Ander tekste: Eks 24:12-18; Matt
17:1-9; Ps 2 of Ps 99
2 Petrus vorm deel van die argumentatiewe tekste in die Bybel. Dit is met ander woorde geskryf met die doel
om die lesers tot bepaalde insigte te oortuig.
Die brief het 'n apologetiese inslag maar bevat ook die afskeidswoorde
van die outeur in die vorm van 'n testament wat dan in briefvorm aangebied word
(Lombard 1990:498). Hierdie twee
aspekte (testamentêr en apologeties) kan dan ook as indelingsbeginsel vir die
boek gebruik word. 'n Indeling op grond
van hierdie onderskeiding sou soos volg daar uitsien: Die vier testamentêre gedeeltes:
1:3-11, 1:12-15, 2:1-3a en 3:1-4 en die vier apologetiese gedeeltes:
1:16-21, 2:3b-3:10, 3:11-16.
Uit bogenoemde is dit duidelik dat die fokusteks deel vorm van die
apologetiese gedeeltes van die brief.
Die skrywer bied 'n getuienis aan (ooggetuie verslag van Jesus se
verheerliking op die berg) om geloofwaardigheid te gee aan sy verdere onderrig
met betrekking tot die waarde van die Skrif, die regte interpretasie daarvan
asook die ware inspirasie. In die
proses antisipeer hy moontlike besware wat ook ingebring kan word. Sy apologetiese argumentasie het ten doel om
die lesers te waarsku teen die verderwende invloed van valse leraars. Terselfdertyd moedig hy hulle aan en rus hy
hulle toe om die sinkretistiese heidense omgewing van die Grieks-Romeinse
wêreld effektief teen te werk.
Ons fokusteks het dus te make met die basis van legitieme Christelike
onderrig. Die opmerking in vers 16 dat
die outeur en sy medewerkers hulle hul nie op versinsels of legendes (mites in
die Grieks) verlaat het nie, onderskei die apostoliese onderrig met betrekking
tot die “krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms” van die onderrig wat
deur die vals leraars gedoen is. Omdat
2 Petrus een van die laatste geskrifte in die Nuwe Testament is, dui die
verwysing na valse onderrig moontlik op leerstellings wat na die einde van die
eerste eeu in esoteriese sisteme, soortgelyk aan die heidense
misterie-godsdienste, ontwikkel het en wat tot in die tweede eeu voorgekom
het. In hierdie tipe onderrig was die
Skrif die vertrekpunt vir die ontwikkeling van allerlei uitgebreide
kosmologiese skemas en bisarre praktyke.
Daarom was dit slegs bekend aan die bevoorregte geïniseerdes wat deel
gevorm het van elite groepe.
Petrus beklemtoon die feit dat die ware Christelike geloof en lewe nie op
hierdie vorm van onderrig geskoei is nie, maar op die lewe van Jesus Christus
en die goddelike openbaring wat sy navolgers ontvang het terwyl hulle in sy
teenwoordigheid was. Die werklike lewe
van Jesus Christus, en nie iemand se private konklusies en visioene nie, is die
fondament van ons geloof. Daarom
onderstreep die skrywer die feit dat die Skrif ons gids is met betrekking tot
'n geldige Christelike lewe. Dit
beteken verder dat die Skrif nie maar oorgelaat kan word aan die willekeur van
elke individu se eie subjektiewe interpretasie daarvan nie. Goeie uitleg van die Skrif vind plaas waar
interpreteerders deel vorm van 'n geloofsgemeenskap – soos wat gesuggereer word
deur die gebruik van die woord “ons” in die fokusteks (vgl. in dié verband die
boek van Fowl & Jones: Reading in Communion).
Soards et al meen dat die volgende sake in die prediking aandag behoort
te geniet:
·
Die realiteit van Christus;
·
Die belang van die Skrif;
·
Die rol van die Heilige Gees in Christelike denke en
lewe;
·
Al hierdie refleksie moet geskied binne die konteks
van die gemeenskap van gelowiges.
In die aanpak van die preek moet verder deeglik rekening gehou word met
die tyd waarop ons ons op die oomblik in die kerkjaar bevind. Dit is die laaste Sondag van Epifanie, waar
die verheerliking van Jesus (veral die gebeure op die berg van verheerliking),
die sentrum van belangstelling vorm.
'n Preek sou met die volgende voorbeeld kon begin, 'n voorbeeld wat uit
eie ondervinding aangepas kan word. Ons
gesin is baie lief daarvoor om soms 'n koers in te slaan en met 'n tentjie
iewers by 'n kampeerterrein te oornag.
