14 NOVEMBER 2004

DRIE-EN-TWINTIGSTE SONDAG IN KONINKRYKSTYD

Liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Hebreërs 10:32-39 (toegevoeg tot die RCL)

Ander tekste: Haggai 1:15-2:9; Psalm 17; 2 Tessalonisense 2:1-17; Lukas 20:27-38

Inleiding

In al die tekste, behalwe in Lukas, is die volharding van die gelowiges in afwagting van die wederkoms en ten spyte van omstandighede, die storielyn. Gelowiges behoort Jesus daagliks reikhalsend te verwag. Hebreërs 10:34-36 beklemtoon dat gelowiges n besitting in hulle het wat ewig is, onverganklik. Dit is hierdie onverganklike in ons wat ons laat volhard. Psalm 17 se digter is ook onder baie aanvegtinge, maar ten spyte hiervan verbly hy hom in God se teenwoordigheid as hy wakker word. Volhardend bid hy tot God wat verseker antwoord gee. In Haggai handel dit oor die bou van die tempel (God se inwoning onder sy mense) na die terugkeer uit die ballingskap wat die Here se kinders aanspoor om te volhard en hulle goud en silwer weg te gee vir die opbouwerk.

GOD VERsamel ONS VOOR HOM

Seëngroet

Op hierdie plek sal Ek vrede gee,

sê die Here die Almagtige (Hag. 2:9b).

Sang

Lied 595:1, 2 "Ons wag op U, o Seun van God"

Lied 590:2 "Het jy gehoor dat eenmaal"/NSG 138

Lied 588:1, 3 "O God van hoop, gee ons u vrede"

Vra die gemeente wat die liedere hulle van God en van hulleself laat ervaar het. Laat ruimte vir oop antwoorde. Moenie die gesprek probeer beheer nie. Die Woord sal self die skaafwerk doen.

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Psalm 119:169-176

Skriflesing

Hebreërs 10:32-39

Gebed

Psalm 17 as gebed

Meer as een persoon kan help om die gebed deur te bid. Hulle moet net voor die tyd "oefen" om dit reg te doen.

Woordbediening

Sang

Lied 596 "Ons sien vooruit na daardie dag"

Gesang 179 vers 3 se woorde is baie gepas:

"Gods kinders sug, verlostes vra:

Hoe lank sal kwaad ons tart?

Gered in hoop, gee Hy geloof

wat met geduld volhard."

 

DIENS VAN DIE TAFEL

Nagmaalherinnering

Dink in stilte na oor die betekenis van die liggaam en die bloed van die Here Jesus in die woorde van Hebreërs 10:34: "Hier sien ons voor ons die blywende en beter besitting wat ons het."

Sang

Lied 495:2 "Jesus, U verbly my"/ NSG 155

UITSENDING

Skriflesing

"Ons is nie van die wat terugdeins nie;

Christus is ons volharding

en daarom sal ons nie verlore gaan nie.

Nee, ons glo en ons sal lewe" (Heb. 10:39, verwerk).

Hebreërs 10:32-34

Sang

Lied 503:1-3 "Jesus, Rots, my hoop vir ewig"/NSG 45

Seën

En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen,

bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader.

Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade

'n blywende troos en goeie hoop gegee (2 Tess.2:16-17).

 

pREEKSTUDIE HEBREëRS 10:32-39

Teks

Die indeling van Hebreërs 10:32-39 in n afsonderlike paragraaf is sinvol met die oog op die prediking. Dit sluit logies aan by die vermanende gedeelte wat met 10:19 begin en vorm ewe-eens n oorgang na en inleiding tot die leerstuk oor geloof wat in hoofstuk 11 vervat is. Skrifuitleggers lewer graag hulle kommentaar op die teksgedeelte onder toepaslike temas, soos: Laubach Vermaning tot standvastigheid (32-39); Bruce Oproep tot volharding (32-39); Barclay Die gevaar van wegdrywing (32-39). Ander breek dit op in kleiner dele: Murray n Beter en blywende besitting (32-34); Groot beloning wat vrymoedigheid meebring (35); Oor die lydsaamheid (36-39). Brown betrek ook 26-31 by die paragraaf en maak n tweedeling: Bly naby (26-35) met onderafdelings; Waarskuwing (26-32) en Bemoediging (32-35), en Stry voort (36-39). Grosheide verdeel die paragraaf in Herinnering aan vroeëre geloofsdade (32-34) en Samevatting van vroeëre vermanings (35-39), waardeur hy hierdie gedeelte as beklemtoning sien van 2:1; 3:7-15; 5:11-6:12 en 10:19-31 (vertaling van temas deur my DPB). Almal stem egter saam dat dit in hierdie teksgedeelte gaan om volharding in die geloof en die belofte en beloning daaraan verbonde. Daarom val die fokus op die twee sleutelwoorde "geloofsvertroue" (35) en "volharding" (36).

