21 NOVEMBER 2004

SONDAG VAN CHRISTUS DIE KONING feesdiens

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Hebreërs 12: 1-3

Ander tekste: Jeremia 23:1-6; Psalm 98; Kolossense 1:11-20; Lukas 23:33-43

Inleiding

Die laaste Sondag van koninkrykstyd kondig ook die einde van die kerklike jaar aan en staan bekend as Sondag van Christus die Koning. Dit staan ook by die oorgang na Adventstyd en herinner ons daaraan dat Christus die Koning ook die Here is wat weer in heerlikheid sal kom.

Die liturgiese kleure vir hierdie Sondag is wit en goud wat ook aangevul kan word met die koningsblou/pers van Advent. Simbole van koningskap soos n kroon en n septer kan die kanselkleed of baniere in die aanbiddingsruimte versier. Dis verkieslik om hierdie simbole met n kruismotief te kombineer om te verseker dat die viering van die dag nie te triomfalisties verloop nie.

Indien die responsoriese gedeeltes in die liturgie om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in n gemeente is, kan n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

n Gepaste Taizé-lied, byvoorbeeld Lied 224, 225 of 227 kan ten aanvang deur n koor of n kleiner ensemble gesing word.

Aanvangswoord

Psalm 98:4-9 kan as aanvangswoord benut word.

Seëngroet

Aan almal in. (gemeentenaam) wat aan God behoort, getroue broers en suster in Christus;

Genade en vrede vir julle van God ons Vader! (n.a.v. Kol. 1:2).

Aankondiging van die koningskap van Christus

Lees Kolossense 1:15-20.

Aanbidding en lof

Gepaste lofliedere wat handel oor die koningskap van Christus, kan nou gesing word, byvoorbeeld Lied 168, 175, 201, 202 of 216/NSG 156.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing uit die Ou Testament

Jeremia 23:1-6

Skriflesing uit die psalms

Psalm 98

Skriflesing uit die evangelie

Lukas 23:33-43

Prediking

Stille nadenke

 

 

Geloofsbelydenis

Die Geloofsbelydenis van Nicéa, of as alternatief Henk Temmingh se toonsetting van die Apostoliese Geloofsbelydenis (Lied 259 in die Liedboek van die Kerk)

Voorbidding

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalgebed

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die brood,

die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.

Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die wyn,

die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.

Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger: Mag die Here met julle wees!

Gemeente: En ook met jou!

Voorganger: Hef op julle harte.

Gemeente: Ons hef dit op tot die Here.

Voorganger: Kom ons bring dank aan die Here ons God.

Gemeente: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Voorganger: Here, ons God, dit kom U toe dat ons dank en eer aan U bring

oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.

Na sy opstanding uit die dood

het Hy aan sy dissipels verskyn

en is Hy terwyl hulle dit sien, in die hemel opgeneem,

om daar aan u regterhand te regeer as die Koning van die konings.

Daarom prys ons u Naam saam met die hemelwesens,

saam met die profete en apostels,

saam met alles wat asem het.

Gemeente: Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

Hosanna vir die Seun van Dawid!

Prys Hom wat in die Naam van die Here kom!

Hosanna in die hoogste hemel!

Voorganger: Here God, Skepper van die hemel en die aarde,

U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.

Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom

sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.

Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem,

en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:

"Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis."

Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê:

"Hierdie is die nuwe verbond in my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis."

Gemeente: Ons verkondig u dood, Here Jesus!

Ons vier u opstanding uit die dood!

Ons wag op u koms in heerlikheid!

Voorganger: Here ons God,

ons roep vandag die lewe van u Seun Jesus Christus in herinnering,

sy lyding en sy dood aan die kruis,

maar veral ook sy triomf oor die dood

en sy Koningsheerskappy by U in die hemel.

Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees

sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,

n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.

Deur Christus, saam met Christus, in Christus,

behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,

in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.

Gemeente: Amen.

Voorganger: As volgelinge van die Here Jesus Christus bid ons nou saam:

Gemeente: Die "Ons Vader"-gebed (kan ook in die vorm van Lied 266 of NSG 325 gesing word)

Vredesgroet

Die gemeentelede groet mekaar met n handdruk of omhelsing met die woorde: "Mag die vrede van die Here met jou wees."

Die instellingswoorde van die nagmaal, uitgespreek deur die voorganger word gevolg deur die Agnus Dei (as alternatief kan Lied 379 gesing word):

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Wees ons genadig.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Ontferm U oor ons.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Here, gee ons u vrede.

