik geskenk
het.
Omdat die
Woord as heilsmiddel gefunksioneer het, is die skolastieke denkskema
deurbreek. Binne hierdie denke is
subjek en objek in 'n polêre denkskema van mekaar geskei. Omdat subjek en objek in hierdie denkskema
teenoor mekaar te staan gekom het, het ook God en mens as konkurrente teenoor
mekaar te staan gekom. Die
onvermydelike effek van die polêre denke was dat daar òf in objektivisme, òf in
subjektivisme verval is wanneer oor die heil van die mens gepraat is. Die polêre denke het die gevolg dat die mens
se aksies òf totaal uitgesluit word (objektivisme) òf medebepalend in die
verkryging van die heil was (subjektivisme).
Daar
bestaan altyd die gevaar van eensydigheid wanneer die objektiewe en subjektiewe
kante van die een heil in Christus in 'n denksisteem beland waarin God (die
Woord) en mens (die geloof) in pole geskei word. Enersyds kan daar op
die subjektiewe kant van die heil soveel nadruk gelê word dat die objektiewe
sekerheid in Christus verduister word.
Wanneer aan die inhoudelike karakter afgedoen word, word die klem in die
geloof maklik van God na die mens verskuif en word heilsekerheid bedreig. Dit is ook waar van 'n sekte. Volgens Hutten (1957:32) is dit kenmerkend
van alle teologiese afwykings dat 'n heilsweg voorgehou word waarin die
menslike inisiatief nie genegeer word nie, maar 'n karakter van ‘meespreken’
kry. So word "de centrale
boodschap van die reformatie: de rechtvaardiging
sola gratia, sola fide, steunend op
het getuigenis van die Schrift, sola
scriptura" van sy luister ontneem.
Die mens se beslissingsvermoë en geloof verkry 'n kreatiewe funksie
waarin die ganse genadeboodskap gerelativeer word tot genade plus die
mens. Dit is 'n liberale tendens wat
wegbeweeg van die gereformeerde tradisie wanneer 'n verskuiwing weg van
Christus na die mens plaasvind of wanneer die basis van heilsekerheid verlê
word "weg van die objektiewe inhoudelike karakter van die geloof (die
soenverdienste van Jesus Christus die Middelaar) na die subjektiewe
ervaringskomponent (geloof as werk en prestasie van die mens)" (Louw 1987).
Andersyds kan die heil in
Christus ook verduister word waar 'n eensydige aksent op die objektiewe heil in
Christus geplaas word. Dat die mens
2000 jaar gelede op Golgota gered is, moet tog ook in hierdie hede deur die
Gees van God aan die mens in sy volle menswees bevestig en verseël word.
2. ’n Tweede belangrike saak is die vraag of
ons nie dalk op ’n punt in baie geloofsgemeenskappe gekom het waar die
moontlikheid van buitengewone dinge vir die Here deur ’n siniese gelag begroet
word nie. Walter Lüthi maak baie
hiervan in sy preek oor hierdie gedeelte.
Hy sê dat ons almal aan eksamens onderwerp word. Teoreties kan ons heel goed op sekere sake
antwoord, maar die geloofseksamen is baie moeiliker as enige ander
eksamen. Hier slaag min mense regtig
die toets. Ja, ons sal bely dat alles
vir God moontlik is, maar as dit teen die grense van ons redelikheid ingaan,
kry ons ’n glimlag oor die ‘belaglikhede’ van wonderverhale waarmee mense ons
dikwels verveel. Ja, dis waar dat God
die hemel en die aarde geskep het, maar as dit van ons gevra word om ons op die
God van hemel en aarde te verlaat, vind ons dit bietjie ‘onrealisties.’ Ons is ook maar versigtig vir elke vreemde
storie van ‘wonderwerke’ omdat dit soms regtig onsin en verbeelding is. Maar die verhaal konfronteer ons tog met die
vraag of ons in die God van die onmoontlike glo. Soos Bruegemann sê: ‘We must
say it is the fundamental question every human person must answer. And how it
is answered determines everything else. If the question of the Lord is
answered, ‘Yes, some things are too hard, impossible for God,’ then God is not
yet confessed as God. We have not conceded radical freedom to God. We have
determined to live in a closed universe where things are stable, reliable, and
hopeless.’
