9 maart 2003

Eerste Sondag in Lydenstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Genesis 9: 8 - 17

Ander tekste: Psalm 25: 1 - 10; 1 Petrus 3: 18 - 22; Markus 1: 9 - 15

Inleiding

God se reënboog as herinneringsteken aan sy selfopgelegde inperking deur die verbond (sien preekvoorstel). Aan die hand van die Bybeltekste en die ontwikkeling in die liturgie vanaf 'God Vergader Ons' tot en met die 'Uitsending', kom God se verbondstrou aan die orde. Die reënboog as deurlopende motief, te same met die doop en prediking stel God se getrouheid aan sy belofte teenwoordig, wat 'n klimaks bereik in die viering van die verbondsmaal. As ontknoping, of eerder as gelowige reaksie op hierdie voorafgaande belofte-bevestiging, reageer die gemeente met 'n skuldbelydenis vanuit die psalms, waarna die liturg weereens God se trou bevestig in die vryspraak en seën.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Inleidende gesprek

Die liturg kan voor die kansel op dieselfde vlak as die lidmate gaan staan en dan vir hulle vra of hulle dink daar genoeg rede in die wêreld is om 'n tweede sondvloed te regverdig. Wag vir 'n paar antwoorde en kondig die eerste lied aan. Terwyl gemeente die lied sing, gaan op na die kansel.

Sang

Lied 164/NSG 38

Aanvangswoord

"My reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde". (Gen 9: 13)

Seëngroet

"Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, deur die werking van die Heilige Gees!"

Antwoord

"Heilige Jesus" Lied 168/NSG 160

Doop

Hierdie Sondag is by uitstek geskik vir die bediening van die doop in die lig van die leesroostertekste. Gebruik gerus Luther se Sondvloedgebed (sien Basisliturgie) en maak iets meer van water as simbool. Die tradisionele (te groot) dooprok is uiteraard net soos die doopwater ook 'n simbool van die heilsame vloed, van die reddende vloedwater wat die sonde afwas.

Geloofsbelydenis

Ons glo in die God van water

wat 'n verbond met mense en diere gesluit het

ons glo in sy geliefde Seun

oor wie Hy Hom verheug

ons glo in die Heilige Gees

wat soos 'n duif op Jesus neergedaal het

uit 'n oopgeskeurde hemel

waar daar nog somtyds 'n reënboog sit

 

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed vir die opening van die Woord/Epiklese

Sien basisliturgie, of as afwisseling kan een van die kinders die volgende gebed bid.

Here,

ons hoor deesdae van skewe reënboë, nadat ons gehoor het ons is 'n reënboognasie. Ander kere hoor ons weer mense praat van 'n reënboog deur hulle trane. En van kleins af het ons gehoor dat daar 'n pot goud aan die einde van die reënboog is. Laat u Heilige Gees vanoggend in ons harte en gedagtes werk, om só u reënboog op 'n nuwe manier te sien.

Amen

Skriflesing

Genesis 9: 8 - 17 (laat een van die lidmate lees)

Kindertyd

Hongerdoek

Prediking

Antwoord

"Jesus, o dink aan my" Lied 384 /NSG 161 "Jesus, u gaan voor"

DIENS VAN DIE TAFEL

Indien dit prakties moontlik is in julle gemeente, laat diegene wat aan die nagmaal wil deelneem vorentoe kom en 'n sirkel vorm. Dit is moontlik om 'n paar sirkels na mekaar te vorm, of om een groot sirkel al teen die mure om te maak. Julle sirkel(s) sal afhang van die argitektuur van die kerkgebou en die lidmaattal.

Groot nagmaalsgebed

Sien Basisliturgie van Lydenstyd.

Formulier

Uittreksel uit nagmaalsformulier oor gedagtenismaaltyd.

Sang

"Eet die brood" Lied 303 /NSG 370 "U het die brood gebreek"

Dankoffers

UITSENDING

Verootmoediging en skuldbelydenis

Voorganger: Tot U, Here, rig ek my, my God, op U vertrou ek.

Gemeente: Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie.

Voorganger: Niemand wat sy of haar verwagting in die Here stel, sal beskaam

word nie.

Gemeente: Dié wat nie op die Here vertrou nie, hulle kom in die skande.

Voorganger: Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het.