Die woord "geloofsvertroue" waarmee die NAV die oorspronklike parrẽsia vertaal het, skiet tekort. Die 1953-vertaling doen beter met "vrymoedigheid". Letterlik beteken dit "om alles te sê". In die Grieks-Hellenistiese wêreld was die begrip parrẽsia n voorvereiste vir die demokrasie. Dit het objektief gedui op die reg om enigiets te sê, n openheid vir die waarheid en openhartigheid (deursigtigheid). Terselfdertyd het dit ook n subjektiewe betekenis verkry: die moed of selfs onverskrokkenheid om daardie reg te gebruik, veral teenoor belangrike persone of teenoor God. "Dat n mens parrẽsia het, sou dus óf kan beteken dat iemand die reg het om te praat óf dat iemand die durf of moed het om daardie reg te gebruik. Die vertaling "vrymoedigheid" wat die OAV strykdeur verkies, bring waarskynlik meer die tweede of subjektiewe aspek na vore, maar vir Hebreërs is die eerste of objektiewe aspek juis baie belangrik" (Smit). Smit verduidelik laasgenoemde stelling deur daarop te wys dat die feit dat Christus as Hoëpriester die gelowige se reg van vrye toegang tot God verseker juis die vrymoedigheid is. In die Griekse vertaling van die Ou Testament is die woord parrẽsia baie skaars. Die gebruik daarvan in Levitikus 26:13 soos deur die OAV weergegee, is verhelderend: "Ek het julle jukskeie verbreek en julle regop laat loop". "Parrẽsia is inderdaad die reg om regop te mag loop, voor God en die mense vry, nie langer n slaaf, bevrees en verdruk nie, maar fier. Hierdie reg, saam met die durf om dit wel te mag doen . . . is parrẽsia" (Smit).

In Hebreërs het parrẽsia oorwegend n objektiewe karakter. Dit is iets wat gelowiges besit en waaraan hulle tot die einde toe onwrikbaar moet vashou (OAV) en is gerig op die hoop (3:6). Dit is die reg en vryheid van toegang tot God deur die bloed van Christus op grond van sy hoëpriesterlike bediening (4:14-15; 10:19). Maar in 10:35 skuif die klem ook na die subjektiewe. Gelowiges moet nie hierdie reg en vryheid (vrymoedigheid) weggooi en hulle dus aan die stryd onttrek nie (39). Die afleiding is beslis nie vergesog nie, dat hierdie gelowiges onder die druk van vervolginge in die versoeking was om hulle vrymoedigheid voor die mense prys te gee op die gevaar af om ook hulle vrymoedigheid voor God te verloor. Daarom word hulle op die groot beloning wat op volhardende vrymoedigheid volg, gewys. Bruce vereenselwig hom met die deurgaanse vertaling van parrẽsia as "boldness" deur die American Revised Version. Soos in 3:6 dui "boldness" in 10:35 vir hom op die moedige belydenis wat Christene onwrikbaar behoort te handhaaf, met spesiale verwysing na standvastigheid in moeilike en ontmoedigende omstandighede. Hy haal WC van Unnik soos volg aan: "it is, so to say, the content of the Christian attitude in the world, the security of Gods salvation and the open confession amidst of opposition."

"Volharding", die tweede sleutelwoord, is die vertaling van hupomenẽ. In die OAV word dit met "lydsaamheid" vertaal. In die Griekse wêreld het hupomenẽ die dubbele betekenis gehad van standvastigheid en verwagting. Dit het gedui op die uitstaande deug van moedige verduring. In onderskeiding van geduld het dit die aktiewe betekenis van energieke, alhoewel nie noodwendig suksesvolle, weerstand nie, gehad byvoorbeeld die verdra van pyn deur gewondes, die kalm aanvaarding van teenslae, manmoedigheid onder liggaamlike marteling, maar ook volgehoue ferm weiering van omkoopgeskenke. Ware hupomenẽ word nie aangevuur deur openbare mening of verwagting van beloning nie, maar ontspruit innerlik en mik na die bevrediging van eergevoel. So vind dit sy neerslag in die Stoïsynse filosofie.

