SONDAG 18 JULIE 2004

Sesde Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: 2 Petrus 1:3-11 (bygevoeg by RCL)

Ander tekste: Amos 8:1-12; Psalm 52; Kolossense 1:15-28; Lukas 10: 38-42; Genesis 18

Inleiding

Koninkrykstyd is by uitnemendheid die seisoen waarin ons die Here beter kan leer ken en so in ons geloof versterk word. Die sakrament van die nagmaal speel hierin ’n pertinente rol. In die aangewese Skrifgedeelte word daarop gefokus om met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter te leer ken (2 Pet. 1:8). Die Amosprofesie beklemtoon dat die tyd nou ryp is om die Woord van die here te hoor en dit te soek (v. 11 en 12). Die geestelike volwassenheid in Kolossense 1:28 onderstreep hierdie doelwit, en dit is Maria wat haar keuse doelbewus maak om by Jesus te wees (Luk. 10). Die Psalmdigter onthou hoe God altyd vir hom sorg (v. 3); daarom staan hy sterk soos ’n welige olyfboom (v. 10). In Genesis 18 word dit ’n uitdaging vir Abraham en Sara om te bly glo.

GOD VERsamel ONS VOOR HOM

Aanvangswoord

Gemeente van die Here, ons vier die koms van God se koninkryk in ons hart, in sy kerk en in die hele wêreld. Vanoggend kry ons weer die geleentheid om soos Maria rustig by die Here te wees, en só die beste te ontvang. Laat ons nie rondskarrel soos Martha nie (vgl. Luk. 10:38-42).

Geleentheid vir stil word en stil wees.

Respons van gemeente

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied. Amen.

Seëngroet

Respons van gemeente

Lied 594:1 "Na ons bestaan in tyd en ruimte"

Wet

Lees Psalm 15:1-5.

Skuldbelydenis

Gebruik die teks van Lied 234 "Ontferm U, God" (voorganger of gemeente gesamentlik).

Vryskelding

Lees Kolossense 1:15-23a.

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Lees Psalm 119:41-48

Alternatief (n.a.v. Amos 8:11 en 12): "Here, ons honger nie na kos en dors ook nie na water nie. Ons honger om u woorde te hoor. Ons dwaal rond van see tot see, word rondgeslinger van noord tot oos. Ons soek u Woord. Help ons om dit vandag te kry." Amen.

Skriflesings

Kolossense 1: 24-28(29) en 2 Petrus 1:3-11

Respons

"Halleluja!" (vgl. basisliturgie)

Kindertyd

Prediking

Respons van gemeente

Tyd vir stilgebed en sing daarna Psalm 25:2 (omdigting Totius): "Leer my, Heer, u regte weë".

DIENS VAN DIE TAFEL

Viering van die sakrament van die nagmaal – inkleding na goeddunke (vgl. basisliturgie).

uitSENDING

Opneem van die dankoffer

Geloofsbelydenis

Samesang

Lied 292 "My enigste troos" of Lied 285 "O God, so groot in heerlikheid" of Lied 281 "Lei ons, Here, groot en magtig" of Lied 280 "Here, Redder, groot en magtig" /NSG 337.

Seën

Onthou, God sorg altyd vir jou. Mag jy sterk staan soos ’n welige olyfboom, mag die Here vir jou sorg in sy huis. Loof Hom vir wat Hy gedoen het. prys sy naam, want Hy is goed (n.a.v. Psalm 52:3b, 10 en 11).

Gemeente se respons

Sang

"Amen" (kies enige van Lied 312-315)/NSG 355/356

 

PREEKSTUDIE – 2 PETRUS 1:3-11

Teks

Die aanvang van ons perikoop is problematies, aangesien die oorgang tussen die groet (1-2) en die eerste sinsnede (3) van die eintlike brief onduidelik is. Volgens Bolkestein kan 3 en 4 as deel van die groet beskou word. In sy bespreking van die punktuasie stel Green verskillende moontlikhede voor: `n komma na 2, met 3 en 4 die verklaring van die groet. Dan neem genade en vrede toe deur Jesus Christus te ken, omdat God aan ons alles gee wat ons nodig het. `n Tweede moontlikheid is `n punt na 2, met `n sin sonder `n hoofwerkwoord. Green suggereer `n breuk in die sinskonstruksie. Die outeur het sy sin begin, maar dit nie grammatikaal voltooi nie.

