30 November 2003

Eerste Sondag Van Advent

Liturgiese Voorstel

 

Fokusteks: 1 Tessalonisense 3:9-13

Ander tekste: Jeremia 33:14-16; Psalm 25; Lukas 21:25-36

Storielyn en Adventstoeligting

Die tekste en dus die liturgie wil op die eerste Advent die eskatologiese tema van die laaste Sondag van die kerklike jaar (Christus die koning) tot ’n hoogtepunt voer. Die roepe na die koms van die beloofde Koning (Jer. 33) wil die vurige verlange na die wederkoms aanblaas en wakker hou (1 Tess. 3). Dit moet die geloofsgemeenskap help om nie afgestomp te raak nie en midde in die chaos, die tekens van sy wederkoms te sien (Luk. 21) – wetende dat God se getrouheid en standvastige liefde hulle sterk maak om daagliks met geduld en vertroue op sy Advent te wag (Ps. 25).

God versamel ons voor Hom

Na die Adventstoeligting word die eerste adventskers deur ’n kind, vergesel van sy gesin, aangesteek. Hierop volg die responsoriese votum uit Psalm 25:1, 5, 6, 10.

Votum

Voorganger: Tot u Here, rig ek my,

My God op U vertrou ek.

In u stel ek elke dag my verwagting

Dink aan die liefde en trou, Here,

wat u altyd betoon het.

Gemeente: Liefde en trou is die paaie

wat die Here bewandel

met die wat sy verbond

en verordeninge bewaar

Seëngroet

Voorganger: Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare

dinge waarvan jy nie weet nie, sê die Here.

Gemeente: Loof die Here, die Almagtige

want Hy is goed

aan sy liefde is geen einde nie (Jeremia 33:3).

Lofsang

Lied 200:1,6/NSG 43:1, 6; Lied 277:4,5/NSG 44:1, 4, 5

Diens van die Woord

Gebed vir die opening van die Woord

Die gemeente sing Lied 25:2 / NSG 332:1,3 as epiklese.

Skriflesing

1 Tessalonisense 3:9-13 en Lukas 21:25-28, 38

Prediking

Antwoord

Lied 255:2/NSG 334:3

 

Diens van die tafel

Oorgang

Omdat ons so maklik verflou in ons geloofsvertroue op God en ons harte so maklik beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, wil God ons nou aan sy tafel voed en krag gee om waaksaam en werkend te bly in ons afwagting van sy wederkoms (Luk. 21:26, 36). Gebruik nou die voorstel in die basisliturgie, of gebruik die volgende:

Voorganger: Rig julle harte op God!

Gemeente: Tot U Here, rig ek my, my God, op U vertrou ek (Ps. 25:1, 2a).

Voorganger: Here, gee aan ons die genadige werking van die Heilige Gees,

sodat ons geloof gevoed en ons hoop brandend gehou word

deur die viering van hierdie maaltyd.

Gemeente: Lied 266/NSG 325 of Lied 267:1, 2/NSG 324:1,2

Berig

Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is brood geneem, God gedank, die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee met dié woorde: "Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my nagedagtenis." Met die beker ná die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: "Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word."

Instelling

Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus.

Neem, eet, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot ’n volkome versoening van al ons sondes.

Die beker is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus.

Neem, drink, dink daaraan en glo dat sy kosbare bloed vergiet is tot ’n volkome versoening van al ons sondes.

Uitdeling

Kommunie

Geloofsbelydenis

Dankoffers

(Sien voorbeelde vir liturgiese gebruik op p. 392 van 2002 handleiding)

Uitsending

Wet

Voorganger: "As iemand die Here dien,

Leer Hy hom watter pad hy moet kies

Sodat hy voorspoed sal geniet.

Die Here neem die wat Hom dien,

in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend."

Gemeente: Ons oë is altyd op die Here gerig,

want dit is Hy wat ons voete uit die vangnet sal hou (Ps. 25:12,13a,14,15).

