SONDAG 31 OKTOBER 2004

een en TWINTIGSTE SONDAG IN KONINKRYKSTYD

Die liturgiese voorstel van 7 November 2004 gee enkele riglyne ten opsigte van Hervormingsondag deur.

Liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Koninkrykstyd gebruik te word

Fokusteks: Hebreërs 13:7-19 (by die RCL bygewerk)

Ander tekste: Joël 2:23-32; Psalm 65; 2 Timoteus 4:6-18; Lukas 18:9-14.

ing

Die koms van die koninkryk in ons wêreld verstar en verloop skeef in menselewens. Dit is die realiteit van die kwaad wat ons almal beethet. God se koninkryk is sy nuwe koers met sy hele skepping. "Koninkryk van God" is nie primêr 'n "plek-" of 'n "iets"-begrip nie. Hierdie uitgangspunt stel gelowiges nie op teenoor "aardse dinge" nie. Die koninkryk roep ons tot 'n bepaalde koers: ons missionêre gerigtheid wat van God se teenwoordigheid in Christus getuig. (Vgl. ook die opmerkings oor die term "koninkryk" by die basisliturgie). Hierdie liturgie poog om ons verder te slyp om op hierdie koers sy koninkryk te laat kom agter Jesus aan.

Hebreërs beklemtoon dat Jesus, soos Hy deur hul voorgangers verkondig is, in geen opsig verander nie. Hoe is hierdie Jesus? Hy kan nie na eie smaak "gebruik" word nie. Om aan Hom te behoort, beteken om saam met Hom "buite die laer" (in die wêreld) "verbrand" te word. Godsdienstigheid (die probleem van die Hebreërs) probeer Jesus "mak" maak vir n gerieflike, lewe saam met Hom, te geniet in wonderlike rituele en byvoegings. Daarteenoor beteken egte navolging dat ons nie gerieflik in die wêreld tuis kan raak nie. Die koninkryk het nog nie volledig gekom nie. Juis hierdie "nog-nie"-koninkryk noop ons om Jesus alleen te loof en te prys (v. 15), goed te doen, mededeelsaam te wees. Só wy ons ons lewens "buite die laer" met die oog op Jesus gevestig.

Benutting van teksgedeeltes

In Joël 2:23-32 hoor ons die volheid van Gods beloftes. Dit sal goed pas na die diens van die tafel.

Hebreërs: Vra na aanleiding van vers 13 ter oordenking of bespreking (met toetrede of voor die prediking): "Hoe verstaan julle die gedagte dat ons in die wêreld daarbuite ("buitekant die laer") smaad moet dra?" Dit kan die gemeente help om in eie konteks oor die teks na te dink.

By n tafelherinnering kan na die liggaam en bloed verwys word in terme van Hebreërs 13:12-13. Daarop word geantwoord met Lied 298: "Brood en wyn is tekens van ons Heer se dood". Vul dit aan met een van die gebede uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle, redakteur Johan van der Merwe.

By die uitsending kan Hebreërs 13:13-16 gebruik word. Lees dit weer of verwerk dit in n litanie.

Psalm 65 kan as antwoord op die Skriflesing gebruik word. Laat iemand Psalm 65:2 lees: "Aan U kom n lofsang toe." Dit is veral n gepaste respons op Hebreërs 13:15. Op die wekroep kan die gemeente sonder aankondiging n lofsang sing: Lied 221 "Loof die Heer omdat Hy goed is". Dit kan beurtelings deur vroue, mans en almal saam herhaal word.

Na die prediking volg die geloofsbelydenis. Lied 306 "U Christus is my lewe, die sterwe wins vir my" / NSG 146 of Lied 309 "My lewe bly aan U gewy"/NSG 267 kan die geloofsbelydenis (verbintenis) bevestig.

Lukas: Dit herinner ons om God met die regte gesindheid te nader.

Volg die diensorde van die basisliturgie met die volgende wysigings:

God versamel ons voor Hom

Bly by keuses wat by die basisliturgie gemaak is.

Lees Lukas 18:19-21en gee geleentheid vir stil toewyding.

Stel die vraag na aanleiding van Hebreërs sien hierbo.

