9 APRIL 2004

GOEIE VRYDAG feesdiens

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Hebreërs 4:14-16; 5:7-9

Ander tekste: Jesaja 52:13-53:12; Psalm 31; Johannes 18-19

Inleiding

Goeie Vrydag is die dieptepunt van Lydenstyd en fokus op die herdenking van Jesus se kruisiging. Die atmosfeer tydens hierdie diens moet baie sober en gewyd wees, met heelwat geleentheid vir stille nadenke. Daar moet so min as moontlik versierings in die erediensruimte wees, verkieslik net n kruis. Geen blomme of kanselkleed. Indien moontlik kan die kerkklok op dié dag op n "begrafniswyse" gelui word. Die onderstaande liturgiese voorstel het n meditasie op die sewe kruiswoorde van Jesus as sentrale element iets wat tradisioneel deel van Goeie Vrydagvieringe in baie Protestantse kerke is. Na die prediking volg daar n gebed gebaseer op Psalm 22 (die psalm waaruit Jesus o.a. aan die kruis aangehaal het).

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

Lied 260:11

Aanvangswoord

Psalm 31:2-6

Seëngroet

Sang

n Gepaste Lydenslied soos Lied 390, 391, 392 of 393 kan hier gesing word.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed

Skriflesing uit die Ou Testament

Jesaja 52:13-52:12

Die Kruiswoorde van Jesus

Die volgende gedeeltes word agtereenvolgens gelees met genoeg tyd vir stille nadenke tussenin:

Lukas 23:33-34

Stille nadenke

Lukas 23:39-43

Stille nadenke

Johannes 19:25-27

Stille nadenke

Matteus 27:45-46

Stille nadenke

Johannes 19:28

Stille nadenke

Johannes 19:29-30

Stille nadenke

Lukas 23 45-46.

n Gepaste lied kan hierna gesing word, bv. Lied 387.

Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe

Hebreërs 4:14-16; 5:7-9

Prediking

 

 

Gebed

Lees die volgende agtereenvolgens gedeeltes uit Psalm 22, met telkens n geleentheid vir stil gebed. Die stil gebed kan telkens gevolg word deur die lees van Hebreërs 4:14-16 (verkieslik deur n ander persoon as die voorganger):

Voorganger: Psalm 22:2-6

Stil gebed

Tweede voorganger: Hebreërs 4:14-16

Voorganger: Psalm 22:7-9

Stil gebed

Tweede voorganger: Hebreërs 4:14-16

Voorganger: Psalm: 22:10-16

Stil gebed

Tweede voorganger: Hebreërs 4:14-16

Voorganger: Psalm 22:17-22

Stil gebed

Tweede voorganger: Hebreërs 4:14-16

Voorganger: Psalm 22:23-32

Stil gebed

Tweede voorganger: Hebreërs 4:14-16

Voorbidding

Sang

Lied 396 of n ander gepaste Lydenslied

UITSENDING

Geloofsbelydenis

Slotsang

Lied 400: 1-5 (alternatiewelik kan die diens afgesluit word sonder om n lied te laat sing)

Seën

Dit is volbring.

Sang

Lied 312-316 "Amen" (Sing een van die weergawes.)

As alternatief vir die seën kan NSG 355 of 356 gesing word.

INLEIDING tot HEBREëRS

Ons weet nie wie die skrywer van die boek Hebreërs is nie. Origines (254) het reeds gesê: "Wie inderdaad hierdie boek geskryf het, weet (net) God." Daar is sterk argumente daarteen dat dit Paulus kon wees, maar 13:23 laat mens vermoed dat die skrywer wel deel van die kring van Paulus kon gewees het. Die skrywer was nie self een van die leiers van die gemeente nie (13:7, 17, 24), en het die evangelie op 'n later tydstip ontvang van mense wat dit van die Here gehoor het (2:3).

