27 Oktober 2002

Twee en twintigste Sondag in

Koninkrykstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: 1 Tessalonisense 2:1-8.

Ander tekste: Psalm 90:1-6,13-17; Deuteronomium 34:1-12; Matteus 22:34-46.

INLEIDING

In vandag se fokusteks roep Paulus, by wyse van die voorbeeld-motief, die manier waarop hy en sy medewerkers

die evangelie daar verkondig het, in herinnering. "Ondanks felle teenkanting" voor sy besoek aan hulle, het Paulus

die evangelie verkondig, sonder om die guns van mense te probeer soek. Met hierdie voorbeeld-motief wil Paulus

die Tessalonisense aanmoedig om hiermee voort te gaan. Dit moet steeds deel uitmaak van ’n eties-verantwoordbare

lewe, wat selfs bereid is om die minste te wees en geen aansprake op ander te maak nie. Inteendeel. Die

koesterende (en ferm) versorging staan eerder voorop.

In hierdie liturgie word probeer om ook die verband met verlede week s’n te behou.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Votum

Psalm 90:1-2: "Here, U was vir ons ’n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore is, voordat U die

wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God!"

Seëngroet

1 Tessalonisense 1:1 – soos aangepas vir die betrokke gemeente.

Verootmoedigende klag

(’n Gemeentelid kan dit voorlees.) Psalm 90:3-6: "U laat die mens sterwe: U sê net: ‘Word weer stof!’ Duisend jaar

is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag. U maak ’n einde aan ’n mens, hy gaan die

doodslaap in. Hy is soos gras wat in die môre afgesny word: in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny en

teen die aand is dit verlep en dit verdroog."

Gemeentesang

Gesang 286: /NSG 298.

Gebed om redding

(’n Gemeentelid kan dit voorlees.) Psalm 90:13–17: "Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom? Ontferm U

tog oor ons. Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees. Soveel dae as

dié waarin U ons verdruk het, soveel jare as dié waarin ons gely het, gee ons soveel jare van blydskap. Laat u werk

vir ons duidelik word en u grootheid vir ons kinders. Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die

werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande, hou dit in stand."

Aanbiddende loflied

Gesang 267/NSG 283.

Geloofsbelydenis

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Skriflesing

1 Tessalonisense 2:1-8.

Woordverkondiging

Gebed

Na aanleiding van die Woordverkondiging.

Voorbiddingsgebed deur ’n gemeentelid

UITSENDING

Versterking/aanmoediging tot volharding

Matteus 22:34-40: Gaan uit en leef soos Christus ons geleer het. Jesus het gesê: "‘Jy moet die Here jou God liefhê

met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die

tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet

en die profete saamgevat."

Slotlied

Gesang 258:2, 3, 4/NSG 276.

Seën

Gemeente sing

Amen (x 3).

Tema

God keur en bemoedig die draers van sy Woord.

Teks en konteks

Dit is belangrik vir die verstaan van hierdie perikoop en van die brief in sy geheel om die gebeure wat daaraan

voorafgegaan het in gedagte te hou. Op Paulus se tweede sendingreis het dinge vir hom en Silas erg skeef geloop

in Filippi. Groeiende beswaar teen hulle optredes het tot ’n opstand teen hulle gelei, waartydens hulle in die

openbaar as "Joodse oproermakers" verneder, geslaan en in die tronk gestop is (Hand 16:16-40). Terwyl hulle die

nag in die tronk moes deurbring, het hulle God geloof en geprys. Dit het tot die bekering van die tronkbewaarder en

sy gesin gelei. Die volgende dag is hulle vrygelaat. Toe dit egter bekend word dat Paulus ’n "Romeinse burger" was

en dus wederregtelik mishandel is, is hulle deur die stadsvaders vriendelik versoek om die stad te verlaat. Van daar

is hulle 160 km verder na Tessalonika, die hoofstad van Masedonië (Noord-Griekeland), waar Paulus soos gewoonlik

die sinagoge opgesoek en daar sy boodskap oor die gekome Messias, Jesus Christus, verkondig het (Hand 17:1-

