Ander tekste: Hand 1:6-14; Joh
17:1-11; Ps 68:1-10, 32-35
1. Hierdie week se fokusteks beskryf nogeens
die swaarkry van die ‘uitverkore vreemdelinge’ van die 1 Pet-brief as 'n
noodwendige gevolg van hul navolging van Christus, en sluit daarmee direk aan
by die toonaard en gerigtheid van die res van die brief. Soos by herhaling die afgelope 5 weke uit
ons studie van 1 Pet duidelik geword het, wil hoofstukke 4 en 5 op 'n direkte
en eenvoudige manier dus dieselfde sentrale gedagtes tuisbring:
1.1 Die brief impliseer dat die
lesers deur die dood en opstanding van Christus nuwe mense geword het – mense met 'n nuwe selfverstaan, 'n nuwe
identiteit en leefstyl, 'n nuwe storie, 'n nuwe perspektief op hul verlede,
hede en toekoms. Hierdie nuutheid word
veral uitgedruk in 'n rykdom van metafore vir die kerk as hul verbondenheid aan God en mekaar (2:4-5,9-10).
1.2 'n Tweede hoofmotief is dat die lesers – juis omdat hulle Christene
was, en dus aan Christus se lyding
deel gehad het (4:13,16) - ook lyding, spot en belediging te wagte moes
wees. Omdat hul nie (meer) met die
‘stroom van losbandigheid’ saamgegaan het nie (4:4), maar gekies het om die wil
van die lewende God te doen en hierdie God te verheerlik (4:2,11,19), het hul
'n verleentheid en bedreiging vir die status quo geword. Presies omdat die Christene gedoen het wat goed en reg was (3:14,17), het die ongelowiges hul gehaat, beswadder en
verneder, verdag gemaak en uitgerangeer (4:4).
Daaroor moes hul egter nie verbaas of ontsteld wees nie (4:12).
1.3 Dit bring ons by die doel
van die brief, waarby ons verskeie kere al stilgestaan het, en wat met enkele
nuwe aksente ook die kern van hierdie week se bespreking uitmaak. Petrus wou naamlik die gelowiges van die
Christengemeenskappies in Klein-Asië in hul geloofsworsteling bemoedig, troos
en versterk. Hy wou hulle help om te
blý hoop en glo te midde van hul swaarkry,
en nie te swig voor allerhande versoekings nie.
2. Die voorgeskrewe teks vir
vandag - die laaste Sondag in Paastyd, en die begin van die laaste week voor
die Pinksterfees - vorm deel van die intiem-persoonlike afsluiting van die 1
Pet-brief. Hoofstuk 4:12-5:11 kan as 'n
samevatting van die voorafgaande gedeelte beskou word wat by 3:13 begin (vgl
verlede Sondag se fokusteks), en wat spesifiek oor die gelowiges se reaksie op
hul lyding handel. Die gedeelte maak
veral sin wanneer dit saam met die slot in 5:12-14 gelees word, waarin die
pastorale doel van die brief treffend uitgespel word: ‘Ek het geskrywe om julle
te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas!’
Ek maak slegs enkele eksegetiese opmerkings oor die wyse waarop die
struktuur van 1 Pet 4:12-14 en 5:6-11 ontvou:
1 Pet 4:12 -
‘Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef
waaraan julle onderwerp word nie. Dit
is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie’.
Reeds met die aanspreekvorm ‘geliefdes’ word die warm, pastorale
karakter van die brief beklemtoon (Robinson).
Die gelowiges moes weet dat hulle nie alleen is nie. Oraloor was daar medegelowiges wat sáám met
hulle gely en gevoel het (5:9). Dát
hulle as Christene gely het (4:16),
moes hul hoegenaamd nie verbaas of verras nie.
