18 april 2003

Goeie Vrydag – feesdiens

Liturgiese Voorstel

Fokusteks: Hebreërs 10:16-25;

Ander tekste: Jesaja 52:13-53:12; Psalm 22; Johannes18-19

Inleiding

Die Bybel is nie maar net ’n boek wat vir ons goeie raad aanbied nie – God kom daardeur na ons toe. Die liturgie van vandag probeer die grootste oomblik van die openbaring van die hart van God as ’t ware "op die planke" bring deur die storielyn van ons fokusteks. Die Hebreërboek is groot inspirasie en waarskuwing teen die versoekinge wat die gemeente bedreig. Die gelowiges word herinner aan sowel Jesus Christus, wat die inhoud van die kerk se belydenis is, as aan die medegelowiges, aan die res van die "wandelende Godsvolk", wat op weg is deur die woestyn, sonder om te sien. Die Fokusteks sê ons moet ons oë hou op Jesus en op die medegelowiges.

Jesus : Hebreërs 10:10,14,18 sê dat ons as gelowiges nou losgekoop is en die deur na God toe nou wawyd oop is. Hierdie pad wat nou so oop lê, was eers ’n lydensweg. Die voorhangsel moes eers skeur, wat in werklikheid die Here Jesus se liggaam was wat eers moes sterf. Die gelowiges word op sterkte van hierdie geloofsfeit vervolgens opgeroep tot geloof, hoop en liefde: Eerstens tot ‘n vrymoedige toenadering tot God met volle geloofsekerheid. Ons is nou: "gereinigdes in Christus" en kan tot God nader. Jesaja 52/53 sê God se Kneg het ons gebrokenheid op Homself geneem. Deur sy wonde het daar vir ons heling gekom. Psalm 22 wil ons in kontak met God bring, juis wanneer ons in die grootste nood verkeer. Wat gebeur het op Goeie Vrydag, is niks anders nie as dat God die noodkrete van die digter en sy Seun en van elke kind van Hom gehoor het. Ons moet vashou aan die feit dat ons groot Priester, Jesus Christus, vir ons ‘n weg voorberei het tot in die Vaderhart! Ons as gelowiges word ook tweedens opgeroep om styf vas te hou aan die hoop wat hulle bely, want God is getrou, en Hy doen wat Hy beloof het. Jesaja 52/53 sê Hy bring nie aan die verslane volk hoop deur aan hulle ’n gesig van heerlikheid en mag voor te hou nie, maar deur ’n gesig van iemand net soos hulle; verstote, verag en sonder skoonheid of aansien. Deur die lydende Kneg weet ons dat God na ons toe kom in die diepte van ons verlorenheid. God gaan in die skuld en nood van ons bestaan in, in die verlorenheid en in die Godverlatenheid. So worstel die digter van Psalm 22 met God. Hy beroep hom terselfdertyd op God. Hy erken dat niemand anders hom kan help nie. Hy is bang vir wat nog mag voorlê. Hoe lank hierdie worsteling van die digter geduur het, weet ons nie. Ons kan vermoed dat dit 'n lang en moeisame pad was. Op 'n dag het hy sy ellende en sy uitkoms verwoord in hierdie psalm sodat ons geslagte later, en sodat alle mense kan hoor: Die Here het dit gedoen. Die Here kan dit doen!

En die gelowiges moet ook in liefde na mekaar omsien en vanuit die gereelde samekomste van die gemeente mekaar se geloof en hoop versterk. Elkeen vir hom- of haarself – dis ons geloof. Maar die fokusteks sê ons is verantwoordelik vir mekaar. Ons moet omsien na mekaar, aan mekaar bly vashou, mekaar vermaan, mekaar ook aanspoor, goeie woorde vir mekaar hê. Geloof is nie iets wat ‘n mens op jou eie kan doen nie. Dis nie net ‘n innerlik-persoonlike en intieme saak nie. Dit is ‘n saak van die gemeente, van die gemeenskap van die gelowiges. Party mense, sê Hebreërs, het die slegte gewoonte om die kerk en die gemeente te systap en alleen te probeer glo. Dis gevaarlik! Jesaja 52/53 sê die kerk se taak is tweërlei, in sy identifikasie met die veragte Kneg ’n met die veragtes van die wêreld.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

