8 AUGUSTUS 2004

NEGENDE SONDAG IN KONINKRYKSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: 3 Johannes

Ander tekste: Jesaja 1:1-20; Psalm 50:1-8, 22-23; Hebreërs 11:1-16; Lukas 12:32-40

Inleiding

Jesaja 1:1-20 is n oordeelsorakel en twisgesprek oor aanbidding n oordeel oor aanbidding! Psalm 50:1-8, 22-23 sny dieselfde tema aan deur oppervlakkige gewoontegodsdiens af te wys. Hebreërs 11:1-16 oordink die aard van geloof en die effek daarvan op die mens se lewe, terwyl Lukas 12:32-40 dit het oor die karakter en noodsaak van getrouheid. 3 Johannes vertel ons van Gaius wat aan die waarheid getrou is en in die waarheid leef. Dit beteken dat hy deur sy lewenswandel sy belydenis lééf. Teenoor Gaius staan Diotrefes, wat die gemeente wou beheer. Moontlike tema: Leef jou belydenis!

Volg die voorstelle in die basisliturgie. Wat hier volg, kan gebruik word ter verryking daarvan, of as variasie ter wille van die boodskap van die bepaalde Sondag in hierdie geval die aanmoediging om ons belydenis uit te leef.

GOD VERsamel ONS VOOR HOM

Aanvangsgebed

Lied 153:1, 2, 3 "O Jesus, kom tog nader"\NSG 322

Aanvangswoord

Die Here is God, Hy alleen is God.

Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,

van waar die son opkom

tot waar hy ondergaan (Psalm 50:1).

Seëngroet

Lof en aanbidding

Lied 506:1, 2 ,3 "O Heer, u liefde wondergroot"\NSG 212

Lied 520:1, 2 "Saam buig ons neer om God te eer"

Geloofsbelydenis

Geloofsbelydenis van Nicéa

Sang

Lied 265:1, 2 "Enigste Here, enkele Wese"

diens van die WOORD

Epiklese

Psalm 119:65-72

Skriflesing

3 Johannes

Woordbediening

diens van die TAFEL

Nagmaalsherinnering

Lees by die nagmaalstafel (waarop die brood en die wyn sigbaar is) uit die nagmaalsformulier die volgende voor (aangepas): "Ons word vanoggend verplig om opnuut na te dink oor al ons sondes. Daar is sondes waar ons met gedagtes, met woorde of met dade oortree het. Daar is ook sondes van versuim, waar ons nagelaat het om die opdragte van die Here uit te voer. Laat ons ons hieroor opreg voor God verootmoedig."

Gebed

Gee geleentheid vir stil gebed, waarna die orrel voorgaan en die gemeente sittend, biddend sing:

Lied 438 "Gees van God, o Gees van lewe" NSG 174

Vryspraak

Laat ons dan vas glo dat ons oortredinge vergewe is op grond van die verdienste van die Here Jesus Christus. En laat ons ernstig daarna strewe om met ons hele lewe dankbaarheid aan die Here te bewys deur in ware liefde teenoor Hom en ons medemens te lewe. Mag die almagtige barmhartige God en Vader van ons Here Jesus Christus ons deur sy Gees daartoe help.

Sang

Lied 286 "Here God van liefde"

Dankoffers en voorbidding

Dankoffers, bulletin en voorbidding.

UITSENDING

Skriflesing

Lukas 12:35-40

Sang

Lied 264 "Hoe heerlik is die Jesusnaam!"\NSG 153

Seën

PREEKSTUDIE 3 JOHANNES 1-12

Teks

3 Johannes het dieselfde opbou as 2 Johannes. Albei is geskryf deur "die ouderling" (Papias, volgens Eusebius se skrywe, identifiseer die persoon as die ouderling Johannes, `n jonger tydgenoot van die apostel). Gaius is `n algemene Romeinse naam (sien 1 Kor. 1:14; Rom. 16:23; Hand. 18:7; 19:29; 20:4). Die brief het `n aanloop (1-4), "liggaam" (5-12) en afsluitende groetewense (13-15). Die hooftema is dié van liefde en waarheid. Waarheid (Grieks aletheia, 7x) is die regte geloof in Jesus as die mensgeworde Seun van God. Om te wandel in die waarheid, is die uitlewing van hierdie geloof. Die inhoud van die waarheid is nie iets nie, maar Iemand; die Waarheid en Waaragtige (Joh. 14:6; 1 Joh. 5:20). Liefde (Grieks agape en variante, 6x) is die regte lewenshouding, lewenstyl (in gehoorsaamheid aan die liefdesgebod) in ooreenstemming met die regte geloof (die waarheid).

