25 JULIE 2004

SEWENDE SONDAG IN KONINKRYKSTYD

LITURGIESE VOORSTEl

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: 2 Petrus 3:3-16

Ander tekste: Hosea 1:2-10; Psalm 85; Kolossense 2: 6-15; Lukas 11:1-13

Inleiding

Hosea 1:2-10 is die verhaal van hoe God die profeet opdrag gegee het om met Gomer te trou, sowel as die geboorte en naamgewing van die drie kinders uit dié huwelik. Psalm 85 bied n respons op die drama van Hosea 1, met die verskil dat wat in Hosea 1:10 toekomshoop is, vir die hedendaagse geloofsgemeenskap n historiese geloofswerklikheid is. Kolossense 2:6-15 verduidelik die volle omvang van die Heerskap van Christus. Lukas 11:1-13 fokus op gebed. In die modelgebed leer Jesus sy volgelinge bid. In die preekvoorstel oor 2 Petrus 3:3-16 word vanuit drie verskillende perspektiewe na die wederkoms van Christus gekyk.

Volg die voorstelle in die basisliturgie. Wat hier volg, kan gebruik word ter verryking daarvan, of as variasie ter wille van die boodskap van die bepaalde Sondag in hierdie geval ons wederkomsverwagting.

GOD VERsamel ONS VOOR HOM

Aanvangsgebed

Lied 168:1, 3 "Heilige Jesus"\NSG 160 Die lied kan ook deur n solis voorgesing word

.Aanvangswoord

Voorganger: 6Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe

Gemeente: Ons wil in verbondenheid met U leef!

Voorganger: 7in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.

Gemeente: Ons dank U, Here!

Voorganger: 8Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie.

Gemeente: Ons wil gehoorsaam wees, Here!

Voorganger: 9In Hom is die volle wese van God beliggaam, 10en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag.

Gemeente: Ons loof U, Here! (beurtspraak n.a.v. Kol. 1:6-9).

Seëngroet

"Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien:

Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar" (Ps. 85:10).

Lof en Aanbidding

Lied 202:1,2,3 "Prys Hom, die Hemelvors"

Lied 231:3,4 "Heilig, heilig, heilig, Here"\NSG 61

Lied 411:1,2,3 "Kom, almal, laat jul stem verrys!"\ NSG 112

Lied 421:1,2,3 "Die Here Jesus lewe"

Verootmoediging

Sang

Lied 585:2, 3 "O Jesus, laat ons nooit vergeet"

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Psalm 119:49-56

Lied 372:3 "Hoe glansryk blink die Môrester"\NSG 86

Skriflesing

2 Petrus 3:3-16

Kindertyd

Kyk by die preekvoorstel, waarin die kernbegrippe "geduld" en "wag" geïllustreer word.

Woordbediening

Respons

Lied 219:1, 2, 3 "Laat ons sing van ons Verlosser".

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalherinnering

Lees by die nagmaalstafel (waarop die brood en die wyn sigbaar is) die paragraaf van die formulier oor die nagmaal as n verkondiging van ons toekomsverwagting: "Ons het in die nagmaal die versekering dat die Here een met ons is. Tog kyk die gemeente hiermee ook vooruit na sy wederkoms, en verkondig daarmee die dood van die Here totdat Hy kom. Deur die nagmaal strek ons ons uit na die dag wanneer Christus in heerlikheid sal verskyn en alles tot volheid sal bring, die dag wanneer Hy die hemel en die aarde nuut sal maak sodat geregtigheid daarin kan woon en God alles ... vir alles (1 Kor.15:26) kan wees. In die nagmaal verlang die bruid van Christus na die bruilofsmaal van die Lam."

Sang

Lied 464:3,4 "O Heer my God"\NSG 35.

Voorbidding

Dankoffers, bulletin en voorbidding. Die voorbidding word afgesluit met die gemeente wat saam hardop die "Ons Vader" bid, of die gedeelte daarvan wat in Lukas 11:2-4 voorkom.

UITSENDING

Sang

Lied 427:2 "Alle volke, loof die Koning!"

