28 Desember 2003

Sondag na Kersfees

liturgiese voorstel

Fokusteks: Kolossense 3:12-17

Ander tekste: 1 Samuel 2:18-26; Psalm 148; Lukas 2:41-52

Inleiding

Die tema wat die Skrifgedeeltes vir hierdie Sondag saambind, is die "Huis van die Vader". Die tempeltradisie van die Ou Testament word opgeneem met die suggestie dat dit in Jesus vervul is en die gemeente dit in liefde, vrede en vreugde voortsit en tot sy volle konsekwensie voer. Samuel se tempeldiens (1 Sam. 2) het `n nuwe era ingelui. Samuel was God se besondere geskenk aan Israel met die oog op hulle diens aan God in die tempel en natuurlik ook God se diens aan hulle. God se heiligheid het met Samuel se koms die vroeëre ongehoorsaamheid begin verplaas en die weg gebaan vir die nuwe huis van God wat opgerig sal word. Jesus se tempelbesoek in Lukas 2 teken Hom as `n tweede Samuel wat die heiliging van die huis van God kom afhandel. Die huis sal voortaan die kerk (gemeente) wees, soos dikwels simbolies in die Nuwe Testament te kenne gegee word. Die oproep aan die gemeente te Kolosse bly steeds die oproep aan elke gemeente om hierdie tradisie tot eer van die Here vol te hou, in die geloof dat Jesus self na elke erediens kom om met die dinge (gemeente) van sy Vader besig te wees.

Die gemeente se "tempeldiens" kan op baie maniere en vlakke vertolk word vir die praktyk van ons Christelike lewe. Die koppeling aan Kerstyd beklemtoon die geloof dat Jesus juis gekom het om die "huis van God" op te soek. Die byeenkoms van die gemeente in die erediens het simbool geword daarvan dat die gemeente, soos Jesus, in die "huis van die Vader" wil wees en omgekeerd simbool van God se heilige teenwoordigheid in die gemeente. Die erediens is by uitnemendheid die tyd en plek waar die volle spektrum van alles wat die Here na sy huis wil bring en wat Hy van die huisgenote van die geloof verwag, aan die orde kom. Die heiliging van die gemeente in die erediens begin met Kersfees.

Tema: `n Heilige Tempel vir die Heilige Kind

Verhaallyn van die diens

Die erediens volg die Skriflesings se gebruiklike orde omdat dit logies en chronologies die tema van die tempeldiens ontvou. In stede daarvan om die Skriflesings saam te bondel, word dit deur ander liturgiese momente geskei. Die hoofmotief daaragter is om ruimte te skep vir refleksie en respons op elke teks, en om dit in perspektief te plaas. Die oogmerk van die diensorde is om die gemeente te help ervaar dat `n eeu-oue tempeldiens tot lof van God volgehou word maar wel as huis van God wat deur Jesus besoek is.

Die erediens kan soos volg verloop:

Met die intrapslag (Toetrede) hoor ons dat ons in die tempeltradisie staan. Die aanvangswoorde en -liedere beaam dit. Ons weet wat vandag sal gebeur: Ons sal weer met verwondering saam met Jesus verkeer Hy wat as Kind God se huis besoek het en wysheid gebring het.

Ons hoor van Samuel, God se kneg, wat ook as kind in die heiligdom gedien het. Hy was God se geskenk aan die heel eerste tempel. Deur Hom het God sy huis begin reinig deur die ongehoorsames met iemand beter te verplaas. (Hy het ons ook gewas in die doop toe Hy ons in God se huis plek gegee het.) Ons besef en bely ons is nog baie soos Eli en sy seuns ongehoorsaam. Soveel leed word vandag nog verduur vanweë ons sonde. Soos deur Samuel, reinig God genadiglik.

Nou loof ons Hom. Dis ons "werk" in sy tempel: om Hom te loof. "Hy het aan sy volk mag gegee", sing ons saam met Psalm 148. Die verlore Israel is gered. Ons sing dit twee, drie keer uit.

Daarna hoor ons uit Lukas en Kolossense (Diens van die Woord) hoe Jesus die Tempel vernuwe het. Die leraar verduidelik in die preek: ) Ons is die tempel. Jesus sê: God se huis is nou vol vrede en vreugde.

Aan tafel is ons `n huisgesin van die Here wat saam verkeer. Lief en leed word gedeel. Ons dank God dat Jesus God se huis met sy teenwoordigheid vereer. Ons weet ons moet vashou aan wat ons hier geniet. Dit dra ons die nuwe jaar in.

