16 Maart 2003

Tweede Sondag in Lydenstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Genesis 17: 1 - 7, 15 - 16

Ander tekste: Psalm 22: 23 - 32; Romeine 4: 13 - 25; Markus 8: 31 - 38

Tema

Geloof is nie 'n eenmalige daad waardeur ek die beloftes van die Here omhels nie. Dis 'n wedloop. Daarom gryp God soms in wanneer ons tevrede is met ons eie pad, en maak God 'n nuwe begin met ons. In lyn met hierdie gedagtegang van die prediking wil die liturgie die deelnemers help om hulle lewens te spieël in God en sy verbond (doop, prediking, nagmaal), met die geleentheid om hulself weer opnuut aan God se plan vir hulle toe te wy.

GOD vergader ONS VOOR HOM

Oop gesprek

Kan 'n mens God se pad stap wanneer jy tevrede is met jou eie pad?

Lied

Heilig, heilig, heilig Lied 171/NSG 39

Aanvangswoord

"Ek sal julle God wees, en ook die God van julle nageslag" (vgl Gen 17:7)

Seëngroet

"Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, en die Heilige Gees!"

Antwoord

Eer aan die Vader Lied 207/NSG 13 of 14

Doopherinnering

Versamel al die kinders (en hul ouers) rondom die doopvont en vertel die verhaal van Abraham en Sara se naamsverandering wat ook 'n wesensverandering teweeg gebring het. Vergelyk dit dan met die kinders se doop wat hulle ook verander het. Sing daarna terwyl die liturg en kinders nog by die doopvont is Lied 292.

Alternatief vir die geloofsbelydenis

Gemeente: Ons glo

Voorganger: In die God van Abraham en Sara

Wat 'n verbond met hulle gesluit het

Gemeente: Ons glo

Voorganger: In die God wat Abraham vrygespreek het

omdat hy geglo het

Gemeente: Ons glo

Voorganger: In die God van die onwaarskynlike

van Isak

Gemeente: Ons glo

Voorganger: In die God wie se verbond ook sy hele skepping insluit

ook vir ons en ons kinders, wat gedoop is

Gemeente: Ons glo

Voorganger: In Jesus, wat gely het, verwerp is, en doodgemaak is,

en drie dae later opgestaan het

Gemeente: En ons glo

Voorganger: Dat die Heilige Gees ook in ons lewens

die onwaarskynlike waarskynlik kan maak.

Gemeente: Dit glo ons.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord/epiklese

Here, gee ons geloof in die evangelie, sodat ons ons kan bekeer, en U U nie vir ons sal skaam wanneer U saam met die heilige engele kom nie. Gebruik nou die boodskap van die kruis, en red deur die prediking die wat glo. Laat u Gees in en deur die prediking werk sodat ons die dinge in ons lewens wat pla kan verander, en die dinge wat ons nie kan verander nie aanvaar. Maak ons ore oop en stuur u Gees. Amen.

Skriflesing

Genesis 17: 1 - 7; 15 - 16 (laat een van die lidmate lees)

Kindertyd

Hongerdoek, maar indien die hongerdoek [Vgl lydensbasis] nie gebruik word nie kan verby die stasies van Jesus se kruisweg geloop word wat êrens in die kerkgebou teen die muur opgeplak is. Hierdie prente kan spesiaal gemaak word deur 'n kunstenaar, of dit kan 'n spesiale projek wees waarin die kinders betrek is. Tydens kindertyd kan die liturg dan rustig saam met die kinders vanaf 1 tot en met 14 loop.

Prediking

Antwoord

Jesus, o dink aan my Lied 384/NSG 215: Jesus, Rots vir my geslaan

DIENS VAN DIE TAFEL

Indien dit prakties moontlik is in julle gemeente, laat diegene wat aan die nagmaal wil deelneem vir mekaar die brood en die wyn aangee terwyl hulle sê: "die liggaam van Christus" en "die bloed van Christus".

Formulier

Uittreksel uit nagmaalsformulier oor Waarborg.

Nagmaalsgebed

Sien basisliturgie.

