20 Oktober 2002
Een en twintigste Sondag in
Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: 1 Tessalonisense 1:1-10.
Ander tekste: Psalm 99; Eksodus 33:12-23; Matteus 22:15-22.
INLEIDING
Hierdie Sondag is die eerste in n reeks van vyf met 1 Tessalonisense as fokusteks. Die kort groet van Paulus aan
die gemeente word by hierdie Sondag en die volgende Sondae aanbeveel as seëngroet in n verwerkte vorm om
persoonlik op die betrokke gemeente van toepassing te wees.
Vir hierdie Sondag word daar aanvaar dat die prediker die klem sal laat val op n godvrugtige lewenstyl, as uitvloeisel
van God se genadige handelinge teenoor ons.
Daar word probeer om soveel moontlik van die Leesroostertekste sinvol in die liturgie in te sluit. Met die oog op die
nuwe Liedboek word hier nie veel voorstelle vir liedere gedoen nie.
GOD BRING ONS VOOR HOM
Votum
Psalm 99:1-5.
Liturg: Die Here regeer: die volke erken bewend sy gesag. Hy troon oor die gerubs: die aarde sidder van
ontsag. Groot is die Here, Hy wat in Sion is, hoog verhewe bo al die volke. Hulle moet u groot en
gevreesde Naam prys:
Gemeente: "U is heilig!" U is die magtige Koning, U het die reg lief; wat reg is, het U tot stand gebring. U het
reg en geregtigheid in Jakob gevestig. Prys die Here ons God! Kom ons buig in aanbidding voor
Hom: Hy is heilig!
Seëngroet
1 Tessalonisense 1:1 soos aangepas vir die betrokke gemeente.
Lofprysing en antwoord
Psalm 99 toepaslike verse (hopelik sal dit in die nuwe Liedboek singbaar wees).
Doopherinnering
As teken dat die magtige God met ons is Hy het ons tot sy kinders beseël na aanleiding van Eksodus 33:12-23.
DIENS VAN DIE WOORD
Epiklese
Bid dat God Hom deur sy Woord en Gees aan die gemeente sal openbaar, met verwysing na die manier waarop
Hy Hom aan Moses geopenbaar het (Eks 33:18-23).
296
Skriflesing
1 Tessalonisense 1:1-10.
Woordverkondiging
Gebed
Na aanleiding van die Woordverkondiging.
Voorbiddingsgebed deur n gemeentelid
DIENS VAN DIE TAFEL
Soos gebruiklik.
UITSENDING
Geloofsbelydenis
Slotlied
Gesang 258:1, 3, 4/NSG 256.
Seën
Gemeente sing
Amen (x 3).
Teks
Algemene inleiding tot die vyf tekste oor 1 Tessalonisense
1 Tessalonisense 1:1-10 is die inleiding tot hoofstukke 2, 3 en 5 (Wanamaker 1990; Martin 1995). Die danksegging
(-gebed) as hooftema en die subtemas in hoofstuk 1 word in die ander hoofstukke herhaal en uitgebrei. In sekere
mate bind die temas die hoofstukke. Tematiese benaderings (vormkritiek) of benaderings wat fokus op die briefstyl
van 1 Tessalonisense verskaf nie n bevredigende verstaan van die inhoud, argumente en die verhouding tussen
die hoofstukke nie. n Retoriese benadering tot die brief is meer geskik om te verstaan hoe Paulus sy en sy
medewerkers (Silvanus en Timoteus) se bediening sien (vgl Collins 1984:184-185). Dit help ook om die gehoor se
"reaksies" en die "sosiale konteks" te verstaan (Conradie 1995:161). Dit wys waarom en hoe Paulus altyd besig is
om aan die Tessalonisense erkenning te gee, hulle te bemoedig en te vermaan sodat hulle voortgaan met n nuwe
lewenswyse in Christus.