Die Leesrooster se teksafbakening is dieselfde as die New International Version (NIV), maar verskil van die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV, 3-15), asook die 1933-vertaling (OAV) (3-21). Die opskrifte by die perikoop in die verskillende vertalings help om die Skrifgedeelte te ontsluit. Die NAV beklemtoon twee aspekte van die Christen se lewe: roeping (Gr. kalesantos in 3, en klésin in 10) en verkiesing (Gr. eklogén in 10). Die woorde fokus op die handelende God en die begunstigde mens. Die NIV verdeel hoofstuk 1 in drie dele (1-2, 3-11, 12-21), terwyl sy opskrif by 3-11 ooreenstem met diԕ van die NAV: "Making One’s Calling and Election sure" (vgl. 10a: Gr. adelphoi, spoedasate bebaian humin tén klésin kai eklogén poieisthai – Broers, wees al meer ywerig om julle roeping en verkiesing te verseker). Die meervoud "ons" (3) onderstreep die kollektiewe karakter van God se werk in mense se lewe. Dit is op die gemeente gefokus, waarbinne die individu haar plek vind. Roeping en verkiesing is die grond waarop die gemeente staan. Dit sluit enige verdienste van die mens se kant uit. Van God gaan die heil uit (Bolkestein).

In 3 word `n eksegetiese probleem opgeroep met die vraag na die subjek van die roep; God of Jesus Christus. Bolkestein verstaan die woord "roep" as tegniese term vir die heilsgebeure wat van God uitgaan en in Jesus Christus manifesteer. In samehang met die verwysing na die heerlikheid en mag van God wat in die roep ontplooi word, voer sommige aan dat God hier die handelende subjek is. Die twee Griekse woorde areté en doxa word in die Ou Testament vir God gebruik, maar die outeur pas dit hier op Jesus toe, in wie God sy uitnemendheid en heerlikheid gemanifesteer het (Green). Letterlik staan daar: "sy deug, sy goddelike selfopenbaring" (Gr. idia doxé kai areté) (Bolkestein).

Verskeie eksegete argumenteer dat Jesus Christus hier die roepende subjek is. In die volle kennis (Gr. epignoseós, in 3, 8; vgl. ook 5, 6 vir gnosin) van Jesus Christus lê die heil en die lewe (Gr. zoén) opgesluit (Bolkestein). Green kies vir `n verwysing na Jesus Christus op grond daarvan dat Hy hier laaste genoem word, asook dat heerlikheid en deug meer op Jesus as op die Vader betrekking het. Vir hom is die belangrike punt dat die Een wat roep, die geroepene toerus en in staat stel (Eng. enable) om te reageer. Die gawes wat vir die lesers aangebied word, is in Jesus Christus opgesluit. Hy roep die mens na Hom toe "... by His moral excellence (areté) and the total impact of His Person (doxa)" (Green).

Die Griekse werkwoord vir verkiesing (eklogé) beteken om `n spesiale keuse te maak. Dikwels impliseer dit `n sterk houding van voorkeur ten opsigte van wie of wat gekies is (Louw & Nida). In ons perikoop beskryf die werkwoord die handeling van God wat kies. Dit beskryf dus sy houding van voorkeur vir hulle wat tot geloof in Jesus Christus geroep word. Die Griekse naamwoord vir uitverkorene (eklektos) verwys na wie of wat verkies is. In ons perikoop is dit hulle wat deur God geroep word en daarop reageer, deur in hul lewenswandel hulle geloof in Hom te bewys. Dit beklemtoon die intieme verhouding tussen die roepende God en antwoordende gelowiges in ons perikoop. Die roeping en uitverkiesing deur God vorm die basis (indikatief) vir die aansporing (imperatief) om die Christelike deugde (OAV) te beoefen in die groei van die Christelike karakter (NKJV).

