31 Augustus 2003

Elfde Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Fokusteks: Jakobus 1: 17-27

Ander tekste: Hooglied 2:8 - 13; Psalm 45:1 - 9; Markus 7:7 - 23

Inleiding

Hierdie erediens kan gesien word as 'n spieël, as plek waar jy coram Deo jouself ook kom ontmoet in die lig van die Woord van God. Wat moderne erediensgangers heel moontlik in die spieël van Jakobus 1 sien, is hulle onbetrokkenheid/ongeplaagdheid/apatie, maar ook Iemand anders. Die erediens wil daarom mense bewus maak van hulle eie onbetrokkenheid en terselfdertyd van die groot nood in die wêreld, die vele plekke waar hulle wel betrokke kan raak. Want die God wat ons hier aanbid is besorg oor mense in nood, oor kantlyn mense, hulpelose mense.

God vergader ons voor Hom

Aanvangslied

"Ons is almal hier saam" NSG 351/Lied 164

Voorganger: Die goeie wat ons wil

Gemeente: Dit doen ons nie.

Voorganger: Die kwaad wat ons nie wil nie

Gemeente: Dit doen ons.

Etos van God

Soos in basisliturgie voorgestel.

Aanvangswoord

Ons is hier byeen om die drie-enige God te aanbid wat ons in Christus Jesus nuwe mense maak wat geskape is vir goeie werke.

Seëngroet

Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees van Die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Sang

"Ster in donker nagte" NSG 292:1 3/ "'n Vaste burg is onse God" Lied 476

Diens van die Woord

Gebed om opening van die Woord/epiklese

Voorganger: Here Jesus, ons dank U vir u Woord.

Gemeente: U is die vleesgeworde Woord.

Voorganger: Heilige Gees verlig ons harte en verstande.

Gemeente: Praat met ons deur die geskrewe Woord.

Voorganger: Vader gee ons gewillige hande en voete.

Gemeente: Maak ons gehoorsaam aan die gepredikte Woord.

Skriflesing

Jakobus 1: 17-27

Sang

"Bring my die ou, ou tyding" NSG 346 1 en 2/ "Spreek, Heer" Lied 254

Preek

Sang

"Bring my dieselfde tyding" NSG 346: 3

Oomblik van stilte en toewyding aan God en sy wêreld.

Apostoliese Geloofsbelydenis

Offergawes

Diens van die tafel

Dieselfde as in die basisliturgie vir koninkrykstyd.

Lees

Romeine 12:9-21 as riglyn vir lewe van goeie werke (oftewel vir lewe onder Gods regering)

Uitsending

Sang

"Die werk is uwe, troue Heer" NSG 197: 1-3 /Lied 527 "Die werk behoort aan U, ons Heer"

Seën

Mag die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.

Sang

"Amen" Lied 312 315/NSG 315 en 356

 

preekstudie jakobus 1: 17-27

Inleiding tot die Jakobusperikope

1. Die Jakobusbrief word beskou as een van die oudste, indien nie die heel oudste nie, geskrif van die Nuwe Testament. Verskeie meen dat dit ontstaan het tussen die eerste vervolging van Christene na die steniging van Stefanus en Paulus se eerste sendingreise. Dit sou die aanhef van die brief verklaar, naamlik dat Jakobus skrywe aan die "twaalf stamme wat oor die wêreld verstrooi is". Hierdie verwysing na die twaalf stamme dui egter nie op die fisiese Israel nie, want slegs twee stamme het uit die ballingskap teruggekeer. Dit gaan vir die skrywer oor die "nuwe Israel" wat uit Jode en ander nasies op grond van die verlossingswerk van Christus tot stand gekom het. Toe die vervolging teen die Christene losbars, was hulle genoodsaak om uit te wyk na die destydse Judea, Samaria, Siprus, Fenisië en Antiogië (Hand 8:1; 11:19). Hier het hulle in klein groepies gevestig. Losgeslaan van hulle tradisionele leierskap was die gemeenskappies soos skape sonder n herder. Begryplik het dit die lugleegte geskep waarin baie gedink het dat die posisies van leierskap hulle toekom. Allerlei stryd, konflik, verwarring, valse lering en verdraaiing het ontstaan. Die dringende vraag was dié na die regte Christelike optrede ten opsigte van n wye reeks praktiese sake. Jakobus het hierdie nood raakgesien en daarop gereageer met hierdie brief. Dit verklaar dan ook die oorwegend paranetiese aard van die brief. Dit wil waarsku, vermaan, aanmoedig en verseker.

