4 Mei 2003

derde Sondag van Paastyd/ Arbeidsondag

liturgiese voorstel

Fokusteks: 1 Johannes 3:1- 7

Ander tekste: Handelinge 3:12-19, Psalm 4, Lukas 24:36-48.

Inleiding

Die tekste vir vandag handel almal oor ‘n nuwe kans op ‘n splinternuwe getransformeerde lewe. Waar die ou lewe uitgeloop het op skaamte, mislukking en twyfel, word die nuwe lewe gekenmerk deur vertroue, rigting en blydskap. Die geloofsgemeenskap word her-orden tot ‘n alternatief op die wêreld. Christus se regverdigheid word hulle toegereken en hulle lewe gevolglik regverdig. Gelowiges word gestempel tot "kinders van God", sonder dat hulle dit verdien. Om as "familielid" van God gekies te word, Hom te verteenwoordig in ’n stukkende wêreld, verseker te wees wie jy is en waarheen jy op pad is, skep ‘n gesonde toekomsverwagting. Dit bepaal weer hoe die lewensreis moet verloop.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Aanvangsgebed (by die brandende Christuskers)

"Here, maak ons vanoggend bewus daarvan dat ons in U meer as oorwinnaars is. U het ons al so baie keer in die verlede geseën. Dankie dat U dit ook nou wil doen en dat u seëninge nooit opraak nie. Gee dat ons vandag geraak sal word deur die rykdom en krag van u opstanding."

Aanvangswoord en seëngroet

Na aanleiding van Psalm 4

Voorganger: Daar is baie wat sê: "Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?"

Gemeente: Toe ek in die nood was, het die Here my bevry. Die Here hoor as ek na Hom roep.

Voorganger: Julle moet die offers bring wat aan julle voorgeskryf is, en julle moet op die Here vertrou.

Gemeente: U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat daar is by mense wat alles in oorvloed het.

Voorganger: As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na en laat dit daarby!

Gemeente: Nou kom ek onbesorg na U toe, Here, want U alleen laat my veilig woon.

 

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die woord/epiklese

Kindertyd

Skriflesing

1 Johannes 3:1-10

Reaksie

Lied 254 "Spreek Heer" kan vier maal herhaal word: die eerste en laaste keer (almal), die tweede keer (dames), die derde keer (mans)/NSG 234: Wees genadig Heer

Prediking

Wet

 

Doop

Die doopouers, ...... en ......., word deur die ouderling, ........, aan die gemeente voorgestel.

Die voorganger verduidelik kortliks die boodskap van die doop: [dat die doop onvoorwaardelik die aanneming tot kinders waarborg. Dit gee aan ons ‘n karakter wat ons gedrag stempel. Ons ontvang die Naam van Christus en die drie-enige God wat soos ‘n seël op ons innerlike lewens geplak word. In die Oos-Ortodokse Kerk het die dopeling eers na die Weste gedraai (die rigting van die ondergang van die son en van die duisternis) en die Satan verwerp, waarna hy/sy dan omgedraai is ("con-verted") om in die rigting van die Ooste te kyk (waar die Son van geregtigheid opkom) om sodoende trou te sweer aan Christus en die drie-enige God. 1 Petrus 2:1-10 sê dat ons voorheen ‘n "niemand" was en nou ‘n "iemand" geword het, ja, God het ons geroep uit die duisternis na sy wonderbare lig. Ons is nou vir God "afgesonder", God se "eiendom". "Hou dan op met…" [Sien ook die preekstudie (BdT) se stof oor Joh.1:12.]

Die voorganger vra dan vir die ouers: ....... en ........., wat is dit wat u van die Kerk vra vir julle kindjie?

Ouers: Ons vra dat hy/sy gedoop word in die waarheid van die Christelike geloof asook ingelyf word in die familie van Jesus Christus.

Voorganger: In die lig van die belofte van die verbond van die Here en op grond van julle versoek, vra ek nou aan julle: Glo julle dat die evangelie in staat is om ons van duisternis te laat wegdraai na die lig van Christus toe?