Lied 523:4 "Goddelike liefdebande"\NSG 190

Seën

PREEKSTUDIE 2 PETRUS 3:3-15

Teks

2 Petrus 3 beskryf die absolute liefde van Petrus vir die gemeente. Dit is `n pastorale brief waarin sy liefde uitgedruk word in die vorm van kommer dat hulle nie reg voorberei is vir die koms van die Here nie. Hy is bekommerd dat dwaalleraars en spotters hulle kan laat afsien van hulle hoop op die heerlikheid. Daarom beklemtoon hy dat hulle voorbereid moet wees op die koms van die Here. Hy wys ook op die liefde en geduld van God, om mense tot redding te bring. In die eerste gedeelte word die spotters of dwaalleraars weerlê, as hulle die wederkoms van die Here wil bevraagteken. Die skrywer wil die lesers daaraan herinner dat hulle nie weet wanneer die Here weer kom nie, maar dat hulle gereed moet wees. Die sekerheid van die hemelse oordeel word beklemtoon (8-15a), asook die lankmoedigheid van die Here (9, 15).

Vers 3, 4 stel dat daar mense in die eindtyd sal wees wat spot met die wederkoms (dieselfde woorde as in 1:20). Die spotters saai twyfel oor die toekomsverwagting. Hier moet onthou word dat die eerste geslag Christene die wederkoms in hul eie leeftyd verwag het, maar omdat dit nie gebeur het nie, het daar baie vrae en twyfel by mense begin ontstaan (1 Tess. 4:13; 1 Clem. 3-26). Die lesers wat hier aangespreek word, is al tweede en selfs derde geslag Christene. Die vervulling van die belofte was steeds buite sig. Die hoop het by baie mense vervaag, sodat die wederkoms slegs `n droom geword het.

Die skrywer weerlê die dwaallering van die spotters met vier argumente:

5-7: Die eerste wêreld het reeds vergaan.

8: God se tyd is anders as die mens se tyd.

9: God se uitstel van die wederkoms het `n genade en liefdesmotief.

10: Die dag van die wederkoms sal onverwags wees.

Met die vier argumente het die skrywer die toekomsverwagting deeglik beredeneer. Die volgende gedeelte (11-14) bevat `n pastorale gesprek met die gemeente oor die wederkoms. Die etiese implikasies van die tweede koms word hier bespreek. In vers 15 roep die skrywer weer op tot `n geduldige wag op die wederkoms. Hy gee die rede aan waarom hy dink die Here nog nie gekom het nie, naamlik die Here se geduld met die mens se ongeloof en onverskilligheid. Hy gebruik Paulus se uitsprake om sy argument te versterk.

Konteks

Die sentrale dogmatiese probleem in die perikoop is die verskillende sieninge van die eskatologie (Combrink). Die uitspraak in vers 9 dat die Here "wil hê dat almal hulle moet bekeer", word soms verskillend geïnterpreteer. Daar moet met omsigtigheid gehandel word, veral as mense die leer van die uitverkiesing aan die uitspraak wil koppel. Die bedoeling van die gedeelte dui slegs daarop dat God graag wil hê dat niemand verlore gaan nie (Eseg. 18:23; Rom. 5:18; 1 Tim. 2:4; 1 Joh. 2:2). Hier is dit duidelik dat God se wil almal omvat, maar dat Hy niemand wil forseer nie. Groenewald gee die bedoeling aan dat dit die verantwoordelikheid van die mens is om die "aangebode heil aan te neem, te glo en hom te bekeer". Volgens Combrink is dit `n belangrike hermeneutiese uitdaging om die besondere verhouding van eskatologie en etiek te laat neerslag vind: "Van die vreemdheid van die eindtydgebeure moet die lyn deurgetrek word na die vreemdheid van die Christen in die wêreld."

Daar moet aandag gegee word aan die aktuele argument dat nie alle gelowiges vreemd voel in die wêreld nie. Die vraag kan gevra word of ons nie eers die werklike verskil, tussen wat die wederkoms van ons vra en die elke dag se lewe, gaan ervaar as daar vervolging is nie. Hiervan is daar baie voorbeelde in die geskiedenis. (Dit sou loon om H.J.B. Combrink se studie oor die teks in Woord teen die Lig 1/6 deeglik te lees.)