Uitdeling van die tekens en kommunie

Lofprysing

n Gepaste lied kan deur n koor gesing word moontlik die Halleluja-koor uit Händel se Messias, of die openingsgedeelte uit die Gloria van Vivaldi. Alternatiewelik kan die gemeente een van die Hallelujas uit die Liedboek sing, byvoorbeeld Lied 218 of 228.

Dankgebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Lied 215: 1-5 (of een van die ander liedere hierbo genoem)

Seën

Mag God julle deur al die wysheid en die insig wat die Gees gee, tot volle kennis laat kom van wat sy wil is.

Mag julle tot eer van die Here lewe deur net te doen wat Hy verlang.

Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.

Mag God wat oor die mag en die heerlikheid beskik, julle versterk en aan julle al die krag gee om in alle omstandighede met geduld te volhard (n.a.v. Kol. 1:9-11).

Sang

Amen (deur die gemeente gesing in een van die weergawes in die Liedboek, Lied 312-316).

As alternatief vir die seën kan NSG 355 of 356 gesing word.

PREEKSTUDIE HEBREëRS 12:1-3

Teks en konteks

Die skrywer van Hebreërs sluit in 12:1-3 aan by die slot van hoofstuk 10 en sit die tema voort wat daar onderbreek is. Daar word die lesers vermaan om nie hulle "vrymoedigheid" ("geloofsvertroue") prys te gee nie, maar "volharding" aan die dag te lê. Hulle moet uit die geloof lewe en nie "terugdeins" nie (sien preekskets van 14 Nov). Nadat die vermaning onderbreek is om eers n uiteensetting te gee van die wesenlike betekenis van "geloof", soos dit tot openbaring gekom het in die lewens van n groot aantal gelowiges uit die Ou Testament, word dit nou herhaal, maar met groter krag. Met die woorde "daarom dan ook" waarmee vers 1 begin, word die geloofsgetuienis van hierdie gelowiges as verdere aansporing tot volharding voorgehou, wat aanleiding gee tot die voorhou van die sterkste motivering; die voorbeeld van die grootste van alle geloofsgetuies, Jesus.

Die geloofstryd van die Hebreërs word deur die skrywer in 12:1-3 in die beeld van n wedloop vasgevang. Die gebruik van die beeld of metafoor van een of ander atletiese wedywering om die geestelike stryd van gelowiges te illustreer, kom meermale in die Bybel voor (vgl. 1 Kor. 9:24-27; 2 Tim. 2:5; 4:7). In hierdie teksgedeelte word dit op meesterlike wyse hanteer. Ons moet ons n arena voorstel, volgepak met toeskouers en aanmoedigers onder wie n groot getal persone is wat reeds die wedloop voltooi het. Hulle sit almal op die hoofpaviljoen rondom die koninklike losie. En langs die koning in die losie sit die atleet wat eerste die wenpaal bereik het, nadat hy die onmoontlikste struikelblokke op die baan oorwin en vernietig het struikelblokke wat al die ander atlete sou verhinder het om die wedloop te voltooi. Die wedloop kan slegs n soort maraton wees, waar dit uiteindelik om uithouvermoë en volharding gaan. Alle deelnemers wat die eindpunt binne die vasgestelde tyd bereik en dit so voltooi, verkry die prys (soos in die geval van die Comrades-maraton). Die atlete op die baan wat met uiterste kraginspanning voortbeur, put inspirasie uit die aanskouing van die groot getal op die pawiljoen wat reeds die wedloop voltooi het nadat hulle getrou die baan van die voorloper gevolg het. Daar is ook baie wat uitgesak het wat hulle kan ontmoedig. Daarom word hulle aangemoedig om te fokus op die voorloper wat die baan vir hulle gebreek het, die eersteling, die wedloopwenner wat langs die koning sit. Hy het die wedloop tot n volmaakte hoogtepunt gevoer en dit vir almal wat op sy spore met volharding hardloop, moontlik gemaak om die wenpaal te bereik. Sy oorwinning is hulle bron van krag.

Met so n beeld van die bekende wedlope van daardie tyd in gedagte, sou die lesers van Hebreërs die aangrypende geestelike waarhede wat die skrywer aan hulle wou oordra, makliker inneem. Laubach sê, op grond van hierdie beeld, dat die navolging van Jesus nie n onskuldige uitstappie is nie, maar dat dit die hoogste eise aan ons krag stel. n Nadere ondersoek van die verskillende elemente waaruit die beeld saamgestel is, bevestig die waarheid van die siening.