Vers 1: "Hy wat ek in waarheid liefhet" kan beteken "waarlik liefhet" (NAV), maar is `n gelaaide uitdrukking in die Johannes-briewe (2 Joh. 1), wat dui op die waarheid wat God deur Jesus bekend gemaak het. Die liefde wat hier ter sprake is, is die band tussen die mense van hierdie waarheid. Die skrywer weet dat dit geestelik goed gaan met Gaius, en wens hom net so `n goeie fisiese gesondheid toe, trouens dat dit in alle opsigte met hom goed mag gaan.

Die skrywer se boodskap aan Gaius begin in 3: hy is baie bly (`n sinspeling op die naam Gaius blydskap, vrolikheid) oor wat hy van Gaius hoor by die broers wat by hom aangekom het (moontlik dieselfde sendelinge wat ook die slegte nuus van Diotrefes vertel het). Hulle het voor die gemeente van die ouderling vertel dat Gaius in die waarheid van die evangelie leef (Grieks kathõs, kan wees "hoe, soos" of "inderdaad": wat die skrywer van Gaius gehoor het, is inderdaad in ooreenstemming met hoe die skrywer hom ken).

Gaius word geprys omdat hy reg, lojaal (Grieks piston) teenoor medegelowiges optree. Hy is naamlik gasvry teenoor mense wat hy nie ken nie, wat vir die Naam uitgaan (die sendelinge wat die Johannes-gemeentes moet versterk, 7). "Die Naam" is in die Ou Testament die gebruiklike aanduiding vir God, sonder om die Naam Jahwe te noem. In die vroeë kerk word "die Naam" n verwysing na Jesus (Hand. 5:41 - die apostels was bly dat hulle bevoorreg was om vir die Naam vernedering te ly; ook Hand. 9:16). Hierdie sendelinge gaan uit vir die Naam en saak van die Waarheid, (die evangelie van) Jesus (soos baie valse profete/antichristelike misleiers uitgegaan het in die wêreld om die leuen te versprei 1 Joh. 4:1, 2, Joh. 7).

Die sendelinge ontvang (Grieks lambano) niks van die ethnikoi (nie-Christene) nie. Die rede hiervoor is moontlik dat die Christelike sendelinge hulleself nie wou identifiseer met sendelinge van die ander godsdienste wat rondgegaan en onbeskaamd om onderhoud gebedel het nie. Hulle was daarop gesteld om die evangelie kosteloos te verkondig, sonder slaafse afhanklikheid van andere. Hoe dit ook al sy, nie-christene dra nie by tot die sendelinge se onderhoud nie; dis die gemeente se plig om gasvry te wees, hulle te "ontvang/aanvaar (Grieks hupolambano letterlik onder die arms dra). Daarom het die skrywer `n beroep op Gaius gedoen om die rondreisende sendelinge te help (Grieks propempein voor-stuur, in klassieke Grieks "begelei") op hulle verdere (tweede) reis (6). Die uitdrukking "jy sal goed doen (as jy)" is ekwivalent aan "asseblief " Gaius moet dit doen op n manier wat God se goedkeuring wegdra (waardig uit God se oogpunt Grieks aksiõs tou theou [subjektiewe genitief]). Deur dit te doen, "bewys ons dat ons mede-arbeiders van die saak van die waarheid is" (8 [hina] genésthe beteken "(dat) ons mag bewys" eerder as "dat ons mag word" Smalley). Dit is opvallend dat lynreg teenoor die aanprysing dat die Gaius rondreisende sendelinge ontvang het, dieselfde skrywer die gemeente sterk vermaan het om die verleiers wat ontken dat Christus vlees geword het, nie te ontvang nie (2 Joh.:10-11).