3). Die resultaat was bemoedigend. Sommige Jode het oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. Verder het

’n groot aantal godvresende Grieke en vooraanstaande vroue ook by hulle aangesluit (Hand 17:4). Dit het egter die

afguns van die Jode gewek en met behulp van ’n klomp leeglêers is ’n hele oproer in die stad aangeblaas. Toe die

klomp nie vir Paulus en Silas kon kry nie, het hulle hulle gasheer Jason voor die stadsbestuur gesleep. Die beskuldiging

teen hulle was: "Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring (omkeer) … Hulle handel almal

in stryd met die keiser se wette en sê dat daar ’n ander koning is, Jesus!" (Hand 17:6, 7). Jason en van die ander

gelowiges het egter sekere waarborge aan die stadsbestuur gegee en gedurende die nag vir Paulus en Silas na

Berea gestuur.

Dit is egter te verstane dat met Paulus en Silas uit die pad die probleem nog lank nie opgelos was nie. Daar was

nou ’n gemeente wat weens die samestelling daarvan aansienlike invloed gehad en voortgegaan het om mense uit

PREEKSTUDIE - 1 TESSALONISENSE 2:1-12

die sinagogegemeenskap en ander kultusgroepe te trek. Dit het die afguns van die Jode en ander kultusleiers bly

aktiveer. Ten einde die groei van die Christelike gemeenskap teen te werk, is blykbaar allerlei wanvoorstellings en

afbrekende verhale omtrent die apostels en hulle werk versprei. Omdat Paulus skynbaar weens Jason se waarborge

verhinder is om na die jong gemeente terug te keer en met persoonlike gesprekke hulle geloof te versterk,

het hy Timoteus gestuur om te gaan kyk hoe dit met hulle gaan. Tot Paulus se groot blydskap was die nuus wat

Timoteus gebring het besonder bemoedigend (1 Tess 3:5-6). Die gemeente volhard in die geloof en reik selfs uit na

omliggende gebiede met die evangelie. Hierop skryf Paulus aan hulle dié brief ten einde al die wanvoorstellings op

te ruim en hulle in hulle geloofsvolharding te bemoedig. Soos algemeen aangeneem, was dit teen die einde van die

jaar 50.

Reeds by ’n eerste lees val die vervlegte eenheid van hoofstuk 2 ’n mens op. Meer nog, daar is ook ’n verweefdheid

van hoofstuk 2 met hoofstuk 1. 1 Tessalonisense 2:1-12 is dus ’n verdere uitbouing van 1:5 en handel oor hoe die

evangelie na die Tessalonisense gekom het. Met ander woorde, dit laat die lig val op die koms, optrede en motiewe

van die "apostels". 1 Tessalonisense 2:13-16 brei weer uit op 1:6, naamlik hoe die Tessalonisense die evangelie

ontvang en ondanks teenstand volhard het (Du Preez). Maar selfs so ’n afbakening is nie heeltemal bevredigend

nie. Wat eerder waar is, is dat die twee temas vanaf 1:1 tot 3:13 deurloop en vervleg lê. Daarom is dit baie moeilik

om ’n indeling in preekperikope te maak wat nie hiermee rekening hou nie. Die voorgeskrewe indeling van 2:1-8 en

2:9-12 doen egter kunsmatig en problematies voor. Daar sal dus met ’n meer uitgebreide perikoopindeling gewerk

word, naamlik 2:1-12 en 2:13-3:13.

Reeds die styl en inhoud van 1 Tessalonisense 2 sterk die vermoede dat Paulus hiermee ’n aantal verwronge

sienings en stellig ook kwaadwillige verdagmakery van die "apostels" (gesante) se evangeliseringswerk in Tessalonika

wou blootlê en regstel. Daarom doen hy moeite om die gemeente se herinneringe aan die manier waarop die

evangelie na hulle toe gekom het en aan hulle voorgehou is, weer op te skerp. Vergelyk in dié verband die herhaaldelike

gebruik van "julle weet", "soos julle weet", "julle onthou", "julle … is getuie" (2:1, 2, 5, 9, 10, 11).

