Ander
tekste: Job 38:1-7, 34-41; Psalm 104:1-9, 24, 35; Markus
10:35-45.
Jesus se
priesterskap en ons
priesterlike roeping
Die
betekenis van priesterskap – die priesterskap van Christus en die implikasies
daarvan vir gelowiges in hul alledaagse lewe, kom hier na vore.
Die
belangrikste eienskap van 'n priester is om offergawes aan God te bring, veral
deur lyding heen. Soos Christus
gehoorsaamheid deur lyding geleer het, so moet ook ons. Uiteraard is dit baie moeilik, menslik
onmoontlik, maar deur sy verlossing is dit vir die mens tog moontlik om
hom/haar hierin aan Christus te onderwerp.
Die mens het egter van nature eer in gedagte en nie diens en opoffering
nie. Dit staan teenoor die weg wat
Jesus volgens Hebreërs 5 bewandel het.
Ons sien
ook in die boek Job dat hy nie 'n marionet in God se hande was nie, maar 'n
definitiewe invloed in die skeppingsgebeure moes uitoefen. God gebruik die godvresende persoon, die
integriteitsmens in situasies van lyding om die chaos in sy/haar lewe en in die
skepping te beheer! Deur lyding heen
ontdek 'n mens maar net telkens dat God se weë hoër as ons s'n is. Dat Hy nie sondaars uitwis nie, maar hulle
juis deur beproewing met Hom wil versoen.
As ons dit verstaan, begin ons iets van ons priesterlike roeping begryp
en kan ons sodoende medeskeppers van God op aarde word.
Die doel
van die Hebreërbrief is om gelowiges, wat as gevolg van lyding en versoekings
in hulle geloof wou verslap weer in die geloof aan te moedig. Dit word gedoen deur die klem op die
hoëpriester-christologie te laat val. Die
aardse lyding van Jesus en die betekenis daarvan help nie net die gelowiges om
soos Hy te volhard nie, maar dien ook as bemoediging in die sin dat Hy nou in
'n posisie is van waar Hy hulle kan en wil help. Hy is nou die Bewerker van hul saligheid, die Leidsman en
Voleinder van hul geloof. Die hart van
die brief lê in Hebreërs 4: 14-5:10 met 5:7-9 van besondere belang.
In die
gelese gedeelte (Heb 5 : 1-10) gebruik die skrywer 'n verskeidenheid
Ou-Testamentiese materiaal om die superioriteit van Jesus Christus ten opsigte
van die Levitiese priesters uit te wys.
Hy verwys
dan ook na Melgisedek wat die kultiese priesterorde van Israel voordateer en
voorrang bo die priesterorde van Aaron geniet.
In dié sin funksioneer hy as 'n uitnemende priester-voorbeeld vir
Christus. Dis interessant om te let hoe
die skrywer volgens 'n eerste-eeuse Mediterreense wyse redeneer. Hy neem 'n historiese figuur, vestig 'n
bepaalde patroon of standaard en vergelyk dan 'n latere persoon (in hierdie
geval Jesus Christus) daarmee waardeur hierdie latere persoon se werklike
bydrae dan na vore kom.
In hierdie
gedeelte gaan dit kortom oor die betekenis van 'n hoëpriester, hoe Christus
gekom het om 'n hoëpriester te wees, sy ervaringe en wat Hy in dié opsig bereik
het.
Hier word
drie wesenlik belangrike eienskappe van 'n priester genoem. Eerstens word 'n priester uit mense geneem
en aangewys om sekere dinge rakende God aan mense deur te gee. In oud-Israel
moes die priester die sondes van die volk na God bring – daardie sondes wat die
verhouding tussen God en mens versteur het.
Hierdie intree by God deur gawes en offers te bring vir sondes, moes
weer die verhouding tussen God en volk herstel. Die priester se bestaan was gefokus om die weg vir die sondaar
terug na God voor te berei, solank hy/sy natuurlik wou terugkeer.
Tweedens
moes die priester ook iemand wees wat "een" met mense was. Hy moes ervaar het wat mense ervaar
het. Hy moes simpatie/meegevoel met
hulle gehad het.
Derdens
word 'n priester ook deur God geroep.
Dit is nie 'n kantoor wat beman moet word nie, maar 'n voorreg waartoe
hy deur God geroep word. Dit is met
ander woorde nie 'n werk nie, maar 'n roeping.
Nou gaan
die skrywer van die Hebreërbrief voort om te sê hoe Jesus Christus as
hoëpriester opgetree het. Hoe Hy by
uitnemendheid aan hierdie wesenlik belangrike eienskappe voldoen het.
