14 Desember 2003

Derde Sondag van Advent

Liturgiese Voorstel

Fokusteks: Filippense 4:4-7

Ander tekste: Sefanja 3:14-20; Jesaja 12:2-6; Psalm 85; Lukas 3:7-8

Storielyn en Adventstoeligting

In besonder is die derde Sondag van Advent gelaai met vreugde. Immers die hele Adventstyd is gelaai met blye verwagting, maar op hierdie Sondag bars ’n crescendo van vreugde los. Die hele liturgie moet dit dien en in besonder die kinders hierin benut. Soos Christus in die seisoen al nader kom, so moet die wag op hom al meer in vreugde uitbars. Al die tekste vir hierdie Sondag jubel oor die koms van God. Die preekteks is ’n oproep tot vreugde oor die nabyheid van die Here, midde in ons kommer en sorge; Sefanja roep Sion toe om te sing want God berei ’n fees van uitredding; die responsoriese Psalm vir hierdie Sondag is Jesaja 12:2-6 waarin die refreine van God se reddende teenwoordigheid weerklink sodat Israel al singende op die rand van die vervulling gebring word en Psalm 85 sê dat God weer alles nuut gaan maak – ’n nuutmaking wanneer Christus met die vuur van die Gees klippe omdoop tot kinders van God (Luk. 3:7,8). Hierdie allesveranderende en transformerende krag van God se teenwoordigheid word in die nagmaal bevestig – in ’n sekere sin vind hier ’n transsubstansiasie plaas – nie van Christus nie, maar van ons en ons lewensomstandighede. Die volledige erediens wil die gemeente vanuit die naderkoms van Christus die toekoms tegemoetlei.

God versamel ons voor Hom

Na die Adventstoeligting moet die derde (ligroos) Adventskers, deur ’n persoon in hierdie jaar se belydenisklas, aangesteek word. Daarna word die votum responsories gedoen.

Votum

Voorganger (iemand uit die belydenisklas): Wil U nie meer vir ons die lewe nuutmaak sodat u volk

hulle vreugde in U kan vind nie.

Gemeente: Laat ons u troue liefde belewe.

Skenk ons u reddende hulp, Here.

Voorganger: Ek wil luister na wat God die Here sê,

want sy Woord bring vrede vir sy volk.

Gemeente: Laat ons u troue liefde belewe

skenk ons u reddende hulp, Here.

Voorganger: Ek wil luister na wat God die Here sê,

want sy Woord bring vrede vir sy volk.

Gemeente: Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar.

Liefde en trou sal mekaar ontmoet

Geregtigheid en vrede sal mekaar omhels (Ps. 85:7-10).

Seëngroet

Uit Jesaja 12:2-5

Lofsang

Lied 201; 371:1-3/NSG 155:1; 73:1, 2, 3

Die wil van God

Christus het na ons gekom nie net om ons te verlos nie, maar ook om ons te wys hoe God wil hê dat ons moet lewe. Dit word onder andere verwoord in die woorde van die Doper in Lukas 3:8a, 16,17.

Verootmoediging

Een minuut van stilte vir selfondersoek

 

Vryspraak

Die Here het ’n einde gemaak aan jou straf.

Die koning van Israel, die here is by jou.

Hy die krygsman wat red.

Hy is vol vreugde oor jou.

Hy is stil – tevrede in sy liefde (Sefanja 3:15,17)

Diens van die woord

Epiklese

Die liturg gaan soos volg voor en die gemeente bid die refrein (hoor ons gebed) hardop saam:

Ons dank U, Here Jesus, dat U gekom het om vir ons blydskap te bring. Ons het dit so nodig in hierdie dae van treurige nuus in die wêreld. Ons bely dat ons ons so dikwels blind staar op al die slegte nuus wat ons hoor, op al die slegte dinge wat ons beleef, dat ons die vreugde wat u koms gebring het, miskyk. Daarom loop ons met hangskouers en lang gesigte rond en skud ons die kop, in plaas daarvan dat ons regop staan, koningskinders in hierdie wêreld, gekoop met die bloed van die Lam.

