30 MEI 2004

PINKSTERfeesdiens

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Genesis 11:1-9

Ander tekste: Psalm 104; Handelinge 2:1-21; Johannes 15:26-27; 16:4-11

Inleiding

Die voorgestelde liturgie vir hierdie feesdag is gebaseer op die Lima-liturgie van die Wêreldraad van Kerke se Faith & Order-kommissie.

Indien die responsoriese gedeeltes in die liturgie om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in ’n gemeente is, kan ’n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

God versamel ons voor hom

Aanvangslied

Die klassieke, oudkerklike gebed "Veni Creator Spiritus" ("Kom, Skepper-Gees") is waarskynlik die mees gepaste keuse om as aanvangslied te gebruik. Lied 430 en 433 is weergawes daarvan in Afrikaans. Alternatiewelik kan ’n opname van die openingshimne van Mahler se Agste Simfonie (’n toonsetting van die "Veni Creator Spiritus") as aanvangsmusiek gespeel word.

Aanvangswoord

Die volgende samestelling van teksgedeeltes uit Johannes 16, Handelinge 2 en Esegiël 17 kan responsories gebruik word:

Voorganger: Die Gees van die waarheid het gekom

om ons in die volle waarheid te lei.

Wat Hy sê, kom nie van Homself nie.

Hy sê net wat Hy hoor

en Hy verkondig aan ons die dinge wat gaan kom.

Gemeente: Ons hoor dat daar in ons eie taal gepraat word oor die groot dade van God!

Voorganger: Die Gees verheerlik Christus,

want wat Hy van Christus ontvang, verkondig Hy aan ons.

Gemeente: Kom uit die vier windstreke, Gees van God,

en blaas in ons dat ons kan lewe. Amen.

Seëngroet

Voorganger: Vrede vir julle.

Gemeente: En ook vir jou.

Skuldbelydenis

Die gemeente bely hulle skuld saam hardop soos volg:

Genadige God,

ons bely dat ons in gedagtes, woorde en dade

teen U gesondig het;

deur dit wat gedoen het

en dit wat ons nagelaat het om te doen.

Ons het U nie lief gehad met ons hele hart,

en ons naaste nie liefgehad soos onsself nie.

Wees ons genadig, ter wille van u Seun, Jesus Christus.

Vergewe ons, vernuwe ons en lei ons

sodat ons vreugde kan vind in u wil

en kan wandel op u weg,

tot eer van u heilige Naam.

Amen.

Verootmoediging

Die gemeente sing Lied 434.

Vryspraak

Voorganger: Die Almagtige God

het sy Seun, Jesus Christus, gegee om vir ons te sterf

en Hy vergewe ons sonde op grond van die verdienste van Christus.

Hy het die Heilige Gees uitgestort

om ons te oortuig van ons sonde en skuld

en ons te herinner aan die verlossingswerk van Christus.

Daarom verkondig ek aan julle

volkome vergifnis van julle sonde,

in die Naam van die Vader,

en van die Seun

en van die Heilige Gees.

Gemeente: Amen.

Kyrie-litanie

Voorganger: Sodat ons in staat kan wees om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe en sodat om saam kan bely dat daar net één liggaam en één Gees is, net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal – laat ons tot die Here bid.

Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

Voorganger: Sodat ons saam een liggaam kan wees in gemeenskap met die liggaam van Christus wanneer ons die een brood breek en uit die een beker drink – laat ons tot die Here bid.

Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

Voorganger: Sodat ons wat almal deur Christus met God versoen is, verenig kan wees in die bediening van die versoening wat aan ons toevertrou is – laat ons tot die Here bid.

Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

 

Aanbidding en lof

Gepaste lofliedere kan nou gesing word, byvoorbeeld Lied 431, 432, 438 (NSG 174) of 439.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Albei verse van Lied 442 kan as gebed gesing word.

Skriflesing uit die Ou Testament

Genesis 11:1-9

Psalmrespons

Psalm 104 kan in sy geheel of gedeeltelik voorgelees word. Alternatiewelik kan sekere verse van die omdigting in die Liedboek gesing word, byvoorbeeld vers 1-4 en 13-16.

Skriflesing uit die Nuwe Testament

Johannes 15:26-27; 16:4-11.

 

Sang

Een van die Hallelujas uit die Liedboek/Sionsgesange kan deur die gemeente of ’n koor gesing word, byvoorbeeld Lied 189, 206, 204, 218 of 228 of NSG 1, 21, 19, 118 of 327.

Skriflesing uit Handelinge

Handelinge 2:1-21 (die Pinksterverhaal)

Prediking

Stille nadenke

Geloofsbelydenis

Die geloofsbelydenis van Nicéa

Voorbidding

 

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalgebed

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die brood,

die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.

Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die wyn,

die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.

