Ander tekste: Hand
7:55-60; Joh 14:1-14; Ps 31:1-5, 15-16
Hierdie teksgedeelte val in die afdeling wat oor die roeping om heilig te lewe, handel. Deel van die geheim om nuut en anders te lewe is die deel wees van 'n nuwe gemeenskap wat met sterk beeldspraak hier verduidelik word.
Lees asseblief die konteksinligting by die tweede Paassondag. Dit was vir Petrus belangrik om die nuwe gelowiges te bemoedig in hul swaarkry. Een van die belangrikste boustene is dat hy klem lê op hul onderlinge verbondenheid met mekaar as die nuwe volk van God. Hulle is in hul swaarkry op Christus en mekaar aangewese. Laasgenoemde aspek word met die “gebou-beeld” verduidelik.
Daar is 'n hele aantal beelde waarmee die gemeente in die Nuwe Testament
beskryf word. Dit wissel van kudde en liggaam tot tempel/gebou van die Here.
Hier werk Petrus sterk met die gebou-beeld en word Jesus uitgebreid met die
Eerste Testament se verwysings na 'n hoekklip in die gebou (kyk Jes 28:16 en Ps
118:22) vergelyk. Gelowiges is dan die stene wat die res van die Godsgebou
uitmaak.
Kom ons kyk na twee vrae: Hoe word jy deel van hierdie gebou? En wat is
jou verantwoordelikheid in hierdie verband?
2.1 Hoe word jy deel van die Godsgebou?
’n Mens sou drie antwoorde uit die teks kon konstrueer.
2.1.1 Jy word deel van die
Godsgebou deur God se barmhartigheid (vers 10).
Petrus beklemtoon die Ou Testamentiese agtergrond van “God se volk”
waaraan Grieke en nie-Jode geen deel gehad nie. Nou in die Nuwe Testament brei
God sy volk uit om almal in te sluit wat in Jesus Christus glo (kyk die bekende
Joh 1:11-12; 3:16). Dit gebeur weens God se groot barmhartigheid wat tot uiting
kom in 'n wyere begrip van die uitverkiesing (vers 9): die uitverkore volk, die
ou Israel, word nou die groter volk van God, die nuwe Israel. Dié wat vroeër geen
volk was nie, is nou die Godsvolk (kyk vers 10a).
2.1.2 Jy word deel van die Godsgebou deur 'n geloofskeuse vir Jesus
Christus (vers 4).
Die uitnodiging om na die lewende steen te kom wat deur die mense
afgekeur is, was vir die eerste lesers van hierdie brief geen maklike saak nie.
In die beeld van Jesus as verworpene, teken Petrus eintlik hulle eie situasie
as verworpenes. Hy wys egter dat wat deur mense/bouers afgekeur is as ongeskik
vir die bouwerk, juis deur God tot hoeksteen verklaar is. Hy het juis die
ereplek ontvang soos die sluitsteen wat die hele gebou regop hou.
Wie dit nie verstaan nie, kan oor die afgekeurde klip struikel soos die
volk Israel voor die ballingskap. Hulle wat glo, struikel egter nie, maar deel
juis in Jesus se eer (vers 7).
2.1.3 Jy word deel van die
Godsgebou deur jou te laat inmessel in die Godshuis (vers 5).
Jy kan nie na die hoeksteen toe kom en jou nie oorgee aan gebou nie! Die
sterk beeld van die Ou Testamentiese tempel word hier gebruik. Dié wat nie
dooie klippe is nie, maar lewende stene, is soos priesters van ouds 'n heilige
en koninklike priesterdom. Hulle verrig aktief die tempeldiens en bring nou
geestelike offers. 'n Lewende steen
lewer diens; daar is nie ruimte vir passasiers nie!
Dit bring ons by die tweede vraag.
2.2 Wat is jou verantwoordelikheid as lid van die Godsvolk?
Ons kan weer na die “geestelike offers” in die konteks van die
priesterdiens kyk (vers 5). Wat sou hierdie offers in die nuwe bedeling beteken
noudat Christus tog die offerdiens vervul het?
Die presiese aard van hierdie offers word in die bekende vers 9
verduidelik. Al die beskrywings van die gelowiges (uitverkore volk, heilige
priesterdom, lewende stene; afgesonderde nasie) word met 'n sterk doelwit gerig
op verkondiging van verlossingsdade.
Vergelyk hier die mooi Hebreërs 13 wat vertel dat lieflike offers aan God
gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. Ja, die lewende stene roep uit
(anders sal God die klippe laat praat!). Die Godshuis is 'n vertelhuis. Ons kan
nie anders nie, want ons is uit die donkerte na God se wonderlike lig geroep
(vers 9).
Ja, lewende, pratende stene: dis ons verantwoordelikheid as deel van die Godsgebou.