2. Met besondere bedrewenheid gebruik Jakobus allerlei treffende voorbeelde en illustrasies om sy praktiese riglyne mee te verduidelik. Daar is talle voorbeelde uit die natuur, die sosiale lewe en die heilsgeskiedenis, met ander woorde uit die konteks van die eerste lesers. Deurgaans gaan dit daaroor om die gelowiges te help in die vind van die korrekte optrede in die gemeenskap van die gelowiges, in algemene situasies teenoor mekaar sowel as teenoor buitestanders. Dit wil gelowiges leer hoe geloof werk. Daarop is elke bemoediging, vermaning, waarskuwing, raadgewing en lering toegespits. Die Jakobusbrief is nog altyd van besondere aktualiteit beskou omdat daarin so konkreet ingegaan word op vrae van die daaglikse geloofslewe.

3. n Kenmerk van die riglyne is die klem wat Jakobus lê op die invloed van die oënskynlik kleine, geringe, nietige. Dit moet te alle tye noukeurig in ag geneem word want dit kan onhanteerbare, oorweldigende, skrikwekkende gevolge hê. Praktiese Christenskap vra dus ons volle aandag vir en deeglike oorweging van die mikro deeltjie binne die makro geheel. Per slot van sake gaan dit oor die behoud van die geheel (holos), die volledige (teleios), die hele mens, die hele lewe!

4. Aangesien die Christelike lewe met baie beproewing, teenstand en vyandigheid gepaard gaan, lê Jakobus besondere klem op volharding. Volharding bevestig dat geloof lewenspraktyk geword het. Wie glo, kan nie anders nie!

5. Die besondere klem op geloof en doen, geloof en dade, het in die verlede aanleiding gegee tot allerlei misverstand rondom die Jakobusbrief. Dit is soms gesien as n bewustelike weerlegging van Paulus se ononderhandelbare beklemtoning dat ons nie gered word deur werke nie maar deur "geloof alleen". Jakobus lewer egter nie kommentaar op Paulus nie immers Paulus se briewe het na Jakobus sn gekom. Inteendeel, albei beklemtoon dieselfde saak, egter van verskillende kante. Terwyl Paulus vra na die weg tot verlossing, vra Jakobus na die weg vanuit die verlossing, met ander woorde na die verloste se lewenswyse.

6. Vanweë die paranetiese aard, het sommige die brief as n saamstrengeling van los waarskuwings, vermanings en aanmoedigings beskou sonder n sentrale saambindende tema. Robert Wall bied egter n interessante perspektief aan in sy kommentaar met die titel The Community of the Wise. Hy beskou 1:19 as sleutelvers wat die saambindende tema kernagtig weergee: Christene moet gou wees om te luister, stadig om te praat en stadig om kwaad te word. Dit vorm die drie dele van die brief: (a) 1:222:26 handel oor die wysheid om eers goed te luister! Dit beteken om die ander te erken en selfs voordeel te gee; (b) 3:118 handel oor die wysheid om nie te gou te praat nie. Woorde het immers verreikende gevolge; (c) 4:1-5:6 stel dit ten slotte dat dit verstandig is om nie gou kwaad te word nie (Phil Robinson).

Teks

Algemene opmerkings

Jakobus het n eie manier van argumenteer. Hoewel dit van ons logies-liniêre argumente verskil, is dit nie maar net n opeenstapeling van los gedagtes nie. Kotzé se struktuuranalise van die teks toon oortuigend aan dat Jakobus sy brief met groot sorg geskryf het. Die perikoopindeling word gewoonlik vanaf vers 19 geneem. Kotzé se opskrif vir verse 19-27 is: "Egte godsdiens is om in die regte verhouding tot God en sy Woord te lewe." Om die gedeelte vanaf vers 17 te lees, doen egter geen afbreuk nie - dit verbreed eerder die strekking. Die RCL gee nie aan 2:14-26 n eie lesing nie (Sien by volgende Sondag se opmerkings.) Omdat die gedeelte ook nie by volgende Sondag tot sy reg kom nie, kan dit ernstig oorweeg word om dit saam met 1:17-27 te gebruik. Dit kan of as n voorbeeld van die praktiese implikasies van Jakobus se oproep dien, of dit kan as "voorhou van die wet" gebruik word.