Dis duidelik dat die skrywer goed opgevoed en deeglik in die retoriek geskool was. Hy wil die heil vir sy lesers vertolk en op pastorale wyse die gemeenskap help bou en vorm. Waarskynlik was hy 'n Jood in die Diaspora wat nie self meer Aramees gepraat het nie en vir sy baie aanhalings uit die Ou Testament die Septuagint, die Griekse Ou Testament, gebruik het. Opvallend is die belangrike rol van die tabernakel, die verbond en verskillende Joodse historiese figure. Daar is egter ook duidelike Griekse invloede, soos die tipies Platoniese denke van 'n kontras tussen die volmaakte hemelse wêreld en die minderwaardige aardse afbeelding daarvan. Die Ou Verbond is soos 'n skaduwee, maar die Nuwe Verbond is "beter" en die hemelse vaderland is die "beter" vaderland (11:16). Hebreërs bevat ook van die beste Grieks in die Nuwe Testament.

Al is die opskrif "Die brief aan die Hebreërs", vertoon die boek nie die kenmerke van 'n brief nie, soos: die identifikasie van die skrywer of lesers, asook geen gebed of danksegging vir die lesers nie. Kyk maar na 1:1-4 wat eintlik 'n pragtige inleiding vir 'n preek is. In 13:22 noem die skrywer sy werk self 'n "woord van bemoediging". Dit dui op 'n preek of homilie in Joods-Hellenistiese en vroeë Christelike kringe (vgl. Paulus se preek in Hand. 13:15, 16-41 as 'n "woord van bemoediging"). Waarskynlik is Hebreërs 'n preek wat hardop gelees moes word en waaraan later 'n briefslot (13:22-25) toegevoeg is.

Die opskrif (wat uit 'n later tyd stam) suggereer dat die lesers 'n groep Hebreërs, Jode, is. Tog is dit nie nodig om te dink dat die lesers net Christene is wat eers Jode was nie. Hebreërs 6:1-2 se stelling: "bekering uit 'n leefwyse wat tot die dood lei" en "geloof in God", kan nie van Jode geld nie. Maar die baie aanhalings uit die Ou Testament en die verwysings na die diens van die tabernakel laat 'n mens wonder of die lesers net nie-Joodse Christene kon gewees het. Die preek sou eintlik baie sinvol vir Joodse Christene (die godvresendes of godvereerders van Hand. 10:2, 22, 35; 13:16) uit die Diaspora en heiden Christene gewees het (deSilva). Ons weet ook nie regtig waar die lesers gewoon het nie. Dit kan Jerusalem, Spanje, of in en naby Rome gewees het. Selfs die groete van "die wat van Italië afkomstig is" (13:24), kan op mense dui wat vroeër in Rome was en wat nou groete terugstuur na Rome, of op mense wat in Rome by die skrywer is en aan lesers buite Rome groete stuur! Tog aanvaar talle ondersoekers dat die lesers in Rome was (Du Toit), en dat dit 'n klein huisgemeente was, losweg verbonde met ander huiskerke in die stad (vgl. Rom. 16:3-15).

Dit is ook onduidelik wanneer die boek geskryf is. Dit moes voor 96 n.C. gewees het, want in daardie jaar haal I Klemens (in Rome) reeds daaruit aan. Die lesers was tweede geslag Christene wat reeds 'n geruime tyd gelowiges was (5:12), maar nou die gevaar begin loop om belangstelling te verloor (2:1-4), moedeloos te word en van die geloof afvallig te raak (3:12; 10:25). Hulle beleef die krisis om in die gemeenskap eer en aansien te verloor omdat hulle aan die belydenis vashou. Op die lang duur eis die sosiale druk sy tol en loop hulle die gevaar om afvallig te raak.

Die vroeëre lyding waarna 10:32-34 verwys, kan sinspeel op die Edik van keiser Claudius wat in 49 n.C. leiers van sinagoges en huisgemeentes, mense soos Akwila en Priscilla, uit Rome verban het (Hand. 18:42). Nou beleef hulle egter 'n nuwe krisis en 'n ernstiger situasie as onder Claudius (vgl. 2:25 en 12:3-4), met die gevaar van marteling en verbanning (11:35-12:3). Sommige dink selfs aan die tyd tussen die brand in Rome in 64 en Nero se dood in 68. Dit kan moontlik voor die verwoesting van die tempel en die val van Jerusalem in 70 n.C. wees, hoewel dit nie onmoontlik is dat dit selfs later geskryf is nie.

