21 Desember 2003

Vierde Sondag van Advent

Liturgiese voorstel

Fokusteks: Hebreërs 10:5-10

Ander tekste: Miga 5:2-5a; Lukas 1:47-55; Psalm 80; Lukas 1:39-55

Storielyn en Adventstoeligting

Die fokusteks sê dat die rede vir en die betekenis van die vleeswording daarin geleë is dat Christus letterlik sy liggaam aanbied en offer as instrument in God se allesomvattende heilsplan vir die wêreld, daarom is Betlehem die prelude tot Golgota. Israel verlang vuriglik na hierdie heilsbedeling, daarom bid Psalm 80 die Adventsgebed: "Verskyn tog aan ons, red ons, hou U hand oor ons" – en Miga 5 beloof dat hierdie bede verhoor sal word as die Koning in Betlehem gebore word. In die lofsang van Maria (Luk. 1:56 e.v.) word die allesomwentelende en transformerende krag van hierdie Koning uitgejubel deur haar (en hulle) wat haar (en hulle) tot beskikking van God stel omdat sy (hulle) vas glo "dat in vervulling gaan wat die Here beloof het" (Luk. 1:45). Hiertoe moet die liturgie die gemeente beweeg: in gebed, lied, verkondiging tot by die tafel van die Here waar die gemeente Hom begroet wat gekom het, kom en weer sal kom.

God versamel ons voor Hom

Na die Adventstoeligting word die vierde Adventskers aangesteek terwyl die orrel die melodie van Lied 320 speel.

Votum

U wat oor die gerubs troon, verskyn tog aan ons! Laat dit met ons goed gaan, O God, verskyn tog tot ons redding! (Ps. 80:2, 4)

Seëngroet

Christus sal na vore kom en sy volk lei deur die krag wat die Here hom gee.

Hy sal vrede bring (Miga 5:3, 4).

Lofliedere

320:1-3, 5/NSG; 345

Lied 320:1, 2, 3, 5/NSG 63:1, 2, 3, 4

Lied 345:1, 2, 4/NSG 81:1, 2, 4

Verootmoediging

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is:

Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied,

dat jy liefde en trou sal bewys,

dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Om die Here te dien, dit is wysheid (Miga 6:8-9).

Genadeverkondiging

Hy sal ons weer genade betoon,

Hy sal ons sondes tot niet maak,

U sal al ons sondes in die diepsee gooi (Miga 7:19).

Respons van gemeente Lied 354:4/NSG 65:4

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Dame lees Lukas 1:46-55 voor.

Skriflesing

Hebreërs 10:1-10

Prediking

Gemeenterespons

354:1-3/NSG 65:1, 2, 3

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalepiklese

Die volgende gebed kan gebid word wat "onderbreek" word deur die sing van Gesang 6:2 en 3 wat aansluitend en voortvloeiend uit die gebed is:

In die volheid van die tyd het U u Seun, Jesus Christus, na Betlehem gestuur om ons sondes daarvandaan tot aan die kruis te kom dra. Om alles met God te kom versoen, om die vrede te kom herstel. Ons prys u Naam saam met die hemelse wesens, die profete en apostels, saam met alles en almal wat asem het.

Die gesang word voor die gebed aangekondig. Die orrelis begin hier net speel en die gemeente val in. Ná die sang gaan die liturg voort met die gebed.

Sing sittend: Gesang 6:2, 3

Ons dank U vir Jesus Christus, u enigste Seun, wat vir ons gebore is, wat tussen ons kom leef het, wat mense geleer, versorg, gedien het. Ons dank U dat Hy oorgelewer is ter wille van ons sonde, dat Hy gesterf het, dat Hy opgestaan het, sodat ons vrygespreek kan wees.

In die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: "Dit is my liggaam, dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis." Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: "Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit elke keer as julle daaruit drink tot my gedagtenis."

Terwyl ons dan nou die nagmaal van die Here vier, dank ons U vir die lyding en sterwe en opstanding van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Ons dank U dat Hy leef en regeer en dat Hy weer sal kom.