Die erkenning en bemoediging as deel van die danksegging en subtemas in hoofstuk 1 word op n ander manier
voortgesit in die narratiewe/nadenke- (2:1-10; 2:17-3:10) en vermaning-gedeeltes (4:1-5:22) van die brief. Martin
(1995) se uiteensetting van die hoofstukke werp meer lig op hierdie aspek. In die eerste drie hoofstukke, wat die
danksegging, gebede en narratief oor sy apostoliese karakter en aktiwiteite insluit, lê Paulus die grondslag vir
duidelike etiese vermanings (4:1-5:22). Twee van die vyf Leesroostertekste (2:1-8; 2:9-13) is deel van die narratiewe
gedeeltes. Die ander twee Leesroostertekste die ontslapenes (4:13-14) en die tyd en omstandighede (5:1-11)
is deel van die etiese vermanings (vir n volledige uiteensetting van die brief, vgl Martin 1995).
Preekteks
Martin volg n retoriese benadering en plaas 1 Tessalonisense 1:2-10 onder die tema van danksegging en hoop (1:2-
3:13):
1. Inleiding (1:2-10) (1) danksegging (1:2-5); (2) bevestiging (1:6-10).
2. Nadenke (narratief) oor sy apostoliese karakter terwyl hy in Tessalonika was (2:1-12) (1) ontkenning (2:1-6);
(2) bevestiging (2:7-12).
3. Danksegging vir die volharding (2:13-16) (1) danksegging (2:13); bevestiging (2:14-16).
PREEKSTUDIE - 1 TESSALONISENSE 1:1-10
4. Nadenke (narratief) oor sy apostoliese aktiwiteite nadat hy Tessalonika verlaat het (2:17- 3:8) (1) uitdrukkings
van besorgdheid (2:17-3:5); ontvangs van Timoteus se verslag.
5. Danksegging en voorbidding (3:9-13) (1) danksegging (3:9-10); gebed (3:11-13).
Die subtemas in ons teks vorm die inhoud van Paulus se danksegging (1:2-5) en bevestiging (1:6-10). Hy "dank
God" (v 2)
vir die kwaliteit van die Tessalonisense se "geloof", "liefde" en "hoop" (v 3);
vir die "uitverkiesing" van die Christene (v 4), wat duidelik geword het toe die evangelie aan hulle verkondig
is (v 5);
vir die Christene se reaksie "in baie moeilike omstandighede" en dat hulle daardeur Paulus se "voorbeeld
gevolg en volgelinge van die Here geword" het (v 6);
dat die Christene in Tessalonika n "voorbeeld" is vir "al die gelowiges" (v 7), en
dat hulle n aansporing is vir die uitbreiding van die evangelie (v 8), omdat hulle "van die afgode tot God
bekeer het" en volhard om God te "dien" (v 9) terwyl hulle op Christus se koms wag (v 10).
Paulus se gebed, in die vorm van danksegging (1:2-5; 2:13; 3:9-10) en voorbidding/"wens-gebede" (3:11-13; 5:23-
25), is "spesifiek en konkreet" (Collins 1984:198-199). Sy eie betrokkenheid en ervarings, die ervarings en optrede
van die Christene inspireer en word deel van die gebede (Collins 1993:72).
Die inhoud van die danksegging, die orde en gebruik van "geloof", "liefde" en "hoop" in 1 Tessalonisense 1:3 verskil
van die bekende drietal van "geloof, hoop en liefde" (1 Kor 13:13). Die woorde "werk", "inspanning" en "volharding"
kwalifiseer dié drietal. Sonder om by argumente van geloof en werk betrokke te raak met hierdie woorde benadruk
Paulus die reaksies en ervarings van Christene (Wanamaker 1990:75). Martin gee n aanduiding van hoe die drietal
in 1 Tessalonisense 1:3 verstaan moet word: "As subjective genetives faith, hope, and love in this sentence
identify that which motivates and produces Christian actions. But the actions themselves are what is stressed. Paul
remembered the work, labor, and endurance of those who were in the church. Visible Christian deeds and
perseverance in spite of difficulty give witness to a genuine and enduring faith. Thus Paul gives thanks for a faith
that was shown to be real by the evidence visible in the lives of the believers" (1995:56-57).
Paulus herinner die Christene aan hulle eie apostoliese karakter (vgl die narratiewe gedeeltes 2:1-3:10 vir die
uitbreiding) met die stelling: "julle weet ... hoe ons by julle opgetree het" (v 5). Dit is nog n manier om, net soos met
die danksegging (v 2), die Christene te motiveer en goeie dade aan te moedig. Hy doen dit ook in die bevestigende
gedeeltes (vv 6-9).