Gemeente: Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie.

Voorganger en gemeente:

Vergewe ons sonde, Here, want dit is groot.

(Tyd van stilte waarin mense terwyl hulle bly sit naam gee aan hulle oortredinge, en diegene wat wil dit op papier aan die kruis gaan spyker. Indien hierdie ritueel wel gedurende Lydenstyd gebruik word sal dit goed wees indien dit dan nie op Goeie Vrydag funksioneer nie, of andersom.)

Sang

"Is dit, is dit my Koning" Lied 389/NSG 97 (sittende)

Genadeverkondiging

Voorganger: Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan.

Gemeente: Hy laat aan die hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad.

Voorganger: Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar. Jou sonde is vergewe, glo dit. Amen.

Bulletin

Slotsang

"Middelpunt van ons verlange" Lied 393/NSG 180

Seën

So seker as wat die reënboog nog steeds in wolke is, so seker as wat jy gedoop is, so seker hou God sy belofte met jou en seën Hy jou nou opnuut.

"Die Here seën jou en beskerm jou, Hy sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees, en Hy sal al jou gebede verhoor en aan jou vrede gee!"

Sang

Amen Lied 312/313/314/315

 

PREEKSTUDIE GENESIS 9:8-17

Teks

Met n eerste lees van die teks val n paar gedagtes op. God praat met Noag en sy seuns (vers 8). God sluit n verbond (vers 9). God gee n teken (vers 12). God maak n belofte (vers 15). God dink aan sy verbond (vers 16). In die opbou van dié gedeelte staan die reënboog sentraal. Dié natuurverskynsel trek die gedagtes byeen. Die woord "reënboog" kom drie keer in dié teks voor (verse 13, 14, 16).

n Tweede lees vra na die betekenisinhoud van verbond, belofte en teken.

Oor die verbond is die teks uitvoerig. Die verbond word deur God self gesluit (vers 9). Hy neem inisiatief en bind Homself in n verhouding in. Die verbond word gesluit, beide met mens én dier (verse 9 & 10). Noag, sy seuns, hul nageslag én alle lewende wesens uit die ark, word in God se verbond ingesluit en daardeur bevoordeel (vers 10). God belowe dat Hy dié verbond sal hou (vers 11).

Die belofte dui beide op die manier waarop God handel én die durende effek daarvan. In die verlede het God op n sekere wyse gehandel. In die toekoms sal dit anders wees. Hy sal nie weer die mensdom en diereryk met vloedwater uitwis nie. Die verbondseën word na die aarde uitgebrei, wat nie weer deur oorstromings oorweldig sal word nie (vers 11). Dié verbond is ewig, het n universele werking, geld vir alle toekomstige geslagte, en word met n teken bekragtig (vers 12). Dat die Ewige God alle tye oorskou, is volgens Van Selms die beste argument vir die kinderdoop.

Die wese en betekenis van die teken word eweneens breedvoerig in die teks uitgewerk, terwyl die woord "teken", drie keer in die teks voorkom (verse 12, 13, 17). Dit verwys na die verbond wat God sluit - met mens en dier (vers 12). Die teken konfronteer die mens met Gods aanbod van verbondseën, verskyn in die wolke, en bevestig God se verbond met die aarde (vers 13). Die teken wat God kies is die reënboog (vers 14), n herinnering vir Homself. Hy neem die verbond wat Hy met mens en dier sluit ernstig op (vers 15). Die reënboog in die wolke laat God aan die lewende wesens op die aarde dink (vers 16). Dit is simbool van God se verbintenis aan die aarde en die hoë waarde wat Hy aan lewe heg (vers 17). Die vertaling van die Nederlandse Bybelgenootskap het die uitdrukking "mijn boog" in vers 13. In die lig daarvan vra Van Selms of dit sou beteken dat God n gespanne boog het, soos die Ugaritiese jagter-Baal, maar hy wys dié interpretasie af. Volgens sy verklaring dui die uitdrukking "mijn boog" eerder op dié boog waaroor God alleen kan beskik. Die skrywer van Genesis sien die reënboog as onderpand van God se geduld met die aarde. Die reënboog wat nog altyd was, word nou deur God tot teken gemaak van sy genade, wat ook nog altyd daar was.

n Derde lees van die teks bring die breër literêre verband ter sprake. Genesis 9:8-17 vorm deel van die verhaal oor die sondvloed (Van Selms; Gen 6:5-9:19). In n preekstudie oor Genesis 6:9-22; 7:23-24; 8:1, 14-19 (Jaar A: Advent 2001 tot Koninkrykstyd 2002), bespreek A. Nel dié gedeelte as deel van die Noagverhaal (Genesis 6:9-9:29). Nel bied n aantal insigte wat vir dié studie belangrik is.