Here, gee aan ons die genadige werking van die Heilige Gees, sodat ons geloof deur die viering van hierdie maaltyd versterk sal word met die oog op beter en meer ywerige diens aan u koninkryk. Bind ons deur u Gees onderling in liefde saam as lede van die een liggaam. Gaan voort om u gemeente te vergader uit alle volke, nasies en tale. Gee dat die ryk van vrede wat U in u Seun Jesus Christus beloof het, spoedig in sy volle heerlikheid sal aanbreek, soos Miga 5:3, 4a beloof het.

Ons bid nou soos U ons geleer het:

Gemeente bid die Onse Vader hardop.

Liturg: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra,

Gemeente: ontferm U oor ons.

Liturg: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra,

Gemeente: gee ons vergifnis.

Liturg: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra,

Gemeente: gee ons vrede.

Instellingswoorde

Neem, eet, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot ’n volkome versoening van al ons sondes. Neem, drink en dink daaraan en glo dat sy kosbare bloed vergiet is tot ’n volkome versoening vir al ons sonde.

Uitdeling en kommunie

Geloofsbelydenis

Insameling van die liefdesoffers

Aankondiging en voorbidding

Sang

Lied 344:1, 2, 3/NSG 77:1, 2, 3

Seën

Die almagtige God, Hy wat tot ons redding verskyn het,

Is by en met u in hierdie dag ... en al die dae wat voorlê. Amen.

Sang

Lied 312 "Amen" of enige van die volgende 314, 315 of 316

PREEKSTUDIE – HEBREëRS 10:5-10

Teks

Attridge bespreek Hebreërs 10:1-10 as `n eenheid: "The earthly sacrifice of the New Covenant." Hy verdeel die perikoop in twee segmente. Klijn, Fensham en Guthrie hanteer `n groter eenheid (10:1-18), maar het telkens `n eie opskrif: "Christus heeft het ene volmaakte offer gebracht" (Klijn); "Die onvolkome offer van die Wet teenoor die volkome offer van Christus" (Fensham), en: "His offering of himself for others" (Guthrie). Die leesrooster se afbakening verskil van al die genoemde indelings, en vra dus om verheldering. Dit is selfs kleiner as dié van Attridge. Trouens, dit is slegs een van die segmente van sy perikoopafbakening. Die tema van ons fokusteks word egter duidelik deur die verskillende skrywers se opskrifte aangedui.

Die leesrooster se fokusteks begin met die woord "daarom" (n.a.v. Gr. dio). In hul grammatikale analise van die Griekse Nuwe Testament vertaal Zerwick en Grosvenor dié woord binne die konteks van ons teks met: "so it is that." Louw en Nida bespreek dié woord onder die semantiese domein "verhoudinge", in die sub-domein "resultaat" of "gevolg". Hulle verduidelik die semantiese betekenis daarvan as: "relatively emphatic markers of result, usually denoting the fact that the inference is self-evident - `therefore, for this reason, for this very reason, so then’."

Die woord waarmee ons fokusteks begin, lui `n afleiding of gevolgtrekking in. In dié sin word die aanvang van die leesrooster se afbakening met `n duidelike literêre merker aangedui. Wat vervolgens aan die orde kom, is `n gevolgtrekking vanuit `n bepaalde argument. Daarom behoort vers 5 ook in sy verband met die voorafgaande gedeelte (1-4) gelees te word. Maar wat is die tema van die voorafgaande argument waarvan vers 5 e.v. `n noodwendige gevolgtrekking (self-evident inference) bied? In dié verband kies ek vir Attridge se indeling, asook sy tematisering van die twee segmente: "The first contrasts old and new as shadow and reality (vs. 1). The second half of the pericope contrasts with the old sacrifices the decisive sacrifice of Christ, interpreted by means of a citation from Psalm 40 (vs. 5-7)."

In die NAV word die tema van vers 1-4 met vier woorde aangedui: "Die wet van Moses" (Gr. slegs twee woorde: ho nomos). Die wet (Gr. nomos) word verbind aan die voorskrifte om offers (Gr. thusiais) te bring, maar vers 1 sê uitdruklik dat die wet beperkinge het met betrekking tot die verlossing van sonde vir dié wat offers bring – die aanbidders (Gr. latreuontas). Die offers het wel `n positiewe funksie, naamlik dat dit herinner (Gr. anamnesis) aan die mens se sonde (Gr. hamartión) wat voortduur. Dit het dus die simboliese betekenis dat die aanbidder behoefte het aan verlossing. Die jaarlikse offers het verder die funksie dat die bloed (Gr. haima) van bulle en bokke as simbool van reiniging, nie in staat is om sondes weg te neem nie (3&4). In dié sin beklemtoon die offers die simboliese leegheid daarvan. Dit kan nie die behoefte aan verlossing bevredig nie, maar beklemtoon eerder die noodsaaklikheid dat die behoefte bevredig moet word.

