14 September 2003

Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Fokusteks: Jakobus 3:1-12

Ander tekste: Spreuke 1:2-33, Psalm 19, Markus 8:27-38

"Todays succession of readings moves from a consideration of Wisdom and her attainment as a central concern of the religious life( Proverbs), to the application of Wisdom to the practical issues of life( James), to the Wisdom of God, which sounds like foolishness to human beings-namely, that those who seek their lives shall lose them and those who lose their lives for the sake of Christ and the gospel will save them (Mark)" (Preaching the Revised Common Lectionary)

Aanvangswoord/votum

Met die koms van die Internet het bykans alle inligting to mense se beskikking geraak. Ons word eintlik deur inligting oorstroom. Ons weet meer en meer. Tog is inligting nie kennis nie, en kennis is ook nie wysheid nie. Hoeveel wysheid leef tussen ons, hoeveel wysheid leef in ons harte?

Lees Psalm 19:8-12

 

PREEKSTUDIE JAKOBUS 3:1-12

Teks

As oriëntering kan die inleidende opmerkinge aan die begin van hierdie reeks oor die Jakobusperikope sowel as Dirkie Smit se preekstudie oor dieselfde perikoop, in Woord teen die Lig III/1, nuttig wees.

Vers 1-2: Indien ons Robert Wall se driedeling van die brief na aanleiding van 1:19 in gedagte hou, dan het die voorafgaande gedeelte die klem laat val op "die gewillige oor". Ja, dit is wat n gemeenskap van wyse/verstandige mense is. Hulle wil graag luister. Volgens Jakobus is dit een van die uitstaande kenmerke van n Christen. Christene is mense wat kan luister, wat graag wil luister. Om te luister, beteken om die ander ernstig te neem en werklik te wil hoor wat sy/hy wil sê. In alle kommunikasie is dit n wins om eers behoorlik te luister voor jy self jou mening lug. Buitendien is dit is ook net goeie maniere!

Die tweede gedeelte van die brief, wat met hierdie perikoop begin, fokus volgens Wall op die deug "om nie te gou te praat nie". Dit staan voorop in Jakobus se ernstige waarskuwing: "Moenie baie leermeesters wees nie, my broers, want ons weet dat ons n groter/strenger oordeel (krima) sal ontvang." Leermeesters of leraars (didaskaloi) was en is een van die sleutel gawes van die verhoogde Christus aan sy kerk (Ef 4:11). Daarmee is geen probleem nie. Die probleem kom wanneer mense in die gemeente selfaangestelde leermeesters word; wanneer mense vol ywer navore kom en mekaar en ander wil leer (1Kor 14:18-26). Die waarskuwing gaan dus nie net oor diegene wat amptelik geroepe is tot die amp van leraar nie, maar ook oor die lerende taak van elke gelowige. Immers, die Hebreër skrywer verwyt juis die gelowiges dat hulle reeds in staat moes wees om mekaar te onderrig, maar geestelik nog so onvolwasse soos babatjies is (Heb 5:12).

Wie egter n ander wil onderrig, moet rekening hou met die verantwoordelikheid wat dit meebring. Elkeen wat toetree tot die lerende bediening in die geloofsgemeenskap, moet weet dat hulle en hulle woorde streng beoordeel (krima) sal word. Die vertaling van die Amplified New Testament bring dit treffend uit: "Not many of you should become teachers (self-constituted censors and reprovers of others) my brothers, for you know that we (teachers) will be judged by a higher standard and with greater severity". Hiervolgens is dit duidelik dat dit vir Jakobus om meer gaan as n waarskuwing aan evangeliese yweraars. Daar is ook diegene wat vanuit n beterweterige houding as "selfaangestelde sedesensors"(Calvyn) wil optree.