Ouers: Ja.

Voorganger: Kom laat ons die Christelike geloof bely waarin ons gedoop word. – Staande

Voorganger: Glo jy in God, wat jou gemaak het en vir jou baie lief is?

Gemeente: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;

Voorganger: Glo jy in Jesus Christus as jou Redder en jou Here?

Gemeente: Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die

Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; wat op die derde dag opgestaan het uit die dood; opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, vanwaar Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

Voorganger: Glo jy in die Heilige Gees, en die voortgaande werk van God in ons redding?

Gemeente: Ek glo in die Heilige Gees; ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die

gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die liggaam en ’n ewige lewe.

Die ouderling gooi water in die doopvont.

Sang

Jesus roep die kindertjies. Lied 294: /NSG 362

Gebed

"O God, U wat die mismoedigheid van die dissipels met u opstanding verdryf het, U wat die donkerte van hulle vrees binnegedring het, hulle dorre lewens van twyfel met die water van u liefdevolle genade natgemaak het: maak met ons net so. U wat die Skrywer is van stories met ‘n nuwe begin, U wat verrassende nuwe wendinge bring in situasies waar ons met die onmoontlike gekonfronteer word: neem ons in u hande! Gee aan ons deur u Gees ‘n duidelike besef dat ons u kinders is. Die wêreld ken ons nie, Here. Hulle verwerp ons selfs, soos hulle met U gedoen het, en dit is deel van ons stryd. Sonder ons nogtans vir uself af en maak dat ons waardig ons naam sal wandel: u begenadigde kinders!"

Die gemeente bly staan vir die bediening van die doop.

Die gemeente sing die dopeling(e) toe: "Die Here seën en beskerm jou…"(NSG 355 of 356), waarna met die "Amen" afgesluit word.

Die gemeente sit, waarna die nuut gedoopte(s) aan die gemeente voorgestel word.

Reaksie

Die voorganger vra die ouer(s) om te belowe dat hulle hierdie kindjie in die Christelike geloof sal grootmaak, die peetouers (ondersteunende vriende) om hulle by te staan, en stel dit dan aan die gemeente:

Ek stel dit ook aan u, geliefdes van die Here, as gemeente, om te bly bid en werk soos die Here wil, sodat hierdie kindjie/dopeling en al die kinders van God onder julle, sal groei in die genade van ons Here Jesus en in die kennis en liefde van God.

Gemeente: Met die hulp van God, bely ons, dat ons as ‘n liefdevolle gemeenskap van gelowiges in

Christus sal leef: terwyl ons mekaar sal ondersteun en versorg in die geloof, terwyl ons mekaar in die gebed sal dra, en mekaar sal bemoedig in Christelike diensbaarheid.

Doopseëls word oorhandig.

Alternatief

As alternatief vir bogenoemde formulier kan die formulier vir die bediening van die doop aan kinders van die VGK gebruik word wat voor in die bundel verskyn.

Sang

DIENS VAN DIE TAFEL

Voorbidding

Gebed vir die arbeidslewe

Laat ons saam bid

Voorganger: Vir almal wat die aarde bewerk en die oes insamel,

Vir almal wat die see bevaar en hul bestaan op die groot water maak,

vir almal wat in kantore en winkels werk,

vir almal wat moeitevolle arbeid verrig in fabrieke en smeltoonde en in myne onder die grond,

vir almal wat op plase werk,

vir ambagslui, seisoenwerkers, voertuigbestuurders,

en kontrakwerkers, bid ons...

Gemeente: Here hoor ons as ons vir hulle bid!

Liturg: Vir almal wat werkers in diens neem en vir almal wat werkers organiseer,

vir almal wat verantwoordelikheid dra,

vir almal wat die lewe van ander verryk deur kuns, wetenskap en kennis,

vir alle bedienaars van u Woord,

vir onderwysers, huisartse en snydokters,

vir hospitaalpersoneel wat siekes versorg,

vir vroue in die sakewêreld en in die huis,

vir regeringsleiers, owerheidsinstansies en die veiligheidsdienste,

bid ons...