Die skrywe oor Diotrefes (9-11) is die dieptepunt van die brief. Diotrefes se optrede staan in skrille kontras tot Gaius se gasvryheid (5-8) en Demetrius se positiewe voorbeeld (12). Eersgenoemde was iemand met mag en invloed, dalk in dieselfde huisgemeente as waartoe Gaius behoort het (Marshall, Smalley) of `n naburige huiskerk (Dodd, Johnson).

Die briefie ("iets") wat die ouderling aan die gemeente geskryf het (9), kon `n begeleidende brief wees wat die Johannes-sendelinge by hulle aankoms oorhandig het, soortgelyk aan die skrywer se pleidooi aan Gaius om hierdie broers te help in hulle missie, `n soort geloofsbrief (1-8), waarop Diotrefes negatief reageer en dit dalk ook vernietig het. Daar is `n tweede moontlikheid, naamlik dat hierdie briefie 2 Johannes is, en dat Diotrefes negatief reageer as gevolg van `n skrywe in hierdie brief. Die ouderling reageer dan in 3 Johannes, en het dit oor Diotrefes se wangedrag. Hy noem ses negatiewe dinge oor hom:

Diotrefes "aanvaar ons nie" ("ons" is die ouderling en sy medewerkers, moontlik ook die sendelinge, 3). Hy aanvaar nie hulle gesag nie, en/of: hy weier om hulle as gaste te ontvang (die konteks wat gepostuleer word, bepaal die interpretasie).

Diotrefes is "filoprõteuõn (autõn)" (Lief om eerste te wees [onder hulle]"), wil sy posisie as leier van sy eie huiskerk verseker, en kan daarom niemand bo homself erken nie. Hy wil `n onafhanklike invloed en gesag hê. Diotrefes begryp min van Jesus se woorde ("Elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees", vgl. Mark. 10:44).

Diotrefes "fluarõn" (babbel, praat onsin), met "slegte woorde", in onaanvaarbare taal. Hy maak op `n kwaadwillige manier valse, leë aantygings teenoor die skrywer.

Hy weier gasvryheid aan die sendelinge, moontlik by sy eie huis. Die gemeentes was huisgemeentes, en daarom kan aanvaar word dat Diotrefes as huisbaas die sê gehad het oor wie toegelaat word.

Hy verhinder die lidmate in sy huiskerk wat ontevrede was met sy optrede, om (by hulle eie huise) gasvryheid teenoor die sendelinge te beoefen.

Hy ban "hulle" uit die gemeente. Die "hulle" kan die besoekende sendelinge wees (Du Plessis, Petersen), maar die sintaksis en logika van die sin dui eerder op die lidmate in sy huiskerk wat die skrywer goedgesind is en gasvry teenoor die sendelinge wil wees (NAV, Johnson, Klauck).

Die rede vir Diotrefes se optrede en die spanning tussen hom en "die ouderling", asook laasgenoemde se voorneme, kan net uit die konteks van die brief afgelees word. Hy sal naamlik Diotrefes se misstappe persoonlik in teenwoordigheid van die huisgemeente "in herinnering" bring, deur dit vermanend, waarskuwend ter sprake bring (vgl. 2 Tim. 2:14; 2 Pet. 1:12; Judas 5).