Ek dink dat
Brueggemann se opmerkings oor hierdie saak van baie groot belang is wanneer
daar oor hierdie teks gepreek word.
Volgens hom moet ons ’n duidelike onderskeid maak tussen wat moontlik is en wat belowe word. Natuurlik is
alles moontlik, maar die uitspraak deur die Here of daar iets te buitengewoon
vir die Here is, moet binne die konteks van die beloftes van God aan Abraham
gelees word. God gee nie hier aan
Abraham en Sara ’n skoon blad waarvolgens ons God se arm kan draai deur ons
geloof nie: ‘The exposition we have urged leaves itself open to
misunderstanding, as though faith makes every desirable thing possible. But not
everything is promised. What is 'possible' is characterized only as everything
promised by God. That is, only what corresponds to God's good purposes is
possible. He has promised a future in a new community, but not everything we
would seek. To the disciples seeking salvation in Mark 10:27, Jesus gives his
uncompromising answer. Poignantly, the issue surfaces for Jesus himself in the
scene at Gethsemane. There he, too, seeks and raises the question of Gen.
18:14, praying: Father, all things are possible to thee.. Remove this cup from
me; yet not what I will, but what thou wilt (Mark 14:36). Everything is
possible to God - except one thing. The one thing not possible is the removal
of the cup. What God will not (cannot?) do is to circumvent the reality of
suffering, hurt, the cross. Thus, our text does not permit a casual
triumphalism that simply believes everything is possible. Because of the
character of God, everything is possible for those who stay through the dark
night of barrenness with God. For Abraham and Sarah, there is no simple,
painless route to an heir. And when we come to the shattering of Genesis 22, we
shall see that the 'impossibility of God' freely given is not a painless,
tension-free possibility. Thus the strangers departed (Gen. 18:16) with the
question still unanswered.’
Natuurlik
is God ook groter as sy beloftes, maar dit bly altyd God wat skenk. Sy doel met sy beloftes in die
aartsvaderverhale is baie duidelik: die
nuwe begin na die troostelose verhale van Gen 1-11, naamlik die belofte van ’n
nageslag en die belofte van ’n land, is Gód se nuwe begin.
Een van die
ergste dinge wat in ’n mens se geloofslewe kan gebeur, is as jy tevrede geraak
het met die hopeloosheid van die lewe.
Mens aanvaar dan dat alles maar is soos dit is, dat daar geen
moontlikhede vir verandering is nie, geen nodigheid om te hoop nie. Daar is geen waagmoed, geen doelwitte, geen
vernuwing, geen hoop op verbetering van omstandighede of geen drome meer
nie. Die sekerste pad hel toe is die
geleidelike een – die geleidelike skuinste, die sagte pad sonder enige skielike
draaie, sonder mylpale en padtekens (C S Lewis).
Die verhaal
van Abraham en Sara het hierdie punt bereik.
Nie in God se oë nie, maar in hulle oë.
’n Mens sien telkens hoe die verhaal van Abraham en Sara wissel tussen
hoop en wanhoop. By verskeie
geleenthede neem hulle die toekoms in hulle eie hande en probeer hulself
beskerm (sien die bespreking van 18:11-12).
Maar hier is dit die punt waar God se beloftes regtig nie meer sin maak
nie. Jare en jare het sedert die
beloftes van ’n land en ‘’n nageslag’ verloop en niks is nog bewaarheid
nie. In Genesis 15:1-3 is dit reeds
duidelik dat Abraham moed verloor het.