Gemeente: Geseënd is God, nou en vir ewig!

Voorganger: Soos die koring wat oor die velde gestrooi was

en die druiwe wat oor die heuwels versprei was,

op hierdie tafel saamgebring is in brood en wyn,

mag u ganse kerk net so van die uithoeke van die aarde af

saamgebring word in u koninkryk.

Gemeente: Maranata! Kom, Here Jesus!

Voorganger: Mag die Here met julle wees!

Gemeente: En ook met jou!

Voorganger: Hef op julle harte.

Gemeente: Ons hef dit op tot die Here.

Voorganger: Kom ons bring dank aan die Here ons God.

Gemeente: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Voorganger: Aan U kom ons dank toe, Here ons God,

oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.

Want U het die Heilige Gees uitgestort

oor die mense in wie U ’n welbehae het.

Daarom juig die hele aarde

en roem die volke in velerlei tale.

Daarom sing ons saam met die engele en hemelwesens

die lof van u heerlikheid:

Gemeente: Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

Hosanna vir die Seun van Dawid!

Geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom!

Hosanna in die hoogste hemel!

Voorganger: Here God, Skepper van die hemel en die aarde,

U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.

Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom

sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.

Gemeente: Kom, Skepper-Gees!

Voorganger: Mag die Skepper-Gees die woorde van u geliefde Seun ’n werklikheid laat word.

Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem,

en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:

"Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis."

Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê:

"Hierdie is die nuwe verbond in my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis."

Gemeente: Ons verkondig u dood, Here Jesus!

Ons vier u opstanding uit die dood!

Ons wag op u koms in heerlikheid!

 

Voorganger: Here ons God,

ons roep vandag in herinnering die uitstorting van u Heilige Gees,

die Voorspraak wat U vir ons gestuur het,

die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan

en oor Christus getuig.

Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees

sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,

’n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.

Gemeente: Kom, Skepper-Gees!

Voorganger: Deur Christus, saam met Christus, in Christus,

behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,

in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.

Gemeente: Amen.

Voorganger: Ons is deur die Heilige Gees beseël as die eiendom van God. Laat ons dan nou saambid:

Gemeente: Die "Ons Vader"-gebed (kan ook in die vorm van Lied 266 gesing word)

 

Vredesgroet

Die gemeentelede groet mekaar met ’n handdruk of omhelsing met die woorde: "Mag die vrede van die Here met jou wees."

Instelling van die tekens

Die instellingswoorde van die nagmaal word uitgespreek deur die voorganger. Indien die "Veni Creator Spiritus" nie as aanvangslied gesing is nie, kan dit na die instellingswoorde gedoen word.

Uitdeling van die tekens en kommunie

Dankgebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Lied 437, 439 of 440 (NSG 180) (of een van die ander liedere hierbo genoem). Alternatiewelik kan Lied 533 of 534 as slotlied in aansluiting by die seën gesing word.

Seën

Mag die Gees van waarheid julle in die volle waarheid lei.

Sang

Lied 312-317 "Amen"/NSG355 of 366

 

PREEKSTUDIE – GENESIS 11:1-9

Ernst Conradie neem in die preekstudie ook die saak rondom Omgewingsondag in aanmerking. Omgewingsondag egter, kom tradisioneel op die eerste Sondag in Junie aan die orde, en val dus vanjaar op 6 Junie 2004.

Teks

Genesis 11:1-9 is `n besondere ryk teksgedeelte. Nietemin is die literêre eenvoud en ekonomie van styl opvallend. Dit is `n meesterstuk in die verhaalkuns met pragtige ironieë en alliterasies in die Hebreeuse teks.

Die plek van 11:1-9 binne die sogenaamde oergeskiedenis van Genesis 1-11 is belangrik. Talle temas wat in dié teksgedeelte aan die orde kom, kan net verstaan word binne hierdie konteks. Dit moet verstaan word as `n verhaal uit die oertyd, ingelui deur die term wayehi ("eendag, lank, lank gelede").

Die teksgedeelte is besonder netjies gestruktureer. Dit word omraam deur 1 en 9 waarin verwys word na die "tale van die hele aarde". Vers 2-4 word gebalanseer deur 5-7. Die handeling en woorde van die inwoners van Babel word opgevolg deur die handeling en woorde van Jahwe. Vers 8-9 bevat die redakteur se kommentaar op hierdie gebeure.

Waaroor gaan hierdie teksgedeelte eintlik? Die neiging om die betekenis van die teks tot één tema te probeer reduseer, moet weerstaan word. Dit is nietemin interessant om na verskillende voorstelle in die verband te kyk. Een moontlikheid is dat die verhaal oorspronklik doodgewoon `n storie vertel het waarin verduidelik is waar die stad Babel aan sy naam gekom het (alhoewel dit nie histories korrek is nie; die naam Babel beteken Godspoort). `n Ander moontlikheid is dat die storie verduidelik het hoekom mense verskillende tale praat. Beide hierdie voorstelle het `n punt beet, maar die teks se betekenis is klaarblyklik ryker as dit.