In die Nuwe Testament beskrywe hupomenẽ n basiese houding van gelowiges met die oog op die toekomsgerigtheid van hulle geloof. Teenoor n vyandige wêreld wag hulle met vertroue op die in vervulling gaan van die profetiese woord oor die koninkryk en hulle verlossing. Na God gekeer is hulle verwagtend en wagtend (2 Tess. 3:5; Op. 1:9) en na die wêreld gekeer is hulle standvastig en volhardend (Mark. 13:13; Luk. 8:15; 21:19; vgl. Hand. 14:22). Paulus beskryf ook die hooftrekke van hupomenẽ as n Christelike lewenshouding. Dit is nie die gevolg van heldhaftigheid of ongevoeligheid nie, maar van geloof en hoop (Rom. 8:25). Dit openbaar uithouvermoë in hierdie bedeling van boosheid en onreg (Rom. 12:2; 1 Kor. 3:7). In aktiewe sin bring dit goeie werke voort (Rom. 2:7), en in passiewe sin verduring onder lyding (2 Tess. 1:4; vgl. 1 Pet. 2:20). In teenstelling met die Griekse etiek, wat passiewe lyding onder die kwaad as skandelik beskou, weet Christene dat hulle geroep word om te ly (Hand. 14:22) en hulle openbaar hulle geloof deur desnieteenstaande te volhard (vgl. 2 Tim. 2:10). Swaarkry (verdrukking) kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof (Rom. 5:3-4). Hierdie volharding word deur God gegee (Rom. 15:5) en staan in noue verband met geloof en liefde (1 Tim. 6:11; 2 Tim. 3:10; Tit. 2:2). Soos die geloof en liefde werklikheidsgestalte kry in dade van geregtigheid en barmhartigheid, kry die hoop werklikheidsgestalte in die verwagtende volharding (vgl. 2 Tim. 2:11-13). Ook Hebreërs doen n sterk beroep op die lesers om hupomenẽ te beoefen (10:32, 36; 12:1). Deur die wil van God op hierdie wyse te volbring, kan hulle ook seker wees dat hulle sal ontvang wat God beloof het.

Die vermaning om te volhard met die oog gerig op die toekoms wat God beloof het, word in vers 37 en 38 ondersteun deur twee aanhalings uit die Griekse vertaling van die Ou Testament (Septuagint; Jes. 26:20; Hab. 2:3-4). Bruce wys daarop dat in die aangehaalde Septuagint-vertaling die skrywer van Hebreërs klemverskuiwings aan sekere woorde gee. Hier is dit nie slegs op die vervulling van die openbaring dat die profeet beveel word om te wag nie, maar vermoedelik op n verwagte verlosser. As hierdie verlosser verskyn, sal hy die geregtigheid van God handhaaf en die verdrukker vernietig; as hy egter terugdeins (hom onttrek), is dit die bewys dat hy nie God se uitverkore werktuig is nie. As hy nie terugdeins nie, bewys hy dat hy God se uitverkore werktuig is, God se "Regverdige", en dat hy deur sy geloofsgetrouheid sal lewe. Die betrokke verlosser word nie "God se Gesalfde" genoem nie, maar die Septuagint se interpretasie van die gedeelte is in wese Messiaans. Die Hebreër-skrywer pas hierdie profesie toe op die wederkoms van Christus. Die sinsnede waarmee hy die aanhaling uit Habakuk inlei ("nog net n kort tydjie"), is waarskynlik n verwysing na die Septuagint-vertaling van Jesaja 26:20 ("verberg jou vir n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan"). In sy aanhaling van Habakuk 3:4 ruil die skrywer die twee sinsnedes van die vers om, sodat hy dit van toepassing kan maak op die Christen-gelowige. "Die (My) regverdige sal uit die geloof lewe" (OAV) word toegepas op die gelowige wat in die versoeking verkeer om te wonder of Christus ooit volgens sy belofte weer sal kom; waarop dan die waarskuwing volg van God se misnoeë met hom as hy aan die versoeking sou toegee om van sy Christelike belydenis terug te trek na sy vroeëre lewenswandel, dit wil sê as hy volhard in die geloof sal hy die lewe verwerf (toekomsgerig), maar as hy terugdeins (hom onttrek) sal hy homself as verworpeling bevind. (Vir n volledige bespreking van die gedeelte sien Bruce, p. 271-275.)

