Die brief
van Paulus aan Filemon word in die Woord
teen die Lig reeks bespreek in 'n uitvoerige bydrae deur Jan Botha in
volume lll/3,1993, bladsy 271 en verder. Ander prikkelende bydraes is onder
andere dié van P J Gräbe en J H Roberts (sien bibliografie).
1. Hoewel
dikwels saam gegroepeer met die sogenaamde pastorale briewe van Paulus, is die
strekking van Filemon beduidend anders as
die van l en ll Timoteus en Titus (Smelik). Die briefie is besonder
persoonlik, asof net bedoel vir die oë van die geadresseerde, 'n kykie in die
persoonlike gesprek, van hart tot hart tussen twee geloofsgenote.
Wat Filemon
se rol in die samelewing was, weet ons nie seker nie. Maar hy was vermoënd genoeg om slawe te besit. Waar hy Paulus leer ken het, is ook nie
seker nie. Paulus was self waarskynlik
nooit in Kolosse nie (Bouma), maar Filemon het sy geloof in Jesus Christus duidelik aan Paulus te danke gehad (19). Filemon
was waarskynlik ‘n Jood en Onesimus ‘n Frigiese slaaf (d.w.s. ‘n heiden)
volgens Derret. Dit het die sosiaal maatskaplike en godsdienstige intrige
verhoog.
Paulus se
boodskap is wel primêr vir Filemon, maar hy plaas dit duidelik in die konteks
van die Christelike geloofsgemeenskap, Filemon se eie huisgesin (Appia moontlik
sy vrou en Argippus moontlik sy seun) en hulle huisgemeente (2).
2. Die
aanleiding vir en gerigtheid van die brief is die feit dat Filemon se
weggeloopte slaaf Onesimus deur Paulus tot die Christendom bekeer is en
aangemoedig word om na Filemon terug te gaan, as ‘n reisgenoot vir Tigikus
(Sien Kol 4:7-9). In sy briefie doen
Paulus op sy geloofskind Filemon 'n beroep om Onesimus, sy ander geloofskind
terug te ontvang, as 'n geliefde broer in Christus. Hy versoek Filemon in die proses om af te sien van sy regte as
slawe eienaar en om aan sy nuutgevonde broer in Christus gasvryheid te betoon.
Hoewel Paulus nie in die briefie openlik en
rewolusionêr teen slawerny as samelewingspraktyk te velde trek nie, is sy
duidelike konkretisering van die evangelie hier tog duidelik 'n behandeling, 'n
beoordeling en tegelyk 'n veroordeling daarvan. Deur die nuwe verhoudinge wat die Christelike evangelie in die
lewe roep, word die lewenswortel van slawerny prinsipieel afgesny en moes dit
noodwendig ‘n natuurlike dood sterf, argumenteer Bouma. Deur die alles
deurdringende en vernuwende krag van die evangelie word die verhoudinge binne
'n Christelike huisgesin en die gemeente en uiteindelik ook in die maatskappy
fundamenteel omvorm (Grábe, Roberts).
Paulus
waardeer mense en hulle verhoudinge vanuit die evangelie van Jesus radikaal
anders as die destydse geldende samelewingsnorme (…want julle is almal een in
Christus Jesus, Gal 3:28).
3. Daar
bestaan nie sekerheid oor waar of wanneer Paulus die briefie aan Filemon
geskryf het nie. Dalk was dit terwyl hy
twee jaar in Cesarea in arres was of moontlik op sy gevangenskap te Rome
(n.a.v. 10) of dalk as ‘n gevangene in Efese. Oor wanneer die brief geskryf is,
is daar dus ook nie eenstemmigheid nie.
Sommige meen dit was waarskynlik vlak voor of net na die brief aan die
Filippense, na aan die einde van Paulus se gevangenskap te Rome. Indien te
Cesarea of Efese geskryf, is dit natuurlik saam met ander korrespondensie
geskryf (dalk aan die kolossense, sien Kol 4:7-9).
4. Groete
en inleiding
Verse 1-3
is 'n algemene groet in liturgiese styl.
Die besondere persoonlike karakter van die briefie blyk alreeds
hier. Paulus noem homself hierin 'n
gevangene ter wille van Jesus Christus om hiermee Christus se fundamentele
heerskap van sy lewe en werk te onderstreep.
