21 September 2003

veertiende sondag in koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Fokusteks: Jakobus 3:13-4:8a

Ander tekste: Spreuke 31:10-31; Psalm 1; Markus 9 :30-37

Soos met die vorige Sondag se tekste gaan dit vandag ook oor Wysheid, trouens, die fokusteks vra in duidelik taal hoe n verstandige en wyse mens lyk. Die psalmlesing maak die onderskeiding tussen n regverdige en goddelose maar dit gaan juis oor die keuse wat n wyse mens uitoefen en hoe wysheid gesoek word. Spreuke 31 gaan nie oor die ideale vrou nie. Soos elders in die Spreuke bundel word Wysheid ook hier as n vrou voorgestel. Die Markus teks neem ons na die kern van die evangelie: die genade wat ons ontvang het maak van ons dienaars.

In Dirkie Smit se boek "Wat sien ons in die spieël" word vandag se fokusteks treffend in hoofstuk 5 behandel.

GOD vergader ONS voor hom

Aanvangswoord/votum

Geen mens sal kies om dwaas te wees nie. Maar hoekom is dit so moeilik om wysheid te bekom? Gaan dit oor menslike vermoëns, oor gawes en talente? Of gaan dit dalk oor die keuses wat ons maak?

Lees Psalm 1:1-3 as votum en sing dan lied 247 as Verootmoediging.

In aansluiting met die lees van Psalm 1 kan Psalm 119 gebruik word as loflied. Ander liedere is byvoorbeeld Lied 167, 192,207 (NSG 10) en 214.

Diens van die Woord

Die volgende gebede kan as epiklese dien:

"Genadige en heilige Vader, gee ons die wysheid om U te bedink,die ywer om U te soek, die geduld om vir U te wag, die oë om U raak te sien, die ingesteldheid om na U te vra en die lewe om U te verkondig. Deur die krag van die Gees van onse Here Jesus Christus. Amen ( Vrye vertaling van n gebed van die heilige Benediktus van Nursia in die "Hodder Book of Christian Prayers van Tony Castle" )

"O, Here God wat die ootmoediges lei, skenk aan ons in al ons twyfel en onsekerheid die genade om te vra na wat U wil hê ons moet doen. Skenk aan ons die wysheid om te onderskei tussen ware en vals keuses. Laat ons in u lig die lig sien sodat ons nie oppad struikel nie. Deur Jesus Christus onse Here, bid ons dit. Amen." ( Vrye vertaling van n gebed deur William Bright in die "Hodder Book of Christian Prayers van Tony Castle )

Die volgende gebed van Huub Oosterhuis vind ook aansluiting met die lesing uit die Markus Evangelie:

"Maak ons ontvanklik en oop

om u Koninkryk te ontvang soos kinders wat brood neem uit die hand van hulle vader.

Laat ons lewe in u vrede,

Tuis in u teenwoordigheid al die dae van ons lewe."

( Vry vertaal uit "Hodder Book of Christian Prayers")

Na die Skriflesing kan lied 526 gesing word. Dit sou al iets kon inhou van die prediking wat gaan volg.

Die volgende gebed uit die Oos Ortodokse kerk kan gebruik word as voorbiddingsgebed :

"O Here, dink aan u kinders wat vandag hier vergader is, en ook aan hulle wat vanweë ouderdom, siekte en gestremdheid afwesig is. Sorg vir die klein kindertjies, lei die jongmense en ondersteun die bejaardes, bemoedig die moedeloses, versamel die verstrooides en bring die weglopers weer tuis. Wees met hulle wat reis, beskerm die weduwees en weeskinders, bevry hulle wat vasgehou word, genees die siekes. Onderskraag almal in beproewing, nood en ontwrigting. Gee die goeie aan hulle wat vir ons lief is, en ook aan hulle wat ons haat. Dink aan hulle wat gevra het dat ons vir hulle sal bid en ook aan almal wat vergete geraak het.

U is die hulp van die hulpelose, die Redder van die verlorene, die Beskutter van die swerwer, die geneesheer van die sieke.