Die beklemtoning van die feit dat die aanbidder se behoefte aan verlossing bevredig moet word, bring die "daarom" van vers 5 in spel. Nou is dit nie meer die wet van Moses wat in die sentrum staan nie, maar Hy wat na die wêreld gekom het (Gr. eiserchomenos eis ton kosmon). Die NAV stel dit só: "Daarom sê Christus met sy koms na die wêreld..." In die lig van die kragteloosheid van die bloed van diere offers om sonde weg te neem, word Christus se koms na die wêreld gemotiveer.

Die dio aan die begin van ons fokusteks lei die noodwendige gevolgtrekking in, naamlik dat Christus gekom het om die armoede van die simboliese bloed van diere offers met krag en effektiewe verlossing te vul. Die outeur sluit vir sy argument (5-7) by Psalm 40:7-9 aan, en interpreteer dit Christologies. Hebreërs haal oorvloedig uit die Torah aan (meestal die LXX weergawe), en gebruik die Wet, die Profete, en die Geskrifte (Johnson). Vers 8-10 is `n parafrasering van die psalm, met die doel om die samehang tussen vers 1-4 en 5-7 aan te dui. Die strukturele verband van dié perikoop sluit aan by wat vooraf geskryf is. Tematies, sê Attridge, sit die paragraaf die teenstelling tussen die aardse en die hemelse voort, wat tussen 9:1-10 en 9:11-14 ontwikkel is.

Die resultaat van Christus se koms na die wêreld in verhouding tot die offers wat deur die wet voorgeskryf is, word in vers 9 aangedui, naamlik dat God die wetlike voorskrif om offers van diere te bring, afgeskaf het. In die plek daarvan het Jesus Christus sy liggaam (Gr. sómatos) as offer gegee (10). Dit is `n eenmalige en finale offer (Gr. ephapax). In die volgende perikoop word die "bloed van Jesus" (19) beklemtoon (Bierman). Dié offer van Christus het `n deurslaggewende rol gespeel ten opsigte van die aanbidders se verhouding tot God. Daardeur is "ons" (Gr. esmen) voor God heilig verklaar (Eng. "been made holy" – NIV), vir Hom afgesonder (NAV – Gr. hégiasmenoi). Dit is die "werklike beeld (Gr. eikonia) van die weldade wat sou kom" (1). Dit vervang die wet met sy offers as "skadubeeld" (Gr. skian) daarvan (vgl. Johnson). Christene het deur Christus toegang tot die hemelse werklikheid verkry, sonder verdere bemiddeling van die gebruiklike offersisteem (Ascough).

Oliver vat die boodskap van ons perikoop in die volgende woorde saam: "Omdat Jesus die volk se hoëpriester is, verwys die outeur na die jaarlikse sond-offer wat namens die volk op die Dag van Versoening gebring is. Daardie diereoffers kon egter nie in die werklike behoeftes van die mens voorsien nie, want die Levitikus kultus kon nie die gewete van die mense skoonmaak nie. Jesus was egter die effektiewe priester wat selfs hierdie versperring tussen mens en God verwyder het, deurdat Hy as offer gegee is (9:26). Die outeur vind die wese van hierdie offer reeds in Psalm 40:6-8, waar die persoon besef het dat die diereoffer nie sy saak met God kan regstel nie, en besluit het om homself aan God toe te wy. Hierdie persoon se woorde word herhaal in Christus se woorde in 10:5, wanneer Hy na die wêreld kom. So is die volk geheilig deur die bloed van Jesus (10:10) en kan hulle die heiligdom van God betree op grond daarvan (10:19)."