Hebreërs kan gesien word as 'n preek wat mense wil oortuig deur retoriese tegnieke te gebruik in 'n poging om die gehoor te help om in hulle krisissituasie die regte keuses te maak, vas te staan en nie afvallig van die lewende God te raak nie. Die skrywer herdefinieer wat ware geluk is en verseker hulle dat hulle as lede van God se huishouding eer sal hê. Christus is God se grootste gawe daarin dat Hy die Middelaar is wat toegang tot God, die ware Weldoener, moontlik maak (deSilva).

Besonder kenmerkend is die wyse waarop die positiewe uiteensetting en die vermanende gedeeltes mekaar afwissel. Oor die indeling van die boek loop die menings ook baie uiteen. Tog kan die volgende hoofdele 'n sleutel bied (deSilva).

1:1-2:18 Eerste oproep om aandag te gee aan die Woord van God in die Seun

3:1-4:13 Tweede oproep om Woord van God te eer deur volharding en vertroue

4:14-10:18 Sentrale uiteensetting die lang en moeilike woord 5:11

10:19-13:25 Klimaks: Oproep om te volhard in dankbaarheid

Die preek se sentrale boodskap is: Ontdek en beleef Jesus Christus opnuut, dan sal julle kan vasbyt en voluit as Christene kan lewe (Du Toit), met 13:8 as sleutelvers: "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid". Die aktualiteit van Hebreërs vir vandag lê veral hierin (deSilva): Wat is werklik ons waardes en prioriteite? Watter dinge is vir ons "beter" en belangriker as ander? Genade impliseer wedersydse verpligtinge. Wanneer 'n mens God se gawes aanvaar, impliseer dit 'n verpligting teenoor die Gewer. Vriendskap met God is meer werd as vriendskap met die wêreld. Daarom moet ons ons inspan om die gemeente te versterk en in stand te hou.

 

PREEKSTUDIE HEBREëRS 4:14-16; 5:7-9

Teks

Die perikoop 4:14-5:10 vorm 'n eenheid, hoewel sommige dit as 4:15-5:10 afbaken (Lane). Terwyl 4:14 as klimaks van die vorige gedeelte gesien kan word, kan dit ook as brug na die volgende gedeelte funksioneer. 4:14-16 vertoon groot ooreenkomste met 10:19-23. Hierdie twee gedeeltes omraam die lang en moeilike woord (5:11) tussenin (deSilva). Sodoende vorm 4:14-16 die inleiding tot die volgende hoofdeel 4:14-10:18 (sien ook Smit, WTL).

A 4:14-16

Ons het 'n groot hoëpriester Jesus die Seun van God het deur hemele gegaan. Hy kan saamvoel met ons swakhede, is versoek en sonder sondes. Daarom moet ons vashou aan ons belydenis, toetree tot die troon, sodat ons barmhartigheid ontvang en genade vind.

B 5:1-4

Gewone hoëpriester uit mense geneem, offer vir sondes. Kan saamvoel, self ook swak, offer vir volk, ook vir homself. Stel nie homself aan nie deur God geroep.

B' 5:5-6

So ook Jesus nie vir Homself waardigheid as hoëpriester toegeëien nie. God sê vir Hom: Seun, priester soos Melgisedek.

A' 5:7-10

As mens op aarde: Offer gebede, smekinge, geskreeu, trane. Verhoor uit angs. Hoewel Seun, leer gehoorsaamheid in lyding. Volmaak, ewige Verlosser. Deur God aangestel soos Melgisedek.

Die perikoop self vertoon 'n chiastiese (A, B, B', A') (omgekeerde parallelle) opbou wat die noue samehang tussen 4:14-16 en 5:7-10 onderstreep. B vertel wat die vereistes van die gewone hoëpriester was om sy funksie te kan vervul, terwyl B' dan aantoon dat Christus ook so was. Tog skemer die unieke van Christus hier alreeds deur. B-B' word omraam deur A en A', waarin die aspekte waarin Jesus soos die gewone hoëpriesters is, weer voorkom, maar veral sy unieke dimensies onderstreep word. Veral in 7:1-10:18 word Jesus dan geteken as hoëpriester wat totaal anders is as die Levitiese priesters.

