Genesis 1:1-5 (Ian Nell)

9 Januarie 2000

Eerste sondag na Epifanie

           

Ander tekste: Genesis 2:1-15, Rut 4:1-18, Psalm 29, Markus 1:4-11, Handelinge 19:1-7, Openbaring 4:1-11

God is nie gelukkig met die chaos nie, daarom stuur God sy Seun as die Lig.

 

Die eerste waaroor ons vir onsself duidelikheid moet kry, is die vraag: Watter gedagtes en assosiasies roep die voorlees en verkondiging van dié perikoop by kerkgangers op? Die moontlikhede is natuurlik legio. Die reaksie kan varieer van 'n gevoel van bewondering vir dié pragtige lofgedig oor die skepping en 'n vertroudheid en liefde vir dié bekende woorde, tot 'n gevoel van irritasie op grond van 'n voorafkennis van al die misverstande en diskussies wat daar bestaan rondom òf 'n Bybelse skeppingsgeloof òf wetenskaplike evolusieteorieë. Wat die gevoelens ookal mag wees, ons moet in gedagte hou dat kerkgangers definitiewe verwagtings gaan hê wanneer hulle hoor dat Genesis 1 die teks vir die dag is.

Dit beteken dat ons as homilete vir onsself ook duidelikheid moet kry rondom ons eie "voorverstaan" van dié verhale oor die oergeskiedenis. Die gevaar is dat ons graag ons eie gedagtes oor dié gedeelte wil gaan verdedig en ander s'n wil veroordeel. Sodanige voorveronderstellings kan 'n oop luister na die Skrifgedeelte belemmer. Die beste manier om laasgenoemde te neutraliseer, is deur so wyd as moontlik oor die onderwerp te lees en verskillende denkrigtings te integreer tot 'n eie verstaan.

In Woord teen die Lig II/3 gee Fouché (1988:19-44) 'n baie volledige uitleg van Genesis 1:1-2:4 met verskillende preekvoorstelle en 'n baie volledige bronnelys. Dit word gou duidelik dat daar aan die hand van Genesis 1 oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe gepreek kan word. Daarom is dit noodsaaklik om die fokus vir hierdie spesifieke Sondag duidelik te verwoord en aan die hand daarvan enkele opmerkings te maak met die oog op die prediking.

Met die oog op die eerste Sondag na Epifanie benader ons die interpretasie van Genesis 1:1-5 in dié preekstudie binne die groter konteks van die doop van Jesus. Vandag is, in navolging van die tradisie van die Oosters kerk, die viering van Jesus se doop. Dit herinner ons daaraan dat sy doop in 'n sekere sin die begin van sy openbare bediening was. Dit beteken dat ons met dié bril na die gedeelte gaan kyk. Daarom gaan ons spesifiek ook poog om 'n verbinding te maak tussen Genesis 1:1-5 en die Nuwe Testament-gebeure rondom Jesus se doop (vgl. Mark 1:4-11, die evangelieteks vir vandag).

Teks en konteks

Dit is duidelik dat die vasstel van die literêre genre van die perikoop nie 'n eenvoudige taak is nie. Von Rad noem dit byvoorbeeld 'n belydenis oor God wat die hoorders wil leer hoe om God en die wêreld te sien, en Barth noem dit 'n sage wat op 'n sprokiesagtige vertelwyse waarheid wil oordra. Wat in elk geval deur die meeste eksegete aanvaar word, is dat die verhale oor die oergeskiedenis 'n relatiewe láát ontstaanstyd het – gedurende of selfs ná die Babiloniese ballingskap. Gedurende dié tyd het die priesters allerlei verhale en wette versamel en dit vir hul Joodse broers en susters verwerk. Dit is ook waar ons die aanduiding P (priesterkodeks) vir die skrywer van Genesis 1 vind.

