2 Petrus 1:16-21 (Ian Nell)

14 Februarie 1999

Sesde Sondag na Epifanie

 

Ander tekste: Eks 24:12-18; Matt 17:1-9;  Ps 2 of Ps 99

Petrus sien Jesus in al sy koninklike glorie en herinner gelowiges aan die betroubaarheid van die evangelie wat hy aan hulle verkondig het.

Teks en konteks

 

2 Petrus vorm deel van die argumentatiewe tekste in die Bybel.  Dit is met ander woorde geskryf met die doel om die lesers tot bepaalde insigte te oortuig.  Die brief het 'n apologetiese inslag maar bevat ook die afskeidswoorde van die outeur in die vorm van 'n testament wat dan in briefvorm aangebied word (Lombard 1990:498).  Hierdie twee aspekte (testamentêr en apologeties) kan dan ook as indelingsbeginsel vir die boek gebruik word.  'n Indeling op grond van hierdie onderskeiding sou soos volg daar uitsien:  Die vier testamentêre gedeeltes:  1:3-11, 1:12-15, 2:1-3a en 3:1-4 en die vier apologetiese gedeeltes: 1:16-21, 2:3b-3:10, 3:11-16.

 

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die fokusteks deel vorm van die apologetiese gedeeltes van die brief.  Die skrywer bied 'n getuienis aan (ooggetuie verslag van Jesus se verheerliking op die berg) om geloofwaardigheid te gee aan sy verdere onderrig met betrekking tot die waarde van die Skrif, die regte interpretasie daarvan asook die ware inspirasie.  In die proses antisipeer hy moontlike besware wat ook ingebring kan word.  Sy apologetiese argumentasie het ten doel om die lesers te waarsku teen die verderwende invloed van valse leraars.  Terselfdertyd moedig hy hulle aan en rus hy hulle toe om die sinkretistiese heidense omgewing van die Grieks-Romeinse wêreld effektief teen te werk.

 

Ons fokusteks het dus te make met die basis van legitieme Christelike onderrig.  Die opmerking in vers 16 dat die outeur en sy medewerkers hulle hul nie op versinsels of legendes (mites in die Grieks) verlaat het nie, onderskei die apostoliese onderrig met betrekking tot die “krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms” van die onderrig wat deur die vals leraars gedoen is.  Omdat 2 Petrus een van die laatste geskrifte in die Nuwe Testament is, dui die verwysing na valse onderrig moontlik op leerstellings wat na die einde van die eerste eeu in esoteriese sisteme, soortgelyk aan die heidense misterie-godsdienste, ontwikkel het en wat tot in die tweede eeu voorgekom het.  In hierdie tipe onderrig was die Skrif die vertrekpunt vir die ontwikkeling van allerlei uitgebreide kosmologiese skemas en bisarre praktyke.  Daarom was dit slegs bekend aan die bevoorregte geïniseerdes wat deel gevorm het van elite groepe.

 

Petrus beklemtoon die feit dat die ware Christelike geloof en lewe nie op hierdie vorm van onderrig geskoei is nie, maar op die lewe van Jesus Christus en die goddelike openbaring wat sy navolgers ontvang het terwyl hulle in sy teenwoordigheid was.  Die werklike lewe van Jesus Christus, en nie iemand se private konklusies en visioene nie, is die fondament van ons geloof.  Daarom onderstreep die skrywer die feit dat die Skrif ons gids is met betrekking tot 'n geldige Christelike lewe.  Dit beteken verder dat die Skrif nie maar oorgelaat kan word aan die willekeur van elke individu se eie subjektiewe interpretasie daarvan nie.  Goeie uitleg van die Skrif vind plaas waar interpreteerders deel vorm van 'n geloofsgemeenskap – soos wat gesuggereer word deur die gebruik van die woord “ons” in die fokusteks (vgl. in dié verband die boek van Fowl & Jones:  Reading in Communion).

 

Soards et al meen dat die volgende sake in die prediking aandag behoort te geniet:

·        Die realiteit van Christus;

·        Die belang van die Skrif;

·        Die rol van die Heilige Gees in Christelike denke en lewe;

·        Al hierdie refleksie moet geskied binne die konteks van die gemeenskap van gelowiges.

 

In die aanpak van die preek moet verder deeglik rekening gehou word met die tyd waarop ons ons op die oomblik in die kerkjaar bevind.  Dit is die laaste Sondag van Epifanie, waar die verheerliking van Jesus (veral die gebeure op die berg van verheerliking), die sentrum van belangstelling vorm.

