10 November 2002
Vier en twintigste Sondag in
Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: 1 Tessalonisense 4:13-18.
Ander tekste: Josua 24:1-3a,14-25; Psalm 78:1-7; Matteus 25:1-13.
INLEIDING
Dit sal dalk goed wees om eers die preekstudie te lees en dan terug te keer na hierdie liturgiese voorstel.
Die pastorale karakter van die erediens staan in hierdie liturgie voorop en is daarom die fokus van die liturgiese
inkleding.
Die dood is n werklikheid wat elkeen van ons elke dag konfronteer in nuusberigte, natuurverskynsels of uit eie
ervaring. Die Bybel noem die dood ons "laaste vyand". Dit is veral gelowiges wat probleme het met die dood. Hulle
is immers mense van die lewe. Hoe beter n mens God ken, hoe liewer het jy die lewe en hoe minder sin maak die
dood. Die uitdaging vir hierdie erediens is om die gemeente te help om die dood eerlik in die oë te kyk en hulle dan
só te troos dat hulle weer eens moedig sal gaan lewe in die week wat kom in die aangesig van die dood.
Een van die kenmerke van die erediens in die Ou Testament is die eerlike manier waarop gelowiges voor God kom
rou en kla het. Talle psalms is vol openhartige rou en klagtes wat voor die aangesig van God uitgespreek word. Dit
is opvallend hoe die gelowige(s) dikwels al rouend en klaend vertroosting ontvang en met moed en geloof eindig.
Behalwe die Psalms is ook Habakuk hiervan n goeie voorbeeld.
Hierdie erediens wil drie dinge bemiddel:
Eerstens skep dit vir gelowiges die geleentheid om eerlik voor God te rou oor die dood.
Tweedens wil dit almal deur middel van die Woord (gepreek en sakramenteel gevier) vertroos en bemoedig.
Derdens wil dit die gelowiges met hoop die week instuur, as mense wat weet hoe om met die dood saam te
lewe.
Die volgende is aanvullende liturgiese voorstelle by die voorgestelde liturgie vir Koninkrykstyd.
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Tydens hierdie moment hoor die gemeente dat hulle welkom is by die God van liefde en genade en hulle kry die
geleentheid om voor Hom te rou.
Oor die roumoment die volgende:
Hierdie oomblik moet deeglik en met sensitiwiteit beplan word. Die volgende twee momente
(Woordverkondiging en nagmaal) se trefkrag hang saam met die egtheid en diepte van hierdie moment. Die
uitdaging hier is om n atmosfeer te skep waarin daar op n egte manier in God se genadige en liefdevolle
teenwoordigheid gerou kan word. Moenie uit vrees vir rouheid (seer) en selfs histerie kies om hierdie element
te verwater of te vermy nie.
Rassie van Niekerk skryf iewers: "Slegs die pastor wat sy eie dood reeds verwerk het, sal andere effektief kan
troos." Dit geld nie net vir die algemene pastoraat nie, maar ook vir n erediens met n pastorale klem. Met
hierdie soort erediens moet die liturg n pastor wees, n pastor wat sy of haar eie dood ten minste eerlik in die
oë kyk.
Die roumoment kan op verskillende maniere ingeklee word. Hier volg n paar idees:
1. n Roupsalm (bv Ps 88 ) kan gekies word en saam gebid word as n uitdrukking van die gemeente se pyn
oor die dood.
2. n Gebed waarin die pyn van die gemeente as gevolg van die dood verwoord word, kan saam of deur die
liturg namens die gemeente tot God gerig word. Iemand wat die gemeente goed ken, kan hierdie gebed
skryf en self voordra.
3. Enkele persone uit die gemeente wat deur die dood bedreig word of deur die dood getref is, kan hulle pyn
met die gemeente deel. Betrek ook jongmense en kinders hier indien dit moontlik is. Hulle kan hulle
gedagtes neerskryf en aan die gemeente voordra.