Dis opvallend dat die skrywer dieselfde term gebruik as in 4:4 waar die
stomme verbasing van die heidene ter sprake is wanneer hulle die nuwe lewenstyl
van die Christene aanskou. Dat mense so
radikaal van oortuiging en koers kon verander, het eenvoudig hul verstand te
bowe gegaan! Petrus sê egter: Nee, só
'n reaksie van lamheid hoort nie by julle wanneer jul as Christene ly nie. Lyding
is nie iets vreemds of ongewoons aan Christenwees nie – dis inherent deel
daarvan! Die gebruik van die sterk
imperatief ‘moenie verbaas wees nie’ saam
met die dramatiese metafoor ‘vuurproef’ verleen besondere trefkrag aan
die skrywer se woorde (Robinson). Dit
sou die lesers waarskynlik dadelik laat besef het dat die skrywer hul pynlike
en verwarrende emosionele ervarings goed verstaan het. Dis nie uit die teks duidelik waarna die
‘vuurproef’ presies verwys nie. Die
mees waarskynlike is dat dit op die totale lewensituasie van die Christene in
die eerste eeuse Klein-Asië betrekking gehad het. As ‘vreemdelinge en bywoners’ was hul van basiese regte en
vryhede - die ruimte tot waardige menswees - ontsê. ‘Om gedurig aan 'n tweede- en derderangse bestaan/status herinner
te word; om gedurig verdink te word van alles wat in die samelewing verkeerd
gaan; om gedurig openlik bespot en beswadder te word, (moes) noodwendig soos 'n
oorverhitte vuuroond raak waarvan 'n mens natuurlikerwys (sou wou) terugdeins’
(Robinson). Vroeër het die skrywer ook
al die felheid van hul lyding met die gloed van vuur vergelyk: ‘Selfs die
suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid (beproefdheid) van
julle geloof moet ook getoets word’ (1:7).
Kortom: Wat met die gelowiges aan’t gebeur was, was niks snaaks
nie. Dat Christene sou ly, was 'n
uitgemaakte saak. Dáároor het hul nie
'n keuse gehad nie. Trouens, hulle was
juis daarvoor geroep, uitverkies, bestem (2:21-24) - hoe pynlik die
teenstelling ookal mag geklink het!
3. Daarom skuif die skrywer
sy lesers se aandag na dit waaroor hul wél 'n keuse gehad het, naamlik oor hoe
hul op die vuurproef sou reageer. Dís
waar die uitdaging sou lê! En presies dít
sou die toets vir die egtheid, die betroubaarheid van hul geloof word
(1:7)! In verlede Sondag se preekstudie
het ons gesien dat Petrus sy lesers in hul swaarkry bemoedig met die kragtige
en unieke voorbeeld van Christus (3:18-22), en met die uitnodiging om – soos Hy – nie te sondig nie, maar om
‘onskuldig’ te ly, met 'n skoon gewete, vergewend en helend (4:16-17,21), en
sodoende hul teëstanders te laat skaamkry.
In 4:13-14 motiveer hy hul nogeens om goeie moed te hou, maar met 'n
ietwat ander klem.
3.1 1 Pet 4:13-14 - ‘Wees liewer
bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook
oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. Geseënd is julle
wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is 'n bewys dat die Gees van heerlikheid,
die Gees van God, op julle bly’.
Hiermee rig Petrus 'n opregte uitnodiging aan sy lesers om positief op
hul lyding te reageer – deur bly te
wees, en hulself geseënd te ag. Kenmerkend van sy oorredingstyl, voeg hy
goeie redes ter motivering by: 'n belofte met betrekking tot die toekoms, en 'n
beskrywing van hul werklikheid in die hede.
Die inleidende frases van die 2 sinkomplekse in 13 en 14 vorm 'n
merkwaardige parallelle struktuur wat bedoel was om die lesers se aandag te
trek: (wees bly) is parallel gestruktureer met (geseënd is julle), asook die
sinsnedes ‘hoe meer julle in die lyding van Christus deel’ en ‘beledig word ter
wille van die Naam van Christus’ (Combrink).
Met hierdie skryfwyse wou hy sy lesers goed laat verstaan dat hul lyding
nie sinneloos of tevergeefs was nie.
Die vreemde soort blydskap wat hier ter sprake is, was juis bedoel vir
hulle wat bereid was om te ly omdat hulle
een geword het met Christus, en daarom ook aan sy lyding deel gekry het. Hierdie lyding sou egter net ‘'n kort
tydjie’ duur (5:10), waarná hul - by sy wederkoms – sou ‘oorloop van vreugde’
terwyl hul in sy ewige heerlikheid deel.
Hierdie herinnering was natuurlik nie bedoel om hul gelate en passief te
maak met betrekking tot hul stryd in die hede nie, maar juis om hul met ander
oë, met 'n eskatologiese perspektief, na hul omstandighede in die hede te laat
kyk. Presies daarin sou die Gees van
heerlikheid hul elke dag begelei (14).