"Die hemel het ’n swart spieël geword. ’n Goewerneur buig voor die bloeddors en haat van die straat. Die onskuldige word skuldig bevind. Soos ’n misdadiger word Hy met ’n kruis toegerus. Die vonnis is gevel. Jesus loop voor om dit te gaan uitvoer. Al sugtend onder ’n kruis. Met sy galg op sy skouer." Daarom bring die Here ons ook vanoggend wel saam rondom ‘n kruis, en sodat ons met ons kruis langs sy kruis kan kom staan. Maar sodra ons sien dat ons kruis eintlik sy kruis is, sien ons sy liefde vir ons raak. Daarom is dit ‘n Goeie Vrydag! (beskrywing van Cas Vos)

Aanvangswoord/Votum

Voorganger: Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen ons eie pad geloop.

Gemeente: Here, dink aan my.

Voorganger: Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.

Gemeente: Here, dink aan my.

Voorganger: Oor ons oortredings is Hy deurboor, oor ons sondes is Hy verbrysel.

Gemeente: Here, dink aan my.

Voorganger: Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Gemeente: Here, dink aan my.

Voorganger: Dit is volbring!

Gemeente: Amen.

Seëngroet

Voorganger: Genade en vrede vir julle van God die Vader.

Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Voorganger: En van God die Seun.

Gemeente: Ons skuld het Hy gedra.

Voorganger: En van God die Heilige Gees.

Gemeente: Hy maak ons nuut.

Gemeente: Groet mekaar met die seën van God.

Aanvangslied

Lied 391:1-3/NSG 105

DIENS VAN DIE WOORD

Ons beveel aan dat die lydensverhaal op hierdie dag êrens weerklank vind tydens die diens. Bo en behalwe die fokusteks, stel ons voor u lees eenvoudig die kruisverhaal. Die meditatiewe lesings wat hier volg sluit nou aan by 'n ou kerklike tradisie. Terwyl die gedeeltes gelees word kan gedeeltes uit die Evangelie-video (sonder klank) wat daarby pas gewys word. 'n Ander ou gebruik in baie kerke is om al die liturgiese items (soos 'n tafeldoek, bord en beker, Kanselbybel) een vir een uit die liturgiese ruimte na die konsistorie te dra. Besluit maar self wat sal die beste by julle gemeente pas. Musiekinstrumente soos die tjello en hobo is by uitstek geskik vir vandag se erediens.

Die arrestasie

Leser 1: Johannes 18: 1-12

Gevolg deur ‘n tyd van stilte

Voorganger: Here, Jesus Christus, gewond en gebroke;

Gemeente: U het u lewe gegee sodat ons mag lewe.

Die ondervraging

Leser 2: Johannes 18: 13-27

Gevolg deur ‘n tyd van stilte

Voorganger: Here, Jesus Christus, gewond en gebroke;

Gemeente: U het u lewe gegee sodat ons mag lewe

Die verhoor

Leser 3: Johannes 18:28 - 19:16a

Gevolg deur ‘n tyd van stilte

Voorganger: Here, Jesus Christus, gewond en gebroke;

Gemeente: U het u lewe gegee sodat ons mag lewe.

Die kruisiging

Leser 4: Johannes 19: 16b - 37

Gevolg deur ‘n tyd van stilte

Voorganger: Here, Jesus Christus, gewond en gebroke

Gemeente: U het u lewe gegee sodat ons mag lewe.

Die begrafnis

Leser 5: Johannes 19: 38-42

Gevolg deur ‘n tyd van stilte

Voorganger: Here, Jesus Christus, gewond en gebroke

Gemeente: U het u lewe gegee sodat ons mag lewe.

Gebed

Voorganger: Ons bring U al ons dank, o God, vir die onoortreflike liefde van Jesus Christus – die liefde wat verbrysel was oor ons sondes.

Gemeente: Die liefde wat deurboor was sodat ons vrede kan hê.

Voorganger: Die liefde wat gekruisig was sodat ons die ewige lewe kan hê.

Gemeente: Die liefde wat alles, ja alles eis ook van my.

Voorganger: Laat ons uitgaan in die wêreld en hierdie liefde gaan demonstreer.

Gemeente: Amen

Sang

Lied 491/NSG 157

Ons gawes van lof en dank vir die Here.

