Ander
tekste: Handelinge 16:16-34; Psalm 97; Johannes
17:20-26
Die
teksgedeelte volg na die beskrywing van die nuwe Jerusalem en dit is belangrik
om dit konseptueel daarmee te verbind.
Die verwagtingvolle verlange na die koms van Christus hang saam met die
nuwe wêreld wat Christus kom inisieer het en tot voleinding bring. Hoewel die konseptuele verband met die
voorafgaande Skrifgedeelte behou moet word, is dit duidelik dat Openbaring
22:6-21 as ‘n tipe epiloog funksioneer. Hierdie ‘epiloog’ korreleer met die
proloog in Openbaring 1. Daar is
duidelike ooreenkomste: in beide gevalle word gewys op die betroubaarheid van
die profesie (1:3 en 22:6); dat dit in
gemeentes gelees moet word (1:11 en 22:18) en dat dit bedoel is as bemoediging
vir die gelowiges (1:3 en 22:12).
In
Openbaring 22 vers 6 bevestig die engel die betroubaarheid en waaragtigheid van
die voorafgaande woorde aangaande nuutheid, waarna ons in vers 7 lees dat Jesus
sê dat Hy gou kom. Die saak van die
spoedige koms van Christus laat ons natuurlik met vrae. Dit is immers nou 2000 jaar later en
Christus het nog nie (weer)gekom nie.
Dit is duidelik dat die vroeë kerk ‘n verwagting van die spoedige koms
van die Here gehad het. Oor hierdie
saak van die sogenaamde Naherwartung
is al baie geskryf. ‘n Bekende antwoord
op die probleem is dat ons sedert die eerste koms van Christus ons in die
‘laaste dae’ bevind en dat hierdie era enige tyd tot ‘n einde kan kom. Dit gee
aan die lewe van die kerk ‘n sekere dringendheid. Dit einde kom onverwags.
Ons kan egter wel sê dat die einde nie onverwags kom nie. Die kerk – die bruid van Christus – is
diegene wat op hierdie nuutheid van God wag.
Daarom bid hulle: Maranatha –
Kom gou, Here. Hierdie vewagting van
die kerk was ten diepste nie ‘n verwagting na ‘n sekere nuwe era nie, maar na
Iemand – na ‘n persoon. In vers 12
verklaar Jesus dat hy spoedig kom om te beloon. Die een wat die beloning bring is die een met kennis van
alles. Hy is immers die Alfa en die
Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. In vers 17 lees ons
dan die uitnodiging wat as ’t ware ‘n eggo is op die uitspraak dat Christus
kom. Die Gees en die bruid (die kerk)
roep: Kom!
Hulle het
beleef dat die Here hulle dors les (vgl. Jes 55:1) en nou kan hulle hierdie
uitnodiging laat weerklink.
In
Openbaring 22 vind ons die laaste twee van die sewe saligsprekinge wat ons in
Openbaring van lees. In vers 7 lees
ons: “Geseënd is hulle wat hierdie
profetiese woorde ter harte neem”.
Getrouheid aan die profesie behels nie dat gelowiges ‘n presiese
kronologie van die laaste dae kan opstel nie, maar dat hulle as getrooste mense
in gehoorsaamheid en regverdigheid tekens van die koms van hierdie nuwe wêreld
sal oprig. Soos Mounce dit stel: ‘The primary goal is to change conduct, not
to inform the intellect (116).
Die laaste
saligspreuk lees ons in vers 14:
“Geseënd is hulle wat hulle klere was”.
Dit is hulle wat nie hulle self besmet deur kompromieë met die sonde aan
te gaan nie. Die geseëndes is hulle wat
in hulle lewe iets van die nuutheid van die komende wêreld weerspieël.
Verse 10-11
val vreemd op die oor. Dit is hieruit
duidelik dat die siener glo dat die einde so naby is dat daar nie eens tyd is
om karakter of gewoontes te verander nie.
Natuurlik wil die tekste nie sê dat mense nie kan verander nie. Dit wil egter wel heenwys en klem lê op die
onverwagsheid van die wederkoms van Christus.
Mounce wys
daarop dat vers 18 en 19 die Skrifuitlegger (en ons sal ook kan sê die prediker) dryf om met ‘n biddende
toewyding te werk. Na hierdie verse
volg Christus se belofte: “Ja, Ek
kom gou!”. Hierop volg die amen-respons.
Die amen is soortgelyk aan die Maranatha-bede wat volg. Beide roep om die vervulling van die
belofte.
