Ander tekste: Psalm 79; Jeremia 8:18 - 9:1; Lukas
16:1-18
Die Pastorale
briewe is waarskynlik geskrywe toe die kerk al oor sy geboorte weë heen was en gestabiliseer begin raak het. Daarom
twyfel baie of die Briewe werklik deur Paulus geskryf is want die tradisie wil
dat Paulus relatief vroeg in die kerk se bestaan 'n marteldood gesterf het. In
aansluiting hierby weerspieël die briewe omstandighede en adem dit ‘n gees wat
redelik baie verskil van die briewe van Paulus waaroor daar min twyfel bestaan
dat hy hulle geskryf het, soos
Korintiërs. Ook lyk dit asof die Pastorale briewe die verwagting van Jesus se
spoedige wederkoms nou nie meer as so 'n dringende saak sien nie.
Kenmerkend
van die hierdie Briewe is die nadruk wat gelę word op paar dinge, soos a) wat ons moet glo en b) hoe ons moet lewe.
In die brief val die fokus in die eerste deel veral op die geloof en in die
tweede deel op die lewe. Dit dui daarop dat daar binne die kerk ‘n besef het
begin posvat dat die kerk nog eers 'n tydlank in die węreld moet
deurbring. Daarom moes daar nou ernstig
nagedink word oor wat die besondere waarhede is wat die kerk wil leer, asook
hoe die Christen hom/haar in sy/haar lewenswandel in die węreld moet onderskei.
Dit word
verder bevestig daar die eerste twee briewe aan 'n jongman, Timoteus, gerig is
wat as 't ware opgegroei het in die geloof, anders as Paulus wat 'n bekering
tot die geloof gehad het. Hy is deur sy moeder en grootmoeder vanaf sy geboorte
opgevoed in die Christelike godsdiens en
verteenwoordig dus die tweede geslag Christene na die Pinkstergebeure. Dit is
duidelik dat hy nie behoort tot diegene wat die hemelvaart van Christus asook
die Pinkstergebeure persoonlik waargeneem en meegemaak het nie. Sy Christenskap
is gebaseer op wat hy geleer het om te glo en hoe hy geleer is om te lewe.
'n Verdere
kenmerk wat bevestig dat die kerk hom nou in 'n rustiger fase bevind, is die
beklemtoning van die belangrikheid van goeie
organisasie binne die kerk. Daar word telkens 'n oproep gedoen om die goeie
orde. Aan die ampsdraers word hulle pligte uitgespel en verder word 'n beroep
op hulle gedoen om 'n voorbeeldige lewenswandel te lei, terwyl die gemeentes
vermaan word om die ampsdraers te eerbiedig. Dit alles dui daarop dat kerk
homself nou al begin beskou het as 'n
instelling van die samelewing wat op 'n georganiseerde wyse daarbinne sal moet
funksioneer.
Die eerste
brief het feitlik al bogenoemde karaktertrekke, wat ook vandag nog in die kerk
van belang is, naamlik, die leer, die
morele lewe en die orde. Nadat in hoofstuk 1 die betekenis van die evangelie
uitgespel word, veral soos dit sy uitwerking in die persoonlike lewe van Paulus
gehad het, word daar vanaf hoofstuk 2 nou meer klem gelę op die gemeentelike lewe en die kerk se rol en
teenwoordigheid in die węreld.
2 : 1 - 7 is 'n
oproep tot gebed. Dit bevat verskillende aspekte:-
Die
verskillende elemente van die gebed:
smekinge, voorbede, danksegginge, ensovoorts.
Ook die objekte van die gebed: konings en hooggeplaastes.
Die doel van die gebed: om rustig te kan lewe in alle godsvrug en
waardigheid.
Die belangrikheid van gebed vir God: sodat alle mense gered kan word en tot
kennis van die waarheid kom. Ook die grond
van die gebed: wat die waarheid is waartoe alle mense moet kom, naamlik, Jesus
Christus, die enigste Middelaar tussen God en mense
Die gesag van Paulus om so 'n vermaning tot
gebed te maak: sy roeping as apostel
tot die heidene. Die elemente van die gebed dui daarop dat daar reeds 'n groeiende liturgiese bewussyn besig was
om te ontstaan. Dit word verder ondersteun deur die sinspeling op belydenis,
prediking, leer, apostel amp, ensovoorts. Die voorbede vir diegene wat in die regering sit of die owerhede uitmaak, selfs magte wat dalk
die kerk nie goedgesind is nie, word nou ook 'n kenmerk van die kerk en dui op
die nadenke binne die kerk oor sy verhouding met die staat. Hierin lę ook die
erkenning dat die staat tog 'n instrument in die hand van God is om die goeie
orde in die samelewing en rustigheid te handhaaf, om alle mense 'n waardige
lewe te laat lei. Dit is die rede waarom daar vir die owerheid gebid moet word.