Dat hierdie oortuiging na alle waarskynlikheid die ervaring van
Christengelowiges oor 'n breë front was, word bevestig deur nóg 'n merkwaardige
parallel, naamlik tussen die gedagtegang in 4:14 en dié in Matt 5:10-16. Die woord (om te beledig = met minagting behandel, meerderwaardig neersien op,
verag), wat selde in die Nuwe Testament voorkom, word net hier met dieselfde
betekenis gebruik as in Matt 5:11. Saam
met ander verwysings na die gelowiges se lyding in 1 Pet (2:12; 3:16;
4:4), verwoord hierdie beskrywing die pyn van hul daaglikse ervaring
baie treffend. Sonder om te probeer vasstel
of Matt en 1 Pet as intertekste vir mekaar gefunksioneer het, is dit
interessant om die struktuur en basiese motiewe van 1 Pet met dié van Matt
5:3,10-16 te vergelyk. Die klem in
albei gevalle is nie dat gelowiges geseënd is bloot omdat hulle ly nie, maar
wanneer hulle ly ter wille van die Naam
van Christus, ter wille van die feit dat die Gees van God in hulle woon. Om só te mag ly, is 'n seën. Dis om te ly omdat God dit wil. En juis dít sou die gelowiges aanspoor om te
bly volhard in die geloof, om God te verheerlik deur aan te hou goed doen (1
Pet 4:16,19; Matt 5:16). Die perikoop (4:12-19) sluit af met 'n
samevattende uitnodiging aan die gelowiges om hul lewe aan God as getroue
Skepper toe te vertrou (19). Die tweede deel van ons fokusteks sluit
direk hierby aan: Onderwerp julle in
nederigheid aan die kragtige hand van God’ (5:6).
3.2 In 1 Pet 5:6-11 gee die skrywer verdere konkrete leiding ten opsigte
van sy lesers se gesindheid en gedrag te midde van die swaarkry. Hoewel dit oor 'n uiters moeilike en pynlike
saak gaan, is sy raad aan hulle eenvoudig en reguit. Dit val uiteen in verskeie imperatiewe (met ondersteunende
redes), en die troosvolle belofte dat God sélf hulle enduit staande sal hou -
alles die vrug van God se Gees wat in hulle woon:
‘Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God,
sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het’ (6). Die imperatief (‘onderwerp julle’) sluit
direk aan (let op die ‘daarom’) by die unieke Christelike lewenshouding waarmee
die perikoop (5:5-11) ingelei word: ‘Almal moet teenoor mekaar nederig wees en mekaar help’. Die 1953 AV vertaal dit met:.‘Wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan
mekaar’. Die geheim van hierdie vreemde
lewensinstelling is juis die ‘vernedering onder die kragtige hand van God’ (5:6
– 1953 AV). 1 Petrus is besonder lief
vir hierdie soort segswyse. By verskeie
geleenthede vat hy die somtotaal van verhoudings, gesindhede en deugde wat
bedoel was om konkreet aan die lesers se nuwe lewenstyl uitdrukking te gee,
saam in die motiewe van gehoorsaamheid,
nederige onderwerping, onderdanigheid aan God en mekaar (1:2,14,22; 2:8,13,18,24; 3:1,6-8,20). Waarom sou
juis dié begrippe vir hom so belangrik wees?
Waarskynlik omdat die hart van die Christelike geloof daarin uitgedruk
word. Die houding van ‘ootmoed’
(verootmoediging) of nederige onderwerping aan God is 'n houding ‘wat gebore is
uit vertroue op God, 'n stel in die hand van God sodat Hy kan doen wat Hy wil;
dit beteken dat jy weet dat jy afhanklik van die genade van God is … (Dit) is
openheid vir Gods moontlikhede, openheid vir Gods teenwoordigheid in enige
situasie van vreugde of leed … Dit beteken dat (die gelowige) vry van die
beheptheid met sy/haar eie lewe …is,
en so vry word om te lewe vir ander,
in onderdanigheid aan mekaar ... Ootmoed is onderdanigheid, is bereidheid tot
diens. Juis daarom is (dit) nie die
houding van die swakkeling nie maar van die sterke: want dit kos moed en krag
om jouself prys te gee om 'n ander te dien’ (Müller; vgl Ps 22). Daarin het Christus vir ons die perfekte
voorbeeld gestel: Fil 3:8 en Heb 5:7-9!