Gemeente: Here hoor ons as ons vir hulle bid!

Liturg: Vir almal wat nie vreugde en vrug op hulle arbeid smaak nie,

vir almal wat sonder werk is,

vir almal wat nie wil werk nie,

vir almal wat afgetree is en vir pensioentrekkers,

vir almal wat sonder 'n huis is en sonder vriende, bid ons...

Gemeente: Here hoor ons as ons vir hulle bid!

Liturg: Vir almal aan wie ons die evangelie bring in die werkplekke (van die Wes-, Suid- en

Noord-Kaap)

vir al die werkgewers en werknemers,

vir mense in Transnet,

vir al die mense in die Handel en Nywerheid,

vir die Seelui en die Vissers in ons hawens,

bid ons...

Gemeente: Here hoor ons as ons vir hulle bid!

Liturg: Vir elkeen wat in diens van Arbeidsbediening is,

vir al die administratiewe werkers en bodes,

vir die komiteelede op plaaslike vlak,

vir die geestelike werkers en hulpwerkers,

vir almal wat help om die bediening te bestuur,

vir elke persoon wat die bediening finansieel dra en vir al die voorbidders,

bid ons...

Gemeente: Here hoor ons as ons vir hulle bid en as ons u vir hulle liefde en toewyding dank!

Liturg: Terwyl ons nou hiervandaan op die pad gaan

en ons verkondigingstaak gaan voortsit op die plekke waarvandaan ons gekom het,

bid ons om u bewaring en u seën;

In nuwe oorgawe aan U en met nuwe ywer vir ons werk,

bid ons saam soos U vir u dissipels geleer het:

Gemeente: Ons Vader, wat in die Hemel is...

Amen

UITSENDING

Sang

Daar kan met Paasliedere afgesluit word.

Seën

PREEKSTUDIE – 1 JOHANNES 3:1-7

Teks

1. Met die oog op die bespreking vir hierdie preekstudie, word 1 Johannes 2:28-3:10 as ‘n geheel geneem, met 1 Johannes 3:1 as fokusteks. Dit lyk eksegeties en struktureel meer verantwoord om 2:28-3:10 as ‘n eenheid te neem, en wel om die volgende redes:

‘n Nuwe onderwerp, naamlik dié van "gebore uit God" of "kind van God wees", word vir die eerste keer aangesny en loop deur tot by 3:10.

Drie afsonderlike eenhede begin agtereenvolgens met "kinders" of "my kinders" (2:12, 18, 28).

By 3:11 (soos by 1:5) begin ‘n nuwe hoofdeel van die brief met: "dit is die boodskap wat julle gehoor het". Die vorige gedeelte eindig dus by 3:10.

Daar is ook ander argumente (Brown).

2. In dié deel noem die outeur die gelowiges "kinders van God" of "gebore uit God", en werk die betekenis verder in die teks uit. As aanvaar word dat dit die hoofsaak in die gedeelte is, het ongeveer alles wat hier staan, daarmee te doen. Volgens die res van die teks beteken dit die volgende om kind van God genoem te word: om in Hom te bly, vrymoedigheid te hê, die geregtigheid te doen, nie deur die wêreld geken te word nie, aan Hom gelyk te wees/word wanneer Hy verskyn, jouself gedurig te reinig, jou broer lief te hê, te weet dat jou sonde weggeneem is en om nie te sondig nie.