Gaius moet die situasie sien in skerp teenstellende kategorieë van goed en kwaad, van God of uit voeling met God (het God nie gesien nie). Die navolging, nadoen (mimiek Grieks mimeo) van positiewe voorbeelde van die Christelike lewe, is `n algemene Nuwe-Testamentiese tema (soos Heb. 11). Elders sê Johannes dat niemand God nog ooit gesien het nie, maar kwalifiseer dan dat God Homself deur Jesus laat sien het (Joh. 1:18; 6:46; 14:9). Om God te sien, is om Hom te ken, beleef, verstaan wie God is soos geopenbaar in die Seun, Jesus. Kwaaddoeners (moontlik ongasvryes) deel nie in hierdie geestelike ervaring nie. Daarom is Demetrius `n voorbeeld van iemand wat uit God (gebore) is. Demetrius is dalk lid van die gemeente, of een van die reisende predikers (wat dalk deur Diotrefes uitgegooi is), of bes moontlik die draer van hierdie brief. Die skrywer noem drie getuies, die minimum aantal volgens Joodse wet, wat van Demetrius getuig: "almal" (die gemeente), die waarheid (self), en daarby "ons" (die leiers in die Johannes-gemeentes). Die "waarheid" is moontlik `n metafoor vir die ortodokse Christelike tradisie wat deur die ouderling beskerm word. Demetrius kry sy getuienis dus van die hele aktiewe gemeente van hulle wat deur die waarheid besiel is (Williams, in Smalley). "Ons", die kring rondom die ouderling, die leierskorps, bevestig hierdie getuienis (as derde getuie). Daar bestaan `n Kateense (Grieks Catenae) tradisie dat hierdie Demetrius die silwersmid van Efese was wat vir Paulus teengestaan het (Hand. 19:24, 38), maar later tot bekering gekom het (dalk die Demas wat Paulus noem as sy medewerker in Kol. 4:14, Filem. 24). Dit sou kon verklaar hoekom 3 Johannes soveel moeite doen om al die getuies op te roep aangaande Demetrius se lewe op daardie stadium.

Die slot van 2 en 3 Johannes is feitlik dieselfde; in dieselfde tyd en vir dieselfde rede geskryf, naamlik om die breuk in die kerk te heel wat deur die rondreisende valse leraars voortgesit word (2 Joh. 7-11), en nou deur die afskeiding van die kerk deur die eiesinnige Diotrefes. Die skrywer moet verdere verliese probeer voorkom en die huidige skade herstel deur persoonlike besoeke aan die gemeentes waarvoor hy verantwoordelik is. Dit moet dringend geskied (gou, binnekort, Grieks eutheõs, 14).

Die vrede wat Gaius toegewens word, is `n tradisionele groet, maar het besondere betekenis vir Gaius. Hy het die innerlike vrede met/van God nodig, as `n teken van die regte verhouding met God, en hernude harmonie met Diotrefes en die ander gemeentes wat in die moeilikheid is. "Vriende" is n term waarmee die Johannes-Christene na mekaar verwys het (Joh. 15:13-15; 11:11). Die hedendaagse Kwakers (Society of Friends) het hulle naam uit hierdie gedeeltes gekry.

Konteks

Die breër agtergrond word afgelees uit die geskrifte wat aanvaar word as Johannes-geskrifte. Die verband tussen die Johannes-evangelie en die Johannes-briewe is kontroversieel en nie van direkte belang nie. Die talle ooreenkomste tussen 1 Johannes en 2 en 3 Johannes laat baie kommentatore glo dat die briewe van dieselfde outeur afkomstig is. Die konteks van die briewe kan, baie vereenvoudig, as volg saamgevat word: As gevolg van verskille in leer oor Jesus (die sleutelwoord "waarheid") en (gevolglik ook) lewenstyl (die sleutelwoord "liefde"), raak die eenheid van die Johannes-gemeentes in so `n krisis, dat skeuring dreig. `n Alternatiewe waarheid, `n ander Jesus en (implisiet?) `n ander lewenstyl, word verkondig/geleef. Vanuit die Grieks-filosofiese idee dat die stoflike nie goddelik is nie, net die onsigbare geestelike dinge, het daar `n weerstand gekom teen die leer van `n Jesus wat in alle opsigte vlees (Grieks sarks swakke [sondige ] mens) geword het. `n Dosetiese Jesus, `n "suiwer" Goddelike Jesus, word voorgehou; om God te "sien", is daarom om af te sien van hierdie materiële wêreld; om God lief te hê, is om niks meer met die ellende en nood van die aardse te doen te hê nie, maar om net met die oë na "bo" te lewe.

Hierdie leer het groot suigkrag gehad. Eeue se filosofiese denke het dit onderlê. In die praktyk is dit, veral vir die meer vermoëndes, `n vroom rede om minderbevoorregtes se nood verby te gaan, en met jou goed te maak wat jy wil (vgl. 2 Kor. 11:4, Gal. 1:8; 1 Joh. 2:9-11; 3:11-18). Broederliefde het `n vroom woord geword, beperk tot mense wat jou siening, en in die praktyk jou sosiale status, deel. Hierdie leer dra in hom dus die kern van kerklike verdeeldheid, of anders gestel: godsdienstig-filosofies gefundeerde apartheid. Dié leer is gepropageer deur rondreisende predikers. 1 Johannes noem hulle vals profete (4:1) en antichriste/ leuenaars (2:18-22).