Die uitdrukking ‘die sterke hand van God’ kom – met verskillende nuanses
- dikwels in die OT voor. Dit is
tegelyk 'n uitdrukking van die almag van God en van God se genade en
liefdevolle hulp. Om jouself dus aan
die kragtige hand van God te ‘onderwerp’, beteken om jouself bewustelik onder die sterk hand van God te stel
terwyl jy seker weet dat jy veilig en geborge in die versorgende hand van God is. (Dit is trouens opvallend hoe dikwels die almag van God in die
Bybel beskryf word as God se deernis en ontferming oor mense – vgl Lev 19; Deut 10:17)
Die onderworpenheid aan God se almag en liefdevolle heerskappy is dus
nie 'n teken van passiewe gelatenheid of lafhartige berusting in 'n
onvermydelike lot nie, maar eerder die rus in die vaste wete dat God sy kinders
dra en versorg (Müller). En presies dít
is die kern van ons geloof: Om vir God Gód te laat wees, om God toe te laat om
sy kragtige, versorgende hand oor ons uit te strek, in en deur die lyding en
opstanding van Jesus (vgl Ef 1:19-22), en die skeppende teenwoordigheid van die
Gees…
3.3 Die versekering en troos van
God se ‘kragtige hand’ oor en onder die lesers van 1 Petrus te midde
van hul lyding, lei vir die skrywer logieserwys tot 'n tweede imperatief: ‘Werp
al jul bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle’ (7). Die Amplified Bible vertaal dit met:
‘Casting the whole of your care – all your anxieties, all your worries, all
your concerns, once and for all – on Him; for He cares for you affectionately, and cares about you watchfully’. Dit is 'n vanselfsprekende uitbreiding van
die gedagtegang in vers 6. ‘Al jul
bekommernisse’ dui op enigiets wat die lesers se aandag kon verdeel of
frustreer, en wat hul energie onnodiglik kon verkwis. Enigiets wat as afgod die plek van die lewende God in hul lewe
kon inneem! Petrus se direkte en
eenvoudige raad aan hulle is: Raak daarvan ontslae! Werp dit wég van julle af – werp dit op God, soos 'n mens 'n kledingstuk
oor 'n dier se rug gooi (Lk 19:35). Ook
hierdie wégwerp, die áfwerp van die las, die kwytraak van die neerdrukkende
gewig van die kommer en angs, is 'n oefening in ootmoed, in nederige
onderwerping, in die ware geloof! En
teen hierdie tyd het die lesers 'n goeie idee gehad van die betroubare God met wie hul te doen gehad
het, en op wie hul met vrymoedigheid en vertroue hul kommer kon werp. Die skrywer het hul reeds by herhaling
herinner aan God se ontferming en onverganklike trou (1:3-4). Hiervan sou die manier waarop God hul in
Christus geseën het, sekerlik die sterkste getuienis wees (1:21-25; 2:9-10,24-25; 3:18,22). Deur sy
menswording, dood en opstanding het God so naby aan hulle gekom dat Hy die
kommer en angs van hul skouers afgehaal
het – daarom kon hulle dit ook op Hom afwérp (Müller, met verwysing na
Traub). Die gemeentes in Klein-Asië kon
vas en seker weet: Omdat God ons Vader is, 'n Ouer wat liefhet en sorg, die
Regter wat regverdig oordeel (2:23), die Opperherder en Bewaker van ons lewe
(3:25; 5:4), kan Hy ten volle,
blindelings vertrou word. Om onder só
'n God se ‘kragtige hand’ te leef, beteken om werklik sorgvry te wees –
midde-in die gloeiwarm hitte van ons pyn en angs!
3.4 Petrus se verdere raad aan sy lesers is om wakker te loop vir die
slinkse strategie van die vyand, die duiwel, die groot frustreerder en
ontwrigter van God se heilsplan. Om in
God se sorg te rus (7), beteken nie om aan die slaap gesus te word, of die
geslepenheid van die vyand te onderskat nie.
Omdat die donker – ook van lyding - 'n mens kan verblind (1 Joh 2:11),
moet jy op jou hoede wees! Daarom die
oproep om standvastig te bly in die geloof, om aan God en mekaar as gelowiges
te bly vasklou, en die vyand teë te staan.