Wat die motiewe ookal mag wees, moet almal betrokke by die geloofsgesprek in die gemeente besef dat dit n uitermate groot verantwoordelikheid is. Die rede vir Jakobus se huiwering en voorbehoud, is die feit dat "ons" so maklik "struikel en val en aanstoot gee"(Amplified) met ons woorde. Hy wys verder daarop dat as iemand nie met woorde struikel of aanstoot gee nie nie die verkeerde ding sê nie dan is so iemand n volmaakte persoon, "by magte om ook die hele liggaam in toom te hou"(vers 2). Helaas ontbreek hierdie beheer oor wat mense praat ook in die gemeente! Dit verklaar die sterk beklemtoonde plasing van die negatief "" in die openingswoorde van die gedeelte (vers 1). Jakobus sien in so n houding n groot gevaar vir die gemeente en waarsku baie duidelik daarteen.

Die apostel se waardeoordeel word egter nie gemaak vanuit n posisie van meerderwaardigheid nie. Hy sien homself as solidêr met diegene wat hier tereggewys word. Daarom noem hy hulle "my broers" en praat hy ook nie van "julle"of "hulle" nie, maar van "ons"(verse 1, 2). Die verootmoedigende erkenning wat hiermee saamgaan, is dat niemand n volmaakte mens (teleios anêr) is nie en dat as gevolg van dié onvermoë, die hele liggaam (holon to soma) soos n perd sonder toom op loop sit. Hierdie ironiese teenstrydigheid word in sy volle skerpte saamgevat in Paulus se vraag aan die Jode: Jy wat n ander leer, leer jy jouself nie! (Rom 2:17-21)

Vers 3-5a: Ten einde die beheer oor die gebruik van woorde te verduidelik, vra Jakobus aandag vir twee beelde wat eintlik selfverduidelikend is. As n mens n perd wil beheer, moet jy n stang in sy bek sit. Dit gee aan die een wat die toom in die hand het volle beheer oor die hele liggaam van die perd. Netso gee die klein roertjie aan die stuurman beheer oor n skip wat deur sterk winde aangedryf word. Sowel die gespierde perd as die logge struktuur van n skip kom so onder beheer van die een wat dit stuur, ondanks die feit van die ongelyke grootte. So is dit ook met die tong. Al is dit n klein liggaamsdeeltjie oefen dit groot mag uit. Eintlik is die beeldspraak hier nie heeltemal gelyk nie. Die tong stuur nie fisies die menslike liggaam soos wat die stang met die perd en die roer met die skip doen nie. Verskeie verklaarders is gevolglik van mening dat "liggaam" (soma) dus hier nie op die fisiese menslike liggaam dui nie, maar wel op die geloofsgemeenskap. Die punt van vergelyking is dan die vermoë van die mikro deeltjie om die makro eenheid te beïnvloed en beheer oor die koers/rigting daarvan uit te oefen. Hiermee is sowel die positiewe as negatiewe invloed en vermoë van die tong, dus die woord/taal, aangedui. Dit kan sowel opbou as afbreek. Die volgende beeldspraak wil veral laasgenoemde verder toelig.

Vers 5b-8: Die beeld wat hier gebruik word is dié van n klein vuurtjie wat n groot bos aan die brand kan steek. Almal is bekend met die angswekkende vernietigingskrag van bos- en veldbrande. Geen mens kan dit keer nie! Die tong is ook so n vuur wat ontsaglike skade kan doen met die woorde wat gepraat word. Dit kan n mens se totale lewe van geboorte tot dood verwoes. Die beeldspraak van die tong/woorde as vernietigende vuur, kom veelvuldig in die Bybel voor (vgl Ps 10:7; 39:1-3; 83:14-16; 120:2-4; Spr 16:27; 26:21; Jes 30:27).

Die uitleg van vers 6 stuit voor verskeie probleme, veral wat die afsonderlike betekenis van die verskillende samestellende dele betref. Pogings om die oorspronklike teks te "korrigeer", het die probleem eerder vergroot. Die verband tussen die verskillende dele van die sin, kan die beste verstaan word as dit as n retoriese stylfiguur geneem word, waarvolgens verskillende kwalifiseringe van die tong opgestapel word. Letterlik vertaal, lees die sin: Die tong is n vuur, n wêreld van ongeregtigheid; so is die tong geplaas tussen die ander lede, dit besmet (beklad) die hele liggaam, en steek die hele lewensloop aan die brand, en is aangesteek deur/uit die hel (Gehenna, Matt 5:22/3; 10:28 van Hebreeus "Hinnom" dal van vernietiging). Jakobus het tot dusver n sterk negatiewe beeld van die tong/woord se invloed geteken. In die betrokke vers het hy n indrukwekkende samevatting daarvan gegee.