Ons bid vanoggend vir hulle wat nie vandag bly is nie, maar hartseer. Hulle wat in dié dae so bewus is van die dierbare wat vanjaar nie weer die Kerstyd saam met hulle sal vier nie, omdat hy/sy nie meer daar is nie; hulle wat in dié dae te min het om selfs ’n Kersmaal te kan eet; hulle wat eensaam is en niemand het om mee bly te wees nie; hulle wat siek en swak is; hulle wat radeloos is omdat daar nie werk is nie; ons kom bid vir hulle almal. O Jesus, Bron van al ons vreugde, U wat gekom het sodat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed, hoor ons gebed.

Here Jesus, U wat die weg en die waarheid en die lewe is, U wat vir almal wat vermoeid en belas is, rus wil gee, U wat gesê het dat u las en u juk sag is – ons bid dat mense U sal ontmoet as hulle Verlosser, sodat hulle saam met ons die knie voor U kan buig en kan bely: Jesus is Here! Tot lof van God die Vader. O Seun van God, U wat gekom het om te kom soek en red wat verlore is, hoor ons gebed.

Nou loof ons U Jesus, hoogste Heer. Laat ons nou, deur die verligting van die Heilige Gees, u naderende voetstappe in die Skrif en in die prediking hoor sodat ons vrolik en bly kan wees. Here, hoor ons gebed.

Skriflesing en prediking

Sang

Gemeenterespons met vrolike lofliedere: Lied 326:1, 3, 4; 349:1, 2, 4/NSG 328:1, 2, 3; 75: 1, 2.

DIENS VAN DIE TAFEL

Die tafel word gereed gemaak terwyl die orrelis die melodie van Lied 201 herhaal.

Geloofsbelydenis

Nagmaalsepiklese – 1 Korintiërs 11

Instelling, uitdeling, kommunie

Grooteucharistiegebed (sien basisliturgie)

UITSENDING

Slotsang

Lied 353

Seën

Die seënbede van die vroeë kerk kan hier gebruik word:

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.

Die Here is langs jou om jou hand vas te hou.

Die Here is agter jou om die Bose te verslaan.

Die hand van die Here is onder jou om jou te dra as jy swak is en jou op te help as jy val.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou om jou te seën.

Die Here is binne-in jou, want Hy lei jou deur sy Heilige Gees.

Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.

Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Gevolg deur Lied 315 Amen

PREEKSTUDIE – FILIPPENSE 4:4-7

Teks en konteks

Filippense 4:4-7 lê binne `n groter geheel waarvan die struktuur soos volg uiteengesit kan word: Blydskap in die Here (3:1-4:9).

3:1 – Ware blydskap.

3:2-6 – Die geringe waarde van uiterlike dinge.

3:7-16 – Die waarde daarvan om Christus Jesus te ken.

3:17-4:1 – Die regte mense as voorbeelde.

4:2-3 – Oproep tot eensgesindheid.

4:8-9 – Oproep tot regdink en regdoen.

Die mikrostruktuur van ons preekteks kan soos volg ingedeel word:

Verse 1-3 – Vermaning gerig aan sekere persone.

Verse 4-5 – Oproep tot vreugde.

Verse 6-7 – Toesegging van vrede.

In Woord teen die Lig I hanteer Müller die teks as `n Advent-teks en maak die belangrike punt dat die blydskap van die apostel juis in die woorde van vers 5 gesetel lê: "Die Here is naby!" Omdat Hy naby is kan daar vreugde wees. Vir `n bespreking van die nabyheid van die Here kan die gedeelte in Woord teen die Lig bestudeer word. Dit is natuurlik ook een van die redes waarom die teks hom so goed leen vir prediking in Advent. Dit is juis die nabyheid van die Here, sy naderkom binne in ons wêreld met al sy pyn en dood op die paaie en vigs en moord en doodslag, wat vir ons `n ander perspektief op die lewe gee. Blydskap ten spyte van.