`n Verdere vraagstuk in die teks is die lankmoedigheid van God teenoor die ongeduld van die mens. God wat lankmoedig is, terwyl Hy dit slegs doen uit sy liefde vir die mens. Daarteenoor die mens wat ongeduldig is en eintlik die een moet wees wat geduld moet beoefen, want dit gaan om sy eie heil en voorbereiding om onberispelik te wees (11). Hierdie dubbelkantigheid van die begrip "geduld" sou in die prediking aan die orde kan kom. Aan die een kant die ongeduldige wag van die mens op die wederkoms en aan die ander kant die liefdevolle wag van God tot Hy kom.

Daar het deur die geskiedenis al baie preke oor die perikoop die lig gesien. Ek verwys na enkele.

In `n bundel preke van vroeër jare het daar n Skrifgetroue preek verskyn van ds. W.A. Alheit. Hy het vers 11 as teks gebruik. Die skopus van sy preek was die "heilige lewenswandel en godsvrug" wat gehandhaaf moet word. Hierdie kwaliteit van karakter moet nagejaag word omdat: (a)dDie aardse lewe verganklik is; (b) die heilige lewenswandel in die verlossingsplan van God opgesluit is, en (c) die kerk en kind van God geroep is om getuie in die sondige wêreld te wees.

Die evangelis R.A. Torrey, het destyds `n kapstokpreek gehad met die volgende interessante argument: Die pad na die hel is vol struikelblokke (want dit is hoe die Here dit gemaak het) en kan slegs bereik word, as die een struikelblok na die ander oorgesteek word. Die struikelblokke wat God dan in die hel se pad sit, is die volgende: (a) die krag van die Woord van God; (b) die wonder van `n moeder se gebede; (c) getroue prediking en onderwysing; (d) goedhartigheid is nooit tevergeefs nie; (e) Die stem van die Gees, en (f) die kruis van Christus.

Die Amerikaner J.B. Fowler het `n preek gehad met die volgende indeling: (a) die sekerheid van die koms van die Here (10); (b) die tyd van die koms van die Here (4, 8, 12); (c) die metode van die koms van die Here (10), en (d) die houding teenoor die koms van die Here (11-12).

Preekvoorstel

Daar is verskeie moontlikhede om die teks in `n preek te benader. Een moontlikheid sou na aan die inhoudelike van Combrink se preekskets wees (WtL). Daarom gee ek nie aandag hieraan nie. `n Ander moontlikheid is om op `n kreatiewe manier die bekende gedeelte, vir mense uit `n bepaalde perspektief weer nuut oop te sluit: Die preek sou ook as kinderdiens kon dien.

As teks sou ek die hele gedeelte van 2 Petrus 3:3-15 hanteer.

Inleidend

Dit is goed om die gemeente soms aan `n kreatiewe ervaring bloot te stel. Hier is `n voorbeeld van `n leerervaring. Almal voel egter nie altyd gemaklik daarmee nie. In so `n geval kan `n verhaal of voorbeeld gebruik word as inleiding. Die kernbegrippe wat in `n inleiding aan die orde moet kom, is "geduld" en "wag".

Vooraf

Voor die diens moet met 12 jong tieners gereël word dat hulle buite die kerk in twee afsonderlike groepe vergader. Hulle moet nie weet wat op hulle in die kerk wag nie. (Indien jong mense nie gewillig is nie, kry `n paar dames.) Jy moet vooraf `n klein (50 stukkies) kinderlegkaart gereed hê. (Klein legkaarte is gewoonlik verkrygbaar by kinderspeelgoedafdelings.) Plaas `n kring met 6 stoele voor in die kerk, met `n klein tafeltjie in die middel.

Na die Skriflesing stap jy na die liturgiese ruimte en verduidelik aan die gemeente dat jy die kernbetekenis van die teks op `n ander manier vir hulle wil verduidelik. Vertel dat jy vandag twee groepe het wat elkeen afsonderlik `n legkaart gaan bou voor in die kerk. Die jong mense gaan nie weet wat hulle voor in die kerk gaan doen nie. Verduidelik verder dat die gemeente die twee groepe wat afsonderlik gaan inkom, se reaksies baie goed moet dophou, want die reëls wat vir elke groep gegee word, verskil. Die gemeente se waarneming van die groepe se reaksies gaan later gevra word.