Die onbegryplike is nou dat die mens instaat was en is om "elke soort dier" te tem, onder beheer te kry, maar net die tong kon geen mens nog tem nie! Die tong bly onbeheerbaar. Die mens kan die gevaarlikste en sterkste dier inhok, maar die tong kry niemand ingehok nie. Die tong bly n rustelose kwaad, vol dodelike gif. n Kenmerk van die mens wat onder die heerskappy van die sonde is, is dat sy tong n vernietigende kwaad/gif in alle lewensverbande indra (Rom 3:13,14). Volgens Job 5:15 is die tong soos n swaard en Psalm 140:4 waarsku: "Hulle tonge is so giftig soos slange, hulle woorde so venynig soos adders."

Vers 9-12: Dit gaan vir Jakobus egter om meer as net die ontembaarheid van die tong. Die feit is dat die tong in die gemeente n onhoudbare tweeslagtigheid indra. Dieselfde tong weet om God te prys (eulogoumen) en terselfdertyd die mens wat na die beeld van God gemaak is, te vloek (katarometha). Uit dieselfde mond kom seën en vloek. Eulogoumen beteken om mooi woorde van iemand te sê, iemand met woorde, as eerbewys, op te lig. Daarteenoor beteken katarometha om sleg te praat van iemand, iemand te beledig en te verkleineer. So n teenstrydigheid is immers in die Christelike gemeente onaanvaarbaar. Dit is egter ook méér as net onaanvaarbaar. Dit is so onmoontlik en ondenkbaar soos n fontein wat tegelyk vars en brak water laat opborrel. Net so min as wat n vyeboom olywe kan dra of n druiwestok vye, net so min kan n brakfontein vars water gee! Die feit dat die mens egter met dieselfde mond woorde wat God prys en sy naaste vloek uitspreek, wys na n dieperliggende probleem, n innerlike gespletenheid. Daarmee is een van die diepste teenstrydighede in die lewe van Christene oopgeruk! Deur hulle onnadenkende optredes ontkoppel hulle die gebod om die naaste lief te hê, van die gebod om God lief te hê en slaan hulle die basis weg waarop die Christelike gemeenskap rus. Om dan teen dié agtergrond leermeester te wil wees vir ander mense, grens aan growwe selfmisleiding en arrogansie. Wie egter hierdie wortelprobleem besef en biddend daaraan werk, sal vanselfsprekend "stadig (nie oorgretig!) wees om te praat". En dit is wys!

Konteks

Jakobus stel met hierdie perikoop (afgeronde gedeelte uit die Bybel) n lewensbelangrike saak vir menslike saambestaan, maar veral vir die gesonde ontwikkeling van Christelike geloofsgemeenskap aan die orde. Dit gaan naamlik oor die gebruik van woorde/taal as kommunikasiemiddel en die uitwerking wat dit het. Die apostel wil daarmee die verantwoordelike gebruik van woorde(die tong), veral binne die Christelike geloofs-gemeenskap, beklemtoon. Woorde het verreikende uitwerking en gelowiges moet deurlopend daarmee rekening hou!

Preekstudies wat geraadpleeg kon word, lê almal klem op die effek van woorde en op die belangrikheid om woorde deeglik te oorweeg. Enkele voorbeelde kan dit demonstreer. Friederich Wintzer vestig die aandag op: (i) Die selfveroordeling in die menslike redevoering (lofprysing én vervloeking); (ii) Menslike spreke as etiese probleem. Daar kort indringende etiese norme vir ons gebruik van woorde.

Helmut Gehrke rig sy preek op n arbeider gemeenskap aan die rand van n groot stad en beklemtoon: (i) Woorde het mag/krag wanneer dit die draer van liefde en haat is. Voorbeeld: Die kommunistiese manifes: Arbeiders van die wêreld het niks te verloor behalwe hulle kettings nie. Arbeiders van alle lande, verenig!; (ii) Daar is woorde wat vergiftig, almal gebruik dit. Voorbeeld: ironie, laster, skinder, klets, ens.; (iii) Ook ons as Christene haat. Voorbeeld: Skaduprojeksies, verdringde haat; (iv) Belydenis van eie haat maak regverdiging, verheerliking van God en omkering van haat in liefde, moontlik.