(Maak seker dat hulle ondersteuning kry wanneer hulle met die gemeente praat. Trane is n normale deel
van rou. Daarom is huil ook hier van pas. Maak egter seker dat elkeen wat sy of haar pyn deel die nabyheid
het van iemand wat kan troos. Die mededelings kan ook rou by mense in die kerkbanke tot gevolg hê. Ook
hulle moet met deernis vertroos word. n Groep troosters [lidmate met die gawe van vertroosting] kan voor
die tyd voorberei word om die treurendes by te staan. Maak ook seker dat die troos ná die erediens sal
voortgaan.)
4. n Kombinasie van 3 met 1 of 2 sal verseker dat die roumoment diepte kry.
5. Gebruik gesange, musiek en gedigte wat kan help om die rou wat die dood meebring te verwoord.
DIENS VAN DIE WOORD EN DIENS VAN DIE TAFEL
Nadat ons eerlik voor God gerou het oor die dood, luister ons na die troos wat sy Woord gee en ons vier die nagmaal
as die fees van die opstanding en dus die dood van die dood.
Hier is n paar voorstelle vir hierdie moment(e):
Die prediking en nagmaalviering kan as n geïntegreerde moment uitgevoer word. Vir dié doel kan die preek by
die tafel gedoen word.
Die fokus in die nagmaal val op die waarheid dat Jesus in ons grafte ingegaan en dit oopgebreek het. Hy het
die dood oorwin en sy mag gebreek. Ons vier in die nagmaal die oorwinning van die lewe oor die dood. Deur
die nagmaal kry ons deel aan die lewende Here, Jesus. Ons word mense van die lewe wat vir ewig lewe.
Die teenwoordigheid van n terminale pasiënt in die erediens en aan die tafel kan help om Woord, sakrament
en lewe onmiddellik by mekaar uit te bring.
Laat dié wat hulle hartseer met die gemeente gedeel het by die tafel aansit.
Ná die viering van die nagmaal kan die gemeente ingelei word in n moment van aanbidding en lof. Gesange
onder die rubriek van Jesus se opstanding in ons gesangboeke kan hier gebruik word, of ander musiek wat die
gemeente kan help om Jesus se oorwinning oor die dood te vier. Luistermusiek kan ook benut word soos n
deel uit Brahms se Ein Deutsches Requiem. Hierdie hele werk is aangrypend. Indien jy dit nie in die erediens
gaan gebruik nie, moet jy ten minste die moeite doen om daarna te luister voordat jy op die kansel klim.
Die moment van die offergawes kan so ingeklee word dat dit deel uitmaak van die gemeente se lof aan God.
Ons gee ons geld as mense wat vrygemaak is om te kan lewe. Ons is verkneg aan niks waaraan die dood
(verganklikheid) kleef nie. Ons gee ons geld om die lewe mee te dien en te ondersteun.
Indien jy die doop op hierdie Sondag bedien, kan dit ook hier in aansluiting by die preek gebruik word om die
oorwinning van die lewe oor die dood te vier. As jy die preekskets se voorstel volg om aan te sluit by Romeine
6, sal die bediening van die doop hier goed aansluit by die prediking.
In die moment van voorbidding kan daar met waardering gedink word aan almal in die gemeente en samelewing
wat hulle lewe daaraan wy om mense se lewens te beskerm en hulle van die dood te red. Daar kan ook spesifiek
gebid word vir deurbrake in mediese navorsing op die gebied van ongeneeslike siektes. Bid ook spesifiek vir dié
wat hulle pyn met die gemeente gedeel het.
UITSENDING
Die gemeente word uitgestuur die lewe in: om die lewe te vier en om oorwinnend te lewe oor die dood in al sy vorme
in gedagte, woord en daad.
Hier kan n moment geskep word waarin die gemeente hulle verbind tot n lewe wat nie in die dood vaskyk nie,
maar tot n lewe wat die lewe in al sy vorme sien en waardeer en koester. Hier sou skuldbelydenis gedoen kon
word oor ons sondigheid wat blyk uit die feit dat ons dikwels eerder agente van die dood is as van die lewe.
As n gebed van toewyding aan die lewe kan die gebed van Franciscus van Assisi hier gebruik word.