In Woord teen die Lig III/4 kom die teks weer ter sprake, waar Burger `n goeie uiteensetting oor die rol van blydskap in die lewe van die Christen bied. Ek beklemtoon enkele grepe hieruit. Dit word deur die geskiedenis gevra, met uiteenlopende antwoorde op die vraag: Kom die blydskap van die Christen spontaan of moet dit ingeoefen word? Ek oordeel dat daar wel vir altwee sake ruimte is. Spontane dankbaarheid is seker die beste, maar dit is ook iets wat ingeoefen en geleer kan (en moet) word. In dié verband is die lof- en dankpsalms baie belangrik. Dit vra nie van `n mens dat jy `n waarheid intens moet voel of ervaar voordat jy dit uitspreek nie. Dit hou rekening met die feit dat daar ook `n ander moontlikheid is, naamlik dat `n mens op sekere waarhede fokus, dit begin uitspreek en daarna agterkom hoe jou hart mettertyd in lyn kom met dit wat gesê en gesing word. Iemand het gesê: "You don’t just think your way into new ways of acting; sometimes you act your way into new ways of thinking!"

Die wesenlike saak rondom dankbaarheid is hoe na die werklikheid gekyk word. `n Mens kan soms dink dat dankbaarheid in die eerste plek te doen het met jou omstandighede, wat jy het (of nie het nie) en hoeveel jy het (of nie het nie). Ervaring leer dat dit dikwels nie die deurslaggewende faktor is nie. Belangriker is hoe jy oor die lewe dink; oor God en oor wat werklik nodig is vir `n goeie lewe voor die aangesig van God. In hierdie sin is dankbaarheid nie `n tweede saak naas geloof nie, maar die keersy van geloof. Daarom staan `n oproep tot dankbaarheid nie los van 'n oproep tot geloof nie. Geloof bring die meeste van die tyd dankbaarheid mee. Aan die ander kant kan `n proses waarin `n mens jou oorgee aan dank en lof, jou fokus op God verhelder en so jou geloof versterk. Die twee sake gaan hand aan hand.

Preekvoorstel

Vir `n goeie voorbeeld van hoe om die teks in Advent te gebruik, kyk na die voorstel van Müller (WtLig I, 110). Ook die voorstel van Burger (WtLIII/4, 200) oor dankbaarheid.

Johan van Schalkwyk gebruik in sy boekie "Hoe om `n Christen te wees en ware blydskap te ervaar", die woord VOG om die gedeelte op te som. Mens sou dit sinvol kon gebruik.

V – (vooruitsig) Jy is iemand met `n vooruitsig: die Here is naby.

O – (optrede) Jy is iemand wat `n bepaalde optrede handhaaf: blydskap na binne, inskiklikheid na buite, in gebedskontak na bo met die Here.

G – (gevolg) Die gevolg daarvan is vrede! Jou hart is vol vrede en jou gedagtes is gebaai in vrede, want God se vrede hou oor jou die wag.

`n Aanpassing van `n eie preek hieroor, word hieronder aangebied.

Ons Skrifgedeelte is vir baie mense goed bekend en seker een van die mees gepredikte tekste van die Bybel. Met die oog op vandag se boodskap, word die tema in vraag-vorm geformuleer: Is daar ryp in u lewe, of is daar sonskyn? Ryp dit of skyn dit in u lewe?

Die hoof van die neuro-chirurgiese afdeling by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad het 'n paar jaar gelede by 'n konferensie van hospitaalleraars gesê: "Die algemeenste vorm van lyding, van swaarkry, is nie die fisiese pyn nie, maar die neerslagtigheid en die moedeloosheid".