Verse 1-2: Paulus wil hê die Tessalonisense moet weer onthou hoe die evangelie by hulle "ingang" gevind het

(eisodos – vgl 1:9). Al het dit gelyk asof Paulus en sy metgeselle, Silvanus en Timoteus, se optrede in Filippi op

onoorkomelike weerstand gestuit het – hulle is daar mishandel (fisiek) en verneder (geestelik) (Hand 16:19-24, 37)

– was die situasie in Tessalonika, ten spyte van "felle teenstand" (polloon agooni – vgl die Engelse woord agony),

tog ook anders. Hulle sendingpoging hier was minstens nie tevergeefs (kenos – leeg, vrugteloos) nie. Baie mense

wat die evangelie gehoor het, het dit aanvaar (Hand 17:4). Dit het dié wat tot geloof gekom het se lewe ingrypend

en blywend verander (vgl voltooide tyd van die werkwoord). Hulle het in die geloof volhard en selfs begin om die

evangelie na omliggende gebiede uit te dra (1:8). Daartoe het die strategiese plasing en belangrikheid van

Tessalonika as hoofstad van Masedonië beslis bygedra. Paulus was dus nie verkeerd om op sy sendingreise op

sulke strategiese sentra te konsentreer nie.

Die feit dat Paulus-hulle ten spyte van al die teenstand en mishandeling met hulle sendingpoging in Tessalonika

volgehou het, is volledig te danke aan, soos hy self getuig, "ons God wat ons die moed gegee het" om "sy evangelie

te verkondig" (2:2). Paulus lê betekenisvolle klem op die persoonlike verbintenis met God ("ons God"). As gesant

het hy ook net een doel voor oë gehad en dit was om "sy (God se) evangelie" te verkondig en sodoende te doen

wat "God verwag" (2:4). In 1:9-10 het hy reeds kernagtig aangedui wat die inhoud van dié evangelie is: "Jesus deur

wie ons gered word van die oordeel wat kom". Die Ou-Testamentiese boodskap (goeie nuus) van bevryding/

verlossing en herstel soos treffend uitgedruk in Jesaja 40-66, word in die Nuwe Testament vanuit die verlossing deur

Jesus Christus nuut geïnterpreteer.

Verse 3-6: Paulus gee nou ’n breëlyntekening van hulle optrede en prediking in Tessalonika. Die woord paraklêsis

wat hier met "prediking" vertaal word, word in 2 Korintiërs 5:20 met "smeek" weergegee. Dit is dus ’n aandrang by

die hoorders om gehoor te gee. Dié woord kan ook weergegee word met "oproep"/"aandrang" (appeal/entreaty),

"vermaning" (exhortation), "aanmoediging" (encouragement) en "vertroosting" (comfort) (3:2). Neem ’n mens die

aard van die sendingprediking in die Nuwe Testament in die algemeen in ag, is die element van aandrang besonder

sterk. Die evangeliste/apostels was diep onder die indruk dat die hoor van die evangelie van God ’n bepaalde

beslissing verg en dus ’n gelaaide moment skep. Hierdie dringendheid het dus saamgehang met die feit dat dit "die

woorde van God" is. Dit was die hoofinhoud van die Nuwe-Testamentiese sendingprediking, soos ook hier in die

geval van Paulus-hulle (2:2, 4). Dít en dít alleen was hoofsaak. Daarom kan Paulus onomwonde verklaar dat hulle

verstaan van die evangelie en hulle aanbieding daarvan aan die Tessalonisense nie, soos beweer word, "op

dwaling" (planê – intellektuele fout, foutiewe oordeel, misleiding) berus nie, maar juis voortvloei uit "die evangelie

van God" (2:3). Hulle optrede het ook nie gespruit "uit onsuiwer (akatharsia) beweegredes nie". Sommige verklaarders

meen dat hiermee verwys word na seksuele wanpraktyke soos in sommige gewilde kultusse beoefen is.