Hy is reeds oorwin, en daarom hoef hul nie vir sy gebrul te skrik of te
bewe, of voor sy subtiele aanslag te swig nie.
3.5 Petrus sluit af waar hy
begin het – beide aan die begin van die brief (1:3), en die begin van hierdie
perikoop (5:5-6): naamlik by 'n loflied op God! Vir die soveelste keer fokus hy hul gedagtes en perspektief op
‘God wat alle genade gee en wat hulle geroep het om in Christus Jesus deel te
hê aan sy ewige heerlikheid’. Dit is
hierdie God wat hulle – nadat hul 'n kort tydjie gely het – sélf weer sal oprig
en moedig, sterk en standvastig maak (10).
Hierdie is nie wense nie, maar beloftes, geloofswerklikheid. Juis omdat dit Gód sélf is wat hul tot sy
wonderbare lig geroep het (2:9-10), kon hul op Hom reken vir die krag en
energie wat hul nodig sou hê om regop te bly en sterk te staan tot die
einde. Want: ‘Aan Hom behoort die krag
tot in ewigheid! Amen’. Weer eens: Dit is betroubare woorde! Amen!
Halleluja! Ons enigste troos in
lewe en sterwe.
Die preek sou die vorm kon aanneem van 'n baie persoonlike en innige
gesprek waarin die prediker eerstens kon wys dat sy/hy die diepte van die
gemeente se lyding ter wille van Christus
goed ken en verstaan, en haar/hom opreg daarmee vereenselwig. Die inhoud van die preek kan dan gewoon die
gang van die eksegetiese deel hierbo volg.
U sou kon begin deur aan te sluit by die skuiwe ten opsigte van
moraliteit wat in ons samelewing aan die gang is - as maar net een terrein waar
Christene geroep word om standpunt in te neem (vgl die algemeen aanvaarbare
waardes wat via tydskrifte en koerante, TV en die Internet as norm voorgehou
word). Die uitdaging vir Christene om
ánders te wees, om Christus se waardes en deugde uit te leef, om die helende,
lewensvernuwende krag van die kruis en opstanding in elke situasie in te dra,
word by die dag groter en dringender.
Hier sou u vlugtig weer die noue verband tussen wie ons is, en hoe ons
leef kon beklemtoon. As Christene word
ons ten nouste met die Naam van Christus geassosieer (4:14). Ons is deur God geroep, gered en geseën, en
word daarom geroep om God se seën
(heil, genesing, hoop) met 'n siek wêreld te deel. Maar - en dit is 1 Pet se uitgangspunt - omdat die duisternis nie
van die lig hou nie (selfs al val en struikel mense in die donker oor mekaar),
en omdat mense natuurlikerwys die duisternis liewer het as die lig (Joh 3:19),
moet ons noodwendig teenkanting en stryd te wagte wees. Die wêreld het immers vir Christus vóór ons
gehaat (Joh 15:18)! Daarom kon Hy sy
dissipels betyds voorberei op wat op hulle sou wag, maar tegelykertyd troos
met: ‘In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed: Ek het die wêreld
klaar oorwin’ (Joh 16:33).
Die probleem wat hiermee aan die orde gestel word, het natuurlik nie
maklike antwoorde nie. Dit gaan naamlik
oor die pynlike vraag rondom lyding as
gevolg van en ter wille van die Christelike geloof. As 'n mens al die destruktiewe mag van
lyding in jou lewe ervaar het, val veral die gedagtegang in 4:13 vreemd
op! Die skrywer van 1 Petrus probeer
egter nie hierdie kontras versag nie.
Vir hom is dit 'n uitgemaakte saak dat lyding wesenlik deel is van
Christenwees. Die vraag is dus: Hoe
reageer ons op die swaarkry en beproewings, die pyn en versoekings wat oor ons
pad kom júís omdat ons Christus navolg?
Hoe is ons veronderstel om te reageer?
En wat dra ons deur sulke krisisse?