Hy het nie
hierdie taak self gekies nie, maar God het Hom daarvoor uitgekies/bestem. Christus het ook waarlik mens geword. Hy was "een" met die mens sodat Hy
ons sondes op Hom kon neem. In hierdie
opsig was Christus by uitstek 'n hoëpriester, superieur ten opsigte van enige
aardse hoëpriester. Ons lees hoe Hy vir
Homself, soos 'n hoëpriester, gebid het.
Hy het uiteraard nie gebid vir sy sonde nie, want Hy was sondeloos, maar
dat God Hom van die dood moes red.
Terwyl Hy die dood in die gesig gestaar het en Hom in dié opsig tot God
gewend het, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat perfekte
gehoorsaamheid is. Alhoewel hierdie
gedeelte moeilik is om te verstaan, wil die skrywer, so lyk dit, iets sê van
hoe Jesus die menslike swakheid oorwin het, selfs deur die ergste teenspoed
heen, deur volkome toewyding aan God.
Deur al sy ervarings het Christus volmaaktheid bereik. Hiermee is nie net na die abstrakte verwys
nie, maar juis na bogenoemde funksie wat Hy kom vervul het. Die feit dat Christus hierdie funksie so
goed vervul het, het Hom die ware Verlosser van die mensdom gemaak. En hierdie verlossing wat Christus gebring
het, is 'n ewige verlossing vir hulle wat aan die Here gehoorsaam is.
Hierdie
gedeelte wat ons saamgelees het, gaan oor die priesterskap van Christus en die
implikasies daarvan vir gelowiges in hul alledaagse lewe, met ander woorde ons
priesterlike roeping.
Om hierdie
roeping reg te verstaan, moet ons gaan kyk wat hierdie priesterskap
behels. Om dit heel eenvoudig te stel,
'n priester is iemand wat hom/haarself aan God offer. Dit kan vir sommige mense revolusionêr wees, omdat hul nie graag
offer en diens lewer nie, maar van nature gedien en geëer wil word. Ons kry hiervan 'n treffende voorbeeld in
die gesprek tussen Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, met Jesus (Mark
10: 35-45). Hulle vra vir 'n ereplek in
die koninkryk van God. Omdat hulle die
(toekomstige) lyding en kruisgebeure van Christus glad nie verstaan het nie,
kon hulle dit waag om hierdie selfsugtige, self-vererende versoek tot Jesus te
rig. Wat Hy in sy antwoord vir hulle
wou leer, is dat 'n mens net 'n ware dissipel van Hom kan wees as jy Hom volg
in selflose diens en opoffering, selfs deur lyding heen – hierin het Hy
natuurlik vir ons die perfekte voorbeeld gestel. In hierdie gesprek keer Jesus die wêreldstandaard en norme op hul
kop. Grootheid, soos deur God
gesien, het te doen met opoffering,
diens en vrygewigheid en nie met posisies, mag en voorregte soos deur die
wêreldling beskou nie. Hoe moeilik is
dit nie soms vir ons om dit te verstaan nie.
Christen-wees,
kerk-wees, gaan nie oor wat ek kan ontvang nie, maar oor wat ek kan offer of
kan doen, selfs en veral deur lyding,
swaarkry en teenspoed heen. Wanneer
Jesus jou roep om sy dissipel te wees, nooi Hy jou nie op een of ander
eksotiese reis na 'n wonderlike plek waar jy van vanoggend tot vanaand op
vyfster wyse bedien gaan word nie. Nee,
wanneer Christus ons roep om sy dissipels te word, sê Hy: Kom, kom sterf! (Mark 8 : 34-36). En dit
geld vir elkeen wat Hom wil volg.
In Hebreërs
5 : 8 lees ons: "Hoewel Hy (Jesus)
die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid
is." Natuurlik is dit 'n vreemde
sinsnede, maar wat ons hieruit moet leer, is dat gehoorsaamheid vir die Seun
van God nie outomaties gekom het nie, maar Hy moes dit deur swaarkry, lyding en
beproewing leer. Soveel te meer geld dit vir ons gewone sondaarmense. Gehoorsaamheid aan God kom nie vanself nie,
dit moet geleer word!
Is dit dalk
die rede waarom slegte goed soms met goeie Christene gebeur? So dikwels sien 'n mens hoe sekere
omstandighede van hierdie wêreld gelowiges voor die bors gryp en platdruk op
die grond. Soms is dit siekte of die
dood van 'n geliefde. Ander kere is dit
bankrotskap, 'n kind wat jou teleurstel, 'n egskeiding of miskien ambisies en
ideale wat jy nie bereik het nie.
