28 september 2003

Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Fokusteks : Jakobus 5:13-20

Ander tekste: Ester 7:1-6; Psalm124; Markus 9:38-50

Inleiding

Daar is verskeie dinge in hierdie lewe wat dreig om ons mismoedig te maak. Wat maak dat ons sukkel om in hierdie lewe nuut te leef, koninkryksgerig te leef. Maar ons kan met ons God en Vader daaroor praat. Hy het n oor vir ons. Ons moet egter nie vergeet dat ons deel van die liggaam van Christus op aarde is en dat ons hierdie liggaam nie net moet laat deel in ons swaarkry nie, maar ook in ons gebede. Die liggaam van Christus moet baie meer vir mekaar bid. Verder is dit ook ons taak om mekaar te help om op God se nuwe koers te bly en deel van die liggaam te bly.

God vergader ons voor Hom

Aanvangswoord en seëngroet

Soos in basisliturgie vir koninkrykstyd

Sang

"Allerhoogste Hemelvader" Lied 475:1 en 2 NSG 380 "Aanbiddelike God, drie-enig"

Na die sang word die gemeente opgeroep om erns met mekaar te maak. Ons is verskillende mense wat deel is van die gemeente, maar ons moet mekaar aanvaar. Lees. Markus 9:38-44,50. Vra die gemeente om in stilte te dink aan n lidmaat met wie hy/sy moeilik oor die weg kom en dan in stil gebed vir daardie persoon te bid. Na n stilte gaan die voorganger of iemand anders voor om vir die gemeente en persone in nood voorbidding te doen.

God het ons geroep om Hom en mekaar lief te hê. As ons nie lief het nie, is ons soos lawwe sout en beteken niks vir God nie.

Sang

"Praat ek mense-, eng'letale" Lied 530:1 en 3 "/Lied 532:1 en 3 "Ons Vader, neem ons hande"/NSG 310 "O Here, neem my hande" (die enkelvoud 'my' kan deurgaans verander word na die meervoud 'ons')

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord/epiklese

Skriflesing

Jakobus 5:13-20

Kindertyd

Vertel die storie van Ester wat bang was om vir haar volk voorspraak te doen teen Hamman. Sy het egter die moed bymekaar geskraap en vir die koning n feesmaal voorberei waarop hy haar uitnooi om te vra net wat sy wil hê. Wys die kinders daarop dat die Here ons ook nooi om met ons nood en behoeftes na Hom te kom. Hy sal in sy wysheid antwoord.

Prediking

Antwoord

"Heer, wees ons genadig" Lied 247/NSG 233

 

Diens van die Tafel

Wys die gemeente daarop dat die nagmaal ons as 'n gemeenskap saambind. Dit was ook in die geskiedenis so dat die nagmaal dikwels gebruik is om verskille en verskeurdheid te beklemtoon deurdat mense geweier het om saam met mekaar nagmaal te gebruik. Maar die nagmaal roep ons telkens weer op om, soos Jesus wat Homself volledig vir ons gegee het, onsself ook vir mekaar te gee en verantwoordelikheid vir mekaar te aanvaar. Die Woord sê ons moet mekaar niks anders verskuldig wees as ons mekaar lief te hê nie. En as ons mekaar lief het sal ons mekaar in gebed dra.

Gebed

Sang

"Laat, Heer, u vrede deur my vloei" Lied 284:1-3 Lied 283:1 en 2 "Ons kom, o Vader, vir ons land"/NSG 410 "Allerhoogste God"

Uitsending

Dankoffer

Sang

"Here God van liefde" Lied 286/NSG 354 "Here, ons God, voor ons nou huis toe gaan"

