1 Petrus 3:13-22 (Elna Mouton)

9 Mei 1999

Sesde Sondag in Paastyd

 

Ander tekste: Hand 17:22-31; Joh. 14:15-21; Ps. 66:8-20

Die opstandingskrag van Jesus Christus bemoedig en versterk ons om déúr ons beproewings heen aan God getrou te bly as geloofwaardige getuies.

Teks en konteks

1.  Die teks van die 1 Petrusbrief vorm een groot geheel waarin dieselfde motiewe – in 'n soort spiraalgang - telkens herhaal en van 'n ander kant belig word.  Kortliks was die skrywer se doel daarmee om die lydende Christene in Klein-Asië te vertroos en te bemoedig deur hul te help om met nuwe perspektief op God en mekaar te leef.  Sodoende sou hul nie alleen – met hoop en vreugde – staande kon bly in die stryd van elke dag nie, maar ook 'n kragtige getuienis lewer teenoor diegene wat hul beledig en beswadder het.

 

2.  In die breë struktuur van 1 Pet kom hierdie week se fokusteks voor in die hoofsaaklik praktiese (vermanende of etiese) deel van die brief wat deur 2:11-12 ingelei word en deurloop tot by 5:11 - hoewel daar ook etiese aspekte in die voorafgaande deel vervleg is.  Om enigsins die bedoelde effek van hierdie gedeelte op die lesers te probeer verstaan, moet 'n mens iets begryp van die oorredingskrag van die voorafgaande deel.  Hfst 2:11-12 som die inleidende deel van die brief op deur die lesers daaraan te herinner dat hul volgens hul aard en roeping as volgelinge van Jesus Christus ‘bywoners en vreemdelinge’ in die wêreld is.  As bywoners was hul soos mense wat nie in die status en algemene voorregte van die samelewing gedeel het nie – omdat hul as onbenullig gereken is, nie in tel nie, nie te vertroue nie.  As vreemdelinge was hul soos mense wat nie heeltemal ingepas het nie, wat opgeval het vanweë hul andersoortige gewoontes, waardes en lewenswyse.  Om alles te kroon was hul min in getal en verspreid oor Klein-Asië.  Met hierdie uitdrukkings, wat Petrus telkens op sleutelplekke in die brief aanhaal (1:1,17; 2:11), wou hy egter hul aandag op die ánder, die eintlike en deurslaggewende kant van hul menswees vestig...

 

3.  As vreemdelinge en bywoners was hul terselfdertyd – en paradoksaal! - die ‘uitverkorenes’, die ‘geroepenes’, die ‘koninklike priesterdom’ van God (1:1-2,15).  ‘Julle, daarenteen…’ dui die kontras aan tussen hulle en diegene wat God verwerp het (2:9).  Regdeur die brief gebruik die skrywer – dikwels met behulp van OT tradisies – verskillende beelde of metafore vir die kerk, wat deur die eeue geweldig invloedryk sou word.  Juis in die spanning van die oënskynlik teenstrydige woordpaar uitverkore vreemdelinge sou hul diepste wese, hul nuwe selfverstaan, hul identiteit en aard as Christene uitgedruk wees.  Al was hul in die oë van hul nie-Christen bure sonder aansien of status, anders en vreemd, geminag en op neergesien, het hul in die oë van Gód 'n ereposisie beklee!  Hierdie perspektief was bedoel om hul totaal anders oor hulself laat dink, en uiteindelik ook oor hul rol in die samelewing.  Presies dít is wat die vorige 4 preekstudies by herhaling beklemtoon het: Die opstanding van Christus het letterlik vir die lesers 'n nuwe lewe, 'n nuwe geboorte, nuwe sin en hoop beteken!  Daardeur het hul die ‘eiendomsvolk van God’ geword, uitverkies en geroep met net één doel - om hierdie wonderbare God se verlossingsdade te verkondig!  Boonop het God hul nuwe lewe – hier en nou sowel as eendag - met verskeie beloftes gewaarborg (1:4-5).  Alles die gevolg van God se groot ontferming en liefde!  Geen wonder dat die brief met 'n loflied op die goedheid van God begin en eindig nie (1:3 en 5:10-11).  Dít is ook die hart, die diepste motief agter die ontroerende taal van ons fokusteks.