Die Superintendent van 'n ander groot hospitaal het gesê dat die knellendste probleem waarmee die moderne geneesheer te doen kry, is dat so baie van sy pasiënte voel dat die lewe nie meer die moeite werd is nie.

Paulus se opdrag uit die tronk aan al die gelowiges in Filippi, wat die sentrale boodskap van sy brief vorm: "Verbly julle in die Here", hou verband met 'n probleem wat baie algemeen by kinders van die Here voorkom, naamlik moedeloosheid.

Paulus sê ook vir ons: "Verbly julle in die Here!" As jy leer om jou in die Here te verbly, is jou oorwinning oor jou eie moedeloosheid verseker. Dan is jou blydskap nie afhanklik van jou eie wilskrag, inspanning, of selfs gunstige omstandighede nie. Nee, dan begin die Heilige Gees in jou 'n blymoedigheid oor die lewe bewerk. Dit is soos Richard Wurmbrand (sendeling onder die kommuniste) getuig het: die blymoedigste mense wat hy teëgekom het, was gelowige Christene in kommunistiese gruweltronke. Juis daar waar hulle geen rede gehad het om blymoedig te wees nie.

Paulus se opdrag: "Verbly julle in die Here", word aan ons gegee sodat ons onsself kan voorberei om die Here se werk te doen. Jy is nog nie reg om 'n dissipel vir Christus te wees as jy nog nie geleer het om blymoedig en dankbaar te bly, selfs onder moeilike omstandighede, nie.

Die Nederlandse predikant ds. Overduin het by geleentheid vertel van 'n ouderling in sy gemeente wat baie graag evangelisasie werk wou doen, maar, het hy gesê: "Hy het ongelukkig nie 'n evangelisasie-gesig nie". Die ouderling se gesig het nie gewys dat hy opgewonde is om mense van God te vertel nie. Die werk in die kerk en in die koninkryk van God, kan nie gedoen word deur mense wat nog nie besef het dat hulle oneindig baie het om voor dankbaar te wees nie. Hoeveel te meer nie, soos Paulus wat uiteindelik besef het wat dit beteken om jou in die Here te verbly.

In die tyd waarin ons leef, is die Christen die enigste mens met 'n geldige rede om blymoedig te wees. Hoekom sê ek so? Omdat ons lewens nie gebaseer is op ekonomiese voorspoed, of op die politieke prosesse nie. Nee, dis gebou, of veronderstel om gebou te wees, op die onfeilbare beloftes van God se Woord. Die Woord wat hierdie tye en toestande voorspel het, maar ook die Woord wat sê: "Die hemel en die aarde sal verbygaan maar God se Woord nooit."

Watter rede het die ongelowige om optimisties te wees? Hulle kan alleen maar net 'n oppervlakkige en fatale blydskap hê. Een wat sê: "Kom laat ons eet en drink en vrolik wees want môre sterf ons."

God vra of ons van die ongelowiges verskil? As ons rondom ons kyk, veral na waar gelowiges bymekaar kom, wat sien ons? Lang gesigte, tekens van bekommernis en selfs vrees? Selfbejammering, 'n gebrek aan geloof en baie beslis 'n gebrek aan blymoedigheid en vreugde? Ons sing so maklik: "Here hoe blymoedig en in dank oorvloedig maak U my die hart", maar ons bedoel nie wat ons sing nie.

Paulus se opdrag: "Verbly julle in die Here", is bedoel vir `n tyd soos hierdie. Een van die belangrikste pligte wat gelowiges moet nakom, is om in die geloof blymoedig te wees. Solank as wat ons godsdiens vir ons 'n moeisame plig bly, 'n klaarblyklike beproewing, sal die ongelowiges glad nie geïnteresseerd wees in die Christelike godsdiens nie.