Konteks

Die konteks van die kerklike seisoen van Advent herinner aan drie aspekte van Christus se koms na die wêreld. Eerstens word fees gevier oor God se koms na die wêreld in Jesus Christus. Tweedens herdenk die kerk haar ervaring dat God na ons toe kom en ons in hierdie lewe vernuwe. Derdens kyk die kerk vooruit na `n toekoms, `n onbekende tyd wanneer Christus weer kom en God in die menslike geskiedenis sal inbreek. "Thus, the focus of Advent is the triple coming of Christ: in history, in grace, and at the end of time" (Ascough). Al drie aspekte van Advent beklemtoon die belangrikheid van gereed-wees.

Die Revised Common Lectionary, Episcopal Book of Common Prayer en Roman Catholic Lectionary plaas die fokus vir dié laaste Sondag van Advent op voorbereiding vir Christus se menswording in die verlede. Die liturgiese lesings vir dié Sondag begin met Miga 5:2-5a se boodskap oor die koms van die herder-koning van Israel en sy geboorteplek’ Betlehem. Psalm 80:1-7 roep tot die Herder van Israel met `n drieledige pleit om herstel en redding. Hebreërs 10:5-10 fokus in meer besonderhede op die messiaanse verlossingsplan. Die evangelie lesing (Luk. 1:39-56) lig Maria se rol uit, die persoon deur wie die Messias in die wêreld gebore word. Verlossing (salvation) is `n belangrike tema in dié lesings, maar "we must be conscious that their focus is not simply spiritual salvation but also a new sociopolitical reality in which the poor and oppressed are brought liberation" (Ascough).

Die literêre konteks van ons teks beklemtoon die boodskap dat God mens geword het! Die simboliek van Hebreërs is kompleks en afgelei van verskillende tradisies. Die skrywer omvorm bestaande simbole rondom die figuur van die gekruisigde en verhoogde Messias (Johnson). Ascough wys daarop dat die anonieme Joodse Christen wat die Hebreërbrief skryf, Platoniese denkbeelde gebruik en aanpas in sy poging om dié boodskap te vertel (vgl. Johnson; Attridge). Alles in die materiële werklikheid is onvolmaak en wisselend. Dit sal uiteindelik tot niet gaan. Vir die skrywer van die Brief is die verskynsels van die wêreld net dowwe weerkaatsings van die hemelse werklikheid (1). Daarom kan hy argumenteer dat, alhoewel die Torah offers ter versoening van sonde voorskryf, dit blote skadubeelde was van wat met Christus se koms na die wêreld sigbaar sou word.

Die literêre konteks (7:1-10:18) van ons teks vorm volgens Goppelt (In Bierman) die hoogtepunt van die Hebreërbrief’ die leerstellige deel. Die inhoud van Hebreërs val in twee duidelik onderskeibare komponente uiteen, `n tetiese of leerstellige en `n parenetiese of vermanende, aanmoedigende deel. Die skrywer vleg die twee gedeeltes ineen (Robinson). Hy begrond sy raad, vermanings en bemoediging (parenetiese) in die belangrike waarhede (leerstellige) van die Christen se geloof (Bierman; vgl. Johnson). Die leerstellige gedeeltes dra `n Christologies-kultiese karakter (veral 7:1-10:18), terwyl die vermanende gedeeltes histories-ekklesiologies van aard is (veral 2:1-4; 3:7-19; 4:14-16; 5:11-6:20; 10:19-39 en 12:1-13:25) (Robinson). In die leerstellige deel waarin ons teks val, word Christus se verlossingswerk in terme van die Ou-Testamentiese kultus (met sy hoëpriester, heiligdom, offers) beskryf. Met `n duidelike prentjie van Jesus en sy verlossingswerk, wil die skrywer sy lesers in hul geloof versterk (Bierman).

Ascough wys op `n derde konteks waartoe ons teks die leser oproep’ dié van antieke Israel. Die kenmerkende Christosentriese fokus van ons teks staan nie teenoor die godsdienstige ervaring van antieke Israel nie. Die aansluiting by Psalm 40 beklemtoon juis `n belangrike gedagtelyn in die Hebreeuse Bybel, naamlik dat God nie `n behoefte het aan offerande sonder die totale mens se volkome toewyding nie. Vir baie van die vroeë Christene wat uit die Jodedom oorgekom het, was dit nie `n probleem om in Jesus as die Christus (Messias) te glo nie. Hulle het wel probleme ervaar met die gedagte dat sy dood verlossingswaarde het, en so in die niemandsland tussen tempeldiens en Christusdiens beland. Vir hulle was die liturgiese sentrum leeg. Die simbole het hulle nie aangespreek nie (Robinson). Die Hebreërskrywer sluit by die sentrale gedagte van geregtigheid in die Joodse godsdiens aan. Godsdienstige rituele en praktyke wat nie gestalte vind in dade van sosiale geregtigheid nie, is vir God verwerplik. Godsdiens behels veel meer as die bring van offers en die bloed van bulle en bokke. Diens aan God vra oorgawe en toewyding.

