Ander tekste: Psalm 98; Johannes 15:9-17; Handelinge
10:44-48
Een van die eerste probleme waarmee die
voornemende prediker uit die 1 Johannesbrief te doen kry, is
die gebrek aan agtergrondsgegewens. Die
brief het nie die gebruiklike aanhef waarin die skrywer en ontvangers genoem
word nie. Die leser moet staatmaak op
indirekte aanwysers. Daarvolgens is daar dié wat meen dat die brief deur
Johannes geskryf is aan nie-Joodse gemeentes in Klein-Asië. Dit het 'n sterk
pastorale inslag soos wat uit 5:13 afgelei kan word. Vergelyk in dié verband veral die studie van
Louw. Om egter die volle problematiek waarom
dit in die brief gaan in die oog te kry, moet die brief in sy geheel noukeurig
gelees word. teks en konteks staan dus in dié brief in 'n besonder verwikkelde
verhouding.
Wat die
inhoud van die brief betref, maak dit met 'n eerste oog opslag die indruk van
direktheid en eenvoud. Verskillende geloofstemas word uitgelig en in kort
kragtige stellings (aforismes) aan die lesers/hoorders/gemeente(s)
voorgehou. Die hoofdoel was blykbaar om
aan die gemeente duidelike leefreëls te gee en terselfdertyd die dwalinge
waarmee sommige afgeskeidenes die gemeente(s) verwar het, te besweer. Die
gevaar is egter dat hierdie kernagtige stellings die leser/prediker kan verlei
om op 'n atomistiese wyse op die afsonderlike stellings te fokus en die verband
agterweë te laat. Miskien wou die
skrywer juis dit voorkom deur die ineenweef van die temas/kernbegrippe. Die
gevolg is dat 'n tema/kernbegrip nie eenmalig gestel en afgehandel word nie,
maar by herhaling ter sprake gebring word.
Dit word net elke keer vanuit 'n ander hoek gedoen of soos Houlden dit
stel "the old ideas revolve around a fresh centre". Verder word die brief gekenmerk deur die
skrywer se fyn taktiek om juis 'n aangeleentheid te neem waaroor die
afgeskeidenes nie kan verskil nie en dit dan te verbind met ‘n saak waaroor
hulle wel verskil. Dit gee aan die
verskillende argumente 'n sekere subtiliteit sonder verlies aan teologiese
presiesheid. Om dus die lyne van die groter argument te kan raaksien, moet 'n
mens byna soos met die driedimensionele prente, lank en aandagtig kyk voordat
dit begin vorm aanneem. Van die
belangrike temas wat in die brief aangespreek word, is sake soos 'geloof', 'sonde', 'liefde', 'kindskap van
God', 'sekerheid', 'waarheid' en 'leuen'.
'n Noukeurige lees, wys dat hierdie temas en dié wat daaruit voortvloei,
hulle integrasie en diepste sin in die Christologie (Jesus is die Christus)
ontvang. Die konsentrasie op die
Christologie blyk uit uitdrukkings soos: Jesus is 'die Seun van God' (1:3,7; 2:22-24;
3:8,23; 4:9-10, 14-15; 5:5, 9-13,20), 'die Christus' (2:22, 5:1); 'wat van die
begin af is' (1:1; 2:13-14); 'die Woord'/Logos, 'die Lewe' (1:1); 'die Redder
van die wêreld' (4:14); 'die ware God' (5:20).
Die dringendheid vir 'n korreksie in die Christologie hang daarmee saam
dat dit presies oor die verstaan van Jesus as Christus was dat 'n beduidende
aantal lede van die gemeente afgeskei en hulle teenoor die gemeente opgestel
het (2:19). Die basiese probleem van die afgeskeidenes was met die menswording
(inkarnasie) van Jesus (4:2,3). Benewens
die verdraaide Christologie, was daar ook allerlei gnostiese trekke in die
verstaan van God en 'n gebrek aan onderlinge liefde. Die wyse waarop die brief
egter hierdie probleme aanspreek, maak dit "een van die kerntekste van die
Nuwe Testament" (De Jonge).
Wat die
perikoop onder bespreking betref, vorm dit die slotdeel van 'n groter eenheid
wat tematies reeds by 4:7 begin en deurloop tot by 5:5. Die meeste preekstudies
handel egter oor 5:1-4(5). In die gevalle waar vers 5 bygeneem word, word dit
meestal beskou as 'n oorgang na die volgende perikoop, te wete 5:6-12. Die perikoop (5:1-5) dien ook as 'n oorgang
of brug tussen 4:7-21 met "liefde" as tema en 5:6-12 met
"geloof" as hoofgedagte deurdat dit oor sowel die liefde as die
geloof handel. Neem 'n mens die saaklike inhoud in ag, wil dit tog voorkom asof
dit meer sinvol is om 5:1-12 as 'n eenheid te beskou. Vir die doel van hierdie bespreking word met die voorgeskrewe
indeling, te wete 5:1-6, volstaan.