`n Sleutelvraag in die interpretasie van die teks is om te probeer agterkom hoekom die mense die toring wou bou. Wat was hulle motiewe? Wat het hulle nou eintlik verkeerd gedoen? Meer spesifiek: Hoekom wou hulle nie oor die hele aarde versprei nie (die verduideliking wat die teks gee vir die bou van die toring)? Dit is opvallend dat die teks hierdie vraag oophou en iets aan die verbeelding oorlaat. Daarom bevredig geen antwoord alleen werklik op hierdie vraag nie. Die antwoord is eintlik so kompleks soos die verhaal self. Die leser word uitgenooi om in te speel op al die temas in die teks en die moontlike motiewe vir die bou van die toring.

Dit is ook moontlik om die verhaal te lees as ’n implisiete kritiek teen ’n stadskultuur en die euwels wat daarmee saamhang. Hierteenoor sou die nomadiese of landelike lewenswyse (Eden!) as ideaal voorgehou kon word. Die mens moet vrugbaar wees en vermeerder en die aarde vul. Die toring van Babel simboliseer dus die stadsmens se verklaring van onafhanklikheid van God en hou ten nouste verband met die sondeval (aldus Jacques Ellul). Hoewel so ’n kritiek teen verstedeliking in terme van die Jahwis-oerbron moontlik is, moet ’n mens in die res van die kanon rekening hou met ’n veel meer positiewe houding teenoor stede (dink aan die stad Sion, die nuwe Jerusalem). Die verhaal sou ook gelees kan word as kritiek teen imperialisme – veral dié van Assirië en Babel (sien Gen. 10:8-12). In die teks word so ’n interpretasie gesteun deur die teenkanting teen uniformiteit en die bouwerk aan ’n militêre vesting (die toring).

Op grond van die verwysing na boumetodes word die verhaal ook soms opgevat as kritiek teen ’n ongebreidelde en destruktiewe uitbreiding van tegnologie (Die mense van Babel het gebakte stene en asfalt vir bouwerk gebruik as gevolg van ’n gebrek aan klippe op die vlakte van Mesopotamië. Dit was nietemin minder duursaam as die klip waarmee elders gebou is en daarom die spot van byvoorbeeld Kanaänitiese bouers). Die reaksie van Jahwe hierop is, gesien vanuit ons laat-moderne geïndustrialiseerde konteks, nogal raak: "Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie" (6). Dit is egter ’n vraag of hierdie interpretasies reg laat geskied aan die kompleksiteit van die teksgedeelte. Waarom sou Jahwe gekant wees teen stede en tegnologie as sodanig?

In die Christelike tradisie is die verhaal veral verstaan as waarskuwing teen hoogmoed en arrogansie. Hiervolgens is hubris die hoofmotief vir die bou van die toring. Dit word ondersteun deur verskeie temas in die teks. Die mense van die vlakte van Sinar wil ’n groot stad bou en daarmee saam ’n (imperialistiese) koninkryk opbou. Die mense se houding word weerspieël deur ’n mooi alliterasie in die Hebreeuse teks tussen mense (beni, seuns van) en bou (banu). Van Wolde vertaal dit in eietydse idioom as: "Big boys build big buildings". Die toring waaraan hulle werk, is ’n toonbeeld van hierdie houding. Dit sinspeel moontlik op die beroemde ziggurat van Babel, bekend as Etemenanki ("a marvel of coloured, glazed tiles, over 297 feet high" – Von Rad). Indien die toring van Babel wel dui op so ’n ziggurat ("a temple-tower presented as an imperial embodiment of pride and self-sufficiency" – Brueggemann), is hier sprake van meer as net ’n militêre vesting. Dit het naamlik ook ’n godsdienstige funksie gehad, min of meer soos wat talle katedrale en kerke vroeër met ’n hoë toring in die stadskern gebou is.

Die beplande toring in Babel sou tot aan die hemel (die woonplek van God) reik. Op hierdie wyse wou hulle vir hulleself ’n naam maak. In plaas daarvan dat hulle ’n toring bou ter wille van die naam van hulle god, bou hulle vir hulleself ’n naam. Hierdie motief word versterk deur die parallel in Jesaja 14:13-14 waarin die hoogmoed van Babel om tot by God te reik, eweneens veroordeel word. Hierteenoor loop ’n besigtigingstoer aan die mure van Jerusalem in Psalm 48 uit op die verheerliking van God se naam.