3. Die outeur gebruik hier ‘n ongewone Griekse woord vir kinders, met betrekking tot die "kinders van God", naamlik die woord "tekna" (3:1,2,10; 5:2). Wanneer hy net sy lesers in die algemeen aanspreek as "kinders" of "kindertjies" of "my kinders", gebruik hy die woorde "teknia" (2:1,12,28; 3:7,18; 4:4; 5:21), of "paidia" (2:14,18) afwisselend. "Kind van God wees", is dus ‘n spesifieke kategorie. Lieu wys daarop dat hierdie status nie deur aanneming (Rom 8:15, 23) verkry is nie, maar deur geboorte. Daar is egter niks in die teks om die moment van geboorte (as kind van God) te verbind aan bekering, of doop, of enige ander moment nie. Die teks werk net met die gegewe, naamlik om kind van God genoem te word. In verse 8–10 word "kind van God wees" gekontrasteer met "om aan die duiwel te behoort" en "kinders van die duiwel te wees". Dit lyk dus of hier net een van twee moontlikhede is, naamlik: "kind van God", òf "kind van die duiwel". Christus het juis gekom om die werke van die duiwel te verbreek.

Konteks

Dat hierdie brief waarskynlik teen die einde van die eerste eeu aan die Johannese gemeenskap in hulle spesifieke omstandighede (vgl Sondag 27 April) gerig is, het konsekwensies vir die verstaan van die brief, én van hierdie gedeelte. Die besondere uitdaging aan die gemeenskap was die handhawing van hulle identiteit en belydenis, asook hulle worsteling met die dwaalleraars wat steeds besig is om verwarring te saai.

Seker die brandendste hermeneutiese/eksegetiese kwessie hier, is die suggestie in verse 6 en 9 dat gelowiges, of kinders van God, nie sondig nie. Hoe moet dit verstaan word? (In die lig van 1:8, 10 waar oënskynlik die teenoorgestelde beweer word). Hierdie verse kan net reg verstaan word teen die agtergrond van die sondebeskouing van die hele brief. In elke hoofstuk word in een of ander verband na die sonde verwys. Is daar ’n deurlopende geïntegreerde siening oor sonde? Van belang is dat Johannes van meer as een "soort" sonde praat; 3:9 en 5:18 praat van diegene uit God gebore wat nie sondig nie, en 3:8 dat dié wat sondig, uit die duiwel is. Om te sondig of nie te sondig nie, word gereduseer tot die absolute wortel van die saak, naamlik om of uit God te wees of van die duiwel te wees. Hy werk dus met twee kategorieë, naamlik dié van gelowiges en van ongelowiges. Oor die sonde van gelowiges lees ons in 1:7, 8, 9, 10; 2:1, 2, 12; 3:6, 9; 4:10; 5:16, 18, en oor die sonde van ongelowiges in 1:5, 6; 2:4; 3:4, 6, 8 (In een geval, 5:17, wat sê dat alle ongeregtigheid sonde is, is dit moeilik om te besluit in watter kategorie om dit te plaas, en sou dit heel waarskynlik by altwee kon wees.) In die meeste van die verse waar van die sonde van gelowiges sprake is, praat hy in die eerste persoon meervoud (ons), terwyl die spreekwyse in die geval van ongelowiges onpersoonlik is. Dit bewys dat hy tussen die sonde van "broers" en die sonde van dié daarbuite onderskei (Scholer). In dié lyn moet ons ook die onderskeiding in 5:16-18 verstaan, waar van die sonde tot die dood en sonde wat nie tot die dood is nie, sprake is. Sonde wat nie tot die dood is nie, is die sonde van gelowiges. Hulle het in elk geval die lewe (5:12), terwyl sonde tot die dood die sonde van ongelowiges is, want hulle het nie die Seun nie en dus ook nie die lewe nie. Wanneer alles saam bekyk word, blyk dit dat daar eintlik net een groot sonde is, en dit is om nie in Christus te glo nie (Joh 16:9). Om in Christus te glo en in Hom te bly en dan verkeerd te doen, is sonde, maar dit is vergeefde sonde, gereinig deur die bloed van Jesus, en in daardie sin is dit eintlik nie sonde (tot die dood) nie. Die een groot sonde is om nie in Jesus te glo en nie in Hom te bly nie, maar in die duisternis te bly. Dan is elke sonde, ook klein sondes, sonde tot die dood. Vanuit dié perspektief, is dit verstaanbaar dat Johannes so ver gaan om te sê dat hulle wat uit God gebore is, nie sondig nie en nie kan sondig nie.