Dit bepaal dan ook sy perspektief op alle verdere verhoudinge. Daarom praat hy van Timoteus as sy broer, van Filemon as sy geliefde (1933 vertaling), as vriend (1983 vertaling), van Appia as sy
suster en van Argippus as sy medestryder.
Paulus se
groet ‘charis kai eirén’ in vers 3 is
'n omvorming van die klassieke Griekse groet ‘chairein’ wat vreugde en welstand uitspel. Die Christelike groet beteken daarteenoor
letterlik genade en vrede wat uit
Christus se versoening voortvloei.
In verse
4-7 volg 'n langerige inleiding waarin Paulus sy dank teenoor God vir Filemon
se lewenswyse uitspel. Getuienis oor
Filemon se liefde en geloof het hom bereik. Daarop bou hy nou. Paulus is
bemoedig deur Filemon se geloof in Jesus Christus en sy kennis van alles wat
goed is (6). Dit mond uit in Filemon se
praktiese liefde waardeur die harte van sy medegelowiges verkwik word (7).
Paulus verduidelik so wat die aard en kwaliteit van Filemon se geloofslewe is,
want presies daarop wil hy appelleer.
Op grond van wat Filemon is,
wil hy by hom aandring hoe hy moet
lewe.
5. Beroepe
en versoeke
In verse
8-21 volg die hart van die brief waarin Paulus die weggeloopte slaaf Onesimus
se saak by Filemon bepleit, beroepe op hom doen en spesifieke versoeke tot hom
rig.
Filemon se
eie geloof in Christus en sy kennis van
die Here se weldade (alles wat goed is) en sy liefde vir die Here en die
gelowiges is die grond vir Paulus se vermaning (8) en pleitrede as ‘n ou man
(9) vir sy geloofskind Onesimus, gewen vir die evangelie in sy gevangenskap
(10), vroeër nutteloos vir Filemon maar nou juis nuttig vir hom (11).
In vers 12
roep Paulus Filemon op om Onesimus aan te
neem asof dit hyself is en in vers 15 as sy besitting vir altyd, maar
kwalifiseer hy in vers 16 nou nie meer as
slaaf nie, maar meer as 'n slaaf, as 'n geliefde broer. Neem hom aan soos vir my (17), as hy jou
benadeel het, sal ek jou vergoed (18).
Onthou egter dat jy jou geloofslewe aan my bediening te danke het
(19). Paulus, versoek Filemon om sy
hart bly te maak, te verkwik (20; die
begrip in vers 7 word herhaal), in die Naam van die Here, soos 'n broer in Christus.
Dis
heeltemal duidelik dat Paulus Filemon ernstig aanspoor om te wees wat hy
alreeds is en om doelbewus te leef met die genade, die geloof en die liefde wat
hyself van die Heilige Gees ontvang het as rigsnoer vir sy eie optrede. Hy moet dit op sy beurt toepas in 'n baie
spesifieke en moeilike situasie – teenoor sy wegloopslaaf Onesimus en sonder om op sy regte as slawe-eienaar te staan.
Paulus is
seker Onesimus sal selfs meer doen as wat hy versoek (21). In vers 22 versoek Paulus dat die gastekamer
vir hom gereedgemaak word. Verskeie
eksegete verbind die oproep in 17 met die versoek in 22 as 'n kring-argument,
wat die radikaal evangeliese oproep om gasvryheid aan Onesimus te betoon sterk
op die punt dryf.
6.
Afsluiting
In verse
23-25 groet Paulus en sy medestryders die huisgenote en huisgemeente van
Filemon weer in liturgiese styl, met die genade van die Here Jesus Christus.
1. Maarten
Luther skryf aangrypend oor die Gees van Christus wat Paulus beheers het.
"Hierdie
evangelie teken 'n meesterlike en lieflike voorbeeld van die Christelike
liefde. Want ons sien hier hoe Paulus hom oor die arme Onesimus ontferm en vir
hom 'n voorspraak word by sy eienaar.
Hy tree op asof hyself die oortreding begaan het instede van
Onesimus. Hy tree nie op met geweld of
met dwang nie, hoewel hy die reg
daartoe sou hê. Hy doen afstand van sy
reg om sodoende by Filemon aan te dring om ook van syne afstand te doen. Soos Christus vir ons gedoen het voor God
die Vader, so doen Paulus ook vir Onesimus by Filemon. Want Christus het ook sy reg opgegee en die Vader met liefde en nederigheid oorwin,
sodat Hy sy toorn en sy reg moes tersyde stel en ons in genade aanneem, ‘om
Christus wil’, want so dringend vir ons intree. Want elkeen van ons wat dit so wil glo, is sy Onesimus" (my
kursivering, JGB).