E L Smelik neem as tema: die taal, n wêreld van ongeregtigheid of seën. Die preek fokus dan agtereenvolgens op die misbruik van taal en die seënryke mag van die taal en die tong.

Dirkie Smit volg in hoofsaak die gang van die perikoop en wys op Jakobus se oproep dat ons: (i) stadig moet wees om te praat omdat ons ons tonge nie kan beheer nie; (ii) Die probleem is meer as n onskuldige tongglip ons woorde is magtiger as onsself; (iii) Nog erger, die magswerking van die tong/woorde is dikwels ten kwade dit vergiftig en vervloek; (iv) Ons woorde maak dit op allerlei maniere vir ander tot n hel; (v) Die verskriklike is dat dit Christene is wat so maak skokkende tweeslagtigheid.

Harold T Bryson se studie oor die hoofstuk, bied ook nuttige riglyne vir die prediking en kan dus ook oorweeg word. Hy gee as tema vir die perikoop: "A Course in Speech." Dit behandel hy onder die volgende afdelings: (i) The tongue is powerful: The tongue has power to educate; The tongue has power to direct; The tongue has power to communicate; (ii) The tongue can be destructive: The tongue may be compared to a forest fire and to poison; The tongue may be a means to adorn evil; The tongue may pollute the entire being of a person; (iii) The tongue must be controlled: Complete control of the tongue is impossible; Control of the tongue is necessary because of dual possibilities; Control of the tongue comes as a result of a changed character.

Preekvoorstel

Ten einde die volle dinamiek van die gedeelte tot sy reg te laat kom, is dit verkieslik om sover moontlik die gang van die perikoop te volg. Dit kan dus waarde hê om die preek aan die hand van die perikoop te ontwikkel. Die volgende lyn sou gevolg kon word:

Jakobus spreek met hierdie perikoop n wesenlike probleem in die nuutgevormde Christelike geloofsgemeenskap aan. Klein groepies Christene bevind hulle wydverspreid in die vreemde. Hulle is afgesny van die gereelde byeenkomste waar die apostels hulle in die Christelike geloof kon onderrig. Nou moet hulle terugval op wat elkeen kan onthou. In hulle samekomste speel die tipiese situasie af wat Paulus in 1Korintiërs 14:26 beskryf. Elkeen het n bydrae om te lewer. Sommige sien selfs hierin n goeie geleentheid om die posisie van geestelike leermeester van die gemeenskappie in te neem. Die probleem strek egter ook wyer. Gelowiges is gou om mekaar te wil leer. Jakobus bespeur in al hierdie pogings n oorywerigheid wat nie rekening hou met die glibberige terrein van die tong/woord nie. Daarom waarsku hy die gelowiges teen die neiging om "almal leermeesters" te wil wees. In die eerste plek moet elkeen wat n ander wil leer, weet dat leermeesters n baie strenger toets moet deurgaan (sien eksegese v 1). Tweedens moet elkeen weet dat n mens hier maklik "struikel en val en aanstoot gee" (eksegese v 2). n Mens sou tereg na die plek waar die "leermeester" staan, kon wys as die gladste plek op aarde! En dit het alles te doen met die aard/vermoë van woorde!

Geen balanseer toertjie sal hier uithelp nie! Daar is niemand wat nie met woorde struikel nie! As iemand nie struikel nie, is sy/hy 'n volmaakte mens! Die hele lewe is immers vol pynlike bewyse van hoe ons struikel, val en aanstoot gee met woorde. Seker van die mees verootmoedigende tekens hiervan vir die huidige Christelike gemeenskap, is die groeiende getal kerklike denominasies in die wêreld. Die amptelike syfer, ten spyte van alle ekumeniese pogings tot kerkvereniging, staan tans op 33 000. Sou dit die vrug wees van beterweterige leermeesters? Was en is hulle dan nie almal vertolkers van dieselfde evangelie van Jesus Christus nie?