Ons gaan die dag en week verder in met die belofte van die drie-enige God dat Hy as die bron van die lewe
elke oomblik by ons is en ons in staat stel om oral waar ons gaan tekens van die lewe te wees deur alles wat
Hy gemaak het, lief te hê.
Ná die seën kan die gemeentelede mekaar vrede toewens voordat hulle huis toe gaan, as hulle dit nie reeds
by die tafel gedoen het nie. Hulle kan dit ook doen ná die sing van Franciscus se gebed.
Inleidend
Die teks vir hierdie Sondag word deur Müller in Woord teen die Lig I/3 (pp 135) behandel.
Die opmerkings wat hier volg, is inleidend vir die volgende twee preekstudies omdat hulle tematies n eenheid vorm.
Albei handel oor die wederkoms (parousie).
Teks
Die volgende opmerkings kan oor 1 Tessalonisense gemaak word en dan met spesifieke verwysing na 4:13-18 en
5:1-11.
Paulus het hierdie brief geskryf om die gelowiges in Tessalonika te bemoedig. Wanneer hy nou in hierdie verse
(4:13-5:11) doelbewus fokus op die kwessie van die wederkoms van Jesus Christus, is dit in die eerste plek om te
troos. Albei hierdie gedeeltes sluit ook af met n troosopdrag (4:18; 5:11). Paulus wys nie n dwaalleer af soos in 1
Korintiërs 15 nie. Hy spreek spesifieke kwelvrae aan wat in die hart van die gemeente gelewe het. In vers 13 spreek
hy die vraag (vrae?) aan wat te doen het met die status en posisie van gelowiges wat sterf voor die wederkoms.
Daar was duidelik n verwagting by die gelowiges in hierdie gemeente dat Jesus nog in hulle leeftyd sou kom. Hulle
is nie oor hulleself bekommerd nie, maar oor hulle vriende en familie wat reeds dood is (Best). Gaan die gelowiges
wat reeds gesterf het slegter daaraan toe wees as ons wat leef wanneer Jesus kom? Gaan hulle dalk die ontmoeting
met Jesus misloop? Dit is waarskynlik van die vrae wat via Timoteus se verslag by Paulus uitgekom het en waaraan
hy hier spesifiek aandag gee. Die ander vraag kom in 5:1-11 aan die orde, naamlik die vraag na die spesifieke tyd
van die wederkoms.
Die belangrike punt wat ons hier moet sien, is dat Paulus wil troos en bemoedig. Dit behoort ook die toonaard van
die preke en liturgieë te wees.
Maar dit is tog ook duidelik dat Paulus nie maar net n paar kwelvrae probeer hanteer en onsekerhede uit die weg
probeer ruim nie. Hy wil hulle ook wys op die regte leefwyse in die tussentyd die tyd tussen nou en die wederkoms.
Daarom loop sy hantering van die vrae rondom die wederkoms uit op duidelike etiese reëls en opdragte (vgl 5:6-8,
12-26). Let byvoorbeeld op hoe troos en teregwysing saam in 5:14 voorkom. Mense wat reg oor die wederkoms
dink en daardeur getroos word, leef anders as die ongelowiges. Hulle treur anders (4:13) en hulle leef anders (5:6,
8).
Die teks vir hierdie Sondag: 4:13-18
Alhoewel Ellingworth en Nida oordeel dat ons hier met n teks te doen het wat talle vertalings en teologiese
probleme oplewer, is Paulus se boodskap nie onduidelik nie. Vir meer detail kommentaar oor hierdie teks kan die
kommentare geraadpleeg word. Die volgende opmerkings is hier van pas:
1. Alhoewel 4:13-18 n nuwe tema aankondig, sluit dit struktureel aan by die voorafgaande gedeeltes. Dit dra
steeds die karakter van aanmoediging en oproep. In vers 13 word die nuwe tema aangekondig (die wederkoms).
Vers 14 som dié tema in algemene terme op en in verse 15-17 gee Paulus meer detail gegewens oor
wat met die wederkoms sal gebeur.