Wanneer ons huis toe gestuur word (Uitsending), onthou ons dat Jesus ook weer na sy tempelbesoek saam met sy ouers vort is (Luk. 2:31-32). Sy diens aan God het nie opgehou nie. Met God se seën in die hart vasgeknoop, sal hierdie diens voortklink in ons lewens 2004 tegemoet.

God versamel ons voor hom

Die gemeente word met Kersmusiek in die kerk verwelkom.

Groet:

Voorganger: Eer aan God in die hoogste hemel

Gemeente: en vrede op aarde vir die mensdom.

Voorganger: Vrede vir julle/u in wie God `n welbehae het.

Gemeente: Vrede vir jou/u (vgl. Luk. 2:14).

Aanvangswoord

Voorganger: Deur u groot liefde (mag ons) in u huis ingaan en in u heilige tempel buig met die

eerbied wat aan U verskuldig is (Ps. 5:7).

Gemeente: Amen

Die voorganger gee n kort uiteensetting van die tema en diensorde.

Aanvangslied

Lied 153:3 "God is in sy tempel"

Lied 340:1-3 "Kom ons loof die Jesuskind"

(of `n ander lied waarin gesing word dat Jesus kom woning maak onder mense)

Diens van die Water

Met inagneming van bogenoemde verhaallyn, verloop die orde soos volg:

Skriflesing

1 Samuel 2:18-26

Doopherinnering

Skuldbelydenis

Gebed

Vryspraak

Sing of Skriflesing

Psalm 148

Sang

Lied 362 "Vol vreugde sing die eng'leskaar"

Geloofsbelydenis

Sang

Lied 449:1-3 "Halleluja! Ons loof U, Heer"

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese (Gebed om die opening van die Woord)

Skriflesing

Lukas 2:41-52

Sang

"Halleluja"

Skriflesing

Kolossense 3:12-17

Preek

Antwoord

DIENS VAN DIE TAFEL

Volg die orde soos gedurende Adventstyd.

Die volgende elemente is belangrik:

Vredesgroet

Gebed vir lidmate in nood (verkieslik met die noem van name),

Voorlesing van die name van lidmate wat gedurende die jaar gesterf het ( met voorbidding vir familie)

UitSENDING

Skriflesing

Lukas 2:31-32

(`n Kort woord van kommentaar kan nodig wees. Dit lei tot die seën.)

Seën

PREEKSTUDIE KOLOSSENSE 3:12-17

Teks

Dié gedeelte word tot eenheid saamgevoeg deur verskillende voegwoorde en `n voorwaardesin. Die voorwaardesin (Kol. 3:1) word in die Nuwe Afrikaanse Vertaling vertaal met: "Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is" (die een deel van die voorwaarde apodosis) en die uitloop/verloop: "moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is." Die laaste deel van die voorwaardesin (protasis) word in die volgende verse verder omskryf. Die uiteensetting van die voorwaardesin behels die gedeelte tot by vers 4. Vers 5-11 wat met "dus/daarom/gevolglik" begin, beskryf watter reaksie van mense verwag word van wie dié stelling waar is. Dit word eers negatief gestel, deurdat hulle opgeroep word om die ou mens af te sterf. Van vers 12 tot 17, beginnende ook met "dus/daarom/gevolglik", word `n positiewe oproep gemaak om hiervolgens te lewe.

Die hoofwerkwoorde in beide gedeeltes speel `n groot rol in die gedeeltes: "Maak dood" (5-11) en "Beklee julle"; "laat heers" en "laat inwoon" (12-17). Dit is daarom verstaanbaar dat sommige mense dié gedeeltes as afsterwe van die ou mens en die opstaan van die nuwe sien. Dit is immers presies waaroor dit handel. Hóé en deur wie dit gedoen moet word, is egter `n uiters belangrike kwessie.

Op grond van `n hele aantal gegewens in die teks, wat kortliks uitgelig sal word, kan gesê word dat God hier op `n baie subtiele wyse as die Inisiatiefnemer in dié oproep voorgehou word. Op die oog af wil dit lyk asof die rol van die hoorders baie pertinent is, maar tog blyk dit duidelik dat agter die oproep tot die afsterwe van die ou mens en die opstaan (aantrek) van die nuwe, God se handeling veronderstel word.

Die volgende gegewens bevestig dit:

Die feit dat die gelowiges beskryf word as uitverkorenes, geliefdes en geroepenes (12 en 15) laat duidelik blyk dat dit God is wat die eerste stap in hul redding geneem het.