Vers 39 staan in kontras met 38(b) en vorm terselfdertyd die oorgang en inleiding na die uiteensetting van geloof in hoofstuk 11. Die skrywer maak die stellige aanspraak dat hy en die lesers nie van diegene is wat onttrek en verlore gaan nie, maar wat glo en die lewe behou. Hy kan dus met vrymoedigheid voortgaan om die wese en aard van die saligmakende geloof verder vir hulle uiteen te sit: "They had begun their Christian career in that carefree spirit which accepts without questioning the assurance of Christ that whosoever would save his life shall lose it; and whosoever shall lose his life for My sake and the Gospels shall save it (Mk. 8:35). Let them maintain that spirit of faith to the end, and they would certainly gain their souls and `lay hold on the life that is life indeed (1 Tim. 6:19). That this will prove true with our author and his readers alike is his firm assurance" (Bruce).

Konteks

n Goeie begrip van hierdie teksgedeelte hang ten nouste saam met die vraag na wie die Joodse Christene (Hebreërs) was en waar hulle hul bevind het. Vers 32-34 voorsien die enigste interne getuienis. Direkte uitwendige getuienis ontbreek. `n Antwoord op die vraag na wie die verse verwys, is dus spekulatief. Bruce se poging om hulle te identifiseer, lewer één moontlike geloofwaardige resultaat. Om die identifikasie te vergemaklik betrek hy 12:4 ("Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie" OAV) by die verse. Hiervan lei hy af dat die mense aan wie die skrywe gerig is, vervolging gely het, maar dat niemand tot in daardie stadium die martelaarsdood gesterf het nie. Daarmee word die kerk in Jerusalem met martelare soos Stefanus en Jakobus, uitgeskakel. Hy oorweeg ook die situasie van die Joodse Christene in Rome tydens en na die vervolging van Nero in 64 n.C., maar omdat hierdie vervolging talle martelare opgelewer het, word hierdie gemeente om dieselfde rede nie oorweeg nie. Hy bevind egter dat hierdie verse redelikerwys geïnterpreteer kan word met verwysing na keiser Claudius se uitsetting van die Jode uit Rome in 49 n.C., weens die onluste wat hulle veroorsaak het. "The common inference from Suetoniuss account that these riots resulted from the recent introduction of Christianity into the Jewish colony in Rome is supported by the fact that two of the expelled Jews, Priscilla and Aquila (who settled in Corinth where Paul made their acquaintance in A.D.50), were Christians at the time. A large-scale eviction of this nature would inevitably have been attended by widespread looting by the city proletariat, together with many other kinds of indignities." Dat die Joodse Christene hulle onder hierdie omstandighede gedra het soos beskryf in vers 32-34, is meer as waarskynlik. Nie alleen het hulle soos goeie atlete van Christus vas gestaan nie, maar hulle het ook solidariteit betoon met dié wat lyding, openbare vernedering en bespotting ondergaan het. Ook het hulle dié wat in die gevangenis gesit is, openlik besoek en ondersteun, op die gevaar af om self gevange geneem te word. Hulle het selfs die plundering van hulle besittings nie met gelatenheid nie, maar met blymoedigheid aanvaar (Luk. 6:22). "This attitude of mind is precisely that faith of which our author goes on to speak."

Hoe het die optrede en geloofsgetuienis van hierdie Joodse Christene nou verander dat die skrywer hulle teen terugdeinsing en onttrekking moet waarsku en hulle aan hulle "eerste liefde" herinner? Die meeste kommentare steun die siening dat verdrukking en vervolging vir hierdie mense verskerp het en dat daar vir hulle geen einde daarvan in sig was nie. Die wederkoms bly uit en die gevaar neem toe dat van hulle kan tou opgooi. Smit haal vir Lewis aan wat meen dat die aanhaling in vers 37 uit Jesaja 26:20 wel van belang is. Daar adviseer die profeet tot n houding van "verberg jou vir n klein oomblik", as die beste strategie tot oorlewing in so n tyd van "grimmigheid". Volgens hom, sê Smit, was daar bes moontlik mense onder die Hebreërs wat hulle hierop beroep het en die aangewese optrede in die tyd van vervolging gesien het in só n lewenstyl van onttrekking en verberging. Hulle sou dit beskou het as n legitieme en "faithful mode of waiting out the time before the parousia". Die standpunt sou die skrywer nou openlik verwerp met sy aanhaling en die verbinding daarvan met Habakuk. Hierdie teorie, sê Smit, hoef nie noodwendig steekhoudend te wees in die sin dat sommige hulle dalk wel eksplisiet op Jesaja sou beroep het vir so n lewenshouding nie. Dit vestig wel heel tereg die aandag op die feit dat die onttrekking n geleidelike proses kon wees en die resultaat van bewuste keuses by mense wat daarin n veiliger, meer geskikte en meer verstandige optrede gesien het in die aangesig van die vervolginge. Die skrywer waarsku dat dit nie die verstandige weg tot veiligheid is nie, maar die weg tot verlies van lewe (sien WtL 6 p. 221).

