7 SEPTEMBER 2003

twaalfde sondag in koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Fokusteks: Jakobus 2:1-13

Ander tekste: Spreuke 22:1-9, Psalm 125, Markus 7:24-37

Inleidend

Daar is n gemeenskaplike lyn in minstens drie van die tekste. Die fokusteks roep gelowiges op om nie onderskeid te tref tussen mense op grond van uiterlike maatstawwe nie. Die Spreuke teks bevestig in vers 2 dat God ten minste nie onderskeid tref tussen ryk en arm nie, met die implikasie dat daar by God geen aanneming van die persoon is nie. In die evangelielesing lyk dit asof Jesus net-net nie onderskeid maak tussen mense nie maar dat daar dalk eerstes onder gelykes kan wees.

Die liturgie en teks wys uiteindelik dat wie ons is, nie saak maak nie. Al wat tel is wie ons in Jesus Christus is.

Aanvangswoord/votum

Daar word gesê dat geen mens se vingerafdruk dieselfde is nie. Uiteindelik sou ons kon sê dat elke mens op aarde n unieke identiteit het. Almal is anders en niemand is dieselfde nie. Mense reageer snaaks op andersheid, ons het n beperkte vermoë om dit te aanvaar en te akkommodeer. Ons samelewings patrone wys dit, selfs vandag hier in die kerk is ons andersheid van mekaar maar redelik beperk.

Hoe kan ons weet dat dit regtig nie vir God saak maak nie? Wat maak dan tog vir God saak?

Gebruik die volgende aanhaling van Totius:" Die grond van ons hoop op die ewige lewe is en bly altyd: Christus en sy verdienstes. Niks anders kan ons red nie. Selfs ons geloof in Hom kan nooit die grond van ons hoop wees nie. Dis net die middel wat God ons in genade gee om die seëninge deur Christus verwerf, vir ons toe te eien. Op die vraag: waarom is u seker dat die veroordeling vir u nie meer bestaan nie? is die antwoord nie: Omdat ek glo nie, maar: Omdat Christus gesterf het. "

Lees Psalm 125:1 en 2 met die volgende kommentaar: Soos die berge rondom Jerusalem die stad beskerm, so kom omhels die Here vir ons as sy volk, sy kinders in hierdie erediens.

Verootmoediging

Die goeie nuus van ons fokusvers is dat ons nie onderskeid mag maak tussen mense nie omdat God in sy liefde en genade nie onderskeid maak tussen ons sondaar mense wanneer Hy ons as sy kinders aanneem nie. Ten einde God se genade te beklemtoon, sou dit dus ook vandag goed wees om onsself voor die Here te verootmoedig juis omdat ons soms aan hierdie genade twyfel .

Miskien kan die volgende gebed gebruik word:

Hulle sê vir my: Jy is God se kind

Maar ek weet ek is verlate

En ek praat net met myself.

Alleen met my wanhoop

Ek vra duisend maal: Waarom-

En verwag geen antwoord nie.

Die antwoorde wat vir ander geld,

Hou nie vir my steek nie.

Ek weet nie wie U is nie,

God, maar ek wil met U praat.

Ek wil U hoor.

Ek wil myself agterlaat

En U soek.

Here,help my.

Red my uit my stomheid.

Bevry my uit my eensaamheid,

As ek u kind is,

As U my bedoel,

As ek vir U iets beteken.

Ek weet nie waarheen u wil

Met my op pad is nie

Maar ek gaan akkoord.

Ek wil my wil in u wil laat opgaan,

Dan het ek U mos nie verloor nie,

As ek wil soos U wil,

Is u hand by my

Hier binne-in my hel

Miskien is dit u wil

Dat ek in die vrees moet woon,

Ver van U.

Dan is dit goed so.

Dan is dit ook wat ek wil,

Maar dan is ek naby U.

Dan is ek binne-in my hel

Na aan u ontferming

Amen

( Aangehaal uit "Pad na die gebed" deur Jorg Zink bl. 164)

Sang

Lied 514 :1 en 2 (NSG kan " Wat n vriend het ons in Jesus" gebruik)

Gepaste aanbiddings- en lofliedere kan die volgende wees: Psalm 48:1 en 4. Psalm 125:1 en 2. Liedere 212,219:1 en 2, 449. ( NSG 31, NSG 1 )

Lied 280 kan gebruik word as slotsang.