Gebed vir die opening van die Woord/Epiklese

Skriflesing

Hebreërs10:19-25

Prediking

Kindertyd of illustrasie in preek (opsioneel): ‘n Klein seuntjie het sy ma genooi om sy eerste ouer-onderwyser-aand in die laerskool by te woon. Tot sy ontsteltenis het sy ma ingestem om saam met hom te gaan. Dit sou die eerste keer wees wat sy juffrou en klasmaats sy ma sou sien en hy was verleë oor die litteken op haar gesig. Alhoewel sy ‘n pragtige vrou was, was daar ‘n groot litteken sigbaar wat omtrent die hele een kant van haar gesig gemerk het. Die seuntjie wou nooit praat oor hoekom en hoe sy die merk opgedoen het nie. Tydens die byeenkoms was die mense beïndruk deur haar natuurlike sagmoedigheid en vriendelikheid, maar die seuntjie was steeds verleë oor sy ma en het die hele aand weggekruip van die mense. Hy het egter binne hoorafstand van sy ma en sy juffrou gekom en gehoor hoe hulle praat oor die vraag hoe sy die merk opgedoen het. Hy hoor toe sy ma antwoord: "Toe my kind ‘n baba was, was hy in ‘n kamer wat aan die brand geraak het. Almal was te bang om in te gaan en hom te red, omdat die vuur buite beheer geraak het, maar ek het gegaan. Toe ek na sy bedjie gehardloop het, het ek ‘n balk sien afkom uit die dak uit, en het ek oor hom geval om hom te probeer beskerm. Ek was bewusteloos geslaan, maar gelukkig het ‘n brandweerman ons kom red." Sy het die kant van haar gesig met die litteken aangeraak en gesê: Hierdie merk sal permanent wees, maar tot op hierdie dag was ek nog nooit spyt dat ek dit gedoen het nie." Op hierdie oomblik het haar seuntjie na haar aangehardloop gekom met trane in sy oë. Hy het sy arms om haar gegooi, haar ‘n drukkie gegee, en ‘n geweldige ervaring gehad van die opoffering wat sy ma moes gemaak het om hom te red.

DIENS VAN DIE TAFEL

Dit is wêreldwyd by kerke die gebruik om eerder op die Donderdag voor Goeie Vrydag die nagmaal te gebruik, alhoewel ons in die NG Kerk die tradisie het om dit ook op Goeie Vrydag te vier. Daarom word hier net 'n kernagtige nagmaalsviering voorgestel, maar sien in hierdie verband ook die inleiding van die boek.

Nagmaalepiklese; Geloofsbelydenis; Berig [1Kor 11]; Instelling; Uitdeling; Kommunie; Dankgebed; Voorbidding

UITSENDING

Die gemeente kan nou uitgenooi word om op 'n sigbare manier hulle skuld aan Jesus se kruisdood te bely deur die sonde(s)wat hulle wil bely op 'n stukkie papier te skryf en (met wondergom) aan die kruis in die liturgiese ruim te kom vasplak. Vir hierdie doel moet daar vooraf genoeg papiertjies en potlode gereed wees, asook balletjies wondergom. Wees rustig en gee die lidmate genoeg tyd – baie sal nie van die geleentheid gebruik maak nie, maar baie sal wel. Nadat die papiertjies klaar teen die kruis vasgeplak is, kan 'n paar diakens dit afhaal en in 'n draadmandjie gooi. Die liturg vernietig dan die papiertjies en sê: "Jesus se bloed reinig van alle sonde. So seker soos die woorde wat jy op die papiertjie geskryf het vernietig is, so seker is jou sonde aan die kruis weggewas."

Sang

Lied 486/NSG 186

Seën

 

PREEKSTUDIE – HEBREëRS 10:16-25

Teks

Die grootste enkele probleem met die interpretasie van die Hebreërbrief is die onsekerheid oor die ontstaansituasie van die brief. Briewe is eintlik altyd antwoorde – op vorige briewe, of op ‘n geantisipeerde situasie. In die Nuwe Testament is dit reël nommer een by die uitleg van briewe dat die brief as deel van ‘n kommunikasiegebeure gelees moet word. Jy moet vra watter antwoorde gee (byvoorbeeld) Paulus aan (byvoorbeeld) die Korintiese Christene en oor watter probleme, indien jy regtig wil verstaan waarom die brief gaan (eintlik is dit ook so by die meeste ander dokumente, maar almal sien ten minste in dat dit die geval by briewe is). By Hebreërs is ons probleem dat ons skynbaar min sulke inligting het. Waar die Korintiërs se probleme duidelik genoem word (twiste, onsedelikheid, onkundigheid oor nagmaal, gawes ens), het ons by Hebreërs skynbaar ‘n situasie waar ons nie weet wie die skrywer is nie, ook nie presies wanneer die brief geskryf is en wie die adressante is nie: "Dit is onmoontlik om die geskrif aan ‘n spesifieke historiese leserkring te koppel" (Van Zyl).