Sang

"Eet die brood" Lied 303/NSG 370: U het die brood gebreek

Dankoffers

Koppel die offergawes met die diens van barmhartigheid, en vra 'n lidmaat om 'n gebed te doen by die gawes. (Sien basisvoorstel)

UITSENDING

Skuldbelydenis/verootmoediging

(hierdie moment kan ook gesing word na aanleiding van T.T. Cloete se beryming van Psalm 22 in die Liedboek of uit die NSG 60: Diep, o God, diep neergeboë).

of:

Voorganger 1: U vra na my hande, of U dit kan gebruik vir u doel, o Heer.

Voorganger 2: Ek gee hulle, maar trek hulle weer terug, want die werk was te swaar.

Voorganger 1: U vra vir my mond, om my uit te spreek teen onreg.

Voorganger 2: Ek fluister vir U my antwoord omdat ek net nie verwerp wil word nie.

Voorganger 1: U vra na my oë, om die pyn van armoede raak te sien.

Voorganger 2: Ek sluit my oë, want ek wil bly lekker lewe.

Voorganger 1: U vra my lewe, dat U deur my wil werk.

Voorganger 2: Ek gee vir U net 'n stukkie sodat ek nie te betrokke sal raak nie.

 

Voorganger 1: Here, vergewe ons ons berekende pogings

om U te dien slegs soos dit ons pas,

slegs op die plekke waar dit veilig is,

slegs met hulle by wie dit maklik is.

Voorganger 2: Vader, vergewe ons. (uit: Gebedeboek)

Antwoord

O Jesus, in u lyding Lied 230/NSG 216: God, enkel lig

Genadeverkondiging

Bulletin

Slotsang

"O God van Jakob" Lied 275/NSG 35

Seën

"Die Here seën jou en beskerm jou, Hy sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees, en Hy sal al jou gebede verhoor en aan jou vrede gee!"

Amen

Lied 312/313/314/315/

Seëngroet

NSG 355/356

PREEKSTUDIE GENESIS 17:1-7, 15-16

Teks

Dié verhaal volg op die gebeure oor die kind Ismael. Abraham en Sara se geduld met God is op, en hulle neem reg in eie hande (Gen 16). Die tyd vir wag op God is verby. Ismael word verwek toe Abraham met Hagar gemeenskap het. Die Here seën ook vir Hagar en Ismael (16:10-15). Abraham was nege en negentig jaar oud toe die Here hier met Hom praat. Die vorige hoofstuk verwys na Abraham se ouderdom as ses en tagtig. Dertien jaar het verloop tussen die geboorte van Ismael en die verskyning van die Here in Genesis 17. Die samesteller van Genesis sien blykbaar geen rede om enigiets oor hierdie tydperk te berig nie.

Genesis 17:1-3: Na die gebeure in Genesis 16 verskyn God opnuut aan Abraham om sy belofte van n nageslag te bevestig! Hy stel Homself voor as "God die Almagtige", die God van die onmoontlike. Abraham sou sekerlik ietwat verras wees oor dié aankondiging. Immers, hy het reeds wat hy wou hê, naamlik n seun. Ons kom later weer hierop terug. Die eis om naby God te leef en opreg te wees, volg noodwendig op die verskyning van die Here. Hy word ook verseker dat die Here getrou sal wees. Omdat God die een is wat die beloftes hou, kan Hy vra dat die mens ook naby Hom moet leef! Juis dit dwing Hom om voor God op sy knieë neer te val (vers 3) n teken van absolute onderwerping.

Genesis 17:4: Die verbond is die primêre metafoor waardeur die verhouding tussen God en Israel beskryf word. Die teks benadruk dat dit "my" (die Here se) verbond is. Hier is nie sprake van gelyke vennote in n ooreenkoms nie, maar Abraham voor die Almagtige wat uit genade in die verbond deel. Die literatuur wys telkens op die verband tussen hierdie gedeelte en Genesis 15. Ons kan aanvaar dat dit twee verskillende gebeurtenisse was. Die verbond in Genesis 15 gaan terug op n ou gebruik van verbondsluiting. Hoewel Genesis 15 nie sterk in die debat rondom die aard van die Ou-Testamentiese verbond gefunksioneer het nie, is Burger van mening dat die basiese karakter van die verbond in hierdie gedeelte na vore kom. Mendenhall oordeel dat hierdie verbondstradisie die model vir latere verbondstradisies was. Die sogenaamde bilaterale verbonde, soos die Sinaiverbond, moet as 'n soort addendum tot hierdie basiese verbond gesien word.