Eerstens staan die verhaal van Noag nie los van Genesis 6:5-8 nie. Dié verse funksioneer beide as afsluiting van die vorige gedeelte en as inleiding tot die verhaal (Van Selms dui 6:4 aan as aflsuiting van "de voortijd". Na die sondvloed begin die tydperk waarin die skrywer van Genesis en sy lesers leef). Tweedens het daar ander verhale oor n vloed in die Ou Nabye Ooste bestaan. Die Noagverhaal vorm deel van n algemene skat uit die oorgelewerde literatuur van baie beskawings, maar die Genesis verhaal is uniek in die teologiese betekenis daarvan.

n Aantal sentrale motiewe in die Noagverhaal: (i) Genesis 6:5-13 beklemtoon die diepte van die mens se sonde, met morele motivering vir die vloed. Die mens se sonde beklemtoon die teenstelling tussen God se doel met die skepping en hoe dit nou is; n vasgeloopte skepping. Alles is korrup. Noag se karakter bied weliswaar n alternatief vir die vasgeloopte skepping, maar hy staan nie sentraal nie. God staan in die sentrum. Hy is Noag genadig en word bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Die mens se sonde laat God geen ander keuse nie as om alles tot niet te maak; (ii) Genesis 6:14-22 verwys die eerste keer in die Ou Testament na die verbond. Dit bevestig n bestaande verbond (vers 18). God gaan die aarde vernietig, maar die lewe van mens en dier spaar. Die skeppingsmotief word herhaal; (iii) Genesis 7:23-8:1 vertel hoe God die aarde volgens sy besluit tot niet maak. Die aarde is weer in n staat van chaos, met God op die punt om nuut te begin. Genesis 8:1 is die skarnierpunt in die Noagverhaal. God het onthou, met Noag as voorwerp van God se herinnering en genade (Gen 6:8). God se herinnering druk sy medelye uit. Wanneer God aan mense dink, doen Hy iets aan hul omstandighede. Hierin lê die evangelie van Genesis 8. Een van die sterkste motiewe in die vloedverhaal is God se vrye besluit om die aarde wat Hy gemaak het, te vernietig; (iv) Genesis 8:14-22 handel oor Noag se offer as natuurlike reaksie van n mens wat n lewensbedreigende ervaring oorleef het. Die elemente van dankbaarheid en toewyding is ter sprake, terwyl God die vloek oor die mens uit vrye guns ophef.

Konteks

1. Die wisselwerking tussen sonde en water in dié teks is opvallend (K.C. Hanson). In Genesis 9 groei die mens se sonde tot buitengewone proporsies, sodat God n watervloed stuur om die ganse aarde te "was" en n "nuwe skepping" te begin. Chaos en skepping, reiniging en verlossing, dood en opstanding, word deur die water as besondere simbool van vernuwing opgeroep. Een van die motiewe in die vloedverhale van die Ou Nabye Ooste, is dat die held van die vloed en sy familie, die oorgang verteenwoordig tussen die ou era voor die vloed en die opvolgende era.

2. Genesis 9:1-17, God se gesprek met Noag en sy familie, staan in die teken van God se herhaalde seën in sy opdrag aan die mens om vrugbaar te wees, baie te word en die aarde te bewoon (verse 1&7). Dié seën oor die mens, word gevolg deur die totstandkoming van n verbond (vers 8-17), parallel aan God se gesprek met die eerste man en vrou (Genesis 1:28-30; Verskeie woorde, sinsnedes en stylelemente in dié gedeelte herinner volgens Van Selms aan Genesis 1:1-2:3). Met die verbondsluiting maak God n belofte met die aarde (Gen 9:11). Hy is nog gesinsgod, nog stamgod, nog volksgod. Hy is God van die aarde (Esterhuyse).