In dié verband bring Bolkestein die mens se verantwoordelikheid ter sprake. Die heil kom tot die mens deur die verkondiging van die woord. Daardeur roep God die mens tot `n antwoord, `n persoonlike en daadwerklike antwoord, tot geloof en gehoorsaamheid. So word die roeping en verkiesing in die menslike lewe gerealiseer. God skakel die mens se verantwoordelikheid in. Hy roep dit op. Die mens is vennoot van God, aangesprokene tot gehoorsaamheid. Die menslike gehoorsaamheid kan alleen maar korrespondeer met en reageer op die genade van God.

Die OAV vat die inhoud van die perikoop saam met die woord "deugde" (Gr. areté, in 3, 5) in sy opskrif: "Vermaning om die Christelike deugde in beoefening te bring." Die New King James Version (NKJV) se indeling behels die hele hoofstuk 1, terwyl die opskrif die idee van verkiesing, roeping en deugde in die Christen se lewe, in perspektief plaas: "Grow in Christian Character" (Gr. areté, 3, 5). Die samevattings (OAV en NKJV) gee uitdrukking aan Lombard se fokus in sy artikel "Teologie en lewenspraktyk: Die appèl van indikatiewe en imperatiewe in Twee Petrus". Hy vind die kern van 2 Petrus in die noue korrelasie tussen eskatologiese aangeleenthede en die etiese implikasies daarvan; die verhouding tussen teologiese/ godsdienstige oortuigings en hul effek op die lewe en lewenspraktyk van diegene wat so dink en glo. Hy stel die korrelasie tussen leer en lewe en die konflikte hier rondom, onder die noemer van indikatiewe en imperatiewe.

Volgens Green is die Griekse woord areté `n seldsame Nuwe-Testamentiese woord, omdat "deug" `n heidense kwaliteit verteenwoordig. In die Griekse taalgebruik verwys deug na die selfontplooiing van menslike vermoë. In die Septuagint het deug meer die betekenis van die regte houding teenoor God. Dit hang saam met en is die gevolg van geloof (Bolkestein). Volgens Green word die mens binne die konteks van die Christendom tot heiligmaking geroep. Hy meen die deugde-taal word hier polemies gebruik, met `n moontlike verwysing na die Ou Testament en `n Hebreeuse betekenis (nie Grieks nie). Dan word verwys na deugdelikheid in gedrag, konkrete dade van uitnemendheid (vgl. 1 Pet. 2:9). In beide gevalle word die uitnemendheid gemanifesteer in "saving actions: it is no mere static quality".

Lombard beskryf die struktuur van die eerste deel van 2 Petrus só: 1:1-2 – Epistolêre opskrif; 1:3-15 –Inleiding tot die outeur se testament waarin hy die apostoliese etos beklemtoon wat hy aan sy lesers wil voorhou. Die fokus van ons perikoop is egter op vers 3-11, wat volgens Lombard `n aantal komponente bevat: 3-4 – Historiese en teologiese gedeelte: Herinnering aan God se verlossingsdade in die geskiedenis; 5-10 – Etiese gedeelte: appèl op die lesers, gebaseer op dit wat in verse 3-4 gesê word met die oog op die mededeling in vers 11; 11 – Eskatologiese gedeelte: Belofte van verlossing en bedreiging van die oordeel.