2. Johannes
Calvyn merk op dat die karakter van Paulus se gees in die Filemonbrief op 'n
besondere manier na vore kom. Hy sê:
"'n mens sal kwalik 'n plek kan kry waarin die lieflikheid van Paulus se
gees beter te sien is as in die manier waarop dit in hierdie brief afgebeeld
word.”
3. Die
Filemon brief bevat veel meer as 'n sosiale program. Dit bevat iets wat aan elke sosiale program vooraf moet gaan, wat
die sin van allerlei aardse teenstellinge in twyfel trek. Dit is geskryf in die Gees wat die wêreld
oorwin. Dalk het Filemon en Onesimus
voorlopig eienaar en slaaf gebly. Hulle diepste verhouding het egter
verander. Hulle het mekaar se broers
geword vir ewig (Smelik).
4. Gräbe
besin oor die etiese reikwydte en die etiese implikasies van 'n mens se
verbondenheid aan Jesus Christus onder die titel: "Ontvang jou slaaf soos
'n broer!" Die sensitiewe wyse
waarop Paulus 'n moeilike pastorale probleem hanteer, val op. Hy neem Filemon se posisie in die samelewing
in ag, maar terselfdertyd oorskry hy tog alle grense tussen klasse in die maatskappy
in sy besondere liefde en sorgsaamheid vir Onesimus. Beide perspektiewe word in
dié briefie verreken.
Paulus
appelleer fundamenteel op al die betrokkenes se gemeenskaplike verbondenheid
aan Jesus Christus. Die heil in Jesus Christus vorm die uitgangspunt van sy hele betoog. Dít bring 'n totaal nuwe lewenswyse na vore
(2Kor 5:17), ‘n nuwe wyse van dink, praat en handel teenoor gelowiges veral,
maar ook teenoor alle ander mense (Bomkamm), en dít is eties en ekklesiologies
verrykend.
Gräbe
beklemtoon dat die liefde by Paulus
die primêre begronding vir die etiek
is. Die (agape) liefde is nie slegs 'n
menslike kategorie nie maar dit is die ‘eskatologiese hoofbegrip’ by Paulus. In
soverre ons dié liefde beoefen en leef, word die eskatologiese (die toekomstige)
in ons eie tyd ervaar.
Hierdie
liefdesbegrip kom dikwels na vore in Filemon.
In vers 1 word Filemon as geliefde persoon geteken; verse 4 en 5 beskryf
sy liefde vir al die gelowiges; hy wandel in die liefde en verkwik daardeur die
gelowiges (v. 7). By verse 8 en 9 is
Paulus se versoek aan Filemon in dieselfde liefde begrond. Dié liefde begrond sy gedagtegang as
belangrikste motief. Dit wil nie besit
nie, maar die ander gelukkig sien. Omdat hy die Christelike liefde voorveronderstel, kan hy van juridiese eise
afsien, binne die gemeenskap wat verbonde is aan Jesus Christus.
Mense wat
deel kry aan die verlossing, die heil, die vernuwing in Jesus Christus kom
staan in nuwe verhoudinge met mekaar.
Die implikasies vir die kerk is daarom dat mense onderling vir mekaar
daar is. Hulle bid vir mekaar (4-6,22)
het 'n liefde en belangstelling in mekaar (1,2,5,7,9,12,16), werk onderling
saam met mekaar (1,2,6,13,23,24) en hulle het nou broers en susters van mekaar
geword (1,2,7,16,17,20, 23en 24).
Dis 'n nuwe
bedeling! Deur die Gees is die veelheid
van gelowiges een liggaam. Hier is nie
bloot net 'n nuwe etiek te sprake nie, maar 'n nuwe bestaanswyse (vgl. Gal 2:20
en 3:26-29), met nuwe beslissende verhoudinge en gevolge binne die kerk, die
gemeente, en die gemeenskap.
Die brief
se aanhef (1-3) en Slot (23-25) spreek die hoorders liturgies aan en dit is
wesenlik belangrik as ons die brief interpreteer. Dit gaan tussen Filemon en Onesimus nie net om 'n saak tussen 'n
baas en 'n wegloopslaaf nie, maar dit gaan dieper om die verhouding tussen twee
broers binne 'n familie wat deur Jesus
Christus saamgestel is. Juis daarom is dit 'n gemeentesaak!