In die vorige hoofdeel is reeds twee keer (2:17; 3:1) na die hoëpriester verwys. Die motief word weer in 4:14 opgeneem. Trouens, in 4:14-10:18 kom verwysings na die hoëpriester 14 keer voor. Die gedeelte in 4:14-16 en 5:7-10 dien feitlik as 'n samevatting van die boek. Hier word besondere klem geplaas op twee aspekte van Jesus wat telkens in Hebreërs terugkom: sy verhewenheid, maar ook sy solidariteit met die mens in lyding (vgl. 2:15-18).

Veral B-B' beklemtoon die ooreenkomste tussen Jesus en priesters soos Aäron. In aansluiting by 4:15-16 word hier benadruk dat soos die hoëpriesters, Jesus 'n mens uit die mense en vir die mense was (5:1), dat Hy (as iemand wat die swakheid van mense volledig deel) in staat is om Hom volledig in te leef met mense wat onkundig en aan die dwaal is (5:2), dat Hy Hom ook nie die waardigheid as Hoëpriester self toegeëien het nie (5:4, 5), maar dat God Hom geroep het (5:4, 5-6). Tog kom die verskil tussen Jesus en die hoëpriesters in 5:3 uit, aangesien Jesus nie offers vir sy eie sondes hoef te bring nie (vgl. 4:15).

In A A' word enersyds weer besondere nadruk gelê op Jesus se solidariteit met die mense; Hy kan medelye met ons swakhede hê, is in elke opsig versoek net soos ons, maar sonder sonde (4:15), offer gebede en smekinge, met harde geroep en trane (5:7), beleef angs (5:7) en leer gehoorsaamheid uit wat Hy gely het (5:8). Andersyds word die verskille tussen Jesus en die hoëpriesters hier uitgelig: Jesus as ons groot Hoëpriester het reeds deur die hemele gegaan, is die Seun van God (4:14; 5:8), het nie gesondig nie (4:15), is die bron van saligheid (5:9), is deur God verklaar as Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (5:10). Jesus het na sy lyding (aangrypend in 5:7 geskilder) "reeds deur die hemele gegaan" (sy hemelvaart 5:14). Daarom kan Hy as die groot Hoëpriester nou as Middelaar (8:6; 9:15) voor God verskyn om vir ons toegang tot God te bewerk. Die funksie om toegang tot 'n beskermer/weldoener te bewerk, was 'n bekende motief in die literatuur van daardie tyd. Dit alles is die basis vir die versekering en oproep (4:14) om aan die belydenis vas te hou en met vrymoedigheid tot God se genadetroon te nader, om barmhartigheid en genade te kan ontvang. Hierdie belydenis is die spesifieke formulering van die kern van die geloof wat lede van die gemeente aanvaar het en openlik bely het (vgl. 3:1). "Jesus, die Seun van God" (4:14) eggo daardie belydenis.

Enkele sake waarop verder vlugtig gewys kan word:

In die "Hy was aan versoeking onderwerp" in 4:15 (perf.) is die gedagte opgesluit dat Jesus hierdie wete met Hom saamneem en dat Hy daarom steeds in staat is om met ons mee te leef, ook nou in die hemel. Dit is belangrik om raak te sien dat die gedagte van versoeking in Hebreërs veral die toespitsing het van om tou op te gooi en afvallig te raak. Jesus se sondeloosheid is juis dat Hy volhard sonder om tou op te gooi (Smit).

Juis mense wat aan die belydenis vashou en weet dat ons Jesus as Hoëpriester het (4:14), kan dan anders as die hoëpriester in Israel wat net een keer per jaar op die Groot Versoendag dit kon doen voortdurend met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. Die effek van hierdie oproep op die hoorder is die emosie van vertroue, wat volgens Aristoteles die teenoorgestelde van vrees is (deSilva). Nou word die gelowige 'n "kliënt", 'n afhanklike van God, wat Psalm 27:1, 3 kan bely. Dit staan teenoor die vrees wat 4:12-13 wil inboesem. Die alternatiewe is óf God as Regter, óf die Seun as Middelaar. Dis opvallend dat die vrymoedigheid (4:16) waarmee ons na God kan gaan, in die Griekse konteks vir die vryheid van spraak in die volksvergadering gebruik is, maar nooit vir gebed nie. In die Hellenistiese Judaïsme is dit wel ook in konteks van gebed gebruik. Dit laat ons wel dink aan Abraham wat met God in gesprek tree (Gen. 15:2-3).