 

4.  1 Pet 3:13-22 neem ons nogeens 'n treetjie verder in die vreemde logika van die brief.  Wie die paradoksale aard van die vroeë geloofsgemeenskappe reg verstaan, sal waarskynlik ook iets kan begryp van die vreemde soort leefwyse wat daarmee gepaard gegaan het.  'n Tipiese kenmerk van die brief is dat dit dikwels die skarnierwoord ‘daarom’ gebruik om die logiese verband aan te dui tussen die lesers se identiteit en praktiese lewe (vgl 1:2,13,15,17,21,22;  2:1,6,11,13; 4:1;  5:6).  Die logiese gevolg van hul posisie as ‘uitverkore vreemdelinge’ was dat hul in die gewone gang van elke dag – te midde van smaad, verguising en veronregting - soos God se geroepenes, soos opstandingsmense sou leef.  1 Pet 3:13-22 bevestig hierdie struktuur:  Juis omdat hul in die heerlikheid van Christus se opstanding en hemelvaart deel (21,22), word hul geroep om Hom na te volg – deur sy lyding heen!  Om Christus se voorbeeld te volg, Hom as rolmodel te neem vir hul daaglikse lewenspraktyk, om letterlik ‘in sy voetspore te volg’ (2:21), is presies wat 1 Pet met die herhaaldelike verwysing na goeie, voorbeeldige gedrag bedoel (2:12,15;  3:1-2,13,17;  4:19).

 

5.  Die skokkende kant van Christus se voorbeeld – en natuurlik die moeilikste om te verstaan en na te volg – is sy bittere lyding, en spesifiek die manier waarop Hy gely het (3:18;  vgl veral 2:22-23!).  Die brief is deurspek van verwysings na die lyding en swaarkry, die belediging en vernedering wat die volgelinge van Christus as gevolg van hul assosiasie met Hom sou moes verduur.  Om te ly vir wat reg is (3:14), vir die nuwe waardes, deugde en lewenstyl waarvoor hul gestaan het, vir die alternatiewe morele wêreld waarin hul nou gewoon het, moes hul nie verras of verbaas nie.  Hulle moes dit nie as iets vreemds beskou nie.  Hulle moes ook nie vir mense bang of skaam wees, of hul laat afskrik of intimideer nie – 3:6,13;  4:16).  Hulle moes dit eerder as 'n voorreg beskou (3:14)!  En selfs daaroor bly wees (1:6;  4:12-13)!  Want, hul Here het self onskuldig gely – soos Moses, en die Kneg van Jes 53, en soos baie martelare deur die eeue…  Juis daarvoor is hul uitverkies en geroep (2:21-24)!  Om só te ly kon trouens juis God se wil vir hulle wees (17) – nie noodwendig die swaarkry self nie, maar dit wat in en deur die lyding met hulle en ander kon gebeur.  En veral dat hul sou leer om áán te hou goed doen (4:19), en dus aan Christus getrou te bly.  Want juis só – toe onskuldige persone bereid was om namens ander te ly - het daar vir baie deur die geskiedenis heling en bevryding gekom (vgl 18).  Die instelling en deugde wat onder sulke omstandighede uitgesonder word as van besonder kragtige getuienis- of oorredingswaarde, is beskeidenheid (16;  vgl 3:4, 8-11), heilige eerbied vir God (15,16 – vgl 1:7; 2:17,18;  3:1-2,6), en 'n skoon gewete – 'n geloofwaardige, betroubare lewenswyse dus (16).  Direk ná ons fokusteks hervat hy weer met dieselfde tema (4:1-5:11).  Dít is hierdie soort gedrag wat hul opponente sou laat skaamkry (18), en wie weet … dalk sou laat nadink en van koers laat verander.

 

6.  Welwetende hoe moeilik dit vir die lesers sou wees om elke dag in hul moeilike omstandighede te volhard, troos en versterk die skrywer hul deur hierdie rondte van sy brief af te sluit met die herinnering aan hul doop - simbool van hul reiniging/heling deur die dood en opstanding van Christus, van hul inlywing in 'n nuwe lewenswerklikheid, met 'n nuwe identiteit en gepaardgaande lewenstyl (21).  Om dit enigsins uit die oog te verloor, te vergeet of te minag, sou net so dwaas wees as die mense wat in die tyd van Noag God se geduld en ontferming geïgnoreer het (20).  Hierdie voorbeelde dien tegelyk as bemoediging en waarskuwing om nie te gaan lê in tye van beproewing nie, maar te leef vanuit die visie en krag van die opgestane en verheerlikte Christus (21-22).  Vir die lesers van 1 Pet – toe en nou – was en is dit regtig nie nodig om iets of iemand wat hul kon bedreig of verneder te vrees nie.  Jesus Christus is die Here - oor alles en almal, ook die bose magte!  Hy is by magte om hul in hul vernietigende gang te stuit.  Hy is nie alleen die Lam wat vir hul geslag is en deur wie se wonde hul gered en genees is nie (1:19;  2:24;  3:21), maar ook die een wat hul aan die regterhand van God verteenwoordig (3:22), en die Regter wie hul kon vertrou om regverdiglik te oordeel (1:17; 2:23).  Hierdie Jesus is ook húl en óns Here (3:12,15,22), hul en ons Herder en Bewaker (2:25; 1:5)!    