Die brief
se boodskap kan op twee maniere verkeerd interpreteer word. Aan die een kant kan dit bloot verstaan word
as 'n verbetering van die status quo.
Filemon (die eienaar) en Onesimus (die slaaf) terug bymekaar en hulle
toewyding aan die evangelie maak hulle so elkeen 'n beter en toegewyde eienaar
en slaaf teenoor mekaar. Aan die ander kant kan ‘n afwysing van die sisteem van
slawerny los hanteer word van die eintlike manier waarop die evangelie in
Filemon kritiek op die samelewing uitoefen.
Want, dis juis die verbondenheid aan Christus en die liefde in die
geloofsfamilie wat Paulus laat pleit: "Aanvaar jou slaaf as 'n
broer", met daarmee die implikasie dat die sisteem van slawerny in die
proses moet ondergaan.
5. Roberts
besin spesifiek oor die etiese implikasies van die brief in die sosiale
maatskappy. Sy bydrae is getitel: Vryheid, gelykheid, broederskap in die brief
aan Filemon – die Evangelie as maatskappy-omvormende krag.
In die
konteks van destyds was slawearbeid die grondslag van die ekonomie. Tot 'n derde van die bevolking was slawe!
Niemand het die afskaffing daarvan ernstig bepleit nie. Niemand het dit as boos teenoor mense
beoordeel nie. Tog impliseer die brief
aan Filemon 'n fundamentele rigtingwysiging ten opsigte van die basiese
instelling teenoor slawerny. Want slawerny het tot die totale verontmensliking
van die slawe gelei. Hulle was onvry, sonder
enige basiese regte, 'n stuk roerende eiendom waarmee die eienaar kon handel na
goeddunke. Sommige se situasie was
beter as die van ander. Huisslawe is as
‘n reël op 30 vrygelaat. Ander se
situasie was heelwat meer benard. Hulle kon nie vryelik eiendom besit nie.
Eienaars het byna volledige beskikking oor die lewe en dood van hulle slawe
gehad. Slawe het dikwels probeer ontvlug.
Streng maatreëls is hierteen ingestel.
Polisie-eenhede is georganiseer om weggelooptes op te spoor. Detail beskrywings is van hulle gegee. Swaar en uiterste openbare strawwe het
gegeld as hulle teruggevind sou
word. Onesimus het die groot gevaar
geloop om by sy terugkeer in die openbaar ‘n drag slae te kry. Soms is sulke
wegloopslawe selfs in die publiek gebrandmerk of van hulle bene gebreek.
Waarom
Onesimus weggeloop het, is nie bekend nie.
Dat hy daarmee 'n uiters groot risiko geloop het, is egter duidelik.
En Paulus se terugstuur van Onesimus na
Filemon was daarom teen die agtergrond van die heersende maatskaplike spelreëls
'n ewe groot risiko.
Dis
duidelik dat die geloof van mense hulle lewenspraktyk bepaal en dat die kerk se
lewenspraktyk deurslaggewend is vir die sukses van sy sending. Om dit ook in die besondere geval
Filemon/Onesimus te konkretiseer, is die grootste gedeelte van die brief as 'n
tipiese versoek geskryf.
Paulus vra
dat twee dinge moet gebeur. Verwelkom
Onesimus tuis asof vir my (17) en maak die gastekamer vir my gereed (22) . Die hele betoog en gang van die brief rig
hierop as een praktiese saak. En dit op
grond van hulle eenderse verbintenis in Christus. Die evangelie verander die
verhoudinge van mense radikaal. Dit
stig nuwe gemeenskap binne in die ou werklikheid. En, die sending van die kerk word juis hierin sigbaar. Paulus vra eintlik, "bied vir Onesimus
die gasvryheid van jou huis aan Filemon, stel die gastekamer tot sy beskikking
asof vir my self". Waar so iets
ongehoord en ongesiens gebeur, het alles waarlik heeltemal nuut geword.
Paulus
gebruik die motief van gasvryheid om hulle nuwe verhouding prakties te
vestig. Gasvryheid as die oopmaak van
jou huis vir 'n ander, die wyd oopmaak van jou arms om hom of haar te ontvang
en tuis te maak, die oopmaak van jou hart, is 'n wonderbaarlike getuienis van
die gemeenskapsband wat tussen mense bestaan. Dit word in besonder waar wanneer
'n baas in die Romeinse wêreld van die eerste eeu so maak met sy slaaf wat
weggeloop het!