Situasie van lesers

Tog is die situasie nie heeltemal hopeloos nie. Ons weet ten minste dat die tradisie aandui dat die brief aan "die Hebreërs", dit wil sê aan Joodse Christene, geskryf is. Dit klop met die inhoud van die brief, wat die evangelie in terme van die Joodse offerstelsel verduidelik. Dit is so dat die offerterminologie gemeengoed van die hele vroeë kerk – insluitende nie-Joodse Christene – was, maar die verwysingsraamwerk na die verbond met Israel en die rol van offers is so oorweldigend, dat ‘n mens met redelike sekerheid kan sê dat Hebreërs wel aan Joodse Christene geskryf is.

‘n Mens kan selfs verder gaan. Een van die deurlopende argumente van die brief is dat die offerstelsel se tyd tot ‘n einde gekom het, en dat met Christus se koms ‘n nuwe bedeling aangebreek het. As in gedagte gehou word watter verwoestende uitwerking die Romeins-Joodse oorlog van 66-70 nC – en spesifiek die vernietiging van die tempel in 70 nC – op fisiese en psigiese omstandighede van die Joodse volk gehad het, is dit baie moeilik om te dink dat die Hebreërbrief kort na die vernietiging van die tempel geskryf is. Die feit dat die tempel (die majesteuese tempel van Heroïes, maar nog belangriker, die fisiese middelpunt van die godsdiens van Israel) ontheilig en toe vernietig is, was ‘n gebeurtenis wat soos ‘n skokgolf deur die Israel getrek het. Soos met die Holocaust negentien eeue later, het dit vrae laat ontstaan: Hoe kon God dit toegelaat het? Wat was die betekenis daarvan? Tog vind ons geen sulke vrae nie. Dit is byna ondenkbaar dat die skrywer van Hebreërs, wat self oortuig was dat die offerstelsel (en dus die nuttigheid van die tempel) tot ‘n einde gekom het, nie na die vernietiging van die tempel sou verwys het nie. Dit sou volmaak by sy argument ingepas het dat die bedeling van die offerstelsel en die tempel verbygegaan het. Tog is daar geen sulke verwysings nie. Die enigste redelik gevolgtrekking wat ‘n mens kan maak, is dat die tempel toe nog nie vernietig was nie. Dit is dus hoogs waarskynlik dat Hebreërs tussen 60-66 nC geskryf is.

Probleem een: Tweede geslag-sindroom

Verder gee die Hebreërbrief self tog duidelike aanduidings van wat die situasie die ontvangers van die brief was, gesien uit die oogpunt van die skrywer. Daar bestaan konsensus onder uitleggers dat die lesers tweede geslag Christene was. Hulle vertoon die tipiese kenmerke van tweede geslag-Christene. Hulle ouers, wat uit vrye wil (en soms met groot opoffering) Christene geword het, was deurentyd entoesiasties oor hulle nuut verworwe geloof. Hulle kinders, wat in die geloof grootword, is dikwels minder entoesiasties oor die geloof wat hulle nie self gekies het nie, maar wat hulle teen wil en dank oorgeërf het. Daarom moedig die skrywer die Hebreërs aan om te "dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het" (13:7).

Probleem twee: Geestelike uitputting

Maar die groter probleem van die Hebreërs was nie die tweede geslag-sindroom (dat hulle nie so entoesiasties soos hulle ouers was nie). Die groter probleem was dat baie van hierdie tweede geslag gelowiges eens op ‘n tyd baie entoesiasties was, maar nou nie meer nie. Die rede hiervoor was geestelike uitputting. Êrens langs die pad het hulle hul eie geestelike entoesiasme verloor. Hulle het moeg en traag geword. Hulle het geestelik gestagneer. Hoewel hulle "teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig" (5:12).