 

PREEKSTUDIE JAKOBUS 2:1-10 en 14-17

Teks

Die Skriflesing wat die RCL gee, is 2:1-10, (11-13), 14-17. Dit word algemeen aanvaar dat Jakobus 2 uit twee perikope bestaan, naamlik verse 1-13 en verse 14-26. Vir die prediking sal verse 1-13 n logiese keuse wees. Dis jammer dat verse 14 en volgende "weg val", veral in die lig daarvan dat dit nie andersins deur die RCL aan die orde gestel word nie. Soos by die vorige Sondag opgemerk, kan dit wel as lesing van die Wet gebruik word.

Die NAV het vers 1 se sin "omgedraai" en daarom gaan die manier waarop Jakobus met die deur in die huis val verlore. Grosheide (Korte verklaring) vertaal vers 1: "Mijn broeders, weest niet met aanneming des persoons gelovig in onze Here Jezus Christus, Die in heerlijkheid is."

Vir die vertaling van "heerlikheid" (v 1) is dit nie sonder meer duidelik waarmee dit in verband staan nie. Die Nuwe Vertaling se "ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort," volg die algemene opinie. Jakobus gebruik net een keer die woord "heerlikheid" wat dit moeilik maak om presies te weet wat hy daarmee bedoel. Kotzé meen daar kon vroeg al n tradisie bestaan het wat "heerlikheid" gebruik het as kwalifikasie van Christus as verhoogde Heer.

Wanneer n mens egter die brief in sy geheel lees, val dit op dat Jakobus nie sy lesers aanmoedig om na "verhewe" dinge te streef nie. Inteendeel, Jakobus beklemtoon in 4:6-10 dat gelowiges hulle voor God moet verneder. (vgl 1:10, 2:5 en 3:17). "Heerlikheid" moet dus (ook hier) nie losgemaak word van Christus se vernedering en kruisiging nie. Die "heerlikheid" van die man met die "pragtige kleed aan" (vers 2 Ou Vertaling) is dus heeltemal anders as die "heerlikheid" van Christus waaraan Jakobus sy lesers herinner. Jakobus wil juis nie dat gelowiges deur die "heerlikheid" van aardse rykdom beïndruk word nie.

"Volgens die uiterlike beoordeel," sluit duidelik by die Ou Testament aan. Dis bekend hoe Samuel deur Dawid se broers beïndruk is (1 Sam 16:7; vgl Lev 19:15 en Ps 82). Die Bybel is daarvan vol dat God geen aannemer van die persoon is nie.

Dis nie duidelik of die ryke en arme wat in die "samekoms" (vers 2) inkom, besoekers van buite is en of hulle mede-gelowiges is nie. Die beginsel bly dieselfde, maar indien Jakobus van besoekers praat, gaan dit vir hom juis om n "na-buite-gerigte situasie. Dan word die liefdesgebod konsekwent na alle verhoudinge deurgetrek. Die goue ring is n teken van welvaart of selfs van gesag. Kotzé waarsku daarteen dat te veel van die detail van verse 2 en 3 gemaak word. Die voorbeeld of gebeurtenis staan in diens van die skrywer se argument oor oordeel op uiterlike gronde.

Die tweede helfte van vers 4 klink baie skerper in die NIV: "become judges with evil thoughts". Kotzé vertaal ook met: "Julle het regters met bose motiewe geword." Met ander woorde: deur julle diskriminerende optrede het julle self verander en slegte regters geword.

Verse 5-7 vorm 3 retoriese vrae: "Kies God nie ..?; Is dit nie die rykes ..?; Is dit nie hulle ..?" Jakobus grond sy argument (vers 5) in die optrede van God (vgl Luk 6:20: "Geseënd is julle wat arm is, want aan julle behoort die koninkryk van God"). Hulle wat in die oë van mense min werd is, is voor God volledig menswaardig. Die gemeente se optrede in vers 3 is dan presies die teenoorgestelde van God se omgaan met mense. Wat wel gebeur, is dat hulle in hulle samekoms op dieselfde wyse optree as wat mense dit in die (onchristelike) gemeenskap doen.

Die woord "met minagting behandel" (OAV = oneer aangedoen) wat Jakobus in vers 6 gebruik, vertaal Louw en Nida met "to treat someone in a shameful and dishonorable manner .. to mistreat" (vgl Mark 12:4, OAV; Hand 5:41 en Rom 1:24).