Enkele inhoudelike opmerkings

Die uitspraak in vers 17 dat God "nie verander of verduister nie", handel nie eerstens oor "die onveranderlikheid van God" nie. Jakobus beklemtoon dat God altyd goeie gawes gee. God is die Vader (Skepper; Gewer) wat goeie gawes gee en hiervan wyk Hy nie af nie.

Volgens Kotzé vorm die "spreuk" wat in vers 19 gebruik word, n drieledige opskrif: Stadig om kwaad te word (word in verse 20-21 behandel); gou om te luister (in verse 22-25), en; nie gou praat nie (in verse 26-27. Kyk ook na die indeling wat in die Inleiding tot Jakobus genoem word).

Die "kwaad word" van verse 19 en 20 word deur die ootmoedige aanneem van die Woord in vers 20 gekontrasteer. Hierdie aanneem van die Woord, word in vers 22 gevolg deur die doen daarvan. Jakobus se oproep is: hou op kwaad word, neem die Woord aan en doen dit!

Die kyk in die spieël (vers 23) is n gewoon praktiese voorbeeld van iemand wat in die spieël kyk met die vraag, "wat moet ek doen sodat ek beter kan lyk?" (Met ander woorde, nie n diepsinnige kyk asof iemand op soek is na n dieper insig in sy/ haar eie persoon nie). Die beeld word deurgetrek na die inkyk in die woord in die volgende vers. Dat die Woord as spieël kan funksioneer, is geen vreemde gedagte nie.

Dit val op dat Jakobus in vers 25 van "wet" praat, terwyl hy tot hier toe van "woord" gepraat het. Hy beklemtoon dat dit die wet is wat vry maak. Dit moet nie as "wet" teenoor "evangelie" gesien word nie, maar eerder as die imperatiewe aspek van die evangelie.

Waardelose godsdiens (vers 26) is vir Jakobus die teenpool van egte of daad-godsdiens. Dit val op dat hy hierdie godsdiens nie met "niksdoen" beskryf nie, maar eerder met n (onbeheerste) gepratery. Kyk in dié verband na sy waarskuwing teen gou praat en kwaad word (verse 19-20) en teen iemand wat nie sy tong in toom hou nie (vers 27). Jakobus kom verskeie kere in sy brief terug na die gedagte dat godsdiens waardeloos is as hulle nie hulle tonge in toom hou nie.

Jakobus se waarskuwing teen "besmetting" in verse 27, vra versigtige interpretasie. Dit word dikwels in terme van sedelike (=seksuele) onreinheid verstaan. Uit die Nuwe Vertaling kan dit maklik so verstaan word omdat in vers 21 van "sedelike vuilheid en ongeregtigheid" gepraat word. Dirkie Smit wys daarop dat Jakobus nêrens in sy brief oor sedelike onreinheid skryf nie. Volgens 4:1-10 het Jakobus dit wel duidelik teen selfsugtige begeertes, jaloesie en die "in die hande kry" van besittings. Wat Jakobus dus na aan die hart lê, is wat Smit "die suigkrag van die wêreld" noem: "Wat Jakobus wil besweer is hierdie suigkrag van die wêreld, van besittings, die rykdomme, die afguns, wat die onderlinge stryd in die gemeente veroorsaak, wat hulle innerlik en onderling uitmekaar skeur." Wanneer die NAV in vers 21 vuilheid spesifiek "sedelik" noem, is dit meer as net vertaling van die teks, veral omdat sedelik in Afrikaans n sterk seksuele betekenis dra.

Vir ware vroomheid is die direkte en nou verband tussen die bystaan van mense in nood en die vry bly van die suigkrag van die wêreld van vers 27 belangrik: "Ten einde die weduwees en die wese te kan bystaan, moet die gelowiges sorg dat hulle nie deur die wêreld besmet word nie. En omgekeerd: Indien hulle deur hierdie wêreldse selfsug en begeertes besmet word, sal hulle nie meer vry genoeg wees, beskikbaar genoeg wees om vir die noodlydende daar te wees nie" (D. Smit).