U ken elke mens se nood en behoefte en hoor almal se gebede, skenk aan ons u goedheid en u ewige liefde. In die naam van Jesus Christus ons Here bid ons dit. Amen

uitsending

Die volgende liedere vind aansluiting die fokusteks: 523( NSG 190), 530 (NSG 40), 532 (NSG 36)

PREEKSTUDIE JAKOBUS 3:13-4:3, 7-8

Teks en Konteks

Algemene Agtergrond

Die tekskeuse laat enkele vrae ontstaan. Moet 3:13-18; 4:1-3 en 4:7-8 as afsonderlike en in sekere sin losstaande temas behandel word, of eerder as onderdele van n oorkoepelende tema? Is daar n tematiese verband van 3:13-18 met 3:1-12? Waarom word in die tekskeuse 4:4-6 en 9-10 weggelaat? Antwoorde op hierdie vrae kan uiteenlopend wees.

Martin Debilius en sy medestanders sien in die Jakobus-brief tradisionele stof uit die Joodse wysheidsliteratuur, wat nie tot n bepaalde situasie en n aanwysbare teikengroep gerig is nie. Dit vertoon volgens hulle nie n innerlike samehang nie. Teen die agtergrond val die gekose teks in afsonderlike en losstaande teregwysings (paranese) uiteen, wat vir etiese preekdoeleindes geïdentifiseer en geëksegetiseer kan word. Die benadering word toenemend van die hand gewys.

Prof D J Smit, wat in Riglyne vir Prediking oor Vrede (Woord Teen Die Lig iii/1) ses preekstudies oor perikope uit Jakobus bydra, sluit hom by H. Frankemölle aan in die beskouing dat die brief "tog n geskrif (is), deur die skrywer aaneengevoeg en geformuleer, vir hoorders , en daarom met n bepaalde doelstelling". Smit gee in sy Inleiding tot die preekstudie oor Jakobus 2:1-13 n duidelike uiteensetting van hierdie standpunt. Die krisis in die gemeente(s) aan wie Jakobus skryf is dat hulle verdeel, verskeur en versplinter is. Dit gee aanleiding tot n veelvoud van probleme en dien terselfdertyd as geleenthede vir die geloof. "Die oorkoepelende opdrag van Jakobus, aan die enkelinge en die gemeente, is: Wees as Christene en as gemeente volkome en onverdeeld " en "Die dreigende vorme van tweespalt, van konflik, sowel in die gelowiges as in die gemeente, moet bestry word deur integrasie, moet plek maak vir heelheid, heil, vrede, volkomenheid." Vanuit hierdie perspektief is dit moontlik om die gekose teks as n eenheid te behandel met die tema, van verdeeldheid en twis tot eenheid en geregtigheid, as riglyn.

Dr E A C Pretorius spreek hom ook sterk uit ten gunste van n sentrale motief by die skrywer van die Jakobus-brief. In die inleiding tot sy kommentaar (1988) verklaar hy dat die brief in die vroeë (Joodse) fase van die kerk in n bepaalde situasie deurlopend die konsekwensies van die geloof in Christus probeer uitspel met behulp van die etiese "apparaat" (wysheidslitaratuur) tot sy beskikking, maar tog nie op n lukrake wyse nie. Hy oorweeg die sieninge van ander oor n deurlopende tema en wys die van Bird en King as ontoereikend van die hand. Meer aanneemlik vir hom is die van Hiebert wat as tema kies: "Die toetse vir n lewende geloof" en die brief daarvolgens in ses hoofdele indeel. Dan doen Pretorius aan die hand dat die skrywer self in die laaste twee verse van die brief die oorheersende saak waarom dit vir hom gaan blootlê, op soortgelyke wyse as wat die skrywer van Johannes dit in 20:31 doen: "My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat n menigte sondes vergewe word."

