7 NOVEMBER 2004

TWEE EN TWINTIGSTE SONDAG IN KONINKRYKSTYD

Liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Hebreërs 5: 11-6:12

Ander tekste: Psalm 119:161-168 (Jes.1:10-18); 2 Tessalonisense 1:1-12; Lukas 19:1-10; Psalm 32:1-11

Inleiding

Een manier om na die fokusgedeelte te luister, is dat ons ons in die tussentyd, in afwagting van die wederkoms van Christus, met groot toewyding moet verdiep deur volhardend te luister na die Woord. Indien ons nalaat om dit te doen, bly ons onvolwasse, dit wil sê onbekwaam om waarheid en reg in ons alledaagse lewe te kan onderskei en uit te leef (5:13). Dit is immers ook die betekenis en boodskap van die hervorming. Om reg te doen in my daaglikse lewe, is die regte manier om op die wederkoms met volharding te wag. Hierdie lyn loop dwarsdeur al die tekste vir hierdie Sondag. Psalm 119 beklemtoon dat "sekerheid" nie anders as deur die bepalings (Thora) van die Here kom nie; 2 Tessalonisense 1 is weer n getuienis en gebed van Paulus wat handel oor die volharding van die gelowiges, om selfs onder baie moeilike omstandighede, die werke van die geloof; liefde vir die goeie (regte) volkome te maak. Selfs in die Lukas teks, kan Saggeus nie anders nie as om reg te doen, as hy Jesus se onvoorwaardelike liefde vir die eerste keer ervaar (19:18). In Psalm 32 moet ons juis luister na die onderrig en die raad van die Here (:8), terwyl die luister na die Woord van die Here weer eens beklemtoon word in Jesaja (:10).

GOD VERsamel ONS VOOR HOM

Aanvangswoord

Vandag is Hervormingsondag. Op hierdie dag 487 jaar gelede het Maarten Luther sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker. Daardeur het die Woord van die Here, en die uitleef van hierdie Woord in die koninkryk, weer nuwe klem en betekenis gekry.

Ek stel aan julle die vraag: Wat help jou regtig om vandag reg voor God te lewe, om die koninkryk sigbaar te maak in ons harte, in die kerk, in die hele wêreld? Gee n paar oomblikke van stilte vir nadenke.

Respons van gemeente

Verkorte bede uit die Ons Vader (vgl. basisliturgie)

Sang

Lied 255:1-3 "Woord van God, Woord van die lewe"/NSG 334

Seëngroet

Romeine 1:7

Sang

Lied 594:1 "Na ons bestaan in tyd en ruimte"

Wet

Jesaja 1:10-17

Skuldbelydenis

Lied 240:1 en 2 "Heiland, as in ootmoed stil"/NSG 211

Vryskelding

Jesaja 1:18

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Psalm 119:161-168 (voorganger/gemeente)

Voorganger: U woord is die enigste wat ek vrees.

Gemeente: My hele lewe lê oop voor my.

Voorganger: Oor u woord is ek bly.

Gemeente: My hele lewe lê oop voor my.

Voorganger: U wet het ek lief.

Gemeente: My hele lewe lê oop voor my.

Voorganger: Ek vestig my hoop op hulp van U.

Gemeente: My hele lewe lê oop voor my.

Voorganger: U bevele en verordeninge gehoorsaam ek.

Gemeente: My hele lewe lê oop voor my.

Skriflesings

Lukas 19:1-10 en Hebreërs 5:11-6:12

Respons

Halleluja! (vgl. basisliturgie)

Kindertyd

Prediking

Respons van gemeente

Lied 476:1-4 "n Vaste burg is onse God"/NSG 184

Geloofsbelydenis

DIENS VAN DIE TAFEL

Sien basisliturgie dit is belangrik dat op hierdie dag wel nagmaal gevier word. Vergelyk ook die Katolieke Nagmaalsformulier in die Agenda van die Algemene Sinode 1998.

Gebruik die volgende gebed van Jean Mestrezat 1592-1659 (verwerk):

O my God, verlig my gedagtes al hoe meer, sodat ek kan verstaan hoe hoog en hoe diep,

hoe lank en hoe wyd u liefde vir ons is.