Dieselfde omskrywing van die volk van God in die Ou Testament word hier op die gemeente van Kolosse (3:12) toegepas (vgl. Deut. 7:6-8). Saam met die inhoudelike van hierdie omskrywing vind ons ook `n sterk klem op die rol wat die voorwaardesin (3:1v.) speel. Daar word ons lewe in Christus beskryf (die indikatief). Die oproep om hiervolgens te lewe, word verder uitgelig (die imperatief, 3:5-11 en 3:12-17). Wanneer die indikatief en imperatief egter van mekaar geskei word, word laasgenoemde bloot `n humanitêre oproep.

`n Ander term wat net een keer in die Bybel voorkom (15), wil ook dié objektiewe, eksterne invloed van God (die inisiatiefneming van God) beklemtoon. `n Mens sou letterlik kon vertaal: "dat die vrede van God skeidsregter sal/moet wees in julle harte "

Ook vanuit die agtergrond van die destydse gemeente kan dié beklemtoning bevestig word (vgl. Konteks hieronder).

Nog `n sinskonstruksie wat dalk verwarring kan veroorsaak, is die opmerking dat die liefde die band is wat tot volmaakte eenheid (van gawes?) saambind. Dit wil lyk asof Paulus hier `n hiërargie van gawes voorhou waarvan liefde die hoogste posisie beklee. `n Mens vind egter nêrens in die Bybel enige gronde vir dié argument nie. Die genitief (van volmaaktheid) wat saam met die liefde gelees word, moet eerder as `n genetief van voltooiing/perfeksie verstaan word, met die vertaling: "die liefde wat die band is wat tot volmaaktheid saambind". Die saambindende funksie van die liefde is dus nie om die gawes saam te bind nie, maar wel om die gemeente as eenheid te verenig.

Die deugde-katalogus beskryf die kenmerke van die Christen se lewe. Van dié lewenshouding is Christus die uitnemende eksponent. In die konstruksie van dié gedeelte word die vrede van Christus en die liefde egter uitgelig en groter prominensie daaraan gegee.

 

Konteks

Dit word algemeen aanvaar dat Paulus dié brief geskryf het om onder andere sekere dwalinge waaraan die gemeente blootgestel was, aan te spreek. Teenoor die dwaling/s wys die skrywer die regte weg en oortuiging aan. Kolosse was `n kosmopolitaanse stad wat deur verskillende godsdienstige en ander oortuigings beïnvloed is. As gevolg van die talle inspelinge op die gemoedere van dié inwoners kan nie met klaarheid uitgewys word wat die dwaling/s was waarteen Paulus gewaarsku het nie. Dit kan wel samevattend gesê word dat daar `n siening bestaan het dat die wêreld onder heerskappy was van bonatuurlike magte wat op allerhande maniere gunstig gestem moes word (met feeste en onthouding van sekere voedsel, ens. vgl. 2:8, 16, 23). Die gemeente aan wie Paulus skryf, is dus beïnvloed om te glo dat Christus se verlossing aangevul moet word met allerlei praktyke en rituele. In sulke omstandighede laat Paulus die klem val op die feit dat Christus ons Here is, wat ons uitverkies het sonder dat ons enige aandeel in die hele proses gehad het.

Die Duitse preekhulpe gebruik die teks by die sogenaamde Kantate-Sondag, die vierde Sondag ná Paassondag. Dit is verstaanbaar as jy veral in gedagte hou hoe Dirkie Smit dié gedeelte voorhou as `n teks wat handel oor die feit dat God mense kan verander. In die Duitse wêreld word egter groot klem geplaas op die betekenis van die kerklied, en is daar heelwat preke wat oor die rol en funksie van die lied in die erediens handel (vgl. 3:16).

Die neiging om net oor die sogenaamde "deugde-katalogus" (3:12-14) te preek, bring die gevaar van moralistiese prediking na vore. In Woord teen die Lig III/1 is `n preekvoorstel oor die tema van vrede (15), wat inderdaad `n groot klem in dié gedeelte dra.

Hierdie teks is uiters toepaslik aan die begin van die nuwe jaar. Nie soseer die begin van `n nuwe kerklike jaar nie. Vir baie mense is die afsluiting van die ou jaar en die begin van die nuwe jaar die geleentheid om `n nuwe (`n veranderde vgl. Smit) begin te maak.

Die omgewing waarin ons tans leef, is een waarin mense veral geïnteresseerd is in privaatheid en persoonlike loopbane, asook eie familie en vriende. Dit gaan vir mense om persoonlike geluk en lewe, om sekuriteit en menseregte. Hiermee saam plaas ons samelewing `n sterk aksent op die waarde van individuele vryheid. Elke mens kan self besluit oor wat en hoe hy/sy wil glo. Outoritêre gesag wat eensydig bepaal wat reg en aanvaarbaar is, word nie meer in ons gemeenskap aanvaar nie. Modernisme, met die klem op rasionele denke en die vinnige ontwikkeling van wetenskap en tegnologie, ondersteun ook die sterk gevoel vir die waarde van die individu. (Vir meer inligting oor die modernisme, sien Durand vgl. bronnelys.)