Met die oog
op die prediking kan dit verhelderend wees om twee opmerkings te maak oor die
wederkoms van Christus. Die eerste is
dat die wederkoms van Christus nie beteken nie dat hierdie wêreld en die dinge
van hierdie wêreld, vir hulle wat wag op die koms van Christus, nie belangrik
is nie. Hierdie wêreld is nie nikswerd
nie. Indien ons hierdie wêreld
geringskat en net wag vir die toekoms, is ons inderdaad skuldig aan die kritiek
van mense soos Marx en Nietzsche wat Christene beskuldig het van ‘n ontrouheid
aan hierdie wêreld. Tweedens is dit ook nodig om te besef dat hierdie bestaande
wêreld nie onveranderd gelaat word nie.
God kom hierdie wêreld immers vernuwe.
Daarom gaan ons lewens nie maar bloot om geluk te vind in die
versadiging van ons begeertes hier op aarde nie, maar om ‘n verlange na God se
nuwe wêreld. Daar is, om aan te sluit
by ‘n titel van ‘n boek van Dirkie Smit, ‘n verlange na méér!
Oor die eerste saak wat hierbo genoem is (die versaking van hierdie wêreld), skryf
die Duitse teoloog Jürgen Moltmann verhelderend oor in die inleiding van sy
boek The Coming of God: Christian
Eschatology (Duitse titel: Das Kommen
Gottes: Christliche Eschatologie).
Moltmann meen dat ons nie Christelike eskatologie as die leer van die
laaste dinge moet verstaan nie. Dit is
dalk goeie apokaliptiese denke, maar dit is nie eskatologie in die Christelike
sin van die woord nie. Om apokalipties
te dink beteken om dinge deur te dink tot die einde. Die swaarkry en onbeantwoorde vrae moet tog iewers ophou. Soos die spreuk lui: “Eerder ‘n verskriklike einde, as die
eindelose verskrikking”. Eskatologie
het volgens so ‘n beskouing met die laaste dinge, dae en dade te doen. Die probleem vir Moltmann met so ‘n
beskouing is dat dit ons van ‘n waardering van die voorlaaste en onafgehandelde
dinge beroof. Ons kan nie meer saamleef
met die brose skoonheid van hierdie
lewe nie. As eskatologie God se ‘finale
oplossing’ vir al die wêreld se probleme is, is dit vir Moltmann ‘n uiters
onaangename vorm van teologiese dogmatisme, indien nie selfs psigologiese
terrorisme nie. Baie gesprekke oor die
eskatologie is vandag inderdaad juis so ‘n apokaliptiese armdraaiery!
Christelike
eskatologie het egter volgens Moltmann niks met apokaliptiese finale oplossings
te doen nie, aangesien die onderwerp van Christelike eskatologie om die
waarheid te sê, nie die einde is nie. Inteendeel, dit gaan oor die nuwe
skepping van alle dinge. Dit dien as
herinnering aan die hoop wat deur Jesus se opstanding in ons vasgeloopte
bestaan ingebreek het. Christelike
eskatologie volg die Christologiese patroon van “aan die einde is daar die begin”.
As Johannes byvoorbeeld op Patmos die laaste oordeel sien, dan sien hy
‘n nuwe begin (vgl. Open 21:5). As die
lewe beskou en geleef word in gemeenskap met Christus, is daar ’n verborge
begin in elke einde teenwoordig. Daarom
noem Moltmann sy boek ‘The Coming of God’ want ‘(I)n God’s creative future, the
end will become a beginning, and the true creation is still to come and ahead
of us’ (xi).
Christelike
eskatologie het dus alles met die hede te make. In Karl Barth se woorde:
“Die Christelike geloof is geheel en al eskatologie. Eskatologie
is nie maar ‘n bylaag nie. Nee,
dit is ‘n hoop, ‘n vista, ‘n
voorwaartse beweging, en is daarom ‘n nuwe vertrek. Dit is ‘n transformasie van die hede”.
Anders gestel in
terme van ons situasie: die nuwe
Jerusalem het alles met die nuwe
Suid-Afrika te maak. Eskatologie gaan
oor die nuutheid wat God bring – nie net eendag nie, maar ook vandag. Dit is dalk die moeite werd om Jacques Ellul
hieroor aan te haal. Hy
skryf oor nuutheid en ewigheid die volgende: ‘Grace establishes new moments in each life. God posits beginnings in history that man cannot
foresee. And eternity is a spring gushing with nonpredetermined instants,
always new, fresh, surprising. It is
the unexpected, the unforeseen.