Uit Genesis 15 en 17 blyk hierdie verbondenheid van verbond en belofte. Die verband tussen verbond en belofte in Genesis 17 is so nou, dat verbond en belofte as twee kante van een munt beskou kan word (Brueggemann). Von Rad meen selfs dat die woord "verbond" met belofte vertaal kan word. Die beloftes in Genesis 15 en 17 dra die karakter van onvoorwaardelike toesegging (Brueggemann). Die verbond in Genesis 17 dra die karakter van God wat Homself aan sy woord verbind, terwyl Abraham die stomme ontvanger van die belofte bly (Von Rad). Die beloftes is nie afhanklik van Abraham se geloofsreaksie nie, maar lê ten grondslag daarvan. Ook Genesis 15 benadruk hierdie karakter van die verbond. In 15:18 is dit God wat die verbond met Abraham gesluit het. Al die gebeure in hierdie verhaal, toon die goddelike inisiatief en die goddelike waarborg dat die verbond geldig is.

Genesis 17:5: In hierdie gedeelte word beide se name verander. Naamgewing deur iemand dui op een se oormag oor die ander. Die Almagtige (17:1) verander nie net die name van Abraham en Sara nie. Hulle naamsveranderinge dui op die identiteitsverandering wat God uit vrye guns in hulle lewe aanbring. Abraham word die vader van n menige nasies, al lyk alles hopeloos. Sara word n prinses, omdat sy die moeder van konings sal wees, al kan sy nie meer kinders hê nie. Die beloftes van God verander hulle lewe.

Genesis 17:6: Dat God alle nasies sou seën, is reeds vroeër in die verhaal benadruk (12:3). In hoofstuk 17 kom dit op verskillende manier na vore. Baie mense sal uit Abraham voortkom (vers 2). Hy sal n vader van n menigte (vers 4), van baie nasies wees (vers 5). Dis asof die skrywer herhaaldelik dieselfde gedagte benadruk, naamlik dat daar te midde van onvrugbaarheid iets wonderlik gaan gebeur. Die Abrahamverhaal word reeds hier aan die koningskap verbind. Die Dawidiese koningskap en die beloftes aan Abraham is nou aan mekaar verbind (ook 17:16).

Genesis 17:7: Die belofte dat Hy Abraham en sy nageslag se God sal wees, is meer fundamenteel as die land en nageslagbeloftes (Brueggemann). Brueggemann wys daarop dat hierdie belofte nog belangriker vir die volk in die 6e eeu geword het toe hulle in ballingskap was (ook Heb 11:16). Op daardie stadium het hulle hul land verloor, sonder vooruitsigte vir n voorspoedige toekoms. Die verbond is nie n individuele saak nie. Dit sluit die nageslag in (ook Hand 2:39; 16:31). Dis n ewige verbond. Klaarblyklik beteken dit dat hierdie verbond nie vervang sal word deur n ander nie. Die inhoud van die verbond is duidelik: Deur geslagte heen sal God Hom betoon as die getroue God wat nie sy mense in die steek laat nie. Sy mense moet soos sy eiendom leef. Die besnydenis is teken daarvan dat hulle in totale onderwerping aan Hom leef.

Genesis 17:15, 16: Die verhaal is nogeens n aanduiding van die ongeloof van Abraham te midde van God se beloftes. Aalders sê dat die jare wat verbygegaan het, die realisering van God se beloftes al meer onwaarskynlik gemaak het. Teen hierdie tyd was dit in elk geval menslik onmoontlik. Die Here benadruk nou dat Abraham dalk met n misverstand mag lewe. Dit is dus vanselfsprekend dat Abraham Ismael as enigste seun sien. Abraham het waarskynlik nie eens n nuwe belofte van God nodig gehad nie. Immers, hy het nou n seun gehad. Abraham lag daarom wanneer die Here n nageslag uit Sara belowe (17:17).