So diep dat U ons uit die kloue van die dood geruk het deur die dood van u Seun.

So hoog dat ons deur u Seun, en saam met u Seun, verhoog is in die hemel.

So lank, as wat die ewigheid duur, so lank sal u seën met ons wees.

So wyd, so ver, soos die ooste van die weste van mekaar is. Amen

uitSENDING

Sang

Lied 514 of 509 of 505 of 503/NSG 161

Seën

2 Tessalonisense 1:11

Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.

Respons

"Amen" (enigeen van Lied 312-315)

PREEKSTUDIE HEBREëRS 5:11 6:12

Teks en konteks

Lees weer die opmerkings onder dieselfde hoof van verlede week se preekstudie. Daar is byvoorbeeld gewys op die skrywer se doelbewuste integrasie van leerstellige en vermanende/aansporende gedeeltes. Die perikoop vir hierdie Sondag handel juis oor een van die vermanende gedeeltes. Dit is dus belangrik om net weer te let op die leerstellige gedeeltes waarin hierdie vermaning verpak lê. In sowel die gedeelte wat ons perikoop voorafgaan (5:1-10) as die langer gedeelte wat daarop volg (7:1-10:18), word die leer van Jesus as Hoëpriester uiteengesit. In hooflyne kom dit daarop neer dat Jesus, al was Hy die Seun, vanuit vrye keuse die weg van lyding en dood gegaan het. Sodoende het Hy die voorbeeld van volkome gehoorsaamheid geword. Op grond hiervan is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester en het Hy `n nuwe verbond, `n volledig nuwe bedeling, ingelui. Jesus se hoëpriesterskap is egter uniek. In die eerste plek vloei dit nie voort uit die Aäronitiese of die Levitiese afstamming nie, maar het dit sy analogie in die geskiedenis van Melgisedek en Abraham (vgl. Gen. 15). In die tweede plek is Jesus Christus se hoëpriesterskap volmaak in die sin dat Hy nie jaarliks nie, maar net een keer, die offer vir die sonde van die volk (wêreld) gebring het. Derdens het sy offerdiens alle verdere bemiddeling in die toetrede tot God se troon beëindig. Die Ou-Testamentiese priesterdiens en offerpraktyke is daarmee oorbodig verklaar. Gelowiges het nou in Christus vrye toegang tot die allerheiligste, naamlik die troon van God. En dit afgesien van plek en tyd.

Na aanleiding van 6:4-6 het `n langdurige en uitgebreide debat ontstaan oor die vraag of iemand wat eendag begin glo het, weer verlore kan gaan. Veral die gedagte dat dit vir iemand wat afvallig geraak het onmoontlik is om weer terug te kom, het die denkworsteling bly dryf. `n Goeie oorsig oor die verskillende standpunte hieroor kan gelees word by DJ Smit in sy bydrae oor genoemde perikoop in Woord teen die lig I/5.

Wat die skrywer egter bekommer, is die gemeente se onwil om werklik met erns en insig kennis te neem van hierdie sleutelwaarhede van die geloof. Besef hulle dan nie dat dit gaan om die hart van die evangelie nie! Dit is asof hy vir hulle wil sê: "Julle is nie werklik ernstig met julle geloof nie!" Hierdie traagheid om verder te dink en te ondersoek, het verreikende gevolge. Die skrywer vind dit dus nodig om juis op hierdie punt waar hy die gelowiges verder wou lei, sy betoog te onderbreek en `n redelike skerp vermaning tot hulle te rig.