In sy bespreking van 5 sê Bolkestein dat, op grond van alles wat God gegee het en nog sal gee, die gemeente `n houding van gehoorsaamheid aan sy wil moet openbaar. Met die oog op `n uiteensetting van die wese van die gehoorsaamheid bied die outeur `n ketting van agt skakels om die weg van gehoorsaamheid te verduidelik. Alhoewel die volgorde van die ketting volgens Bolkestein nie streng logies is nie, sien hy tog `n mate van doelgerigtheid in die volgorde van die skakels (5-7). Dit begin by geloof, gevolg deur deugdelikheid (5), kennis (6), selfbeheersing (6), volharding (6), liefde onder mekaar – broederliefde na binne (7) en liefde vir alle mense – na buite (7). So loop die weg van gehoorsaamheid en die Christelike lewe, van geloof na liefde.

Hierdie verrykte geloof lei tot beter kennis van Jesus Christus (8). Die kennis van Hom wat roep, is die bron van lewe en diens aan God (3). Kennis van God en Jesus Christus bring seën vir gelowiges, asook genade en vrede in oorvloed (2). Volgens Howe bevat hoofstuk 1:3-4 die hart van die oproep tot `n heilige lewe. Vers 5-9 bevat die "bestanddele" van `n heilige lewe. Hulle Goddelike roeping is die basis vir die apostel se oproep tot `n heilige lewenswandel (Green). Die ryke voorsiening van God (3-4) is die basis vir die oproep om hul lewe deur die deugde of kenmerke (5-7) te laat rig. Die lesers word opgeroep om deur hulle lewenswandel te bewys dat God hulle geroep en verkies het.

Lombard vat die betekenis van die etiese gedeelte (5-7) saam: "die leser (moet) op grond van die basiese gawe van die geloof werk en leef met: morele krag en uitnemendheid om te doen wat hulle voor God weet reg is; geestelike onderskeidingsvermoë is noodsaaklik vir `n deugdelike lewe; selfbeheersing waardeur hulle rede hulle begeertes oorheers; standvastigheid of uithouvermoë waardeur hulle vervolging en teenstand die hoof kan bied; godvresendheid wat die regte houding en gedrag teenoor God sal verseker; die regte houding teenoor die broers (mede-Christene) en teenoor almal". Die outeur stel `n verdere uitbreiding op die indikatief en imperatief (8-10). Vers 8 (positief geformuleerde indikatief) sê dat die omvangryke kennis van Jesus Christus wat hulle ontvang het, slegs dan `n werklikheid word as hulle waarlik die deugde in hul daaglikse lewenspraktyk uitvoer. Daarteenoor stel 9 (negatiewe indikatief) dat diegene (veral Christene) by wie die deugde nie teenwoordig is nie, kortsigtig en blind is vir die waarheid van Christus.

Vers 10 stel die imperatief wat lesers oproep tot groter ywer ter bekragtiging van hul roeping en verkiesing deur God. Daarmee sê die outeur dat die etiese vrug van die Christelike geloof en geloofslewe objektief noodsaaklik is ter verkryging van die finale verlossing. Die uitleef van die deugde verhoed dat julle ooit tot `n val sal kom en verseker dat julle behoue sal bly tot in die jongste dag. Vers 11 bevat `n eskatologiese belofte ter motivering: "As julle hierdie dinge doen, sal vir julle ryklik voorsien word die ingang in die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus". In 12 beklemtoon die outeur die dringendheid van die saak. Hy gebruik die partikel dio en gaan terug op wat in 10-11 gesê is, maar ook verder terug in sy argument (4-8). Hy herinner aan die beloftes in 4 en die wyse waarop hulle geloof opgebou moet word deur die deugdelike lewe en kennis (Lombard).

Konteks

Met die oog op prediking van ons perikoop moet sekere kontekstuele en literêre aspekte in ag geneem word. 2 Petrus toon ooreenkomste met die Judasbrief en is moontlik `n redaksionele verwerking daarvan (Verhey). Die twee briewe word soms so nou geïdentifiseer dat elkeen se unieke getuienis vervaag (Johnson). Albei briewe verdedig ortodoksie en moraliteit teen dwaalleer, maar met `n eie stem. Beide verdedig die kerk se tradisie deur die dwaalleraars van wanvoorstellings te beskuldig en beide gebruik voorbeelde uit die Ou Testament. 2 Petrus is `n latere geskrif as Judas (Johnson; Verhey). Albei briewe gebruik vroeëre lae van die apostoliese tradisie (Lombard).