Jakobus praat twee keer van God as Vader (v 17 en 27 daar is n derde verwysing in 3:9). Die eerste keer noem hy God die Vader wat die hemelligte geskep het en goeie gawes gee; die tweede keer die Vader wat gedien word wanneer wees en weduwees gehelp word. Kotzé sê van laasgenoemde: "Die gebruik van die Vadernaam laat die voorbeeld van die vaderlose wees en weduwee in verdrukking des te skerper uitstaan. Egte godsdiens bestaan in n liefdesbetoon wat ooreenstem met die Vaderskap van God." In vers 18 is daar ook n indirekte verwysing na God as ons Vader (of Moeder?) - Hy is die Een wat ons deur sy Woord tot die lewe gebring het.

Die uitdrukking "voor God" (v 27) is n duidelike aansluiting by die Ou Testament. Dirkie Smit het in sy riglyne in "Woord teen die lig III/2", breedvoerig oor die belangrikheid en die betekenis hiervan geskryf. (Hierdie studiestuk is die laaste een van die "Riglyne vir prediking oor die wandel met God" en vorm n duidelike klimaks oor dié onderwerp). Ook vir Kotzé gaan dit in verse 19-27 oor die verhouding tot God en sy woord. Uit die voorafgaande twee opmerkings kan n mens sê dat Jakobus in hierdie perikoop Teologies argumenteer. Sy oproep om daders van die woord te wees, om mense in hul nood te help en om dit coram Deo te doen, grond hy in God as Vader, wat vrylik goeie geskenke gee en wat juis ook die Vader is wat oor vaderlose mense besorg is.

Om saam te vat

Watter gedagtes staan sentraal in Jakobus se argument en watter gedagtes vorm n onderdeel daarvan? Kotzé se opsomming van Jakobus se gedagtegang kan hiermee help: "God gee volmaakte gawes en skep ons deur sy Woord tot eerstelinge van sy skepping. Daar is drie belangrike sake vir elke gelowige: luister goed, praat min en vermy toorn. In plaas van toorn, moet daar die regte gesindheid teenoor God en sy ingeplante woord wees deur na hierdie woord, dit is die volmaakte wet van vryheid, te luister en dit te doen, want egte godsdiens is om die tong te beteuel en die behoeftige naaste te dien." Hieruit word dit duidelik dat die deurlopende lyn die Woord van God is. Jakobus roep sy lesers op om die Woord van God te ontvang (luister!) en dit te doen (beoefen egte godsdiens voor God)!

Konteks

Op weg na n preek kan met vrug oor die volgende vrae gedink word:

Wie is die "weeskinders en weduwees" in ons samelewing? Met ander woorde, wie is die mense onder ons wat as veronregtes of kantlyn-mense ons hulp nodig het? Hier moet ons versigtig wees om net "na-binne" te dink. Die vraag is nie alleen wie hierdie mense in die gemeente is nie, maar wie is hierdie mense in ons gemeenskap. In n land waar apartheid ons gemeenskap in kompartemente verdeel het, moet ons doelbewus in terme van ons hele gemeenskap dink. In n wêrelddeel waar MIV en Vigs geweldige afmetings aanneem, word hierdie vraag nog dringender. Die een aspek van hierdie pandemie wat mense in die hart gryp, is die "vigswesies". Dieselfde mense kan egter koud en afsydig staan teenoor hulle (volwasse) medemense wat MIV-positief is. So word hierdie mense kantlyn-mense en ook veronregtes.

Wat sien ons in die spieël van Jakobus 1:17-27? Met ander woorde, wat ontdek ons in ons lewenswyse wanneer ons gekonfronteer word met hierdie ernstige oproep om meer as hoorders (en praters!) van die woord te wees? In die vroeë kerk is op Woensdag teen die sonde van ongeplaagdheid of apatie gewaarsku. Leon Fouché bied baie bruikbare insigte hieroor (Sewe). Hy beskryf ongeplaagdheid as "die sonde van ons tyd". Ons word so deur die probleme in ons samelewing oorweldig, "dat nie net individue nie, maar ook die kerk of instansies of groepe mense begin dink hulle sal tog geen duik maak in die samelewing nie en uit moedeloosheid en ter wille van oorlewing onttrek hulle hulleself. Kortom: hulle emigreer innerlik en hou hulle nog besig met sake wat hulleself aangaan. So n gees van mismoedigheid, van ag-dit-sal-tog-niks-help-nie, is geweldig aansteeklik en dodelik vir n samelewing." Op baie maniere dra die moderne lewe daartoe by dat ons met moeite by ander mense se probleme betrokke raak.