Die skrywer skryf die Brief aan die Hebreërs om die ontvangers aan te moedig om hulle geestelike uitputting te oorkom. Hulle moet hul onkunde oorkom: "Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap" (6:1). Hulle moet hulle traagheid afskud: "Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad" (12:12). Die skrywer moedig sy lesers aan om hulle geestelike moegheid te oorkom, maar hy gee aan hulle raad hoe hulle dit kan doen. Hulle moet onthou dat hulle nie alleen is nie, maar: (1) omring word deur 'n klomp geloofsgetuies - medegelowiges en gelowiges wat alreeds gesterf het, en; (2) Jesus gaan saam met hulle op die weg deur die lewe. Hy gebruik die metafoor van Israel wat deur die woestyn getrek het om sy huidige lesers – self Israeliete na die vlees – aan te moedig om soos Israel van ouds die oog op die Here te hou en voort te trek: "Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van ons die geloof" (12:1-2). Hulle moet uit die geloof lewe – maar in die situasie waarin hulle nou verkeer, is geloof nie die leë hand wat God se genade ontvang nie, maar volharding – die oë op Jesus fokus en aangaan, om die doeleinde met die geloofsoog te sien wat nog nie met die menslike oog gesien kan word nie: "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie" (11:1).

Die skrywer weet dat die Hebreërs swaarkry, maar hulle het vroeër ook swaargekry, veral toe hulle verdruk is – en God het hulle daardeur gelei. Die Hebreërs moet terugdink aan hoe hulle vroeër vervolg is – en hoe hulle hierdie vervolging weerstaan het: "Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly… Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het" (10:32).

Jesus die eenmalige Offer en die volmaakte Hoëpriester

Die briefskrywer se vermaning om te volhard, om die geestelike lam knieë weer sterk te maak en om aan te hou om op die geloofspad te loop, is nie bloot ‘n moralistiese oproep nie. Hy doen die beroep op grond van dit wat God in Christus gedoen het: God het in Jesus die tempel en sy offers vervang. Hoofstukke 2-10 handel hoofsaaklik oor hierdie tema. Vroeër in die brief word twee redes gegee waarom die offerstelsel deur Jesus se lewe, dood en opstanding, vervang is: Jesus is ons eenmalige offer en Hy is ons volmaakte Hoëpriester. In Hebreërs 10:20-21 herhaal die skrywer dié twee redes.

Eerstens, Jesus die eenmalige Offer, het al die ander offerandes wat steeds herhaal moes word, en "wat tog nooit die sondes kan wegneem nie" (10:11), vervang. Die weg van vrye toegang tot die heiligdom van God se teenwoordigheid (deur die voorhangsel deur) is vir ons oopgemaak - "deur sy liggaam" (vers 20). Jesus was die volmaakte Offer. Hy is net eenmaal geoffer - maar dit was voldoende: "Maar Jesus Christus het een offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit" (10:12).

Tweedens, Jesus, die volmaakte Hoëpriester, het alle ander priesters vervang. ‘n Priester moet tot God bid namens mense. ‘n Priester moet dus die sondes, tekortkominge en vrese van mense verstaan. Hoewel Jesus self nie sonde gedoen het nie, was "Hy in elke opsig aan sy broers gelyk… sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen" (2:17).

Bevestiging en Vermaning Vermeng

Wanneer ons Hebreërs met Paulus se briewe vergelyk, merk ons iets interessant op. Waar Paulus gewoonlik in die eerste deel konsentreer om die gelowiges in hulle geloof te bevestig, waar hy in die indikatief skryf ("Allereers dank ek my God… oor julle almal, want… die mense praat oor julle geloof" – Rom 1:8) en dit daarna opvolg met ‘n tweede, vermanende deel, waarin hy die imperatief skryf ("Gee julleself aan God as lewende en heilige offers…" – Rom 12:1), is bevestiging en vermaning in Hebreërs vermeng. Die skrywer bevestig geloof in een sin ("Terwyl ons dan nou ‘n Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het…"- 4:14), en vermaan in die volgende ("…laat ons vashou aan die geloof wat ons bely" – 4:14).

Hebreërs 10:16-25

Die vermenging van bevestiging en vermaning wys ons dat ons teksgedeelte nie net 10:16-25 kan wees nie, maar dat dit ten minste verse 11-25 moet wees. Anders val die bevestiging van Christus se eenmalige offer, wat in verse 11-24 beskryf word, uit.

Verse 11-18 beklemtoon dat Jesus die eenmalige, volmaakte offer is: "Deur die een offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak" (vers 14). Dit is die grondslag van die nuwe verbond wat God met sy volk gesluit het (verse 16-17). Die gevolgtrekking: "Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie" (vers 18).