Min tente het ingeboude ligte en daarom is 'n goeie flitslig 'n
noodsaaklike voorvereiste wanneer die gaslamp voor slapenstyd uitgedoof word.
Ondervinding het geleer dat die flitslig langs die kopkussing 'n verskeidenheid
van funksies vervul wanneer die donker toesak.
Dit kan gebruik word om die weg na die opening van die tent te vind
wanneer moeder natuur roep. Dit is ook
handig om jou slaapwandelaar-kind te help om die koers terug na die slaapsak te
vind. Die flitslig is verder nuttig om
op jou horlosie vas te stel hoeveel tyd daar nog oor is voor dagbreek, wanneer
jy reeds lyfseer geslaap is op 'n dun matras.
Dit is verstommend hoeveel waardering 'n mens vir so 'n eenvoudige
instrument het wanneer die donker jou oorval.
Dit was gewis 'n donker uur in die geskiedenis van die wêreld toe God die
lig van sy Seun na die wêreld gestuur het.
Na die viering van die koms van die lig met Kersfees, is Epifanie in die
besonder die tyd wat die strale van die God-Seun verder as die stal begin
skyn. In ons fokusteks praat Petrus van
'n tyd wat hierdie lig op 'n baie besondere wyse verligting gebring het. Wat
ons egter nie uit die oog moet verloor nie is dat die gebeure waarna Petrus
verwys, plaasgevind het in 'n tyd wat dit weer donker begin raak het vir die
Seun van die mens. Dit was kort voordat
sy lig deur lyding en die dood aan 'n kruis finaal gedoof sou word.
Dit was te midde van hierdie omstandighede wat Petrus saam met Johannes
en Jakobus hulself in die geselskap van Jesus op 'n hoë berg bevind het. Voor hul oë het hulle vir Jesus in sy volle
majesteit gesien. Die glans van sy
gelaat was soos die helder strale van die son.
Sy klere het geskitter en alles rondom hulle is verlig. Te midde van hierdie gebeure gee die Vader
ten aanhore van die drie aan sy Seun die eer en die heerlikheid: “Dit is my geliefde Seun oor wie ek my
verheug.”
Deur hierdie gebeure lyk dit of Jesus vir sy dissipels wou sê: “Julle het nou iets van my heerlikheid
ervaar, my lig het julle lewens verlig!
Spaar hierdie lig vir die donker tye.
Daar gaan tye kom wat julle naak en alleen gaan staan in donker
oomblikke. Dit is dan wanneer die lig
van hierdie gebeure julle lewens gaan verlig.
Dan sal julle my getuies wees!” Aangevuur deur hierdie besondere
ervaring, het Petrus en Johannes hulle getuienis uitgeleef. In Handelinge lees ons hoedat groot menigtes
mense met groot entoesiasme na hulle getuienisse geluister het. Hulle getuienis gaan ook verder as blote
woorde want ons lees hoedat hulle met die krag van die Here 'n verlamde man by
die ingang van die tempel genees.
Daarmee is die man bevry van die slawerny van bedelary.
Maar op 'n dag toe word die lig van hul flitsligte onverwags afgeskakel
en raak dit skielik duister rondom hulle.
In Hand 4 lees ons hoedat die priesters en die Sadduseërs met jaloesie
teen Petrus en Johannes te velde getrek het.
Beide is gearresteer en in die tronk gegooi. As voorwaarde vir hulle vrylating het die magistraat beveel dat
hulle onmiddellik hul preekpraktyke moet staak. Voorwaar 'n donker tyd in hulle lewe, 'n tyd van geloofstoetsing.
Maar hierdie twee dissipels se optrede het gewys dat hulle geestelike reserwes
uit meer bestaan het as maar bloot die lig van hulle vorige suksesse. Daarom weier hulle om in stilte die tronk te
verlaat, en reageer soos volg: “Julle
moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of
aan God. Wat ons betref, dit is
onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand
4:19-20). Petrus en Johannes het die Woord gehoor, hulle het goeie ervaring van
die Lig gehad.
Soos die strale van 'n flitslig wat die donker van 'n tentjie verlig,
praat Petrus in ons fokusteks met mense wat geteister is deur valse profete met
hul versoekings om immoreel te leef.
Terselfdertyd is hulle gespot deur mense wat beweer het dat daar nie so
iets is soos 'n lewe na die dood is nie.