Bulletin

Sang

Lied 590:1, 2/NSG 138:1, 2

Seën

Trinitariese seën gevolg deur Lied 315 Amen

 

 

PREEKSTUDIE – 1 TESSALONISENSE 3:9-13

Teks en konteks

Met die géselslae nog rou oor hulle blaaie (Du Preez) verlaat drie sendelinge Filippi en mik na Tessalonika, die hoofstad van die provinsie Masedonië (Hand. 16-18). Tessalonika voldoen skynbaar aan al die vereistes wat Paulus gestel het om `n sendingveldtog te loods: `n groot en belangrike handelstad waar belangrike handelsroetes op `n Romeinse hoofroete bymekaarkom. Een van die belangrikste oorwegings is dat daar `n sinagoge is. Daar tree Paulus op drie agtereenvolgende Sabatte op, maar vertoef waarskynlik langer as vier weke in Tessalonika (vgl. 1 Tess. 2:7-11, waarin sprake is van sy harde werk, asook Fil. 4:16 waar meer as een keer sprake is dat hy onderhoud van die Filippense ontvang, sowat 150 km vanaf Tessalonika). Party Jode kom tot bekering, asook `n groot aantal Godvresendes. Hulle was gewoonlik Griekssprekendes wat genoeg gehad het van die morele verval en intellektuele absurditeite van die veelgodedom. In hul soeke na iets beter, het hulle hulle na Judaïsme gewend. Die besnydenis was egter `n struikelblok tot `n volkome verjoodsing. Onder dié Godvresendes het die evangelie die grootste ingang gevind. In Christenskap vind hulle monoteïsme, hoë morele peil sonder die intense nasionalisme, wettisisme en ritualisme. Ook `n aantal vooraanstaande vroue kom tot bekering (vgl. die kommentare vir die groter prominensie wat vroue waarskynlik in Tessalonika had teenoor die res van Masedonië).

Die Jode raak hieroor ongelukkig en by wyse van `n eerste-eeuse ekwivalent van ons "Rent-a-mob" (Bruce), loods hulle `n teenoptrede. Die uiteinde is dat Paulus en sy twee junior kollegas die stad verlaat om in die ontvankliker Berea, wat op `n syroete geleë was, te gaan optree. Daar word hulle weer deur die Rent-a-mob van vroeër uitgesnuffel en Paulus na Atene gebring. Silvanus en Timoteus bly agter en word deur Paulus versoek om so gou moontlik by hom in Atene aan te sluit. Intussen begin hy, ontstig deur die afgodery in Atene, daar optree sonder sy twee kollegas. Die Ateners luister na die "praatjiesmaker", party kom tot bekering, maar die meeste van die gekultiveerdes vind die opstandingsboodskap `n grap.

Paulus bereik sy volgende bestemming, Korinte, duidelik bewus van sy swakheid en met groot angs en huiwering (1 Kor. 2:3). Fanatiese teenstanders het hom immers reeds op drie plekke verjaag, sodra dit begin lyk asof sy werk suksesvol kon wees.

In Korinte sluit Timoteus en Silvanus hulle by Paulus aan, waarskynlik in die herfs van 50 of 51 n.C. Paulus was intussen hoogs bekommerd. Sou die Tessalonisense hom nie net maar as nog `n charlatan beskou nie? Hy was immers nie die enigste reisende "praatjiesmaker" van sy tyd nie. In die tyd was daar baie reisende bedrieërs wat met hulle kwaksalwery en pseudo-profesie mense tot hul self-promoverende standpunte wou oorreed. Materiële gewin was natuurlik nie uitgesluit nie. In dié verband kom verskeie moderne crusades en campaigns (met of sonder `n tent) waaraan inwoners van dorpe vandag blootgestel word, in die gedagte op. Wat hierdie campaigns betref, het een kollega opgemerk: The campers go, but the pain remains.