`n Vierde konteks is dié van die eerste lesers. Die Hebreërbrief is gerig aan mense wie se geloof kwaai deur hul omstandighede getoets is (Bierman). Die gehoor was beslis Christene (6:1-3) wat goed bekend was met die Skrifte (Johnson). Die skrywer as pastor sien egter kommerwekkende tekens in die gemeente. Robinson noem die volgende: (a) Gebrek aan die wil tot geloofsgroei (5:11-6:3); (b) Hulle bly van gemeentelike samekomste weg (10:24); (c) Die talle vermanings, aanmoedigings en waarskuwings bied stippellyne vir `n omvattende probleem, waarvan die hart is, dat God met hulle deur die Seun (1:2) gepraat het. Hulle openbaar egter `n verkeerde gesindheid van ongeloof, raak afvallig van die lewende God en misgis hulle met die mag van sonde; (d) Hul kompromiehouding oor die sonde werk `n negatiewe siening van die tug in die hand (12:5-11). Die vraag waarmee hulle toenemend geworstel het, was of dit sin maak om `n Christen te wees. Wat help al die dinge wat hulle van Christus weet?

`n Vyfde konteks is die etiese en die impak daarvan op die lewe. Ons kan nie werklik verstaan wat `n lewe van oorgawe en toewyding aan God beteken nie. Daarom is Jesus se voorbeeld uiters belangrik. God se vleeswording in Christus demonstreer sy liefde vir die mensdom. In sy liefde word dit moontlik om anders na hierdie werklikheid te kyk. Dit roep Christene op tot navolging en motiveer tot dade van geregtigheid. Dat Christus na die wêreld gekom het, maak `n totaal nuwe lewenspraktyk moontlik. Ons het in Christus die werklike beeld van die goeie dinge wat sou kom (1), gesien. Daarom kan en behoort ons (kerk en gelowiges) anders te leef. "No longer is it necessary to sacrifice with a pure heart; we are freed from the ritual in order to enact righteousness and justice" (Ascough). Die gees van afwagting wat in Advent opgewek word, kry in Christus se menswording `n reële kwaliteit wat hier en nou gestalte behoort te kry.

Vir die prediking van ons fokusteks is die Hebreërbrief se Christologie belangrik. Met die oog op `n nuwe geloofsvisie in moeilike omstandighede ontwikkel die skrywer `n unieke tweeledige Christologie en ekklesiologie. Johnson sê: "The Christology of Hebrews is extraordinarily full. It contains a clear statement of the Son’s pre-existence (1:2; 10:5), of his incarnation (2:14-18; 10:5-7), and of his sacrificial, atoning death (1:3; 2:9; 6:6; 7:27)." Hebreërs maak ook buitengewoon baie gebruik van Jesus se titels. Hy gee voorkeur aan sowel die enkelvoudige naam Jesus, met klem op die Messias se mensheid, as die naam Christus, wat die messiaanse werk reflekteer. Die saamgestelde naam Jesus Christus word volgens Johnson slegs drie keer gebruik, onder andere in 10:10.

Volgens Robinson verduidelik die skrywer die unieke betekenis van Christus aan die hand van twee sentrale figure (Moses en die hoëpriester Aaron) uit die geskiedenis van Israel se woestynreis na die beloofde land (vgl. Pretorius). Johnson wys op die basiese argument van Hebreërs wat van die Griekse retoriek oorgeneem is, naamlik `n argument "from the lesser to the greater", of, in sy Hebreeuse vorm, "the light and the heavy". Die argument berus op analogie. Uitgaande van die Mosesvoorbeeld gee hy `n nuwe interpretasie van wat in die Christusgebeure geopenbaar is. Hy vergelyk Jesus met Moses. Soos Moses is Hy ook gestuurde (3:1), bron (5:9), voorloper (6:20), leidsman (2:10; 12:2), borg (7:22), middelaar (8:6; 9:15; 12:24), voleinder (12:2), herder (13:20). Tog is Jesus méér as Moses. Christus as Seun (3:6) het nie in die skaduwee van Moses sy dienswerk begin nie, maar Moses het eerder in die glans van die Seun se heerlikheid sy diens verrig. Die verbinding tussen Christus en Moses wys dat die "woord en wet"-tradisie van die Ou-Testamentiese bedeling in Christus opgeneem en nuut geïnterpreteer word (vgl. Johnson). Dit is dan die een lyn van Hebreërs se Christologie.