Die
hoofdoel van die gebed is egter om tot kennis
van die waarheid te kom. Hiermee word nie bedoel waarheid in die algemene
sin van die woord nie, maar die waarheid in Bybelse sin, naamlik die waarheid
aangaande die heil van die mens. Dit word saamgevat in die vorm van ‘n
belydenis en wat die volgende elemente bevat:
God as die
enige God
Christus
Jesus as die Middelaar tussen God en die mense
Die
Middelaar wat 'n mens is
Die
Middelaar wat Homself as 'n losprys gegee het
In hierdie
‘belydenis’ kom daar baie belangrike begrippe voor wat in die latere geskiedenis van die kerk groot
diskussie-punte geword het. Die stelling aangaande die een God hou verband met die probleem van die
Drie-eenheid. Christus as Middelaar en mens was belangrik rondom die diskussie oor
die godheid van Christus. So is ook
Christus as die losprys weer in verband gebring met die versoeningsleer.
Paulus wys
op sy roeping en sending as apostel om
die waarheid bekend te maak. Hy gebruik verskillende woorde om die wyse van
bekendmaking aan te dui, naamlik, om daarvan te getuig, daaroor te preek,
daaroor met apostoliese gesag te praat, daaroor as leraar op te tree. Want die
heil is vir ‘alle mense’. Dit dui op almal in ‘n universele sin, maar veral ook
in ‘n sosiale sin, dit wil sę alle soorte mense, van die hooggeplaastes tot die
laagste vlakke in die samelewing.
Ook die
Christelike kerk gaan dikwels deur prosesse van transformasie en ontwikkeling. Ons weet dit is ook waar van die tyd
waarin ons leef. Die kerk is in die
węreld en kan nie die strominge van denkwyses ontwyk nie en moet dus, om nog
effektief te wees, dikwels ook sy strategieë en metodes verander. Dit kan beteken dat sekere dinge belangriker
word en meer aandag moet geniet en meer nadruk moet kry terwyl ander weer
uitgedien raak. So word daar, byvoorbeeld, op die oomblik binne die kerke gevra
na die nut van belydenisskrifte, geroep om liturgiese vernuwing en is daar
dikwels teenstand teen bepaalde vorme van gesag.
Gebed speel
'n belangrik rol in so 'n fase van verandering. Dit is belangrik omdat ons daarmee vir God kan ‘herinner’ aan wat
sy eie bedoeling is. Dit is sy
bedoeling dat alle mense gered moet word en sy verlossingswerk is voldoende dat
alle mense ook gered kan word. Dit is die primęre doel van die gebed. Dit is
ons taak om ernstig daarvoor te smeek want God luister na die gebed van sy
kinders, en dit het by Hom veel krag. God is ernstig oor die heil van die
węreld. Walter Lock het gesę: ‘God's will to save is as wide as his will to
create.’, maar Hy wil dat ons ewe ernstig moet wees oor die heil van die
węreld. Dit beteken dat om werklik ernstig te kan bid, die kerk die nood van
die węreld vanaf die hoogste maatskaplike status wat mense mag beklee tot die
laagste verval waarin mense kan sink, moet kan raaksien en tot kennis van die
waarheid moet kom.
Gebed vir
diegene in hooggeplaaste posisies is ewe belangrik want dit gaan hier om die onmiddellike welstand van almal binne
die staat. Gelowiges en ongelowiges wil almal graag in die teenswoordige węreld
'n rustige en menswaardige lewe lei. Daarvoor is die owerheid verantwoordelik,
maar uiteindelik is dit God wat deur sy Gees aan hulle die wysheid verleen en
die gesindheid skep om goed te regeer. Daarom moet ons ook vir hulle bid, God dank vir die goeie dinge wat hulle
vermag en voorbidding doen dat hulle insig mag kry in wat nog gedoen moet word
asook krag om dit te doen. Dit alles dui op die geestelike rykdom wat daar in
gebed lę asook die omvattendheid van God se reddingswerk vir die węreld. Dit
gaan nie net om die persoonlike sieleheil van mense nie, maar ook om die
onmiddellike lewensomstandighede van mense, soos in die vloedgeteisterde
gebiede van Mosambiek en Madagaskar.
Die
grondslag van die gebed is die verlossingswerk
van God wat Hy in Christus gedoen
het. Daarmee het God onomstootlik bewys dat Hy die heil van die węreld en die
welstand van die staat voor oë het en dat Hy alleen dit kan doen. Ons menslike
onvermoë om vir onsself heil te bewerk, lę in ons verdorwenheid. Daarom het God
vir Jesus tot ons Middelaar gemaak, daarvoor het God self mens geword om dit te
kan doen. Christus het ook nie net mens geword nie, maar ook die offerande wat
gebring moes word om die prys te betaal wat ons van die slawerny van die sonde
moes loskoop.
Gebed is 'n omvattende gebeure. Dit is nie maar net woord-kommunikasie met God nie, maar eerder 'n dinamiese verhouding met God. Die kerk moet deur sy gebedslewe sy apostoliese roeping vervul. Dit beteken konkreet dat die kerk ewe hard moet werk as wat dit hy bid en andersom. Die kerk moet hom ewe ernstig rig tot die węreld as wat hy hom rig tot God. Dit geskied deur sy sending, sy getuienis, sy prediking en sy onderwysing.