In Genesis 17:17 lag Abraham ook vir die belofte van ’n nageslag omdat
hy die punt bereik het waar hy dit menslik onmoontlik gevind het. Nou lag Sara oor dieselfde storie. Hulle is regtig hier ’n duidelike toonbeeld
van mense wat ‘rockbottom’ bereik het: ‘Abraham and Sarah have by this time
become accustomed to their barrenness. They are resigned to their closed
future. They have accepted that hopelessness as “normal’. The gospel promise does not meet them in
receptive hopefulness but in resistant hopelessness’. (Brueggemann)
Daar is
natuurlik wonderlike uitsprake wat gemaak word oor die krag van geloof. Ons praat selfs maklik van iemand se ‘groot’
geloof. Ongelukkig is sulke geloof
dikwels soos ’n ballon wat tussen doringbosse waai. Solank dit nie aan die rotswande raak nie, is dit goed. Maar die eerste doring van teëspoed laat dit
bars. Dit is een ding om te glo terwyl
dit goed gaan. Dis iets totaal anders
as ’n mens moet glo wanneer dit voel of die lewe sy rug op jou gedraai het,
wanneer menslike hulp gefaal het, ons denke doodgeloop het. In die kerk kan ons sing: ‘”Vol vertroue, vas en veilig, bou ek
kommervry my hoop op die Here wat, almagtig, heers oor voorspoed en or nood”
(Ges 45:1) of “Leer ons om ons nie te
kwel nie, of oor môre te ontstel nie ...” (Ges 49:2). Verskeie liedere of selfs ons gemeentevisies (wat soms baie
triomfalisties is) kan hier aangehaal word om te beklemtoon dat dit heel maklik
is om in die kerk te bely. Maar as ons
uitgaan in die doringbosse van die werklikheid bars ons ballonetjie baie gou. Dit is dan wanneer ons maar maklik glimlag
as die beloftes van die Here so maklik deur predikers aangehaal word en daar in
die kerk so maklik gesê word dat die Here sal sorg. Een van my donkerste oomblikke as prediker was toe iemand vir my
gesê het dat ek die helfte minder vreugde op die kansel sal wys oor God se
beloftes as ek my vrou of kind verloor het.
Abraham en Sara is mense soos ons wat dit moeilik vind om op God se tyd
te wag. Ons ongeduld met God bereik
soms die plek waar ons wil sê: ‘beloftes, beloftes, beloftes ...’ Dis al.
Natuurlik
kom ons op hierdie plekke in ons geloofslewe.
Dis ook baie normaal. De Reuver
skryf: Sekerheid van geloof is iets
totaal anders as sappige selfversekerdheid in windstil weer. En Calvyn verklaar: Wie nog nooit gevrees het nie het nog nooit
geglo nie. Waar die vuurtjie van geloof
brand, trek ook die rokie van twyfel.
Omstandighede maak soms dat ons op moedverloor se vlakte sit en regtig
nie kan antwoord op die vraag of iets vir die Here te buitengewoon is nie. Hoewel ons nie openlik sal sê dat ons nie
glo nie, lag ons tog maar in ons harte vir die belaglikheid van sommige
beloftes van die Here.
Maar in
hierdie verhaal gaan dit nie oor die broosheid van ons geloof nie. Dit ook.
Maar die broosheid van ons geloof moet in perspektief gesien word. Die God van die belofte is die hooftema van
hierdie verhaal. By hierdie God alleen
is daar sekerheid. Hierdie God laat nie
sy beloftes afhang van die krag of ‘prestasie’ van ons geloof en vertroue
nie. Sy beloftes is nie so beperk dat
die beperktheid en breekbaarheid van ons geloof gaan kortwiek nie. In hierdie gedeelte is dit duidelik dat God
sy beloftes waarmaak omdat Hy God is.
Die aankondiging is nie eens afhanklik van Abraham se gasvryheid teenoor
die besoekers nie (soos in die verhaal van die Griekse mitologie).
Die verhaal
van Abraham en Sara is natuurlik nie afgehandel nie. Ja, God het sy beloftes aan Abraham nagekom ter wille van sy
trou. God het ook die onmoontlike
moontlik gemaak met die geboorte van sy Seun uit die maagd Maria (Sien die
gebruik van ‘moontlik’ in Luk 1:26-37).