Die gemeente antwoord met: Lied 373:2 "Maak Here, my n vlam met gloed"/NSG 271 "My hart, myself, my lewe".

Diens van die Woord

Epiklese: Psalm 119:153-160

Lees Hebreërs 13:7-19, gevolg deur Psalm 65:2 (sien hierbo).

Sing: Lied 221 "Loof die Heer omdat Hy goed is"/NSG 58 "God my Father loving me".

Preek

Antwoord: Geloofsbelydenis gevolg deur Lied 306 "U, Christus, is my lewe"/NSG 146 of Lied 309 "My lewe bly aan U gewy"/NSG 267

Diens van die tafel

Lees Hebreërs 13:12-13.

Gebed (sien hierbo) Lees die teks uit Joël.

 

Uitsending

Lees Hebreërs 13:13-16.

Sing Lied 527 "Die werk behoort aan U, ons Heer" (let op vers 2)/NSG 197.

PREEKSTUDIE HEBREëRS 13:7-19

Teks en konteks

Ten spyte daarvan dat byna twee millennia se navorsing nog geen antwoord kon gee op die vraag wie die skrywer of die ontvangers van Hebreërs was nie, kan die Christelike gemeente van die tweede millennium sonder voorbehoud en met opregte dankbaarheid die boodskap daarvan toeëien. Elke ernstige leser van Hebreërs maak heel gou die ontdekking dat dit ondanks die tydsverskil niks aan aktualiteit vir die Christelike geloofsgemeenskap ingeboet het nie.

Vanweë die stewige teologiese lyn wat die skrywer rondom die tema van Jesus Christus as Verlosser en Hoëpriester ontwikkel het, deins lesers maklik terug van `n in-dieptebestudering van hierdie ryk geskrif. Wie egter eers die besondere opbou van die argument en die sterk beklemtoning van `n lewenspraktyk wat moet klop met wat geglo word, ontdek het, sal moeilik die Hebreërboek half-gelees kan laat. Die oorhoofse tema van hierdie geskrif het te make met die hart van die Christelike geloof. Met byna verstommende insig trek die skrywer die verskillende lyne vanuit die hemelse, die aartsvaderlike, die woestyntrek van Israel, die koms van Jesus en die teenswoordige en die toekomende tyd van die kerk tot `n brandpunt saam. Die ou bedeling/die ou verbond is verby. Die nuwe het gekom. Die Outeur is God wat in die Seun `n genade-bedeling geopen het waarin die vernietigende knelgreep van die sonde gebreek is en geloofsgemeenskap jubelend kan gedy.

Die skrywer, wat in noue voeling met die Hebreërgemeente geleef het, het tot sy ontsteltenis `n afname in hulle veerkrag bemerk. Dit is asof die gedurige teenstand, vyandigheid, intimidasie, verontregting en materiële verliese vir hulle te veel geword het. Hulle het geloofsmoeg geraak en hulle visie het vervaag. Hulle belangstelling was laag en hulle het met trae gang beweeg. Daar was selfs sommige wat gebreek het met die geloof en wegbeweeg het. Die skrywer wou hulle egter nie aan hierdie insinking toegee nie. Op eg pastorale manier rig hy `n aantal ernstige vermaninge tot hulle. Hy doen dit egter op so `n manier dat hulle daarin ook `n aanmoediging moet hoor. Lees `n mens Hebreërs, val dit op dat die vermanende/aansporende (paranetiese) gedeeltes, anders as by Paulus wat dit gewoonlik aan die einde van sy geskrifte plaas, in dié geval soos `n goue draad deur die hele geskrif gevleg is (vgl. 2:1-4; 3:7-19; 4:14-16; 5:11-6:20; 10:19-39; 12:1-13, 25-27). Sodoende word leerstellige en vermanende stof tot `n hegte eenheid geïntegreer en die verlammende skeiding tussen geloofsleer en geloofspraktyk vermy.