Groot skare geloofsgetuies: Hulle is baie duidelik die geloofstryders wat in hoofstuk 11 aan ons ten toon gestel word "en elkeen van die geloofshelde wat daar ter sprake kom, se lewe kan en moet vir ons, wat steeds met die wedloop besig is, as n besondere voorbeeld dien" (Hanekom). Laubach gaan selfs verder en met verwysing na vers 23 lei hy af dat die geeste van die verlostes in die hemel deelneem aan die weg van die gemeente op aarde, die triomferende gemeente is in verbinding met die strydende en lydende gemeente. Getuies moet egter nie hier verstaan word as mense wat op die hardlopers afkyk bloot om getuies van hulle stryd te wees nie. Brown sê tereg: "we must surely be encouraged by the fact that we are surrounded by former contestants, who are witnesses to us of the faithfulness of God." Murray stem saam dat hulle getuies is wat getuienis aflê oor die krag van die geloof: "Hulle getuig almal dat hulle deur die geloof volhard en die oorwinning verkry het. Hulle roep ons toe as uit een mond: Hou moed, wees sterk in die geloof, vrees geen lyding of stryd nie, die oorwinning is seker en heerlik. Moenie moeg word om die wedloop te loop nie!"

Grosheide wil getuies verstaan soos in 11:2 en 39; dat daar "vanweë hulle geloof oor hulle met soveel lof getuig is" hulle het God se beloftes deur die geloof toegeëien as besitting, al het hulle dit nog nie verkry nie. Dit is die getuienis wat die hardlopers moet aanspoor. Die woord "getuies" is die vertaling van marturoun wat die gewone Griekse woord vir getuies is. Bruce wys daarop dat die gebruik daarvan in Hebreërs een van die eerste voorbeelde is waar die woord n Christelike betekenisverandering begin ondergaan het in die sin van "martelaar". Binne die volgende eeu was die nuwe betekenis vasgelê. In die sin skryf Ignatius dan ook oor hierdie getuies: "The divinely inspired prophets lived according to Jesus Christ. That is precisely why they were persecuted, being inspired by His grace, so as to convince the disobedient that there is one God, who has manifested Himself through Jesus Christ His Son . . ." (aangehaal deur Bruce). Bruce voeg by: "They have borne witness to the faithfulness of God; they were in a manner of speaking witnesses to Christ before His incarnation, for they lived in the good of that promise which has been realised to Him." Vir Barclay is hulle getuies in n dubbele sin: "those who have witnessed their confession to Christ and they are now those who are witnesses of our performance."

Elke las afgooi die sonde wat maklik verstrik: Die hardlopers moet streng dissipline op hulself toepas. "Elke las" (ogkon panta) wat net hier in die Nuwe Testament voorkom, verwys na enigiets wat die atleet se liggaam verhinder om optimaal te funksioneer. Dit kan die las van oorgewig, gebrek aan oefening of oortollige klere wees. Die Hebreërs sou hierdie beeld goed verstaan het, omdat dit destyds die gebruik van atlete was om letterlik byna kaal te hardloop. In die wedloop van die geloof is daar baie dinge wat as sodanig nie verkeerd of skadelik is nie, maar wat die hardlopers verhinder om hulle beste te lewer en daarom afgelê behoort te word. Maar dan is daar "die sonde wat so maklik verstrik" (euristaton hamartian). Du Toit roep hier die beeld op van n lang, loshangende kleed wat die draer verhinder om te hardloop, omdat dit gedurig om hom slaan. Ook vir Bruce gaan dit hier nie om die een of ander "besetting sin" in die gewone sin van die woord nie, maar om die sonde self, as iets wat onvermydelik die voete van die hardlopers belas en hulle laat struikel voordat hulle enkele treë gevorder het. Die sonde self, met sy omknellende en verstikkende uitwerking, moet afgegooi word en daarmee word effektief ook afgereken met enige "losstaande" sondige praktyk.

Met volharding hardloop: Sien Preekstudie 14 November vir n volledige bespreking van "volharding" (hupomonẽ). Daar is geen hoop of kans om die wedloop suksesvol te voltooi sonder die volharding soos vermeld in 10:36 nie. Die goeie begin van die wedloop (vgl. 10:32-34; Gal. 5:7) bring geen beloning mee as daar voor die eindstreep uitgesak word nie.