Vers 6b praat nie noodwendig van geloofsvervolging nie. Jakobus verwys heel moontlik na praktyke waardeur armes deur rykes onderdruk en uitgebuit word. Dis natuurlik ook so dat daar in die Nuwe-Testamentiese tyd n nou band tussen gelowige en armes was (vgl D J Smit).

Die "wet van die koninkryk" van vers 8, kan na Levitikus 19:18 verwys, maar is net so waarskynlik n verwysing na Jesus se opsomming van die wet. In vers 12 noem Jakobus die wet weer "die wet wat vry maak" (soos in 1:25). Dié twee uitdrukkings staan aan die begin en einde van Jakobus se argument rondom die wet (v 8-12).

Jakobus se hantering van die wet staan teenoor die Joodse opvatting dat jy die Tora onderhou deur een gebod te onderhou, en sluit by Jesus aan wat leer dat jy deur die oortreding van een gebod skuldig staan teenoor die Gewer van die hele wet. Die twee gebooie wat Jakobus (v11) gebruik, is nie willekeurig gekies nie. Kotzé meen (met verwysing na Rom 13:9) dat daar n tradisie in omloop was wat hierdie volgorde gebruik het. Dit val op dat Jakobus nêrens in die brief die gemeente oor hulle seksuele gedrag vermaan nie, maar dat hy wel deurlopend oor konflik in die gemeente skryf. Die twee gebooie word saam aangehaal, maar die klem val op die sesde gebod. Ten diepste gaan dit in skeefgeloopte verhoudinge om hierdie gebod. Om iemand "uiterlik te beoordeel" mag vir baie na n geringe saak lyk, maar vir Jakobus is dit sonde, die oortreding van die wet, want dit openbaar die gesindheid waarteen God in die sesde gebod waarsku.

Die eerste gedeelte van vers 13 stem grootliks met Matteus 5:7 ooreen: "Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word"; en die tweede met Matteus 7:2: "met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word" (Vgl ook Mat 6:14-15; 18:21-35). Smit se kommentaar oor verse 12 en 13 is helder: "Die oordeel van God hang ten nouste saam met ons beoordeling van mense. Partydigheid aan ons kant, met sy keersy van onbarmhartigheid oor wie uitgesluit word, lei tot onbarmhartigheid by die onpartydige God. Onpartydigheid aan ons kant, wat beteken: barmhartigheid oor hulle wat van nature nie aangesien word nie, triomfeer in die oordeel van God. Kort gestel: Wie mense aansien, word deur God nie aangesien nie."

Om saam te vat: Kotzé se opsomming van die perikoop bring die essensie goed uit: "Geloof in Christus laat nie ruimte vir beoordeling volgens die uiterlike nie, maar nou diskrimineer julle tussen arm en ryk op grond van die uiterlike. Terwyl God juis vir die arme kies, verag julle hom, terwyl die ryke die armes, en dit is julle, verdruk. Julle is dus oortreders van die liefdeswet wat sulke diskriminasie uitsluit." Terugskouend is dit duidelik dat vers 1 n duidelike opskrif vir die perikoop gee: Moenie mense volgens hulle uiterlike beoordeel nie!

Konteks

Twee ander Skriflesings wat deur die RCL vir hierdie Sondag gegee word, bied interessante vergelykings. In Spreuke 22 staan die volgende: "'n Goeie naam is meer werd as groot rykdom, die goeie gesindheid van ander meer as silwer en goud. Voor die Here is ryk en arm gelyk; Hy het hulle almal gemaak" (v 1-2). "Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen" (v 7). "Wie arm mense uitbuit, verryk homself; wie aan ryk mense geskenke gee, word self arm" (v 16). "Moenie 'n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie; moenie die hulpelose vertrap in die regspraak nie" (v 22). Markus 7:24-27 is die verhaal van Jesus se skynbare onwilligheid om die Griekse vrou uit Siro-Fenisië te help.