Dit is verstaanbaar dat daar `n oplewing in `n baie ou dwaling onder gelowiges is, naamlik dié van die Arminianisme. Dié dwaling kom daarop neer dat die redding van die mens nie volkome van Christus se soenverdienste alleen afhang nie. Die mens moet ook `n deel doen, al is dit maar net om te glo. In dié opsig word `n waarde aan geloof toegeken wat gereformeerdes juis ontken. Geloof as iets wat ek moet doen, kan nie `n bydrae maak tot ons redding nie. Geloof in Christus as Here is net die manier waarop ons die redding ontvang. Die dwaling waarteen Paulus egter die Kolossense waarsku, leer `n soort medewerksaamheid tussen die mens en God. God doen wel `n deel, maar die mens moet ook `n bydrae maak. Binne die konteks van die modernistiese samelewing word dié siening met vreugde aangehang, want ons word voorgehou as individue wat ons eie vryheid het, ons eie ding behoort en kan doen! (Vir inligting oor die Arminianisme: W.D. Jonker: Uit vrye guns alleen, p. 32-35; Agenda vir die elfde sitting van die Algemene Sinode 2002, p. 187-190.) Dié dwaling en die neiging tot verabsolutering van die individu in ons tyd, korrespondeer in baie opsigte met die dwalinge wat Paulus in Kolosse wou bestry (vgl. die verwysing in die eerste paragraaf onder hierdie opskrif).

Ons teksgedeelte kan daarom juis weer in `n tyd soos hierdie van groot hulp wees, omdat dit die afgehandeldheid van ons verlossing as uitgangspunt duidelik stel. Ons is uitverkorenes, mense wat die Here baie liefhet (3:12); die redding is klaar afgehandel (3:1), ons kan niks meer daaraan toevoeg nie, behalwe om daaruit te lewe!

Preekvoorstel

In `n preek oor hierdie gedeelte sou `n mens kon begin deur te verwys na die gediggie van Martinus von Biberach (In P. F. Theron se boekie: God se somer kom):

"Ek kom, ek weet nie waarvandaan.

Ek gaan, maar ek weet nie waarheen.

Darem snaaks dat ek vrolik is."

Sou dit dalk die rede kon wees waarom ons so sukkel met die lewe? Ons weet nie meer waarvandaan en waarheen nie. Ons ankers het losgeraak. Ons het mense geword wat nie meer op pad is nie. Ons lewe net vir nou en vir onsself (vgl. die opmerkings oor die modernisme en individualistiese neigings wat ons tyd kenmerk.) Inderdaad is ons mense soos Koos du Plessis sing:

"As niemand jou bemin nie;

as niemand jou ooit raak nie,

kan niemand trou versin nie

kan niemand jou versaak nie.

Dis tog so eenvoudig:

Dis jy, alleenlik jy;

En die groter sorge gaan vanself verby.

Niks om te verhaal nie;

Net die vrede bly;

Niks om te betaal nie

En skielik is jy vry." (Skielik is jy vry)

Paulus verklaar egter dat ons uitverkorenes is. Ons is mense wat weet waar ons vandaan kom. Ons is God se geliefdes. Hy het ons uitgekies voordat ons vir Hom kon kies: "Voordat ek kon kies, kon vra, het u Seun my vloek gedra" (Lied 190:2, Liedboek van die Kerk). Ons wéét op grond van God se woord dat Hy ons as sy kinders aangeneem het. Hierdie keuse vir ons, is geneem nie op grond van iets wat ons inherent besit nie, maar is gemaak uit God se loutere liefde en genade wat Hy jeens ons het. Kersfees kom onderstreep weer die waarheid aan ons. Die koms van die Heiland maak juis hierdie verbasing in ons wakker dat God soveel vir ons kon omgee om onder ons te kom woon.

Mense wat egter van hul ankers in Christus seker is, leef anders as die res. Ons is mense wat geroepe is om aan God te behoort, maar ook om soos God te wees. (Kommentare is dit eens dat al dié "deugde" op voorbeeld van Christus geskoei is.) Hoe leef sulke mense? Dit is mense wat lewe vanuit dit wat Christus vir hulle gegee het. Die eerste "vrug" van Christus se heilswerk was die vrede wat Hy aan sy dissipels gegee het (vgl. Luk. 24:36; Joh. 20:19,21).