The great play (that of children!) is to live that. It is that what
our text calls Life. The Reconciliation finally realized with the one who is
constantly New. Implying a love that
does not wear out, does not fall into habit, always as full, as stirring, as
surprising as on the first day’ (216).
Dat God se
einde ‘n nuwe begin is, is seker. Moltmann is reg. Tog is daar ‘n einde. Dié
einde is egter meer as ‘n tydperk, dit
is ‘n persoon (vgl. König se boek oor die eskatologie se titel: Jesus,
die Laaste) Soos Miskotte dit
stel: God bring ‘n einde deur die einde
te wees. God self is die einde. Daarom
is die einde positief. Dit is die
vervulling van beloftes: “God is ons
Einde; in dat Einde gaan wij te niet en
in dat Einde komen wij het niet eindelijk en vir eeuwig te boven” (439).
Die nuwe is
nie ‘n opheffing van die bestaande nie. Dit gaan nie bloot oor die heerlikheid
van die nuwe wêreld nie, dit gaan oor die heerlikheid van God. Dit gaan oor die
heerlikheid van sy wese. Die nuwe lewe
is nie ‘n ander lewe nie, ook nie ‘n voortsetting van die lewe nie, ook nie ‘n herhaling
nie – dit is dieselfde lewe gered! Om te glo dat die lewe gered is – is om te
glo in die hemel. Die hemel is niks
anders as die liefdeslewe van God nie.
Daarom is ons gebed om die koms van God nie ‘n gebed: ‘Kom einde’ of ‘Kom hemel nie!’, maar ‘Kom
God’” (Miskotte, 442).
Dit is belangrik
om te let op die Amen en die Maranatha gebed aan die einde van Openbaring
22. Ook op die apokalips moet ons
antwoord met ons lewe. Net soos wat ‘n preek nie klaar is voor dit deur die
hoorders geleef word nie, is die visie van die heerlikheid eers waarlik gesien
en gehoor as dit in hierdie wêreld geleef word. Die boek Openbaring is ook ‘n
preek – een waarop ons moet antwoord met ons lewe! Ons kan hierop
antwoord met die wete dat ons geborge in God en sy toekoms is. Daarom kan ons vanuit God se lewe dit
hierdie lewe in waag. Daarom is die
visie op die komende heerlikheid nie sonder etiese implikasies nie. Die hoop in die toekoms is belangrik vir die
kritiek op die huidige orde. Die boek
Openbaring preek nie passiwiteit nie.
Nee, dit roep gelowiges op om wakker te wees vir die
verleidings van die tyd en om aktief gehoorsaam te wees aan die genadige God
wat alle dinge nuut maak (vgl. Hays, 181).
Dit is ook
nie ander-wêrelds nie. God wil hierdie
skepping transformeer. Daarom moet ons
waak teen ‘n knusse selfgenoegsaamheid en selfgerigtheid wat ons afstomp om ter
wille van hierdie wêreld te leef.
So ‘n tyd
gelede het daar ‘n rolprent getiteld Limbo
gewys. Dit was nie ‘n groot lokettreffer nie en het ook in ‘n aantal
koerante nie goeie resensies gekry nie. Tog was daar iets om oor na te dink in
hierdie rolprent. Die rolprent speel
af in ‘n vissersdorpie in Alaska. Die hoofkarakter Joe Gastineau word deur
mense in die dorpie Jumping Joe genoem omdat hy vroeër ‘n uitstekende basketbalspeler
was. Die lewe het egter met hom ‘n paar slegte draaie gemaak. As gevolg van sy gebrek aan waaksaamheid het
byvoorbeeld ‘n aantal van sy bemanningslede op ‘n keer verdrink. Sedertdien is Joe se lewe onder ‘n wolk en het hy
nie veel rigting nie. In die loop van die rolprent ontmoet Joe vir
Donna. Sy is ‘n kroegsangeres wie se
lewe ook nie veel rigting het nie as gevolg van haar gebrek aan wysheid as dit
by die keuses van mans kom. Donna het
‘n verbitterde tienerdogter Noelle. Die
inwoners in die dorpie beleef ‘n ekonomiese wurggreep – die visfabriek word
toegemaak en daar is ‘n paar tonele waar die vasgeloopte mense hulle verhale in
‘n kroeg vir mekaar vertel. Amper soos
wat die salm ‘n sekere tyd van die jaar sukkel om asem te kry, is daar ‘n
gebrek aan suurstof in hulle lewens.