Terug by Paulus: Kan dit nie dalk wees dat die Tessalonisense oortuig is deur die teenstanders se argument nie?: "These so-called apostles are self-seeking adventurers. Their real object is to make themselves a reputation and to fill their purse at your expense. They have beguiled you by their flatteries and pretense of sanctity… into accepting their new-fangled faith; and now that trouble has arisen and their mischievous doctrines bring them into danger, they creep away like cowards, leaving you to bear the brunt of persecution alone!" (Findlay, deur Morris aangehaal). Indien sy teenstanders daarin geslaag het om hom as ydele pseudo-bedelmonnik te diskrediteer, was sy werk tevergeefs.

Timoteus is gestuur om hulle geloof te versterk en moed in te praat (3:2) – dit is ook `n doel van die brief. Nou is Timoteus terug met goeie nuus van hulle geloof en liefde. Vroeër het Paulus dit ook gehad oor die volharding van hulle hoop (1:3). In sy blydskap gryp Paulus na `n pen en word die eerste brief aan die Tessalonisense, dalk binne ure na Timoteus se terugkeer, geskryf.

Na die gebruiklike aanhef brei die skrywer(s) die formula valetudinus uit in `n breedvoerige dankseggingspassasie (1:2-3:13). Die dankseggingspassasie dien verder as apologie waardeur die Tessalonisense herinner word aan Paulus-hulle se motiewe.

1 Tessalonisense vertoon sterk ooreenkomste met die Hellenistiese paranetiese briefvorm. Paranese behels `n tussenspel tussen drie elemente, naamlik: herinnering, voorbeeld en stelreëls (memory, model and maxims – Johnson). Die voorbeeld word lewendig gehou deur herinnering en aangevul deur stelreëls. Laasgenoemde word meestal kontrasterend aangewend (vgl. 1 Tess. 5:21, 22).

Paulus roep sy verblyf onder die Tessalonisense in herinnering. Hy het nie, soos die charlatans, uit onsuiwer beweegredes opgetree nie, hom ook nie met vleitaal opgehou nie. Hy weerlê die aanklagte teen hom dat hy aan die klassieke ondeugde van die bedrieërs ly, naamlik dat hulle net plesiersoekers, rykdomjagters en eersoekers is (2:3-5).

Hy hou homself as voorbeeld aan die lesers voor (1:6), soos wat hulle `n voorbeeld vir die ander gemeentes is (1:7) en soos wat die ander gemeentes vir hulle `n voorbeeld in lyding is (2:14). Maar Paulus se boodskap is meer as net `n nuwe moraliteit. Dit is die evangelie van God (2:2, 8, 9). Hulle verkondiging was nie `n abstrakte ideaal nie, maar het hul hoorders verander, getransformeer.

Anders as die reisende pseudo-profete, die campaigners, het Paulus `n brandende begeerte om terug te keer. Maar Jason het `n waarborg gegee (Hand. 17:9), waarskynlik dat hy nie onrusstokers huisves nie, en daarom word Paulus verhoed om terug te gaan.

Nou het hy die goeie nuus oor hulle van Timoteus ontvang. Hulle staan vas in die geloof en liefde en hulle het net aangename herinneringe van Paulus. In sy nood en verdrukking skep Paulus moed, trouens, dit is asof hy `n tweede asem gekry het.

Oor die geloof en liefde skryf Best dat daar nie `n te rigiede onderskeid gemaak moet word nie: "Calvin is often quoted: ‘In these two words Paul states concisely the sum of total godliness’ but this suggests that Paul here considers faith and love as the two main virtues. Their relationship is better expressed by Gal 5:6 ‘faith working through love’. Their faith represents their attitude to God rather than their faithfulness, and love is its result."