Wie luister na die preek? n Oproep om ons Vader se liefde vir mense wat swaarkry prakties uit te leef, moet rekening hou met die mense wat Sondae na die Woord luister. Juis daarom is die "preek" hieronder voorlopig en vra dit om n eie konkretisering.

Hoe kan ons hoopvol preek oor Jakobus se oproep om by die nood van mense betrokke te raak? (Hierdie vraag lyk vir my die belangrikste - en vind ek ook die moeilikste een). n Preek wat mense net laat skuldig voel oor hulle onbetrokkenheid, het nie in die teks se doel geslaag nie. Die prediker sal getrou moet wees aan die manier waarop Jakobus sy oproep grond op wie God is en hoe wonderlik sy Woord is. Jakobus herinner sy lesers aan God wat as Vader net goeie gawes (vrylik) uitdeel, voordat hy hulle oproep om vaderlose mense by te staan. Vir menige hoorder mag die bystaan van mense in hulle nood na sware pligte klink. Daarom mag dit nie as n wettiese oproep oorkom nie. Die gemeente moet eerder geïnspireer word om hulleself beskikbaar te stel om die liefde van Christus na n medemens in nood te neem.

Verder sal ons ook kreatief moet wees in die praktiese implikasies van hierdie oproep. Fouché sien die regstelling van ongeplaagdheid in betrokkenheid en regverdigheid: "Juis omdat voorstanders van regverdigheid soek om vir almal n billike ruimte te skep, oorskry dit ons neiging tot selfsug." Daarom moet ons deelneem "aan die gesprek van menswees. Hiervoor moet n mens hand en tand inklim in die kwessies van die dag, nie terugdeins vir die moeite van betrokke-wees nie, en jou nie van stryk laat bring .... nie.

Hoe lyk egte, daad-godsdiens wat mense in hulle nood bystaan? Aan die een kant sal dit n persoonlike betrokkenheid by mense vra. Die liefde van Jesus kry gestalte wanneer hulp hande met n gesig daarby het. Aan die ander kant is dit so dat hulp wat gesamentlik of georganiseerd aangebied is, meer uitrig. Dikwels word ons so deur die omvang van nood in die gemeenskap oorweldig, dat dit ons verlam. Betrokkenheid by georganiseerde hulp kan hierdie verlamming teenwerk.

Gelowiges en hulle besittings

n Bybelse metafoor wat ons met ons nadenke oor die Skrifgedeelte kan help, is "rentmeesterskap". Rentmeesterskap beklemtoon dat God aan ons goeie gawes gee en dat ons as sy verteenwoordigers die roeping het om dit verantwoordelik en tot sy eer te bestuur. Dit sluit juis in dat gelowiges nie hulle besittings alleen maar tot hulle eie voordeel sal aanwend nie. God gee dit aan ons met die doel om in diens van sy Koninkryk gebruik te word. Gelowiges wat verstaan wat ons in die Bybel oor Rentmeesterskap leer, sal noodwendig n groter sensitiwiteit hê vir die "suigkrag van die wêreld" waarteen Jakobus so ernstig waarsku , asook vir die onaanvaarbaarheid van uiterstes van rykdom en armoede wat ook in hierdie brief aangespreek word. Wanneer gelowiges hulle roeping as rentmeesters verstaan, word hulle positief toegerus en ingestel om hulle geloof prakties uit te leef in die manier wat hulle hul geld en besittings ondergeskik aan God se Koninkryk hanteer. Jakobus se oproep om wees en weduwees in hulle nood voor God by te staan en "om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld", is n goeie beskrywing van wat rentmeesterskap prakties beteken (Uit die Belydenisskrifte: Nederlandse Geloofsbelydenis, Art 24; Heidelbergse Kategismus, Antw 64; Belydenis van Belhar, Art 4).