In ’n ironiese antwoord hierop het Jahwe letterlik baie laag afgebuk om te sien wat die mense daar onder aanvang (die ironie word weliswaar afgeswak deurdat v. 7 die neerdaal-motief herhaal). Jahwe bring heel sagkens ’n einde aan hierdie grootheidswaan deur taalverwarring te saai. Taalverskeidenheid is hiervolgens ’n instrument wat Jahwe gebruik om die mens se hoogmoed te temper. Dié wat ’n naam vir hulleself wou maak, kry ’n skeldnaam wat tot vandag toe nie vergeet sou word nie. "Babel" hou verband met die woord "balal" (verwar). Dit is interessant dat soortgelyke volksverhale oor die bou van ’n hoë toring (ook uit Afrika), anders as hier, beëindig word met die verwoesting van die toring.

Terwyl die tema van hoogmoed in die Christelike tradisie beklemtoon word, fokus die meeste Joodse geleerdes eerder op die motief van ongehoorsaamheid. Die opdrag van Genesis 1:23, 28 was dat plante, diere en mense vrugbaar moet wees, moet vermeerder en die aarde vul. Vrugbaarheid en verskeidenheid word dus as die seën van God uitgebeeld. In weerwil van hierdie opdrag vind daar by Babel ’n sametrekking plaas in één vlakte, één stad, één toring, één taal en één naam. Die toring is hiervolgens nie soseer ’n simbool van hoogmoed nie. Dit funksioneer immers nêrens in die Ou Testament as ’n simbool van Babel se hoogmoed of mag nie. Die toring is niks meer nie as ’n indrukwekkende wolkekrabber en daarom (amper soos die Eiffel-toring) ’n simbool van nasionale trots (ook Deut. 1:28, 9:1).

Die feit dat die toring "tot aan die hemel reik" is ook nie uniek nie. Dit kom elders in die Ou Testament met verwysing na Kanaänitiese bouwerke voor (Deut. 1:28, 9:1). Dit dui daar net op die ondeurdringbaarheid van die toring se fortifikasies. Die hemel self is nie soseer die woonplek van God nie, maar ’n integrale deel van die skepping van "hemel en aarde" (Gen. 1:1). Die soeke na ’n naam dui insgelyks nie op ’n verlange na roem nie, maar na ’n sterk identiteit, gebou op ’n spesifieke plek, stad en taal.

Volgens hierdie interpretasie wentel die teksgedeelte rondom die sleutelterm "versprei / verstrooi" (pûs) wat in die mense se planne (4), in God se reaksie (8) en in die redaksionele gevolgtrekking voorkom (9). Reeds in Genesis 9:18-19 word gesê dat die seuns van Noag oor die aarde versprei is. Hier is verspreiding klaarblyklik nie ’n vorm van goddelike oordeel nie, maar die vrug van God se skeppingseën (Gen. 1:28), wat na die vloed hernieu is (9:1, 7). In Genesis 10:18 lees ons ook dat die Kanaänitiese stamme versprei het. Die ryke en vrugbare verskeidenheid van plante, diere, mense, tale, kulture, rasse en nasies wat met die proses van verspreiding saamhang, is dus nie ’n vorm van oordeel oor die mens se sonde nie. Die term kan elders wel ’n meer negatiewe betekenis verkry ("verstrooi" in plaas van "versprei"). Dit verwys soms na die ballingskap waarin mense verstrooi is (1 Kon. 22:17; Jes. 11:12; Jer. 40:15; Eseg. 11:17; 20:34, 41; 28:25). Terwyl God wil hê dat die mens die aarde moet vul, trek hulle hier saam op een plek, Babel.

Die vraag is dan hoekom die mense van Sinar daarteen gekant was om oor die aarde verspreid te raak? Die antwoord op dié vraag het sekerlik met veiligheid en sekuriteit te doen. Dit gaan egter nie noodwendig net oor ’n misbruik van mag of heerssug nie. Hier is ook nie soseer sprake van ’n misplaaste eenheidstrewe nie. (Sommige gebruik die Babel-verhaal om die VVO, Wêreldraad van Kerke, of ’n eenheidstaat in Suid-Afrika te kritiseer.) Bernhard Anderson se verduideliking is miskien nader aan die waarheid:

"The city is the symbol of humanity's creative freedom to rise above the natural environment and to come together in social unity. It is a place of security from powers of chaos that threaten from the outside world, the 'wilderness.' It is a place where people may raise a memorial, even a religious monument (a ziggurat or a cathedral) that, at least for a period, stands above the flux and contingency of history. … Fear of the unknown – the trackless wilderness, strange places and faces, the uncertainties of the future – may impel a wandering people toward a center, where they organize to build a city or to create a civilization. They may eventually turn to a tyrant, like Nimrod, to carry out the policy of centralization. In the story Yahweh observes: 'This is how they have begun to act! Now everything they plan to do will be attainable' (v. 6). Whether this human activity should be described as hubris or as sin is debatable."