2. Vers 13 dui ook die rede aan waarom Paulus-hulle hierdie verduideliking oor die wederkoms gee. Dit is om
hoop in die gelowiges se harte te vestig. Gelowiges het n hoop wat bo die finaliteit, onsekerheid en verskrikking
van die dood uitgaan, omdat hulle deel het aan Jesus Christus se opstanding. Eintlik neem die regte verstaan
van Christus se dood en opstanding die finaliteit, onsekerheid en verskrikking van die dood totaal weg.
Dít word duidelik uit wat in vers 14 gesê word. Hierdie hoop wat in die Christusgebeure geanker is, lei ook
daartoe dat gelowiges anders treur. Let wel! Nie ophou treur nie, maar wel anders. Treur vanuit die hoop.
Geanker in Jesus Christus se opstanding. Dit gaan nie hier om n kontras met betrekking tot die graad of aard
van hartseer tussen gelowiges en ongelowiges nie, maar wel om die verskil tussen Christelike hoop en
heidense rou (Best). Die verskil tussen heidense en Christelike rou is hoop. Christene het hoop. En om hierdie
hoop in hulle wakker te maak en wakker te hou herinner Paulus-hulle die Tessalonisense aan die kern van die
evangelie (v 14; vgl ook 1 Kor 15:3-4).
3. Opvallend is die verwysing na die gelowiges wat reeds gesterf het as "ontslapenes". Alhoewel daar vertalers
is wat ook hier die meer algemene term "gesterf het" gebruik, stem hulle saam dat die letterlike betekenis daarvan
daarop dui dat gelowiges se dood die karakter van slaap dra en dat dít ook die betekenis is wat dit hier
PREEKSTUDIE - 1 TESSALONISENSE 4:13-18
het. Dit staan in kontras met Jesus se dood. In vers 14 word na sy dood verwys, maar anders as die gelowiges
het Hy "gesterwe" en nie ontslaap nie. Dit is juis sy dood (wat ons sterwe was) wat die gelowiges se dood tot
n slaap maak. En wie slaap, word altyd weer wakker. Mense wat slaap, het n opstanding. Vergelyk ook Jesus
se verwysing na die dogter van Jaïrus se dood as n slaap. Waar Jesus en dood teenoor mekaar te staan kom,
word die dood onteenseglik ... slegs slaap!
4. Paulus gebruik baie gekonsentreerde taal in vers 14. Sekere woorde en gedagtes word weggelaat maar tog
veronderstel en dan later in vers 16 eksplisiet gesê. In die eerste deel van vers 14 word Jesus se dood en
opstanding as n feit gestel en in die tweede deel word die implikasie daarvan aangetoon, naamlik die opwekking
van die "ontslapenes wat in Hom geglo het". God is die Een wat hierdie dinge doen. Hy het Jesus
opgewek en Hy sal die gelowiges uit hulle slaap wakker maak. Dit alles is deel van sy groot verlossingswerk.
Wat "na Hom toe sal neem" beteken, word duideliker wanneer ons na vers 16 kyk.
5. In vers 15 toon Paulus aan dat hulle hierdie dinge op goeie gesag sê. Hy beroep hom op wat Christus self
gesê het. Of dit hier verwys na woorde wat Jesus letterlik gesê het, is nie seker nie. Dit is egter ook nie nodig
om dit te weet nie. Die saak is duidelik. Hierdie waarheid is betroubaar. Dit is gegrond op Jesus se eie
verkondiging. En wat helder uit Jesus se verkondiging gesê kan word, is dat gelowiges wat nog sal lewe by
die wederkoms, nie die gelowiges wat reeds ontslaap het voor sal wees nie. Dit spreek die gelowiges in
Tessalonika se vraag aan rondom die status en posisie van gelowiges wat by Jesus se wederkoms reeds dood
is. Hulle het gereken dat iemand wat by die wederkoms lewe tog sekerlik in n bevoorregte posisie sou wees,
gegee al die voordele wat n lewende liggaam bo n dooie liggaam het. Met oortuiging sê Paulus dat dit nie so
is nie. Dié wat voor in die ry gaan staan met die wederkoms, gaan die ontslape gelowiges wees. Hulle
opstanding sal die eerste reaksie wees op Jesus se neerdaling. Daarna sal dié wat nog lewe saam met die
opgestane gelowiges op die wolke weggevoer word. Dus: moet julle nie bekommer oor julle broers en susters
en kinders wat reeds gesterf het nie. Hulle sal nie slegter daaraan toe wees nie. Sommige studente het die
tydsaanduiding "daarna" verstaan asof Paulus op twee gebeurtenisse sinspeel wat mekaar kronologies opvolg.