Volgens Pretorius blyk dit uit hierdie stelreël dat die motief van die skrywer nog dieper lê as net die aanduiding van n veelvormige geloofstoets: "In hierdie afsluitende samevatting spoor hy ander aan om, soos hy self in hierdie brief doen, die funksie van (wysheids)leraar uit te oefen teenoor die lede van die geloofsgemeenskap wat afdwaal. Die afwykings in lewensgedrag wat hy op verskillende maniere uitgewys het, dui volgens sy oortuiging op niks minder nie as die verlies van die "waarheid" en moet dus op sigself as die gevaartekens van verlorenheid beskou word. Met sy identifisering van die gevaarpunte beoog hy dus niks minder nie as die bekering en ommekeer van hulle wat só die pad van die waarheid vir die dwaalweg verlaat het." Die dryfveer agter die brief is dus ten diepste religieus (evangelies) en nie bloot eties (op die gedrag gerig) nie. Die perspektief is deur en deur hamartologies (sonde-ontblotend) en soteriologies (verlossingverkondigend) van aard. Pretorius identifiseer veertien gevaarpunte of krisisareas in die lewensomstandighede van die lesers wat agtereenvolgens deur die skrywer onder die loep geneem word. Telkens wys die skrywer op twee weë die verkeerde wat ontmasker word, teenoor die korrekte optrede. Die wysheid ontmasker gevaarpunte in die lewenspraktyk wat die verlossing in die gedrang bring.

Pretorius se skematiese indeling van die inhoud van die brief stem presies ooreen met die paragraafindelings van die NAV 1983. Ons tekskeuse strek oor twee van daardie indelings. Die eerste, 3:13-18, gaan oor die sewende gevaarpunt, te wete Die stryd om voorrang, en die tweede, 4:1-3,7-8, oor Die verleiding van die wêreld. Die teksgedeeltes wat in laasgenoemde indeling weggelaat is, speel n belangrike rol in die verstaan van die perikoop 4:1-3 by Pretorius, en dit skyn onvermydelik te wees om hulle by enige uitleg van die perikoop te betrek. Die moeilik vertaalbare vers 5 met die genadetoesegging van vers 6, vorm die logiese oorgang van die sonde-ontbloting in verse 1-4, na die skuldbelydenis en restitusie in verse 7-10. Ook die vermanende oproep van verse 7-8 is nie volledig sonder die inhoud van verse 9-10 nie. Hierdie oproep tot bekering maak Pretorius van toepassing op die hele brief, ook op albei die gevaarpunte deur die tekskeuse gedek.

Albert Barnes, bekende Amerikaanse Bybel-kommentator van die 19de eeu, bestry in die inleiding tot sy kommentaar op Jakobus die siening dat die skrywer van die brief dit op die oog het om die regverdigmakingsleer van Paulus (deur die geloof alleen) te weerlê. Die doel van Jakobus, volgens hom, is om aan te toon dat n gelowige nie getuienis het dat hy/sy geregverdig is of dat sy/haar geloof eg is nie, tensy sy/haar optrede gekenmerk word deur goeie werke en n heilige lewe. Dit is nie dat geloof nie noodsaaklik is tot regverdigmaking nie, en ook nie dat die verdienste van die Saligmaker nie die grond van die verlossing is nie, maar dat die lewe in gehoorsaamheid aan die Wet van die Here onontbeerlik is vir die egte godsdiensbeoefening. As Presbiteriaan kom sy weergawe van Jakobus se siening van geloof en goeie werke treffend ooreen met die derde deel van die Heidelbergse Kategismus waar die dankbaarheidslewe van die verloste gelowige direk gefokus is op die nakoming van die eise van die Wet van God.

Barnes volg in sy kommentaar die Bybelse hoofstukindelings van die brief en behandel hoofstuk 3 as een geheel met een tema, naamlik as n waarskuwing teen n begeerte wat daar by baie gelowiges bestaan het om openbare (en erkende) leermeesters (van wysheid) te wees. Sondige praktyke wat hieruit voortvloei is die misbruik van die tong of te wel die gesproke woord en die naywerige en selfsugtige gespog met waanwysheid wat tot wanorde en allerhande gemene dade lei. Om n egte en verstandige wysheidsleraar te wees, moet die persoon in nederigheid die wysheid van Bo ontvang wat tot vrede en geregtigheid lei. Hoofstuk 4 word ook as n geheel behandel met een tema. Dit fokus op die toepassing van die aardse wysheid met sy begeleidende verskynsels van naywer en selfsug op verskillende aspekte van die gelowiges en die gemeente se lewenspraktyke. Vir Barnes vorm hoofstukke 3 en 4 dus eintlik n logiese en strukturele eenheid wat alles om die wysheidstema draai. Uit sy oogpunt sou ons tekskeuse sonder twyfel die kern van hierdie lang perikoop kon uitmaak.