Seën

Sang

"Amen" Lied 312 315/NSG 355 en 366

PREEKSTUDIE - JAKOBUS 5:13-20

Teks en Konteks

Tema en Indeling

Die meeste geraadpleegde kommentatore sien die tekskeuse as n tematiese eenheid. Vir Pretorius is dit n oproep tot gebed in die wisselende omstandighede van die lewe tematies verbonde aan die gebed om wysheid in 1:5 en die saligspreking van diegene wat onder beproewing volhard in 1:12: "Die gebed (word) as die korrekte reaksie op beproewing aangedui, of dit nou op n mens aankom in die vorm van swaar kry (vgl v 10) of van siekte. Dit word in die breër kader geplaas van met alles na God gaan, deur die sydelingse verwysing na die teendeel van beproewing: opgeruimd wees, wat tot lofliedere moet lei. . . . Die gebedslewe word in gemeenskaplike verband geplaas deur die opdrag om die ouderlinge van die gemeente in te roep in geval van (ernstige) siekte. Die uitweg uit sonde, wat moontlik n beswarende faktor in die gebed en die genesing van iemand mag wees, word op persoonlike, gemeenskaplike en teologiese vlak aangedui en n voorbeeld van gebedsverhoring (ten opsigte van Elia) aangevoer." Vers 19-20 behoort hierby in soverre hulle, volgens hom, die grondtema van die hele brief vorm.

Fritz Grünzweig formuleer die tema vir die perikoop: "Met mekaar op weg na die Doel"; na die Dag en Ryk van die Here. Hy gebruik as subtemas: "Maak uit alles n gebed" (v 13); "Die plig teenoor siek mede-Christene" (v 14-18), en; "Die plig teenoor dwalende mede-Christene" (v 19, 20). Vir hom is die gebed die goue draad wat deur die hele teksgedeelte loop. Ook James Tasker behandel verse 13-18 en 19-20 onder die onderskeie temas: "Gebed onder alle omstandighede", en; "Herwinning van die teruggevallene", met die klem op die deurslaggewende funksie van gebed (Albert Barnes en EL Smelik volg in hooftrekke dieselfde skema met die hoofaksent op die gebed).

Hoofbegrippe van betoog

Die twee begrippe "gebed" en "sonde" staan in hierdie perikoop op die voorgrond en word op n besondere wyse aan mekaar verbind. Deur die gebed word nie alleen verdrukkende lewensomstandighede verlossend verander nie, maar ook sondelaste word weggeneem. Die woordgroep wat hier vir gebed gebruik word (proseuchomai) is nie dieselfde as die wat in 1:5 en 4:2 en 3 gebruik word nie (aiteõ). Laasgenoemde woord beteken letterlik "om te vra" en in hierdie verband gelowig te vra. Dit is die bekendmaak van n behoefte met die versoek dat daarin voorsien sal word. Die Griekse woord "proseuchomai" is die meer algemene woord vir gebed wat tot God of tot Jesus, die Here (Kyrios) gerig word (vgl Hand 9:11, 40; Op 5:8). Deur so te bid het die vroeë kerk getuienis gegee dat hulle Jesus Christus as hulle Here en lewende Hoof, wat die dood oorwin het en ewig lewe, beskou het. Gevolglik kan n mens in n lewende persoonlike verhouding met Hom kom en met Hom gesels, net soos mense met Hom gesels het toe Hy op aarde was (vgl Hand 9:10-16; 2 Kor 12:8, 9). Daarom is egte gebed nie n monoloog nie maar dialoog, waarin die persoon wat bid dikwels stil bly om te luister na Jesus se woord en gebod.