Preekvoorstel

'n Preek sou met die volgende voorbeeld kon begin, 'n voorbeeld wat uit eie ondervinding aangepas kan word.  Ons gesin is baie lief daarvoor om soms 'n koers in te slaan en met 'n tentjie iewers by 'n kampeerterrein te oornag.  Min tente het ingeboude ligte en daarom is 'n goeie flitslig 'n noodsaaklike voorvereiste wanneer die gaslamp voor slapenstyd uitgedoof word. Ondervinding het geleer dat die flitslig langs die kopkussing 'n verskeidenheid van funksies vervul wanneer die donker toesak.  Dit kan gebruik word om die weg na die opening van die tent te vind wanneer moeder natuur roep.  Dit is ook handig om jou slaapwandelaar-kind te help om die koers terug na die slaapsak te vind.  Die flitslig is verder nuttig om op jou horlosie vas te stel hoeveel tyd daar nog oor is voor dagbreek, wanneer jy reeds lyfseer geslaap is op 'n dun matras.  Dit is verstommend hoeveel waardering 'n mens vir so 'n eenvoudige instrument het wanneer die donker jou oorval.

 

Dit was gewis 'n donker uur in die geskiedenis van die wêreld toe God die lig van sy Seun na die wêreld gestuur het.  Na die viering van die koms van die lig met Kersfees, is Epifanie in die besonder die tyd wat die strale van die God-Seun verder as die stal begin skyn.  In ons fokusteks praat Petrus van 'n tyd wat hierdie lig op 'n baie besondere wyse verligting gebring het. Wat ons egter nie uit die oog moet verloor nie is dat die gebeure waarna Petrus verwys, plaasgevind het in 'n tyd wat dit weer donker begin raak het vir die Seun van die mens.  Dit was kort voordat sy lig deur lyding en die dood aan 'n kruis finaal gedoof sou word.

 

Dit was te midde van hierdie omstandighede wat Petrus saam met Johannes en Jakobus hulself in die geselskap van Jesus op 'n hoë berg bevind het.  Voor hul oë het hulle vir Jesus in sy volle majesteit gesien.  Die glans van sy gelaat was soos die helder strale van die son.  Sy klere het geskitter en alles rondom hulle is verlig.  Te midde van hierdie gebeure gee die Vader ten aanhore van die drie aan sy Seun die eer en die heerlikheid:  “Dit is my geliefde Seun oor wie ek my verheug.”

 

Deur hierdie gebeure lyk dit of Jesus vir sy dissipels wou sê:  “Julle het nou iets van my heerlikheid ervaar, my lig het julle lewens verlig!  Spaar hierdie lig vir die donker tye.  Daar gaan tye kom wat julle naak en alleen gaan staan in donker oomblikke.  Dit is dan wanneer die lig van hierdie gebeure julle lewens gaan verlig.  Dan sal julle my getuies wees!” Aangevuur deur hierdie besondere ervaring, het Petrus en Johannes hulle getuienis uitgeleef.  In Handelinge lees ons hoedat groot menigtes mense met groot entoesiasme na hulle getuienisse geluister het.  Hulle getuienis gaan ook verder as blote woorde want ons lees hoedat hulle met die krag van die Here 'n verlamde man by die ingang van die tempel genees.  Daarmee is die man bevry van die slawerny van bedelary.

 

Maar op 'n dag toe word die lig van hul flitsligte onverwags afgeskakel en raak dit skielik duister rondom hulle.  In Hand 4 lees ons hoedat die priesters en die Sadduseërs met jaloesie teen Petrus en Johannes te velde getrek het.  Beide is gearresteer en in die tronk gegooi.  As voorwaarde vir hulle vrylating het die magistraat beveel dat hulle onmiddellik hul preekpraktyke moet staak.  Voorwaar 'n donker tyd in hulle lewe, 'n tyd van geloofstoetsing. Maar hierdie twee dissipels se optrede het gewys dat hulle geestelike reserwes uit meer bestaan het as maar bloot die lig van hulle vorige suksesse.  Daarom weier hulle om in stilte die tronk te verlaat, en reageer soos volg:  “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God.  Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand 4:19-20). Petrus en Johannes het die Woord gehoor, hulle het goeie ervaring van die Lig gehad. 