Om besonder eervolle dinge van Jesus as Hoëpriester (4:14; 5:10) te sê, is tipies van die soort retoriek waarin 'n mens iemand prys of blameer (deSilva). Jesus het egter nie eer net maar omdat Hy 'n verhewe titel (hoëpriester) het nie, maar omdat Hy inderdaad as "weldoener" optree tot voordeel van sy "kliënte". Alle priesters, en veral die hoëpriester, vervul die rol van "brokers", middelaars. Die behoefte aan bemiddeling hang saam met die konsep van heiligheid en vrees vir "die heilige" wat gevaarlik en magtig is (deSilva). Dit is ook die realiteit van Jesus se kruisdood op Golgota. Let ook daarop dat in die Ou Testament net in Genesis 14:1724 en Psalm 110:4 van Melgisedek (Koning van geregtigheid, koning van vrede) sprake is. Hy was tegelyk priester en koning en dit is ook van Jesus Christus waar. Dit is interessant dat Jesus op aarde nie hoëpriester sou kon gewees het nie, aangesien Hy nie uit die stam van Levi was nie, maar uit die stam van Dawid. In die hemel tree Hy egter as ons ewige Hoëpriester op.

In 5:7-9 word geweldige sterk taal gebruik om Jesus se vereenselwiging met mense uit te druk (sien 2:14-18). Hier is letterlik sprake van die "dae van sy vlees" (in die NAV goed vertaal as "gedurende sy aardse lewe"), maar wat Jesus se "vlees"/menswording onderstreep. Hy bring deur sy lyding (in Getsemane, maar nie net daar nie) 'n offer van gebede, smekinge, en 'n harde geskreeu en trane. Hier hoor ons weer die taal van Psalm 22, veral ook vers 25. Die woord "eulabeia" aan die einde van vers 7 kan op twee maniere verstaan word. Die NAV neem dit as die "eerbiedige onderworpenheid aan God" (godvresendheid), maar in dié verband pas dit beter om dit as "angs" te verstaan. Dit kan dan vertaal word as "En God het Hom verhoor uit sy angs" (Du Toit, Fensham, Smit). Die verhoring van die gebed dui op Jesus se opstanding uit die dood. Die "volmaaktheid" in vers 9 dui nie op morele of sedelike ontwikkeling nie, maar op die bereiking van die punt van geskiktheid waar Hy volkome toegerus is om die volkome offer te bring en om as Hoëpriester op te tree.

Konteks

Hierbo is reeds aandag gegee aan die vertroue wat gewek word deur die oproep op die hoorders (lesers) om aan die belydenis vas te hou. Ten spyte van die korrupsie en bedenklike rol van sommige hoëpriesters in die Makkabese periode (kort voor die tyd van die NT), sou daar nog steeds 'n baie hoë agting vir die hoëpriester onder die Jode gewees het. Boonop sou die eerste lesers die rol van priesters as "brokers"/middelaars beter verstaan het as die deursnee Bybelleser vandag, wat waarskynlik nie werklik die rol van 'n priester ken nie.

Die rol van die kerkjaar vir die verstaan van die teks is beslis belangrik. In die Book of Common Prayer word Hebreërs 10:1-25 ook vir Goeie Vrydag aangegee. Die feit dat Hebreërs 4:14-16; 5:7-9 in die Leesrooster vir Goeie Vrydag voorgestel word, sal beslis die verstaan daarvan kleur. Dan kan Goeie Vrydag nie net 'n dag van verlatenheid en neerlaag wees nie, maar dit hou ook die boodskap van lewe, hoop en triomf in. Wat die hoëpriester onder die Ou Verbond simbolies gedoen het (deur die voorhangsel van die tempel heengegaan), het Jesus werklik gedoen. Ons teks sinspeel dus op Goeie Vrydag reeds op die opstanding en die Hemelvaart, anders sou ons dit nie "Goeie Vrydag" kon noem nie.