Ware gebed is dus iets wat baie persoonlik en spesifiek is, n egte gesprek met God of Jesus Christus. Omdat die Nuwe-Testamentiese gelowige God ken as sy Vader, deur Jesus Christus (met groter duidelikheid as die gelowige van die OT) gaan sy gebed uit van n kinderlike vertroue, soos uitgedruk in Jesus se modelgebed: "Ons Vader" (Mat 6:9 vv), asook n helder bewustheid van die teenwoordigheid van die Goddelike Gesprekgenoot. Gebed kan oor alles gaan, van die kleinste saak tot die grootste, van die sake van die dag tot dié van die ewige, van dank en lof tot belydenis en toewyding, van die persoonlike behoeftes tot die voorbidding vir ander. Dit is hierdie wyse van bid waartoe Jakobus in die perikoop oproep. Dit veronderstel dat die lesers van die brief n lewende verhouding met God en Jesus Christus het en dat gebedsverhoring hulle vanselfsprekende verwagting is. Die klem val hier duidelik op voorbidding en om die krag daarvan te illustreer, gebruik Jakobus in vers 16(b) die selfstandige naamwoord wat van die Grieks "deomai" afgelei is, met verwysing na gebed. Hierdie woord dui op n ernstige pleitrede, selfs smeekgebed. Dit adem n warmte, n innigheid en innemendheid (vgl 2 Kor 5:20; 8:4; 10:2; Gal 4:12). Paulus het sodanige voorbidding baie waardeer en groot dinge daarvan verwag (vgl 2 Kor 1:11; Fil 1:19). Jakobus skryf in dieselfde trant as hy sê: "Die gebed van die gelowige (letterlik: regverdige) het n kragtige uitwerking". Dit gebeur wanneer die gelowige bidder n lewende, dinamiese en egte "gespreksverhouding"met God het, soos Elia dit gehad het (vgl Ps 34:16; 1 Pet 3:12).

Voorbidding vir die siekes en mekaar, gaan ook oor sondes wat gepleeg is. Die woorde "gesondig het" (letterlik: "sondes gedoen het") in vers 15 en "sondes" in vers 20, is die vertaling van die meervoud van die Griekse woord "hamartia" wat letterlik beteken "om die doel te mis". In die Nuwe Testament is dit die mees gebruiklike woord vir sonde. Dit beteken om die doel wat God vir die mens daargestel het te mis, om af te wyk van wat vir God welgevallig is, om te doen wat in stryd met God se wil is; om weg van God te lewe. Dit sien dus in die eerste plek op oortredings wat teen God begaan word en hou verband met die verdorwe natuur van die mens. As Jakobus oproep tot voorbidding vir die sieke, dan sluit hy nie die moontlikheid uit dat daar n verband tussen die persoon se siekte en sondige dade kan bestaan nie, en dat beide die genesing van God verlang. Hier gaan dit oënskynlik om die vergiffenis van sondes wat in verband met die bepaalde siekte begaan is, maar dit kan ook gaan om die vergiffenis, op grond van die verdienste van Christus, van die sondes wat uit die verdorwe aard van die sieke ontspruit en die genesing van die siekte wat in die algemeen n vrug van die sonde is. In albei gevalle gaan dit in die eerste plek om sondes teen God. Die voorbidding is daarom n gelowige aangryping van die kruis van Christus as grond vir die verwagting van vergiffenis en genesing. Vers 19 en 20 kan ten beste begryp word as hulle in die konteks van die gemeentelike voorbidding beskou word. Die sondaar wat hier teruggebring word (hamartõlon) en die sondes wat vergewe word (hamartiõn), is onderskeidelik n persoon wat van God afgedwaal het en oortredings wat teen God begaan is. Die terugbring na die waarheid is n terugbring na God toe en die vergiffenis van die sondes is n verwydering van die skeidsmuur tussen die teruggekeerde en die Here. Alhoewel die Heilige Gees nêrens in die brief genoem word nie, word sy werking steeds veronderstel.