Dit is egter nie nodig om vir die daarstelling van preekriglyne vir die gekose teks n keuse tussen die bogenoemde drie sieninge te maak nie, aangesien hulle mekaar eintlik wedersyds verryk en aanvul. Daar kan nie met Smit verskil word nie oor die afleiding dat daar verdeeldheid, twis en bittere (na)ywer onder die lesers bestaan het (wat dwarsdeur die brief aan die lig kom) en dat die skrywer die toe-eiening van die Wysheid van Bo as redmiddel aantoon. Dat dit hier ook om sondebesef , bekering en restitusie gaan, soos Pretorius aandui is onmiskenbaar. Barnes is reg as hy die skrywer se aandrang op die werke van die geloof sien as die noodwendige konsekwensie en bewys van die regverdigmaking deur die geloof alleen en op grond van die verdienste van Christus alleen, soos veral deur Paulus uiteengesit. Geeneen van hierdie sieninge beïnvloed die teksindeling wesenlik nie. Al drie betrek egter 4:4-6, 9-10 (die gedeeltes uit die gekose teks weggelaat) by die tema en Barnes ook 3:1-12. In die behandeling van die tekskeuse sal ons dan ook met hierdie teksgedeeltes rekening hou. Die teksgedeelte 3:13-4:10, kan as n eenheid beskou word wat oor die hooftema "bittere (na)ywer" of jaloesie en selfsug handel en wat onderverdeel kan word in die ontbloting en veroordeling van die situasie (3:13-4:6) en die oproep tot bekering (4:7-10).

Eksegeties

3:13: Dit is byna seker dat hierdie vers direk verband hou met die waarskuwing in 3:1, om nie almal leermeesters te wil wees nie, "omdat juis leermeesters strenger beoordeel sal word as ander, terwyl hulle soos ander ook dikwels struikel, met die tong natuurlik, maar ook in hulle selfverheffing, hulle sogenaamde wysheid, geleerdheid en mag, wat die gemeente verskeur en verdeel, in plaas van verenig en heel. Oor dié valse, vervelende wysheid gaan dit hier, voordat Jakobus in 4:1 die konflikte in die gemeente nog meer direk aanspreek" (Smit). Elkeen wat homself hoog ag in wysheid en verstandigheid, word voor n eenvoudige toets gestel (soos in 2:18). "Ware, saligmakende wysheid gaan sonder uitsondering gepaard met goeie gedrag; dus n lewe waarop dit onmiskenbaar n stempel afdruk..sy dade (moet) die karakter dra van dié nederigheid wat n kenmerk van die ware wysheid is" (Pretorius). Sonder opregte beskeidenheid en n skoon en opregte lewe is die wysheid eerder verdag. Die skrywer gebruik hierdie aanspraak dat hulle wysheid het as uitgangspunt om die sondige naywer en selfsug te bestry.

3:14: Die euwel wat Jakobus beveg (en wat volgens Pretorius die werklike tema vorm van die betoog tot by 4:6), omdat dit stry met ware Christelike wysheid, is bittere naywer en selfsug. Die woord wat met "naywer" vertaal word, kan ook positief "ywer" beteken, maar omdat dit met "bitter" gekwalifiseer word en met selfsug verbind word, kan dit hier slegs sien op n brandende ywer vir eie belang en die eie persoon. Dit lei noodwendig tot partyskappe, groepvorming, onderlinge twiste en beswaddering. Vir Jakobus lê die probleem nie buite hulle, in die gemeente of omstandighede nie, maar "in julle harte"; "dus in hulle ambisie, hul sug na leierskap, hul dors na mag en invloed, hulle misplaaste ywer vir die waarheid" (Smit). Sulke yweraars moet nie met wysheid spog nie, want in werklikheid praat hulle nie die waarheid nie (letterlik: hulle "roem en lieg" teen die waarheid): "Ten eerste het só n roem geen grond nie en ten tweede is hulle optrede dan n leuen omdat dit nie met die wysheid versoenbaar is nie" (Pretorius).