Die oog gevestig op Jesus: Hoe groot die inspirerende waarde van die "getuies" vir die hardlopers in die geloofswedloop ook al mag wees, word hulle nie as die uiteindelike rolmodelle voorgehou nie. Jesus is die rolmodel op wie alle aandag toegespits moet word. Die "oog gevestig" (aphorountes) op dui op die handeling van iemand wat, bewus van die dinge wat sy aandag wil en kan aflei, doelbewus van hulle af wegkyk. Hierdie "wegkyk" na Jesus moet van die begin van die wedloop volgehou word tot die einde toe. Brown stel dit skerp: "Running the race is possible only whilst they are looking not to the encouraging witnesses, the present contestants, the goal, or even the promised reward, but to Christ alone, or they will either drop out through distraction or collapse with exhaustion." Van die getuies sê hy dat hulle ons wel kan inspireer, maar nie kan bekragtig nie. Daarvoor moet ons na Jesus kyk. In hierdie teksgedeelte word die klem baie sterk gelê op Jesus se volkome menswees. Dit skyn die rede te wees waarom die Christus-titel ontbreek. Hy is die rolmodel, juis omdat Hy die geloofswedloop as waaragtige mens oorwinnend afgelê het. Daar is n herbeklemtoning van die feit in 2:17 genoem, dat Hy "in elke opsig aan sy broers gelyk" geword het. Sy broers en susters op die renbaan mag en moet dus met Hom identifiseer, want dit is in sy menslike natuur dat Hy die Begin en Voleinder van die geloof is.

Begin en Voleinder van die geloof: Die woord archegos, wat in die NAV met "begin" vertaal is, beteken in Grieks hoof, militêre leier, prins, hoofouteur of stigter. Dit word deur verskillende kommentare ook vertaal met "pathfinder", "trailblazer" en pioneer. Dit kom slegs vier maal in die Nuwe Testament voor en is elke keer op Jesus van toepassing (Hand. 2:15; 5:31; Hebr. 2:10; 12:2). In hierdie vers beskryf die woord Jesus tegelyk as Begin/Stigter/Outeur en Voorloper/Leidsman van die geloof waarin ons moet volhard. Hy is beide die "ontwerper" daarvan en die eerste en volmaakte voorbeeld van hoe dit beoefen moet word, waar Hy deur sy lyding en dood sy geloof in God se oorwinnende liefde oor die sonde nooit prysgegee het nie (G. Delling in Theol. Dict. of the NT; G.W. Bromiley). Maar as Voorloper is Hy terselfdertyd die Leidsman wat die hardlopers persoonlik in die wedloop begelei. Dit is moontlik omdat Hy ook die "Voleinder", of Vervolmaker, of Voltooier (teleioten) van die geloof is. Hy het reeds hierdie voltooiing profeties aan die kruis aangekondig met die uitroep tetelestai ("dit is volbring"). Maar sy geloofstaak het in werklikheid eers voltooiing bereik nadat Hy sy plek aan die regterhand van die troon van God gaan inneem het en die Heilige Gees uitgestort het om so sy teenwoordigheid vir altyd onder die hardlopers wat in sy spore volg, te bevestig. Hierdie geloofsvoltooiing bevestig nie net sy teenwoordigheid met hulle nie (Joh. 14:18, 25; 15:26; 16:7-11), maar ook in hulle (Joh. 15:1-8). Hy is gedurig besig om aan die volhardende hardlopers sy geloofskrag mee te deel. Brown stel dit mooi: "He brings the faith of the former saints (11:40) and ours to triumphant completion. He makes it all perfect and He alone. Our moral integrity is essential but that cannot bring our faith to completion. Our devoted service is valuable, but that cannot perfect our faith. Our spiritual experiences can be inspiring and illuminating, but Jesus is faiths only consummator. Believers rely completely on Him for He ran the greatest race right to its finish and we come to fulness of life in Him." Paulus sluit in Galasiërs 2:20 hierby aan, waar hy getuig dat Christus in hom leef en dat hy (Paulus) nou sy lewe deur die geloof van Christus leef. (Ek aanvaar die vertaling van die Authorised Version van hierdie vers as korrek. DPB.) Deur die werking van die Heilige Gees word die geloofskrag van Jesus oor die hele lengte van die wedloop aan ons meegedeel totdat ons ook geloofsvoltooiing bereik het by die wederkoms van die Voleinder. Dan lewe ons nie meer deur die geloof nie, maar deur aanskouing. Intussen dui "die oog gevestig" op die aanskouing van Jesus deur die geloof en dit beteken terselfdertyd n innige verhouding met Hom deur die Heilige Gees.

