1 Petrus 2:19-25 (Piet Naudé)

25 April 1999

Vierde Sondag in Paastyd

 

Ander tekste: Hand 2:42-47; Joh 10:1-10;  Ps 23

Die opstanding gee krag in onverdiende lyding

Hierdie teksgedeelte val binne die derde onderdeel van die brief (kyk indeling by tweede Paassondag) en wil riglyne gee vir gelowiges wat onregverdig ly weens hul belydenis van Jesus se Naam.

Teks en konteks

Lees asseblief die konteksinligting by die tweede Paassondag. Daar is reeds verwys na die situasie van vervolging waaraan die eerste lesers van hierdie brief uitgelewer was. Hulle was dus bekend met lyding - veral onverdiende lyding onder onsimpatieke base en owerhede. Watter boodskap bring die apostel onder sulke omstandighede?

 

'n Kort antwoord sou lui: Terwyl julle ly, volg die lydende en opgestane Jesus na. Hoe word hierdie boodskap uitgewerk ?

Preekvoorstel

2. 1  'n Omgekeerde visie op onverdiende lyding

Christene se visie op onverdiende lyding weens hulle geloof kan wisselend wees. Sommige mag dink dis dalk God se straf op ons omdat ons nie toegewyd genoeg lewe nie. Dis die noodlot wat my tref, al probeer ek 'n goeie mens wees. Dis nou maar eenmaal  God se beskikking wat ek gelate moet aanvaar.

 

Hier stel Petrus dit in 'n verrassend ander perspektief: onverdiende lyding omdat ons aan God getrou wil wees, is genade! (vers 19). Dit herinner aan die bekende saligspreking oor vervolging in Matt 5: 10 waar seën uitgespreek word oor dié wat vervolg word, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 

 

Hierdie onverdiende lyding is presies wat navolging van Jesus inhou. Christene kan dit te wagte wees. Daarom kan dit selfs as ons roeping beskryf word!  (vers 21).

 

Eerstens dus: onverdiende lyding as genade en heilige roeping.

 

2.2 'n Omgekeerde reaksie op onverdiende lyding

Christene se eerste reaksie op onverdiende lyding kan wees: Ek moet myself laat geld. My naam moet in ere herstel word. Ek laat nie ander op my trap nie. Die waarheid oor my moet verdedig word. Wie my te na kom, sal weet met wie hulle te doen het. So word ons ingetrek in 'n magsirkel van aanval en teenaanval.

Wat skryf Petrus hieroor?

 

Hy wys op die voorbeeld van Jesus in wie se voetspore ons moet volg. Ons speel dikwels op die strand dat iemand voor loop en spore trap waarin almal agtertoe presies moet trap. Dan loop daar vyf mense met net een ry spore omdat die volgelinge presies reg loop. Dis die beeld oor lyding: ons moet presies reg loop in Jesus se lydenspore!

 

En wat is sy voorbeeld? Watter soort spore trap Hy?

 

Die antwoord kom in vers 22 en 23: Al het Hy onverdiend gely, het Hy nie sonde gedoen nie. Al het Hy onverdiend gely en is Hy deur sy naaste vriende verraai en verloën, het Hy nie gedreig nie. Al is Hy valslik beskuldig en beledig, het Hy nie terug beskuldig en beledig nie. Ja, Jesus het nie sy eer verdedig nie.  Nee, Hy was soos 'n skaap stom voor die skeerders is; soos 'n lam op pad na die slagpale (vgl kneg van die Here in Jes 53). 

 

Die grootheid van Jesus is sy stilte voor Pilatus, die krag van Jesus is sy gebed vir sy vervolgers aan die kruis. Hy het nie sy eie regsaak behartig nie. Nee, Hy laat aan God oor omdat Jesus aanvaar dat God alleen regtig kan oordeel (vers 23).

 

Dis dan die goeie weg as jy onverdiend ly. Jy neem nie self “beheer” en maak lawaai nie. Jy toon jou krag in jou skynbare magteloosheid. Jy laat jou saak by God, die regverdige Regter.

 

Wat is die uiteinde hiervan? Dan is ons veilig by die Herder en Beskermer van ons lewe (vers 25) wat volgens die psalm vir ons by 'n feesmaal laat aansit juis terwyl ons teenstanders moet toekyk!