Ons struikel op massiewe skaal met woorde. Ons struikel egter nie net nie. Ons is ook gewetenloos en doelbewus wreed met ons woorde. Ons weet goed dat dit ongeneesbaar kan verwond, selfs kan doodmaak. Daarvan getuig n wêreld wat besaai lê met liggame wat van hulle lewe beroof is. Daarvan getuig die groeiende getal gebroke mense en menslike verhoudings, vyandskap wat oor geslagte heen aangeblaas word, verdeeldheid en polarisasie, geweldsdade en massale uitwissing van weerloses, karaktermoord deur swartsmeerdery, skinderveldtogte, verdagmakery, valse voorstellings, wanpersepsies. Wat n wêreld is ons nie besig om met ons woorde te skep nie! Kennelik misgis ons ons liederlik met die oënskynlike onbeduidende formaat van die tong en die nietigheid van n enkele woord. Een woord is reeds n wêreldmag! n Enkele woord kan die verloop van wêreldgebeure verander. Net een woord kan soos n vonkie in n kruitvat wees wat alles uitmekaar skiet! n Klein vlammetjie steek n hele bos, ja n hele lewe, aan die brand. Ons tong, ons woorde, is n rustelose kwaad, vol dodelike gif. Die ironie is dat terwyl mense alle soorte diere aan hulle mag kan onderwerp, kry hulle dit nie reg met die tong nie. Saam met Jakobus moet ons erken: Geen mens kon nog daarin slaag om die tong finaal te tem nie! Ons woorde is magtiger as onsself.

Die diepste verleentheid en krisis vir die Christelike gemeenskap is die feit dat dieselfde tong wat God verheerlik en prys ook die mens wat na die beeld van God gemaak is, vloek (Vgl eksegese). Dieselfde tong aanbid en vloek, prys en verpletter! Is dit moontlik? Is dit denkbaar? Ons wil sê, nee! Nêrens in die natuur gebeur dit dat n fontein tegelyk vars en brak water laat uitborrel nie. Nêrens in die natuur ruil plante vrugte om nie. Plante dra vrugte volgens hulle soort. Maar wat gaan dan aan met die mens dat sy woorde hierdie onnatuurlike tweeslagtigheid vertoon?

Jakobus gee nie hier daarop n antwoord nie behalwe om te sê: "My broers, so moet dit nie wees nie." Julle kan nie met dieselfde mond seën en vloek nie. Julle kan nie met dieselfde hart liefhê en haat nie. Hierdie teenstrydigheid slaan die basis waarop die bestaan van die Christelike geloofsgemeenskap rus, weg. Om te bely dat ons God liefhet, beteken tegelyk dat ons ook ons medemens moet liefhê. Dit verhef die naaste tot iemand van wie ek graag wil en kan leer. Dit keer die strewe om leermeester te wil wees volledig om! Die gelowige word n gretige leerder, begerig om te luister en dus stadig om te praat. Daarom is dit begryplik en noodsaaklik dat Jakobus ook vir ons sê: Moenie baie leermeesters wees nie, geliefdes, want ons struikel almal dikwels en aanhoudend! Dink dus na voor jy praat! Net n dwaas doen dit nie.

Bibliografie

Harold T Bryson 1985. How Faith works. Studies in the Letter of James; F W Grosheide 1950. Jakobus; F W Grosheide 1955. Hebreeën en Jakobus; L Goppelt 1978. Der Jakobusbrief eine paränetische Theologie der Empirie in Theologie des Neuen Testaments; Ralph P Martin 1988. James Word Biblical Commentary; F Mussner 1975. Der Jakobusbrief. HTKzNT; P Prins/HA Wiersinga. Om het Goud des Geloofs. Over den Brief van Jakobus; Alexander Ross 1954. A Commentary on the Epistles of James and John. NICC; E L Smelik 1960. De Stiefapostel. De Brief van Jakobus. Prediking van het NT; E L Smelik 1956. Gevraagde Postille; D J Smit 1990. Jakobus 3:1-12 in WtL III/1; Robert W Wall 1997. Community of the Wise. The letter of James; F Wintzer/Helmut Gehrke 1970. Vergiftete Sprache Predigtstudien 19769/70, IV/2.