Wat die historiese situasie betref is dit belangrik om in te sien dat 2 Petrus (soos Judas) die meeste temas tipies van `n tweede geslag se verslapping in die Christelike geloof, hanteer. Die geloofsgemeenskap aan wie die brief oorspronklik geskryf is, was oënskynlik reeds bekend met die tradisie van die Christelike geloof en leer. 2 Petrus (soos Judas) hanteer die temas van geloof as gedeelde oortuiging (1:1, 5); tradisie as oorlewering van geloofsoortuigings (2:21); verlossing as teenwoordige besitting eerder as toekomstige hoop (3:15); God en Christus word omtrent uitsluitlik as Verlosser verstaan (1:1, 11; 2:20; 3:2, 18); afval van die norme van die gemeenskap word as ernstige oortreding beskou (2:17); en eskatologie word gereduseer tot verdediging van Christus se tweede koms (3:4-13) (Johnson).

Onkunde en losbandigheid loop in albei briewe saam (Johnson). Beide skets `n somber prentjie (Perkins). Valse leerstellings en praktyke in die geloofsgemeenskap rig groot uitdagings aan die gelowiges. Daarom die skrywers se klem op die behoudende funksie van die geloofsgemeenskap. Die herinnering aan die tradisie is `n belangrike aksent in dié briewe.

In 2 Petrus word outeurskap en die skrywer se self-verstaan met `n tweeledige karaktertekening aangedui as "dienaar en apostel van Jesus Christus" (1:1). Volgens Green word die persoonlike nederigheid (ook 1 Pet.) gekombineer met `n bewussyn van die gesagvolheid van sy apostoliese posisie. Die woord "apostel" beklemtoon sy solidariteit met Christus, terwyl die woord "dienaar" dien as identifisering met sy lesers. Hy sien sy taak as herhaling en lering (1:13). Hy wil sy lesers herinner en aanspoor (1:3-12), helder laat dink (3:1), woorde van die profete (3:2) en die gebod van die Here en Verlosser (3:2) by hulle inskerp, omdat die oorgelewerde tradisie vir hulle begin vervaag het. Die korrekte verstaan van die tradisie en interpretasie van die Skrif is vir hom belangrik (Johnson).

Die outeur bestry dwalinge binne die geloofsgemeenskap na aanleiding van die outeur se blootlegging van `n tweeledige konflik: binne die geloofsgemeenskap self, en bedreigings van buite. Die geloofsgemeenskap in geheel, asook die lewe van individuele gelowiges verkeer onder druk. Binne dié omstandighede vervul die outeur `n profetiese en pastorale rol (Lombard). Hy het die situasie ontleed en reageer daarop deur die teologiese tradisie direk op die lewe en praktyk van sy lesers te betrek.

Die outeur bestook sy lesers met apologetiese argumente om die verderflike invloed van valse leraars en die sinkretistiese heidense milieu van die Grieks-Romeinse wêreld effektief teen te werk (Lombard). Soos Paulus, sluit Petrus by die taal van sy teenstanders aan en vul dit met gesonde inhoud. Die ondertone van sy argumente is eskatologies, met sterk etiese elemente. Hy skryf sodat hulle kan onthou (1:13, 15) en op hul hoede kan wees (3:17). Die vraag na die soort persoon wat die gelowige behoort te wees, word onder andere beantwoord wanneer hy sê dat hulle steeds moet toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus (3:18), en dat hulle moet vashou aan die leer wat hy aan hulle oorgedra het (1:12, 20-21).