Preekvoorstel

1 Johannes 3:1 word as teks geneem saam met Johannes 1:12. Die hooftema is die wonder van kindskap van God. Daar was ‘n tyd dat dit, saam met geloofsekerheid, ‘n prominente onderwerp van prediking en bespreking was. Waarom staan dit vandag op die agtergrond, en wat het in die plek daarvan ingeskuif? Hierdie tema is ‘n bekende een in die Johannese geskrifte. Reeds in die eerste hoofstuk van die evangelie word dit genoem, en wel in Johannes 1:12. Laasgenoemde is egter een van die enkele verse in die Nuwe Testament wat die meeste verkrag en ingespan word vir ‘n soort (Arminiaanse) teologie waarvoor dit nie bedoel is nie. Vir die verstaan van die gebruik van die begrip in 1 Johannes, word kortliks aandag gegee aan Johannes 1:12.

Mense lei uit ‘n letterlike lees van Johannes 1:12 af dat kindskap van God volledig afhanklik is van die menslike daad van die aanname van Jesus Christus as Verlosser. Mense reken die Bybel sê hier letterlik dat almal wat Hom aanneem, kinders van God word. Wat nie dadelik ingesien word nie, is die hoofwerkwoord, die onderwerp en voorwerp (dus die hoofsin) van die teks, en hoe die res daarby ingebed is. Deur hierdie basiese eksegese, verander die prentjie dramaties. Die onderwerp is "Hy", die hoofwerkwoord "het gegee", en die voorwerpsin is "mag om kinders van God te word". Die indirekte voorwerp van die sin is "aan hulle" (autois). Die res van vers 12 asook die hele vers 13, is verdere kwalifikasies van, of inbeddinge by hierdie indirekte voorwerp. Dit geld die volgende frases: (a) soveel as wat hom ontvang/of aangeneem het; (b) hulle wat glo in sy naam, en; (c) die hele vers 13: wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees, of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is. Waaroor dit dus hier gaan, is dat God mag gee om kinders van Hom te word. In die vorige vers (vers 11) is gesê dat Jesus na sy eiendom gekom het en dat sy eie mense Hom nie aangeneem het nie. Die vraag ontstaan dan wie Hom wel aangeneem het? Vers 12 gee die antwoord. Dié aan wie God die mag gee. (Vir verdere inligting oor die konstruksie, sien Brown se kommentaar op Johannes in die Anchor Bible).

Hier is slegs sprake van goddelike inisiatief, en nie van ‘n voorvereiste wat eers as prestasie deur die mens nagekom moet word nie. Dieselfde aksent is ook in 1 Johannes. Dit is die rede waarom "kind van God" as sinoniem afgewissel word met "uit God gebore wees". Trouens, in 1 Johannes is laasgenoemde die hooffrase. Wat meer is, volgens 3:1 word ons kinders van God genoem op grond van die liefde wat die Vader aan ons betoon het. Dat gelowiges kinders van God genoem word, is volledig ‘n saak van goddelike inisiatief, en wat ons nou in hierdie gedeelte verder hoor, is wat dit alles behels om so genoem te word.

Die daaglikse lewe van kinders van God.

Die eerste en belangrikste opdrag vir kinders van God, wat ook met hul daaglikse lewe te doen het, is om in Hom te bly (2:28). Om in Hom te bly is net ‘n ander formulering vir gemeenskap met Hom hê (koinonia). So moet die normale lewe van kinders van God, wees; hulle het daagliks gemeenskap met God die Vader en met Jesus (1:3), hulle bly in Hom. Dit beskryf natuurlik ‘n werklike betekenisvolle diepteverhouding van wesenlike betrokkenheid van die partye by mekaar. Dit is nie ‘n oppervlakkige saak wat van tyd tot tyd in werking tree wanneer dit benodig word nie. ‘n Moderne woordeboek gee die volgende betekenis vir die woord "koinonia": "an association involving close mutual relations and involvement – close association, fellowship". Dit is ‘n stywe toets vir die daaglikse lewe van gelowiges vandag. Help ons werklik mekaar om in ons verhouding met God tot diepte te kom? Watter daadwerklike insette word deur die kerk gelewer om konstruktiewe "koinonia" met God te bevorder waar mense gehelp word om saam met ander in so ’n verhouding met God te tree?