Petrus het self die lig wat nodig was vir daardie donker oomblikke van
vertwyfeling op die berg van verheerliking aanskou. Die lig wat hy daar op die gesig van Jesus gesien het, en die
verligting wat hy ervaar het uit die Woord van God het hom oortuig van die
geloofwaardigheid van Christus se uitsprake.
Uitsprake waarin Jesus gewys het hoedat die hele Ou Testament gevul was
met verwysings wat sou realiseer met sy lyding, sterwe en opstanding. Op 'n besondere wyse het die Ou Testament
ook as flitslig van verligting vir Petrus gedien na sy persoonlike ervaring van
die verheerliking van Jesus Christus.
Die getuienis van Petrus en Johannes word tot vandag toe op 'n besondere
wyse aangevul deur die verhale in sy Woord en die gawe van God se Heilige Gees
wat ook ons verlig deur sy inwoning.
Die ganse Bybel vertel verhale waar die ligstrale van God se waarheid in
mense se lewens deurgebreek het. Moses
beleef hierdie verligting toe hy op Sinai-berg die Tien Gebooie van God self
ontvang (Eks 24). Simeon sing van 'n
baba wat gebore is en wat “'n lig tot
verligting van die nasies en tot die eer van u volk Israel” sal wees (Luk
2:32). Petrus skryf met oortuiging aan
sy lesers: “Hierdie boodskap is soos 'n
lamp wat in 'n donker plek skyn. Julle
sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die morester
opkom in julle harte” (2 Pet 1:19). Dit
is die wonder van God se teenwoordigheid in ons lewens. Hy stel ons deur sy inwonende lig in staat
om te verander. God het nie net sy Seun
op 'n berg verheerlik nie. Wanneer ons
die heerlikheid van God in die persoon van sy Seun ontdek, verander God ook vir
óns.
Miskien skitter en sprankel ons nie soos die son nie, en moontlik is dit maar selde wat ons lewens
so dinamies is dat mense rondom ons die lig van God in ons lewens kan
sien. Maar dit beteken nie dat jy en ek
nie ook al iets van die heerlikheid van Jesus beleef het nie. Die dag met jou doop het Christus op 'n
besondere manier deel van jou lewe geword – sy lewe, dood, begrafnis,
opstanding – ook sy verheerliking, het deel van jou lewe geword. Jy het 'n seun/dogter van God geword deur
jou doop. Jou lewe is getransformeer, verander, verheerlik.
Net soos wat die lig van 'n flitslig in 'n donker kamp tentjie
verskillende funksies kan verrig, net so het die verheerliking van Christus en
die heerlikheid van God verskillende moontlike toepassings in elkeen van ons se
lewens. Saam met Petrus waardeer ons
dit dalk as 'n gebeurtenis wat vir ons help om die geloofwaardigheid van die Ou
Testamentiese boodskap te aanvaar. Saam
met Petrus, Jakobus en Johannes ervaar ons dit dalk as 'n krag vir
betekenisvolle lewe gedurende daardie tye wat die teenwoordigheid van Christus
ver verwyderd voel. Saam met ons Verlosser beleef ons dit dalk as 'n getuienis
aangaande ons lidmaatskap van die familie van God – 'n versterkende ervaring
vir tye van hartseer en tragedie.
Maak nie saak watter
betekenis ons daaraan heg nie, ons is bevoorreg en gelukkig om te leef in 'n
tyd waarin God Homself op die intiemste moontlike wyse aan ons geopenbaar het –
Christus in ons vlees! Om sy liggaam te
eet en sy bloed te drink, om deel te wees van die liggaam van Jesus Christus,
bevestig hierdie ongelooflike goddelike ligstrale in ons lewens. Dat ons Hom
kan nader en lewensenergie kan ontvang is 'n wonder wat ons menslike verstand
te bowe gaan. Wanneer die donker oor jou lewe neersak, kyk na die lig. In die Woord van God sal jy 'n duidelike
getuienis vind aangaande die lewe-gewende krag van God se lig. In die lewens van hulle wat ons voorgegaan
het sal jy die lig van God se liefde kan waarneem. Wanneer jy dit sien, glo dit en gee die lig dan ook vir ander.
Bibliografie: Lombard, H A 1990. Teologie en lewenspraktyk. Die appél van indikatiewe en imperatiewe in Twee Petrus, in Teologie in Konteks (1990:494-514). Fowl, S E & Jones, L G 1991. Reading in Communion: Scripture and Ethics in Christian Life. Soards, M et al 1992. Preaching the Revised Common Lectionary. Year A, Advent, Christmas, Epiphany.