Die eietydse hoorders kan beslis verstaansprobleme met hulle saamdra in die Lydenstyd. Daar is mense met 'n behoefte aan 'n sterk God, nie 'n verloorder nie. Sommige eksponente van feministiese teologie neem aanstoot aan geweld, bloedvergieting en die tipiese manlike veragting van die lewe. Tog is daar ook weer raakpunte tussen die situasie van die eerste lesers wat moeg en mat geword het en huidige hoorders. Hebreërs wil die wandelende volk van God in hulle woestynreis onderweg na die rus bemoedig. Juis daarom pas Hebreërs goed in ons eie situasie. Mense wat aktief betrokke is by die ekologie, menseregte, die ekumeniese beweging, dialoog tussen godsdienste en noem maar op (en miskien moedeloos is), kan tog deur die boodskap oor die lyding van Jesus in ons teks geraak en bemoedig word (Rau).

Vir die mondige en onafhanklike postmoderne Westerling is die gedagte van iemand wat vir ons intree, nie maklik te aanvaar nie. Mense vergeet egter gemaklik dat die gewone lewe vol is van die rol van middelaars en ombudsmanne (Zumkehr). Juis in dié verband is die Hoëpriester se voortdurende taak van voorbidding in die hemel, 'n belangrike implikasie.

Op Goeie Vrydag bring moderne hoorders dikwels ook hulle onsekerheid oor wie Jesus werklik is, saam na die diens. Vir sommige is Jesus die superheld wat op die water kan loop, en alle wonders kan doen. Vir ander is Hy net 'n morele voorbeeld, 'n voluit menslike mens, 'n mengsel van Albert Schweitzer en Moeder Teresa, 'n vryheidsvegter, feminis, sielkundige, kortom, alles wat die tydsgees voorskryf (Petsch). Sal die teks ons as hoorders so oorweldig met die ware grootheid van die GROOT Hoëpriester wat so solidêr met ons was dat Hy ook angs geken het, dat ons klein sal word, op ons knieë in aanbidding sal val? Dan kan ons juis op Goeie Vrydag vrymoedigheid kry om tot God te nader. Die verwysing na die troon van genade in vers 16 relativeer alle ander trone en owerhede op aarde, ook vandag. Dit behels ook in die kerk kritiek teen die misbruik van ampte en ook die oproep om self ander priesterlik te dien.

Die verwysing na Jesus wat gehoorsaamheid geleer het (5:8) en na almal wat aan Hom gehoorsaam is (5:9), verdien verdere aandag (Liedke). Filippense 2:8 vertel dat Jesus gehoorsaam was, maar net in Hebreërs dat Hy deur lyding gehoorsaamheid geleer het. Ofskoon die lyding na Getsemane kan verwys, geld dit ook van Jesus se hele aardse lewe. Veral in Matteus word daar heelwat klem op die gehoorsaamheid van Jesus gelê, sien die opmerking dat aan die wil van God voldoen moet word (by sy doop in Matt. 3:15). Jesus gaan op die weg van gehoorsaamheid, maar die dissipels moet Hom ook volg op die pad van gehoorsaamheid. Sien ook Hebreërs 11:8 se opmerking dat omdat Abraham geglo het, was hy gehoorsaam (het hy gehoor gegee). Bonhoeffer het by geleentheid gesê: "Net die gelowige is gehoorsaam, en net die gehoorsame glo."

Ons beleef 'n tyd waarin mense op soek is na 'n belewing van hulle geloof wat oop is en wat groei, nie staties en rigied is nie. Dit kan daarom sinvol wees om die fokus te laat val op Jesus as die Leermeester wat self deur lyding geleer het, die Een wat voluit mens was en ons depressie, angs en smart ken en verstaan, wat Hom kan vind in die taal van Psalm 22; 73:12 (ek was dom en sonder insig, tog was ek nog by U), maar ook van Psalm 30:12 (ek was in rou, maar U het my van vreugde laat dans) (Petsch).

Preekvoorstel

Juis op Goeie Vrydag is die aansporings in 4:14, 4:16 die swaartepunt van die teks wat in die prediking helder behoort deur te kom om die gemeente moed te gee. Ons deel in wisselende mate die eerste lesers se ervaring van gemeenskaplike aanvegtinge, al is dit miskien nie so intens soos in 10:32-4 en 12:1 nie. Daar is ook vrae wat onbeantwoord bly, soos waar die heerskappy van God in die wêreld te sien is (vgl. 2:8; 11:1). Alles duur so lank, die "normale" lewe gaan eenvoudig aan, daarom word ook ons knieë lam en ons hande slap (12:12). Maar daar is ook genoeg beelde in die teks wat vir ons vreemd is: die hoëpriester wat deur die hemele gegaan het (4:14), om te gaan na die genadetroon (4:16), die groot Hoëpriester wat klein word, die Seun van God wat versoek is en swak soos elke mens? Dis wel belangrik om raak te sien dat die sondes waarvan hier sprake is nie "popspeel"-sondes is nie (Luther), maar sonde in sy mees fundamentele gestalte, naamlik om van God afvallig te raak. En dis 'n wesenlike gevaar wat elkeen van ons ook bedreig.