Volgens aanduidings in die brief self was die oorspronklike lesers klaarblyklik gelowiges, want hulle "weet reeds hierdie dinge" en "staan reeds vas in die waarheid" (1:12). Hulle is mense "wat dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het" (1:1). Hulle is "broers" (1:10) en die bron van hulle geloof is "die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus" (1:1). Hulle is deur God geroep en verkies (1:3, 10); het die allergrootste gawe ontvang (1:4); besit hierdie gawe wat God in hulle lewens laat toeneem (1:5-8); en het dié dinge hul eie gemaak (1:9). Petrus stel `n lys van deugde saam wat in elke gesonde Christelike lewe sigbaar moet wees (Green; vgl. Bolkestein se ketting van skakels). Deur dié gawe ontvlug hulle die verderf in die wêreld en kry deel aan die Goddelike natuur.

In sy bespreking van 4 beklemtoon Green die sterk kontraste in die verse van ons perikoop: verdorwenheid teenoor lewe en goddelikheid, begeerlikheid teenoor kennis van Hom wat ons geroep het. Die outeur begin met die teologiese indikatief as beskrywing van die lesers se identiteit (deel van God se familie, het die wêreld verlaat, besit die kosbare beloftes, en hulle ken vir Christus). Dit vorm die basis van sy etiese imperatief wat kragtig in die volgende verse uitgelig word. Hulle moet in die praktyk word, wat hulle reeds in God se oë is. Vir hom is deelname in die goddelike natuur die vertrekpunt, nie die einddoel nie, van die Christelike lewe.

Die eskatologiese verwagting van die dag van die Here (3:12) dien as grondslag vir `n lewe van verwagting en toewyding. Daarom behoort die taak en opdrag van die geloofsgemeenskap in hul sosiaal-historiese omstandighede deur hul toekomsverwagting gerig te word. Die verwagting gaan in vervulling wanneer die nuwe hemel en nuwe aarde volgens God se belofte aanbreek (3:13). Daarna sal God se wil heers en die volmaakte toestand aanbreek vir hulle wat deur hul lewe bewys het dat God hulle geroep en verkies het (1:10). Etiek word gerig deur geloof in die komende Here.

As deel van sy taakbeskrywing vir hulle, asook die herinnering aan hul identiteit, beklemtoon die outeur van 2 Petrus die verlossende, roepende en sorgende karakter van God in die lewe van die gemeenskap. Hy praat onder andere van "ons God en Verlosser, Jesus Christus" (1:1, 2, 8, 11, 14), en "Hom wat ons geroep het" (1:3). Die outeur beskryf ook enkele eienskappe van God. Die kern daarvan is sy Goddelike krag (1:3) wat Hy aan die mens skenk. God neem die inisiatief, roep die mens na Hom toe, en gee sy genadegawe aan wie sy roepstem gehoorsaam (1:4).

Preekvoorstel

`n Preek oor die perikoop behoort die logiese gang van die teks te volg. Die twee kategorieë wat Lombard uitlig, naamlik die indikatief en imperatief, behoort die ontwikkeling van die preek te onderlê. In die prediking behoort dié kategorieë egter vertaal te word in die vorm van identiteit of karakter enersyds, en etiek andersyds. Dit gaan naamlik om twee verwante vrae: Wie is die lesers van die brief?, en: Watter gedrag pas volgens die outeur by hul besondere identiteit?

Met die oog op die gemeente vir wie die preek voorberei word, behoort die prediker aan te sluit by 2 Petrus se identifisering van sy eerste lesers. Hulle is mense "wat dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het" (1). Hulle is "broers" (10) en die bron van hul geloof is "die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus" (1). Hulle is deur God geroep en verkies (3, 10); het die allergrootste gawe ontvang (4); besit die gawe wat God in hul lewens laat toeneem (5-8); en het die dinge hul eie gemaak (9). Die "hulle" van toe en die "ons" wat nou die preek hoor, staan almal in `n bepaalde verhouding tot God in Jesus Christus. Hulle en ons is gevorm deur die Christelike woordeskat, waardes, verhale en leer. Hulle en ons is nie maar net enige mense nie, maar die familie van God! Daarom behoort die hoorders se identiteit bevestig te word, met besondere vermelding van hul roeping en verkiesing.