3:15-16: Die wysheid van hierdie yweraars kom nie van Bo nie, want die karakter daarvan is "aards", "sinlik" en "duiwels", omdat die bypassende gedrag ontbreek. Dis n nagemaakte wysheid wat mense uit en vir hulleself te voorskyn bring. "Die vervalsing kom egter aan die lig uit die begeleidende verskynsels van naywer en selfsug, wat die ware karakter van hierdie soort wysheid verraai" (Pretorius). Dit kom nie van God nie en daarom is dit nie verlossend en vernuwend nie. Omdat dit mensgemaak en sinsbevredigend is, spruit dit voort uit die sondige aardse dampkring, wat deur die "owerste van hierdie wêreld" beheers word. n Gemeenskap kan nie meer as een van hierdie soort wyses akkommodeer nie. Daarom is daar n agteraf geknoei om voorrang en gebruikmaking van ongeoorloofde taktiek en word dit die voorspel tot wanorde en allerhande gemene dade. Naywer is sonder innerlike dissipline. Dit ontwrig die ordelike gang van sake en oorskry alle perke van redelikheid as dit nie sy sin kry nie en spoor aan tot oproerigheid en selfs fisieke geweld. Dit word n chaotiese situasie in teenstelling met die goeie orde van die Goddelike bestel.

3:17: Teenoor hierdie verdelende wanordeskeppende (dus duiwelse) wysheid, beskryf Jakobus die eienskappe (terselfdertyd vrugte) van die ware wysheid. Ten eerste kom dit van Bo (waar Christus aan die regterhand van God sit Kol 3:1), n gans ander bron as die sondige wêreld hier onder. Dit kan alleen n gawe van God wees (1:5), want weens sy sondige aard beskik die mens nie van nature daaroor nie. Hierdie wysheid het n hele aantal positiewe kwalifikasies waarvan die betekenis by Smit, Pretorius en ander kommentatore nagelees kan word. Dit is nie moeilik om in te sien hoe hierdie kwalifikasies inpas by Jakobus se bedoeling en betoog nie.

3:18: Smit moet gelyk gegee word dat die 1983 Afrikaanse weergawe van hierdie vers n ongelukkige keuse is. n Letterlike vertaling sou lui: "Vrug van geregtigheid in vrede is/word gesaai vir/deur diegene wat vrede maak". Die 1933 Afrikaanse vertaling gee dit só weer. Die Authorised Version vertaal: "the fruit of righteousness is sown in peace of them that make peace". Die hele gees wat die wysheid van Bo adem, is dié van vrede en geregtigheid. Jakobus sluit sy uitspraak oor die ware wysheid af "deur te wys op die gunstige gevolge (letterlik: die vrug wat geregtigheid is.) wat die soek en uitleef van vrede het. Dit is naamlik, onder die vele goeie vrugte van die hemelse wysheid (vers 17), by uitstek dié een wat die kontras aandui met die "vrugte" of resultaat van die valse wysheid, naamlik wanorde en gemene dade (vers 16)" (Pretorius). Geregtigheid en vrede word in die Ou Testament dikwels aan mekaar verbind (Vgl Ps 72:7; 85:11; Jes 32:17). In Spreuke 3:17 word daar ook n direkte verband gelê tussen wysheid en vrede: "al haar paaie is vrede". Pretorius gee die volgende interpreterende vertaling van die vers: "Vir diegene (datief van voordeel) wat steeds die pad van vrede kies, saai God in daardie vrede die (saad vir die) vrug van n lewe wat by God aanneemlik sal wees (die geregtigheid)". Sy kommentaar daarop is: "n Keuse vir vrede in plaas van naywer sal werklik n bewys wees van die gawe van wysheid (waarvoor elke mens kan bid vgl 1:5). In die gesindheid van vrede kan die God-welgevallige lewe ontplooi en dit lei tot die (eskatologiese) beloning deur die Here in die eindtyd, waarin ook die wysheid sy doel sal bereik."