William Barclay het n afwykende beskouing. Hy suggereer dat voorspoed eerder as teenspoed tot die onttrekking kan lei. Hy gebruik die voorbeeld van die krygsmag van Hannibal wat aanvanklik onder uiters strawwe toestande die Romeinse leërs verpletter het, maar nadat hulle daarna in Capua in weelde en gemak oorwinter het, die stryd teen Rome verloor het. Volgens hierdie beskouing moes die Joodse Christene n tydperk van ontspanning en voorspoed belewe het na die vervolgings en was dit die oorsaak waarom hulle stelselmatig onttrek het. Alhoewel Barclay se siening dat voorspoed eerder as teenspoed op baie maniere tot onttrekking kan lei in die algemeen waar is, is dit te betwyfel of dit van toepassing gemaak kan word op die lesers van Hebreërs. Die geskrif self het geen verwysing daarna nie en daar is ook nie buite-Bybelse getuienis dat daar wel n tyd van voorspoed en ontspanning in die aanloop tot die Joodse Opstand in 66 n.C. was nie. Barclay se siening bly tog n geldige perspektief met die oog op die prediking oor die teksgedeelte.

Preekvoorstel

Smit gee in Woord teen die Lig 6 opsommings van homiletiese materiaal wat vrugbaar in n preek oor Hebreërs 10:32-39 gebruik kan word. n Preek waarin die boodskap van die teksgedeelte van toepassing gemaak word op die huidige Christelike geloofsgemeenskap, sou kon begin deur n analitiese oorsig te gee van die wêreld waarin die kerklike instituut en die gelowiges in hulle onderskeie lewensverbande hulle bevind. Verskynsels soos kerklike verlies aan invloed in die samelewing, uittog van lidmate, sekularisasie, die opkoms van mededingende wêreldgodsdienste en ideologieë, teologiese verwarring, oorheersing van die lewe deur wetenskap, tegnologie en kapitalisme kan aangeraak word. Daar kan gekyk word hoe die kerk as instituut hierdeur geraak word, maar ook hoe die gelowiges in hulle meer direkte verhoudinge geaffekteer word. Dit is veral belangrik om vas te stel watter uitwerking die grootskaalse verlies aan tradisionele sekerhede op die geloofslewe en getuienisvrymoedigheid van Christene het. Hoe groot is die gevaar van "terugdeinsing" oftewel "onttrekking", en hoe ver het die proses reeds gevorder?

In die tweede plek kan die vermaning aan die Hebreërs om terug te dink aan hulle oorwinnende getuienislewe van die verlede en daarin te volhard sodat hulle nie "onttrek" nie, deurgegee word aan die Christene van ons dag (32-34). Sedert die tyd van die Nuwe Testament het die kerk van Christus oor twee millennia heen, van tyd tot tyd soortgelyke getuienisse gelewer. Daar was baie periodes en voorvalle toe hulle "in die stryd staande gebly het toe (hulle) baie moes ly"; toe hulle "deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak" is en hulle "vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het; toe hulle met "die gevangenes meegevoel gehad het; en toe op hulle "besittings beslag gelê is . . . dit met blymoedigheid aanvaar het, omdat (hulle) geweet het dat (hulle) n besitting het wat beter en blywend is". Daar kom ook nog by dat baie van hulle "ten bloede toe weerstand gebied het" (12:4). Hier kan gedink word aan die Romeinse vervolgings, die godsdiensvervolging van die 16de18de eeu, en die martelaarsweg van talle jong kerke soos in Oeganda en Soedan en Indonesië (om enkele voorbeelde te noem). In hierdie situasie van onsekerheid en dreigende onttrekking moet Christene bemoedig word deur hulle op die "vrymoedigheid" en "volharding" van hulle broers en susters deur die eeue te wys.