Diesulkes staan dan in die stortreën van die lewe en elke hoofbedekking
is van hulle weggeneem. In sulke tye
word die bladsye van die Bybel so nat dat hulle dit nie meer kan omblaai
nie! Ja, dan onthou jy 'n paar
teksverse, maar jy twyfel aan die betekenis daarvan. Jy is vuisvoos geslaan deur die aanslae van die lewe. Jou kruis, nie die een om jou nek nie, maar
op jou skouers, het so swaar geword dat geen Bybelteks eintlik meer
verstaanbaar is nie. Jy mis die
teenwoordigheid, die stem van God.
Dis sulke
tye dat 'n mens soos Maltatuli wil uitroep:
"Het God nie 'n kwade wil naas sy goeie wil nie?" Dit is sulke tye dat 'n mens vir God kru en
hardhandig wil aanvat soos 'n Job van ouds as hy sê: "Selfs al sou ek roep, glo ek nie dat God na my stem sal luister nie. Ook al was ek onskuldig, sou die Here se
mond my tog skuldig vind..."
Ons lees
hoe Job as gevolg van sy onskuldige beproewings sy geboortedag gevloek het, en
ons ervaar iets van die angs waarmee hy geleef het omdat hy gedink het God het
hom verlaat.
In die
lewensverhaal van Job kom daar hoofsaaklik drie perspektiewe rakende die verstaanbaarheid
of verklaarbaarheid van lydingsituasies na vore. Dit sal goed wees as ons kortliks daarna kyk. Eerstens kry ons Job se vriende se antwoord, dan Job se eie opinie en dan God se optrede.
Job se
vriende sê lyding en swaarkry ontstaan nie sommer nie. Alles werk met oorsaak en gevolg (Job 4 : 7-8; 5 : 6.) Daarom kan Elifas
sê dat net 'n skuldige of slegte mens ten gronde gaan. Iemand wie se verhouding met God reg is, kry
nie die wind van voor nie. Dan gebruik
hy die bekende spreuk: Wat jy saai, sal
jy maai. Eintlik kyk hulle baie
eenvoudig na lyding. Volgens hulle
beskouing beloon God altyd die goeie dade en straf Hy altyd die sonde.
In Job se
geval is sy vriende verkeerd. Natuurlik
werk sommige situasies met oorsaak en gevolg, maar die lewe is nie so eenvoudig
dat 'n mens sonder meer kan sê dat alles maar net aan oorsaak en gevolg
toegeskryf kan word nie. Dit is die
tweede perspektief wat na vore kom. In
Job se situasie werk dit nie so nie, want ons lees hy was 'n goeie, vroom en
opregte persoon. Hy het net goed gedoen
in sy lewe en nou sit hy op die ashoop,
terwyl dit met die goddelose mense rondom hom goed gaan (Job 1: 1; 9 :
21-22; 10 : 1-3). U sien, die lewe met
sy swaarkry en lyding kan volgens Job nie altyd volgens oorsaak en gevolg
verklaar word nie.
Maar Job se
uitval met God, sy vingerwysing van opstandigheid na God, was volgens die derde
perspektief nie sonder wins nie. In sy
krete en vloeke was hy opsoek na die Godsgeheim. Sy geestelike behoud het daarin gelê dat hy op God bly vertrou
het. Dat hy tog aan God bly vasklou het
ook in die donker tye toe hy nie kon sien waarheen dinge gaan nie. Hy het gepleit en met God geworstel. Hy was op sy knieë met sy lyf vol sere. En dan lees ons hoe God die stilte verbreek
(Job 38: 1-11; 39: 34-38; 42: 8, 10).
In hierdie teofanie, in hierdie verskyning van God aan Job, praat Hy nie
oor Homself of oor die goddelike motief vir Job se onskuldige lyding nie. Wat God vir Job en vir ons wil leer is dat
ons die goddelike motief moet vertrou en moet bid vir God se teenwoordigheid
ook deur onskuldige lyding heen. Ons
kan leef sonder rasionele antwoorde.
Ons moet nie bid vir 'n oplossing nie, maar vir verlossing.
In God se
reaksie teenoor Job (Job 38: 1-11) kom twee baie interessante aspekte na
vore. In verse 4-7 van Job 38 kry ons
met prysenswaardige elemente rakende die aarde te doen, en in verse 8-11 met
die meer sinistere aspekte van die see.