 

Enkele aanhalings

"Baie Christene besef nie hoe ontstellend die demoon van geldelike vermoë in beide die maatskaplike lewe en in die kerk bewonder, vereer en gedien word nie. Dat mense beoordeel en geklassifiseer word volgens hul inkomste. Indien die begrip "arm" uitgebrei word tot diegene wat as gevolg van nasionaliteit of ras benadeel is, word die reikwydte van Jakobus se beskuldiging meteens veel groter: die prosesse in lande waar rassediskriminasie heers, waar die teenstelling tussen blank en gekleurd oorheersend is, staan in hul verskrikking voor ons op. En dit lyk soms asof selfs die boodskap van Christus nie oor hierdie versperrings kan kom nie. Kerkgemeenskappe word daardeur verskeur. Die buitestaander vra verbaas hoe dié dinge kan saamgaan; hierdie naam en sodanige situasies. Moet hierdie naam dan dien om twyfelagtige praktyke te bedek? Of sal die duistere dade die eer van die naam verduister?" (Vertaal, E. L. Smelik, vollediger aangehaal in Smit).

"Tog is dit algemeen in ons tyd, en is een ding byna vanselfsprekend: wanneer mense partydig is op grond van iemand se aangesig of aansien, dan gebeur dit soos in die Ou Testament byna altyd ten gunste van die magtiges, die rykes, die invloedrykes. In die meeste samelewings word eenvoudig op duisende maniere voorgeskryf dat n mens die aansienlikes méér (my regstelling) sal eer as ander. Dit word so gemaklik aanvaar dat almal dit later maar doen, byna sonder om dit self mooi te besef. Selfs in die regspraak en die godsdiens. Almal doen dit ... behalwe God" (Smit).

"Natuurlik moet ons in elke nuwe tyd en samelewing, en elke nuwe kultuur en konteks, na ander prente kyk, ander verhale hoor, ander spieëls aan die gemeenskap voorhou. Sê nou maar net daar kom swart mense in julle samekoms in ... Of: Sê nou maar net vroue word tot die ampte toegelaat ... Of: Sê nou maar net dié of dié word verkies ... Of wat ook al" (Smit).

Uit Kotzé se beskrywing van die "boodskap" van die perikoop, enkele sinne: "Indien n mens sou vra hoekom die voorbeeld wat Jakobus skilder n mens vandag nog met soveel varsheid aanspreek, moet die antwoord waarskynlik wees: omdat dit so tipies is. .. Jakobus wil sê dat enige vorm van diskriminasie as sonde veroordeel moet word."

Apartheid

Dat dit vir Smit (Woord teen die lig III/1) nodig was om nog in 1990 n sterk argument daarvoor te maak dat Jakobus 2 "apartheid in die hart tref", kan na tien jaar oordrewe voel. Tog bly sy argumente nog net so ter sake en is dit die moeite werd om die gedeelte te lees.

Die Heidelbergse Kategismus sê ek is "van nature geneig om God en my naaste te haat" (Antw 2). As n mens dink hoe maklik ons mense na die uiterlike oordeel en daarom teenoor hulle diskrimineer, moet jy die Kategismus toegee. Sondag 40 (vrae 105 tot 107) bied baie stof tot nadenke. Let op hoe die oortreding van die sesde gebod met begrippe soos "onteer, beledig, woorde of gebare, afguns en haat" beskryf word. Die positiewe kant van die gebod sluit in: "Ons moet teenoor hom (of haar) geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees alles wat hom (of haar) kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom . .."

Op weg na die preek sal die volgende vraag deurdink moet word: Wie is die persone vir wie daar in ons gemeente (gemeenskap) gesê word: "Staan daar of, sit hier by my voete"? Die afgelope jare is baie gepraat en geskryf en wette gemaak rondom diskriminasie teenoor vroue, gestremdes, vreemdelinge, persone met n ander seksuele oriëntasie, mense wat MIV positief is, ensovoorts. Is ons as gemeente gewillig om hieroor te praat en die nodige aanpassings te maak of sou van hierdie persone kon sê dat hulle nog in ons gemeente die ervaring het van "staan daar anderkant"?

In Woord teen die lig III/1 maak Smit n preek wat grootliks Jakobus se gedagtelyn volg. Hy begin by die wet wat ons vry maak (1:25 en 2:12) tot nuwe lewensmoontlikhede. Die oproep van 2:1 word breedvoerig verduidelik. Dis gegrond in die Ou Testament se verkondiging dat God die hulpeloses te hulp kom. Verse 2-4 is n praktiese voorbeeld. Verse 5-11 bevat 3 argumente. Hulle weerspreek God se optrede; hulle weet die rykes onderdruk hulle; hulle oortree die wet van God. Die preek word afgesluit met die oproep van verse 12-13 om ter wille van die eindoordeel barmhartig en onpartydig op te tree.