Nog `n opvallende kenmerk van die geskrif is die hegte vervlegtheid met die Ou Testament. Sonder kennis van die Ou Testament sou Hebreërs grootliks in die lug hang en `n geslote raaiselgeskrif bly. Die verhaal van Israel se woestyntrek onder leiding van Moses, die tent van ontmoeting en die daarmee gepaardgaande Aäronitiese en Levitiese priesterdiens asook die rol van die hoëpriester, vorm die drabodem van die verhaal van Jesus Christus as Verlosser en Hoëpriester van die nuwe verbond, wat in die plek van die oue gekom het. (Lesers wat toegang het tot `n Griekse Nuwe Testament [Alant of Nestle] sou hierdie hegte verweefdheid met die OT vrugbaar kon nagaan in die talle verwysings wat aangedui word.)

Neem `n mens nou die paranetiese (vermanende) gerigtheid as sleutel, kan die inhoud van die brief soos sommige studies doen in drie breë temas ingedeel word: Tema 1 Luister aandagtig. God praat met ons deur die Seun (1:14:13); Tema 2 Nader God in Jesus Christus as Hoëpriester (4:14-10:31); Tema 3 Volg volhardend vir Jesus Christus as Begin en Voleinder van die geloof (10:32-13:17). In elkeen van hierdie temas vorm die vermaning/oproep die spits, met die leerstellige uiteensetting die funderende basis. Met besondere insig in die heilsgeskiedenis het die skrywer dit wat gedoen moet word, verweef met dit wat geglo word. Die leer kom dus nie van bo-af op die gelowiges neer nie, maar word op eg pastorale manier vanuit hulle belewenisvlak belig. Die skrywer wil dus op simpatieke en taktvolle manier hierdie gelowiges in `n proses van hervisioenering inlei. Hulle moet hier vanuit die heil van God in Jesus Christus opgerig word met `n lewende hoop.

Die teksgedeelte vir die geleentheid vorm die slotgedeelte van die derde tema en bestaan uit `n aantal oënskynlik losstaande vermaninge. Dit hou egter verband met pastorale behoeftes wat reeds in die voorafgaande twaalf hoofstukke aangespreek is, soos verderaan aangetoon sal word.

13:7 Die perikoop begin met `n oproep tot die gemeente om spesifiek aan hulle "voorgangers" te dink. Hulle was die eerstes wat "die Woord van God" aan hulle verkondig het. Waarskynlik het hulle behoort tot die kring aan wie die Here Self die boodskap van "groot saligheid" verkondig het (2:2, 3 vgl. ook 1:1). Hulle vorm dus die eerste skakel met Jesus Christus, die Grondlegger en Voorloper van ons geloof. Hulle was die persone wat aan sowel die sendingfase as die aanvanklike geloofsboufase, deel gehad het. Die gemeente moet hierdie persone gedurig onthou en veral let op hulle lewenswandel tot die einde toe (ekbasis). Met sowel hulle lewenswandel as hulle geloofsvolharding stel hulle `n voorbeeld wat nagevolg behoort te word. Hierdie oproep wil spesifiek voorkom dat die voorgangers blote niksseggende inskrywings op naamlyste word. Hulle, saam met die "skare geloofsgetuies" (12:2 met terugwysing na hfst. 11), is volgens die skrywer `n belangrike faktor in die geloofsverstaan en volharding van die gemeente.

13:8 Die Christelike geloof rus egter op `n dieper fondament. Die voorgangers en die skare geloofsgetuies kon net volhard omdat hulle op Jesus Christus vertrou het. Op Hom kan hulle vertrou want Hy is "gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde". Hy is die bron en fondament van die geloof vir opeenvolgende geslagte. Dat Jesus dieselfde bly, sê meer as dat Hy onveranderlik is. Dieselfde bly, beteken konstant bly. Dit staan in skerp kontras met wisselvallig en onbetroubaar wees, so tipies van die mens wat verander soos die giere lei. Jesus Christus is egter nie vandag so en môre weer anders nie. Ons kan op sy plan, sy onderneming, sy liefde, sy versekering en sy trou sonder huiwering of bekommernis reken. Hy is die Begin en die Voleinder van die geloof (12:2). Die verlossing wat Hy bewerk het, is `n "ewige verlossing".