 

Soos die strale van 'n flitslig wat die donker van 'n tentjie verlig, praat Petrus in ons fokusteks met mense wat geteister is deur valse profete met hul versoekings om immoreel te leef.  Terselfdertyd is hulle gespot deur mense wat beweer het dat daar nie so iets is soos 'n lewe na die dood is nie.  Petrus het self die lig wat nodig was vir daardie donker oomblikke van vertwyfeling op die berg van verheerliking aanskou.  Die lig wat hy daar op die gesig van Jesus gesien het, en die verligting wat hy ervaar het uit die Woord van God het hom oortuig van die geloofwaardigheid van Christus se uitsprake.  Uitsprake waarin Jesus gewys het hoedat die hele Ou Testament gevul was met verwysings wat sou realiseer met sy lyding, sterwe en opstanding.  Op 'n besondere wyse het die Ou Testament ook as flitslig van verligting vir Petrus gedien na sy persoonlike ervaring van die verheerliking van Jesus Christus.

 

Die getuienis van Petrus en Johannes word tot vandag toe op 'n besondere wyse aangevul deur die verhale in sy Woord en die gawe van God se Heilige Gees wat ook ons verlig deur sy inwoning.  Die ganse Bybel vertel verhale waar die ligstrale van God se waarheid in mense se lewens deurgebreek het.  Moses beleef hierdie verligting toe hy op Sinai-berg die Tien Gebooie van God self ontvang (Eks 24).  Simeon sing van 'n baba wat gebore is en wat  “'n lig tot verligting van die nasies en tot die eer van u volk Israel” sal wees (Luk 2:32).  Petrus skryf met oortuiging aan sy lesers:  “Hierdie boodskap is soos 'n lamp wat in 'n donker plek skyn.  Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die morester opkom in julle harte” (2 Pet 1:19).  Dit is die wonder van God se teenwoordigheid in ons lewens.  Hy stel ons deur sy inwonende lig in staat om te verander.  God het nie net sy Seun op 'n berg verheerlik nie.  Wanneer ons die heerlikheid van God in die persoon van sy Seun ontdek, verander God ook vir óns.

 

Miskien skitter en sprankel ons nie soos die son nie,  en moontlik is dit maar selde wat ons lewens so dinamies is dat mense rondom ons die lig van God in ons lewens kan sien.  Maar dit beteken nie dat jy en ek nie ook al iets van die heerlikheid van Jesus beleef het nie.  Die dag met jou doop het Christus op 'n besondere manier deel van jou lewe geword – sy lewe, dood, begrafnis, opstanding – ook sy verheerliking, het deel van jou lewe geword.  Jy het 'n seun/dogter van God geword deur jou doop. Jou lewe is getransformeer, verander, verheerlik.

 

Net soos wat die lig van 'n flitslig in 'n donker kamp tentjie verskillende funksies kan verrig, net so het die verheerliking van Christus en die heerlikheid van God verskillende moontlike toepassings in elkeen van ons se lewens.  Saam met Petrus waardeer ons dit dalk as 'n gebeurtenis wat vir ons help om die geloofwaardigheid van die Ou Testamentiese boodskap te aanvaar.  Saam met Petrus, Jakobus en Johannes ervaar ons dit dalk as 'n krag vir betekenisvolle lewe gedurende daardie tye wat die teenwoordigheid van Christus ver verwyderd voel. Saam met ons Verlosser beleef ons dit dalk as 'n getuienis aangaande ons lidmaatskap van die familie van God – 'n versterkende ervaring vir tye van hartseer en tragedie.

 

Maak nie saak watter betekenis ons daaraan heg nie, ons is bevoorreg en gelukkig om te leef in 'n tyd waarin God Homself op die intiemste moontlike wyse aan ons geopenbaar het – Christus in ons vlees!  Om sy liggaam te eet en sy bloed te drink, om deel te wees van die liggaam van Jesus Christus, bevestig hierdie ongelooflike goddelike ligstrale in ons lewens. Dat ons Hom kan nader en lewensenergie kan ontvang is 'n wonder wat ons menslike verstand te bowe gaan. Wanneer die donker oor jou lewe neersak, kyk na die lig.  In die Woord van God sal jy 'n duidelike getuienis vind aangaande die lewe-gewende krag van God se lig.  In die lewens van hulle wat ons voorgegaan het sal jy die lig van God se liefde kan waarneem.  Wanneer jy dit sien, glo dit en gee die lig dan ook vir ander.

 

Bibliografie:  Lombard, H A 1990.  Teologie en lewenspraktyk.  Die appél van indikatiewe en imperatiewe in Twee Petrus, in Teologie in Konteks (1990:494-514). Fowl,  S E & Jones, L G 1991.  Reading in Communion: Scripture and Ethics in Christian Life. Soards, M et al 1992.  Preaching the Revised Common Lectionary. Year A, Advent, Christmas, Epiphany.