Hierdie is die laaste gedeelte onder die groot hoofdeel, naamlik om in die lig te wandel, as kriterium vir "koinonia". Dit begin by 1:5 (vgl 27 April). Die "koinonia" waaroor dit in hierdie brief handel en wat ‘n kenteken is van die wandel in die lig, is beide "koinonia" met God Drieënig, sowel as "koinonia" met mekaar. Hier handel dit hoofsaaklik oor "koinonia" met God, maar net in die volgende gedeelte wat begin by 3:11, handel dit weer oor die gemeenskap met mekaar. Laasgenoemde word in hierdie brief hoofsaaklik beskryf met die woorde "om mekaar lief te hê". ‘n Mens sou ook kon sê dat dit in hierdie gedeelte reeds uitgedruk word deur die woord "kinders"; ‘n familieterm – die hegste eenheid onder mense. Die familie dui op saamwees, een wees, met mekaar wees, vir mekaar wees. "Kind van God wees" beteken dan in die eerste plek dat God die gelowiges as ’t ware in sy gesin opneem. Jy word as kind in die gesin van God gebore. In dié gesin is alle ander gelowiges opgeneem.

Mense in die antieke tyd het nie aan hulleself in die eerste plek as individue gedink nie, maar as groeplede. Die gesin was belangriker as die individu. Die individu het sy identiteit van sy groep verkry. Gemeenskap met God en gemeenskap met mekaar, is in die brief ten nouste verbonde. Die een sonder die ander kan nie. Gemeenskap met God sonder gemeenskap met broers en susters, is nie ware gemeenskap met God nie, en gemeenskap met mekaar sonder gemeenskap met God, is ook nie die egte produk waaroor dit in hierdie brief gaan nie. Die lewe van kinders van God is dus ‘n lewe van "koinonia", gemeenskap, "fellowship".

Ons behoort te erken dat hierdie aspek van die ware Christelike lewe vandag, nie meer so duidelik gesien word in Christene se lewe nie. Dit is daarom noodsaaklik vir gelowiges om hulleself voortdurend te reinig. Daar is diegene wat die moeilike uitspraak van 3:6 en 9 maklik verklaar deur te sê dat die groot geheim is om in Hom te bly. Solank ek in Hom bly, sondig ek nie, maar sodra ek nie meer in Hom is nie, sondig ek. "Kind van God wees", is dus om in Jesus en in die Vader te bly in ‘n voortgesette betekenisvolle intieme verhouding.

Die optrede van kinders van God in die wêreld.

‘n Verdere deel van die lewe van die kinders van God, is hulle optrede in die wêreld. 1 Johannes is ‘n praktiese brief. Die boodskap is duidelik. Vroom praatjies oor kennis van God en kindskap van God wat nie in die optrede en dade gereflekteer word nie, is betekenisloos. Woorde alleen help nie. Trouens, om net te praat en allerhande aansprake oor ‘n mens se Christenskap te maak wat nie deur dade bewys word nie, word ten sterkste deur hierdie brief afgewys (vgl 1:6, 8; 2:3, 4, 5, 6; 4:20). Hierdie teks is duidelik: elkeen wat die geregtigheid doen/doen wat reg is, is uit Hom gebore. Om die geregtigheid te doen, of te doen wat reg is, het werklik die omvattende betekenis om God se wil op elke lewensterrein te doen.