13:9 Daarom word die lesers gewaarsku om hulle nie te laat meevoer deur die "bonte verskeidenheid van vreemde leringe" nie. Wat die leringe presies behels het, word nie uitgespel nie. Dit is egter onwaarskynlik dat hier verwys word na sogenaamde Christelike sektes, soos sommige verklaarders wil. Meer in lyn met die argument wat deur die hele geskrif loop, wil dit voorkom asof die skrywer sinspeel op diegene wat nog aan die Ou-Testamentiese seremoniële wette, onder andere eetgebruike en kossoorte, vasgehou het en dit as verpligtend wou invoer in die gemeente. Vergelyk soortgelyke probleme waarmee Paulus geworstel het (Rom. 14:14, 21; 1Kor. 8:4-13; Kol. 2:16). Die skrywer wys egter daarop dat die onderhouding van sodanige gebruike geen geestelike voordeel inhou nie. Dít bring nie in gemeenskap met God nie. Inteendeel, dit blokkeer die besef dat die hart (die mens in sy diepste wese Spr. 4:23) net deur genade versterk word. Daarom die waarskuwing dat hulle nie deur al hierdie leringe "meegevoer" moet word nie.

13:10-16 Hierdie paar verse bied `n kernagtige samevatting van die uiteensetting en vermanings van die voorafgaande twaalf hoofstukke.

13:10 herinner die gelowiges aan die voordele wat die priesterlike bemiddeling van Jesus vir hulle meegebring het (vgl. 4:14-16; 5:9-10; 10:19-22).

13:11-12 herinner weer aan die daad van Jesus se offer en die gevolge vir die mense (vgl. 9:1-10:18).

13:13-16 herinner aan die paslike reaksie van lojaliteit, eer en diens van dié wat deur Jesus verlos en geheilig is om God se teenwoordigheid te mag binnegaan, uitgedruk deur die metafore van offer en kultus (vgl. 3:6, 12-14; 6:9-10; 10:19-25, 32-39; 12:1-4, 13-17).

13:14 herinner aan die doel van die geloofsreis/pelgrimsreis (vgl. 4:1-11; 6:19-20; 11:8-16; 12:22-24). Meer spesifiek dring 13:13-14 aan op `n respons van lojaliteit op grond van Jesus se offer.

Die verklaring in 13:10 dat die gelowiges `n "altaar" het waarvan diegene wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om te eet nie, verdien nader toeligting. In die eerste plek moet dit verstaan word teen die agtergrond van die reg wat die Ou-Testamentiese priesters gehad het om dele van die diere- en ander offers te ontvang as voedsel (Lev. 7:5-6; Num. 18:9-20). Slegs een offer is hiervan uitgesonder, te wete die offer op die jaarlikse versoendag. Daarvan is niemand toegelaat om te eet nie. Nadat die hoëpriester die bloed van die offerdiere in die heiligdom ingebring het vir die versoening van die sonde van die volk, is die karkasse buite die laer/kampplek verbrand (Lev. 16:27). Die skrywer plaas nou hierdie gebeure binne die konteks van die Christelike versoeningleer. Die uitdrukking "buite die laer" (kampplek) voorsien die kontinuïteit in 13:11-13. Soos die karkasse van die offerdiere "buitekant die laer" geneem en verbrand is, so het Jesus ook "buitekant die stadspoort" gely en met sy eie bloed die volk van hulle sonde gereinig. Anders as wat egter die geval met die diereoffers was, is Jesus se liggaam nie soos die karkasse verbrand nie. Ook is sy bloed nie deur `n hoëpriester in die heiligdom van die tempel ingeneem nie. Hy het as Hoëpriester sy eie bloed in die hemelse heiligdom aangebied as `n versoening vir die sondes (9:12). Deur sy toedoen het die "altaar" `n tafel geword waarby die gemeente telkens tot sy gedagtenis mag aansit. Kennelik speel gedagtes in verband met die nagmaal hierop in wanneer na die eet van die besondere altaar verwys word (13:10). Diegene wat egter aan die offerdiens van die ou orde vashou, het aan hierdie versoeningsmaal (ete) nie deel nie.