Die preek in "Wat sien ons in die spieël?" staan onder die opskrif van "Oor regte en verkeerde oorwegings .." Smit begin deur op die noodsaak te wys dat gelowiges al meer sensitief moet word vir "die kwaad wat diep binne-in ons skuil". Verder verloop die preek aan die hand van Jakobus se gedagtelyne en toon baie ooreenkomste met die een in Woord teen die lig.

Preekvoorstel

Om n preek te maak wat grootliks die gedagtelyn van Jakobus 2:1-13 volg, is n baie goeie idee. As jy dit wil doen, kan jy óf die preek in "Woord teen die lig III/1" óf "Wat sien jy in die spieël?" as riglyn gebruik. Dis uitstekende voorbeelde. Die voorstel wat ek hier maak, is n poging om n ander invalshoek te kry. Ek bring nie al Jakobus se argumente ter sprake nie, maar fokus eerder op Jakobus se veroordeling van diskriminasie en op twee argumente: sy verwysing na Jesus en sy verwysing na hoe God mense aanneem.

Onthou jy hoe Dawid gereageer het nadat Natan vir hom die storie vertel het van n man wat sy arm buurman se enigste lammetjie gesteel en vir sy gaste geslag het? Dawid was onmiddellik kwaad en verontwaardig en het uitgeroep dat dié man gestraf moet word. As Natan soos Jakobus gedink het, sou hy vir Dawid kon sê: Koning Dawid, u het in n spieël gekyk!

Ons ken vers 2 en 3 goed. Gestel ons het dit vandag vir die eerste keer gehoor wat sou ons reaksie wees? Ek dink die meeste Christene se reaksie sou soos die verontwaardiging en veroordeling van n koning Dawid wees.

Die vraag is: sien óns dit is n spieël?

Diskriminasie is verkeerd. Wat Jakobus ons in die spieël wil laat sien, is dat dit baie verkeerd is om mense op hulle baadjie te takseer. Moenie mense volgens hulle uiterlike beoordeel nie!, beklemtoon hy in vers 1.

Miskien het jy dit al beleef: Jy word aan iemand voorgestel, die persoon is vriendelik en vra in watter sport jy belangstel. Toe jy die sport noem, verander die trant van die gesprek totaal. Die persoon is jou gewoon vyandig gesind! Vra jy wat dan nou verkeerd is, hoor jy dat mense wat dié sport ondersteun almal onbeskofte boewe is! Of miskien het jy iemand se vyandigheid of afkeur beleef bloot omdat jy aan n ander rassegroep behoort of omdat jy nie n telefoon het om te kan terugbel nie. Miskien is jy al verkleineer of is daar met jou die spot gedryf omdat jy n sekere kleur hare het, omdat jy kort is, omdat jy n werk doen wat min aansien het of sommer net oor een of ander belaglike rede.

Ja, dit is belaglik wanneer een mens oor n ander n opinie vorm op grond van een of ander oppervlakkige en onbelangrike stukkie inligting. En as hierdie stukkie inligting nog jou verdere optrede teenoor die persoon bepaal, is dit nie meer belaglik nie, dit is verskriklik verkeerd. Diskriminasie, sê die woordeboek, is om onderskeid te maak. Maar diskriminasie het n lelike woord geword, want die gronde waarvolgens die onderskeid gemaak word, is dikwels onbillik. Jakobus druk hom baie sterk uit wanneer hy hierdie verkeerde optrede of diskriminasie in die gemeente uitwys en veroordeel.

In vers 4 sê hy: Julle het mense op grond van verkeerde oorwegings geoordeel. Letterlik sê hy: "Julle het regters met bose motiewe geword." Deur julle verkeerde optrede het julle verkeerde motiewe duidelik geword.

In vers 6 sê hy: julle behandel die man met minagting! Anders gestel: julle het die man verneder! Die woord wat Jakobus hier gebruik, kom ook in Markus 12:4 voor. Die Ou Vertaling het dit daar met "skandelik behandel" vertaal.

In vers 9 sê Jakobus: julle doen sonde! Dit klink asof die gemeente op die prediker se boodskap reageer het dat dit darem nie so erg is nie. Dis mos maar n kleinigheid, kan mense dit probeer afmaak. Maar Jakobus antwoord: geen kleinigheid nie! Sonde!