Die woord wat met "geregtigheid" of "regverdig" vertaal is, word in ‘n moderne woordeboek beskrywe as "the act of doing what God requires, doing what is right". Dit sluit die daaglikse arbeid van kinders van God in hulle werkplek in. Daar tree die kinders van God, wat permanent in Hom bly, tog nie anders op nie. Die arbeid en die arbeidsterrein van ‘n kind van God, is die arena, die speelterrein, waar hulle Christenskap getoets word. Trouens, dit is daar waar dit soveel moeiliker is om God se wil te doen, reg en geregtigheid te laat geskied, en in liefde op te tree. Dit is geen eenvoudige taak om in die werkplek te weet hoe nie, maar is dit nie juis die uitdaging vir kinders van God wat saam werk, om ook daar bymekaar te kom en as Christene saam te vra en te soek na sy wil nie?

Wat hier belangrik is, is die kontras in die teks. In 2:29 en 3:7 word die kinders van God beskrywe as mense wat die geregtigheid doen of regverdig lewe (1983- vertaling), maar daarteenoor word in 3:10 verder verduidelik dat elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, ‘n kind van die duiwel is. Dit gaan dus oor sekere dade in mense se lewe wat uitwys of hulle kinders van God of kinders van die duiwel is. Wat is hierdie dade? Dit is duidelik, ook uit die res van die brief, dat Christene se Christenskap deur die wêreld gelees word in meer as net in hulle woorde. Hoe ‘n mens lewe, kom ook duidelik na vore waar ‘n mens werk.

Die filosofie van die dwaalleraars waarteen die Johannesbrief skryf, het geleer dat jy byvoorbeeld met jou liggaam kan doen wat jy wil, solank jy met jou gees vir God ken. Dié dubbele lewenshouding sal nie op die markplek werk nie (oor die dwaalleraars, kyk 27 April). Die wêreld dink nie veel van mense wat nie vertrou kan word nie, nie betroubaar is nie, nie getrou is nie, maar vroom beweer dat hulle Christene is. As Christene (of sogenaamde Christene) meedoen aan korrupsie en selfverryking ten koste van ander, wat bly dan oor as getuienis van die Christendom aan die wêreld? Hierdie brief stel dit as ‘n kenmerk en ’n opdrag aan kinders van God, dat hulle God se wil sal doen en sal doen wat reg is, ook, nee juis, in die werkplek.

Die "sonde" van kinders van God.

Kinders van God sondig ook, maar hieroor het die eerste Johannesbrief fyn genuanseerde uitsprake, soos reeds verduidelik. Die sonde van kinders van God is volgens hierdie brief nie dieselfde as die sonde van die kinders van die duiwel nie. Kinders van God lewe uit die wonder van sondevergifnis en weet dat hulle gereinig is deur die bloed van Jesus Christus (1:7). Die een groot sonde, naamlik om Jesus te verwerp en die rug op Hom te draai, het hulle nie gepleeg nie. Vanuit hierdie perspektief sou ‘n mens kon sê, soos Johannes in 3:6 en 9 (vgl ook 5:18), dat elkeen wat in Hom bly, nie sondig nie, of dat elkeen wat uit God gebore is, nie sonde doen nie – trouens, nie kán sondig nie. Tog is die nie die bedoeling van hierdie verse om te beweer dat kinders van God nooit iets verkeerds doen, bo sonde verhewe is en sondeloos is nie (vgl 1:8,10). Hulle sonde is net van ‘n ander aard, want hulle kan nie die sonde tot die dood pleeg nie.