Eers sal die gelowige ontslapenes opgewek word en dan later, na verloop van tyd, die gelowiges wat by die
wederkoms nog sal lewe. Hierdie verstaan is as getuienis aangebied vir die leer oor die "tussentyd". Sodanige
interpretasie hou nie rekening met Paulus se bedoeling nie. Hy gee nie n kronologiese uiteensetting van die
gebeure by die wederkoms nie, maar spreek die besorgdheid aan oor dié wat reeds dood sal wees by Jesus
se koms. Ook die volgende opmerking maak sodanige interpretasie ongelukkig nie moontlik nie.
6. Die klem in verse 16 en 17 lê op die krag en oombliklikheid waarmee alles by die wederkoms sal gebeur. Dit
dui op die onkeerbare krag van God. Jesus se verskyning, die opwekking van die gelowige ontslapenes en die
opraping van die gelowiges wat nog lewe, vind alles met krag en spoed plaas. Die feit dat die wegvoering op
wolke geskied, beklemtoon die grootsheid van hierdie gebeurtenis.
7. Hier is sprake van die groot ontmoeting die herontmoeting tussen dié wat reeds gesterf het en dié wat nog
lewe, en hulle gesamentlike ontmoeting met Jesus. Dié ontmoeting vind in die "lug" plaas. Die "lug" kan
aanduidend wees vir die gebied waar die Bose beheer uitgeoefen het (vgl Ef 6:12). Dat dit juis in die lug is
waar die gelowiges Jesus ontmoet, dui waarskynlik weer eens op die heerskappy van Christus en sy
oorwinning oor die Bose.
8. Die klimaks van hierdie gedeelte is: "En so sal ons altyd by die Here wees" (v 17). En so word die diepste
verlange van die gelowige vervul. En by hierdie waarheid word alle ander uitstaande vrae stil.
9. Paulus wil hê hulle moet mekaar onderling in die gemeente met hierdie woorde bemoedig (v 18). Dit moet deel
word van hulle gemeentetaal by die sterfbed en graf.
Konteks
In die Woord teen die Lig-reeks word hierdie teks op die vierde Sondag ná Paasfees behandel om die betekenis
van Jesus se opstanding aan te toon, terwyl dié teks in die Duitse preektradisie op die derde laaste Sondag van die
kerklike jaar gebruik word. Ons sluit dus hier aan by die Duitse tradisie deur dit aan die einde van Koninkrykstyd te
gebruik. In Koninkrykstyd dink ons na en preek ons oor die implikasies van Jesus se lewe, sterwe en opstanding vir
die gelowige se lewe elke dag. Die laaste paar Sondae van Koninkrykstyd word ook gewoonlik spesiaal gewy aan
Jesus se wederkoms en die betekenis daarvan. Opstanding en wederkoms kom dus in die kerklike jaar só
bymekaar soos dit inderdaad in die Skrif ook is.
Muller maak die volgende preekvoorstel:
Inleidend kan daarop gewys word dat die dood n ontstellende werklikheid is vir alle mense en dat die meeste mense
allerlei ontvlugtingspogings aanwend om hierdie ontsteltenis te bemeester. Die werklikheid van die dood is vir
Christene ook soms só oorweldigend dat hulle sukkel om uit die mag van die hoop te lewe. n Preek uit hierdie
perikoop kan help om die hoop in gelowiges se lewe te vestig deur die troos van die opstanding uit te lig. Hy maak
dan die volgende drie punte:
Die dood begrens die lewe onverbiddelik. Dit is in hierdie werklikheid wat Jesus neerdaal. Die dood word nie
ontvlug nie, maar in sy dood word die dood "soos n kleed netjies afgelê". Daarom treur gelowiges anders as
heidene. Hulle lewe uit die opstandingshoop.