3. Genesis 9:8-17 in die konteks van Lydenstyd. Lydenstyd (Eng. "Lent") was in die vroeë geskiedenis van die Christendom n tyd van voorbereiding vir die doop van katkisante (Hanson).

Die antieke name vir Lydenstyd (Latyn, Quadregesima; Grieks, Tessaronkoste) is die "Veertig Dae" genoem. Veertig is n antieke simboliese getal wat dwarsdeur die Bybel voorkom en gewoonlik dui op n tydperk van oorgang en voorbereiding (Vgl. Gen 7:12; Eks 24:18; 34:28; Deut 9:9; Eks 16:35; Rig 3:11; 5:31; 8:28; Eseg 29:11-13; Jona 3:4; Mark 1:13; Hand 1:3).

Dié oorgangsperiode word deur Arnold van Gennep en Victor Turner die "liminal stage" of "liminality" genoem. Die Latynse woord "limen" beteken beide "drumpel" en "grens" (Eng. margin). Die Engelse woord "liminality" verwys dan na beide die oorsteek van n drumpel van een stadium na n ander, asook om op die grens van die samelewing te beweeg gedurende die oorgangsperiode.

Ons staan in terme van die kerkjaar in die oorgang tussen Epifanie en Heilige Week. Gedurende die Middeleeue het die klem verskuif vanaf voorbereiding vir die doop, na skuldbelydenis en refleksie deur die hele kerk. In dié verband speel die woestyn n belangrike rol as plek van onttrekking, refleksie en her-skepping.

4. In haar soeke na en ontwerp van taal om oor die mens se God-ervaring binne konkrete historiese omstandighede te praat, ontwikkel die Duitse teoloog D. Sölle, n skeppingsteologie (God heeft mensen nodig) as bevrydingsteologie. Sy het ten doel om die, volgens haar persoonlike ervaring, onderdrukkende elemente in die Westerse Christendom bloot te lê. Dié projek vorm deel van Sölle se teologiese nadenke sedert die laat 1970s. In gesprek met die bevrydingsteologie ontwikkel sy onder andere n skeppingsteologie as konkretisering van haar riglyne vir n politieke teologie, naamlik die kriteria van praksis en solidariteit. Volgens haar is die God van die Bybel n bevryder-god. Die mens kan sy godsbeelde verander omdat God self van gedagte verander. Die reënboog, sê Sölle, is simbool van God se ommekeer. Die reënboog bevestig dat God, soos die Ou Testament oor Hom praat, van gedagte verander en sy vloek oor die aarde teruggetrek het. God het die oorlogsboog neergelê en in n boog van die verbond verander. Dit is nou simbool van vrede. Die reënboog is volgens haar teken van vrede tussen God en aarde. Die aarde sal nooit weer vervloek word nie. Die reënboog herinner aan potensiële vrede, die beloofde vrede, die vrede wat die mens self moet bewerk (Denk aan de regenboog). Hierin word die mens se rol as mede-skepper van God beklemtoon. Dié interpretasie van die Noagitiese verbond kan lei tot geringskatting van God se genade, maar open n perspektief op die mens se verantwoordelikheid teenoor die skepping.

5. In sy boekie oor die verhale in Genesis 1-11 beklemtoon W.P. Esterhuyse ook die elemente van genade en vrede. Hy wys op twee kante van dieselfde munt in dié verhale, naamlik God en sy genade. Vandaar die titel van sy boekie: "Genade sonder weerga."

In die verhaal oor die sondvloed en God se verbond met Noag, kom dié genade karakter van God duidelik aan die lig. Met die verbond sê God dat daar altyd lewe sal wees. Hy verbind Homself daartoe. Die doel met die verbond was om n verbintenis tot die bestendiging van vrede te bewerkstellig. God sê hiermee hoe Hy voortaan teenoor die mens sal staan.

Die verpligtinge wat die verbond vir die mens meebring, is dié wat in Genesis 9:4-6 aangedui word. Van Selms vind dit ietwat vreemd dat dié verpligtinge nie uitdruklik verbondsbepalinge genoem word nie. Hy meen egter dat die skrywer dit duidelik wil stel dat God Hom in elk geval aan sy belofte sal hou, al sou die mens die verpligtinge van Genesis 9:4-6 ignoreer.