God het die onmoontlike moontlik gemaak deur mense te red wat volgens
menslike berekening nie gered moes word nie (Sien die verhaal van die ryk
jongman in Matt 16:16-30). God het die
onmoontlike moontlik gemaak deurdat Hy die dood oorwin het (1 Kor 15). Maar eeu
na eeu, jaar na jaar sit Christene op moedverloor se vlakte. Wanneer die kanker en die rampe, die
misoeste en die depressie toeslaan, is dit of God se beloftes nie sin maak
nie. Al hoor ons dan dat die Here ons
deur die dood sal dra, glimlag ons sinies agter ons hand.
Die storie
van ons pa en ma in die (on)geloof is ’n noodsaaklike verhaal vir die
Christelike lewe. Dit konfronteer ons
met die vraag of ons geloof nie dalk maar net met die grense van redelikheid
werk nie. As dit die geval is, verval
ons geloofslewe in die vervelige groewe van menslike moontlikhede. Godsdiens
wat altyd binne die grense van redelikheid handel, is ’n ontbinde godsdiens
(Don Affleck). Geloof wat altyd met
rekenkundige beginsels werk, is geen geloof nie: ‘Faith is not a reasonable act
which fits into the normal scheme of life and perception’ (Brueggeman). Nee, die verhaal daag ons uit om op God se
beloftes te bou. Dit daag ons uit om
die ‘ongemak’ van God se beloftes te betree.
Abraham en Sara het aanvaar dat die koeël deur die kerk is, dat God se
beloftes nie meer waar kán word nie.
Hulle ‘comfort zones’ van hopeloosheid word deur die aankondiging van
die besoeker geruk. Daarom lag Sara ...
net soos Abraham gelag het ... en ons dikwels lag
Wanneer ons
aan die einde van die pad gekom het, hoop verloor het, verras God ons met die
herbevestiging van sy beloftes. Daarom
kon Luther sê: ‘n Christen is soos 'n held
wat met die louter onmoontlike omgaan.
Dit is om God om sy hals te val.
Dit is getrooste twyfel.
Neil Verwey
van Japan vertel die volgende verhaal:
Gedurende Kersfees en Nuwejaarstye rol die geld in Japan. Onder andere
spandeer die Japanners baie geld aan gelukbringers. Een van die populêrste items wat glo geluk bring, is 'n pop
sonder bene en arms. Een van die darumapop se eienskappe is sy vorm, wat
maak dat dit regop spring as dit
omgestamp word. Binne-in die die onderkant van die pop is 'n stukkie lood ingebou, wat dit instaat stel om altyd
regop te kom, al val hy ook hoe! Die darumapop is vir die Japanner 'n goeie
voorbeeld van hoe 'n mens moet optree as 'n ongeluk jou tref – jy moet weer 'n
manier vind om op te staan. Elke keer
as ek val of neergevel word, het ek nie 'n gelukbringer nodig om my weer regop te laat kom nie. Ek het die
lewende God wat my hand vat, my ophelp
en my ewewig in Hom herstel.’
Miskien is
dit belangrik dat ons ’n slag sal besef dat ons geloofsarms en bene afgekap is
en dat geen lood in ons ons regop kan hou nie.
Net God se beloftes dra ons.
Bibliografie
G Ch
Aalders: Genesis Vol II.
Michigan. Zondervan, 1981. Walter Brueggemann: Genesis. Atalanta.
John Knox Press. 1982. C W
Burger: Genesis 18:1-15, in Riglyne vir prediking oor die Genesisverhale. Woord teen die Lig II/3 (CW Burger, BA
Müller, DJ Smit – reds.).
Kaapstad. NG Kerk-Uitgewers,
163-171. Coenie Burger: Storie
vir ons tyd. Die hoopvolle verhaal van
Abraham en Sara oorvertel vir ’n oorgangstyd. Kaapstad. Lux Verbi. 1994.
Derek Kidner. Genesis. Leicester. IVP, 1967.
Walter Lüthi: Abraham. Basel. Friedrich
Reinhardt Verlag, 1967. G Von Rad: Genesis. London.
SCM Press, 1972.