Maar ook hiervan, sê Paulus, is die gemeente getuie dat dit nie waar is nie. Ook het hulle met hulle optrede onder

die Tessalonisense geen "bybedoelings" (bedekte agenda(s)) gehad nie. Daar was vir hulle net een doel en dit was

om die "evangelie van God" te verkondig tot redding van elkeen wat dit hoor. Die gemeente kan dus getuig dat die

apostels se integriteit as bedienaars van die evangelie bo verdenking staan. Dit het vir die apostels alleen om die

"evangelie van God" gegaan. Dit word verder bevestig deur die feit dat hulle hulle nie opgehou het met "vleitaal"

(kolakeia – ook manipuleer) nie. Nog minder was "hebsug" ’n motief (2:5). Dit was juis die kenmerk van talle

rondreisende sprekers. Hulle het mense rondom hulle saamgetrek om te kom luister na die een of ander onderwerp.

Van dié wat die gesprek of toespraak bygewoon het, is dan finansiële bydraes gevra. Vir baie van die sprekers het

dit dan ook uitsluitlik oor die finansiële voordele gegaan. By Paulus-hulle het die gedagte aan persoonlike materiële

gewin egter nooit ’n rol gespeel nie. Hulle het selfs dag en nag geswoeg en gesweet om nie die gelowiges te belas

met hulle lewensonderhoud nie (2:9). Die dubbele taak van evangeliseer en selfonderhouding was uiters vermoeiende

harde werk. Hulle het ook "nie die eer van mense gesoek nie" (2:6), al was hulle vanweë hulle amp as

"apostels van Christus" geregtig op spesiale behandeling en vergoeding (2:7a). Een van die afgeleide vorme van

"eer" kan ook geldelike vergoeding beteken. Vir hulle het dit egter nooit daaroor gegaan om die guns van mense te

wen nie. Hulle het net een maatstaf gehad en dit was om te doen wat God verwag (2:4). Voordat God sy evangelie

aan hulle toevertrou het (vgl ook Gal 2:7), is hulle eers deur God gekeur (dokimazesthai – hartgrondig getoets en

goedgekeur). Anders as mense, reken God nie net met dít wat uiterlik gesien kan word nie (1 Sam 16:7). Nee, in

God se keuringsproses word elke persoon se "diepste gedagtes getoets" (kardias hêmoon – ons harte). Alleen aan

dié wat geskik geag word, vertrou God sy evangelie toe (pisteuthênai) (2:4). Dit is die draer van die evangelie se

hoogste kwalifikasie. Omdat God die apostels se diepste gedagtes ken, is Hy ook die onfeilbare getuie van waarom

en hoe hulle opgetree het (2:5).

Verse 7-9: Die apostels het nie gesoek na eer of materiële bevoordeling nie. Hulle wou op geen manier ’n las wees

vir die gelowiges nie. Daarom het hulle ook geen aanspraak gemaak op enige erkenning of regte nie. Paulus noem

hulle hier vir die eerste keer "apostels van Christus". Al is hulle die spesiale/gevolmagtigde gestuurdes van die

opgestane Christus plaas dit hulle nie op ’n platform ver van en hoog bo die gelowiges nie. Inteendeel, hulle opdrag

om die evangelie van God uit te dra, bring hulle juis naby aan almal wat die evangelie hoor en gelowig aanneem.

Die tegniese debat of die volgende uitdrukking gelees moet word as "liefdevol en sag" (êpioi – vriendelik/gentle) of

as "liefdevol en kinderlik" (nepioi – suigelinge/babies) maak nie ’n wesenlike verskil nie. Alhoewel laasgenoemde

deur die sterkste teksgetuienis gesteun word, is eersgenoemde meer paslik in die geheel en kies die meeste

moderne kommentare daarvoor. Wat van betekenis is, is die liefdevolle manier waarop die apostels teenoor die

gelowiges gestaan het. Hulle was "soos ’n ma wat haar kinders vertroetel" (voed en warm maak). Ook die punktuasieprobleem

in verse 7 en 8 is nie van wesenlike betekenis nie en daar kan volstaan word met hoe die meeste

gedrukte Griekse Nuwe Testamente dit weergee. Die besonder innige verhouding van die apostels tot die jong