In die derde plek kan die "vrymoedigheid" wat die Hebreërs nie moet prysgee nie (35) en die "volharding" wat hulle nodig het om die wil van God te doen (36), die gelowiges in vandag se wêreld op die hart gedruk word. Dié waarheid het oor tweeduisend jaar nie verander of verswak nie. Christus as Hoëpriester bly ons "vrymoedigheid" en "volharding", bly ons vereiste lewenshouding (sien onder Teks). Om die boodskap van die Bybel as geloofsgoed en lewensreëls vir Christene meer toeganklik te maak en hulle terselfdertyd tot die beoefening van n gemeenskaplike belydenispraktyk op te wek en toe te rus, het daar in die loop van die kerk se geskiedenis hulpmiddels soos belydenisskrifte en liturgiese formuliere ontstaan. Die waarde van veral die belydenisskrifte word so hoog aangeslaan omdat hulle vir die Christengemeenskappe wat hulle onderskryf die maatstaf van suiwer Skrifbeskouing en Skrifuitleg is en terselfdertyd die geloofsweg na Christus aandui. Die "vrymoedigheid" van daardie Christengemeenskap word deur die belydenis beskryf en gesimboliseer. Vir die gelowiges mag dit egter nooit ontaard in n verering van simbole en onttrekking van die lewe nie. So ontstaan n "volkskerk". Die belydenis moet neerslag vind in die lewe van n "belydende kerk". Lidmate van n kerklike gemeenskap wat getrou is aan hulle belydenisse, sal hulle parrẽsia ("vrymoedigheid") met hupomenẽ ("volharding") uitlewe. Dit verskaf die grootste sekerheid in hierdie onsekere wêreld waarin ons lewe (1 Kor. 9:26).

In die vierde plek kan vandag se Christene wat, net soos die Hebreërs, gevaar loop om hulle te "onttrek" omdat die beloftes rondom die wederkoms nie in vervulling gaan nie, op dieselfde wyse gewaarsku word (37, 38). Die betroubaarheid van God se beloftes en die sekerheid van vervulling kan nie betwyfel word nie. Die Wederkomsbelofte wat ook die liggaamlike opstanding van gelowiges uit die dood met verheerlikte liggame insluit, is die aansporing wat die Christene se geloofsoog op die toekoms rig. Hulle is uit die geloof geregverdig (vrygespreek) (Rom. 5:1) deur die toe-eiening van Christus se soenverdienste as Hoëpriester wat hulle vrye toegang tot God verseker. As regverdiges lewe hulle deur die geloof en toon hulle nou "vrymoedigheid" met "volharding". Die geloof is gerig op die volledige heilswerk van Christus, dit sluit sy offerdood, opstanding en wederkoms in. Dus is die geloof die bron en bemiddelaar van die ware lewe hier en hierna. Die heilswerk van Christus is n eenheid. Daarom is prysgawe van die wederkoms ook prysgawe van die liggaamlike opstanding en is die geloof "waardeloos (nutteloos) en is julle nog gevange in julle sondes" (I Kor. 15:16, 17). Diegene dus, wat hulle aan hierdie geloof "onttrek", veral omdat die beloftes rondom die wederkoms talm om te realiseer, sal hulle as "verworpelinge" bevind en so die (ewige) lewe verbeur. Daarom moet gelowiges die geloof met "vrymoedigheid" beoefen en daarmee "volhard" tot die einde (wederkoms) toe (Mark. 13:13), want die beloning daaraan verbonde is niks minder as die ewige lewe nie.

Ten slotte kan die gemeente opgeroep word om in die gees van vers 39 met oortuiging n openbare verklaring voor God en mens te doen oor waar hulle staan met betrekking tot die geloof en belydenis. Diegene wat met "vrymoedigheid" reageer, sal die boodskap van die ewige lewe met hulle saamdra na alle fasette van die samelewing. Maar dié wat "terugdeins", sal die pad na die lewe verloor.

Bibliografie

Barclay, W (DSB); Brown, R (BST); Bruce, F F (NICNT); Du Toit G D (Die Brief aan die Hebreërs Deel II); Grosheide, F W (KV); Laubach, F (Wup. St.); Murray, A (In die Heiligdom Deel 2); Smit, D J Woord teen die Lig 6; Bromiley, G W Theological dictionary of the New Testament; Brown, Colin Dictionary of New Testament theology (3 vol).