5:11-14: In die eerste plek is die skrywer ontsteld dat hy dit nie met die gemeente oor so `n sleutelsaak soos die Hoëpriesterskap van die opgestane en verheerlikte Christus, kan deurpraat nie. Tot sy ontsteltenis moes hy ervaar dat terwyl hy nog heelwat het om aan hulle te verduidelik omtrent Christus se Hoëpriesterskap volgens die orde van Melgisedek, hulle nie meer met hom is nie. Die Griekse woord waarmee hy hulle houding beskryf, kan vertaal word met "traag, lui, dooierig". In plaas daarvan dat die Hebreërs gretig besig is met die verkenning en toeëiening van die rykdom van geloofswaarhede, is hulle geestelik lui en doodtevrede met die eerste beginsels. In plaas daarvan dat hulle besig is om ander te leer, moet hulle weer self die grondwaarhede van die geloof geleer word. In plaas daarvan dat hulle soos volwassenes/grootmense met vaste kos gevoed kan word, moet hulle soos kindertjies met melk gevoed word. Iemand wat egter nog met melk gevoed moet word, is `n kind en is nie bevoeg om saam te kan praat oor reg en verkeerd en die onderskeid tussen reg en verkeerd nie. Om dit te kan doen, is insig wat deur ervaring geoefen is nodig. Wat hulle is, vorm `n jammerlike teenstelling met wat hulle kon en moes wees.

6:1-3: Die bedoeling van die skrywer was nie om die gelowiges moedeloos of wanhopig te maak nie, maar om hulle aan te moedig om nie by die eerste dinge omtrent Christus stil te staan nie maar aan te beweeg na die volle inhoud van die boodskap. Dit is interessant om daarop te let dat die woorde "Laat ons nie stilstaan ..." maar "verder gaan", in die Grieks `n werkwoord in die passiewe vorm is en dus verkieslik vertaal kan word met "laat ons meegevoer word". In sy kommentaar skryf B F Westcott: "Die basiese gedagte is nie een van persoonlike inspanning nie, maar van persoonlike oorgawe aan `n aktiewe invloed/mag. Die krag is besig om te werk; ons moet net onsself daaraan oorgee" (eie vertaling). Dieselfde gedagte kom voor in 2 Korintiërs 2:14 waar Paulus praat van die triomftog waarin God ons meevoer omdat ons aan Christus behoort. Dit is dus asof die skrywer vir sy lesers wil sê dat wie selfs net die eerste beginsels van die boodskap van Christus gehoor het, nie anders behoort te reageer as om in die greep daarvan te kom en te verlang na die volle boodskap nie. Die kwalifikasie "as God dit toelaat" (3), beklemtoon die feit dat sowel die begin as die voortgaande ontwikkeling van die geloofslewe deur God se genade gedra word.

Die skrywer wil dus nie opnuut die fondament vir die geloof probeer lê nie. Daar is geen sin in om net te bly herhaal wat reeds gesê is oor die bekering uit `n leefwyse wat tot die dood lei nie; oor geloof in God; oor die leer van die doop (eintlik word hier van wassinge gepraat wat moontlik verwys na die verskillende godsdienstige wasgebruike van die Jode); die handoplegging, die opstanding en die ewige oordeel. Dit is alles basiese geloofswaarhede wat reg aan die begin aan elke gelowige voorgehou word. Dit vorm die basis waarop die geloofslewe berus. Die skrywer wil egter nie hierby stilstaan nie, maar saam met hulle die verdere bouwerk wat op hierdie fondament rus, verken. So `n voortgang in geloofsgroei is egter nie net wenslik nie, dit is lewensnoodsaaklik! Dit blyk uit die volgende paar verse.