Een van die karakters wat ‘n mens ook in die rolprent sien is ‘n man wat
Smiling Jack genoem word. Hy is ‘n
kommersiële vlieënier en dit is duidelik dat daar nie ‘n goeie verhouding
tussen hom en Joe is nie. Joe vertrou hom nie.
Op ‘n stadium in die rolprent verskyn Joe se broer Bobby op die
toneel. Hy betrek ‘n niksvermoedende
Joe en Donna en haar dogter by ‘n boottog.
Dit blyk egter dat Bobby in die moeilikheid is by dwelmbase en sonder om
nou die hele verhaal te herroep gebeur dit dat Bobby doodgeskiet word en Joe,
Donna en haar dogter alleen op ‘n afgeleë en onbewoonde eiland beland. Hier word hulle vasgevang in ‘n stryd om
oorlewing. Hulle veg teen koue en
hongerte. Op ‘n stadium hoor ‘n mens uit die mond van Noelle: “Hier is dit beslis nie hemel nie, maar dit
is ook te koud om die hel te wees”.
Uiteindelik
hoor hulle ‘n vliegtuig. Dit is Smiling Jack.
Hulle blydskap word gesmoor toe Smiling Jack vir hulle sê dat daar nie genoeg petrol is om hulle terug te
vervoer nie. Hy sal weer kom. Hulle moet net hier wag. Na ‘n tyd sien Joe, Donna en Noelle
inderdaad die vliegtuig terugkom. Soos
wat die vliegtuig nader kom kan ‘n mens die onsekerheid en angstigheid op hulle
gesig sien. Werk Smiling Jack nie maar vir die dwelmbase nie en kom hy nie om
hulle dood te maak nie? Of gaan hy hulle help?
Kan hulle hom vertrou? Die
spanning bou so op dat Donna nie langer kan wag en na die vliegtuig hardloop.
Die uitdrukking op Smiling Jack se gesig is dubbelsinnig. Dan
volg die onverwagte einde: soos wat hy land, word dit net wit op die
skerm. Die name begin te
rol. Die rolprent eindig sonder
om vir ons die uiteinde te wys.
Dalk wou
hierdie fliek met sy vreemde einde sê dat baie mense se lewens vandag in ‘limbo’
is. Die woordeboek praat van limbo as ‘an condition of unknowable
outcome’. Daar word gewag op iets of
iemand wat dinge beter sal maak, maar vir wie of wat ons wag is nie duidelik
nie. Die rolprent laat ‘n mens ook dink aan Samuel Beckett se bekende drama Waiting for Godot. In die verhaal wag
twee boemelaars, Vladimir en Estragon, op ‘n geheimsinnige figuur wat Godot
genoem word. Vir die hele tyd wat hulle
wag praat hulle sinlose praatjies. Maar
Godot kom nie. Hulle verwagting word teleurgesteld. Die sinlose geklets is tekenend daarvan dat as Godot nie kom nie,
dan is niks van belang nie. Dan sterf
die woorde as ‘t ware op jou lippe en is daar nie meer ‘n toekoms nie. Dan volg wanhoop en ‘n totale
verwagtingloosheid.
So ‘n
verwagtingloosheid sluip ook maklik ons lewens binne. Dit kom in so baie gestaltes.
Hoe maklik
gebeur dit nie dat ons in ons lewens maar net deur die bewegings gaan nie. Ons
verwag eintlik nie iets van die toekoms nie. Ons beleef nie ons lewens as ‘n
misterie vol uitdagings en geleenthede nie.
Ons raak maklik apaties. Iemand skryf oor so ‘n lewenshouding: “Dit glo in niks nie, gee vir niks om nie,
wil niks weet nie, meng met niks in nie, geniet niks nie, haat niks nie, vind
sin in niks nie, leef vir niks nie en bly lewe omdat daar niks is om voor te
sterf nie” (Donald Capps). So ‘n
verwagtingloosheid is nie net beperk tot indiwidue nie, dit raak ook kerke en
samelewings. Die groot sonde van ons volkskerk-verlede was dalk ten diepste die
gebrek aan verwagting dat God se liefde oor vrees en haat kan seëvier. In ons eie lewe en die lewe van
ons geloofsgemeenskappe ontbreek dit inderdaad maklik aan ‘n verwagting dat God
ons lewe en wêreld kan binnebreek en nuutheid kan bring. Dalk is ‘n rede vir die afstomping van ons
verwagting na God en sy nuwe wêreld daarin geleë dat ons in ons lewens
plaasvervangende dinge vir God het waarop ons eerder wag. Ons wag vir beter ekonomiese tye of groter
sekuriteit of een of ander geluk wat na ons kant toe kom. Natuurlik is dit
menslik om hiervoor te wag, maar dit is nie verwagtings wat ons diepste dors
kan les nie.