Paulus gebruik graag die tema van "voorbeeld". Die nuwe Afrikaanse vertaling (1983) vermy van die
verstaansprobleme wat ontstaan waar vers 6 direk uit die Grieks in Afrikaans vertaal word, soos in die ou vertaling
(1933). Die ou vertaling plaas Paulus-hulle as navolgers op dieselfde vlak as Christus: "En julle het navolgers van
ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het ..." Op grond van hierdie
vertaling moet daar dus baie verduidelik word of dit moontlik was en hoe die "Here" die woord onder verdrukking
ontvang het (vgl Martin 1995).
Aan die ander kant is die 1983-vertaling duidelik en onderskei tussen Paulus-hulle as sendelinge en Christus. Die
Christene het die "voorbeeld" van die sendelinge gevolg. Dit verwys na hoe en in watter omstandighede die
Christene die woord aangeneem het: "met blydskap" en "in baie moeilike omstandighede". So het hulle, net soos
Paulus-hulle, "volgelinge van die Here geword". Hierdie patroon is in Tessalonika en elders herhaal: die ander het
ook weer so n "voorbeeld" vir ander gelowiges geword (v 7).
Konteks
Handelinge 16:6-18:5 is n kort weergawe van Paulus en sy medewerkers se sending in Tessalonika. Dit vorm n
historiese raamwerk waarbinne 1 Tessalonisense gelees kan word (Bruce 1982:xxi). Sommige van die
ooreenkomste tussen Handelinge en Tessalonisense se weergawes van die sending lê meer op die vlak van
sosiaal-kulturele diversiteit van die Christene en hulle vervolging en lyding (1 Tess 3:3-4). In albei weergawes het
sowel Jode as Grieke navolgers van Christus geword. Teen die tyd toe Paulus Tessalonika besoek het, was dit
alreeds n kosmopolitiese stad (vgl Wanamaker 1995:4).
Dit kan maklik gebeur dat die historiese raamwerk uit Handelinge of ander Pauliniese geskrifte veroorsaak dat die
fokus op Paulus se konfrontasie met die Jode geplaas word. Die unieke konteks en ervarings van die Christene in
1 Tessalonisense sal dan misken word. Volgens Wanamaker (1990:61) was daar geen ernstige konfrontasie met
die Jode of, wat die Christene betref, enige noemenswaardige "etiese afwykings" nie. Paulus was in die algemeen
tevrede en dankbaar dat die Christene in Tessalonisense n voorbeeld is vir ander "gelowiges" (1:7) en vir "mense
buite die gemeente" (4:12). Sy danksegging(-gebed), narratief en vermaning moedig die gemeente direk of indirek
aan om te volhard en mekaar meer lief te hê. Hulle blydskap ten spyte van vervolging en n "eerbare leefwyse" is
voorbeelde wat "die agting van mense ... afdwing" (4:12). Dit beteken nie dat alles in plek is nie. Paulus begeer om
weer die Christene te "sien en om aan te vul wat nog aan" hulle "geloof ontbreek" (3:10).
n Persoon se leefwyse of n gemeente se karakter het nog altyd die aanvaarding van die evangelie beïnvloed. Die
prediker kan hier dink aan hedendaagse voorbeelde van n oneerbare of eerbare leefwyse in die samelewing.
Voorbeelde van n oneerbare leefwyse en hoe dit mense en gemeenskappe negatief beïnvloed, is maklik
beskikbaar. Daar sal miskien harder gesoek moet word na voorbeelde van n "eerbare leefwyse". Die prediker kan
probeer om die karakter- of leefwyse-vraagstuk met geloofwaardigheid as n missionêre dimensie te verbind. Die
geloofwaardigheid van n persoon of gemeente het dikwels n impak op mense se reaksies tot die boodskapper of
boodskap.
Een van drie vrae hier onder kan gebruik word om n hermeneutiese invalshoek te kry en deur die "bril" van 1
Tessalonisense 1:1-10 na die konteks van die gemeente in Koninkrykstyd te kyk. Hoe die prediker hierdie vrae
benader en uitbrei kan die gemeente se ervaringswêreld in aanraking bring met die missionêre karakter van die
teks. Sodoende kan die wisselwerking tussen die modus (lof, dank, voorbidding en klaagliedere) van gebed
Christene motiveer en n positiewe verandering bewerkstellig in n gemeente se karakter.