Roep die eerste groep binne en verduidelik dat hulle 20 sekondes het om `n legkaart aanmekaar te sit. Dis belangrik om vir hulle te sê dat hulle dit baie haastig en gou moet klaarkry, anders gaan hulle verloor. Vertel dat hulle die projek dringend moet klaar kry. Terwyl hulle besig is, kan jy hulle maar `n bietjie aanjaag en verbouereerd maak.

As hulle klaar is, word die volgende groep ingeroep, maar die reëls verander. Hulle het 3 minute om dieselfde legkaart te voltooi. Maak hulle baie rustig voor die tyd en herinner hulle dat hulle baie tyd het om die legkaart te voltooi. Na die tweede groep klaar is, kan jy dan vir die gemeente vra hoe verskillend die groepe opgetree het en hoekom.

Na die terugvoering kan jy saamvat en verduidelik dat die eerste groep ongeduldig was en gejaag het. Daarom kon hulle nie sinvol die legkaart voltooi nie. Ongeduld en gejaagdheid dwing `n mens om foute te maak. Dit vernietig spangees en maak dat mense op hulleself aangewese is in plaas van op die groep. Die tweede groep is rustig gemaak en het meer tyd gehad. Daarom was hulle meer geduldig en effektief. Om geduldig te wees, leer jou om rustig te dink voor jy doen. Mense leer om op mekaar te wag en mekaar te konsidereer.

Prediking

Lees die teks in die volgende vers volgorde: 3, 4, 13, 14, 9, 15. Ons dink vandag vanuit drie verskillende perspektiewe na oor die wederkoms van Christus.

Vers 3 en 4: Perspektief op `n houding van ongeduld en afwesigheid van verwagting op die Here se koms.

Onthou dat die eerste lesers waarskynlik tweede of derde geslag Christene was. `n Vorige geslag, toe Jesus nog op aarde was, het die mense verwag dat die wederkoms nog in hulle leeftyd sou plaasvind. Dit het nie gebeur nie. Allerlei stories het die rondte begin doen. Sommige mense het ongeduldig geraak en begin optree asof die wederkoms van Christus net `n versinsel was. Hulle het begin twyfel in die geloof dat Jesus weer kom, ander verkleineer, begin dink dat hulle beter weet as die goedgelowige mense wat nog op Jesus se koms wag. Daar was seker ook spotters wat die sogenaamde bygeloof van die volgelinge van Jesus uitgedaag het, maar die oorheersende gevoel was moontlik mense se ongeduld omdat die Here nie wil kom nie. Hulle het hulleself die reg toegeëien om te besluit wat reg of verkeerd is. Ander spotters het soos die wêreld, eenvoudig die "naïewe" geloof van die Christene verwerp.

`n Ongeduldige mens het geen toekomsverwagting of hoop op die wederkoms nie. As `n mens jou hoop op Christus se wederkoms opgee, plaas jy jouself in beheer van jou toekoms. Sonder `n toekomsverwagting is jy soos die spotters (3 en 4) wat nie kan verstaan waarom die ander mense nog wag nie. `n Ongeduldige mens verstaan nie die woordjie "wag" nie. Iemand wat homself aangestel het as bestuurder van sy lewe, kan nie meer op God vertrou of op Hom wag nie. Die selfvoldane mens vertrou op sy/haar eie vermoë en word liefdeloos en selfsugtig. Dit is `n lewe van eiebelang, najaag van eie prestasie en die maak van lewensbelangrike foute.