Die "Voleinder" het die geloof "tot hoogtepunt gebracht". Jesus is dié geloofsheld geen ander kom naby Hom nie. By Hom ontbreek alle onvolmaaktheid en onvoltooidheid. Meer is nie moontlik nie. Daarom moet die oog alleen op Hom gevestig wees (Grosheide).

Die vreugde in vooruitsig: Die betekenis van "vreugde" hang saam met hoe die voorsetsel anti vertaal word. Grosheide lees dit as "in ruil vir" of "in plaas van". Daarom vertaal hy: "Hij, die in ruil voor de vreugde, welke Zijn eigendom was, het kruis verdroeg . . ." Dit sien dan op die vreugde voor sy menswording wat Hy vrywillig prysgegee het toe Hy die geloofsweg van ontlediging en bitter vernedering tot in die skandelike kruisdood bewandel het. Dat Grosheide n perspektief aanhaal, wat in volkome harmonie is met Filippense 2:5-8, ly geen twyfel nie, maar Bruce en ander vind dit nie gepas vir hierdie konteks nie. Dit gaan hier immers om die mens Jesus en nie om die Seun se pre-eksistensie nie. Die vertaling "ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was", gee die toekomsperspektief wat die konteks vereis. Bruce verbind die "vreugde", met Jesus se oorwinnaarsverhoging tot die "regterhand van die troon van God". Sy verheerliking daar met alles wat dit beteken vir die welsyn van sy volgelinge en vir die oorwinning van God se plan met die skepping, is die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was en waarvoor Hy Homself aan skande en dood onderwerp het. Daar kan n noue verband gelê word tussen die vreugde waarvan hier gewag gemaak word en die blydskap waarna Jesus self herhaaldelik verwys in die laaste gesprek met sy dissipels voor sy dood (Joh. 15:11; vgl. 16:20, 21, 22, 24) en wat Hy in sy hoëpriesterlike gebed ook op hulle afbid (Joh. 17:13). Hierdie vreugde behoort daarom ook n kenmerkende komponent van die lewenshouding van die hardlopers in die geloofswedloop te wees.

Hou Hom voor oë: Die Hebreërs-skrywer spoor in vers 3 die lesers aan om hulle optrede in die wedloop noukeuriger met dié van Jesus te vergelyk. Die woord wat in die NAV met "hou. . .voor oë" vertaal is, beteken om met aandag te weeg en te oorweeg. Die "vyandige optrede van die sondaars teen Hom", slaan ongetwyfeld op die plaasvervangende karakter van Jesus se werk. Die "sondaars" het Hom op die allergruwelikste wyse weerstaan ("teëspraak" OAV) en dit het sy lyding so swaar gemaak. Maar Hy het dit met volharding deurstaan (hupomemenekota) ter wille van sy volk. Die vrug daarvan mag die Hebreërs pluk en die skrywer moet diegene wat dreig om van die lewende God afvallig te word (3:12), veral op hierdie vrug wys. n Aandagtige oorweging van hierdie feite sal die hardlopers help om nie "geestelik moeg (te) word en uit (te) sak nie" (gedagtes van Grosheide). Hanekom interpreteer hierdie vers as n vermaning aan die lesers om hulle eie situasie met dié van Jesus te vergelyk die opofferings wat hulle moet maak teenoor dit wat Hy moes verduur. "Dit is alleen wanneer ons dit doen en bewus word van die vyandige teenstand (letterlik "teenspraak" antilogia) wat Jesus moes verduur, dat ons eie probleme gerelativeer word. Mense wat letterlik hulle eie lyding en swaarkry vergelyk met dit wat Jesus gedoen het, kry nuwe moed en word nie moeg nie."