5:1-2 Die
skrywer is besig met die slot van sy brief.
Op bondige wyse vat hy saam wat reeds eerder bespreek is (2:22; 4:2).
Die kernvraag waarvoor hy sy lesers/hoorders stel, is die vraag of hulle glo
dat Jesus die Christus (Gesalfde = Godgestuurde). "Glo" is meer as net met die mond sê. Dit is met die hart, aanneem, vasgryp! Dit is om voor God te staan, in sy
teenwoordigheid te lewe. Om 'n kind van God te wees, beteken om 'n nuwe wese te
wees. Dit staan gelyk aan 'n nuwe
geboorte en 'n nuwe lewe. Wie dit glo, het die Vader lief en het ook almal lief
wat uit God gebore is. Wanneer die skrywer hier, die liefde vir God en die
onderhouding van sy gebooie aanvoer as bewys van die liefde vir die kinders van
God, keer hy die argument van 4:20 presies om. Deur 'n wye draai in sy
argument, ryg die skrywer die kenmerke van die kind van God in 'n
hegte/naatlose eenheid saam. Wie uit God gebore is, het God as Vader lief, glo
dat Jesus die Christus is, onderhou God se gebooie en het ook al die ander
'kinders van God' lief. So heg is hierdie eenheid dat die waarmerk vir enige
van die kenmerke, gegee is in die aanwesigheid van die ander.
5:3-5
Veral opvallend is die onlosmaaklike verbinding van 'liefde' en
'gehoorsaamheid'. Wie God liefhet,
gehoorsaam sy gebooie. Waar daar liefde is, is reëls/voorskrifte/gebooie geen
inperking of beknotting nie, maar vaartbelyning en behoud. Sonder liefde in 'n
verhouding is selfs die geringste versoek/verwagting, 'n las en irritasie. Liefde bevry dus nie 'van' nie maar 'tot'
die gehoorsaming van die gebooie van God.
Die liefde is die vervulling van die wet. Omdat dit in liefde geskied, is die hou van die gebooie ook nie
moeilik/swaar of lastig nie (Amplified: irksome,
burdensome, oppressive, grievous).
Die liefde bewaar dus van liefdeloosheid sowel as van benepe wettisisme.
Wie 'n kind van God is/ uit God gebore is, oorwin (let op die teenwoordige tyd
om 'n voortgaande handeling aan te dui) die wêreld. Met 'wêreld' word hier bedoel alles wat teen God en sy diens
gerig is (De Jonge), 'n ontsettende mag sowel in omvang as vermoë (KV). Die
skrywer het hierdie teenmag onder verskillende benaminge in die brief ter
sprake gebring, te wete: duisternis, leuen, sonde, antichris, duiwel, haat,
vrees, materialisme, wellus, vleeslikheid, selfgenieting, valse profete,
afgode. Die kinders van God oorwin die
wêreld, maar dan nie uit eie vermoë nie.
Hulle oorwin deur die geloof, want die geloof gee deel aan die
oorwinning wat Jesus 'die Seun van God' (2:22,23; 4:2,3) reeds oor die
wêreld/magte behaal het (vgl Joh 16:33; Openb 3:21; 5:5). Die oorwinning is dus nie die vrug van
geloofsprestasie nie maar van geloofsverbintenis (vgl 2 Kor 2:14 en WtL I/10).
5:6 Die
betekenis van hierdie vers is moeiliker te bepaal en die menings loop hier
skerp uiteen. Die NAV se kwalifisering
van 'water' en 'bloed' met 'van sy doop' en 'van sy dood' is kennelik 'n poging
om hierdie verstaansprobleem te ondervang.
Dit word redelik algemeen aanvaar dat 'water' en 'bloed' – eers sonder
lidwoord en dan weer met lidwoord – dui op Jesus se doop en sy dood. Verskeie verklaarders is van mening dat met
hierdie verwysing voortgebou word op die tema om die identiteit van Jesus as
die Christus, die Seun van God, bo alle twyfel te stel. Die twee uitstaande momente waar die
identiteit van Jesus as die Christus bevestig is, was met sy doop en met sy
kruisdood. By sy doop is na Hom verwys as die Lam van God wat die sonde van die
wêreld wegdra (Joh 1:29). Wanneer Jesus
as die Seun van God aan die kruis sterf dan dien sy bloed as 'n reiniging van
alle sonde vir die wat in Hom glo (1:7)
Van die vleeswording van die Woord is die Gees die getuie en die Gees is
die waarheid. Ja, God Self is van
hierdie ondeurgrondelike genade die getuie (5:9).