Ongeduld trek jou siening van geloof en werklikheid skeef. Ongeduldige mense is gefrustreerd met hulleself en met ander gelowiges wat wil wag. As mense ongeduldig is met die Here omdat Hy nie nou nie kom soos ons wil hê Hy moet nie, begin mense kompromieë met die wêreld maak. Mense word gelykvormig aan die wêreld. Die wêreld is nie meer vir hulle `n vreemde plek nie. Die dinge, tyd, skedules en waardes van die wêreld word belangrik, omdat hulle nie op die Here kan of wil wag nie! As jy nie met geduld op die Here wil wag nie, begin jy jouself en jou standpunt regverdig. Onthou hoe die ongeduld van die eerste groepie in die kerk hulle produktiwiteit verswak. Dit beïnvloed ook jou verwagting van die koms van die Here.

`n Tweede perspektief in vers 13 en 14 is dié van geduldig wag op die koms van die Here.

Die geduldige wag op die Here leer jou nie net geloofsvolwassenheid nie, maar berei jou voor om onberispelik te wees op die dag wat die Here kom. Mense wat vir iets wag, het gewoonlik iets om na uit te sien. As die kinders wag dat ouma en oupa kom kuier, word die kamer waar hulle gaan slaap, gereed gemaak. Die kleinkinders wag, want hulle weet ook dat ouma en oupa lekkers saambring. Daar is iets om na uit te sien. 2 Petrus 3:13, 14 wil hê dat ons moet uitsien na die koms van die Here. Ons moet op die Here se koms wag. Omdat ons nie weet wanneer die Here kom nie, moet ons geduldig wag. Ons moet onsself gereed kry. Ons moet ons beywer om vlekkeloos te wees; die dinge wat ons lewens bevlek, uit te wis. Omdat ons die Here verwag, is ons geduldig. Geduldige mense is bereid om te wag.

Toe die groep jong mense aan die begin van die diens tyd gehad het om hulle legkaart te voltooi, was hulle rustig en het minder foute gemaak. As ons bereid is om geduldig op die Here te wag, word ons nie meer gedryf deur die waardes van die wêreld nie. Ons word gedryf deur die toestand waarin die Vader ons gaan vind as Hy kom. Ons verwag Hom enige dag. Daarom moet ons enige dag gereed en onberispelik wees, soos vers 14 dit wil hê!

`n Geduldige persoon het altyd tyd om haarself gereed te kry vir die koms van die Here. Hulle het tyd om vrede te maak met die Here (14). Iemand wat ongeduldig is, benut nie die tyd nie. Hulle lewe hardloop van een kant na die ander kant. Hulle kan nie wag op die Here nie en is ook ongeduldig met hulle medemens wat sonde doen. Om geduld te hê met die koms van die Here, beteken ook dat jy bereid is om te wag in tye van seer, om nie geduld met jou eie swaarkry en omstandighede te verloor nie. Dit gebeur dat iemand nie onmiddellik antwoorde kry op gebede nie, of iemand dalk nie onmiddellik gesond word na ernstige gebed nie, of sommer dat die Here met jou `n ander pad stap. Dit sit baie keer om in ongeduld.

`n Derde perspektief is die een van verse 9 en 15.

Die geduld van die Here. Dit is menslik dat ons graag wil hê dat die Here gou moet kom. Maar in die geduldige wag op die Here, het ons die geweldige troos dat die Here geduld met ons het. Natuurlik wil almal hê die Here moet gou kom, want soos Paulus in Filippense sê: "Vir my is die sterwe wins." Dit sal wonderlik wees as die Here gou kom sodat ons ontslae kan wees van sonde, siekte en ongeduld. Tog het die Here sy eie tyd. Sy tyd is liefdestyd. Sy liefde is so groot dat Hy soveel moontlik mense kans wil gee om vir Hom te kies. Hierdie lankmoedigheid en geduld van die Here voor Hy kom, is die vrug van sy liefde vir mense. Sy lankmoedigheid gee ons kans om ons lewens reg te maak, sodat ons gereed is om Hom te ontmoet. Die wete dat die Here geduldig is, moet ons ook aanspoor om die evangelie aan soveel moontlik mense te verkondig, want hoe meer mense die waarheid weet, hoe gouer kan die Here kom!

Bibliografie

Bolkestein, M H (PNT); Green, M (TNTC); Groenewald, E P; Burger, C W Woord teen die Lig 1/6; Fowler, J B Sermon outlines; Torrey, R A Gereed vir ewigheid; Berkouwer, G C The return of Christ.