6:4-8: Dit is vir enige mens uiters noodlottig om met die geloof te begin, maar dan sy/haar rug daarop te draai. In feite kom dit daarop neer dat so iemand by nadenke die heilsaanbod van God afwys. Dit is volgens die skrywer onbegryplik. Gevolglik gee hy `n treffende skets van die beginsfase van die Christelike geloofslewe: daar gaan vir die bekeerling `n nuwe wêreld oop as God se lig in sy/haar denke begin skyn; wonderlike perspektiewe word geopen as sy/hy die hemelse gawe ontvang (smaak = in die innerlike opneem); as so iemand deel kry aan die Heilige Gees en "die goeie woord van God" leer ken sowel as die kragte van die toekomstige wêreld ondervind (vgl. 2:4). Dat so iemand dan die rug kan draai op alles wat ontvang en beleef is, is ondenkbaar. Maar erger nog dat iemand dit willens en wetens kan doen. Die woord wat hier met "afvallig word" vertaal word, beteken om "berekend buite of langsaan te gaan staan". Die beklemmende is dat so `n stap onomkeerbaar en onherroeplik is! Vir sulke persone is daar nie `n terugkeer moontlik nie. Hulle kan nie weer tot bekering gebring word nie, want wat hulle gedoen het, kom nie maar net neer op terugkeer na `n neutrale posisie/siening omtrent Christus nie. Nee, ten diepste is dit en dit is die ontsaglike `n keuse teen Christus. Sulke persone kruisig in hulleself weer die Seun van God en maak Hom in die openbaar tot `n bespotting (6b). Dít is die donker dieptepunt waartoe afval van die geloof in Jesus Christus `n mens bring. Die Hebreërskrywer sien die gebeure as `n onbegryplike teenstrydigheid. Hy vergelyk dit dan met `n vrugbare stuk grond wat die reën wat daarop val indrink en vir diegene wat dit bewerk, bruikbare gewasse voortbring. Dit dra die seën van God weg. Maar, en hierop fokus die vergelyking, as die stuk grond nou doringstruike en dissels voortbring, is dit waardeloos en `n weerspreking van die seën wat dit ontvang het. Die tyd is dus naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur.

Dit is egter nodig om hier net kortliks te wys op `n misverstand wat soms rondom die voorafgaande verse ontstaan en aanleiding gee tot ernstige twyfel en onsekerheid by gelowiges. Hier is nie sprake daarvan dat mense wat aan die verlossing in Christus vashou, verlore kan gaan nie. Die Bybel gee voldoende versekering dat gelowiges deur God bewaar/vasgehou word vir tyd en ewigheid (vgl. Joh. 10:28, 29; Rom. 8:30). Dit gaan egter, soos hierbo verduidelik is, om mense wat nadat hulle in die Christelike geloof ingelei is, hulleself berekend daarvan afkeer. Hulle stel hulleself buite die genade.

6:9-12: Daar is reeds in die inleiding tot verlede Sondag se perikoop daarop gewys dat die Hebreërskrywer in sy vermaning die dubbele aksent van teregwysing en aanmoediging gebruik het. Dit kom dan ook sterk na vore in hierdie teksgedeelte. Terwyl die voorafgaande verse dikwels skerp teregwysing bevat het, wil die skrywer vanuit sy eg pastorale (herderlike) hart nie die gelowiges moedeloos of beangs maak nie. Dit is dan ook die enigste plek in sy skrywe waar hy na die gelowiges as "geliefdes" (agapêtoi) verwys. Teenoor die tragiese oordeel (vervloeking, vuur) wat op afvalliges wag, is die skrywer seker van "beter dinge" vir die gelowiges, te wete hulle redding (sootêrias). Immers, God is nie onregverdig nie en sal dus nie hulle werke en liefde vir sy Naam en diens aan medegelowiges vergeet nie. Ook elders word verwys na die Hebreërs se onselfsugtige liefdediens en betrokkenheid by dié wat ly (10:32-35). Immers, hulle is soos die vrugbare grond wat "bruikbare gewasse" voortbring, maar nie hulle werke en gesindheid vorm die grondslag van hulle redding nie. Nee, hulle redding is gegrond in God se regverdigheid. Daarom staan dit voorop. Wat die pastor/ skrywer vir hierdie geloofsgemeenskap toewens, is dat hulle end-uit hulle vroeëre ywer sal behou, sal volhou tot dit waarop hulle hoop, vervul is en dat hulle deur onvermoeide geloof en geduld deel sal verkry aan die dinge wat God beloof het. Soos wat hy aan die begin van die gedeelte sy kommer uitgespreek het oor traagheid onder hulle, so moedig hy hulle ook hier weer aan om nie traag te word nie, maar ywerig te volhard.

Preekvoorstel

Tema: Benut God se genade want om dit te verspeel, is onherroeplik.