Ja, ons hele samelewing is pessimisties. Ek sou selfs met jou wou saamstem. Net die blote gedagte aan die nuusbulletin maak mens pessimisties, om nie eens te praat van die Super-12 nie. Maar God sê in sy Woord dat ons nie moet wanhoop as omstandighede teen ons is nie; as dit lyk asof alles ons wil oorweldig nie. Nee, sê Hy: "Hou vas aan my beloftes. My genade is vir jou genoeg. Hy wat volhard tot die einde toe sal salig word."

Paulus het onder moeilike omstandighede gewerk. Sy lewe was gedurig in gevaar. Hy is beide deur die Jode en die heidene vervolg. Hy is dikwels aangekla, gegesel en selfs met klippe gegooi. Hy moes lang tye in tronke deurbring en teen die einde van sy lewe moes hy sy werk vanuit die Romeinse tronke probeer doen. Daarby was daar dikwels onenigheid en sektariese afwykings in die gemeentes wat hy gestig het. Maar nêrens lees ons dat hy wou tou opgooi nie. Inteendeel, Paulus vermaan sy lesers om dankbaar te wees en hulle in die Here te verbly.

Ek wil die storie van Paulus vertel, soos wat die Italiaanse regisseur Franco Zeffirelli en sy film span, Paulus in die tronk in Rome, voorstel. Zeffirelli sal waarskynlik die diep emosie van blydskap in die gevangene se oë die beste op film kan vaslê. Die hofsaak teen Paulus is verby, en nou wag hy op die regter se uitspraak. Die filmspan neem ons na die hawestad Neapolis, anderkant die Golf van Neapolis, deesdae Kolpos Kavallas, noordwes van die eiland Thasos, in die Egeïese See. Die gebied Kavalla is die hart van die Griekse tabakindustrie. Omtrent 20 kilometer daarvandaan met die Romeinse hoofweg langs, die Via Egnatia, lê die stad Filippi op `n heuwel hoog bokant `n pragtige vallei. Filippi was `n vooruitstrewende stad, wat in `n goudstreek gelê het. Daar was honderde afgetrede Romeinse staatsamptenare, wat Latyn gepraat en in tipiese Romeinse drag rondgeloop het. Elkeen het `n lappie grond in die vrugbare vallei en goeie pensioen uit Rome ontvang.

Paulus het nie sommer net op `n goeie dag in Filippi aangekom nie. Om die waarheid te sê, op sy tweede sendingreis het hy Troas in Klein-Asië aangedoen. Hy was vergesel van Silas en Timoteus. Lukas het ook daar by hulle aangesluit. Daar het Paulus een nag in `n gesig `n man hoor sê: "Kom oor na Masedonië toe en help ons" (Hand. 16:9, 10). En so, onder leiding van die Heilige Gees, het dit gebeur dat die vier makkers na die noorde van Griekeland is, die destydse Masedonië. Die florerende handelstad Filippi was aan die Europese kant van die grens tussen Europa en Asië geleë. Die vier manne moes die Egeïese See (omstreeks 50 n.C.) van Klein-Asië af oorgesteek het (vgl. Hand. 16:6 v.v.). Die mense in Filippi was hoofsaaklik Grieke, met `n klompie Romeinse burgers wat daar afgetree het. Daar was nie baie Jode nie. Moontlik is dit ook die rede waarom die apostel nie enige Skrifgedeeltes in sy brief aanhaal nie.

Die heel eerste Sabbat het die sendelinge `n paar vroue by `n gebedsbyeenkoms op die walle van die Gangitesrivier gekry. Daar het Lidia tot bekering gekom – die eerste bekeerling op Europese bodem! En daarmee het Paulus natuurlik ook die stigter van die eerste gemeente in Europa (te Filippi) geword. Later, op sy derde sendingreis, het Paulus twee keer Filippi aangedoen. Maar nou, tydens sy eerste gevangenskap in Rome, is Paulus dalk met sy belangrikste kontak met die Filippense besig. Hierdie brief skryf hy teen die jaar 61 n.C.