Dat Hy eintlik verstaan het dat God oor Ismael praat, word in vers 18 bevestig. Nadat hy lag oor God se beloftes, is die logiese tog dat God maar vir Ismael moet seën (vers 18). Hoewel dit vromer as vers 17 klink, bly dit n stuk ongeloof. Nou benadruk die Here dat die nasies, konings en nageslag, nie uit Ismael of Hagar sal kom nie, maar uit die onvrugbare ou vrou en man, Abraham en Sara. Die vader van geloof word weereens voorgestel as die ontroue een, een wat sukkel om te glo en wat eerder op Ismael, sy eie poging, wil reken as op God. God gee n belofte, maar Abraham hou vas aan Ismael.

Konteks

Hierdie is een van die kerngedeeltes oor die verbond, maar nogal moeilik om preke daaroor te vind. Woord teen die lig 5 het wel n studie oor die gedeelte, maar dit sluit die besnydenis in (17:1-22). Drie punte word gemaak. Allereers is die aard van die verbond belangrik; n ewige verbond wat van geslag tot geslag oorgelewer word. Die konstituerende faktor van die verbond is nie die volk nie, maar die naamsverandering, die identiteitsverandering van hulle wat tot hierdie verbond toetree. Hierdie verbond bly egter geldig deur die inisiatief van God. Tweedens die aspek van die besnydenis; die teken van die verbond. Deur die aanvaarding van die besnydenis, aanvaar Abraham en sy nageslag ook die verbondsverantwoordelikheid. Dit sluit die seën en die vloek van die verbond in. Hierdie teken dui ook op die universele karakter van die verbond omdat almal, slawe en vry mense, daarby ingesluit word (ook Ef 2:14). Derdens, die sekerheid dat God sy beloftes sal vervul. Elkeen wat glo word verras deur n God wat telkens sorg dat die verbondsbeloftes nie in n doodloopstraat beland nie, maar ingryp wanneer alles hopeloos lyk.

Aangesien die verbond n kernbegrip in hierdie gedeelte is, moet na enkele aksente in hierdie verband gekyk word. Die verbond word dikwels geassosieer "met geestelike doodsheid en vormgodsdiens, met mense wat teen bekering is en dink dat kinders sommer vanself weergebore is as hulle net in 'Christelike' huise grootgeword het" (König). Die Hollandse geleerde, Abma, vertel van sy ongemak oor die begrip toe hy jonger was. Vir hom het dit dikwels gelyk of die beroep op die verbond en die gepaardgaande verbondsbeloftes op n alternatiewe en skynbaar gemakliker manier om salig te word, dui.

Die volgende basiese aspekte van die verbond deurbreek egter hierdie misverstand. Allereers is die verbond niks anders nie as die genadevolle verhouding waarin God in die tyd met die mens getree het. In hierdie sin is die verbond slegs 'n ander woord vir evangelie (König). Die verbond is vir Calvyn van fundamentele betekenis vir die prediking, omdat die uitgangspunt van die verbond daarin geleë is dat daar by God begin word. Die Ou Testament benadruk dat die verbondsluiting 'n eensydige daad van die Verbondsgod is. Hierdie eensydige karakter van die verbond sê ook iets van die verbondsbeloftes. Die verbondsbeloftes word eensydig en onvoorwaardelik aan die mens toegesê. Die Nuwe-Testamentiese verbond vertoon dieselfde eensydigheid. In Christus "neem God ons verantwoordelikheid oor en doen wat ons moes gedoen het ... omdat Hy besluit het Hy wil met die mens in 'n verbond leef en daarom die verbond handhaaf" (König). Met die koms van Christus het n nuwe orde of verbond n aanvang geneem. Jesus is die vervulling van die beloftes van die verbond in die Ou Testament. God se beloftes het die hoogste vervulling bereik. Die Hebreërbrief beklemtoon twaalf maal dat die nuwe verbond die ou verbond by verre oortref (kreittón). Ook die beloftes is beter beloftes omdat dit getuig van volle vergifnis in Christus (Heb 8:6-13). Jesus Christus is die ja van God op al sy beloftes (2 Kor 1:20). Dit is duidelik dat die verbond in die Nuwe Testament 'n herinterpretasie van vroeëre tradisies is (Mendenhall). Dit word duidelik geïllustreer deur die verhale rondom die instelling van die nagmaal (Mat 26:28; Mark 14:24; Luk 22:20; 1 Kor 11:25). In al hierdie verhale word die bloed van Jesus in verband met die beseëling van die nuwe verbond gebring.

