Ander tekste: Hand 2:42-47; Joh
10:1-10; Ps 23
Hierdie teksgedeelte val binne die derde onderdeel van die brief (kyk indeling by tweede Paassondag) en wil riglyne gee vir gelowiges wat onregverdig ly weens hul belydenis van Jesus se Naam.
Lees asseblief die konteksinligting by die tweede Paassondag. Daar is
reeds verwys na die situasie van vervolging waaraan die eerste lesers van
hierdie brief uitgelewer was. Hulle was dus bekend met lyding - veral
onverdiende lyding onder onsimpatieke base en owerhede. Watter boodskap bring
die apostel onder sulke omstandighede?
'n Kort antwoord sou lui: Terwyl julle ly, volg die lydende en opgestane Jesus na. Hoe word hierdie boodskap uitgewerk ?
2. 1 'n
Omgekeerde visie op onverdiende lyding
Christene se visie op onverdiende lyding weens hulle geloof kan wisselend
wees. Sommige mag dink dis dalk God se straf op ons omdat ons nie toegewyd
genoeg lewe nie. Dis die noodlot wat my tref, al probeer ek 'n goeie mens wees.
Dis nou maar eenmaal God se beskikking
wat ek gelate moet aanvaar.
Hier stel Petrus dit in 'n verrassend ander perspektief: onverdiende
lyding omdat ons aan God getrou wil wees, is genade! (vers 19). Dit herinner
aan die bekende saligspreking oor vervolging in Matt 5: 10 waar seën
uitgespreek word oor dié wat vervolg word, want aan hulle behoort die koninkryk
van die hemel.
Hierdie onverdiende lyding is presies wat navolging van Jesus inhou.
Christene kan dit te wagte wees. Daarom kan dit selfs as ons roeping beskryf
word! (vers 21).
Eerstens dus: onverdiende lyding as genade en heilige roeping.
2.2 'n Omgekeerde reaksie op onverdiende lyding
Christene se eerste reaksie op onverdiende lyding kan wees: Ek moet
myself laat geld. My naam moet in ere herstel word. Ek laat nie ander op my
trap nie. Die waarheid oor my moet verdedig word. Wie my te na kom, sal weet
met wie hulle te doen het. So word ons ingetrek in 'n magsirkel van aanval en
teenaanval.
Wat skryf Petrus hieroor?
Hy wys op die voorbeeld van Jesus in wie se voetspore ons moet volg. Ons
speel dikwels op die strand dat iemand voor loop en spore trap waarin almal
agtertoe presies moet trap. Dan loop daar vyf mense met net een ry spore omdat
die volgelinge presies reg loop. Dis die beeld oor lyding: ons moet presies reg
loop in Jesus se lydenspore!
En wat is sy voorbeeld? Watter soort spore trap Hy?
Die antwoord kom in vers 22 en 23: Al het Hy onverdiend gely, het Hy nie
sonde gedoen nie. Al het Hy onverdiend gely en is Hy deur sy naaste vriende
verraai en verloën, het Hy nie gedreig nie. Al is Hy valslik beskuldig en
beledig, het Hy nie terug beskuldig en beledig nie. Ja, Jesus het nie sy eer
verdedig nie. Nee, Hy was soos 'n skaap
stom voor die skeerders is; soos 'n lam op pad na die slagpale (vgl kneg van
die Here in Jes 53).
Die grootheid van Jesus is sy stilte voor Pilatus, die krag van Jesus is
sy gebed vir sy vervolgers aan die kruis. Hy het nie sy eie regsaak behartig
nie. Nee, Hy laat aan God oor omdat Jesus aanvaar dat God alleen regtig kan
oordeel (vers 23).
Dis dan die goeie weg as jy onverdiend ly. Jy neem nie self “beheer” en
maak lawaai nie. Jy toon jou krag in jou skynbare magteloosheid. Jy laat jou
saak by God, die regverdige Regter.
Wat is die uiteinde hiervan? Dan is ons veilig by die Herder en Beskermer
van ons lewe (vers 25) wat volgens die psalm vir ons by 'n feesmaal laat aansit
juis terwyl ons teenstanders moet toekyk!