Die sondes teen God raak onafwendbaar die medemens en in besonder die medegelowiges. In vers 16 roep Jakobus gelowiges op om hulle "sondes" teenoor mekaar te bely. Ook hier word dit verbind met gebed en genesing. Maar nou gebruik hy n ander Griekse woord vir sondes, naamlik "paraptõmata". Die woord is afgelei van "parapipto" wat beteken om langs n voorwerp te val. Oorgedra op menslike gedrag, word die "langsaan val" dan n afwyking of versuim van die waarheid en egtheid. Volgens Herman Cremer word dit in die Skrif gebruik vir groot en ernstige skuld, en in die algemeen vir alle sonde, al is dit onbekend en onbedoeld (Ps 19:13; Gal 6:1). Hy definieer dit as "a fault, a mistake, an offence, neglect, error." Die woord word met "oortredings" vertaal (Mat 6:14, 15; 18:35; Mark 11:25; Rom 4:25; 5:15, 16, 17, 18, 20; 2 Kor 5:19; Ef 1:7; 2:1,5), met "val" (Rom 11:11, 12) en met "in sonde val" (Gal 6:1). Dit dui dus op n verskeidenheid van oortredings wat teen God en die medegelowiges begaan word.

Die vraag is watter "sondes" Jakobus hier in gedagte het. Kenneth Wuest se verklaring van Galasiërs 6:1 kan ons hiermee help: "In Gal 6:1 we have the case of Christians who, having been the subjects of the ministry of the Holy Spirit, had in following the teaching of the Judaizers, put themselves thereby under law, and thus had deprived themselves of the victory over sin which the Spirit had been giving them. They were trying their best in their own strength to live a life of victory over sin, and sin had taken them unawares. Sin had entered their experience before they knew it, for they were shorn of the victorius power which they previously had had. This is `paraptõma, a sin which was not on their part a conscious disobedience of the will of God, but an unintentional one committed through the inability to prevent it entering the life." Dit is op hierdie wyse dat gelowiges, meer as wat hulle soms wil toegee, teen God en die medegelowiges sondig. Die feit dat daar nie kwade bedoelinge of opset by betrokke is nie verontskuldig nie die oortreders nie. Hulle moet die oortredings bely en aflê en vergiffenis ontvang (en aanvaar) van God en van mekaar; hulle en hulle verhoudings moet gesondgemaak (reggehelp) word. Dit is die weg wat Jakobus aandui, met die byvoeging dat hulle vir mekaar moet bid en sodoende mekaar se laste dra (Gal 6:2).

Eksegeties

Vers 13: Die woord wat hier met "swaar kry" en in vers 10 met "lyding" vertaal word, is dieselfde. Soos in die geval van die profete word hier waarskynlik gedink aan die kwaad wat gelowiges aangedoen word terwyl hulle in die Naam van die Here getuig; verdruk en vervolg word van die kant van vyande. Dit sluit egter nie ander vorms van swaar kry uit nie. Die gevaar is dat hierdie swaar kry die persoon se gemoed kan affekteer en lei tot depressie, moedeloosheid en geloofstwyfel. Daarom kry hy die opdrag om te bid. Jakobus het waarskynlik die smeekgebede van die psalmdigters in soortgelyke omstandighede in gedagte gehad (bv Ps 28:1-2; 30:9; 31:23; 34:7, 18; 55:17). In die gespreksgemeenskap met God word die proses wat Paulus in Romeine 5:2-5 beskryf voltrek; die swaarkry gaan stelselmatig oor in hoop wat nie beskaam nie, omdat die Heilige Gees voortdurend die liefde van God in die bidder se hart uitstort. Dit lei onafwendbaar tot opgeruimdheid. Die smeekgebed gaan spontaan oor in lofsang (letterlik: om die snare aan te raak). Iemand kan ook opgeruimd wees omdat alles goed gaan. Die opdrag om dan lofliedere te sing is tot n ander en meer openbare en gesamentlike vorm van gebed, waarin danksegging en lof die botoon voer, soos in die geval van baie Psalms (vgl Rom 15:9-12; Ef 4:19). Lofsang word n openbare getuienis.