Preke

In "Woord teen die lig III/2" stel Dirkie Smit voor dat n preek aan die gemeente moet verduidelik wat dit beteken om bewustelik "voor God" te lewe. Opsommend, skryf hy dat "die lewe coram Deo daarmee te make het dat die gelowiges God dien met hulle hele hart of siel (ervaring, emosie, gevoel, religieusiteit, rituele, kultus), met hul verstand (kennis, insig, denke, leer, teologie), en met al hulle kragte (etos, gedrag, praksis, navolging, gehoorsaamheid, moraal)." As jy oorweeg om hierdie weg te volg, doen dan asseblief moeite om self hierdie riglyne van Smit te lees.

In sy oordenking oor Jakobus 1:19-25 en 2:14-26 ("Wat sien ons in die spieël?") gebruik Smit Kierkegaard se bekende gelykenis van die ganse wat Sondag na Sondag kom luister na die preke oor hoe om te vlieg, maar wat nooit so ver kom om dit te begin doen nie. Hy sluit ook aan by Bonhoeffer se klag dat ons God se genade goedkoop maak, wanneer ons nie ware dissipels van Jesus is nie: "Dit is die allerergste. Dit is die grootste bedreiging vir die Christelike kerk: dat ons nie agterkom hoe ver ons soms in gebreke bly om volgens die evangelie te leef nie." Hy beskryf hierdie gebrek by die gemeente, om wat hulle glo uit te leef, as die diepste rede vir al die ander probleme wat hulle ervaar. Wat die uitleef van wat ons glo, prakties beteken, word in die verdere oordenkings in die res van die boek uitgespel.

'n Preek van Ds S Visser (internet, http://www.dominee.co.za) begin met die gedagte van geestelike groei. Hy gee eers 'n verduideliking van wat 'n lewe coram Deo beteken. Met verwysing na die opsomming van die wet (Mark 12) stel hy dat die Here alles van ons vra. Hierna keer hy terug na die gesindheid waarmee ons met die Woord omgaan. Om die Woord met ootmoed aan te neem, dui vir hom op die inkyk in die spieël van die Woord. Geestelike groei hang hiervan af. Verse 26 en 27 hou vir hom drie toetsstene in: beheer jou emosies; beoefen barmhartigheid, en; breek met die suigkrag van materialisme van ons tyd.

Preekvoorstel

Wie oor Jakobus se oproep om egte en suiwer godsdiens voor God te beoefen, wil preek, sal dit beslis met dieselfde ootmoed moet doen waarmee ons die Woord volgens vers 21 moet aanneem.

Wat het jy vanoggend in die spieël gesien? Miskien het jy die eerste keer geskrik toe jy die dik oë en deurmekaar hare as jou eie gesig herken het. Miskien het jy die laaste keer geglimlag toe jy vir jouself gesê het: nou kan jy maar kerk toe gaan.

Jakobus gebruik die beeld van iemand wat in n spieël kyk. Hy volg dit op met die gedagte dat n mens wat gelukkig wil wees, diep in die Woord moet inkyk. n Mens kan die Woord met n spieël vergelyk. Wie met ootmoed na die Woord luister, hoor nie alleen iets nie, hy of sy sien inderdaad iets. Jy sien jouself. Jy sien vuil kolle in jou lewe waarvan jy voorheen nie bewus was nie.

Wat sien ek en jy as ons in hierdie spieël kyk? Anders gestel: wat soek God by ons, wat verwag Hy, waaroor verheug Hy Hom? Wanneer beoefen ons egte diens aan Hom?

Jy kort nie n spesiale bril nie, om te sien dat dit in hierdie gedeelte gaan oor gehoorsaamheid aan die Woord van God wat in praktiese dade uitdrukking vind. Voor hierdie Woord staan ons ontbloot as mense wat versuim, wat nalaat om Christus se liefde in ons daaglikse lewe uit te leef.

In die vroeë kerk is Christene elke dag van die week teen n bepaalde sonde gewaarsku. Die sonde waarteen hulle Woensdae gewaarsku is, is die sonde van onbetrokkenheid. Apatie. Iemand sonder patos of gevoel, en daarom lusteloos. Dis mense wat weg staan van mense wat hulp nodig het. Hulle het geen gevoel vir mense wat deur die samelewing buite die kantlyn van die speelveld geskuif word nie. Jakobus het dit in hierdie Skrifgedeelte oor Woensdagmense.