Die uitdrukkings "buite die laer" (kampplek) en "buite die stadspoort" verkry binne die verbande wat sover aangedui, is diepsinnige betekenis. Vanuit die kant van die mense in die stad gesien wat Jesus wou kruisig, was die plek van kruisiging juis `n teken van volledige verwerping en straf. Wanneer die Hebreërskrywer dit egter verbind met die Ou-Testamentiese uitdrukking "buite die laer/kampplek", kom ook `n ander dimensie in sig. "Buite die laer" was nie net die plek van diegene met aansteeklike siektes of vir mense wat met afsondering gestraf is nie (Num. 5:2-4; 12:14-15; 15:32-36). Dit was trouens die plek waar die tent van ontmoeting deur Moses opgerig is, dus die vindplek van God, plek van sy teenwoordigheid (Eks. 33:7-11). Reg deur die geskrif word die toenadering tot God gesien as `n losmaking van en uitbeweeg uit die sone van gemak en gevestigdheid, uit die denk- en waardesisteme van die menslike samelewing (11:26). Dit word ook skerp geïllustreer deur die geskiedenis van Israel se uittog uit Egipte. Vir hulle wat in God se beloftes belangstel, is dit nie moontlik om maar te bly in en vas te groei aan die wêreld se sisteme en waardes nie. Daarom die oproep van die Hebreërskrywer (13:13, 14). Die geloofsgemeenskap moet uitsluitlik gefokus wees op waar Jesus Christus is en wat Hy vir hulle gedoen het. Hulle dankbaarheid daarvoor moet hulle gestalte gee deur uit te beweeg na Hom toe en die smaad te dra wat Hy moes dra. In elk geval het hulle in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, maar soek hulle na die toekomstige (11:20; 12:22). Dit bring hulle permanent in `n oorgangsituasie, nie meer by die plek van waar hulle weggetrek het nie en ook nog nie by die plek waarheen hulle op weg is nie. Hulle is en bly vreemdelinge in die volste sin van die woord.

Die oproep in 13:15 om `n lofoffer te bring, vloei voort uit die feit dat Christus die offer vir die sonde gebring het. Die gelowiges hoef dit nie te herhaal nie. Aan hulle word die geleentheid gegee om deur Christus onophoudelik aan God `n lofoffer te bring vir sy genadegawe. Hierin gaan Jesus Christus hulle voor. Die eenmalige en finale afrekening met die sonde deur die bloed van Christus bring `n allesoorweldigende blydskap en dankbaarheid in die lewens van die gelowiges tot stand. Die gepaste antwoord hierop is die lofoffer van die lippe wat sy Naam bely. Dit staan skerp teenoor die ydellike gebruik van die Naam van die Here, asook teenoor alle vorme van bitterheid en laster.

13:16 beklemtoon dat die lofoffer aan God nie net lippetaal is nie. Dit bly onvolledig as dit nie ook die sorg vir die medemens insluit nie. Terwyl gelowiges onophoudelik die lof van die Here besing, moet hulle ook besig wees om goed te doen deur te dien en uit te deel. Egte belydenis van God se Naam, sluit dus ook diens en hulp aan die medemens in.

Vers 17-19 sluit die perikoop af met dieselfde tema as waarmee dit begin het (13:7-9). Die gemeente moet ook hulle huidige voorgangers erken. Uit `n verhouding van aanvaarding, samewerking en voortdurende voorbidding word `n ruimte ontsluit waarin die gemeente pastoraal opgebou word en God se genadewoord sy vrye deurwerking kan hê.

Preekvoorstel

Dit sal vir enige prediker reeds duidelik wees dat dit nie maklik gaan wees om uit so `n uiteenlopende aantal vermaninge/oproepe/waarskuwinge `n samehangende boodskap te maak nie. Die preekgeskiedenis oor hierdie Skrifgedeelte bevestig dit. Die meerderheid van die preke en preekstudies gaan oor `n enkele vers of oor twee of drie verse wat saamgegroepeer is. Dit spreek dus vanself dat hierdie perikoop besondere eise aan die prediker stel. Soveel te meer as dit ook as geleentheidsteks moet dien.