Uitsak en geestelik moeg: Hierdie twee woorde beskryf die groot gevaar vir die hardlopers. Hulle kan moeg en uitgeput van die fisiese inspanning word (kamẽte) en/of hulle kan geestelik (in hulle siele OAV) afgetakel word (pais psuchais humoun ekluomenoi) sodat hulle moed en motivering verloor. Dit is om hierdie gevaar te bekamp dat die oog op Jesus gevestig moet bly. William Barclay rond sy kommentaar op hierdie beeldryke teksgedeelte treffend af: "The writer to the Hebrews uses two very vivid words when he speaks of fainting and growing weary. They are the words which Aristotle uses of an athlete who flings himself on the ground in panting relaxation and collapse after he has surged passed the winning post of the race. So the writer to the Hebrews is in effect saying: Dont give up too soon; dont relax before the tape; dont collapse until the winning post is passed; stay on your feet until you get to the end!"

Preekvoorstel

Hierdie tekskeuse vir prediking op die laaste Sondag van die liturgiese jaar is besonder gepas. Uit die materiaal voor hande kan n preek saamgestel word oor die "geloofswedloop" van die gemeente oor die afgelope jaar. n Oorsig van die wel en wee van die gelowiges op die "renbaan" kan aangedurf word en deur die toepassing van die beeldryke vermaninge van die teksgedeelte kan die geloofsoë weer skerper op Jesus ingestel word met die oog op die jaar wat voorlê en die toekoms.

Die metafoor van die wedloop van die geloof is so beeldryk dat daar ook oor elkeen van die beeldelemente afsonderlik gepreek kan word; die getuies, die hardlopers se voorbereiding, Jesus as rolmodel, Jesus as geloofsvoleinder, die vrywaring teen vermoeidheid en verslapping.

Die preek sou ook kon aansluit by die preek van 14 November en in sekere sin n voortsetting daarvan wees. Die Hebreërs-skrywer sluit in 12:1 direk aan by 10:39 en sit dieselfde tema in versterkte vorm voort; die gelowiges se volharding in die geloof. Die waarskuwing wat in beide teksgedeeltes opklink, is teen die gevaar van terugdeinsing/onttrekking wat ooreenstem met geestelike moegheid/verslapping en uitsakking. Maar in albei Skrifgedeeltes is daar verwysings na mense wat deur oorwinnende geloofslewe hierdie gevaar afgeweer het en as getuies kwalifiseer. Hierdie getuies spoor ander aan tot geloof en in terme van die wedloopbeeld tot volharding op die baan. Daar is drie kategorieë en die preek kan oor hierdie drie kategorieë getuies gaan

Die eerste kategorie is die "hardlopers" wat met die wedloop besig is en teenoor hulleself en mekaar getuies is van hulle goeie begin. Hier word aangesluit by 10:32-34. Dit sal nie verkeerd wees nie om wat in die preek van 14 November oor hierdie goeie begin gesê is, te herhaal. Die swakheid van dié getuienis is dat dit wel "vrymoedigheid" kan aantoon, maar nog nie "volharding" kan bevestig nie, omdat die wedloop van hierdie getuies nog aan die gang is. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die eie ervaring van geestelike hoogtepunte in die verlede nie n waarborg is teen verslapping nie.

Die tweede kategorie van getuies is dié wat in hoofstuk 11 en 12:1 ten toon gestel word. Hulle het volhard, die wedloop voltooi en oorwin, maar nie in eie krag nie. In die preek kan uitgebrei word op hulle geloofsvertroue op die beloftes van God, alhoewel hulle die vervulling daarvan nie belewe het nie. Vir die "hardlopers" op die baan is hulle getuienis inspirerend, maar daar kan nie volkome met hulle geïdentifiseer word nie omdat daar ook in die beste onder hulle se lewens skadukolle was. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat alhoewel groot inspirasie geput kan word uit die getuienis van geloofstryders wat vir ons vooruitgegaan het, hulle nie as volmaakte rolmodelle kan dien vir ons wat nog "hardloop" nie.

Die derde kategorie het net een getuie Jesus. Met Hom en slegs met Hom moet die "hardlopers" identifiseer. Dit is waaroor 12:1-3 gaan. Die inhoud en betekenis is onder Teks en konteks hierbo uiteengesit.

Die preek kan afgesluit word met n oproep aan die gemeente om getuies van Jesus se getuienis te wees.

Bibliografie

Barclay, W (DSB); Brown, R (BST); Bruce F F (NICNT); Du Toit. G D (Die Brief aan die Hebreërs Deel II); Grosheide, F W (KV); Laubach, F (Wup.St.); Murray, A (In die Heiligdom Deel 2); Hanekom, A R Woord teen die Lig 1/8; Bromiley, G W Theolocical dictionary of the New Testament; Brown, Colin dictionary of New Testament theology (Vol. 3).