Voordat hy hulle vrae gaan beantwoord en hulle spreukgewys verder gaan aanspoor, keer hy eers terug na dit waarmee hy in 1:2 besig was, naamlik gebed. Oor die inhoud van die gebed kan die kommentare geraadpleeg word. Vir die doel van hierdie oordenking is dit belangrik om daarop te let dat Paulus se uitbundige blydskap voor die Here oorgaan in die wens-gebed waarin gepleit word vir liefde onder mekaar.

Preekvoorstel

As (dalk `n lang) inleiding tot die Skriflesing kan die ontstaansagtergrond van 1 Tessalonisense aan die gemeente vertel word (sien hierbo). Daarna volg die Skriflesing 3:9-13 met die klem veral op verse 9 en 12.

Op die eerste Sondag van Advent, gewoonlik die "laaste Sondag" van die skooljaar, sou dit goed wees om terugskouend die oggend voor die Kerssangdiens (wat gewoonlik die aand plaasvind) te vra of die gemeente rede het vir dieselfde tipe dankbare blydskap as wat Paulus hier openbaar. En dan nie spesifiek persoonlik nie, maar dankbare blydskap oor die bediening deur en gebeure in die gemeente?

Donkerkykers is daar baie. Lidmate sal kan brom oor waaroor ons nie dankbaar kan wees nie, oor wat nog ontbreek: die bidders sal kla dat die gebedsbyeenkomste swak bygewoon is, en mense wil boonop nie hardop bid nie; die sendelinge sal kla dat ons te min vir die sending gegee het; die revivaliste sal kla omdat die langverwagte herlewing nog nie uitgebreek het nie; die Kinderkranstannies sal kla dat ons te min vir die jeug doen, ensovoorts. Ons almal het ons eie agendatjies en maak ons skuldig aan donkerkykery oor ander se tekortkominge.

Vanoggend vra ons na redes vir dankbare blydskap. Paulus is in die eerste plek dankbaar oor gebeure in Tessalonika. Hy spring nie weg deur dadelik op die negatiewe te konsentreer en te probeer aanvul wat nog aan hul geloof ontbreek nie. Dalk is daar nog baie dinge wat by ons ook ontbreek, maar waarvoor is ons dankbaar bly?

Pouse

Die prediker kan nou voortgaan om die agendas te verbreed. In my gemeente sou dit soos volg kon verloop: Ons kan dankbaar bly wees oor die ton papier wat ons herwin het waarvan die opbrengs aan ouetehuise geskenk word. Ons kan dankbaar bly wees oor die Bybelkiosk wat elke Saterdagoggend beman is en waarin daar ‘n groot aantal gesubsidieerde Bybels beskikbaar gemaak is, … oor die aantal hongeriges wat elke dag iets warms by die sopkombuis kry waarvoor ons gemeente op rotasiebasis instaan, … oor die afgetredenes in die gemeente wat twee keer per week gaan toebroodjies smeer vir die skole- voedingsprogram, … oor die ton genadeglas wat ons herwin het en waarvan die opbrengs aan die nagskuiling gaan, … oor die susters wat gereeld die snoepietrollie in die ouetehuis beman, en sommer so loop-loop geselsies aanknoop en bejaardes se dag opkikker, …oor dit beter gaan by die crèche in die agtergeblewe woonbuurt, … oor die werkskeppingsprojek wat nog in sy kinderskoene staan, maar waarvoor ons groot verwagtinge het. En noem maar op.

Natuurlik ontbreek daar `n klomp goed by ons, maar hieroor is ons diep dankbaar – die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop.