Sonder
twyfel sou die skynbaar nietige optrede van een individu teenoor ‘n ander 'n
nuwe boodskap wees vir die hele kerk van destyds. Maar dit sou sonder twyfel ook die maatskappy in die gang van die
tyd radikaal beïnvloed, want hier word ‘n nuwe bedeling tussen mense gevestig!
En dis só ingrypend dat Bruce (1984) oor die implikasies hiervan vir die
instituut van slawerny sê: ‘What the letter to Filemon does, is to bring the
institution into an atmosphere where it could only wilt and die’.
6. Jan
Botha besin oor die kritiese vraag óf Paulus se briefie wel duidelik gevra het
dat Onesimus vrygelaat moet word óf nie.
Hy beroep hom op die bevindinge van die moderne hermeneutiek,
linguistiek en literatuur-wetenskap om aan te toon dat die eintlike boodskap
nie gevind word in wat geskryf is nie, maar juis tussen die lyne, in die storie
agter die storie. Die omstandighede van
destyds het Paulus gedwing om nie te eksplisiet te skryf nie en daarom laat hy
Filemon met 'n persoonlike keuse. Hy moet sy optrede bepaal in die lig van
Paulus se versoek (oproep, pleitrede) om Onesimus aan te neem as 'n broer, as
Paulus se eie hart (verse 8-10). Reeds in dié lig gesien, kan daar nouliks
twyfel bestaan dat Paulus wel verwag het dat Filemon Onesimus moet vrylaat.
Die mees
deurslaggewende argument ten gunste van hierdie interpretasie uit die teks self
is die vertaling van die Grieks in vers 16.
Die 1983 vertalers het die woordjie net
ingevoeg voor as slaaf. Dit staan
egter nie so in die oorspronklike teks nie. Botha steun die 1933 vertaling wat
lui: "nie meer as 'n slaaf nie,
maar méér as 'n slaaf". Daarmee
word nie óf 'n eksplisiete opdrag tot vrylating óf 'n kondonering van slawerny
gemotiveer nie, Die basiese gerigtheid van die brief aan Filemon gee egter
uiteindelik hierin die deurslag, saam met 'n analise van Paulus, Filemon en
Onesimus se sosiale rolle teenoor mekaar en binne die gemeente. Dis immers ondenkbaar dat mense in kerklike
verhoudinge broers en susters kan wees maar terselfdertyd in wêreldse
verhoudinge eienaar teenoor slaaf. Filemon se eie eer en geloofwaardigheid as
'n leier en die getuienis van sy huisgemeente het daarom vereis dat hy Onesimus
sou moes vrylaat. Of hy dit sou doen of
nie, het Paulus egter aan homself oorgelaat om te besluit.
Die begin
(1-3) en slot (23-25) kan liturgies ingewerk word by die votum en seëngroet.
Die res van die inleiding (4-7) sou as ‘n riglyn, as voorbeeld vir die
Christelike lewe van lidmate voorgehou kan word indien die wet, skuldbelydenis
en geloofsbelydenis aan die begin van die erediens gaan plaasvind.
Die skopus
van die brief kan seker in die prediking vanuit verskillende preekhoeke belig
word. Sake soos gasvryheid, vryheid as sodanig, die karakter van die
Christelike geloofsgemeenskap, ensovoorts sal daarvoor as aanknopingspunt kan
geld.
Vir hierdie
preekriglyn word die teks vanaf 4-22 saam bedink. Twee sake staan daaroor in
die voorafgaande besinning by teks en konteks uit. Enersyds word Paulus se styl en gesindheid besonder duidelik in
die Filemon brief geteken. Andersyds word die feitelike inhoud, betekenis en konsekwensies van sy versoek aan
Filemon duidelik gemaak. Beide hierdie aspekte behoort in die prediking aandag
te kry. As tema vir so ‘n preek word die volgende voorgestel: Hy wat jou slaaf was, is nou jou broer / Sy
wat jou slavin was, is nou jou suster.