Vandag is die groen landskap van mooi Griekeland nog opvallend, met die pragtige hawe van Neapolis en oorblyfsels van die Via Egnatia sigbaar. Daar is ook ruïnes wat die Franse argeologiese ekspedisie van Filippi blootgelê het tydens hul opgrawings van 1914 tot 1938. Dit is al wat van die plek oorgebly het. Van die gemeente waarvan Paulus geskryf het dat hulle sy blydskap en kroon is, het letterlik niks behoue gebly nie. Wanneer Franco Zeffirelli se kamera op Paulus se gesig vries, weet mens dat ware blydskap en geluk nie in die geskiedenis lê nie. Ook nie in die goud of tabak, in plotjies of pensioene nie. Dit lê nie in omstandighede of in besittings nie. Ware geluk is geanker buitekant jouself.

Telkens gebruik Paulus hier in Filippense woorde wat op blydskap dui: "Ek bid altyd in al my gebede vir julle met blydskap" (1:4); "tot julle bevordering en blydskap in die geloof" (1:25); "Maak my blydskap volkome" (2:2), en; "Verbly julle in die Here" (4:4), ons teksvers. Charles Spurgeon, een van die beroemde predikers van die vorige eeu, was later in sy lewe professor aan 'n kweekskool vir predikante. In sy boek "Lectures to my students", skryf hy op een plek: "As julle preek moet julle gesigsuitdrukkings die betekenis van julle woorde weerspieël. As julle preek oor verlossing en die hemel, moet julle gesigte tog straal van blydskap. As julle praat oor die hel kan julle gesigte lyk soos dit altyd lyk – dit is goed genoeg." Dit is nogal 'n groot aanklag wat Spurgeon gemaak het; dat dit lyk asof julle altyd bewus is van die hel. Hoe lyk jou gesig?

Hoe moet ons getuig?, vra baie mense. Een van die beste maniere is om elke dag jou dankbaarheid teenoor God te wys. Jy kan met die straat afloop en sonder om 'n woord te sê, vir Jesus Christus getuig. As kerk van Christus het ons geleentheid, nee, 'n Goddelike opdrag, om aan die wêreld te sê dat alles nie verlore is nie. Hierdie wonderlike boodskap van blydskap moet ons aan die wêreld bring, deur ons te verbly in die Here en in die krag van sy sterkte. Die sondaar se blydskap duur net solank as wat sy voorspoed duur.

Uit die Amerikaanse Vryheidsoorlog is 'n geval beskrywe van 'n kaptein wat dodelik gewond was en in die nag, sonder hulp, op die slagveld bly lê het. Hy het later, nadat hy gered is, vertel hoe hy gelê en kyk het na die sterre wat helder skyn. Hy het gedink aan God die almagtige Skepper van die groot heelal en oor die nietige mens. Hy het ook gedink aan die Seun van God wat gesterf het sodat hy die ewige lewe kon beërwe. Op daardie oomblik het hy gevoel hy wil 'n loflied tot eer van God sing. 'n Ander gewonde wat hy nie kon sien nie, het die lied gehoor en ook begin saamsing. Dit was nie lank nie of oor die hele slagveld het 'n klomp gewondes gelê en lofliedere sing, tot eer van God. Selfs die hulpelose sterwende kon die atmosfeer van 'n slagveld verander met 'n loflied.

Ek herinner u aan ons tema: Is daar ryp in u lewe of is daar sonskyn? Sonskyn laat plante groei, fotosinteer, sodat hulle donker groen skaduwees van rus kan word. Ryp laat alles kwyn. Hoe lyk jou lewe? Sou u ook die slagveld van die lewe waarop ons leef, kan verander in 'n atmosfeer van lof aan God, of sou die mense van u moet sê, soos Spurgeon vir sy klas gesê het: as julle oor die hel praat kan julle gesigte net so bly, dit is goed genoeg. Raak u nog opgewonde oor die blye boodskap.

Kan ons dit regkry? Paulus sê in vers 8: "Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!"