Dit is daarom ’n vraag of Jahwe se reaksie as ’n veroordeling verstaan moet word. Van Wolde (1994) wys daarop dat nóg die mense se diskoers nóg Jahwe se reaksie nóg die redakteur se kommentaar, enige aanduiding gee van menslike ambisie wat teen God gemik is. Dit is dus ’n vraag of hier werklik sprake is van die een of ander sonde van die toringbouers. Dit is ook moontlik om die verhaal te lees bloot as ’n korrektief (eerder as ’n straf) wat Jahwe aanbring wanneer dit vir Hom vooruit duidelik word dat die verloop van die geskiedenis dalk in ’n verkeerde rigting kan neig. Die struikelblok wat verspreiding oor die hele aarde kan verhinder (een taal) word uit die weg geruim. Differensiëring is nie ’n straf van God op sonde nie, maar ’n noodsaaklikheid vir die vrugbaarheid van die hele aarde.

Dit gaan in die verhaal oor ’n juiste verstaan van die mens se plek. Teenoor ’n sentralisering in een plek, beklemtoon Jahwe die belangrikheid van verspreiding na verskillende plekke toe. Ter wille van die aarde se vrugbaarheid is dit belangrik dat mense, diere en plante nie op een plek moet saamdrom nie, maar dat elkeen ’n eie plek moet vind. Hierdie interpretasie word ondersteun deur ’n woordespel rondom die Hebreeuse stam "šm". Die mense gaan woon daar (šam, 2) en bou ’n toring op die spesifieke plek (šam, 4). Deur op hierdie plek te bly, wil hulle vir hulle ’n naam (šem, 4) opbou. In reaksie op hierdie een plek en een taal beplan Jahwe om hulle taal daar (šam, 7) te verwar en verstrooi hulle dan van daar af (mšm, 8) sodat hulle mekaar nie meer kan hoor nie (šemah). Die tema van die verhaal wentel hiervolgens nie om die bou van die toring nie, maar om die verspreiding van die mense oor die aarde. Dit is ook die punt van die literêre konteks (Gen. 10; 11:10-31) wat juis gaan oor die verspreiding van die mensdom.

Dit is opvallend dat die mense van Sinar se planne teen verspreiding oor die aarde gemik was, terwyl verspreiding hier uitgebeeld word as God se wil. Dit bring die belangrike vraagstuk rondom verhouding tussen eenheid en verskeidenheid, tussen orde en chaos na vore. Die klassieke teologiese formules van "eenheid-te-midde-van-verskeidenheid" of "orde binne die chaos", is sekerlik te strak om reg te laat geskied aan hierdie teksgedeelte. Die teks is gemik teen ’n sekere vorm van eenheid, teen ’n soort strakke homogene uniformiteit, konformiteit en orde, teen die beheersing wat spruit uit die vrees en die dwang van ’n "fortress mentality". Die mens se soeke na eenheid en daarmee saam na mag kan inderdaad vreesaanjaend wees. Dit is ook Jahwe se gevolgtrekking: "Nou sal niks meer vir hulle onmoontlik wees nie." Anderson sê tereg: "The picture of a million people raising their hands in a single salute is an awe-inspiring – and frightening – vision." (Ironies genoeg is dié woorde op 16/3/2003 neergeskryf, terwyl oorlogswolke aangevuur word deur die wêreld se enigste supermoondheid teen die land van Babel – Irak.)

Dit is Jahwe se wil dat die aarde deur ’n ryke en vrugbare verskeidenheid gekenmerk sal word. Die soort eenheid wat God in gedagte het, kom in die motief van die verbond tot uiting (Gen. 9:8-11). Binne die verbond met God is daar ruimte vir ’n wye verskeidenheid mense, tale, rasse en kulture, wat op verskillende plekke wortelgeskiet het en mekaar se regmatige plek erken. Brueggemann sê daarom: "The purpose of God is neither self-securing homogeneity as though God is not Lord, nor a scattering of autonomous parts as though the elements of humanity did not belong to each other." Nóg uniformiteit nóg ’n gefragmenteerde verdeeldheid is die wil van God.

Dit is juis binne dié konteks dat die kwessie van taal belangrik is. Die teksgedeelte is nie soseer gemik teen ’n eenvormige taal (linguistiese imperialisme) nie. Dit is ook nie soseer ’n pleidooi vir die regte van verskillende taalgroepe nie. Die goddelike ingrype bring wel ’n taalverwarring teweeg omdat mense mekaar se tale nie meer kan verstaan nie. Die woord "verstaan" wat in die NAV gebruik word, is ’n vertaling van die bekende Hebreeuse term "shema", wat eintlik dui op mense se vermoë om na mekaar te luister (Brueggemann).