gemeente word ook sterk gestel in 2:8. Hulle het nie net opreg begeer om die "evangelie van God" aan die gelowiges

oor te dra nie, maar hulle het ook hulleself (siele – psuchas) aan hulle gegee. Dit het dus om oneindig meer

as net ’n formele of ook ’n hoflikheidsverbintenis gegaan. Die evangeliste en die gemeente het in ’n blywende verbintenis

van harte geword waarin wedersyds opregte liefde gegeld het (2:8; 3:6). Dít verklaar ook die evangeliste

se toewyding en harde werk om geen las vir die gemeente te wees nie (2:9). Hulle wou op geen manier die

"verkondiging/prediking van die evangelie van God" benadeel nie. Die pad vir die evangelie moes oop wees en oop

bly. Hoofsaak was dat die boodskap van God onbelemmerd deurgegee moes word (2:2, 4, 8, 9). Dit was die

spits/fokuspunt van hulle koms na Tessalonika en alles wat hulle gesê en gedoen het, moes in diens daarvan wees.

Verse 10-12: Dit is asof Paulus nog nie tevrede is dat die valse aantygings teen hom en sy mede-evangeliste genoegsaam

besleg is nie. Die Tessalonisense en, ja, ook God is tog getuie van hoe "suiwer, reg en onberispelik" die

predikers hulle daar gedra het. Let op die sterk beklemtoonde "júlle" (v 10). Die gelowiges weet ook hoe Paulushulle

"elkeen" van dié wat tot geloof gekom het "soos ’n pa sy kinders … elkeen bemoedig en aangespoor en dit op

die hart gedruk het om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy heerlike koninkryk in te gaan". (vv 11,

12). Daarmee is die gelowiges in Tessalonika se alledaagse lewe (peripatein – wandel, rondgaan) gebring binne die

dinamiek van God se heerskappy oor die wêreld. Oral waar hulle as gelowiges gaan, moet hulle God se Naam hoog

hou/eer. Ja, meer, hulle moet hulle manier van lewe sien as ’n antwoord op God wat roep om in sy heerlike koninkryk

in te gaan. Koninkryk moet hier nie verstaan word as gebied nie, maar as God se handelinge. Daarmee het Paulus

die apologie vir hulle bediening van die evangelie van God tot ’n meevoerende klimaks opgebou.

Die vraag waarmee die prediker ná hierdie kort inleidende verkenning sit, is: Hoe kan daar oor hierdie gedeelte

gepreek word vir ’n gemeente in Suid-Afrika byna twee millennia later? Is daar enige verband tussen die vrae wat

Paulus met sy "apologie"/selfverdediging wou besweer en die vraagstukke waarmee die Suid-Afrikaanse gemeente

óf die predikant/pastor vandag worstel? Word daar nie ten spyte van die tyds- en plekverskil wel vraagstukke

aangesny wat vir die uitdra en meedeel van die Woord van God van wesenlike betekenis is en daarom indringend

bedink moet word nie? Dring die inflasie van kernbegrippe van die Christelike geloof en bediening as gevolg van ’n

sekularistiese en modernistiese manier van dink nie juis aan op ’n herinnering aan wat oorspronklik bedoel is nie?

Het die geloofwaardigheid en integriteit van die kerk en die bedienaars van die evangelie nie in die gedrang gekom

vanweë die onvermoë om ideologiese kaping te kan deursien en vermy nie? Soms maak uitsprake en optredes van

predikante dit moeilik vir lidmate om te glo dat predikante geroepenes is. Maar wat is die merktekens van ware

geroepenheid? Bied hierdie gedeelte uit Paulus se eerste Tessalonisensebrief enige riglyne? En wat van die

wanhoopsworsteling van ’n leraar met die vraag óf die Woordbediening ooit ingang gevind het, enige blywende

resultate gelewer het?