Preekvoorstel

1.  Die prediking kan vir hierdie geleentheid kortliks aansluit by herhalende motiewe uit die vorige 4 Sondae se preekstudies.  Die vorm van die preek sou hoofsaaklik verhalend kon wees, met die verhaal van Christus as vertrekpunt, waarby elke gelowige opnuut genooi word om bewustelik sy of haar verhaal te laat aansluit, en sodoende nuwe sin, nuwe sekerheid en hoop te ervaar.  Dit sou daarom veral goed wees om nogeens vir 'n oomblik stil te staan by die vreemde logika van die lesers se identiteit as ‘uitverkore vreemdelinge’, asook hul gepaardgaande leefwyse teenoor 'n vyandiggesinde omgewing – as opsomming van punte 1-4 hierbo.  Deur by herhaling in die brief op hul nuwe selfverstaan klem te lê, wil die skrywer hê dat sy lesers groot sal dink oor hulself.  Omdat hul aan so 'n wonderbare, betroubare God verbind is!  Te midde van hul swaarkry en talle versoekings om te begin twyfel, moed te verloor en aan die druk van buite én binne toe te gee, bemoedig en versterk hy hulle.  Op hoe 'n manier?  Deur hul te help om op die regte plek te fokus.  Hy herinner hul telkens aan Jesus – en veral aan hoe Hy gely het, onskuldig, sonder om te oordeel, sonder om terug te beledig, sonder om toe te gee aan die gesindheid van sy teëstanders...  So wil die skrywer hul help om deur God se oë te leer kyk, vanuit God se hart te dink as’t ware - oor hul voorregte en seëninge as gelowiges, oor die krag van die evangelie, oor die kerk, oor hul doop, oor die hoop wat in hul lewe...  Dít is die kern van sy trooswoord: 'n nuwe perspektief op Christus, op God die Vader, op die lewendmakende Gees, en daarom op hulself, op hul ganse lewensverhaal - verlede, hede en toekoms, en dus op hul plek en rol in die wêreld en die geskiedenis.   

 

2.  Die res van die preek kan bestaan uit subhofies waarin verkillende aspekte van Christus se verhaal oorvertel word.  En waarby óns verhaal telkens aansluit.  Wie ons as gelowiges is en hoe ons leef, óns biografieë, ons verhale word direk bepaal deur Christus se verhaal, deur alles wat Hy gedink, gedoen en gesê het, deur alles wat met Hom gebeur het.  Regdeur sy lyding en vernedering heen tot by sy oorwinning en verheerliking.  Paradoksaal, vreemd – vir baie onsinnig en 'n aanstoot (1 Kor 1:23).  Dít is die merkwaardige verhaal wat deur die afgelope Lydens- en Paastyd by herhaling aan ons voorgehou is.  Met die bedoeling om ons mee te voer, te ontroer en te oorreed – om ons opnuut deel daarvan te maak, om ons dit nuut te laat oordink en te probeer verstaan, om dit weer en weer toe te eien as óns verhaal, óns lyding, óns oorwinning, óns troos.

 

Teen die agtergrond van die bespreking oor die teks en konteks hierbo, kan die samevattende of omramingsfunksie van verse 18 en 22 in die gelese gedeelte beklemtoon word, met 22 as 'n duidelike klimaks.  Dit gaan hier oor die wyse en doel van Christus se lyding (18), asook sy ereposisie aan die regterhand van God.  Die dood, opstanding en hemelvaart van Christus vorm die ankerpunte van ons geloofslewe, van ons gereformeerde belydenisskrifte, van ons identiteit as Christene.  Wat van Christus waar is, geld van ons.  Om in sy oorwinning te deel, beteken dat ons sý kruis sal opneem en Hom volg.  Dit is ons diepste aard, ons wese, ons roeping as kerk van Christus.  En omdat ons die gesindheid en lewenstyl van Christus navolg, is ons ‘vreemd’ aan die styl en skemas, die waardes en grein van hierdie wêreld.  En behoort dit ons nie te verras as ons teenstand en stryd ervaar nie!  Trouens, ons moet dit by voorbaat verwag, en liewer aangryp as 'n gulde geleentheid om van die wonderbare verlossingsdade van God te vertel, en om ook óns verhaal in die lig daarvan nuut te vertolk!  So mag juis ons beproewings - op 'n verrassende manier - aan ons die geleentheid bied om ons ‘vreemde’ posisie en gedrag aan ander te verduidelik (15).  Met kalmte en beskeidenheid, en eerbied vir God, voeg die skrywer daarby (3:4, 15-16).