Vers 14: Liggaamlike siekte of "swakheid" is ook n vorm van swaar kry. Die klaarblyklik ernstige sieke wat Jakobus hier op die oog het, het hom waarskynlik reeds in gebed tot God gewend, maar sy afsondering kan n negatiewe uitwerking op sy gemoed hê. Daarom moet hy verder gaan en ook die gemeente by die gebedsbeoefening betrek. Die sieke moet die inisiatief neem om die ouderlinge in te roep. Hulle moet vir hom bid; voorbiddende met God/Christus oor hom gesprek voer. Hulle moet hom met olie salf, wat tegelyk n bekende geneesmiddel en simbool van genesing was, terwyl hulle die Naam van die Here (nl Jesus Christus, die Hoof van die gemeente) aanroep. Die genesing word dus nie van die olie as sodanig verwag nie, maar volledig van die Here: "Dit word met sy gesag, in sy teenwoordigheid en deur sy krag bewerk in antwoord op die gebed van die ouderlinge, wat uit die gewone volk kom" (Pretorius). Hier is geen sprake van n kerklike sakrament nie.

Vers 15: Gelowig bid (letterlik: die gebed van die geloof) is soos in 1:6 die voorwaarde vir verhoring. Die geloof is gerig op die troue God en sy beloftes. Dit twyfel nie aan die vermoë van God om te skenk wat gevra word nie, maar dit aanvaar ook dat die beslissing met vertroue aan Hom oorgelaat kan word. Dit beteken dat die gebed van die geloof onvoorwaardelik is, maar die verhoring daarvan voorwaardelik: as dit die wil van God is (Vgl Mat 26:39, 42; 2 Kor 12:8, 9). Aan die bidder wat dit altyd in gedagte hou, het Jesus belowe: "As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra" (Mat 21:22). Die genesing van die sieke is in die eerste plek sy fisieke gesondmaking. Dit word bevestig in die volgende sinsdeel: die Here sal hom gesond maak (wat letterlik beteken: die Here sal hom ophelp/laat regop staan; vgl Mark 1:31; 2:9). Geestelike genesing word egter nie uitgesluit nie, want genesing (letterlik: redding) het ook te make met die verlossing van sonde. Dit gaan om die redding van die totale mens. Jakobus veronderstel nie hier dat daar by die sieke n noodwendige verband tussen sy siekte en sonde is nie, maar hy sluit dit ook nie uit nie: "The New Testament does not teach that all physical suffering is due to the sins of the sufferer concerned, but that sometimes this is so is recognised by both Jesus and Paul (see Mk 2:5-11; 1 Cor 11:30)" (Tasker). Pretorius merk egter op dat dit merkwaardig is dat die belydenis van sonde nie deur Jakobus as voorwaarde gestel word vir die genesing nie: "Die weldaad gebeur oënskynlik net so vry en onverdiend as die gawe van wysheid in 1:5". As daar wel n oorsaaklike verband tussen bepaalde sondes en sy siekte was, het die sieke dit waarskynlik aan die ouderlinge blootgelê en voor die Here bely: "Die feit dat sy sonde hom vergewe word in samehang met die genesing, veronderstel in elk geval dat hy dit met dankbaarheid aanvaar en afsien van die sonde wat die siekte in die eerste plek nodiggemaak het."

Vers 16(a): Hierdie vers is n uitbreiding op die vorige. Dit gaan steeds om siekes en genesing, maar nou in gemeenteverband. Dit gaan om die regmaak van alle verbroke (siek) verhoudings, n ooplê van die lewe voor God, waar die broeders en susters getuies en medebidders is. In n bepaalde sin is almal wat sonde doen siek en veroorsaak hulle sondes siektes (vgl uiteensetting van paraptõmata hierbo). Fritz Grünzweig betrek hierdie wederkerige belydenis van sondes by die geleenthede van die bogenoemde dienslewering aan siekes. Hy sê: "Weliswaar moet die broers wat gekom het nie van hulle kant af (elke keer by so n dienslewering) n volledige lewensbieg doen nie, maar dit moet tog duidelik word dat diegene wat om die bed sit, net so op die vergewing van God aangewese is, as die een wat op die bed lê. Ons mag lydende mede-Christene nie so alleen laat soos dit tans geskied nie, maar moet hulle met ernstige gebed besoek en ondersteun. In hierdie teksgedeelte word duidelik hoe eng voorbidding en sondebelydenis saam hoort" (Vry vertaling DPB). Die belydenis teenoor mekaar en bid vir mekaar, impliseer die volkome vergiffenis van mekaar se sondes (Mat 6:14, 15; Mk 11:25). Daarsonder is volkome genesing (van verhoudings veral) nie moontlik nie.