1. n Lewenswandel in die algemeen: of en hoe ons onsself sien as n "voorbeeld" van n voortreflike
lewenswandel (of van geloofwaardigheid) binne en buite die gemeente.
2. n Missionêre konteks as vertrekpunt: hoe lyk en beïnvloed ons missionêre karakter of lewenswyse
ontmoetings met ander persone wat "in baie moeilike omstandighede" lewe?
3. Lewenswandel en karakter van ander persone: hoe dikwels gee ons erkenning aan en is ons dankbaar vir
die lewenswandel van ander persone binne en buite die gemeente? Watter effek het hulle ervarings op die
inhoud van ons dankbaarheid en gebede? Om n beter prentjie te kry moet die prediker nie net dink aan die
effek van ervarings op die modus van danksegging en lofprysing nie, maar ook op die modus van
voorbidding en klaagliedere.
Preekvoorstel
Kinders word van kleins af geleer om dankie te sê. So gaan ons deur die lewe met n "dankiesê", meestal sonder
verdere nadenke. Almal het al vir n persoon dankie gesê vir iets wat hy of sy gedoen het; of by voorbaat dankie
gesê vir n belofte om iets te doen. Hoe dikwels het ons al vir iemand dankie gesê of God gedank en geloof vir n
persoon se voorbeeldige lewe as Christen? Miskien doen ons dit nie omdat ons onseker is of n persoon sal aanhou
met n voorbeeldige leefwyse. Ons moet seker meer ingestel wees daarop om dankbaar te wees vir momente van
genade wanneer en waar n voorbeeldige lewe sigbaar is. Om so dankbaar te wees is om vanaf die alledaagse
tot die Bybelse karakter van dankbaarheid te beweeg.
In sy briewe maak Paulus ook gebruik van die alledaagse maniere van dankiesê, maar gee dit n meer Bybelse
karakter wat die momente van God se genade benadruk. In 1 Tessalonisense 1 verbind Paulus danksegging met
dank en lof aan God, maar nie net vir n moment van genade nie. Dit is danksegging vir n lewenstyl onder genade.
Die Tessalonisense se voortreflike lewenswandel hulle "werk van geloof" (geloof-in-aksie), "inspanning van liefde"
(liefde-in-aksie) en "volharding" van hoop op Jesus Christus (hoop-in-aksie) is rede vir dankbaarheid. Ja, die
Christene se optrede is n rede vir dankbaarheid en feesviering in die erediens en ander byeenkomste.
Ons kan sekerlik talle voorbeelde van geloof-in-aksie as n dimensie van n lewenswandel oproep. Die verhaal van
Jason en ander gelowiges se aanvaarding van die evangelie en hulle gasvryheid teenoor Paulus en sy
medewerkers (Hand 17:1-10) open n alternatiewe wêreld van geloof, liefde en hoop vir n lewenswandel "in baie
moeilike omstandighede" (1 Tess 1:6). Dink aan hierdie handjievol Christene wat moes kies: buig voor en aanbid
die keiser, of buig voor en aanbid Jesus. Deur genade aanvaar hulle die evangelie, leef daarvolgens en maak dus
n keuse vir Jesus as Koning. Dit is n keuse teen die keiser. Hulle is bewus van die implikasies vir hulleself, hulle
families, gemeente en gaste. Die Christene in Tessalonika word aanhoudend aan "vervolging en lyding" (2 Tess 1:4)
blootgestel. n Groep mense wat die "wêreld in beroering bring" en die sendelinge "huisvesting gee" word na die
stadsbestuur gesleep (Hand 17:6). Om nog langer die gasvryheid van Jason-hulle te geniet sal te gevaarlik wees.
Paulus en Silas word toe weggestuur. Tog het mense die gemeente se gasvryheid onthou en ander daarvan vertel
(1 Tess 1:9).