Met inagneming van wat pas gesê is, is dit vreemd dat die voorgeskrewe perikope uit hoofstuk 2, sover vasgestel

kon word, in geeneen van die bekende preekstudiereekse of preekhulpe voorkom nie. Dit is nog meer vreemd as

daar in aanmerking geneem word dat perikope uit die ander vier hoofstukke van 1 Tessalonisense wel dikwels

gebruik word. Blykbaar – en moontlik tereg ook! – is die betekenis van hierdie gedeelte vir die verkondigingsgebeure

in die gemeente nie so voor die hand liggend nie. En as dié gedeelte boonop vir ’n bepaalde tyd in die kerkjaar

voorgestel word, kan die spanning vir die homileet kritieke vlakke bereik.

Die feit dat hierdie perikope wel gekies is om binne Koninkrykstyd die preekgebeure te rig, bring mee dat daar binne

’n bepaalde verwysingsraam na die betekenis van die perikoop gevra word. Dit is dus nodig om na die

opeenvolgende gebeure in omgekeerde orde te kyk ten einde vas te stel watter dinamiek daaruit sigbaar word en

op watter manier dit in diens van die groter tema van die kerkjaar staan. Die gebeurtenis wat vooropstaan en waarby

vandag se leser aansluit, is die brief van Paulus wat aan die gemeente voorgelees word. Dis ’n brief vol pastorale

bewoënheid en diepe betrokkenheid by die wel en wee van hierdie jong gemeente in Tessalonika, die hoofstad van

Masedonië. Die brief is egter voorafgegaan deur ’n besoek van Timoteus, die spesiale gestuurde van Paulus om te

gaan verneem hoe dit met die gemeente gaan en of hulle nog volhard in die geloof. Agter hierdie besoek van

Timoteus lê Paulus se bekommernis oor en egte verlange na die gelowiges in Tessalonika, maar na wie hy nie mag

teruggaan nie. By gebrek aan persoonlike kontak is Paulus in voortdurende gebed vir die gemeente voor die troon

van God. Paulus sit egter in Korinte omdat die apostels se besoek aan Tessalonika kortgeknip is deur ’n vyandige

opstand wat teen hulle georganiseer is. Nog verder terug vind ons verskillende gebeurtenisse wat byna gelyktydig

plaasvind. Eerstens die aankoms van die apostels te Tessalonika; dan die inwoners uit verskillende lae van die

samelewing wat na hulle kom luister, waarvan ’n aansienlike aantal die nuwe geloof aanneem; dan Jode en Grieke

wat die beweging as ’n bedreiging vir hulle gevestigde belange sien en dit dus wil keer. Wanneer hulle gaan om die

apostels gevange te neem, maar hulle nie kan kry nie, gryp hulle die gashere van die apostels en sleep hulle voor

die stadsbestuur. Die aanklag teen hulle lui dat hulle meewerk met die apostels wat oral die goeie orde omkeer.

Daar lê egter ook ’n verhaal agter die gebeure in Tessalonika. Dit gaan naamlik oor die diepste grond vir die apostels

se koms na Tessalonika, naamlik God wat hulle "gekeur het en die evangelie aan hulle (ons) toevertrou het" (2:4).

Daarmee is ons in die hart van Koninkrykstyd, God se tyd.

Preekvoorstel

Ten einde die gemeente te laat deel in die dinamiek van hierdie bewegings kan daar aan die hand van ons

teksgedeelte en Handelinge 17:1-11 kortliks die verhaal vertel word van hoe die evangelie na die Tessalonisense

gekom het. Daar kan gewys word op die herhalende patroon van aanvanklike suksesse wat spoedig deur vyandige

reaksies ontsier is. Die evangelieverkondiging het telkens met felle teenstand te doen gekry van die kant van

godsdiensleiers, kultusgroepe en politieke gesagsdraers. Die vreemde was dat die felste teenstand uit die Joodse

gemeenskap gekom het en ook van nie-Jode wat, hoewel hulle aanvanklik belangstellend en selfs instemmend was,

van standpunt verander en vyandig reageer het. Dit was veral die geval waar die plaaslike gesagsdraers bedreig

gevoel het deur die apostels se prediking oor Jesus Christus en die koninkryk (heerskappy) van God. Juis so ’n

opstand teen die apostels in Tessalonika het meegebring dat Paulus en sy medewerkers ná slegs enkele weke

gedwing is om die stad te verlaat. Hulle kon dus nie die evangelisering van die Tessalonisense behoorlik afrond nie.