Ons Skrifgedeelte laat ons bysit by die Hebreërskrywer se ernstige gesprek met die gemeente. Die onderwerp wat bespreek word, handel oor die sleutelrol van Jesus Christus as ons enigste Hoëpriester. Eintlik is dit `n argument wat al van die eerste hoofstuk af ontwikkel word. Dit is `n boeiende verhaal wat enersyds teruggryp na Jesus se voor-aardse bestaan as Seun van God wat Homself bereid verklaar om mens te word ten einde só God se wil te doen. Andersyds vertel dit die aardse verhaal van Jesus teen die agtergrond van Israel se swerwersgeskiedenis op pad na die beloofde land. Allerlei momente en figure uit die geskiedenis word gebruik om die verhaal van Jesus betekenisdiepte te gee. Van die figure wat paradeer, is Abraham die aartsvader, Melgisedek die geheimsinnige priester-koning van Salem, Moses, Aäron, die Levitiese priesters, ensovoorts. En dit was juis toe die skrywer sy verhaal van Jesus wou anker aan Abraham se ontmoeting met Melgisedek, dat hy skielik sy rede onderbreek.

En dan volg ons Skrifgedeelte (perikoop) vir vandag, die 22ste Koninkryksondag van 2004. Kom ons lees dit weer met aandag saam.

Dit is duidelik: Die skrywer het `n ernstige probleem met hierdie geloofsgemeenskap. Hulle openbaar `n traagheid om te leer. Die Griekse woord beteken "traag, lui, dooierig, stadig vloei", omtrent soos harmansdrup. Hy kan dus nie net voortgaan om hierdie diepsinnige waarhede aan hulle mee te deel nie. Hulle openbaar die tipiese houding van so baie lidmate van die Christelike kerk. Hulle wil nie na ingewikkelde en diepsinnige waarhede luister nie. Hulle is dinklui. Alles moet so maklik as moontlik aangebied word. As dit nie gebeur nie, skakel hulle net af. Hulle is gou om te sê: "Nee dominee, preek liewer weer `n slag vir ons bekering. Ruk hierdie klomp sondaars wakker! Ons verstaan tog nie daardie ingewikkelde goed waarvan jy nou praat nie." Dis ontstellend!

Die traagheid het jammerlike gevolge. In plaas daarvan dat hulle onderrig gee, moet hulle weer in die grondwaarhede onderrig word; in plaas daarvan dat hulle vaste kos gebruik, moet hulle met melk gevoed word; in plaas daarvan dat hulle soos grootmense optree, is hulle soos kinders (nepios = onvolwasse). Die gevolg is dat dit by hulle ontbreek aan die insig wat deur ervaring geoefen is. Hulle kan dus nie tussen goed en kwaad onderskei nie. Omdat hulle in hulle geloofskennis nog op die vlak van kinders is, kan hulle ook nie saampraat oor wat reg en verkeerd is nie. Hulle beroof dus die samelewing in al sy geledinge (alle terreine) van mense met `n volwasse Christelike insig en bydrae. Wat `n anomalie om dan van `n Christelike samelewing te praat. Gedurende die sestigerjare van die vorige eeu het die Amerikaanse Presbiteriaanse kerk `n sensus laat doen waarin onder andere die Bybelkennis en insig van lidmate gepeil is. Die skokkende resultaat op daardie stadium was dat volwassenes die werkende Bybelkennis van graad 4 (st. 2)-kinders het. Alhoewel dit skokkend is, verklaar dit waarom so baie Christene op die terreine waar hulle beweeg nie `n goed deurdinkte en sinvolle Christelike inset kan maak nie. Dit ontbreek hulle aan die insig en ervaring om tussen goed en kwaad te onderskei.