Tweedens kan hierdie eensydige, onvoorwaardelike, toeseggingskarakter van die verbondsbeloftes van die Here nooit verstaan word as die blote mededeling van n stand van sake waarvan die mens slegs neutraal kennis kan neem nie. Dit is uit die Skrif duidelik dat die toesegging van die beloftes aan die volk, die gehoorsame reaksie van die volk ten doel gehad het. Dit word geïllustreer deur die noue verband tussen die beloftes, verbond en besnydenis in hierdie hoofstuk. Die besnydenis funksioneer deurgaans as metafoor vir twee dinge: n Teken van afsondering en uniekheid. Israel behoort aan n gemeenskap waarvan die Here God is. Tweedens van ernstige en totale geloofsverbintenis en onderwerping aan God. Daarom vind ons in die Ou Testament gereelde verwysings na die besnydenis van die hart (Lev 26:41; Deut 10:16; Jer 4:4; 9:26 en Eseg 44:7). Nêrens in die Bybel word die simbool, die beloftes en die geloofsverbintenis van mekaar geskei nie. Wanneer dit gebeur, verloor die simbool sy betekenis. Brueggemann skryf dat die besnydenis en doop sowel n bekragtiging of negativering van geloof kan wees. Wanneer dit n leë teken sonder die belofte en eise van die verbond word, word dit n negatiewe alternatief vir die geloof. So n teken staan teenoor die doel daarvan. Die simbool is daar om mense tot geloofsverbintenis op te roep. Dit bekragtig die geloof wanneer dit n sigbare simbool van totale onderwerping aan God is.

Binne hierdie korrelasie kan daar inderdaad van die tweesydigheid van die verbond gepraat word. Hierdie tweesydigheid van die verbond kan egter nie so verstaan word dat God en mens op sinergistiese wyse saamwerk in die verkryging van die heil nie. Die mens is wel aktief, maar hierdie aktiwiteit is die gevolg van God se liefdesinsluiting van die mens in die genadeverbond. Daarom is die eenheid van belofte en eis vir Calvyn die uitdrukking van die aard van die verbond. Deur die kragtige werking van die Gees spreek God die mens in sy trou deur die evangelie aan, met die doel dat die mens in die geloof op die toesegging van sy beloftes in die evangelie moet reageer. Verskeie gedeeltes in die Bybel benadruk hierdie aksente van die verbond. Eksodus 20 toon aan dat die eise van die verbond 'n realiteit is. Hierdie eise kan nie los gesien word van die openbaring van die Naam van die Here nie (Eks 20:2). Die eise van die verbond wat nou volg, openbaar God se aanspraak op sy volk wat Hy sonder die eis van n voorafgaande verbintenis verlos (Childs). Die sogenaamde kultiese gedeeltes van die Ou Testament bevestig hierdie korrelasie tussen belofte en eis (1 Sam 15:22; Jes 1:11-18; Jer 6:20; 7:4,21-23; Miga 6:6-8; Hos 6:6; Am 5:21-23). Dit is duidelik dat die verbondsvolk die verbond nie meer verstaan het nie, aangesien hulle die daaglikse lewe geskei het van die kultiese rituele waardeur die gemeenskap met God gevier is.

Noordegraaf (1974) wys op twee belangrike sake wat in die verbondsbeskouing van die Nuwe Testament in gedagte gehou moet word. In die eerste plek word die hele verbondsvolk geroep en in die ligkring van die geopenbaarde heil geplaas. In die tweede plek hef hierdie roeping en toesegging van die geopenbaarde heil nie die geloof en bekering op nie. König sê: "Die basiese inhoud van die verbond is dus dat God uit genade in gemeenskap met sy volk leef (en in gemeenskap met alle mense wil leef), hulle seën en bewaar, hulle lei en vermaan, hulle sonde vergewe en hulle 'n nuwe lewe gee, sodat hulle Hom sal liefhê, Hom sal prys en dien, na Hom sal luister en daarom anders sal leef ..." Die indikatief en imperatief verkeer nie in spanning nie.