Ons het hier as 't ware met die strukturele teenstrydigheid in Gods
skepping te make. Aan die een kant is
die aarde perfek geskep en afgemeet, aan die ander kant moet die
onheilspellende en skrikwekkende see in toom en onder beheer gehou word. God wil in sy verskyning aan Job vir hom
iets na aanleiding hiervan sê. Gegewe
hierdie strukturele teenstrydigheid in die skepping, word die integriteit of
goedheid van Job al belangriker. Hy is
nie bloot 'n marionet in God se hande nie, maar hy moet 'n definitiewe invloed op die
skeppingsgebeure uitoefen. In Job se
lewe is daar die goeie, maar hy is deel van 'n gebroke en sondige wêreld as
gevolg van die bose. Daar is die
skrikwekkende en onheilspellende gebeure waaroor hy nie beheer het nie. Gelukkig het God daaroor beheer en wil Hy juis die godvresende
persoon, die goeie mens met integriteit wat op Hom vertrou ten spyte van sy
omstandighede, gebruik om hierdie chaos te help beheer. Wat God dus vir Job en vir ons wil leer, is
dat die integriteit van die godvresende persoon in 'n situasie van onskuldige lyding
een van die mees primêre maniere is waarvolgens hy/sy vir God help om die chaos
in die skepping in toom te hou!
Soms voel
dit of dinge in ons lewe hand-uit ruk, maar genadiglik nooit Hand-uit nie. Noordmans sê dit iewers so mooi: God dink die kwaad ten goede! Die goeie mens, die integriteitsmens, word
gebruik om die skrikwekkende of onheilspellende van hierdie wêreld te deurkruis.
Om die onheil in heil te verander.
Hierdie positiewe, instrumentele gebruik van die mens deur God in
situasies van lyding, maak nie net die lyding meer hanteerbaar nie, maar
deurkruis dit sodat die minus op die ou end 'n plus word.
En dis juis
in hierdie deurKRUISing waarin Christus as hoëpriester vir ons 'n uitnemende
voorbeeld kom stel het. Hy het dit vir
ons moontlik kom maak om ons kruis te dra, om die chaos in hierdie wêreld te
help beheer, deur sy lyding en kruis dood.
Deur die verlossing wat Hy aan die kruis vir ons bewerkstellig het, kan
ons as priesters ook deur lyding en beproewing heen staande bly en al meer
gehoorsaam aan God word. Die wonder wat
'n moeë geloof weer kan laat opvlam, is om oë te kry vir Jesus en sy lyding.
Dis
natuurlik makliker gesê as gedoen. Maar
alleen as ons by hierdie punt gekom het in ons lydingsituasies, word ons soos
Job van ons angs verlos. En hier pas 'n
loflied! 'n Loflied wat God se
grootheid en kreatiewe mag verheerlik (Ps 104). En wanneer ons weer vir God kan begin verheerlik ten spyte van
swaarkry en lyding, word ons geestelike karakters gevorm. Ons ontdek weer wie ons is. Ons kan as gelowiges ons identiteit vier
deur saam die brood te eet en die wyn te drink. So begin ons ons
priesterlike roeping nakom want dan begin ons sekere sentrale waarhede
rakende die werk en persoon van Jesus Christus kommunikeer.
Ons ontdek
dat God se weë hoër as ons s'n is. Dat
Hy sondaars wat swaarkry en daarom soms twyfel, nie uitwis nie, maar juis met
Hom versoen om medeskeppers van Hom hier op aarde te word. Hy wil deur lyding die mens al meer, dieper
en inniger met sy wil verenig. Daar
ontstaan weer hoop. Ons word bewus van
sy beloftes naamlik dat daar aan sy liefde geen einde is nie en dat niks ons
kan skei van God se liefde wat daar in Jesus Christus vir ons is nie. En dat die heerlikheid op grond hiervan wat God vir sy kinders weggebêre het, en
waarna ons uitsien, nie opweeg teen die lyding en teenspoed van hierdie wêreld
nie (Rom 8: 18-39).
Literatuur
Bruce, F.F. The
New International Commentary on the New Testament, The Epistle to the Hebrews,
pp. 88-106. De Klerk, P.J.S. Kommentaar op die Bybel, Nuwe Testament, Die
Brief aan die Hebreërs, pp. 88-95.
Fensham, F.C. Die Brief aan die Hebreërs, pp.
43-48. Grosheide, F.W. Korte Verklaring der Heilige Schrift,
Hebreeën, pp. 56-63. Smit, D.
Woord teen die Lig, pp. 200-206. Soards, M., Dozeman, T., Kendall, M. Preaching the Revised Common Lectionary,
pp. 92-102. Van Oyen, H. De Brief aan de
Hebreeën, pp. 75-83.