Waarom het hulle die skeppingsgeskiedenis uiteindelik op dié manier verwoord? Omdat hulle dit in die eerste plek van teologiese belang gevind het om die God wat Israel uit die geskiedenis geken het, met die skepping van die heelal en die ontstaan van die mens te verbind. Daarom gaan dit in Genesis 1 nie om 'n skeppingsgeloof nie, met ander woorde 'n geloof ín die skepping nie – alle omringende volke het immers so 'n geloof gehad – dit gaan eerder om 'n Skeppergeloof: oor Wie as die Skepper van die hemel en die aarde bely word.

[NDP1] [NDP2] Dit beteken verder dat die skrywer van dié geskiedenis ook 'n pastorale doel gehad. Die volk Israel het deur die ballingskap ingrypend met die mag en wysheid van die omringende volkere te make gekry. Dit kon maklik daartoe lei dat die Israeliete kon dink dat God se glorieryke handelinge met hulle tot die verlede tyd behoort. Met dié verhale wou die skrywer dus die volk bemoedig tot 'n geheel nuwe visie – die geheel van alles wat sigbaar is, en die samehang van die geskiedenis, met inbegrip van die chaos, die beangste duisternis ens. Die God van Israel het álles geskape, die chaos is getransformeer tot orde en lewe. So heilsaam skep God in die begin en gaan Hy voort van dag na dag. Dié geloof gee visie en krag om vol vertroue op God te leef. En wat die mens dus alles rondom hom sien: son, maan, sterre, diere, plante, voëls, visse, mense, selfs die beangste donkerte van diep waters – is alles tekens van God se bemoeienis en sorg dat Hy nooit die werke van sy hande laat vaar nie.

Met laasgenoemde in gedagte, sien 'n moontlike struktuuranalise van ons spesifieke perikoop soos volg daaruit:

'n Beskrywing van die chaos tydens die skepping (verse 1-2)

'n Beskrywing van die eerste skeppingsdaad (verse 3-5).

Gesien vanuit die perspektief wat ons by die inleiding bespreek het, met ander woorde met die bril van Jesus se doop op, speel vers 2 'n sleutelrol: "Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef." Ons sou dié vers se beskrywing van die chaos in die volgende frases kon verdeel: (1) die aarde was vormloos en onbewoonbaar, (2) daar was algehele duisternis oor die waters, en (3) die Gees ('n wind) van God het oor die waters gesweef (gewaai).

Die onbewoonbaarheid (chaos) van die aarde dui daarop dat dit sonder vorm en struktuur was. Die Hebreeuse woord vir die diep waters, "face of the waters" (NIV) (Tehom) is 'n selfstandige naamwoord. Dié waters is sentraal in die skepping van die aarde én die hemel (vgl. die vierde skeppingsdag). Hierdie donker diep waters hou 'n bedreiging in vir die mens. In die Babiloniese godsdienste was dié waters 'n godin, Tiamat, 'n woord wat nogal verwant is aan die Hebreeuse woord Tehom. Die verwysing na die "Gees van God" is in 'n sin óók dubbelsinnig aangesien dit vertaal kan word met 'n magtige wind, eerder as Gees van God. Dit is dié dubbelsinnighede in die taalgebruik wat ons daarvan moet weerhou om met oormatige selfvertroue dié verskillende elemente wat by die skepping betrokke was, te interpreteer. Dit lyk dus of die dubbelsinnighede doelbewus was as gevolg van die onsekerheid van die onderwerpe waaroor geskryf is. Die skrywer se woordkeuses dui dus reeds op 'n pluriformiteit van motiewe wat aanwesig is in dié oerverhale. Wat ons ook egter baie goed in gedagte moet hou, is dat die grondtoon van die hele skeppingsverhaal lofprysend is. Dit blyk uit die refrein "En God het gesien dit is goed."

Na 'n bespreking van die water chaos vertel die skrywer van Genesis vir ons van die gebeure op die eerste skeppingsdag. Toe het God gesê: "Laat daar lig wees!" En daar was lig. Terwyl daar by die omringende volkere die geloof bestaan het dat lig die gawe was van selfstandige goddelike magte in die vorm van sterre, was die skrywer van Genesis daarvan oortuig dat God self die bewerker van die lig was. Na die ordening van die chaos in verse 1 en 2 vind ons dus hier God se eerste skeppingswerk, en na die skepping van die lig merk God op dat dit goed was. Hy vind vreugde in sy skeppingswerk, wat beteken dat dit beantwoord aan sy doel. Die skeiding tussen die lig en die duisternis wys daarop dat die lig 'n eie karakter het en dat dit nie met die duisternis gemeng moet word nie.