Konteks

Daar is veral drie belangrike eietydse kontekste waarbinne die verhaal oor die toring van Babel gelees word.

Pinkster

Binne die Christelike kerk kan Genesis 11 nie anders verstaan word as vanuit die perspektief van die jaarlikse viering van Pinkster nie. Dit is gebruiklik om die verband tussen Genesis 11:1-9 en Handelinge 2 te verduidelik in terme van "spreek in tale". In beide gevalle gaan dit egter nie soseer oor die feit dat mense verskillende tale praat nie. In Genesis 11 is die gevolg van God se ingrype dat mense nie meer mekaar se taal kan verstaan nie. Eintlik is dit ’n geval dat hulle nie meer na mekaar geluister het nie. Die wonder van Handelinge 2 het nie soseer daarmee te make dat mense verskillende tale praat nie. Dit gaan eerder daaroor dat mense ander kan verstaan wat in vreemde tale praat. Die klem in Handelinge 2 val nie op praat nie, maar eerder op hoor (sien 2:6, 8, 11, 14, 37). ’n Mens sou kon sê dat hulle na vreemdelinge leer luister het. Dit gaan dus nie om die verwarring wat dikwels met "spreek in tale" geassosieer word nie (dit is tipies van die bedeling na Babel), maar eerder om ’n merkwaardige helderheid en verstaanbaarheid wat deur die Gees se werking moontlik geword het (Michael Welker).

Apartheid

’n Bespreking van Genesis 11 binne die Suid-Afrikaanse konteks moet noodwendig in die reine kom met die rol wat hierdie teksgedeelte gespeel het in apartheidsteologie (sien veral Jonker 2001, ook vir verdere verwysings). In talle kerklike dokumente uit die apartheidsera, veral in Ras, volk en nasie (1974), speel die verhaal van die toring van Babel ’n sleutelrol. Trouens, die skriftuurlike basis van hierdie ideologie word hoofsaaklik op hierdie een teksgedeelte gebou. Dit is nie moeilik om te verstaan hoekom dit die geval is nie. Babel is immers ’n simbool van verskeidenheid en teenkanting teen eenheidsdenke. Die ideologie van apartheid was juis ’n poging om die belangrikheid van verskeidenheid oftewel "veelvormigheid", te beklemtoon. Hiervolgens verskil mense van mekaar. Daar is verskillende rasse, kulture, volke, tale en nasies. Hierdie verskeidenheid is God se wil. Die (gedwonge) integrasie van verskillende (etniese) groepe moet daarom in die naam van God weerstaan word. Dieselfde soort mense is nie net geneig om met mekaar te assosieer en daarom apart van mekaar te woon nie. Hulle moet ook apart van mekaar gehou word sodat die God-gegewe verskeidenheid nie bedreig word nie. Die sisteem van apartheid is juis ontwerp om mense apart van mekaar te hou, met mag en geweld indien nodig. Dit is op elke moontlike terrein van die samelewing toegepas: seks, families, woongebiede, skole, hospitale, treine, poskantore, kerke, politieke verteenwoordiging, en tuislande vir elkeen. In teorie was die stelsel daarop gemik om reg te laat geskied aan die verskeidenheid van mense. In die praktyk het die stelsel egter tot ekstreme vorms van ongeregtigheid aanleiding gegee. Dit hoef niemand te verbaas nie, want die apartheidsbestel het berus op ’n sisteemdenke wat almal en alles by voorbaat binne één oorkoepelende stelsel probeer inpas het. Die klem op verskeidenheid, eiesoortigheid en selfstandigheid (wat inderdaad deur die teks ondersteun word) funksioneer dus as rookskerm vir die sentraalbeplande bestel wat op almal afgedwing is.

Hiermee word God se ingrype by die toring van Babel juis verontagsaam. Meer nog, die hele verdere voortgang van die evangelie word daarmee misken. Die drie belangrikste temas van die Belydenis van Belhar, naamlik eenheid, versoening en geregtigheid, het ’n belangrike teologiese korrektief op die skeefgetrekte eksegese van Genesis 11 gebied.