Teen hierdie agtergrond kan die konteks waarin 2 en 3 Johannes geskryf is, verder ingevul word. Die sendelinge vanuit die Johannes-gemeenskap was ondersteuners van die ouderling (Johannes) se veldtog teen die valse leraars wat die gemeente verlaat het (1 Joh. 2:19; 4:1). Beide groepe stuur sendelinge uit, en die kerk moet daarom die geeste onderskei (1 Joh. 4:1-2). In 2 Johannes 10-11 word die Johannes- gemeente aan wie geskryf word, gemaan om diegene wat hierdie ander leer verkondig, nie te ontvang of selfs vir hulle te groet nie. Oppervlakkig beskou is dit `n radikale negering van die gasvryheidsbeginsel in die geloofsgemeenskap. Gasvryheid (letterlik: liefde vir die vreemdeling) was oral in die ou wêreld beskou as `n besondere goddelike deug, en is in die kerk by uitstek hoog geag. Tertullianus noem gasvryheid as een van die drie tekens van kerklike eenheid. Gasvryheid het beteken die insluiting van vreemdelinge; medegelowiges, of mense van ander gelowe en godsdienste. (Huisvesting van gelowiges wat aan jou bekend is, was vanselfsprekende broederliefde.) Binne die konteks van die skisma het egter `n ander kategorie ontstaan: teenstanders van die waarheid van die evangelie, broers wat uitgesproke vyande van Broer Jesus geword het, en dus nie meer broers is nie, ook nie vreemdelinge nie, maar antichriste. Op hulle was gasvryheid (2 Joh. 10-11) nie meer van toepassing nie; dit sou neerkom op medepligtigheid aan die kwaad.

`n Interessante moontlikheid is dat hierdie standpuntinname van "die ouderling" (wat onderskeiding van die geeste veronderstel) aanleiding aan Diotrefes kon gee om gasvryheid aan alle rondreisende sendelinge te weier, en diegene wat gasvryheid aan die dag wou lê, oor dieselfde kam te skeer. Diotrefes sou dan doodeenvoudig op die letter af, sonder aansien des persoons, 2 Johannes 10 toepas (vanuit die standpunt dat die briefie [9a] 2 Joh. was. `n Probleem met hierdie teorie is dat Diotrefes ook nie die ouderling, soos die ander, ontvang of erken [Grieks epidexomai] nie. Hoekom sou hy dan 2 Joh. se gesag erken?) Dis moontlik dat Diotrefes 2 Johannes 10-11 opportunisties benut het, nie noodwendig omdat daar by hom self onderskeidingsvermoë ontbreek het nie, maar omdat hy die gemeente nie wou blootstel aan dogmatiese debatte nie. Binne die spanning van leerverskille, en onsekerheid wat daarmee gesaai kon word, het hy dit moontlik wys geag om die gemeente van alle moontlike vreemde elemente wat mag insluip, te beskerm. Wie dit konsekwent en ferm toepas, sny baie gou jare lange getroue lidmate wat `n ander gevoel het oor sake, af. En val in dieselfde kategorie as die dwaalleraars wat in die praktyk `n soort apartheid beoefen het.