 

3.  Dit is belangrik dat die prediker en gehoor saam sal stil word, en opreg en versigtig sal nadink oor die bedoeling van 1 Pet om sy lesers aan te spoor om soos Christus onskuldig te ly…  Met 'n skoon gewete.  Deur nie terug te beledig nie, nie geweld met geweld te beantwoord nie, nie te dreig en te oordeel nie, maar alles oor te laat aan God wat regverdig oordeel (2:22-23).  Wat 'n voorbeeld!  Wat 'n prys vir versoening!  Vir diegene wat ly omdat hul doen wat reg is (14), omdat hul eerlik na God se wil soek (17), is hierdie gedeelte bedoel as egte vertroosting en aanmoediging om – blymoedig en hoopvol - te volhard.  Die herinnering dat Christus deur sy hemelvaart finaal die magte oorwin het (22), vorm 'n belangrike motief in die gedeelte.  Daaraan kon die vroeë Christene – en kan ons – met vrymoedigheid bly vasklou!  En daarom kan ons in die komende week die hemelvaart van Christus – en ook óns hemelvaart – met blydskap vier!  

 

4.  Die meer algemene emosie van die gehoor as reaksie op die onskuldige lyding van Christus mag egter een van skuld en diepe droefheid wees.  Ons weet maar te goed dat daar in ons omstandighede nie so iets soos 'n ‘onskuldige slagoffer’ is nie!  Ons reageer almal op mekaar se woorde en dade en gesindhede.  Selfs in ons beste bedoelings en mees opregte dade skuil daar sonde, en kleef verkeerde motiewe ons aan.  Selfs in ons toorn oor die sonde.  Om soos Christus in ons eie situasie te reageer - waar onversoendheid, wantroue, haat en magsmisbruik mense steeds (en selfs toenemend) van God en mekaar vervreem - is ontsettend baie gevra!!  (Dink aan praktiese voorbeelde uit u eie omgewing.)

 

Daarom is 1 Pet 3:13-22 vir beide slagoffers en oortreders bedoel – vir hulle wat ly as gevolg van verlies aan menswaardigheid of wat ookal, én vir hulle wat bewustelik of onbewustelik daaraan meegedoen het, óf weggekyk het toe hul iets daaraan moes doen.  Vir ons álmal is 1 Pet tegelyk 'n uitnodiging én waarskuwing.  'n Uitnodiging om opnuut oor onsself te dink as verloste, heelgemaakte, vry mense – bestem om deel te wees van God se merkwaardige, ewige verhaal van liefde en trou.  (Hier sou voorbeelde van mense vir wie die evangelie heling gebring het, en nuwe selfrespek en hoop, besonder betekenisvol kon wees).  Terselfdertyd is 1 Pet ook bedoel as 'n ernstige waarskuwing aan Christene om nie die helende krag van Christus se kruis en opstanding te minag of te onderskat nie.  Om nie daarby verby te leef asof dit nie bestaan nie!  Want daardeur sou ons op 'n uiters tragiese wyse 'n gulde geleentheid verbeur om vir ander 'n voorbeeld ('n sintuiglik ervaarbare teken, 'n sakrament!) tot redding, tot singewing en hoop te wees… (16).

 

Nuttige bronne vir verdere leeswerk

Alle WtL-bydraes oor 1 Pet, en veral II/6:123-128 (JN Horn) en I/5:215-226 (DJ Smit); Combrink, HJB 1975.  The Structure of 1 Peter, Neotestamentica 9, 34-63; König, A 1995.  Versoening: Goedkoop? Duur? Verniet?;  Smit, D 1988.  Hoop in lewe en lyding: Oordenkings en Bybelstudie uit 1 Petrus;  Volf, M 1996.  Exclusion & Embrace: A Theological Exploration of Identity, Otherness, and Reconciliation.