 

Omgewingsondag

Daar is talle temas in Genesis 11 wat vanuit ’n ekologiese perspektief ontgin kan word. In die eerste plek kan ’n mens wys op die ekologiese impak van ’n stadskultuur in ’n geïndustrialiseerde konteks. ’n Mens kan hier dink aan lug- en geraasbesoedeling, die berge afval wat groot stede produseer, energieverbruik, die impak van nywerhede, asook die onhigiëniese omgewing waarbinne miljoene arm mense saamgedrom lewe, in die groot stede van ons tyd. Tweedens kan ’n mens wys op die ekologiese impak van moderne tegnologie. Genesis 11 kan sekerlik nie as ’n kritiek teen óf ’n stadskultuur óf die gebruik van tegnologie verstaan word nie. Tegnologie is ’n vorm van menslike kreatiwiteit wat op sigself moreel neutraal is. Dit kan ten goede of ten kwade aangewend word. ’n Mens sou wel kon sê dat die gebruik van tegnologie die impak van die sonde dramaties kan vererger. Tegnologie is nie op sigself sonde nie, maar waar sonde met behulp van tegnologie gedoen word, het dit verwoestende gevolge. Dit blyk veral uit die vernietigende ekologiese impak wat tegnologiese "vooruitgang" wel kan hê. Voorbeelde kan maklik vermenigvuldig word: kernenergie, oorlogswapens, moderne landboumetodes, die motor- en vliegtuigindustrieë, genetiese ingenieurswese, ensovoorts. Dit is asof Jahwe se vrees in 6: "Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie", in ’n laat-moderne geïndustrialiseerde konteks ’n apokaliptiese weerklank vind. Meer nog, die pretensie van die apologete van tegnologie is nie meer dat hulle torings tot aan die hemel sal reik nie, maar dat tegnologie die hemel op aarde sal bewerkstellig – en dat God daarvoor eintlik oorbodig geraak het (Thielicke). Derdens kan ’n mens wys op die hegemonie van ’n verbruikerskultuur (consumerism) en die ironie van eenvormigheid (’n Coca-Cola-advertensie in elke dorp) in die naam van verbruikerskeuses.

Hierteenoor is dit opvallend hoe ’n sleutelrol die motief van die "hele aarde" (col-ha'arets) in die teksgedeelte speel. Dit kom nie minder nie as vyf keer voor. Dit vorm die eerste en die laaste woorde van die teksgedeelte. Die frase "taal van die aarde", of in Hebreeus eintlik "tong van die aarde", word gewoonlik idiomaties vertaal en verstaan as die tale wat mense oral op die aarde praat. In haar bydrae tot die Earth Bible-reeks meen Van Wolde dat só ’n lees van Genesis 11 mens-gesentreerd is. Sy argumenteer dat die aarde se eie stem hier gehoor word. Dit is opvallend dat die aarde in Genesis 1-11 inderdaad ’n eie gesig (1:29; 2:6; 8:9, 13; 11:4, 8, 9), ’n mond (4:11 met verwysing na die bloed van Abel) en ’n tong (11:1, 9) het. Ons dink gewoonlik dat die mens die aarde kan bekyk, as 't ware van buite af, maar hier word die mens bekyk vanuit die perspektief van die aarde. Die mens (Adam, homo) kom voort uit die grond (adamah, humus) en vorm so deel van die aarde se gesig. Die aarde het ’n eie gesig wat in Genesis 1-11 herken en erken word. Dit is na die gesig van die hele aarde dat God kyk. "Let's face it": God is oor die hele aarde en nie net oor die mens begaan nie.

Hoewel ’n mens hieroor kan argumenteer, is dit so dat ons geneig is om die reikwydte van die teks te reduseer tot God se interaksie met mense. Hierteenoor maak die herhaalde verwysings na die aarde, asook die konteks van Genesis 1-11, dit meer as duidelik dat God begaan is oor die welsyn van die hele aarde. Die skepping en val van die mens pas binne hierdie groter prentjie in. God is begaan daaroor dat die plante, diere en mense op die aarde vrugbaar sal wees, dat hulle sal vermeerder en dat die aarde gevul sal word met ’n ryke verskeidenheid van lewe. Hierdie opdrag is na afloop van die vloed opnuut belangrik (9:1, 7). Genesis 11 voltooi die skeppingsverhaal van hoofstukke 1-11 en vertel van God se korrektief op mense se planne wat steeds te eng en beperk is (al reik dit tot aan die hemel). ’n Mens sou kon byvoeg dat waar mense nie meer na mekaar luister nie (shema), is Jahwe die een wat na die taal van die hele aarde luister en dit verstaan. Die punt is egter nie dat ons, soos God, die stem van die hele aarde moet probeer verstaan (of beheer) nie. Dit kan alleen God doen. Ons moet eerder leer om ons plek iewers op aarde te vind, daar wortel te skiet, vrug te dra en ons (beperkte) plek te ken – in nederigheid voor die aangesig van God.

Liturgie en prediking

In die prediking moet daarmee rekening gehou word dat die teks hier tegelyk op Pinkstersondag en Omgewingsondag gelees word. Die preekvoorstel hieronder volg die gang van die bespreking hierbo in die sin dat die verskillende moontlike interpretasies van die gedeelte teen mekaar afgespeel word.