Die riglyn wat hier voorgestel word, volg die gang van die fokusteks as
geheel, en neem verse 4:14 en 5:6 as kern:
Vir 'n verantwoordelike omgaan met 1 Pet is dit uiters noodsaaklik dat
die gemeente sal begryp dat dit hier om 'n spesifieke
soort lyding gaan, en nie maar enige lyding nie. Dit gaan oor hulle wat ly juis omdat hul God se wil getrou (wil)
gehoorsaam, en nie oor die soort lyding wat die gevolg is van 'n sondige
leefwyse nie (1 Pet 4:15). Sulke
Christene word nie uitgesluit omdat hulle tot 'n ander taal of kultuur behoort
het nie, maar omdat die Christelike leer en lewe onaanvaarbaar was. Die vraag is dus heel eerste of die gemeente hoegenaamd hierdie soort lyding
ken? Het die wêreld regtig rede om ons
te beledig en te beswadder omdat ons sulke getroue, konsekwente Christene is,
of haat en wantrou hulle ons dalk juis omdat ons sulke swak Christene is - wat
een ding sê, maar 'n ander doen? In
daardie geval sou ons werklik rede hê om bedroef te wees!
Gestel egter dat daar gelowiges in u gemeente is wat hierdie soort lyding
maar alte goed ken. Dink aan konkrete
voorbeelde waar Christene belaglik gemaak of geïgnoreer word omdat hulle nie
met die stroom saamgaan nie (in familie-verband, by die werk, in besigheid,
sport en ontspanning). Een so 'n
voorbeeld mag die byname of karikatuurtekeninge wees wat vir Christene gebruik
word (vgl Jesus self wat 'n ‘vraat en wynsuiper’ genoem is, en met 'n
doringkroon op die kop bespot en uitgejou is).
Christene mag – omdat hul 'n verleentheid of bedreiging vir die status
quo is – van bepaalde inligting weerhou word (bv by die werk), by sosiale
aktiwiteite uitgesluit word... 'n Ander (meer subtiele) vorm van minagting is
verdagmakery – die manier waarop van Christene gepraat word en waarop hul
aangehaal word. Hierdie voorbeelde moet
fyn deurdink wees sodat die gehoor hul kan vereenselwig met die res van die
gedagtegang.
Kortom spoor 1 Petrus sy lesers aan met: Moenie verras wees as jul
teenkanting kry nie! Moenie julself
jammer kry of deur die omstandighede laat gevange hou of lamlê nie! Moet selfs nie daaroor skaam wees of kla nie
(4:16). Julle sou meer rede gehad het
om verbaas en verontrus te wees indien dit anders was! Nee, wees juis bly! Ag julself uiters gelukkig, geseënd en
begenadig as hierdie dinge met jul gebeur.
Hoe kon die skrywer dit sê? Omdat
'n Christen deur sulke lyding heen deel kry aan Christus (4:13). En dus ook aan sy opstanding, sy wees aan
die regterhand van God, sy ewige heerlikheid.
Dit is die bewys dat God se Gees in ons woon. En dít is mos genade by uitnemendheid. Juis dít is ons hoop! Dít
was ook Paulus se enigste wens (Fil 3:10).
Dus: God se vuurproef is nie bedoel om te vernietig nie, maar om te
suiwer, om ons geloof sterker en vuurvaster te maak, sodat ons in die volle
glans van sy heerlikheid kan deel (5:10;
4:13). Daarom kan ons ons met
vrymoedigheid aan God se kragtige hand onderwerp, ons afhanklikheid van God
bely (Matt 5:3), ons bekommernisse by God laat, die vyand weerstaan, en wéét
dat hierdie God vir ons enduit sorg!
Die atmosfeer in ons land het – vanuit 'n bepaalde hoek gesien – feesloos en selfs sinloos geword. Ek vermoed
dat dit baie te doen het met 'n soort ongeneentheid, 'n onwil by baie van ons
om onselfsugtig te dien, om werklik óm te gee, om ons te onderwerp – aan God en
mekaar… (vgl Mark 8:43-45). ‘Daarom
moet dié wat ly omdat God dit wil … aanhou
goed doen’ (4:19), aanhou om God se alternatief te leef, aanhou om sout en
lig te wees, aanhou om die helende krag, sin en hoop van God se liefde en
genade mee te deel. Mag die Gees ook
vir óns versterk om met hierdie hoop te lewe en te ly…
Geraadpleegde bronne
Sien lys by vorige preekstudie oor 1 Pet (3:13-22); WtL I/8:243-252 (PJ Robinson) en I/1:140-149 (BA Müller); Theron, PF 1979. Geloof en lyding, in Jonker, WD & Theron, PF, Vreemde Gemeenskap, 41-44.