Die styl en gesindheid waarin Paulus hierdie
baie moeilike pastorale en strukturele probleem hanteer, word begrond in sy
verhouding met Jesus Christus, die Heilbewerker, ter wille van wie hy ‘n
gevangene is. Dié verhouding bepaal die aard
van al sy ander verhoudinge, sy gesindheid
en sy optrede teenoor sy medegelowiges. Sy besondere klem in die brief op die Christelike geloofsgemeenskap, en in
besonder op die Christelike liefde
spruit juis hieruit voort. En dit is dieselfde verhouding en
voortvloeiende Christelike
karaktertrekke, soos vergifnis en onverdiende genadebetoon, die aflê van sy
regte, onvoorwaardelike broeder-/susterskap, onderlinge gemeenskap en sorg,
opofferende liefde en gasvryheid, wat hy in sy beroepe op en versoeke by sy
geloofsgenoot Filemon self bespeur (jy is dit reeds) en verder ook verwag (tree
juis nou so op). Sy styl is nie dwingend nie. Hy dring wel aan, doen ‘n beroep
en rig versoeke, maar hy lê sy reg om te verwag teenoor Filemon in duidelike
taal af (8,9,14). Luther se besondere beskrywing van Paulus se gesindheid in
die saak kan hier aangehaal word. Ander gedeeltes uit Paulus se briewe waar hy
gelowiges aanmoedig om hulle reg af te lê en liewer onreg te lei, kan vrugbaar
hierby oordink word (bv. I Kor 6:7en 8).
Die inhoud
van sy beroepe en versoeke bou Paulus
fundamenteel op die voorafgaande. Sy versoek aan Filemon is duidelik en sonder
omhaal dat hy sy eertydse slaaf sal terugverwelkom, máár nou nie meer as ‘n slaaf nie, maar méér as ‘n
slaaf, as ‘n broer in die Here! Verduidelik vir die gemeente aan die een
kant die aard van slawerny as ‘n sosiaal-maatskaplike orde. Brei uit oor
die maatskaplike aandrang daarvop, die
wydverspreide maatreëls wat ten gunste daarvan in die samelewing gegeld het,
die onreg wat dit as sisteem geherberg het en die buitengewone uitdaging wat
Paulus se beroep daarom vir beide Filemon en Onesimus ingehou het. Verduidelik
dan hoe Paulus die evangelie van genade konkretiseer deur die karaktertrekke
van Christenskap in die praktyk van die verhouding tussen Filemon en Onesimus
uit te spel, tot op dié punt waar dit duidelik is dat ware Christelike
gemeenskap en gasvryheid, wat uit die liefde van Christus ontspring, beteken
dat Onesimus in die gastekamer terugverwelkom word, nie meer as ‘n slaaf nie, maar nou méér as ‘n slaaf, as ‘n broer in die
Here!
Die
uitdaging vir elke prediker is om die voorafgaande eietyds te kontekstualiseer.
Weliswaar versigtig, want die situasie van die eerste lesers en dié van vandag
kan nie sondermeer reglynig verbind word nie. Máár, waar onreg in die sosiale
strukture van ons dag tussen gelowiges, binne en buite die gemeente na vore
kom, is dit die plig van elke prediker om die lig van die Evangeliewoord daarop
te laat val. Daarvoor bied Paulus se gesindheid en styl as boodskapper ‘n
noodsaaklike en helder riglyn en korrektief. So ook sy duidelike belyning van
die evangelie se eise teenoor die bestaande onreg en net só ook sy oproep aan
Filemon as ‘n medegelowige om ‘n duidelike keuse te maak vir die radikale ander
weg wat die evangelie van Jesus Christus van hom as ‘n onderskrywer daarvan
vra. Ten slotte: soos vir Paulus, Filemon en Onesimus geld die goeie nuus van
Jesus se heerskappy ook daagliks as die begronding vir ons elkeen se
persoonlike en gemeenskaplike lewenskeuses en lewenswyse: “Gister ‘n
wegloopslaaf, vandag die Koning se broer en suster”.
Bibliografie
Kommentare
EL Smelik
(PNT); C Bouma (KV); JH Roberts (KNT)
Artikels
J Botha in WTL lll,3 baldsy 271 ev; P.J. Gräbe in Teologie in Konteks, bladsy 427 ev (JHRoberts e.a. redakteurs), Halfway House: Orion; J H Roberts in Scriptura, Spesiale uitgawe S9a, Geloof en opdrag- Perspektiewe op die etiek in die Nuwe Testament. bladsy 241 ev. (BC Lategan redakteur). JDM Derret, The function of the epistle to Philemon, in ZNW 79,63-91. Die belydenis van Belhar 1986, Artikel 3 oor geregtigheid.