Wat die
prediking uit die perikoop betref, is dit vreemd dat relatief min preekstudies
daaroor in Afrikaanse preekbundels en -studies voorkom. Selfs die vyf preekstudies wat saam met die
deeglike en prikkelende inleiding oor die prediking uit die 1
Johannesbrief verskyn het in Woord teen die Lig II/6, behandel nie hierdie perikoop nie. Dieselfde
verskynsel val ook op in 'n aantal beskikbare Nederlandse
preekstudie-reekse. In die eerste 12
volumes van die bekende Postille reeks, bevat net volume 1 en 2 een postille
elk oor enkele verse uit dié perikoop. Die 'onderbenutting' in bogenoemde
preektradisies is eintlik vreemd aangesien in sowel die Duitse Calwer Predigthilfen as die Amerikaanse Augsburg Sermons, veelvuldige gebruik
gemaak word van die perikoop, veral vir die prediking gedurende Paastyd.
In Homiletische Auslegung (1979) bied G Voigt oor 5:1-4 die
volgende tema en indelings aan: Wie uit
God gebore is: (1) Ontdek Jesus
Christus, (2) Vind die gebooie van God nie moeilik/swaar nie, (3) Oorwin die
wêreld. In Calwer Predigthilfen II/A (1979)
maak G Hennig die volgende suggestie: Tema: Geloof wat die wêreld oorwin (1)
Lei terug na Jesus, (2) Bring tuis in
kindskap van God, (3) Lei in in die broederskap, (4) Voer opnuut na die gebooie
van God, (5) Lei na 'n oorwinning oor die wêreld. Harold C Skillrud in Augsburg
Sermons, Epistles, Serie B (1978)
handel oor die skuld wat nie afgelos kan word nie. Hy illustreer dan die
liefdeskuld teenoor God en die medemens aan die hand van allerlei voorbeelde
uit die daaglikse lewe. Daar is veral
veel te sê ten gunste van Hennig se voorstel aangesien dit die prediker in die
geleentheid stel om redelik volledig aandag te gee aan die perikoop. Die
enigste leemte is dat sy voorstel op die korter perikoop gebaseer is.
'n Gedagte
wat in die perikoop sterk beklemtoon word, is dié van geloof wat die wêreld oorwin.
Sowel Hennig as Voigt laat besondere klem hierop val. Dit is 'n uitwerking van die geloof wat
vandag besonder sterk beklemtoon word in sowel evangeliese as charismatiese kringe. Die vraag is egter of dié oortuiging klop
met wat in die werklikheid gebeur? Is
dit so dat die Christelike geloof die wêreld oorwin? Het die Christelike kerk/gemeenskap werklik soveel invloed dat
die wêreld daarna luister? Indien ons
dit as stelling wil handhaaf dat geloof in Jesus Christus die wêreld oorwin,
dan is dit seker net reg dat ons gevra word om aan te toon wat ons daarmee
bedoel. Ons moet vir onsself rekenskap
gee oor die vraag watter invloed/gesag die Christelike geloof het in die VN; op
die groot finansiële wêreldmarkte – Tokio, New York, London – of selfs ons
plaaslike Johannesburgse beurs? Wat kan
die Christene doen teen die markkragte wat die beweging van geld en goedere
bepaal? Kan die Christene Sadam Hoesein
of Milosovich of Netanaju of Clinton of Castro se besluite laat verander? Kon die kerk die modernisme of pos-
modernisme keer? Inteendeel, die magte
waarvan ons hier praat, sleep die kerk meedoënloos mee.
Die terrein
vir die Christelike geloof word deur 'n antagonistiese front teruggedring tot
die private lewe van die enkeling. Dink
maar aan die hêrries wat losbars as Christene hulle uitspreek oor
sosiaal-etiese vraagstukke soos aborsie, genadedood, egskeiding, die uitdeel
van kondome, Sondaghandel, die verskaffing van sagte dwelms soos in Nederland.
Hulle word dan uitgeskel en veroordeel as bekrompe, negatief en wettisisties.
Maar, 'n nog groter verleentheid, is die verdeeldheid onder Christene oor
geloofsaangeleenthede. Christene
weerspreek mekaar en beveg mekaar met selfs groter heftigheid as die
teenkanting van die kant van andersdenkendes.