Preekvoorstel

Sondag na Sondag bely ons: "Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde…" Maar is ons werklik oortuig van wat ons hier bely? Kan ons dit met oorgawe na sê as ons terugkyk na die gebeure van die afgelope honderd jaar om nie eers te praat van die afgelope millennium nie? Twee wêreldoorloë waarin miljoene mense gesterf het. Atoombomme wat stede verwoes het. Konsentrasiekampe waarin 6 miljoen Jode uitgewis is. In ons eie land was dit Boere oorloë, grensoorloë en politieke geweld wat menselewens goedkoop gemaak het en wat ons herinner aan die chaos van die donker oerwaters voor die skepping.

Maar dit is nie net die mens wat bewus is van chaos en donker diep waters nie, die natuur ken dit ook. Die katastrofe van die olieskip Exxon Valdez in die waters van Alaska 'n bietjie meer as 10 jaar gelede, is 'n voorbeeld van die bedreiging van dié donker diep waters. Die olievermorsing wat daar plaasgevind het, het onmeetbare skade veroorsaak. Die uitwissing van die reënwoude en die geleidelike verhitting van ons planeet dra nog verder by tot die chaotisering van ons habitat.

Die donker ongeordende chaos gaan egter ook verder as mens en natuur. Ruimtewetenskaplikes maak ons baie benoud wanneer hulle teoretiseer oor die sogenaamde "black holes" wat daar in die kosmos aanwesig is. Swart gate wat by magte is om alle lig as 't ware op te suig. Met ander woorde net mooi die teenoorgestelde van wat ons as 'n stabiele skepping sou beskou. Hierdie kombinasie van oorloë, olie-slyk en swart gate in die atmosfeer sou ons goed kon vergelyk met die ongeskape materie van voor die skepping.

Kan ons met oorgawe bely: "Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde…" in die lig van dié chaos? 'n Chaos wat ons ook omring aan die begin van 'n nuwe millennium. 'n Chaos wat in 'n sekere sin dalk groter is as die chaosmagte van die vorige eeu. Die chaos is groter en die woestheid en leegheid van 'n hoër graad, omdat dit 'n morele karakter dra en dit 'n wanverhouding openbaar tussen hart en hand, tussen mag en gesindheid. Ons redelikheid het ons sedelikheid verbygesteek.

Baie mense het hierdie wanverhouding aanvaar. Hulle het die verantwoordelike mens afgeskryf en in sy plek 'n fabrikaat geplaas wat volgens 'n bepaalde metode geproduseer word – wesens wat net so onbarmhartig en hardvogtig as die chaosmagte is. Mense wat hulle nie steur aan die orde wat God vir sy skepsels gestel het nie. Die reg word nie in ag geneem nie en die oordeel nie gevrees nie. Die barmhartigheid word nie beoefen nie en die liefde nie betoon nie. Waarheid word nie gehuldig nie en skuld nie bely nie, sonde word nie vermy nie en berou nie getoon nie.

Waar is dié God wat ons as Almagtig bely te midde van die gevare van die chaos wat ons ook op dié manier bedreig? Dit is duidelik, daar is gewis in ons jaar-, eeu- en millenniumwisseling iets van 'n krisis van 'n nuwe skepping.

As gelowiges kan ons nie anders as om ons hoop te plaas op die Nuwe van God se skeppingwoord nie. Want God het eenmaal dié chaosmagte bedwing om vir ons 'n woonplek te gee. Hy het die donkerheid laat opklaar, sodat ons lewe en dood voor ons voete kan onderskei. Dit is híérdie almag van God wat ons Sondae bely in ons Credo: "Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde…" Ons bely dit in die aangesig van die chaosmagte wat ons ons vul met vrees.