Bavink skryf dat hy die inwyding van `n nuwe kerk bywoon. Die kerk het drie gebrandskilderde vensters waardeur die sonlig kleurryk gefilter word en op die gemeente skyn. Die drie vensters stel die drie groot Christelike deugde voor: geloof, hoop en liefde. Op die eerste venster was `n kruis, die voorwerp van die geloof; op die tweede `n anker, simbool van hoop, en op die derde, `n hart, teken van liefde. Die geleentheidspreker by die inwyding het by dié drie deugde aangesluit en wys die gemeente daarop dat Paulus oor dié drie deugde magtige dinge sê. Die volgorde is ook goed. Natuurlik eers die geloof in die kruis van Jesus Christus. Dit moet alles voorafgaan. Die basis van ons lewens kan immers nooit iets anders wees as geloof in sy voltooide werk nie. Hy wat in die dood vir ons vooruit is en wie se dood ons met God versoen het, sodat ons saam met hom kan opstaan en `n nuwe lewe leef. Net wanneer ons dit van harte glo, kan ons in hierdie siedende, tierende wêreld bly hoop. Waarop anders sou ons ons hoop bou? vra hy retories: "Eers vanuit die geloof kry hoop sy kans". Daarop volg dat slegs die mens wat hoop en blydskap in die hart dra, werklik kan liefhê. So ‘n persoon is nie meer so behep met haar eie lewensgeluk nie, sy voel nie meer so bedreig en benoud nie, die krampagtigheid is daar uit en daarom kan sy waarlik liefhê. Die liefde kan alleen ruimte vind wanneer dit gedra word deur verwagting. En so is die volgorde heeltemal goed.

"Maar," sê die spreker verder: "Moenie vergeet nie dat wanneer die gemeente in die aand hier met aangeskakelde ligte vergader, die volgorde vir `n buitestaander omruil. Vir so `n persoon sal die liefde eerste staan, daarna volg hoop en daarna eers geloof. Van u geloof sal `n buitestaander aanvanklik maar min sien, maar dit sal hulle diep tref as hulle in u midde die seldsame egte liefde aantref. Hulle het miskien al in hul lewe hulself te pletter geloop teen die harde egoïsme en yskoue onverskilligheid wat die lewe van tallose kenmerk. Hulle sal verwonderd staan wanneer hulle by `n groep mense uitkom, van wie hulle gou sal opmerk dat hulle nie noodwendig almal eenders is nie, maar mekaar tog werklik lief het. En strakkies sal hulle hulself begin afvra hoekom dit so is dat hierdie mense anders is. Wanneer hierdie vreemdelinge die gemeente nader leer ken, sal hulle spoedig tot die ontdekking kom: hierdie mense het mekaar lief omdat hulle almal hoop in hulle harte koester. Hulle het iets wat hulle bly maak, hulle verwag iets. Hulle laat hulle nie oploop jaag deur onheilsberigte nie. Op hulle tone word daar nie maklik getrap nie. Hulle kan heelwat verdra omdat hulle die hoop op `n beter, ander, ryker wêreld in hulle harte koester. Daarna sal hulle hulself begin afvra na die oorsprong van hierdie verwagting en is dit moontlik dat hulle ten lange laas begin verstaan dat u hoop op die hegte grondslag van die geloof gebou is. Daarna, miskien, sal hul oë langsamerhand begin oopgaan vir die grootheid van ons Here Jesus".

"Moet nooit vergeet nie, dat die volgorde soos wat u dit sien, geloof-hoop-liefde, korrek is, maar dat u, sodra dit om die taak van die kerk in die wêreld gaan, die volgorde presies moet omkeer. Vir die buitestaander wat saans langs u kerkgebou verbystap, vir hom is die volgorde liefde-hoop-geloof."

Kom ons bid dat die Here ons liefde vir mekaar en alle mense laat groei en oorvloedig maak … liefde soos wat aan ons in Christus bewys is.

Bibliografie

Bavinck, J H 1959. Flitsen en fragmenten. Kampen: Kok. Best, E 1986: The First and Second Epistles to the Thessalonians. Black, A & Black C & Bruce, F E 1982. 1&2 Thessalonians. Word Books; Du Preez, J 1981. Die briewe aan die Tessalonisense. NG Kerk-uitgewers; Johnson, L T 1986. The writings of the New Testament. Fortress; Morris, L 1959. The First and Second Epistles to the Thessalonians. Eerdmans.