Terwyl predikers met groot stelligheid die vleeswording van die Woord
verkondig, skryf intellektuele Christene soos John Hick dat die inkarnasie van
God nie letterlik opgeneem moet word nie maar dat dit 'n blote metafoor is (vgl
sy The Rainbow of Faiths (1995) en The Metaphor of God Incarnate (1993). Christene is ook toenemend verdeeld oor die
vraag of Jesus Christus nog as die enigste en unieke verlosser bely kan word in
die lig van die pluralistiese religieuse samelewing. As laaste voorbeeld kan gedink word aan die verootmoedigende
onthullings wat van tyd tot tyd plaasvind as gesiene Christene betrap word dat
hulle gesteel, gemoor of gehoereer het.
Dan word
dit 'n eksistensiële vraag of die geloof in Jesus Christus wel die wêreld oorwin? Is dit nie 'n vorm van selfmisleiding om
soiets te dink of te beweer nie, terwyl tradisionele kerke 'n skerp afname in
lidmaattalle en in betrokkenheid van lidmate beleef nie?
Dit is dus
'n geweldige uitdaging om te preek oor 'n perikoop waarin daar sprake is van
“glo dat Jesus die Christus is” en te weet dat almal wat so glo, “kinders van
God is/uit God gebore is”; “gebooie gehoorsaam” en “die wêreld oorwin”! “weet
dat ons al die kinders van God liefhet”; “weet dat sy (God) gebooie nie
moeilik/swaar is nie” en “die Gees is die getuie daarvan”. Dit is 'n uitdaging
omdat dit wat gepreek word, rekening moet hou met 'n konteks wat die presiese
teendeel stel. Die prediker het egter
geen alternatief as om met integriteit en ootmoed te sê wat die perikoop sê
nie. Wat die perikoop ons bied, kan gesien word as 'n profiel van egte Christenskap. Voorop in die lewe van
die Christen staan die belydenis dat Jesus
die Christus is. Hierdie belydenis vorm die grondslag en bepalende kenmerk
van die lewe van die Christen en van die kerk. Reg van die begin van die
ontstaan van die Christelike kerk het dit die kernbelydenis uitgemaak. Hiervan is die 1 Johannesbrief 'n treffende
voorbeeld met as sentrale tema: Jesus is die Christus! Teenoor die dwaalrigtings van sy tyd met
hulle eiesinnige idees oor God, oor 'n aardse Jesus en 'n hemelse Christus, wil
die skrywer van 1 Johannes aan die gelowiges bevestig dat die geloof in Jesus
as die Christus nie 'n opsionele bysaak nie, maar die hoofsaak van die
Christelike geloof is. Hoe fundamenteel
en vol finaliteit hierdie belydenis vir die kerk/gemeente/gelowige is, word
deur Johannes skerp omlyn in 5:23: "Wie die Seun het, het die lewe; wie
nie die Seun van God het nie, het nie die lewe nie (vgl hieroor ook Paulus in 1
Kor 3:11). Hieruit is dit ook duidelik
dat die belydenis dat Jesus die Christus is, 'n intieme verbintenis met die
Vader skep.
Dié
belydenis is egter nie 'n menslike dinkkonstruksie nie. Nee, dit rus volledig in die inisiatief en
handeling van God. Wie glo dat Jesus
die Christus is, is 'uit God gebore'. Dit is nie 'n insig wat uit die mens opkom
nie. Dit is nie die vrug van menslike
breinkrag nie maar van God se skeppingskrag. Dit gaan om 'n nuwe geboorte, 'n
totaal nuwe lewe. Dit is 'n nuwe lewe
wat deur God verwek word, daarom 'uit God gebore'. In 3:9 stel Johannes dit
selfs skerper as hy praat van die 'saad' (sperma) van God wat in ons moet
bly. Geloof is nie 'n eienskap waarmee
ons gebore word nie. Dit is 'n eienskap
wat ons by ons wedergeboorte ontvang. God moet die hart verander en die
geloofsinsig bewerk. Hierdie proses
word vir ons treffend beskrywe in die Dordtse Leerreëls en die Heidelbergse
Kategismus. God is die Vader, die
Verwekker. Juis hierdie uitdrukking in vers 2 wys op die intiemste verbondenheid
met God. Wie in Jesus as die Christus glo, is uit God gebore/ is 'n kind van
God. 'Glo' het hier die betekenis van
'bely' (Bultmann). Dit is 'n geloofsverklaring wat 'n bepaalde lewenswyse tot
gevolg het! Alles wat dus in hierdie
perikoop gesê word, wentel/draai dus om die tema 'geloof'. Netsoos 'liefde' (4:7) en die 'soeke na
geregtigheid' (2:29; 3:9v), is 'geloof'
die teken van die nuwe geboorte en die nuwe lewe. Niemand kan sê dat hy/sy glo
en voortgaan om in sonde te lewe nie.