Voor hierdie spieël moet ons stilstaan, want ons leef in n tyd waar dit baie maklik is om Woensdagmense te wees. Dis goed om jou eie ding te doen en vir jouself te sorg. Elkeen vir homself, is kenmerkend van ons tydgees. Daarom hoor ons van mense wat om hulp roep en al wat gebeur, is mense wat nuuskierig naderstaan niemand wil help nie. Daarom pla dit ons dikwels ook nie eers wanneer ons by iemand wat hulp soek, verbyloop nie.

In Jakobus se tyd was mense wat hulp gesoek het dikwels die weeskinders en die weduwees. Vandag het hulle ook ander name: Straatkinders, bedelaars, werkloses, bejaardes, enkelouers en baie meer. Die groep wat vinnig besig is om al meer te word en al nader aan ons te kom, is mense met MIV en Vigs. Mense vir wie ons bang is omdat ons dink hulle bedreig ons lewens en daarom stoot ons hulle van ons weg en uit ons gemeenskappe uit sodat hulle ons nie kan siek maak nie. Jakobus sê: egte godsdiens voor God is juis om by sulke mense te staan.

Hoe kan ons dit doen? Hoe doen ons dit in n land met soveel armes, weeskinders, werkloses, bejaardes? Hierop is daar nie eenvoudige antwoorde nie. Ons het die wysheid nodig waarvan Jakobus later in sy brief skryf. Wat ons wel weet, is dat om by iemand in nood te staan, beteken dat ek en jy hom of haar in die oë sal moet kyk. Hierdie hulp het hande nodig en n gesig - persoonlike betrokkenheid. Omdat ons egter so maklik oorweldig word wanneer ons dinge alleen probeer doen, is dit nodig dat gelowiges saam na maniere moet soek om n verskil te maak. Hoe groter die nood, hoe dringender is dit dat ons gesamentlik betrokke raak.

Skrik jy vir wat jy in hierdie spieël sien? Voel jy dis te veel gevra, jy wil liewer van die spieël wegdraai en vergeet wat jy gesien het......? Maar wag, kyk nog n keer in die spieël, daar is nog Iemand in die spieël.

Wanneer ons in die spieël van Jakobus 1:17-27 kyk, sien ons nie net onsself nie ons sien Iemand wat agter ons, by ons staan. In hierdie Skrifgedeelte sien ons vir God. n Baie belangrike waarheid waaraan Jakobus ons herinner, is dat ons voor God lewe. Godsdiens, sê Jakobus, is iets wat voor God gebeur. Dit geld natuurlik van ons hele lewe, want ook wanneer ons kwaad word en sondig, sê Jakobus, doen ons dit voor God. Hiermee sluit Jakobus aan by n sentrale begrip van die Ou Testament: dat ons in die teenwoordigheid van die lewende God lewe. God kyk na ons en Hy sien ons raak. Jakobus herinner ons daaraan dat die God voor wie ons lewe, ons Vader is. Hy is die grote Skeppergod wat aan ons alleen maar goeie gawes gee. Dink maar net daaraan: Hy het aan ons sy Woord gegee en deur hierdie Woord gee Hy aan ons die lewe. Hy doen nog meer alles wat ons ontvang, herinner ons aan sy seëninge. Onthou dan, sê Jakobus, hierdie vrygewige Vader is die Vader wat besorg is oor mense wat nie n pa in die huis het nie. Daarom is dit vir Hom so belangrik dat sy kinders wat kan, mense in hulle nood sal bystaan.

Wat Woendagmense nodig het is om raak te sien dat die God voor wie ons in elk geval elke dag lewe, voor Wie ons ook op n Woensdag lewe, juis die Vader is wat besorg is oor mense in nood, kantlyn mense, hulpelose mense. Om egte Godsdiens voor God te beoefen, om daders van die Woord te wees, om jou te verdiep in die volmaakte wet van God wat jou vry maak, is om n gelukkige mens te wees, sê Jakobus. Soos so dikwels in sy brief, klink dit of Jakobus sy lesers doelbewus aan Jesus se woorde herinner, want dis mos Jesus wat gesê het: "Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word" (Mat 5:7).

Gelukkig is Woensdagmense wat geleer het om barmhartig te wees!

Bibliografie

Kotzé, P. Die brief van Jakobus; Dirkie Smit 1994. Wat sien jy in die spieël?; D J Smit 1991. In: Woord teen die lig III/2; Leon Fouché. Sewe. Jou kompas tussen lig en duisternis.