Die wederkoms van Christus is die seël op die opstandingsgeloof. Dit is die aanbreek van die herstelde hemel
op aarde. Wie dít verstaan, word bevry van sefingekeerdheid en selfsugtige belange.
Die prediking kan die gemeente leer om n troostende gemeenskap te word. Deur mekaar onderling met hierdie
waarheid te bemoedig kan die gemeente n gemeenskap word wat getroos lewe en sterwe.
Marc Lienhard stel die volgende twee preekskemas voor onder die tema Die vereniging met Christus bring hoop!:
Eerstens
Watter gesig het die dood vir ons? n Onvermydelike werklikheid wat ons maar gelate aanvaar? Of die groot
verwoester van ons lewe wat tog uiteindelik wen en só ons aardse bestaan met treurigheid vul?
Die groot waarheid waaruit gelowiges durf leef, is die opwekkingskrag van God. Jesus is opgewek. En wanneer
Hy weer kom, kom Hy as gevolmagtigde: om op te wek.
Die dood is ontmagtig. Ons sal steeds daarmee rekening hou, maar dit nie langer vrees nie. Die inhoud van ons
hoop is: Ons sal by Jesus wees.
Tweedens
Ons alledaagse ervaring: "Ons loop voel-voel die volgende minuut binne soos kinders in die donker" (Bismarck).
Dit is veral waar vir dié wat sterwend is. Daarteenoor sê Paulus: As gelowiges is ons of ons nou lewe,
sterwend of dood is op pad na die Here.
Dit is nie n illusie of wensdenkery nie, maar n absolute sekerheid wat gegrond is in die opwekking van Christus
uit die dood en in sy wederkoms.
Die vrug van hierdie sekerheid is: hoop en vryheid teenoor die dood.
Hoe lyk die samelewing waarin ons hierdie teks moet preek? Oënskynlik radikaal anders as dié van die Tessalonisense.
Paulus kon met hulle praat oor verskillend rou, want daar is gerou. Word daar nog regtig onder ons gerou?
Die derde hoofstuk in Gerald Arbuckle se boek Grieving for change het die opskrif "Denying loss in Western
cultures". Hy argumenteer oortuigend dat Westerse kulture die dood ten sterkste ontken. Dit is alreeds duidelik uit
die gebrek aan rou-rituele wat die dood ernstig neem in die Weste. Hy beskryf dan hoe n tipiese Amerikaanse rouritueel
by n begrafnis lyk. "Mourners are discouraged from expressing any emotion; somber restraint is an
esteemed virtue. At a members death, the family is removed from all care and preparation of the deceased for
burial; embalming and grooming experts ensure that all signs of death are removed by carefully hiding scars,
replacing missing limbs with plaster substitutes, and thin and sickly bodies are made healthy-looking. Doesnt he
look good, said one mourner. He looks happy and far better than in life! It makes me feel good to see him like this."
Sy konklusie is: "Only one thing was important (at the funerals): make sure the deceased are physically disposed
of with as much discreet haste as is socially acceptable, then ignore that there has been death, and get back to a
busy life immediately." Hierdie soort rou (eintlik n wegskram daarvan) lei ironies genoeg daartoe dat mense ook
(soos Paulus) oor die dood as "slaap" praat: "You know, dear, you must feel happy for he is asleep, as you can see!"
Dit is egter n eufemisme. n Eufemisme wat moontlik is omdat die dood glad nie ernstig geneem word nie.
Is bogenoemde beskrywing net n Amerikaanse verskynsel? Kyk maar hoe lyk ons begrafnisrituele. Dié van ons wat
die verste op die pad van verwestering staan, gooi nie eens meer sand op die kis by n begrafnis nie. Die familie is
dikwels glad nie self betrokke by die toegooi van die gat nie. Waarom is ons begrafnisformulier(e) die kortste
formuliere?