4:1-3: Nadat Jakobus in 3:13-18 die haglike nagevolge van naywer en selfsug as die vrug van waanwysheid aangetoon het, vestig hy nou die aandag op afguns of jaloesie, wat die wanverhouding tot die wêreld en sy aanloklikhede aandui. Hebsug ten opsigte van die dinge van die wêreld het moontlik n nog feller katastrofiese gevolg vir intermenslike verhoudings as wat jaloesie en selfsug op die terrein van die wysheid het (Pretorius). Hiermee dring Jakobus deur tot die grondoorsaak van die konflikte in die gemeente (en die gemeenskap), deur, soos dwarsdeur die brief, gebruik te maak van die tradisionele wysheidsmateriaal. Die diepste oorsaak van hulle stryd en rusies is dat daar binne-in hulle n veldslag plaasvind waarin hulle die verloorders is. Hulle selfsugtige begeertes (letterlik: "plesiersugte") kry die oorhand oor hulle gewete, hulle geloofsoortuigings en beterwete (wysheid). Dit dryf hulle aan om op onwettige en oormatige wyse die lewe genotvol te maak, deur mag, rykdom of sinsgenot. Hulle stryd is dus nie n vrome stryd vir die waarheid nie maar n bedekte vorm van hulle sondige instelling, hulle gevalle en bedorwe natuur. Barnes betrek vers 5, wat hy uitlê volgens die vertaling van die Authorised Version ("The spirit that dwelleth in us, lusteth to envy") hierby en sê dat dit Jakobus se bedoeling was om aan te toon dat daar in die menslike natuur n inherente geneigdheid tot jaloersheid is, n sterk drang om met ongenoeë die meerdere geluk en voorspoed van ander te beskou, n begeerte om wat aan hulle behoort toe te eien en om hulle dit te ontneem deur lastering, bedrog of berowing. Die eerste slagoffer van hierdie gees is die vrede.

Jakobus wys daarop dat hulle begeertes nooit bevredig word nie omdat hulle nie bid nie; dit van God verwag nie. Maar erger nog, hulle span die gebed teen mekaar in as nog n strydinstrument om hulle selfsugtige begeertes te bevredig: "Hulle godsdiens is eintlik selfdiens. Hulle wil God inspan as kameraad in hulle stryd om te bekom wat ander het en hulle begeer" (Smit). Dit is vriendskap met die wêreld, wat neerkom op vyandskap teen God. God laat Hom nie só betrek nie.

4:7-8: Nou volg n direkte oproep tot bekering. Dit is gebaseer op die voorafgaande twee verse, wat sterk herinner aan Romeine 5:20(b): Hoe dwangmatig die vriendskap met die wêreld met sy sondige verhoudinge en werke (volgens die getuienis van die Skrif in sy geheel) vir die natuurlike hoogmoedige mens ook al is (vers 6), is die genade wat God gee nog groter vir diegene wat dit met nederigheid in ontvangs neem. Vers 7 roep die gebeure van Genesis 3 in herinnering, waar Adam en Eva God se gebod teë gestaan en hulle aan die duiwel onderwerp het. God het nie van hulle af weggevlug nie, maar met sy liefde en genade en heilsbelofte na hulle toe gekom. Nou moet op grond van daardie genade die omgekeerde gebeur: hulle moet hulle aan God onderwerp en die duiwel teë staan. Dan sal die aanstigter van die sondige selfsugtige begeertes van hulle af weg vlug, want hy kan nie die teenwoordigheid van God trotseer nie. Vers 8(a) waarborg dat as hulle tot God nader deur sy teenwoordigheid op te soek, Hy tot hulle sal nader met sy heil. Verse 8 (b) en 9 dui die weg tot God aan deur skuldbelydenis en hartgrondige berou. Vers 10 rond die oproep tot bekering af met die belofte dat as hulle hul in nederigheid aan God onderwerp, Hy hulle sal verhoog (vgl Fil 2:5-11).