Alhoewel Paulus nie die spesifieke aard noem of beskryf nie, word die vervolging en lyding in 1 Tessalonisense die
konteks waarin die alternatiewe wêreld van die gemeente sigbaar word. Dit is n wêreld waar daar blydskap is ten
spyte van vervolging en lyding. Hierdie soort blydskap is nie aan ons te danke nie. Ons is mos meestal bly solank
dit voorspoedig gaan. Blydskap ten spyte van vervolging en lyding is dus n paradoks n skynbare teenstrydigheid
vir ons. Hierdie paradoks "wat van die Heilige Gees kom" (1 Tess 1:6) is n basis vir die veranderende
(transformerende) krag van die evangelie.
Paulus is nie skaam of te trots om homself as "voorbeeld" vir ander Christene voor te hou nie. Net soos Paulus self,
is die jong gemeente in Tessalonika n "voorbeeld" en aantrekkingskrag vir ander mense. Die mense vertel van die
Christene se lewenswandel en só word die evangelie ook verkondig. Is ons en ons gemeentes n aantrekkingskrag
vir ander mense om navolgers van Christus te word, of vir Christene om voortreflike navolgers van Christus te word?
n Voorbeeldige lewenswandel van blydskap ten spyte van vervolging en/of lyding kan n aantrekkingskrag word wat
mense nadertrek tot binne die ruimte van God se transformerende krag. In die storie "Toe ons jou voete vol blasies
sien", vertel J Oswald Sanders van n inheemse (Indiese) sendeling wat van woonbuurt tot woonbuurt gestap het
om die evangelie te verkondig. Ná n lang dag kom hy by n woonbuurt. Hy vertel die inwoners van Christus, maar
sowel die boodskapper as die boodskap word verwerp. Moeg-moeg stap hy tot buite die woonbuurt, gaan lê onder
n boom en raak aan die slaap. Toe hy wakker word, sien hy, tot sy verbasing, dat die mense van die hele woonbuurt
rondom hom staan. Die hoofman verduidelik dat hulle gekom het om hom weer van nader te beskou terwyl hy slaap.
Hulle sien toe sy voete vol blasies en kom tot die slotsom: Hy moet n heilige man wees, en hulle was boos om hom
te verwerp. Hulle is jammer en wil graag die boodskap hoor waarvoor hy bereid is om so te ly (Sanders in Piper
1993:94).
Gasvryheid (1 Tess 1:9) kan ook n aantrekkingskrag en n transformerende krag word. Dit word selfs n krag
waardeur ons aan die gasvryheid van ander onder vervolging en lyding herinner word. Kom ons roep die konkrete
ervarings van mense in herinnering op deur God te dank en loof, maar ook deur meer voorbidding te doen en
klaagliedere te sing. Dit is n bron van egte blydskap (in die erediens en wêreld) as n paradoks: "The paradox of
delight in God is found only when our worship enables us to weep with those who weep and rejoice with those who
rejoice" (Saliers 1996:46).
Om voorbidding te doen en klaagliedere te sing vir vreemdelinge soos Jason en ander wat ons (as getuies) in
moeilike omstandighede as gaste ontvang, is dus iets besonders. Dit
is om krag van bo te kry;
is om op n besonderse manier teenwoordig te wees;
is om met blydskap vreemdelinge en ander wat vervolg word en ly, by te staan;
is om krag te kry en met blydskap magte teen te staan wat vreemdelinge vervolg en vervreemding en lyding
veroorsaak en vererger, en
gee hoop om selfs geleidelik in die proses verander te word tot n meer dankbare getuie met n voortreflike
lewenswandel in Jesus Christus.
Bibliografie
Bruce, F F 1982. Word Biblical Commentary. Waco Texas: Word Books. Collins, Raymond F 1984. Studies on the
First Letter to the Tessalonians. Leuven, Belgium: Leuven University Press. Collins, Raymond F 1993. The birth of
the New Testament. New York: Crossroad. Conradie, E M (et al) 1995. Op soek na Jona. Verskillene benaderings
tot die interpretasie van die Bybel. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland. Martin, D Michael 1995. The New
American Commentary (Vol 33): 1, 2 Thessalonians. USA: Broadman and Holman. Piper, John 1993. Let the
nations be glad: the supremacy of God in missions. Grand Rapids, Mchigan: Baker Books. Saliers, Don E 1996.
Worship comes to its senses. Nashville: Abingdon Press. Wanamaker, Charles A 1990 The Epistles to the
Thessalonians: a commentary. Grand Rapids: WmB Eerdmans.