Die tweede been van die skrywer se Christologie is die gedagte van Jesus as Hoëpriester. Hierin gaan dit om die kultiese tradisie. Dit was die saak waarmee die gelowiges die eintlike probleem of kortsluiting gehad het. Die skrywer integreer ook hierdie lyn van die Ou-Testamentiese geloofstradisie in sy Christologie wanneer hy oor Christus as die Hoëpriester handel (4:14-10:31). Dit is die verband waarbinne ons fokusteks verstaan moet word. Volgens Robinson kom die kern van sy beredenering daarop neer dat Jesus tegelyk offer en offeraar was. Jesus Christus as Apostel (Moses) en Hoëpriester (Aaron) vergestalt die herstelde kommunikasie tussen God en mens (vgl. Grabe). Hy is God by die mense en Hy is die mens by God! Hierdie punt behoort in die prediking in Adventstyd aandag te kry.

Die Hebreërskrywer beklemtoon deurgaans die beslissende betekenis van die gelowiges se daaglikse manier van lewe (etiese). In alles wat hulle is en doen, moet dit duidelik wees dat hulle aan die Here behoort, vir Hom afgesonder (10) is (Robinson). Met die doel om die Hebreërbrief se fokus in ons teks op die groot werk wat Christus op aarde kom doen het te beklemtoon, sluit Ascough by die film "Simon Birch" aan om te illustreer hoe iemand wat sy roeping deur God verstaan, bereid is om homself (sy eie lewe), soos Christus, op die spel te plaas om die lewe van ander mense te red. Simon Birch was in terme van menslike standaarde iemand sonder aansien, `n anonieme persoonlikheid, `n vaal mannetjie. Hy is met `n buitegewoon klein liggaamsbou gebore en het as sosiale randfiguur in sy geboortedorp gelewe. Simon is deur sy ouers verwaarloos en deur die meeste van sy skoolmaats uitgeskuif, met die uitsondering van sy vriend Joe.

As jong seun het Simon egter geglo dat God `n baie spesiale plan met sy lewe het, en dat deel van daardie plan sy ondergemiddelde liggaamsbou ingesluit het. Op `n dag het hy sy bestaansdoel ontdek. `n Bus vol kinders het in `n ysige meer beland. As gevolg van sy liggaamsbou het Simon die vertroue van die kinders gewen en hulle uit die wrak van die bus gelei. Sy klein postuur het hom ook gehelp om weer in die sinkende bus terug te gaan en `n seun wat vasgeklem is, daaruit te bevry. Vir Simon was hierdie enkele daad die verklaring waarom God hom so klein geskape het. Nieteenstaande die gespot van baie mense het hy daaraan bly vashou dat hy deur God geroep is om sy instrument te wees. So het God se liefde vir mense deur Simon Birch sigbaar geword.

Preekvoorstel

Prediking in Advent adem die gees van afwagting. Hierdie gees moet ook na aanleiding van ons teks tot uitdrukking kom. Daarom stel ek voor dat die prediker ten aanvang van die preek, by die verwagtinge en onsekerheid van die eerste lesers van die Hebreërbrief aansluit. Vir hulle het die verwagting van Christus se wederkoms wat met soveel vuur lewend gehou is, `n laagtepunt bereik. Daar gebeur niks nie! Waarom glo en aanhou glo as jy duidelik sien dit lei nêrens heen nie? Hoe kon hulle seker wees dat hulle sondes vergewe is en dat God hulle as sy eiendom aangeneem het? (Robinson). Hierdie lyn kan dan na die omstandighede en vrae van die kontemporêre Christengelowiges deurgetrek word. Met watter gemoedstoestand herdenk die gemeente vanjaar Advent? Watter vrae lê ten grondslag aan die gemeente se Kersfeesvieringe?