Preekvoorstel

Weens die aard van die stof kan verskillende preektemas aangesny word. Die riglyne wat Smit gee in Woord teen die Lig III/1 Riglyne vir prediking oor Vrede, word sterk aanbeveel. Opsommend word hier drie moontlikhede aanbeveel.

Die rol wat die "wysheid van Bo" speel om vrede en geregtigheid in die gemeente te bewerk. Hierdie wysheid kan gekontrasteer word met die wysheid wat "aards, sinlik en duiwels" is met betrekking tot bron, eienskappe en uitwerking (vrugte). Daar kan aangeknoop word by die verhaal van die sondeval waar die "wysheid van God" in die proefgebod en die "duiwelse wysheid" in die eet van die verbode vrug werksaam was. Die lyn kan verder deurgetrek word deur die wysheid van God in die verlossingsplan en die duiwelse wysheid in die bloedige geskiedenis van die mensheid in oënskou te neem. 1 Korintiërs 1:18-31 is hiervoor n sleutel Skrifgedeelte. In ooreenstemming met Jakobus se siening word vrede en geregtigheid deur die wysheid van God teweeggebring. Dit geld ook in die situasies waar die "duiwelse wysheid" sy wrangste vrugte oplewer naamlik in selfsugtige begeertes, jaloesie, rusie maak, baklei, moord pleeg, gewelddadigheid en oorlog. Selfs dan breek die wysheid van God deur in die aanbod van genade en oproep tot bekering. Alles sentreer om Jesus Christus wat in sy Persoon die wysheid van God (vryspraak, heiliging en verlossing) geword het vir diegene wat met Hom verenig is. Deur die nederige aanvaarding van hierdie "Wysheid" word die gelowige en die gemeente verhoog. Die toepassing kan op die gemeente na die eis van omstandighede gemaak word.

Die rol wat konflik speel in huis, kerk en samelewing. Kyk aan die hand van die tekskeuse na die oorsake daarvan en die oplossing daarvoor. Die verskillende terreine waarop konflik voorkom en die verskillende vorms wat dit aanneem (dikwels met die fasades van vroomheid, waarheidshandhawing en ywer vir beginsels), ook in die gemeente tot wie die preek gerig word, kan aangetoon word. Daar moet egter deurgedring word tot die kernwaarheid, dat die diepste oorsaak van konflik die stryd binne in die gemoed van die mens is, weens sy sondige aard. Daar kan nooit aan die bose kringloop van psigiese en fisiese geweld ontsnap word as die mens nie gemoedsvrede verkry deur die wegneem van sy selfsugtige begeertes nie. Dit kan slegs deur die genade en wysheid van God wat hom langs die weg van n hartgrondige bekering en die instorting van n nuwe lewe deur die Gees van die bose drange verlos. So word hy n instrument van vrede en geregtigheid.

Daar kan oor die stof van hierdie tekskeuse gepreek word aan die hand van die Heidelbergse Kategismus, veral by die behandeling van vrae uit die eerste vier Sondagafdelings, insonderheid vrae 5-8. Dit is nog meer relevant by die behandeling van die vrae uit Sondagafdelings 40, 42-44 wat almal oor die nakoming van die Wet van God handel. Laastens kan die prediking handel oor die aard en inhoud van die ware gebed, aan die hand van Sondag 45-52 in teenstelling met die verkeerde (of "bose") gebruik daarvan, soos deur Jakobus aangetoon.

Bibliografie

Barnes, Albert. The General Epistle of James; Pretorius, EAC 1988. Die Brief van Jakobus; Grosheide, FW 1959. Christelijke Encyclopedie; Smit, DJ. Woord teen die Lig III/1; Smit, Dirkie 1994. Wat sien ons in die spieël?; Koen, Gerhard 1984. Wys my dan jou Geloof; Heidelbergse Kategismus (Kerkboek vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1983)