Hoe troos jy iemand wat nie rou nie of nie wil rou nie? Hoe troos jy iemand wat ontkennend lewe?
Ons sal eers die kultuur wat die dood ontken, moet probeer verstaan. Arbuckle noem nege faktore wat na sy mening
daartoe aanleiding gee dat ons soveel moeite doen (soms baie duur moeite) "to camouflage or repress death form
our personal and public awareness":
1. Lack of visibility of death: Sterwende mense word al hoe minder gesien. Omdat hulle elders sterf.
2. The privitization of death: Mense sterf al hoe minder in die huis, en meer in hospitale en versorgingsoorde.
3. Individualism undermines corporate responsibility: Om te sterwe word al hoe meer n persoonlike saak wat
die ander uitsluit en vervreem.
4. Commercialization of death: Om begrafnis te hou het n besigheid geword. Begrafnisondernemers doen dit
nou. Die familie doen die minimum betaal die rekening.
5. The inner urge to deny death: Die mens het n innerlike neiging om die dood te ontken. Dit is n te verskriklike
werklikheid om ernstig te neem.
6. The impact of secularism: Die Christelike leer oor die lewe ná die dood is die afgelope eeu geweldig
bevraagteken en verdag gemaak. Dit laat mense met n groot onsekerheid oor wat anderkant die dood lê.
Hierdie onsekerheid word gehanteer deur n ontkenning van die dood en alles wat daarmee verband hou.
7. The denial of aging: Daar is n geweldige klem op jonkheid. Ouderdom herinner ons aan die werklikheid van
die dood. Daarom kleur en vryf en operasie ons die ouderdom uit.
8. The "pornography" of death: Ons samelewing kondisioneer ons om die dood en dit wat daarmee saamgaan
as n streng privaat aangeleentheid te beskou. Só word die dood n abstrakte idee waarop ons met n
gelatenheid reageer.
9. The theological bias against the incarnation: In die alledaagse godsdienstige lewe van Christene word
Jesus slegs as God beskou en nie ook as volledig mens nie. Jesus se lyding en dood word nie ernstig
geneem nie.
Nie almal van ons is ewe ver op die pad van verwestering in Suid-Afrika nie. Ons kerke verteenwoordig ook
verskillende stadia op dié pad. Die VGK en NGK hou nie op dieselfde manier begrafnis nie. Binne een kerkverband
word dinge ook soms verskillend gedoen. Ons rou dikwels verskillend. Maar ons almal ervaar al hoe meer die
invloed van die Westerse manier van dink en rou oor die dood. Ons is net te veel blootgestel aan die Weste, onder
meer deur die TV, om hierdie invloed te ontkom.
Ons teks troos mense wat rou wat die dood ernstig neem. Ons sal dus deur middel van die liturgie en prediking
gelowiges moet help om te kan rou. Eers dan sal hulle die evangelie as troos beleef.
Preekvoorstel
Die preekvoorstel is vir n kinderpreek (maar ook vir grootmense wat kindervrae vra).
Die uitdaging vir die prediking is om dié vrae te identifiseer wat die dood in ons tyd by kinders oproep. Kinders vra
veral baie letterlike en reguit vrae oor die dood. (Ian Nell noem voorbeelde van sulke vrae in sy preekvoorstel oor
1 Korintiërs 15 in verlede jaar se Preekstudies met liturgiese voorstelle, p 71.) Hulle konteks is baie nader aan dié
van die Tessalonisense as baie grootmense sn. Bring die tipiese vrae van kinders aan die orde en troos hulle met
die waarhede in hierdie teks. Hier kan iets gemaak word van Paulus se beskrywing van die dood as "slaap". Die
bedoeling is nie om al die vrae van kinders te beantwoord nie, maar om hulle gerus te stel hoop uit Jesus se
opstanding en wederkoms.
Aanvullend by die voorstelle wat hier bo onder Konteks genoem is, kan die volgende oorweeg word:
Inleidend kan daarop gewys word dat Paulus met hierdie woorde die gemeente in Tessalonika wou troos oor hulle
hartseer oor ander gelowiges wat reeds gesterf het en nie Jesus se wederkoms sou beleef nie. Die dood van
medegelowiges het hulle laat treur. Wys dan op die oënskynlike verskille tussen ons kulturele konteks en dié van
die Tessalonisense. Gebruik hiervoor Arbuckle se opmerkings en vul dit aan met bewyse uit jou eie konteks.