In vers 11 gaan hy verder hierop in deur te sê dit gaan oor die oortreding van die sesde gebod, naamlik: Jy mag nie moord pleeg nie. Kan dit wees? Is daar enige verband tussen diskriminasie en moord? Die Heidelbergse Kategismus leer ons dat God dit in die sesde gebod het teen motiewe soos afguns en haat en optredes wat onteer en beledig.

Jakobus sluit sy preek in vers 13 af deur te sê: julle is onbarmhartig. Wie teenoor hulle medemens diskrimineer, het daarmee hulle harte toegesluit en verhard.

Hoekom diskriminasie verkeerd is. Jakobus pleit by sy lesers om hierdie verkeerde optrede te staak op grond van hulle geloof in Jesus Christus. Wanneer hulle, wat gelowiges is, iemand so onbarmhartig en skandelik behandel, trek hulle daarmee n streep deur die feit dat hulle in Jesus glo en sy volgelinge is.

Mense wat in Jesus Christus glo, sê Jakobus, doen tog nie dit nie. Jakobus sê dit nie in soveel woorde nie, maar ons kan dit maar vir mekaar sê: Jesus het tog nooit en sou tog nooit op grond van uiterlike oordeel optree teenoor iemand wat sy pad kruis nie! Self die mense wat Jesus vyandig gesind was, gee vir Hom n getuigskrif dat Hy juis nie dit doen nie. In Matteus 22:16 staan: "Hulle (die Fariseërs) stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal Herodiane om vir Hom te sê: Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie."

Vir Jesus het dit om die menswaardigheid van elke mens gegaan. Hy het juis deur sy optrede mense wat as minderwaardig beskou is, menswaardigheid geskenk.

Jakobus beklemtoon dat Jesus die Here is en heerlikheid het. Met ander woorde, wie Jesus ken, weet wat heerlikheid is. Maar Jesus se heerlikheid is nie soos ryk en vername mense se vertoon van hulle skatte en hulle status nie. Jesus se heerlikheid sluit in dat Hy Homself verneder het en dat Hy sy lewe vir ons afgelê het. Jesus se heerlikheid is die wonderlike wyse waarop Hy vir ons kom leer het wat God se liefde beteken. Hy het vir ons kom demonstreer wat dit beteken om mens te wees en hoe om met mense om te gaan.

Vir Jakobus is daar nog n rede waarom optredes op grond van uiterlike oordeel heeltemal indruis teen hulle geloof. Dit is dat die hele Ou Testament daarvan vol is dat God dit nie doen nie en dat Hy reeds van Israel verwag het om nie so op te tree nie. Dink maar net vir een oomblik hoe God optree, skryf Jakobus in vers 5. Dink maar net daaraan dat Israel n klein groepie mense tussen groot nasies was. Dink daaraan dat julle wat die gemeente vorm, deur die wêreld as arm en minderwaardig beskou word. Dink daaraan dat God julle gekies het en julle in sy koninkryk laat deel. Dit doen God sonder om julle uiterlik te beoordeel, selfs sonder om julle hoegenaamd te beoordeel, want God doen dit omdat Hy julle liefhet en omdat julle vir Hom kosbaar is.

Onthou jy hoe Dawid gereageer het nadat Natan vir hom die storie vertel het van n man wat sy arm buurman se enigste lammetjie gesteel en vir sy gaste geslag het? Onthou jy wat het Dawid gedoen nadat Natan vir hom gesê het: u is die man!? Miskien is die rede waarom dié verhaal in die Bybel opgeneem is juis om vir ons te vertel dat Dawid wel homself in die spieël herken het en dat hy diep berou gekry het oor wat hy van homself geleer het.

Wie van ons kan eerlik in die spieël van Jakobus 2 kyk sonder om te ontdek dat ons van nature geneig is om ons medemens uiterlik te beoordeel en op grond daarvan verkeerd op te tree? En wanneer ons ontdek dat ons mense seergemaak het en dat ons daarmee ons geloof verloën het, dat ons Jesus se eer aantas en God se barmhartigheid misken het, kan ons maar net saam met Dawid sê: Ek het gesondig!

Bibliografie

F W Grosheide, Jakobus (Korte verklaring); P P A Kotzé, Die brief van Jakobus; E L Smelik, De Brief van Jakobus; J P Louw en E A Nida, Greek-English Lexicon of the New Testament; Dirkie Smit, Wat sien jy in die spieël?; D J Smit, In: Woord teen die lig III/1.