Vers 16(b)-18: Die betekenis van gebed in hierdie sinsnede is reeds aangedui (sien: deomai). Die gebed van n gelowige (letterlik: regverdige) het n kragtige uitwerking, nie weens die erns en vurigheid van die bidder of die woordrykheid en korrekte formulering van die gebed nie, maar omdat die Here hoor en verhoor (vgl Rom 8:26-28). Na gelowiges van die Ou Testament word soms as "regverdiges" verwys, soos Abel (Mat 23:35; Heb 11:4) en Lot (2 Pet 2:7). Jakobus sou baie voorbeelde van Ou-Testamentiese regverdiges, wie se voorbidding n kragtige uitwerking gehad het kon voorhou, soos Moses (Eks 33; Num 11:1-2), Samuel (1 Sam 12:16-25), Hiskia (2 Kon 19:14-20) en Daniël (Dan 9). Hy kies egter Elia, vir wie hy beskryf "as n mens net soos ons", omdat dié profeet in die Ou Testament nie as n super-mens geskilder word nie, maar as iemand met swakhede wat vrees, moedeloosheid en twyfel geken het. Op dieselfde wyse waarop sy gebede n kragtige uitwerking gehad het, sal die gebede van die gelowige bidders in die gemeente van die Here dit ook hê.

Vers 19-20: Alhoewel die verband van hierdie verse met die voorafgaande nie voor die hand liggend is nie, meen Tasker dat dit hier gaan om n uitbreiding van die bediening van die gemeentelike voorbidding na die gelowige wat afgedwaal of teruggeval het. So iemand is in n bepaalde sin dodelik siek en stapel n menigte sondes op, in die eerste plek teen die Here van wie se waarheid hy afgedwaal het, maar ook teen die gemeente. Die bediening van die voorbidding impliseer die vermaning en aandrang op terugkeer deur die broers. Word so n afgedwaalde dan deur die bemiddeling van een van hulle teruggebring, word die kragtige uitwerking van die gebede van die gelowiges daarin geopenbaar dat hy uit die dood (ge)red word en dat n menigte sondes vergewe word.

Pretorius sien hierdie verse as die slot van die brief, waarin die skrywer die waarde van die onderlinge vermaning aandui en tegelyk die dryfveer agter sy skrywe openbaar (Sien Preekstudie 21 September onder Algemene Agtergrond). Dit vorm "n baie paslike afsluiting vir die brief met sy uitsonderlike karakter en inhoud. Dit is tegelyk n omvattende motivering van die string waarskuwings waaruit die hoofdeel van die brief saamgestel is en n algemene stelling oor die sin daarvan om die afdwaling van n geloofsgenoot ernstig op te neem en hom terug te bring na die pad van verlossing".