Hulle moes vertrek met talle vrae nog onbeantwoord en met verskeie basiese geloofswaarhede wat hulle nog glad

nie of slegs gedeeltelik met die gelowiges gedeel het. Juis hierdie feit was die hoofrede vir Paulus se bekommernis

en begeerte om spoedig weer die gemeente te besoek. Toe ’n opvolgbesoek nie moontlik geword het nie, het hy

die brief geskryf.

Alhoewel die brief die indruk skep dat dit ’n "apologie" wil lewer ter wille van die apostels, Paulus, Silas en Timoteus,

is dit eintlik meer. Terwyl dit die apostels se werk, hulle optredes, motiewe en doelwitte weens al die verdraaiings

en verdagmaking in die regte perspektief wil stel, wil dit ook die gelowiges help om nuut te besef waar hulle geloof

vandaan kom, waarop dit rus en waarop dit gerig is. Dit wil veral die gemeente se fokus op die koninkryk van God

instel.

Die kritiese punt in die gebeure in Tessalonika is die feit dat dié wat gelowig geword het, bewus geword het dat hulle

met die "woorde van God"/die evangelie (goeie nuus) van God en nie met die woorde van mense te doen het nie.

Tog was dit mense wat met hulle gepraat het. Maar in hierdie mense woorde het die woord van God na hulle toe

gekom. Terwyl hulle geluister het, is hulle aangegryp deur die waarheid van God. Die leegheid en sinloosheid van

hulle vroeëre bestaan het skielik vir hulle duidelik geword. Toe hulle ontdek dat hulle eintlik besig is met afgodediens,

het hulle hulle tot die lewende en ware God bekeer (1:9). Ja, hulle het die evangelie aangeneem met ’n blydskap

wat van die Heilige Gees kom (1:6). Hulle het God gehoor wat hulle roep om in sy heerlike koninkryk in te gaan.

Die hele lewe het vir hulle in ’n totaal nuwe dimensie te staan gekom. Alles wat hulle is en doen, hulle hele manier

van lewe, is nou op een doel gefokus: om te lewe tot eer van God (2:12). Hulle moet ’n koninkrykslewe lewe. Die

kerk/gemeente is die eiendom van God. God is die inisieerder van alle handelinge wat tot die bestaan en voortbestaan

van die gemeente/kerk lei.

Daar was egter ’n belangrike en noodsaaklike skakel in hierdie lewensomvattende verandering wat by die gelowiges

ingetree het. Dit was die toegewyde mense van wie hulle die goeie nuus gehoor het. Indien hierdie mense se

optrede nie bo verdenking gestaan het nie, sou hulle waarskynlik geen aandag aan hulle boodskap gegee het nie.

Daarom is dit goed om weer eens na te dink oor die manier van optrede, die motiewe wat kennelik aanwesig was

en die verhewe doel wat die boodskappers vir hulleself en hulle hoorders gestel het (vgl eksegetiese deel). Die

evangeliste se optredes het immers deurgaans bevestig wat hulle bely het, naamlik dat hulle deur God gekeur

(getoets en goedgekeur) is. Dat dit vir hulle nooit om eiebelang gegaan het nie maar steeds net oor die heil van die

gemeente, spreek uit die persoonlike (individuele) sorg wat elkeen wat tot geloof gekom het, ontvang het. Ja, die

apostels was vir hulle beurtelings soos ’n ma wat haar suigling vertroetel en soos ’n pa wat sy kinders die weg van

die lewe leer (2:7, 11). As draers van die woord van God het hulle hulle daarop toegelê om altyd suiwer, reg en onberispelik

op te tree en nooit enige las op die gemeente te lê nie. Daarmee is ’n vertrouensverhouding geskep wat

die deurgang vir die evangelie vry en oop gehou het. Die bedienaars se integriteit was bo verdenking. Daarvan is

die gemeente, ja, God wat die harte toets, ook getuie.

Bibliografie

Sien aan einde van die volgende gedeelte.