Hierdie teks is Barbara Priddy se teks. Sy was `n jong Amerikaanse meisie in die fleur van haar jare. Sy was `n atletiese, aktiewe onderwyseres in liggaamlike opvoeding en gimnastiek. Haar Christelike geloof het uit haar mooi persoonlikheid gestraal. Skielik het sy siek geword met `n geheimsinnige kwaal. In die hospitaal het dokters lank na die regte diagnose gesoek. Na `n reeks ondersoeke is sy in totale afsondering geplaas sodat sy selfs haar ouers net deur `n glasvenster kon sien. Daar in alleenheid, het `n dokter die nuus gebring: dit was polio! Met sy vertrek uit haar kamer was sy verskriklik eensaam en het sy diep uit haar binneste gesmeek: "Here, gee my asseblief `n boodskap wat my uit hierdie diepte sal optel!" Sy het duidelik die antwoord gehoor: "Wees altyd bly in die Here. Ek herhaal: Wees bly!"

Sy vertel dat sy stomgeslaan was. Hoe kan dit `n antwoord op haar hulpgeroep wees? Sy het dit egter aanvaar en besluit om gehoorsaam te wees. Gou het sy besef dat die geheim in die uitdrukking waarvoor Paulus so lief was, lê: "in die Here". Bly wees, kon sy nie in daardie donker uit haarself nie. "In Christus" was dit moontlik, het dit `n werklikheid in haar lewe geword. Van die waarheid daarvan was sy `n toonbeeld. Barbara Priddy het beleef wat die Here Jesus, wat sy innig liefhet, vir ons oor blydskap in die gelykenis van die wingerdstok en sy lote wou leer: "As julle in my bly en my woord in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly. Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees" (Joh. 15:7-11). Die geheim van volkome blydskap is `n lewe van innige gemeenskap met en nougesette gehoorsaamheid aan Christus.

Barbara Priddy het na `n lang siekbed uit die hospitaal gestap met `n been wat deur polio vermink was. Sy sou nooit weer gimnastiekonderwyseres kon wees nie. Die Here het haar so `n stralende Christen gemaak, dat sy `n draer van die evangelie geword het, tot in die hoogste kringe van die samelewing in Amerika. Hierdie merkwaardige Christenvrou ken die president van Amerika en sy eggenote en al die ander persone in die topstruktuur van die regering persoonlik. Sy lei verskillende Bybelstudiegroepe vir die eggenotes van die lede van die Kongres en die Senaat. Sy tree wyd en syd op uitnodiging met haar blymoedige Christelike getuienis op. Sy straal die volkome blydskap van Christus uit. Sy het in die diep donker van beproewinge, by die aanhoor van die verpletterende nuus, van die Here die antwoord gekry wat vir Paulus en Silas in ’n tronksel in Filippi lofliedere kon laat sing, toe die nag op sy donkerste was.

Waarom is dit so? Eenvoudig omdat mense wat aan hierdie bevel van die Bybel gehoorsaam is, nie net aan hulle omstandighede dink nie. Daarin kan hulle dikwels weinig vreugde vind. By hulle omstandighede kyk hulle egter verby en hulle sien die Here. Hy is hulle Verlosser aan die regterhand van die Vader. Hy skenk aan hulle oorwinnings en blydskap sodat hulle kan sê: "In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet" (Rom. 8:37).

Bibliografie

Du Toit, A B 1988. Handleiding by die Nuwe Testament. Band V. Die Pauliniese Briewe; Bybelkrag vir elke dag. 1998; Voetpad deur Filippense. 1983, Trio-Rand; Muller, J J 1992. Die brief aan die Filippense; Woord teen die Lig I; Woord teen die Lig III/4; Botha, W 2002. Leef as mense van die Lig; Christen wees met blydskap. 1991, Bybelkor; Van Schalkwyk, J 1995. Hoe om ’n Christen te wees met blydskap; Bybel in Praktyk, 1993.