Ander tekste: Hand 2:14a, 22-32; Joh 20:19-31; Ps 16
Hierdie teksgedeelte val in die inleidende deel van die brief waar die
lof van God net na die groetwoord (1:1-2) besing word. Die inhoud van hierdie
lof word hieronder verder verduidelik.
Ons het hier te make met 'n omsendbrief van die apostel Petrus aan
gelowiges in verskeie Romeinse provinsies in noordelike Klein-Asië. Die rede vir
die brief is waarskynlik die bemoediging van gelowiges wat weens hul belydenis
van Jesus se naam vervolg is. Daar is nie minder nie as vier uitvoerige
verwysings na vervolgings in die brief (1:6-7; 3:13-17; 4:12-19 en 5:8-9). Uit
die geskiedenis weet ons dat veral die Romeinse keisers Nero (54-68),
Domitianus (81-96) en Trajanus (98-117) die Christene vervolg het. Daar is
goeie getuienis dat hierdie brief uit die vroegste vervolgings stam (ongeveer
62-64 na Christus) en vanuit “Babilon” (5:13) gestuur is. Laasgenoemde verwys
waarskynlik na Rome self waar Petrus in sy laaste lewensjare hierdie brief
geskryf het.
Die brief word as volg opgebou:
Groet 1:1-2
Lof aan God 1:3-12
Roeping tot 'n heilige lewe 1:13-2:10
Gedrag van christene in die wêreld 2:11-3:12
Lyding van christene in die wêreld 3:13-4:19
Voorskrifte vir orde in die gemeente 5:1-11
Slot 5:12-14
2.1 JESUS
SE OPSTANDING SKEP NUWE LEWE
Dis opvallend hoe sterk die klem val op God wat hierdie nuwe lewe skep en
gee. Dis duidelik dat niemand dit self kan bewerk nie.
Hierdie klem is reeds in die groetwoord (1:1-2) duidelik. Hier is die
uitgangspunt in God Drie-Enig, Vader,
Seun en Gees, wat handel. In een magtige beweging word beskryf hoe God die
Vader uitverkies soos Hy dit vooraf bestem het; hoe die gelowiges deur die Gees
afgesonder is om gehoorsaam te wees, en hoe hulle besprinkel is met bloed van
Jesus Christus.
Hierdie klem word verder gevoer in die daaropvolgende vers (3) wat
van God se groot jammerhartigheid
(ontferming) vertel. Uit ontferming gee God die nuwe lewe as geskenk. En Hy
doen dit deur Jesus se opstanding uit die dood. Die opstanding is die
hoogtepunt van God se werk: “Hy het ons die nuwe lewe geskenk deur die
opstanding....”
En hierdie nuwe lewe word as “wedergeboorte” beskryf. Dus val daar selfs
in die beskrywing van die nuwe lewe klem op God se ondeurgrondelike
(misterieuse?) handeling soos in die bekende wedergeboorte tekste van Joh 3 vertel: Die wind waai waar hy wil, jy
hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar dit kom of waarheen dit gaan nie... Só is dit
met elkeen wat die nuwe lewe in hom/haarself as geskenk van God ontdek!
2.2 DIE EFFEK VAN DIE NUWE LEWE: 'N LEWENDE HOOP
Laat ons onsself herinner aan die uitsiglose omstandighede van die eerste
lesers aan wie die brief gerig is. Hulle toekoms was onseker. Die gordyn het
oor hulle môre gesak.
Hulle het nie geweet wat dalk met hulle sou gebeur nie.
Maar wie hierdie nuwe lewe deur die opstanding ontvang, ontvang ook 'n
lewende hoop. Met ander woorde die moontlikheid om 'n hoopvolle bestaan te
voer. Hoe werk hierdie hoop?
Hierdie hoop het twee dimensies:
Eerstens stel vers 4 die uitsig op die “erfenis in die hemel” voor. Dit
vertel van die absolute sekerheid dat ons toekoms saam met God deur Homself
gewaarborg word. Hierdie waarborg word
in militêre terme beskryf as soldate wat 'n vesting beveilig. Daarom is die
Christelike hoop “onverganklik” (vers 4, dit kan nie vergaan nie) en gee
rigting aan die lewe van gelowiges tussen die eerste en tweede koms van Jesus
(vers 7).
Maar hoop vir “eendag” is nie genoeg nie. Tweedens is dit 'n hoop wat ook
saakmaak in die moeilike omstandighede van hier en nou: God bewaar nie net ons
erfporsie vir “eendag” nie, maar bewaar ons ook nou, ja deur sy krag beveilig
Hy ons vir ons erfporsie (vers 5). Ons saligheid is nie net vir eendag nie.
Nee, ons het nou reeds deel daaraan alhoewel dit die einddoel van ons geloof is
(vers 9).
2.3 DIE GELOWIGES SE REAKSIE HIEROP: LOFSANGE!
(DOKSOLOGIE)
Na die gewone opskrif en groet, begin die hele brief met 'n uitroep van
lof (soos by Efesiërs!): Geseënd is God! Aan God, die Vader van ons Here Jesus
Christus kom al die lof toe! Dis merkwaardig dat Petrus juis só begin in
die omstandighede waarin sy brief se lesers hulle bevind (kyk konteks). Hier op
die voorstoep van Rome, klink die lof van christene op! Midde-in bedroefenis
weens allerhande beproewinge (vers 6) en sware toetsing van geloof (vers 7) is
die gelowiges gevul met 'n
onuitspreeklike en heerlike blydskap . Hulle kan nie net daaroor praat nie,
hulle moet ook daaroor bely en sing!
Dis merkwaardig dat die toetsing van geloof juis plaasvind sodat die
geloof gesuiwer kan word. Waarom? Juis sodat dit lof en heerlikheid en eer
waardig mag wees by die tweede koms van Jesus Christus. Met ander woorde die
lof aan God vanuit beproewinge lei tot groter lof met die wederkoms. Waarlik 'n
situasie van lof tot lof! (vers 8-9).
Die toonaard van Paasgangers - ook vandag in Suid-Afrika - is blydskap
oor die gawe van 'n nuwe lewe wat ons uit God se jammerhartigheid ontvang het.
En blydskap oor die geskenk van hoop wat ons toekoms oopsluit (die gordyn
wegskuif) al lyk die omstandighede van ons kerk en ons land nie altyd
toekomsvriendelik nie. God bewaar ons erfenis - en ons vir ons erfenis.
Halleluja!