Want, al het dié chaosmagte 'n breuk tot gevolg gehad in God se goeie skepping, beteken dit nie dat God verloor het en dat die Satan nou heers nie. Die chaos kan nooit heers nie, want dít is God s'n. Daarom sê Paulus die skepping wag reikhalsend om vrygemaak te word van die verganklikheid waarin dit nou gedompel is as gevolg van die breuk met God. En omdat ons weet dat dit God se aarde is hierdie, leef ons in die hoop op die totale verlossing, wanneer God weer alles in almal sal wees.

Want toe die duisternis oor die aarde gekom het, het die Lig geskyn, en die duisternis kon die Lig nie oorweldig nie. Jesus Christus is die Lig, want Hy was van die begin af by God. Niks het ontstaan wat nie deur Hom ontstaan het nie. Ons hoop is op dié Nuwe van God se skeppingswoord, op die Lig van die wêreld, Jesus Christus. Daar is geen ander toekoms nie.

Dit weet ons want die Vader het self by Jesus se doop verklaar: "Jy is my geliefdes Seun. Oor Jou verheug Ek My." In die doop van sy Seun vloei die waters bymekaar. Daarom bring Genesis 1:1-5 ons by so 'n dubbele nadenke oor die doop. Want dit beklemtoon dat water beide noodsaaklik, maar ook bedreigend is vir lewe. Ons teks wil egter nie angs en onsekerheid by ons wek nie, maar juis die kreatiewe krag van God illustreer. Vers 3-5 maak dié punt duidelik deur te wys hoedat God struktuur en stabiliteit geskep het uit hier chaotiese situasie. Die skepping van lig in kontras met die duisternis is daarom ook die eerste in 'n reeks van dié tipe kontraste. Die resultaat is die delikate balans in die skepping wat ons van dag tot dag ervaar.

Daarom gee Genesis 1:1-5 'n belangrike dimensie in ons nadenke oor die doop. Want dit neem hierdie belangrike Christelike rite en plaas dit vir 'n oomblik buite die gemeenskapservaring daarvan. Deur die plasing daarvan binne die konteks van die skeppingsverhaal wys dit eintlik vir ons ook op God se verhouding met die ganse wêreld – van chaos na orde.

Dit is by die doopvont wat ons dus perspektief kry op die chaoswaters van Genesis, die rivierwater van die Jordaan en die doopwater in 'n bakkie. Dit is hier waar die waters van hemel en aarde in mekaar vloei. Want dit verbind die allesomvattende heelal ook met jou en my as enkeling. Die Skepper van die heelal is die Skepper van die mens, van die enkeling.

In die water van die doopvont is die ambivalensie van die gelowige se lewe opgesluit. Want terwyl dit ons aan die een kant herinner aan die oerwaters van chaos, herinner dit ons ook aan die ander kant aan die Skepper God wat dit georden het. Terwyl dit ons aan die een kant herinner aan die donker dieptes, herinner dit ons ook aan die ander kant aan God se skeppingswoord: "Laat daar lig wees." Terwyl dit ons aan die een kant herinner aan vrees en verdrinking, herinner dit ons aan die ander kant aan lewe en redding.

Daarom het God die kerk op aarde gevestig met die opdrag: "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.."

Dit beteken dat ek en jy as gedooptes van dié Lig moet getuig. Want elkeen wat gedoop en wat in die Lig staan, is soos 'n lig wat nie onder 'n maatemmer is nie. So getuig ons van die Lig. Vertel ons vir die wêreld die koninkryk sal kom, want dit is God se wêreld. En kan ons steeds met oorgawe Sondag na Sondag bely: "Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde."

 

Literatuur

Berkhof, G I 1989. Die Woord in beweging, 209-215. Fouche L. Woord teen die Lig II/3 Riglyne vir prediking oor die Genesisverhal. 1988:19-44; Soards, M et al. 1993. Preaching the Revised Common Lectionary. Year B;


 [NDP1]

 [NDP2]