Tema: Om in Christus te glo, vra volhardende navolging en diens

In die lig van wat pas gesê is oor die perikoop, is dit wenslik dat die prediker die verskillende elemente wat hier ter sprake gebring word, kortliks herhaal. Dit help om `n verwysingsraamwerk te vorm vir wat volg.

Die oproep om te glo, en volhardend te glo, word so dikwels gemaak dat `n mens dit maklik as vanselfsprekend kan beskou. Tog spreek dit geensins vanself nie. Eerder is die teendeel waar. Geen wonder dus dat die Hebreërskrywer hierdie oproep by herhaling tot die geloofsgemeenskap gemaak het nie. Hy doen dit egter steeds in die wete dat dit `n veeleisende oproep is. Dit kan vergelyk word met `n opdrag om teen `n sterk stroom in te swem. Dit vra moed, inspanning en aanhou. Die oomblik dat die swemmer verslap, dryf hy/sy weer stroom af. Dat hierdie stroom waarteen die Christen vandag moet inswem, sterk en breed vloei, word op baie maniere bevestig. `n Mens kan maar net dink aan die uitdaging wat die volgende bied: die propagering van meervoudige godsdienskeuses; van alle godsdienste as gelyke verlossingsweë; die opskorting van alle godsdiens-propaganda; die uitrangeer van godsdiens uit die samelewing na die private lewe van die individu. Voeg daarby `n samelewing wat tot in sy wortel geskud word deur misdaad, promiskuïteit, geweld, wetteloosheid, aftakeling van die Christelike godsdiens en die kerk, en die resep vir ontnugtering en wanhoop is geskrywe. Dit lei daartoe dat baie die kerk óf verlaat óf hulle aktiewe deelname aan die gemeentelike lewe opskort. Hieruit is dit duidelik dat die oproep tot volharding in die geloof nie maar `n gemeenplaas is nie, maar `n uiters aktuele gebeure. Die wyse waarop die Hebreërskrywer hierdie vermaning inklee, is vir die geloofsreis van alle tye van groot belang.

Onthou julle voorgangers. Voorgangers is om twee redes van groot belang: Hulle was die eerste skakel(s) vir die koms van die "woord van God" na die Hebreërs. Hulle kom waarskynlik uit die kring wat die Woord van God nog by Jesus self gehoor het (2:3). Danksy hulle het die bekendmaking van God se heilswoord `n uitkringende beweging geword. Dit was egter vir hulle nie net leerstellings nie, maar `n nuwe manier van lewe. Dít het hulle enduit gedemonstreer. Dit is vir elke gemeente nodig om die wyse waarop die evangelie na hulle gekom en in mense se lewens beslag gekry het, voortdurend in herinnering te roep. Dit word `n onmisbare rugsteun vir diegene wat nou moet volhard om te glo. In hoofstuk 11 gee die skrywer aangrypende verhale van wat geloof bereid was om te offer. As dit so was in die ou bedeling, hoeveel kragtiger moet dit nie deur werk in die nuwe bedeling nie. Ken ons die verhale van voorgangers in ons land wat ondanks byna bomenslike beproewinge volhard het om die evangelie te bedien en uit te lewe?

Die geheim van die voorgangers was egter nie hulle volharding nie, maar die fondament waarop hulle kon bou, naamlik Jesus Christus. In Hom word verlede, hede en toekoms ingebind onder die allesinsluitende heilsdaad van God. Jesus Christus is die absolute betroubare, die Begin en die Voleinder van die geloof (12:2). Hy het nie vir die kruis en die lyding en vernedering wat daarmee gepaard sou gaan, teruggedeins nie (12:2b), maar "buitekant die stadspoort" gely om ons deur sy bloed te reinig (13:12). As Hoëpriester het Hy met sy eie bloed die hemelse heiligdom ingegaan en vir ons `n ewige verlossing bewerk (9:12). Op hierdie fondament is elke Christelike geloofsgemeenskap gevestig ook my nietig klein en kwesbare geloofsreis! Wanneer Jesus "buite die laer"/"buite die stadspoort" gekruisig word en sterf, word `n radikale breuk geslaan tussen die ou verbond en die nuwe bedeling. In Hom het `n volledig nuwe bedeling ingetree. Die ou verbond met sy bloedige offers en bemiddelende priesterdiens is finaal beëindig. Ons mag direk toetree tot die troon van God. Wie hierdie heilsdaad van God in Jesus Christus in gedagte hou, voor oë hou, sal nie geestelik vermoeid raak en uitsak nie (12:3). Dié wat glo, mag eet van hierdie "altaar" (Jesus se offerdaad) en telkens in hulle geloof vernuwe word.