In n eerste rondte kan dan daarop gewys word dat God in Jesus se dood en opstanding ons dood ernstig kom neem
het. Hy het die dood in al sy verskriklikheid dodelik ernstig geneem. Daarom kom Jesus om te sterf. Dit is so anders
as ons Westerse kultuur wat die dood probeer hanteer deur dit te ontken en so gou moontlik agter die rug te kry
met so min moontlik pyn. n Mens speel nie met die dood klaar deur ontkenning en oppervlakkigheid nie. God speel
met ons laaste vyand klaar deur hom die stryd aan te sê. Nie in n skyngeveg nie, maar in n stryd tot die dood toe.
Jesus neem ons dood en ons bestemming die hel op Hom. Jesus het gesterf. Dit is die eerste trooswaarheid.
So bely ons: "Ek glo in Jesus Christus ... wat gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het ..."
Dank God! Hy het ons dood ernstig geneem.
Maar Jesus het ook opgestaan. Dit is die tweede trooswaarheid. En dit bely ons ook. Hy het met die dood en die
hel klaargespeel. Hy het dit deurleef en oorleef. Die "Eersteling uit die dood" noem die Skrif Hom. Die dood is dood
en die hel is oorwin. Want die mens Jesus het lewend daaruit gekom. Dank God! Hy het in sy Seun die dood oorwin.
En alles wat met Christus gebeur het, het ook met die gelowiges gebeur. Dit is die waarheid van die doop (Rom 6:1-
11). Sy dood is die gelowiges se dood. Sy opstanding is die gelowiges se opstanding. Sy teenwoordigheid by die
Vader is die gelowiges se teenwoordigheid by die Vader. Daarom kan dit nie anders nie: Wanneer Hy weer kom, sal
Hy al die gelowiges na Hom toe neem. Want die gelowiges is "in Christus". "En so sal ons altyd by die Here wees."
Halleluja!
Die logiese konsekwensie van hierdie waarhede vir dié wat dit glo, moet noodwendig wees dat die karakter van die
dood eens en vir altyd verander is. Daarom praat Paulus van die dood van die gelowige as n "slaap". Dit is nie die
resultaat van effektiewe grimeerkuns nie, maar n Paaswaarheid. Jy sê dit nie omdat die lyk so netjies in die kis lê
nie, maar omdat die Paasevangelie die bril is waardeur jy na die dood en die lyk kyk.
315
Hierdie waarhede is die enigste ware trooswoorde, want dit is die enigste woorde wat hoop bring. n Hoop gebore
in die eerlike omgang met die werklikheid van die dood én die Paasevangelie.
Bibliografie
Kommentare: Best, E 1972. Blacks NT Commentaries. London. Ellingworth P & Nida E A 1975. A Translators
Handbook on Pauls Letters to the Thessalonians. United Bible Societies. Stuttgart. Gaventa, B R 1998.
Interpretation. A Bible commentary for teaching and preaching. John Knox Press. Hendriksen, W 1976. New
Testament Commentary. The Banner of Truth Trust. Morris, L 1971. The Tyndale New Testament Commentaries.
London. Van Leuwen, J A C 1926. Kommentaar Op Het Nieuwe Testament. H A van Bottenberg.
Ander: Arbuckle, Gerald A 1991. Grieving for change. A spirituality for refounding Gospel Communities. Geoffrey
Chapman. Berkhof, H. Christelijk Geloof. Een inleiding tot de geloofsleer. Nijkerk: Callenbach (pp 543-551). Brown,
Colin 1976. The New International Dictionary of New Testament Theology. Exeter: The Paternoster Press. Lienhard,
M 1973. Calwer Predigthilfen. Calwer Verlag Stuttgart (pp 422-428). Muller, B A. Woord teen die Lig I/3 (pp 135-
140).