6. Die sondvloedgeskiedenis is prediking oor God se geregtigheid (Van Selms). Enersyds openbaar Hy sy geregtigheid in sy oordeel oor sosiale onreg (Gen 6:11, 12 - korrupsie en "verrotting"). Andersyds laat Hy sy geregtigheid in die redding van die regverdige Noag sien.

Hier is sprake van n gedeeltelike loonetiek; God straf die kwaad, maar beloon die goeie. Dit is slegs n gedeeltelike vorm van loonetiek, aangesien die teks nie sê dat die mens goed moet doen om beloning te ontvang nie. Dit is wel duidelik dat die regverdige God uitsonderinge op sy algemene oordeel maak (Van Selms).

Dié gedeelte verkondig ook dat God aan sy skepping getrou bly. Die besluit om die wêreld te vernietig is nie n maklike besluit nie, maar God weet dat die mens sondaar is. Nietemin belowe God om die wêreld waarop die mens woon, voortaan in stand te hou. Hy skep positiewe behae in die "krioelende lewe" wat uit sy hand voortkom. Ter wille van die lewe, sal ook die mens, die swak skakel in die ketting, nie vernietig word nie. Die reënboog is teken van God se trou. Dit sal God in sy toorn aan sy ontferming herinner (Van Selms).

God se verbond met alle lewende wesens, beteken dat God getrou aan die aarde sal wees, maar van die mens vra dit eerbied vir God se skepping. Die lewe moet gerespekteer word, omdat dit n skepping van God self is. Ter wille van God, moet die mens sy medemens respekteer. Die verbond het die karakter van wedersydse selfbeperking (Van Selms). God beperk Homself met betrekking tot sy regmatige toorn, terwyl die mens sigself met betrekking tot die diere en die medemens moet inperk. Van Selms beklemtoon die sedelike karakter van die skepping as hy sê dat die menslike bestaan deur rasioneel-morele kragte wat onder God se heerskappy staan, beheers word. Daarom die mens se morele verantwoordelikheid teenoor God oor die totale skepping.

Preekvoorstel

1. Met die oog op voorbereiding vir prediking en erediens, gebaseer op Genesis 9:8-17, behoort die prediker n aantal vrae oor die praktiese toepassing van die teks in ons wêreld te beantwoord.

Hoe sou God die wêreld waarin ons vandag leef sien, teen die agtergrond van wat Genesis oor die mense van Moses se tyd sê? Wat beteken God se belofte om die aarde voortaan te spaar vir ons dag, in terme van hoop, roeping en verantwoordelikheid? Dink aan dié belofte binne die konteks van die Lydenstyd en hoe Christus se lyding God se hart vir die sondige wêreld blootlê. Wat sê God se liefde vir die aarde, ten opsigte van die Christen en die kerk van Christus se optrede vandag, teenoor mens, dier en aarde, in die lig van God se verbond met Noag? Hoe kan die reënboog as teken benut word in aansluiting by sentrale geloofsimbole, om gemeentes te help om God se verbond en roeping te onthou en te gehoorsaam? In aansluiting by die reënboog as teken, behoort die prediker erns te maak met die vraag hoe kinders in die erediens betrek kan word. Help die kinders om die teken in die natuur met God se boodskap aan die aarde te verbind - dat God van gedagte verander het, om die aarde met mens en dier te herskep. Die boog as n brug tussen God en aarde, deur God self gebou, omdat Hy vrede met die skepping begeer en die lewe hoog ag.

2. In die ontwerp van n erediens kan die prediker verskillende kante met dié teks uitgaan.

Die liturgiese gebruik van dié teks in die geskiedenis van die kerk, skep n rykdom liturgiese moontlikhede. Die teks is geskik vir die openbare belydenis van geloof, doop van lidmate, en n diens aan die einde, of begin van n jaar. In dié verband behoort die simboliese betekenis van water, die rol van die reënboog as teken van God se trou, en die oorgang tussen tye aandag te kry. Die belofte dat die toekoms in God se hande is, kan uitgebou word.