In vers 19-25 spel die skrywer die gevolg van Christus se eenmalige offer (en sy rol as volmaakte Hoëpriester) uit. Die gelowiges het nou ‘n vrye toegang tot die heiligdom. Na analogie van die Allerheiligste in die tempel en tabernakel (waarin slegs die hoëpriester mag ingegaan het), is die skrywer se gevolgtrekking: elke gelowige het nou die vrye toegang tot die heiligdom van God. Sy is – deur die bloed van Christus – net so heilig soos die heiligste van alle heiliges. Dit bring die skrywer by sy vermaninge uit.

 

Daarom moet die gelowiges:

1. Die vrye toegang wat Christus vir hulle bewerk het, gebruik: "Laat ons tot God nader…" (vers 24). Dit sou tragies wees as Christus die pad na die heiligdom (in die teenwoordigheid van God die Vader) oopgemaak het, maar gelowiges maak nie daarvan gebruik nie.

2. Vashou aan die hoop wat hulle bely.

3. Na mekaar se welsyn – geestelik en materieel – omsien. Dit beteken onder andere dat hulle nie die bywoon van byeenkomste sal verwaarloos nie – "soos party se gewoonte is" (vers 25).

Konteks

Op Goeie Vrydag wil 'n mens graag die fokus skerp op God se genadedaad in Jesus se kruisdood laat val. Dit is nie die geleentheid om oor ander sake – byvoorbeeld 'n vermaning oor hoe Christene moet leef – te preek nie.

Die probleem is egter dat ons teks 'n sterk vermanende inslag het. Hebreërs herinner sy lesers dat die kruisdood van Jesus 'n eenmalige offer en genoegsame offer vir hulle sondes was, en gaan dan voort om hulle te vermaan om op grond van dié offer, tot God te gaan (vers 22), vas te hou aan die hoop wat hulle bely (vers 23) en na mekaar om te sien. 'n Mens sal nie die vermanende gedeeltes kan vermy nie (want dan sal ons nie reg aan die teks laat geskied nie), maar omdat dit Goeie Vrydag is, moet die klem op Christus se offer val.

Preekvoorstel

Lees vers 19-20. As die skrywer van die Hebreërbrief aan sy lesers wil verduidelik wat die konsekwensies van Jesus se dood is, sê hy dit verleen aan ons wat in Jesus glo… "vrye toegang tot die heiligdom". Hy sê dit op so 'n manier, dat dit duidelik is dat hy aanvaar dié aankondiging is vir sy lesers genoeg. Hy is klaarblyklik seker dat hulle onmiddellik sal verstaan van watter "vrye toegang" hy van praat, en na watter "heiligdom" hy verwys. Vir die skrywer spreek dit vanself dat die lesers baie dankbaar, bly en opgewonde sal wees as hulle hoor dat hulle toegang tot die heiligdom het. Vir baie van ons wat in die 21ste eeu lewe is dit nie so vanselfsprekend nie. Van watter heiligdom praat Hebreërs? En waarom moet ons bly wees om toegang daarheen te kry?

Anders as die vroeë Christene is ons nie so onder die besef van die heiligheid van God nie. Miskien lê die oorsaak by die manier waarop oor God gepraat word. Aan die een kant praat die wêreld te min oor God. God is amper nie meer deel van hulle woordeskat nie, behalwe as 'n vloekwoord. Aan die ander kant praat Christene miskien te veel en te maklik oor God. Dalk is daar soms net te veel boeke, kasette en te veel mense wat te maklik oor God praat, asof Hy almal se maat is. Of dalk is dit die kultuur waarin ons leef wat maak dat die gedagte van 'n heilige God vir ons vreemd klink. Polities inkorrek. Die god van ons tyd, die god van selfhelp-boeke, is die god by my en die god in my. Geen toegangsprobleme hier nie.