In ieder geval (indien die agtergrond-konstruksie so aanvaar word) was die ouderling se keuse van optrede teenoor sendelinge aan opposisiekant (2 Joh. 10-11), `n etiese beslissing wat vir misbruik vatbaar kon wees. Die ironie is dat die ouderling en Diotrefes, volgens hierdie siening van sake, dieselfde doel voor oë gehad het; die bewaring van die suiwer leer, die waarheid. Die ouderling is egter oortuig dat Diotrefes die waarheid geweld aangedoen het omdat hy die liefde (gasvryheid) verontagsaam het. Die ouderling skryf sy optrede primêr toe aan sy karakter; sy voortvarende ambisie, sy passie om altyd die eerste (en laaste) woord te hê en ander gevoelens in die gemeente te stoomroller en ander sienings (dié van die ouderling) af te maak as uit die bose. Die ouderling het self die skerp kant gevoel toe ook hy en sy broers nie ontvang is nie. Nou sou Diotrefes natuurlik kon sê die ouderling het, in sy skrywe in 2 Johannes 10, dié reël neergelê of dat hy hom van sy eie medisyne laat proe het. Die ouderling se beskuldiging dat Diotrefes kwaad praat van hom, kan in hierdie lig verstaanbaar wees. Dit is dalk ook die rede hoekom die ouderling op hierdie oomblik nie verder gaan nie as om te sê daar moet gepraat word, en dit voor die hele gemeente. Die waarheid en liefde waaroor dit in die gemeente moet gaan, kan net op die regte spoor bly as die hele gemeente betrek word in die "tuggesprek".

Baie kommentatore in die 20ste eeu, en nog tot in ons dag, meen die konteks is dié van die groeipyne van die institusionalisering van die ampte en die konsolidering van die leer. Die vyandigheid tussen Diotrefes en die ouderling word daarom geïnterpreteer as sou dit die gevolg wees van spanning oor kerklike posisies of ampte. Diotrefes sou `n amp beklee net onder dié van ouderling, of hy was `n charismatiese tipe leier, wat die skrywer se posisie gesien het as `n struikelblok in die weg van sy ambisie. `n Ander standpunt is dat die verskille oor leer (dogma) gehandel het, of `n kombinasie van posisie en leer. Hierdie hipoteses is egter `n inlees van wat daar nie staan nie, en moet toegeskryf word aan die Westerse kerke se beheptheid met kerklike ampsposisies. Ekumeniese gesprekke die afgelope aantal jare het dit uitgewys (Klauck). Die probleem wat 3 Johannes aanspreek, is ook nie dié van dogmatiese verskille nie. Wat 2 en 3 Johannes wel duidelik illustreer, is dat die evangelie self in sy wese verhoudinge bou en deur verhoudinge bemiddel/gekommunikeer word (Klauck). 3 Johannes gee ons `n blik op die persoonlike verhoudinge tussen indiwidue wat verteenwoordigend is van die kerk tot vandag toe.

Preekvoorstelle

Preke oor 3 Johannes is feitlik onverkrygbaar. Selfs groot kerkvaders soos Calvyn het nie eens `n kommentaar geskryf oor 2 en 3 Johannes nie. Daar kan volgens my nie werklik sinvol gepreek word oor hierdie briefie as die kerklik-teologiese konteks, die verhouding van die karakters tot mekaar, en die verband met 2 Johannes nie geskets word nie. Enige konteks-skildering is natuurlik hipoteties. Die genoemde buitelyne laat egter verskeie invalshoeke en temas toe, byvoorbeeld:

Gasvryheid

Dis die kern van die brief. Een van die hoofkenmerke van die eenheid van die kerk is gasvryheid teenoor lidmate vanuit ander streke, baie keer vreemdelinge, maak ekumene moontlik, dien die waarheid en die liefde, en is die wandel in die waarheid. Ongasvryes, en daarby mense wat gasvryheid demp en doodmaak, soos Diotrefes, is "kwaaddoeners" wat God nie gesien het nie. Die ironie is dat Diotrefes moontlik sy gemeente wou beskerm teen enige vreemde invloede, dwaalleringe, onwaarhede, onder die dekmantel van 2 Johannes 10 se uitspraak. Maar wat is die werklike bedoeling van vers 10? Dat daar grense is aan gasvryheid? Watter soort grense? (verlede week is daar dalk al hieraan aandag gegee). Die uitspraak in 10 veronderstel egter goeie onderskeidingsvermoë en is baie beperk. Daarom volg 3 Johannes om alle misverstand (en kanse vat) uit die weg te ruim. Gasvryheid is die kenmerk van God se kinders wat in die waarheid (Waarheid) lewe. Dit deurbreek selfsug, materialisme en indiwidualisme, en beteken om die ander te ontvang, te aanvaar, ruimte te gun, en begeleiding (en proviand) vir die verdere reis. Die onderlinge Christelike gasvryheid het egter ook veronderstel dat die gas ingebed is in die tuis-gemeente en ekumene (die algemene kerk wat die waarheid bely), en nie n individualis is nie. Hy/sy verteenwoordig die Naam van Christus juis omdat hulle die gemeente/kerk verteenwoordig, en die nodige getuigskrif van die tuisgemeente het.