Die insluiting van die teks in die Leesrooster by die Lydenstyd, bring tweedens die konteks van die kerklike jaar ter sprake, spesifiek die gemoedstemming van lydenstyd. In dié verband behoort die reflekterende stemming van Lydenstyd en die klem in die teks op God se refleksie, aandag te kry. n Preekvoorstel hieroor kan aansluit by die reënboog as teken van God se genade en trou, maar veral by die karakter van die reënboog as herinneringsteken vir God self. As die reënboog vir God daaraan herinner dat Hy sy ontferming aan die mens beloof het, dien dit ook as herinnering vir die mens aan sy sonde en die rede vir die sondvloed. Die teken en tema van herinnering kan benut word vir n meditatiewe soort preek, waarin die gemeente gehelp word om op God se verandering van gedagte te fokus, en daardeur gedwing word om na binne te kyk en oor die sonde van elke dag te peins - in die gees van lydenstyd.

n Derde moontlikheid is om die wedersydse beperking wat God deur die verbond aan Homself én die mens opgelê, as uitgangspunt te neem. In dié verband kan die klem geplaas word op die vernuwende krag van die verbond, asook op die sosiale verantwoordelikheid wat God se persoonlike hartsverandering vir die mens inhou. As God Homself aan die skepping aarde en lewe verbind met n belofte en teken, waardeur Hy Homself voortdurend aan sy selfopgelegde verantwoordelikheid herinner, behoort mense ook oor hulle verantwoordelikhede in die lig van die verbond na te dink. Hoe kan daar doelbewuste pogings aangewend word om aan dié verantwoordelikhede uitdrukking te gee? Die prediker kan die gemeente help om die eis om respek vir die skepping en God self, binne die konteks van die eie lewensomstandighede te bedink. Praktiese voorbeelde waarin die veragting van skepping en lewe, eerder as respek, in ons wêreld beklemtoon word, is tans volop. Gebruik die voorbeelde as motivering vir n oproep tot self-ondersoek en beoordeling van die uitlewing van ons verantwoordelikheid vir die skepping.

n Vierde moontlikheid vir n preek uit dié teks, kan aansluit by insigte van Hanson, wat wys op twee kante van menslike lewe (een onbekend, een meer bekend) uit dié verhaal. Die verbond konfronteer die mens met menslike wisselvalligheid en onvermoë om beloftes na te kom, asook die voortdurende ervaring van verandering. Teenoor die mens se wisselvalligheid staan God se ewigdurende verbond, gegrond in sy onveranderlike karakter. Dié verskil tussen God en mens, maak dit eintlik onmoontlik om n begrip te vorm van die ewigdurende karakter van die verbond. Geen menslike ervaring of eienskap gee daartoe toegang nie. Wat die mens wel verstaan, is die ervaring van voortdurende verandering. Dit word algemeen aanvaar dat verandering n mate van verlies tot gevolg het. Met elke oorgang na n nuwe situasie of omstandigheid, word iets van die verlede agtergelaat. Die nuwe verbond tussen God en alle lewende wesens, verteenwoordig n oorgang en verandering. Wat agter gelaat word is die ou orde van totale vernietiging deur die watervloed. Die aanbreek van die nuwe dag waarvan Noag getuie was, kon slegs in hoop, gebaseer op n belofte, geleef word. Noag, sy familie en alle nageslagte moet voortaan vashou aan God se belofte: "Nooit weer nie!" Voortaan sal God anders optree. Dié punt open n Christologiese invalshoek in die Lydenstyd.

Bibliografie

Esterhuyse, W.P. 1988. Genade sonder weerga. Tafelberg; Hanson, K.C. 1999. The Season of Lent, in New Proclamations (Year B, 1999-2000). Fortress Press, pp.159-162; Hanson, K.C. 1999. First Sunday in Lent. Genesis 9:8-17, in New Proclamations (YearB, 1999-2000). Fortress Press, pp. 172-174; Nel, Annes 2001. Genesis 6:9-22; 7:23-24; 8:1, 14-19, in Preekstudies met Liturgiese voorstelle gebaseer op die Leesrooster vir lidmate (Jaar A: Advent 2001 tot Koninkrykstyd 2002). BUVTON, pp 201-206; Sölle, D. 1978. Denk aan de regenboog. Uitgeverij Ten Have; Sölle, D. & S.A. Cayes 1985. "God heeft mensen nodig", een theologie van de schepping. Uitgeverij Ten Have; Van Selms, A. 1984. Genesis, Deel I. POT. Uitgeverij G.F. Callenbach.