Daar is pogings aangewend om in die Ou Testament 'n onderskeid tussen voorwaardelike (Sinaiverbond) en onvoorwaardelike verbondsheil (Dawidiese verbond) aan te toon. Hiervolgens is daar twee lyne in die Ou Testament waarvolgens die verbondsbeloftes enersyds afhanklik gemaak is van die gehoorsaamheid van die volk en, andersyds, onvoorwaardelik, ten spyte van die sonde, aan die mens geskenk is. Dit is 'n vraag of hierdie onderskeid gehandhaaf kan word. Vriezen wys daarop dat daar verskillende vorme van verbondsverhoudings tussen God en sy volk bestaan het, maar dit beteken geensins dat die basiese monopleuriese struktuur van die verbond opgehef word nie. Dyrness meen die voorkoms van die sogenaamde voorwaardelike en onvoorwaardelike verbondsheil moet as twee kante van dieselfde verbond gesien word.

Die verband van hierdie gedeelte met lydenstyd lê op die vlak van die sluiting van die verbond. Die verbondsbeloftes dat die Here vir Abraham en sy nageslag n God sal wees en dat hulle sy mense sal wees, is die belangrikste raakpunt vir die prediking in Lydenstyd. In Christus is al God se verbondsbeloftes immers vervul. Deur Christus het God nogeens ja gesê vir die verbond. Paulus knoop dit ook vas aan die beloftes van die Gees (2 Kor 1:19-22). Verder: hoe kan ons anders as om oor die verbond te praat sonder om ook oor die reaksie van die mens op hierdie beloftes te fokus nie. Christus is die vervulling van die beloftes, maar dis nie al nie. Ons sê ook ja en amen daarop!

Preekvoorstel

Die lewe van Christene word dikwels as n pad voorgestel. Geloof is nie n eenmalige daad waardeur ek die beloftes van die Here omhels nie. Dis n wedloop. Daarvan maak die Hebreërskrywer baie wanneer hy die kerk vergelyk met die volk van God wat uit Egipte deur die woestyn op pad na die beloofde land getrek het. Ons het n vooruitsig, maar die pad daarheen is nie altyd maklik nie.

Ons loop ook nie graag hierdie pad soos die Here dit in gedagte het nie. Abraham en Sara het hulle eie pad gekies. In Genesis 12 lieg Abraham en Sara oor haar identiteit. In Genesis 16 is Hagar die antwoord op hulle kinderloosheid. In hierdie hoofstuk lag Abraham oor God se belaglike belofte. In Genesis 18 lag Sara daaroor. Keer op keer is hulle die toonbeeld van mense wat God se beloftes nie vertrou nie. Abraham het nou n rustige lewe. Hagar het vir hom n seun in die wêreld gebring. Die kind was al 13 jaar oud. Die Here het die kind geseën (16:10). Wat wil n mens meer hê? Nou krap die Here Abraham se lewe weer om. Om jou totaal op God te verlaat, is werklik moeilik. Dit vra om net uit die beloftes te leef. Ismael is die bedreiging vir die beloftes van die Here, omdat Abraham duidelik hom in gedagte het, nie n nuwe kind nie (Brueggemann). God se pad is nie noodwendig klaar met ons wanneer ons ons eie doelwitte bereik het nie. Abraham moes dit weer ontdek en leer wat dit is om die pad saam met God te stap.

Hoe begin n mens weer God se pad stap wanneer jy tevrede is met jou eie pad? Jy kan nie. n Mens hou nie daarvan nie. Dis nie in ons bloed om dit te doen nie. Dit is slegs wanneer God ingryp in ons lewe dat ons dit kan doen. Ons sien dit duidelik in hierdie verhaal:

- Die Here stel homself voor as die Almagtige. Hy is die een wat die onmoontlike moontlik gaan maak. Die een wat Abraham se toekoms gaan oorskryf, al het Abraham sy geskiedenis volgens eie plan geskryf.