Dit is
daarom goed om te onthou dat die vroeë kerk nie bloot gewag het vir ‘n nuwe
tydperk nie, maar vir Iemand. Iemand
wat sy liefde en betroubaarheid gewys het deur ‘n kruis en ‘n leë graf . Deur die werking van die Gees van die
gekruisigde en opgestane Jesus in hulle lewens, het gelowiges beleef hoe hulle
lewens aangeraak en verander word.
Daarom wag hulle met ‘n gegronde verwagting. Daarom bid hulle: Maranata!
Vir ons om
met verwagting en hoop te lewe is dit belangrik om nie ons fokus op die Een wat
weer kom te verloor nie. Ons toekoms is
nie iets nie, maar Iemand. Hierdie
Iemand beloof om hierdie wêreld nuut te maak en roep ons op om aktief
medewerkers in diens van God se komende wêreld te wees. Hoe kry ons dit reg om te bly wag op die
koms van God en sy wêreld. In die era
van die MacDonalds-hamburger is geduld nie iets wat vir ons maklik kom nie.
Daar is die
bekende verhaal van ‘n jong man wat voor sy vertrek op ‘n lang reis ‘n brief
gegee het aan die vrou met wie hy graag wou trou. “Dit is ‘n bevestiging van my liefde vir jou”, het hy gesê. Dae het in maande verander en maande in
jare, maar die man het nie teruggekeer nie.
Sy het al hoe meer moedeloos en neerslagtig geraak. Die jong vrou se vriende het haar gesmeek om
die jong man te vergeet en met ander mans te begin uitgaan. Sy het egter geweier. Van tyd tot tyd, as die verlange te veel
geraak het, het sy haar geliefde se brief gelees. Dit het haar getroos.
Uiteindelik,
na baie jare, het die jong man teruggekeer.
“Hoe was dit moontlik dat jy al die jare aan my getrou gebly het”, het
hy gevra. “Verstaan jy dan ook nie”, sê
sy, “ek het in jou geglo omdat ek jou brief – jou beloftevolle woord – gehad
het.”
Hoe kan ons
bly wag te midde van al die kragte wat op ons inspeel en ons verwagting op God
en nuutheid afstomp? Dalk omdat ons God
se beloftevolle Woord het. Die Woord
wat die engel in Openbaring as betroubaar en waar beskryf. Dalk omdat ons
beleef het, dat Hy ons diepste dors geles het.
Daarom weet ons dat ons nie wag vir ‘n onbetroubare Smiling Jack of vir Godot of vir beter dae nie, maar vir
hierdie God.
Net soos
die rolprent waarna verwys is die vraag na die uiteinde oop laat, is ons lewens
vol aanduidings dat ons nie kan weet wat om van die toekoms te verwag nie. Openbaring 22 kom sê ook nie in die eerste
plek vir ons dat die toekoms mooi en goed is nie. Dit kom sê egter wel vir ons dat die toekoms God is. Dáárom is die toekoms goed. Daarom is die einde iets waarna ons met
verwagting na kan uitsien. Die einde is
immers Iemand en daarom is selfs die einde nie werklik die einde nie, maar die
begin van die dieper lewe met God.
Bibliografie
Kommentare
Beasley-Murray,
G R (The New Century Bible Commentary); Boring, M E (Interpretation);
Mounce (NICNT); Van Hartingsveld (T&T);
Aanvullend
Botha, E, De Villiers, P G R, Engelbrecht, J (eds), Reading Revelation, 151-153; Burger, C W, Muller, B A, Smit, D J, Woord teen die Lig 1/3, 220-227; Ellul, J, Apocalypse; Hays, R B, The Moral Vision of the New Testament, 179-184; Miskotte, K H, Hoofdsom der historie, 436-467; Moltmann, J, The Coming of God; Mounce, R H, What are we waiting for?, 114-119; Rodgers, C R, Jeter, J R (eds), Preaching through the Apocalypse: Sermons From Revelation, 159-164.