Geloofsvolharding vra egter offers. In die eerste plek roep hierdie gebeure "buite die laer" "buite die stad" alle volgelinge van Jesus Christus op om Hom te volg na waar Hy buitekant die laer (stadspoort) gely en smaad verduur het (Matt. 16:24, 25). Die "laer/stad" word hier gesien as simbolies van die mens-georiënteerde samelewing. Daar kan ons God nie ontmoet nie! Die radikale eise van Jesus se koninkryks-boodskap staan volledig haaks hierop. Dit vra van elke mens wat binne die maniere van dink van die wêreld leef, `n volledige bekering (Mark. 1:14). Wie gehoor gee en Jesus volg, ontdek dat hulle in dié wêreld geen vaste verblyf het nie, maar soek na die toekomstige! Hulle word vorentoe gedryf die toekoms in. Tweedens beteken geloofsvolharding om werklik te verstaan wat God in Jesus Christus vir die mens en die wêreld gedoen het. Wie dit ontdek het, kan nie stilbly nie, maar moet uiting gee aan `n oorweldigende dankbaarheid. Daarom die oproep om God deur Jesus onophoudelik te loof! Hierdie lof word gebring deur die lippe wat God se Naam bely. Dit gebeur in gebed, stille nadenke, verootmoediging, indringende gesprek, spontane sang en getuienis. Maar die onophoudelike lof aan God is meer as net lippetaal. Wie egter die Naam van die Here op sy/haar lippe neem, ontdek dat God nie los staan van sy kinders nie. Iemand het eendag gesê: "Die pad na God gaan nie by my medemens verby nie. Dit gaan by my medemens langs (aan)." Daarom bestaan die lofoffer aan God in die derde plek uit goed doen en mededeelsaam wees. Die geestelike offer het as onlosmaaklike komplement die materiële offer en omgekeerd. Dit is offers wat vir God "aanneemlik is" (Matt. 25:34-40; Luk. 6:36). Dit beteken volgens die skrywer ook dat God dit in gedagte hou (10:32). As mens God loof, word alles wat jy is en het, daarby betrek.

Om in die geloof te volhard beteken om ook in daaglikse voorbidding vir die bediening in die gemeente te volhard. Die belangrike rol wat die voorgangers het, is afhanklik van die gereelde voorbidding, lojale samewerking en hartlike aanvaarding van die geloofsgemeenskap. Die bediening van God se Woord en van die herderlike sorg kan net tot volle ontplooiing kom as die geloofsgemeenskap die ruimte daarvoor skep. Waar dit gebeur, ervaar beide partye dat hulle gedra word elkeen deur die ander! So vind wedersydse opbou tot volwassenheid in Christus plaas.

Volhard in die geloof!

Bibliografie

Brown, R 1982. The message of Hebrews; Bruce, F F 1964. The Epistle to the Hebrews; DeSilva, D A 2000. Perseverance in gratitude. A Socio-Rhetorical Commentary on the Epistle "to the Hebrews"; Goppelt, L 1978. Theologie des Neuen Testaments; Grosheide F W, 1955. De Brief aan de Hebreeën; Hegermann, H 1988. Der Brief an die Hebräer; Käsemann, E 1957. The wandering people of God; Klijn, A F N 1975. De Brief aan de Hebreeën; Ladd, G E 1975. A theology of the New Testament; Calvyn, J 1552. Preken over de kerk in het gepredikte Woord; Costas, O E 1982. Christ outside the gate. Mission Beyond Christendom; W Kistner, 1988. Outside the camp. A Collection of essays; Smit, Dirkie 1987. Die geloof dan is Oordenkings en Bybelstudie uit Hebreërs.