Vir die Hebreeuse lesers van ons brief was dit anders. Hulle het nog die tempel met sy ontsagwekkende aanbiddingsrituele geken. Die offerseremonies wat met groot noukeurigheid uitgevoer moes word. In hierdie atmosfeer was dit veel duideliker dat God 'n heilige God is. Dat daar iets soos sonde is, en dat sonde in God se heilige teenwoordigheid nie geduld mag word nie. Dat God genadig is, maar dat sonde 'n gruwel in God’s oë was wat nie maar net oorgesien en misgekyk kan word nie. Die eerste lesers van die Hebreërbrief kon nog goed verstaan hoe waardevol toegang tot God was, en hoe oneindig kosbaar 'n vrye toegang tot die heiligdom van God se teenwoordigheid. Het hulle nie self die Groot Versoendag-viering beleef nie, die enigste dag wanneer die hoëpriester – net die hoëpriester en niemand anders nie – in die Allerheiligste in die tempel ingegaan het, om eers vir sy eie sonde en daarna vir die volk Israel se sonde 'n offer aan die Here te bring?

Die lesers van die brief het inderdaad verstaan dat vrye toegang tot die heiligdom van God se teenwoordigheid, iets besonders was. Elke gewone gelowige kry nou op enige dag vrye toegang tot God se binnekamer. Daarom is dit belangrik om drie dinge te doen, wat die skrywer netjies uiteen sit in vers 22, 23 en 24:

1. "Laat ons tot God nader met 'n opregte hart en volle geloofsekerheid" (v 22). Waarom die vermaning? Is ons dan nie alreeds by God nie? Is ons harte dan nie reeds gereinig (deurdat God ons sondes vergewe het) nie? Is ons liggame dan nie reeds gewas met skoon water deur die doop nie? Ja, seker – maar die skrywer van die Hebreërbrief wil seker maak dat sy lesers nie 'n fout maak wat dikwels gemaak word nie, deur daardie Christene wat groot klem lê op God se genade – die Lutherse en die Gereformeerde tradisies, byvoorbeeld. Die fout om in ons geloofsverhouding net van God se genade te praat. Om net te sê: "In Jesus het God vir ons alles gedoen", en dan nie erns te maak om duidelikheid te kry oor God se wil vir jou lewe nie. Om van die waarheid "alles is genade", 'n slagspreuk te maak en nie deur gebed, nadenke oor God se woord en selfondersoek, nader na God se wil vir 'n mens se lewe te kom nie.

Deur Christus, Priester en Offer, het ons nou vrye toegang tot die heiligdom van God se teenwoordigheid. Laat ons van hierdie vrye toegang gebruik maak, sê die skrywer aan die Hebreërs. Laat ons ons reg en voorreg gebruik. Laat ons tot God nader. Laat ons tyd maak om meer van God se teenwoordigheid bewus te word. En daar is geen beter tyd daarvoor as die Paasnaweek nie. Gebruik Goeie Vrydag, Stil Saterdag en vreugdevolle Paassondag daarvoor.

2. "Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely" (v 23). Sê iets oor die struikelblokke wat die lesers ondervind het. Hulle was tweede geslag Christene, wat hulle Christelike tradisie geërf het. By baie was daar min oor van die brandende vuur van pioniersentoesiasme. Ander weer, was geestelik uitgeput. Soos ons dikwels raak – dalk van 'n oorvol program van Christelike aktiwiteite. Die skrywer herinner sy lesers waarheen hulle op pad is. Haal Hebreërs 11:1 ("Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop") en 12:1-2 (hou die oog gevestig op "Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof") aan. Geloof in die konteks, beteken nie soseer om met die leë hand God’s genade te ontvang nie, maar om te volhard, om aan te gaan, om met 'n mens se geloofsoog te sien wat jy nie met jou waarnemingsoog kan sien nie. Om te hoop, omdat jy jou hoop op die Here bou.

3. "Laat ons na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade" (v 24). Voor God stil word, bid en luister (waartoe vers 22 ons oproep), hoop en ons oë op Jesus hou (waartoe v 23 ons oproep), sal niks beteken sonder "goeie dade" (v 24) nie. Daarom moet gelowiges omsien na mekaar. Die Christelike geloof is nie 'n individualistiese godsdiens nie. Ons stilword en afsondering is nie 'n doel op sigself nie, maar 'n middel om God se wil beter te leer ken. En deel van sy wil is om na mekaar om te sien. Om mekaar op materiële gebied te help. Om mekaar op geestelike gebied te help – daarom moet ons die gesamentlike byeenkomste nie verwaarloos nie (v 25).

Ons vergeet mekaar nie, want God vergeet ons nie.

Bibliografie

Van Zyl, HC 1991. God se volk in transito: 'n Perspektief uit Hebreërs, in Teologie in Konteks deur JH Roberts e.a. (red). Johannesburg: Orion.