Wie glo is 'in Christus' en daarom dood vir die sonde.
Die
betekenis van hierdie lewensverbintenis met God ontvang 'n logiese uitbreiding
wanneer Johannes dit na twee kante kwalifiseer, te wete: 'gehoorsaming van God
se gebooie' en die 'liefde vir die medegelowiges'. Terwyl 'die liefde vir God' volgens 4:20 bevestiging gevind het
in die liefde vir die medegelowige, gebeur hier presies die omgekeerde. Die liefde vir die medegelowige kan getoets
word aan die liefde vir God en sy gebod.
Die vreemdheid van so 'n wyse van argumentering word opgehef wanneer
bedink word dat daar 'n onlosmaaklike verband is tussen die liefde vir die
Vader en vir almal wat deur die Vader verwek is/ die ander kinders van die
Vader. En juis hierdie koppeling van liefde
vir God en liefde vir die medegelowige omlyn die gemeente as unieke
gemeenskap wat om dié rede skerp onderskei word van enige humanisties gedrewe
groepering.
Die liefde
vir God word juis gekenmerk deur die gehoorsaming van sy gebooie (2:4v; Joh
14:15,21). Daar is nie sprake van liefde
vir God terwyl sy gebooie nie gehoorsaam word nie. Hierdie gedagte by Johannes is nie nuut nie maar vorm trouens 'n
deurlopende lyn in die bybelse heilsverhaal.
Voortdurend word die wel en weë van die volk van God verbind aan die
gehoorsaming van God se gebooie/ Sy onderwysing en lering. Jesus het dit besonder sterk gestel in die
bergrede (Matt 6:21-23). Beteken dit
dat ons terug is by wettisisme? Beslis
nee, want van wettisisme is hier nie sprake nie omdat die gehoorsaamheid wat gevra word, ingeweef
is in die liefde vir die Here. Ons gehoorsaam nie omdat ons moet of omdat
ons daarmee die heil moet verwerf nie. Ons gehoorsaam omdat ons 'uit God
gebore' is, omdat dit ons natuur is; omdat ons God en Sy gebooie liefhet; omdat
dit tot heil van ons medegelowiges, ja van alle mense is! Vanuit hierdie hoek gesien, spreek dit as 't
ware vanself dat die gebooie ook nie 'swaar' (las, irritasie) is nie. Iets wat
deur die liefde gedryf word, is nooit swaar nie!
Wie glo dat
Jesus die Christus is, word nie uit die wêreld weggeneem of wêreldvreemd gemaak
nie. Inteendeel, wie dít glo, glo en bely
só midde in die volle hitte en stryd van die lewe. Dat dié belydenis
teenkanting van die sondige wêreld oproep, moet nie verbaas nie. Die skrywer het verskeie kere in sy brief
daarop gewys dat daar valse leraars is wat die geloof in Jesus as die Christus
teenstaan. Hulle is nie uit God nie maar uit die wêreld (2:16). Hulle mis ook die liefde wat van die Vader
kom (2:15). Teenoor hierdie misleiers
moet die Christusbelyers aan die waarheid vashou en so die wêreld oorwin.
Daarmee bereik die perikoop 'n besondere toespitsing en hoogtepunt. Die
geloof dat Jesus die Christus is, is die oorwinning oor die wêreld! Dié oorwinning is geleë in Jesus
Christus. Hy het die wêreld oorwin en
gee aan elkeen wat in Hom glo deel aan sy oorwinning (Joh 16:33). Dat gelowiges daarop kan vertrou, word deur
God op 'n dubbele manier bevestig.
Enersyds word verwys na die Jesus as die een wat deur water en bloed
gekom het. Hier word stellig verwys na
sy doop en dood as die twee konkrete gebeure wat Jesus as die Christus belig
het. Andersyds tree die Gees wat die
waarheid is, ook navore as hoofgetuie dat Jesus die Christus is. Dieselfde Gees wat die geloof in ons wek, is
ook die getuie van die inhoud van ons geloof.
Dit is van beslissende belang dat elke gelowige 'n helder perspektief op
die profiel van die egte geloof sal hê.
Bibliografie
R E Brown (Anchor); M de Jonge(PNT); S Greydanus (Bottenburg); D J Louw, Pastorale elemente in die 1 Johannesbrief, in: WtL II/6, 135-150.