Ander
tekste: Psalm 146; Jeremia 32:1-44; Lukas 16:19-31
Die eerste
deel van die brief het hoofsaaklik 'n leerstellige karakter terwyl die tweede
deel meer klem lę op die etiese aspekte
van Christen-wees. Dit bevat raadgewinge, vermaninge, uitspel van pligte en
algemene onderrig oor verskillende sake.
Normaalweg
word die spesifieke gedeelte beskou as die uitlegging
van die sogenaamde gemeentereëls.
Weereens beklemtoon dit dat die kerk
besig is om 'n lewenspatroon te vestig wat gebaseer word op besondere
gedragsreëls vir die individuele gelowiges met die oog daarop om bepaalde
lewenshoudinge te ontwikkel in die bestaan van die kerk in die węreld.
In die
verband is die skrywe aan die persoon van Timoteus nie sonder betekenis nie.
Paulus se briewe fokus op die geloofsprobleme binne die gemeentes en is dan ook
aan al die lede in die algemeen en die gemeente in sy geheel gerig. Dit was duidelik dat dit nie genoeg is om
alleen maar te konsentreer op die inhoud van die geloof nie, maar ook op die
lewenswyse van die gelowiges en hulle
dissipelskap. Hiervoor is gedragsreëls nodig. Daarmee het egter die gevaar
ontstaan dat dit weer kan lei tot 'n nuwe wettisisme, in 'n soeke na
geregtigheid deur wetsgehoorsaamheid.
'n Verdere
ontwikkeling was dat die periode van die
apostels besig was om verby te gaan. Die kerk was gedurende die beginfase
aangewys op hulle leiding gebaseer op hulle gesag. Nou het baie van hulle
alreeds van die toneel verdwyn en moes die kerk ander middele skep om sy weg
deur die węreld te vind. Timoteus was so iemand wat voorberei is om 'n leierskapsposisie in te neem. Vir die
taak moes hy onderrig ontvang wat daarop toegespits was om hom te onderlę in
die gesonde leer. Maar op die vlak van die morarilteit moes hy ook dien as 'n rolmodel van hoe 'n Christen behoort
te lewe. Want dit was baie belangrik
dat daar ook diegene sal wees wat die ‘nuwe’ godsdiens sal voorlewe en wat sou demonstreer hoe die geloof uitgeleef
moet word. In die verband word ook op Christus as 'n as die ideale ‘rolmodel
‘gewys, Hy wat ook 'n belydenis voor Pontius Pilatus afgelę het.
Wat betref
die sedelike lewe, wil hierdie gedeelte fokus op die probleem van geldsug. Op sigself is dit al 'n aanduiding dat die kerk nie meer
hoofsaaklik uit die armes bestaan het soos in die tyd van Jesus nie. In sy
uitbreiding na die ander kulture het vele uit verskillende ekonomiese en
sosiale vlakke van die samelewing tot die geloof gekom. Dit het meegebring dat
die probleme wat eie is aan status en rykdom nou ook in die kerk voorgekom het
en dus aangespreek moes word. Rykdom en die sug na geld was een daarvan en lę
eintlik aan die wortel van al die ander euwels volgens die gedeelte. Die streng
waarskuwing teen sug na rykdom is in lyn met die tradisie van Jesus in die
evangelies. Die perikoop spreek in sy strukturele opbou verskillende aspekte
aan:-
Verse 6 -8 beredeneer waarom gelowiges vergenoeg behoort te wees, omdat wat
hulle stoflik besit, nie deel van hulle mens-wees is nie. Daarom moet hulle ook
met basiese dinge vir lewensonderhoud tevrede wees.
Verse 9 - 10 dui geldgierigheid aan as 'n sondige
begeerte wat aanleiding gee tot allerlei
ander euwels en wat almal saam afdwaling van die geloof tot gevolg het, en
uiteindelik lei tot ondergang en die verderf.
Verse 11 - 14 bevat die direkte vermaning aan Timoteus om die gevaar in ernstige lig te
sien en hom op 'n drastiese wyse hiervan te distansieer. Die gedeelte bevat
baie duidelike imperatiewe.
Verse 15 - 16 sluit eintlik by die voorafgaande aan, maar
dit bevat ook 'n eie karakter daarin dat dit eintlik 'n lofprysing aan die Here Jesus Christus is.
Verse 17 - 19 is meer direk gerig aan die rykes in die gemeente om hulle te waarsku teen die
onbetroubaarheid en verganklikheid van die rykdom, en hulle te onderwys waarin
die ware ‘rykdom’ eintlik behoort te bestaan wat die ewige lewe kan
verseker.
Dit is
belangrik om die direkte vermaninge
aan Timoteus te onderstreep omdat dit ook 'n aanduiding is van die aard van die
probleem van geldsug. Die opdrag om ’weg te vlug’ dui daarop dat die begeerte
na aardse rykdom nie vertroetel moet word nie. In die instruksies ‘om te ’jaag
na’, ‘te stry’ en ‘te gryp na’, word beklemtoon dat aan die anderkant die
geloof en die godsaligheid nie 'n gemaklike saak is om te verkry en te behou
nie, omdat die begeerlikheid na onder andere, rykdom 'n geweldige suigkrag het.