Die krag van die aansporings in 4:14, 4:16 berus op Jesus se ongelooflike identifikasie op aarde met die mens, soos dit na vore kom in 4:15 en 5:7-8. Juis op Goeie Vrydag kan en moet dit duidelik uitgespel word. Dit beteken dat ook oor die lyding van mense heel konkreet gepraat moet word. Maar wie wil vandag werklik luister na die smart en leed van ander mense? Is dit die rede waarom soveel mense maar eerder hulle leed by 'n rubriek in 'n tydskrif bekla? Ons hoef nie oor ons trane en geskreeu skaam te wees nie. Ons hoef nie altyd "sterk" te wees nie, kan ook maar 'swak' wees en dit erken. Jesus was ook swak (Petsch).

Die werklikheid van Jesus wat in elke opsig net soos ons aan versoeking onderworpe was, kan in die preek sterk ontwikkel word. Ook hierin is daar vir die gemeente troos en versterking geleë, juis as ons daarmee erns maak dat die klem in Hebreërs keer op keer val op die gevaar om tou op te gooi en afvallig te raak. Maar ons het 'n groot Hoëpriester wat dit alles self beleef het en nou leef om vir ons in te tree, sodat ons nie afvallig sal raak nie.

'n Verdere verrassende perspektief is om te let op Jesus wat die Leermeester is, maar wat self ook moes leer wat gehoorsaamheid is, by wie daar ook groei was. Dit open perspektiewe vir groei en ontwikkeling in ons lewe saam met Hom. Daar is ook 'n gevaarlike kant aan gehoorsaamheid wanneer bevele eenvoudig blindweg gehoorsaam word en 'n mens dan eintlik net 'n objek word. Uit die Europese en ons eie geskiedenis ken ons dit goed. Daarenteen bly Jesus steeds die handelende subjek, juis ook in sy gehoorsaamheid, want dit gaan vir Hom steeds om die doen van die wil van die Vader (Foitzik). Juis daarom vra gehoorsaamheid dat ons aan God meer gehoorsaam moet wees as aan die mense (Hand. 5:29; vgl. Beyers Naudé se laaste preek in Aasvoëlkop voordat hy die gemeente verlaat het). Gehoorsaamheid kan wel ook vir ons lyding impliseer, maar dan in die geselskap van 'n groot skare van geloofsgetuies rondom ons (12:1).

Bibliografie

Attridge, H W 1989. The Epistle to the Hebrews. Philadelphia: Fortress (Hermeneia); deSilva, DA 2000a. Perseverance in gratitude: A socio-rhetorical commentary on the epistle "To the Hebrews". Eerdmans; Du Toit, A B 2002. Hebreërs vir vandag: 'n Bybelstudie vir dieper delwers. CUM; Du Toit, A B (red) 1990. Die Johannesevangelie; Hebreërs tot Openbaring: Inleiding en Teologie (HNT 6). NG Kerkboekhandel; Fensham, F C 1981. Die Brief aan die Hebreërs (SBG). NGKU; Lane, WL 1991. Hebrews 1-8 (WBC). Word Books; Smit, DJ 1982. Hebreërs 5:7-9. WTL I/2, 200-206; Stuhlmann, R & Dembek, J Foitzik, K & Petsch, H J in Krusche, P Rössler, D & Roessler, R (red) 1991. Predigtstudien für das Kirchenjahr 1991/92: Perikopenreihe II Erster Halbband. Stuttgart: Kreuz, 175-83; 204-11; Rau, G & Zumkehr, H Liedke, G & Von Seyfried, M in Krusche, P Rössler, D & Roessler, R (red) 1997. Predigtstudien für das Kirchenjahr 1998: Perikopenreihe II Erster Halbband. Stuttgart: Kreuz, 166-73; 197-203.