`n Tweede aspek van die preek behoort op die konteks te fokus, met die aandag op ten minste twee sake: die situasie van en uitdagings waarmee die eerste lesers van 2 Petrus gekonfronteer is, asook die besondere uitdagings waarvoor die hoorders van die preek vandag staan. Die outeur bestry dwalinge binne die geloofsgemeenskap na aanleiding van sy blootlegging van `n tweeledige konflik: binne die geloofsgemeenskap self, en bedreigings van buite. Op dié punt sal die prediker `n helder en toeganklike analise van 2 Petrus se historiese situasie moet bied, asook `n skerp en toepaslike analise van die kontemporêre situasie. Watter eksterne en interne bedreiginge konfronteer die gemeente en kerk nou?

In 2 Petrus vervul die outeur `n profetiese en pastorale rol (Lombard). Hy het die situasie ontleed en daarop gereageer deur die teologiese tradisie direk op die lewe en praktyk van sy lesers te betrek. Hoe kan die prediker in `n nuwe konteks beide die profetiese en pastorale stem van die teks laat spreek? Dit bring die derde aspek van die preek ter sprake; die beklemtoning van die etiese dimensie, asook die vertroostende en bemoedigende kant van die Christelike boodskap.

Op die punt moet die prediker die gemeente help om die verband tussen geloof en etos te lê. Loren Mead praat van "incarnational growth", en verduidelik dit as: "an enfleshment of the principles and faith of the congregation in the structures of the community". Dit gaan hier oor die vraag na die lewenstyl wat pas by die gemeente se geloof en belydenis. Ook oor die vraag na die soort mens wat `n Christen in die wêreld behoort te wees. Laasgenoemde vraag word onder andere beantwoord wanneer Petrus sê dat hulle moet vashou aan die leer wat hy aan hulle oorgedra het (1:12, 20-21).

In dié deel van die preek kan Lombard se imperatiewe beklemtoon word, asook die teologiese grondslag vir etiese gedrag. Wat die imperatiewe betref, behoort Petrus se fokus op deugde aandag te kry – die agt skakels van die ketting vir `n gehoorsame lewe (Bolkestein) – met toepaslike eietydse voorbeelde (sien WTL III/4). Aan die pastorale kant kan die prediker weer die genade van God beklemtoon, soos wat dit in die roeping en verkiesing van die gelowige deur God in Jesus Christus manifesteer. Die troos en hoop wat aan die etiese imperatief ten grondslag lê, moet aansluiting vind by die gedagtes oor die eskatologie waarna hierbo verwys is. `n Laaste belangrike aspek is die verantwoordelikheid van die geloofsgemeenskap ten opsigte van mekaar en die ondersteuning in die realisering van `n geloofsgetroue lewe voor die aangesig van God.

Bibliografie

Bolkestein, M H 1984. De Brieven van Petrus en Judas (PNT); Burger, C W, Müller B A & D J Smit 1996. Riglyne vir prediking oor die Christelike deugde. Woord teen die Lig III/4; Green, M 1983. 2 Peter and Jude. Tyndale; Howe, F R 2000. The Christian life in Peter’s theology. Bibliotheca Sacra 157; Johnson, L T 1999. The writings of the New Testament. An Interpretation; Lombard, H A 1991. Teologie en lewenspraktyk: Die appèl van indikatiewe en imperatiewe in Twee Petrus, in Teologie in Konteks (J H Roberts e.a. eds.); Louw, J.P. & E.A. Nida 1989. Greek-English Lexicon of the New Testament based on Semantic Domains; Mead, L B 2000. More Than Numbers. The Ways Churches Grow; Orsmond, E 2002. Die Gemeentes van 2 Petrus en Judas: Herinnering aan die geloofstradisie in `n tyd van geestelike verslapping, in Draers van die Waarheid (Burger, C en Nell, I); Perkins, P 1999. Hebrew and the catholic epistles, in The New Testament Today (M A Powell); Verhey, A 1986. The great reversal. Ethics and the New Testament.