Om die erns van die gevaar verder te beklemtoon gebruik Paulus sy apostoliese
gesag ten opsigte van Timoteus en ‘gebied’ hom. Die beweging weg van die
begeerlikheid moet omgesit word in die positiewe strewe na ewige en die
onverganklike, want as 'n man van God moet hy deur sy belydenis altyd 'n goeie
beeld in die gemeente het.
Verrassend
interessant is die doksologie wat
hier invoeg is. Dit moet gesien word
binne die raamwerk waarin hierdie vermaning teen die rykdom staan. Ten
grondslag hiervan lę die vergelyking van die teenwoordige węreld en die
toekomstige węreld, hierdie lewe met sy
verganklike karakter en die ewige lewe, die
neiging om die vertroue te plaas op die stoflike van nou en die hoop op
die fondament en skat van die toekoms. Die doksologie wil weereens die
sekerheid van die koms van die laaste toekoms wat met die koms van Jesus
Christus sal saamval, beklemtoon en die rol van Christus daarin as Koning en
Here. Dit staan alles teenoor die huidige aardse mag en verganklikheid wat so
aantreklik lyk.
Die kerk
moet in hierdie węreld bestaan op sy weg na die toekomstige węreld wat sy eintlike bestemming is. Vir sy
onmiddellike behoeftes is die kerk dus ook afhanklik van dit wat hierdie węreld
bied. Die versoeking is egter dat ook die gelowiges nie bly by die voorsiening
in die basiese behoeftes nie maar so behep word met die vergader van stoflike
dinge dat dit 'n doel op sigself word waardeur die einddoel heeltemal uit die
oog verloor word.
Ten
grondslag van so 'n ontaarding lę die begeerlikheid
wat die gevolg is van die bedorwe natuur van die mens. Om stoflike dinge te
bekom, is op sigself nie verkeerd nie, as maar onthou word dat dit nie hanteer
moet word asof dit eie besit is nie, maar met die erkenning dat die lewende God
dit aan ons verleen het om te geniet. Dit beteken verder dat die genieting
daarvan nie oordryf moet word nie, want dit lei weer tot ander euwels waarvan
'n belangrike een hoogmoed is. Daarmee word bedoel dat die eintlike outeur van
die aardse dinge uit die oog verloor kan word. Geldsug is wanneer 'n mens jou afhanklikheid van Hom vergeet wat aan
jou sy gawes toevertrou het om te bestuur en dit vervang met 'n afhanklikheid van die gawes self. Dit kan verder
daartoe lei dat daar 'n afhanklikheid ten opsigte van die gawes ontstaan wat later
'n totale verslaafdheid daaraan word.
Epicurus die Griekse filosoof het gesę:
‘To whom little is not enough nothing is enough.’ En die laaste gevolg van dit alles is dat jy
wegsink in die verderf. Hierteenoor staan die gelowiges vergenoeg moet wees, hulle moet die vermoë ontwikkel om self te kan
oordeel wanneer hulle ver genoeg gegaan het in wat benodig word vir hulle
behoeftes. Die Rabbyne het geleer: ‘ Who is rich? He that is contented with his
lot.’
Rykdom op
sigself is nie verkeerd nie, as dit maar gepaard gaan met die regte gesindheid in die hantering
daarvan. Dit moet gebalanseer word met 'n ander soort rykdom, naamlik 'n ryk
gesindheid van goeie werke, vrygewigheid en mededeelsaamheid. Juis deur dit te
doen kan hulle seker maak dat hulle hul eintlike doel, die ewige lewe, verwerf.
Die beste
manier om die gesindheid van die begeerte na geld en rykdom teen te gaan is om positief jou op die toekoms te rig. In
hierdie verganklike aardse bestaan moet die dinge wat die toekomstige bestaan van onverganklikheid sal kenmerk, nou
reeds naarstiglik gesoek word. Dit sluit in dinge soos geregtigheid,
godsaligheid, ensovoorts. Daarom is dit eerder belangrik om te konsentreer op
en steeds te leef in die verwagting van die verskyning van Jesus Christus
waarmee die laaste toekoms ingelui sal word. Hierdie geduldig wag is nie om
passief te wees nie, maar juis om diensbaar
te wees ook met die stoflike middele wat aan jou in elke geval toevertrou is
vir die doel.
Die
gedeelte het 'n besondere relevansie vir die huidige situasie in ons land waar loterye en dobbelary nou ingevoer word
as 'n bron van inkomste om die armoede teen te gaan. Indirek is die armoede op
sigself alreeds 'n aanklag teen die Christene wat nie hulle regmatige deel
bydra nie. Sommige sal hulle deelname juis regverdig met die argument dat hulle
die probleme wil help uitroei. Dit begin dikwels met so 'n edele motief maar
gou verval dit in 'n mentaliteit van gierigheid wat omsit in 'n verslawing,
hoogmoed en afdwaling waarin die nood van die armes gou vergeet word.
Om vergenoeg te wees is nie 'n maklike saak nie. Wie dit regkry om en suksesvol die versoekings te weerstaan en tevrede te wees met dit wat genoeg is, het 'n groot oorwinning behaal.