P. F. Theron verwys iewers na `n studie wat `n sekere filosoof, Binzwanger, gemaak het om die interessante verband tussen liefde en ruimte aan te dui. Hy wys daarop dat waar daar liefde is, is daar ruimte. Daarom is omhelsing een van die mooiste tekens van liefde. Met `n omhelsing sê `n mens eintlik dat ek vir jou ruimte maak hier by my hart. Liefdeloosheid kan dan ook na vore kom in die feit dat ons geen ruimte vir ander gun nie. Daarom, sê prof Theron, is daar dalk so baie plakkerskampe in ons land. Ons gun nie vir ander die ruimte wat ons vir onsself gun nie.

As ons dié beeld verder uitbou, kan jy dit met al die ander deugde wat hier vermeld word, verbind: Ons neig om ongeduldig met mekaar te wees omdat ons dit nie duld dat iemand anders as ek is, en anders optree as wat ek verwag nie. Ons gun mekaar nie die ruimte van hul eie, unieke menswees nie. Almal moet afdrukke van myself wees (Vgl. die opmerking van voornemende huweliksmaats wanneer hulle op die ander se foute gewys word: "Ek weet hy/sy het dié probleem, maar ek sal hom/haar verander.") Ons wil ander verander volgens my patroon van denke en dade. Ander moet op dieselfde manier as ek glo. Daarom laat ons ook geen alternatiewe wyses van aanbidding en sang toe nie. Ons sien liewer dat die kerk skeur voordat ons vir mekaar ruimte gee (teenoor die diversiteit van Christus se dissipelkring; vgl. die ruimheid van God se kerk Kol. 3:11: "Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, ").

Ons vereng ons vergifnis deur mekaar aan die struikeling van die verlede vas te pen. Ons gun mekaar nie die ruimte van weer probeer en voor af begin nie. Ons vergewe mekaar, volgens die beeld van Daniël Louw, op `n paroolgrondslag; jy word vergewe (en dit is vergete), maar as jy weer oortree, kom jou vorige oortredings weer in effek en word jy teruggeplaas in die tronk van die verlede.

Die bedoeling is sekerlik duidelik. Die deugde vra dat ons uit ons liefde ruimte aan mekaar sal skenk om te wees wat die ander in Christus kan en moet wees meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, verdraagsaam (vgl. 12b).

Volgens Theron (aangehaalde werk) het Martin Luther die gediggie van Von Biberach verander dat dit so lui:

"Ek kom, ek weet waarvandaan.

Ek gaan, ek weet waarheen.

Darem snaaks dat ek treurig is."

Die oorsaak van ons treurigheid, dat ons nie hierdie deugde in ons lewens vergestalt nie, is moontlik daarin geleë dat ons in ons liefdelose ruimte-beperking, ook die Heilige Gees in ons lewe inperk. Dalk misluk ons voornemens, ook ons beste Christelike nuwejaarsvoornemens, omdat ons, tipies soos die mens van ons tyd, self wil probeer. Inderdaad vra die Here van ons dat ons sal toelaat dat die Gees ons sal verander en vernuwe sodat hierdie deugde uit ons kan vloei.

Louis Malherbe vertel iewers dat as jy wyn uit `n wyntenk pomp, jy nie alles uitpomp nie, want die afsaksel, die moer, kan dan saam opgesuig word. Ons is dalk ook so. Ons probeer uit onsself die goeie na vore bring. Dan kry ons dit so `n rukkie reg om `n bietjie goeie kenmerke uit ons lewens te wring, maar dan raak ons leeg en pomp ons moer en sien mense dit op ons gesigte!

Dit is inderdaad net die Gees van Christus wat ons as sy uitverkorenes en geliefdes kan begiftig om die kenmerke van die nuwe mens na vore te bring.

Bibliografie

AKLAS-verslag: Agenda vir die elfde sitting van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 2002. Pretoria, p.186 e.v.; Burger, C W et al 1990. Riglyne vir prediking oor vrede. Woord teen die Lig III/1, Lux Verbi; Durand J 2002. Ontluisterde wêreld. Die Afrikaner en sy kerk in `n veranderende Suid-Afrika. Lux Verbi; Jonker, W D 1989. Uit vrye guns alleen. Wegwysers in die dogmatiek. NG Kerk-boekhandel; Smit, D J 1986. Christus is die Heer! Oordenkings en Bybelstudie uit die Kolossensebrief. Lux Verbi; Theron, P F 1984. God se somer kom. Lux Verbi.