Die Hebreërpastor wil egter nie sy gemeente in hierdie bedenklike toestand laat nie. Daarom sy oproep: "Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap." Eintlik is daar nie iets soos stilstand in die geestelike lewe nie. `n Mens is óf besig om te groei en vooruit te gaan óf om te kwyn en agteruit te gaan. In 6:1, 2 gee hy dan `n aanduiding van wat hy met die "eerste dinge" bedoel. Om daarby stil te staan is om die fondament oor en oor te probeer lê. Nee, hulle moet verder gaan. Die werkwoord "verder gaan" sou verkieslik vertaal kon word met "meegevoer word" (vgl. 2 Kor. 2:14). Wie dus verder gaan as die "grondwaarhede" en die "eerste dinge", kom binne die kragveld van die volle inhoud van die boodskap en ervaar dan dat om hulle in die woord van God te verdiep, nie `n las is nie maar `n lus. Baie getuig dan ook dat hulle nie kan ophou met die bestudering van die Bybel nie. Dit word net al ryker en wonderliker. Die skrywer/pastor weet egter dat dit nie ons menslike wil is wat die regte dryfveer is nie. Ons het maar kort asems. Daarom: "Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat." Bo-oor die gemeente se aktiwiteit in erediens en Bybelstudie moet in groot en sigbare letters "DV" (Deo Volente = as God wil) geskryf staan. Daar sonder bly dit beperkte menslike werk en mis dit die krag wat kan meevoer! Alleen die beweging waarin God die dryfveer voorsien, kan `n mens ondanks alle teenhede, meevoer.

Daar is egter ook `n diep pynlike werklikheid wat in skrille kontras met die voorafgaande staan en wat die gemeente in die oë moet kyk: "Wanneer mense een keer deur God verlig is en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring" (lees 6:4, 5 weer volledig voor). Die rede vir hierdie "onmoontlikheid" spel hy vir die gemeente uit: "In hulleself kruisig hulle (die afvalliges) weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot `n bespotting" (6:6). Dit is soos `n vrugbare stuk grond wat bewerk word en wat die reën wat daarop val indrink, maar dan in plaas van bruikbare gewasse net doringstruike en dissels voortbring. Dit is dus waardeloos. Die tyd is dus naby dat God dit sal vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur (6:7, 8)

Dat die onomkeerbaarheid van afvalligheid die skrywer van Hebreërs kennelik aan die hart gegryp het, blyk uit die herhaalde kere wat hy die saak onder die aandag van die gemeente gebring het (vgl. weer die verwysings in die eksegetiese deel by 6:4-6). Hierdie gedagte het al dikwels gelowiges met bekommernis en vrees vervul dat hulle ook die onvergeeflike oortreding kan pleeg. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die woorde "afvallig geword het" dui op `n doelbewuste breek met die geloofsweg. Letterlik sou `n mens kon vertaal: "langsaan gaan staan". Die persoon tree berekend, willens en wetens, uit die kring, uit die gemeenskap van gelowiges, en maak hom/haar van die bindinge daarvan los. Hoewel ondenkbaar, is dit `n skrikwekkende werklikheid met as dieptepunt 6:6.

Die krasse vermaning kon maklik die geloofsgemeenskap in `n gees van moedeloosheid gedompel het. Dit was egter geensins die bedoeling van die skrywer nie. Juis die toegeneë manier waarop hy hulle aanspreek as "geliefdes", wil van die teendeel spreek. Hy verseker hulle daarvan dat God nie onregverdig is nie. Dit gaan nie oor `n eng dogmatiese skema nie, maar juis oor die ruimte van God se genade. Hy sal nooit hulle geloof, liefde vir sy Naam en diens aan hulle medegelowiges vergeet nie (vgl. ook 10:32). Die skrywer se opregte wens vir hulle is dan dat hulle in dieselfde ywer as vroeër end-uit sal volhard totdat die dinge waarop hulle hoop, vervul is. Dit is dus vir die geloofsgemeenskap belangrik om nie traag te word nie, maar die voorbeeld na te volg van diegene wat deur geloof en geduld deel verkry het aan die dinge wat God beloof het. Die waarskuwing teen traagheid en afvalligheid wil nie hulle vertroue demp nie. Inteendeel, dit wil hulle geloofsvisie verskerp om nog duideliker toekomsgerig te leef!

Bibliografie

Sien by vorige Sondag. Aanvullend: DJ Smit, 1983. Hebreërs 6:1-8, in Woord teen die Lig 1/5.