- Hy gee sy beloftes en sluit die verbond met Abraham eensydig. Abraham is die stom ontvanger van God se beloftes. God se beloftes bly die waarborg dat sy wêreld nie in n doodloopstraat beland nie. As dit van Abraham afgehang het, was Ismael die enigste kind. Nie die natuurlike kind nie, maar die kind van die belofte is God se plan vir die wêreld. Daarom benadruk die Here dat Hy deur Sara sy beloftes gaan vervul.

- Abraham en Sara se name word verander. As Almagtige God het Hy die krag om mense se lewens totaal te verander. Met hulle naamsverandering kom ook n wesensverandering. God maak van die selftevrede en laggende Abraham n verbondsvennoot. God maak van die onvrugbare Sara n moeder van konings. Deur God se radikale ingrype in hulle lewe, word hulle ingeskakel by die verbond wat God sluit.

Dit is die pad wat God gereeld met mense stap. Dis nie die pad wat ons met God stap nie. Ons is doodtevrede met ons lewens. Ons doelwitte is bereik. In die proses vergeet ons van God se beloftes en van God se visie vir die wêreld. Die verbond wat God met Abraham gemaak het, is dikwels deur die eeue verbreek. Dit het die bloed van Christus gekos om die mense wat dit verbreek het, weer deel daarvan te maak. Paulus verwoord dit in 2 Korintiërs 5. Deur God se werk word ou mense nuut, deurdat God die sondes van die wêreld afskryf. So iemand leef nie meer vir homself of haarself nie, maar vir die een wat deur sy dood in n nuwe verhouding met die wêreld kom staan het. Wanneer God ons lewens verander, ons koers en toekoms aanpas, roep Hy ons op om hierdie pad saam met Hom te loop. Geen mens kan neutraal reageer op God se beloftes en ingrype nie. n Verliefde man het eenmaal gevra: hoe kan my meisie neutraal reageer op my liefde vir haar? Dis tog om dit te verwerp! God se beloftes vra dat ons onsself ook geheel en al sal onderwerp aan hom. Om in God se seën te deel, is genade. Om dit in jou lewe te beleef, vra dat jy dit opnuut elke dag sal omhels. Dit vra dat jy naby die Here sal leef en opreg sal wees. Dis n lewenslange pad. Dis n daaglikse leef uit God se beloftes.

Lydenstyd herinner ons aan God se nuwe begin met mense wat hulle eie sekerhede en toekoms bou. Dit herinner aan God se nuwe begin met mense wat dit nie reggekry het om God op sy beloftes te neem nie. Dit herinner aan God se nuwe begin waardeur ons identiteit verander word van sondaars na regverdiges. Dit herinner aan Iemand wat met bloed n nuwe verbond met beter beloftes tot stand gebring het. Die inhoud het dieselfde gebly. Hy is ons God en ons is sy volk. Voor hierdie God kan ons nie anders nie as om te buig in aanbidding, ootmoed en berou. Pascal het gesê dat Jesus n God vir wie ons kan nader sonder trots, voor wie ons kan buig sonder trots, en voor wie ons onsself kan verneder sonder wanhoop! Dis waaraan Lydenstyd ons herinner! Die getroue Heer het sy lewe afgelê om ons te verander, sodat ons deel van die nuwe verbond kan wees. Hy het dit uit genade gedoen. Ons mag, ten spyte van ons ontrou, voor Hom sonder wanhoop buig.

Bibliografie

Aalders, G Ch, 1981. Genesis. Volume 1. Bible students commentary; Abma, H G, 1974. De middelaar van het verbond, Vast en zeker! Aspecten van het verbond Gods; Brueggemann, W, 1982. Genesis. A Bible commentary for teaching and preaching; Burger, C W, 1988. Gen 15:1-21, in Riglyne vir prediking oor die Genesisverhale. Woord teen die lig II/3; Childs, B S, 1974. Exodus. A commentary; Cook, J, 1983. Gen 17:1-22, in Riglyne vir doopprediking. Woord teen die lig 5; Dyrness, W, 1979. Themes in Old Testament Theology; König, A, 1986. Die doop as kinderdoop en grootdoop; Mendenhall, G E, 1962. Covenant, IDB, I; Van Selms, A, 1979. Genesis, deel I; Von Rad, G, 1961. Genesis. A commentary. Revised edition; Vriezen, Th C, 1974. De verkiezing van Israel volgens het Oude Testament.