Robinson maak `n voorstel vir prediking uit Hebreërs 4:14-10:31 onder die opskrif: "Nader tot God en hou vas aan die belydenis dat Jesus Christus ons Hoëpriester is." Hy beklemtoon die feit dat ons verhouding met God, ons toegang tot sy heilige troon, nie van ons godsdienstigheid of eie vermoëns afhang nie, maar van die oop toegang wat Hy wat Offeraar en Offer tegelyk was, moontlik gemaak het. Ons het geen tussengangers soos priesters, dominees, pastore of "apostels" nodig om met offers namens ons in te tree nie. Die ontmoeting met God is ook nie beperk tot spesiale geboue/plekke nie. Die toegang tot God is direk en nie gebonde aan plek of tyd nie. In Jesus is ons almal priesters, draers/bedienaars van God se seën. Hierdie argument kan met inligting uit teks en konteks hierbo uitgebou word.

In `n volgende fase van die prediking kan dan op mense se idees van Jesus gefokus word, asook hoe daardie opvatting in Advent en Kerstyd gestalte kry. Baie mense het `n sentimentele houding ten opsigte van die geboorte van Jesus Christus. Daar is `n soort nostalgiese gevoel oor die kindjie in die krip, met `n gepaardgaande verlange na ouerskap. Ascough herinner egter daaraan dat ons teks uit Hebreërs die "horrifying mission" van die kindjie in die krip beskryf. Hy het na die wêreld gekom om sy eie liggaam as `n eenmalige sonde-offer deur die dood heen, aan God te skenk. Daardeur het Hy die weg tot heiliging van die mensdom geopen. Christus het die skeiding tussen God en God se kinders kom ophef. Ascough sê: "God has come into our midst, and through Christ we can enter into God’s midst directly. Yet with this opportunity comes the responsibility to consider the plight of others."

Die direkte toegang tot God en die verantwoordelikheid om ook ander se nood in dié seisoen van die kerkjaar raak te sien, bring die etiese appèl van ons teks ter sprake. Dat Jesus mens geword het, het konkrete implikasies vir hierdie wêreld. Hoe maak die gemeente haar geloof in Christus in dié seisoen konkreet? Die verhaal van Simon Birch wil iets hiervan demonstreer, maar die diepste betekenis daarvan word in Jesus Christus geopenbaar. Omdat Jesus priester is, sê Johnson, moet die Christologie van Hebreërs beide "hoog" en "laag" wees. Ten einde `n waarlik effektiewe offer te bied, moet Jesus die ewige Woord wees, die ware Seun van God. Om egter `n effektiewe middelaar te wees, moet Hy ook volkome mens wees. Daarom die klem op die liggaam van Jesus in 10:5-10. God het mens geword!

Bibliografie

Ascough, R S 2000. Fourth Sunday in Advent, in New Proclamation. Year C, 2000-2001; Attridge, H W 1989. The Epistle to the Hebrews; Bierman, H H 1992. Tweede Lydensondag. Hebreërs 10:19-25, in WtL 1/8; Fensham, F C 1981. Die Brief aan die Hebreërs; Grabe, P 1993. Die relevansie van Hebreërs vir vandag. `n Oproep tot volharding in die geloof, in F A Swanepoel (red). Ontdek die Boek Hebreërs; Guthrie, D 1983. Hebrews. Tyndale; Johnson, L T 1986. The Writings of the New Testament. An Interpretation; Klijn, A.F.J. 1975. De Brief aan de Hebreen (PNT); Louw, J.P. & E.A. Nida 1989. Greek-English Lexicon of the New Testament; Oliver, W 1993. Die gebruik van die Ou Testament in Hebreërs, in F A Swanepoel (red). Ontdek die Boek Hebreërs; Pretorius, E 1993. Die horisontale en vertikale lyne in die Hebreërbrief, in F A Swanepoel (red). Ontdek die Boek Hebreërs; Robinson, P 2002. Leef as geloofsgemeenskap met die oog gevestig op Jesus Christus, in CW Burger & I Nell (reds). Draers van die Waarheid; Zerwick, M & Grosvenor, M 1981. A grammatical analysis of the Greek New Testament.