Om oor na te dink: (1) Gasvryheid sneuwel in ons dag as gevolg van indiwidualisme (en wat dit verteenwoordig, byvoorbeeld selfsug, oormatige selfbeveiliging, ambisie, eiegeregtigheid) aan alle kante. Is Diotrefes nie juis die voorbeeld van indiwidualisme nie? (sektarisme is "korporatiewe" individualisme); (2) Wat het dit alles te doen met kerkeenheid en die gesukkel om een te word? Kan ons een word en in eenheid groei en een kerk bly binne `n sosiale klimaat van indiwidualisme? (Wat doen hierdie klimaat met die kerk?)

Die evangelie werk in verhoudinge en bewerk verhoudinge

Klauck merk op dat 2 en 3 Johannes illustreer dat die evangelie in sy wese die inisiatief neem om kommunikasie te bewerkstellig; om verbande te lê/verhoudinge te bou, en deur verbande (verhoudinge) bemiddel/gekommunikeer word. In dié lig kan met vrug nagedink word oor hoe die evangelie in die werklike lewe binne die konteks van kerklike verdeeldheid en spanning op verskillende wyses/vlakke gekommunikeer word, hoe dit verhoudinge bou (verbande tussen mense lê), en hoe die evangelie weer op sy beurt deur verhoudinge gekommunikeer word. Die volgende is onder meer van belang:

Die verskillende karakters in en om die brief, elkeen met hulle eie karaktertrekke, motiewe en strewes. Almal van ons ken hulle; daar is nie `n gemeente sonder n Diotrefes of twee nie, maar die Gaiusse en Demetriusse is ook daar.

(Opsioneel) Die spesifieke kommunikasiemedia wat die skrywer verkies (kort briefie, daarna persoonlike gesprek). Hoekom? Hoe pas dit die karakter van die evangelie? (Hoe) dien dit die evangelie ten beste binne die gegewe konteks?

Die tuggesprek hierna in die gemeente. Ons weet natuurlik nie hoe dit verloop het nie. Maar die briefie is geskryf met die oog daarop, en daarom is die brief in werklikheid belangrik vir die effek wat dit sou kon gehad het op die gesprek, juis as voorbereiding vir die gesprek. Op hierdie punt kan dit baie goed wees om nie met `n monologiese preek voort te gaan nie, maar die gemeente geleentheid te gee om self die gesprek onder mekaar te voer deur die verskillende rolle aan lidmate toe te ken. Dit sal egter net slaag as die konteks en die verskeie karakters (veral Diotrefes se motivering) duidelik is. Die hele gemeente kan deel wees van die destydse gemeente, insluitende die rondreisende predikers. Of `n deel van die gemeente, terwyl die res waarnemers is wat hulle indrukke agterna gee. So `n rollespel, waar mense vry is om in hulle eie woorde hulle eie idees van mekaar uit te spreek, kan baie diepliggende gevoelens na vore bring. Die toon kan ernstig en selfs aggressief word, maar omdat dit rollespel/toneelspel is, word niemand direk persoonlik bedreig of seergemaak nie.

Bibliografie

De Jonge, M 1978. De Brieven van Johannes, PNT; Du Plessis, PJ 1978. Die Briewe van Johannes, NG Kerk-Uitgewers; Johnson, T F 1993. New International Biblical Commentary, 1,2&3 John, Hendrickson Publishers; Klauck, H J 1992. Evangelisch-Katholischer Kommentar zum Neuen Testament XXIII/2, Zweite und Dritte Johannesbriefe, Benziger/Neukirchener Verlag; Painter, J 1975. John: Witness & Theologian, SPCK, Londen; Smalley, S S 1984. Word Biblical Commentary vol 51, Word Books; Strecker, G 1996. Johannine Letters, Hermeneia, Fortress Press.