Die brief het duidelik iets te sê oor gelowiges se sonde en hoe daarmee gehandel moet word. Die eerste wat uit 1:8 en 10 duidelik is, is dat gelowiges die feit moet erken dat hulle sonde het – ook spesifieke sonde. Dit is presies wat die dwaalleraars ontken het en teen wie Johannes hier skryf. Daarmee saam bely gelowiges voortdurend hulle sondes, sondes in die meervoud (1:9), en is sondebelydenis eintlik ‘n lewenshouding by gelowiges. Verder weet gelowiges om gereeld wanneer hulle gesondig het, na hulle advokaat te gaan daarmee(2:2). Hy tree vir ons in en is ‘n versoening vir ons sondes. In die vierde plek moet gelowiges die vergifnis van hulle sonde as ‘n genadegawe uit die hand van God aanvaar (2:12). Trouens, Jesus het juis verskyn om ons sondes weg te neem (3:15), en sy bloed reinig ons van alle sonde (1:7). Laastens is daar die oproep om in Hom te bly. Volgens 3:6 is dit net elkeen wat in Hom bly wat nie sondig nie, en daar is klaarblyklik geen gelowige wat volmaak daarin slaag om dit elke oomblik te doen nie. Een van die moeilikste dinge vir mense vandag is om ‘n fout te erken teenoor ander, wat nog te sê sonde. Vir baie is dit genoeg om dit in privaatheid teenoor God te bely. Dit is natuurlik reg, maar dit herstel nog nie die verhouding met ‘n broer of ‘n suster nie (vers 10).

Kinders van God is ook sondaars wat net in ootmoed en verbryseling elke dag voor die aangesig van die Here kan leef met belydenis van hulle sonde.

Die hoop en toekomsverwagting van kinders van God.

In hierdie gedeelte is een van die duidelikste verwysings na die koms, of wederkoms van Christus. In 2:28 word verwys na sy verskyning en na sy koms as iets wat nog in die toekoms lê, en in 3:2 word weer na sy verskyning as iets wat nog nie plaasgevind het nie. Dit is betekenisvol dat die outeur ‘n duidelike kronologiese tydsorde in die heilsgebeure veronderstel en onderskei tussen wat reeds gebeur het en wat nog moet gebeur. Volgens baie verskil dit van die evangelie (volgens Johannes) wat sterk fokus op die hier en die nou en wat juis nie so sterk onderskei ten opsigte van die toekoms nie.

Hier is die enigste plek in die brief waar die woord vir hoop voorkom (3:3), en hierdie hoop is ‘n duidelike verwysing na die verskyning van Jesus. As inhoud van die hoop word hier aangedui die verwagting dat kinders van God Jesus by sy verskyning sal sien soos Hy is en dat hulle dan ook self aan Hom gelyk sal wees (3:2,3). Die teks verduidelik nie wat dit presies behels nie, maar noem net die saak. Miskien pas dit ons ook om dit nie te probeer verklaar en daaroor te spekuleer nie, maar om dit as troos te aanvaar en ons daarin te verbly.

Dit sal in elk geval nie iets anders wees as wat ons reeds in Jesus is nie, net ‘n ander aspek daarvan miskien, want ons het reeds die ewige lewe in Christus en is reeds in Jesus nuwe mense (5:12,13). Dit is deel van die troos van kind van God wees om seker te weet dat Jesus wel weer sal kom, en dat by sy wederkoms, juis die intieme verhouding van kind wees sal maak dat gelowiges sy wederkoms nie hoef te vrees nie, maar dat dit vir hulle ‘n vreugde sal wees. Hierdie vaste hoop as troos en aansporing vir Christene om naby Hom te lewe en in Hom te bly, speel ‘n klein rol in die lewe van gelowiges vandag. Is dit reg so en moet ons daarmee tevrede wees?

Na die opstanding en die hemelvaart van Jesus lê die grootste krag en troos vir gelowiges volgens die hele Nuwe Testament, beide in sy teenwoordigheid deur sy Gees, sowel as in die verwagting van sy wederkoms. In teenstelling met die Christene van destyds het ons klaar soveel in hierdie lewe, dat dit vir ons moeilik is om so sterk uit te sien na die wederkoms van Christus en die herstel van alle dinge. Daar is egter ‘n groot seksie van ons bevolking wat dit nie so ruim het nie en wat hulleself seker beter kan vereenselwig met hierdie aspek van die vroeë Christene se geloof.

"Kind van God wees" in hierdie wêreld is niks minder nie as om as "familielid" van God, Hom te verteenwoordig in ’n stukkende wêreld. Slaag ons daarin? Beter as die mense vir wie Johannes in sy eerste brief geskryf het?

Bibliografie

Sien bronnelys by 27 April.