Votum en Seën

Die konteks waarbinne Genesis 11 verstaan moet word, kan liturgies aan die orde gestel word deur iets meer te maak van God se seën. Hiervoor kan die verse uit Genesis 1 wat dui op vrugbaarheid, vermeerdering en die volheid van lewe, gelees word (bv. 11, 20, 22, 24, 28). Dit is belangrik om te beklemtoon dat hierdie seën nie net op mense van toepassing is nie, maar eers op plante, voëls, visse en diere. Dit is alles die werk van die Gees van God wat oor die aarde sweef (1:2).

Die gewyde voorlesing van elke vers kan onderbreek word met musiek, orrelspel of die sing van ’n wye verskeidenheid van lofsang aan God as Skepper.

Skuldbelydenis

Wat het in ons dag van God se seën en van die opdrag wat daarmee saamhang geword? Die gemeente kan gevra word om vir ’n oomblik na te dink aan die probleme waarmee ons vandag te make het: oorbevolking, die uitwissing van talle spesies, die impak van ’n stadskultuur op die aarde se vrugbaarheid, die misbruik van talle vorms van tegnologie en die vernietigende ekologiese gevolge daarvan. Hoewel gegewens en statistieke hier gebruik sou kon word, is dit waarskynlik beter om die gemeente toe te laat om self hulle gewete voor God te ondersoek en skuld te erken en bely waar nodig.

Sing na afloop hiervan Sionsgesang 8; Liedboek van die kerk 190-192.

Skriflesing:

Genesis 11:1-9; Handelinge 2:1-13

Prediking

As inleiding tot die prediking kan die bespreking in 1b hierbo gebruik word: Hoe moet ’n mens die verhaal van die toring van Babel verstaan? Daar is baie interpretasies. Die sleutelvraag is wat die mense se motiewe was by die bou van die toring. Die vraag word juis nie deur die teks beantwoord nie, maar ons as lesers word uitgenooi om saam daaroor na te dink. Op ’n vernuftige wyse laat die skrywer ons toe om ons eie motiewe in die verhaal in te lees en om dan voor God daarvoor rekenskap te gee.

Hierop kan verskillende moontlikhede (op ’n ietwat speelse manier) aan die orde gestel word:

’n Verduideliking vir die naam Babel of vir taalverskeidenheid (sien 1b hierbo)

’n Kritiek teen ’n stadskultuur, imperialisme of tegnologie (sien 1c hierbo)

’n Kritiek teen menslike hoogmoed (sien 1d hierbo)

God se (sagte) korrektief op menslike ongehoorsaamheid (sien 1e hierbo)

Teologiese kommentaar op eenheid en verskeidenheid (sien 1f, 2a, 2b hierbo – gebruik na gelang van omstandighede)

’n Prentjie van God se besorgdheid oor die vrugbaarheid van die aarde (sien 2c hierbo)

Die prediking op Omgewingsondag kan afgesluit word met die perspektiewe op die funksie van plek in die slotparagraaf van 2c hierbo. Ons moet elkeen vir ons ’n plek op aarde vind, daar wortelskiet en vrug dra en ons plek ken. Ons as mense is nie God nie. Dit het ook implikasies vir die verantwoordelike gebruik van tegnologie en die ontwerp van stede. Baie lidmate kan hierin ’n rol speel vanuit hulle werksituasies. Elke vorm van lewe se regmatige plek moet beskerm word.

Dankoffer

Die dankoffer wat die gemeente na één plek gebring het, kan hier as ’n teken gebruik word van die vrugbaarheid van die werk van God in die gemeente, maar ook oor die hele aarde. Waarvoor gaan hierdie dankoffer benut word? Hoe gaan dit hiervandaan uitgedeel en versprei word? Hoe sal dit help om ’n eie plek te bied vir alle mense en alle vorms van lewe? Hoe sal dit vrugbaar wees in God se diens? Dalk kan die diakens die dankoffers simbolies uitdra (by die kerkdeure uit), elkeen met ’n spesifieke opdrag van die kerkraad om die geld verantwoordelik te gaan bestee ter wille van die welsyn van die hele aarde.

Bibliografie

Brueggemann (Interpretation); Van Selms (POT); Von Rad (OTL); Wenham (WBC); Westermann (BKAT, TI); Jonker, LC 2001. The Biblical legitimization of ethnic diversity in Apartheid theology. Scriptura 77, 165-184; Thielicke, H s.a. Hoe de wereld begon. Wageningen: Zomer & Keunings; Van Wolde, E 1994. Words become words. Semantic Studies of Genesis 1-11. Leiden: Brill; Van Wolde, E 2000. The earth story as presented by the Tower of Babel narrative, In: Habel, NC & Wurst, S (eds): The earth story in Genesis. Sheffield: Sheffield Academic Press.