Preekvoorstel

Hoe dikwels het mens nie gedurende die tyd van die "struggle" teen apartheid Christen-gelowiges hoor sê nie: "Ons moet nou ophou bid en oorgaan tot aksie!" So ook is die gesegde "minder bid en meer doen", nie onbekend in kerklike kringe nie. Waar daar gepraat word van persoonsbeskerming en eiendomsbeveiliging teen misdaad en geweld, hoor ons meer as een verklaar: "Dit is goed en reg om te bid en op God te vertrou, maar die Here het ook aan ons gesonde verstand gegee en ons moet dit gebruik." As "bid" is wat deur hierdie uitsprake gesuggereer word, naamlik n "makeer-die-pas" wanneer aksie en optrede vereis word, dan is dit beter om daarmee op te hou soos God vir Moses beveel het in Eksodus 14:15. Want dit is nie ware gebed nie. Die tragiese feit is egter dat baie mense wat hulleself vir gelowiges uitgee, nie verder as hierdie soort gebed vorder nie en dus ook nie groei in hulle geestelike lewe toon nie. Omdat hulle die wese van die ware gebed nie ken nie, ken hulle ook nie die waarde daarvan nie, en is hulle in die praktyk biddeloos. En dit, meer as iets anders, is die rede vir die bestaan van n bedrywige maar kragtelose kerk. n Gelowige en gemeente, egter, wat die geheim van die ware gebed ontdek het en dit beoefen, sal die kragtige uitwerking daarvan op alle terreine van die persoonlike en gemeenskaplike lewe ervaar. Dit word deur Jakobus in 5:13-20 aangetoon.

Onder die leiding van die Heilige Gees kies Jakobus sy woorde vir gebed, sonde, swaarkry en genesing, baie noukeurig, soos in die eksegetiese afdeling aangedui. Gebed is meer as n versoek wat die gelowige tot God rig. Dit is n volgehoue gespreksverhouding tussen die lewende en lewegewende Here en die gelowige wat deur die wedergeboorte deel in daardie lewe gekry het. Die gebed self is handeling in antwoord op die Woord wat deur die Here gespreek word. Deur die ware gebed kry die Woord wat vlees geword het gestalte in die bidder en word die krag wat Christus uit die dood uit opgewek het in hom/haar geopenbaar (Ef 1:18, 19). Daar is dus geen probleem, bedreiging of kwelling wat teen die krag van gebed kan standhou nie. As die kragtige uitwerking van die gelowige gebed van Elia, as enkeling so groot was, hoe groot moet die uitwerking van die gemeenskaplike gebede van die gemeentelede dan nie wees nie!

Jakobus het daar geen twyfel oor nie. Hy bring die ware gebed ter sprake by vier ontwrigtende dinge waarmee die gelowiges in hulle daaglikse lewe gekonfronteer word: swaar kry (wat ook lyding impliseer) met sy teenhanger opgeruimd wees (vers 13); siekte (verse 14-15a); sonde (verse 15b-16) en afdwaling wat die dood meebring (verse 19-20). Die gebed is nie slegs maar n troos in hierdie omstandighede nie, dit het n kragtige verlossende en genesende uitwerking (Die preek kan uitgebou word deur van die eksegetiese materiaal gebruik te maak).

(Hoe om die preek, aan die hand van die eksegetiese materiaal, van toepassing te maak op die gebedslewens van gelowiges en die gemeente, is voor die hand liggend. Jakobus se brief is so algemeen gerig dat dit in enige persoons- en gemeentekonteks van toepassing gemaak kan word. Die probleme wat hy aansny, is absoluut aktueel vir gelowiges en gemeentes ook in ons sogenaamde post-moderne tyd. En die wonderlikste van alles is, dat die oplossing nog steeds dieselfde bly!)

 

Bibliografie

Barnes, Albert. The General Epistle of James (Savill, Edwards and Co., London); Pretorius, EAC 1988. Die Brief van Jakobus; Tasker, RVG 1974. James in Tyndale New Testament Commentaries; Grünzweig, Fritz 1973. Der Brief des Jakobus in Wupperthaler Studienbibel; Smelik, EL 1974. De Brief van Jakobus in De Prediking van het Nieuwe Testament; Barclay,William 1971. Letters of James and Peter in The Daily Study Bible; Smit, DJ. Woord teen die Lig III/2; Wuest, Kenneth 1945. Studies in the Vocabulary of the Greek New Testament; Brown Colin (Ed) 1976. Dictionary of New Testament Theology Vol 2; Smit, Dirkie 1994. Wat sien ons in die spieël?; Botha, JG 1989. Skuldbelydenis. . . . . . . .Jak 5:16 in Eenheid, Versoening en Geregtigheid.