Ander
tekste: Job 42:1-17; Psalm 34:1-8, 19-22; Markus
10:46-52.
God het vir
ons elkeen wat onder die gebrokenheid van hierdie wêreld gebuk gaan, 'n
superieure Hoëpriester gegee wat regverdig en vol meegevoel is.
Die gedagte
dat alle mense die liefde van God in hierdie ewige, heilige en volmaakte
Hoëpriester sal ervaar en sodoende vir God sal "sien" en volg selfs
deur beproewing heen soos 'n Job en Bartimeus, kom sterk na vore.
Met
kerkhervorming vier ons juis hierdie permanensie en volkomenheid van Christus
as Hoëpriester en gevolglik die verlossingsplan wat deur Hom aan ons bekend
gemaak is.
In hierdie
gedeelte beklemtoon die skrywer die superioriteit of uitnemendheid van die
priesterskap van Jesus Christus. Twee dele val hier uiteen, elk saamgestel uit
3 verse. Die eerste gedeelte (Heb 7 :
23-25) kontrasteer die klomp vroeëre hoëpriesters met Jesus Christus wat die
een, ewige Hoëpriester is. Die tweede gedeelte (Heb 7: 26-28) verklaar hoedat
Christus heilig, skuldeloos en sonder smet was, verwyder uit die midde van die
sondaars en verhoog bo die hemele. Die
klem val hier spesifiek op die superioriteit van Christus Jesus en hoe Hy nie
soos die Levitiese priesters deur die wet aangestel is nie, maar met 'n eed
bevestig is.
Hierdie
twee gedeeltes hang nou met mekaar saam, in dié sin dat albei die superioriteit
en volkome genoegsaamheid van Christus as die ewige en volmaakte Hoëpriester
bely – dié een wat as bemiddelaar tussen die mens en God optree.
Eintlik is
hierdie gedeelte gepak met leerstellighede.
Hier word sterk uitsprake gemaak wat polemies sowel as didakties van
aard is. Die rede hiervoor is dat die
skrywer sy brief aan Joodse Christene rig, met ander woorde mense wat vroeër
self die Joodse godsdiens beoefen het of ten minste van Joodse afkoms was, en
hulle tot die Christelike geloof bekeer het.
Hierdie mense het begin wonder oor hulle "nuwe" geloof. Met nostalgie het hulle teruggedink aan die
tradisionele Joodse geloof. Die skrywer
van hierdie brief wil hierdie herinneringe rakende hulle pre-Christelike
godsdienstige lewe die nek inslaan en gevolglik die inherente waarde van die
Joodse geloof en wette verlaag deur dit met Christus en die uniekheid van die
Christelike geloof te vergelyk.
Hierdie
skrywer is glad nie geinteresseerd in religieuse pluralisme of 'n soort
kompromie wat enigiets van die uniekheid en oppermagtigheid van Jesus Christus
of die geloof in Hom kan wegvat nie.
Vir hierdie skrywer staan die Christelike geloof kop en skouers uit bo
enige ander godsdiens as gevolg van die persoon en werk van Jesus
Christus. Hy is nie soseer vyandig
teenoor die Joodse geloof nie, maar eerder onwrikbaar in terme van Jesus se
funksie as superieure Hoëpriester.
Enige ander
godsdiens moet op grond hiervan ondergeskik aan die Christelike wees. Dit reflekteer die groot gaping wat daar
teen die einde van die eerste eeu tussen die Jodendom en die Christelike geloof
ontstaan het. (Hierdie brief is
ongeveer in hierdie tyd voltooi, waarskynlik nie later as 95 nC nie.) As 'n
mens wegbeweeg van hierdie polemiese belange van die skrywer, ontdek jy ook hoe
hy op positiewe, lerende (didaktiese) wyse die seën van die Christelike
gemeenskap het as gevolg van die heilswerk van Christus 'n ewige en unieke
toegangklikheid tot God wat geen ander godsdiens het nie. Die karakter van
hierdie Hoëpriester bepaal die karakter van ons belydenis en verhouding met
God.
Literatuur
Bruce, F.F.
The new international commentary on the
New Testament, The epistle to the Hebrews, pp. 142-160. De Klerk, P.J.S. Kommentaar op die Bybel, Nuwe Testament, Die brief aan die Hebreërs,
pp. 128-135. Fensham, F.C. Die brief aan die Hebreërs, pp.
64-72. Grosheide, F.W. Korte verklaring der heilige Schrift,
Hebreeën, p 82-91. Soards, M.,
Dozeman, D., Kendall, M. Preaching the
revised common lectionary, pp. 103-113.
Van Oyen, H. De brief aan die
Hebreeën, pp. 108-118.